Bose gees

Vraag aangaande Saul en die bose gees

Vraag: Kan jy my dalk help. Ek probeer verstaan waarom die Here ‘n bose gees na Saul toe gestuur het, 1 Sam.16:14 en 1 Sam. 19:9. Ek lees dat die Here hom verwerp het, maar hoekom moes ‘n bose gees oor hom kom?

Antwoord: Ek gaan hierdie die twee teksgedeeltes waarna jy verwys aanhaal en dan bespreek, naamlik:
1 Sam.16:14 “Maar die Gees van die HERE het van Saul gewyk, en ‘n bose gees, deur die HERE gestuur, het hom verskrik.”
1Sam.19:9 “Maar ‘n bose gees van die HERE het oor Saul gekom terwyl hy in sy huis sit met sy spies in sy hand en Dawid met die hand op die snare speel. 10 Toe probeer Saul om Dawid met die spies teen die muur vas te steek, maar hy het vir Saul gekoes, sodat hy die spies teen die muur vasgooi. En Dawid het gevlug en daardie nag vrygekom.”

Ek gaan hierdie vraag op die webwerf plaas omrede ek glo dat dit ‘n baie interessante vraag is wat jy gevra het. Maar voordat ek jou vraag beantwoord, is dit egter belangrik om eers die korrekte dispensasionele konteks te bepaal. Die gebeure wat hier plaasgevind het, het tydens die Dispensasie van die Wet plaasgevind, en koning Saul was net soos enige ander Jood onder die Wet van Moses. Die Kerk Dispensasie, of te wel die Dispensasie van Genade, het toe nog nie aangebreek nie, want die Here Jesus Christus was toe nog nie gekruisig nie. Hou hierdie feit in gedagte. Anders as met die ware Kerk, was Ou Testamentiese gelowiges nie met die Heilige Gees verseël nie, naamlik:
Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,”

En daarom vind ons dat in die Ou Testament die Heilige Gees oor mense gekom het om hulle vir ‘n spesifieke taak/diens toe te rus, maar daar was geen waarborg dat Hy vir ewig in die persoon verseël is nie. Ook koning Dawid was bang dat die Heilige Gees hom kon verlaat na afloop van die sonde wat hy met Batseba gepleeg het, naamlik:
Ps.51:13 “Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie. 14 Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur ‘n gewillige gees.” (God het egter nie Dawid as koning verwerp nie, maar op sy oudag moes hy die gevolge van sy sonde dra. Sonde het gevolge!)
Vir ‘n gelowige wat tydens die Kerk Dispensasie leef, om dieselfde gebed is Dawid te bid, sou ‘n ernstige gebrek aan geloof in God se progressiewe openbaring toon, omrede God dit alreeds in Sy woord duidelik gestel het dat gelowiges, wie tydens die Kerk Dispensasie wedergeboorte raak, met die Heilige Gees verseël is. Daarom is dit belangrik om altyd die korrekte dispensasionele konteks te bepaal.

Daarbenewens moet ons onthou, dat tydens die gebeure rondom Saul se koningskap, daar geensins van persoonlike verlossing gepraat word nie. Die konteks handel dus oor Saul se koningskap en nie oor sy posisie as God se kind nie, naamlik:
1Sam.15:23 “Want wederstrewigheid is ‘n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy (koning Saul) die woord van die HERE verwerp het, het Hy jou as koning (nie as persoon nie) verwerp.”
God het dus Saul as koning oor Israel verwerp, en nie hom as persoon nie. Dieselfde beginsel het vir Dawid gegeld. Bostaande teksgedeelte stel hierdie feit baie duidelik. Indien ons die konteks verontagsaam, dan kan mens maklik tot die slotsom kom dat ons verlossing van ons werke afhanklik is, en wat dan niks anders as ‘n werke evangelie is nie. (en wat ‘n weerspreking in die Bybel sou demonstreer wat nie die geval is nie) Die konteks handel egter oor Saul se koningskap en nie oor sy persoonlike verlossing nie.

Noudat God die koningskap van Saul weggeneem het, het ook die Heilige Gees Saul verlaat, omrede Hy nie meer in hierdie opsig aan Saul as koning leiding sou verskaf nie. Dit alles vorm deel van Saul se straf vir sy voortgesette dade van ongehoorsaamheid en eiesinnigheid. En a.g.v. Saul se sonde het God die bose gees toestemming gegee om Saul te teister. Die term “en ‘n bose gees, deur die HERE gestuur, het hom verskrik” kan deur die feit verduidelik word, dat dit wat God toelaat, in die Bybel in baie gevalle as van God afkomstig verklaar kan word. Die rede hiervoor is eenvoudig. Indien God nie Sy toestemming aan die bose gees gegee het om Saul te teister nie, dan sou die bose gees hom nooit kon teister nie.

Ons vind ‘n soortgelyke geval met die apostel Petrus. Om die apostels te kon sif (versoek) mos die duiwel eers Christus se toestemming gekry het. In hierdie geval het God aan Satan se versoek voldoen om aan die apostels te demonstreer dat hulle nie in hulle eie krag Satan se versoekings kon weerstaan (soos wat hulle beweer het nie), maar dat hulle op God se instaatstellende krag moet staatmaak. Dit was ‘n onaangename les om te leer, maar hulle moes daardie les leer omrede die apostels se leerstellings die fondament sou vorm waarop die Kerk voortgebou sou word.
Ef.2:20 “gebou op die fondament van die apostels en (Nuwe Testamentiese) profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is”
(wat slegs tydens die Apostolies Tydperk, toe die Bybel nog nie voltooi was nie, gefunksioneer het en wat na afloop van die voltooide Bybel tot ‘n einde gekom het. Daar is nie vandag meer Nuwe Testamentiese Profete nie. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Is die gawe van profesie nog in werking vandag?” te lees.)

Indien God ‘n bose gees kon toelaat om die apostel Paulus, wie op daardie stadium volkome in God se wil geleef het, te teister om hom van hoogmoed te weerhou, dan kan ons ook verwag dat Hy ‘n bose gees na ‘n rebelse gelowige kan stuur as deel van sy tugtiging.
2Kor.12:7 “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie.”
En die skrifte gee wel aan ons ‘n voorbeeld waar die plaaslike gemeente aangesê word om ‘n rebelse gelowige wat nie tot bekering wil kom nie aan Satan oor te gee, naamlik:
1Kor.5:1 “’n Mens hoor waarlik van hoerery onder julle, en hoerery van so ‘n aard as wat selfs onder die heidene nie bekend is nie: dat iemand die vrou van sy vader het. 2 En tog is julle opgeblase in plaas dat julle liewer getreur het, sodat hy wat hierdie daad gedoen het, kan verwyder word onder julle uit. 3 Want wat my betref, het ek, liggaamlik afwesig maar in die gees teenwoordig, alreeds besluit asof ek teenwoordig was, om hom wat so iets gedoen het, 4 in die Naam van onse Here Jesus Christus, as julle vergader het en my gees saam met die krag van onse Here Jesus Christus — 5 om so iemand aan die Satan oor te lewer tot verderf van die vlees, sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus.” (Let wel: die rebelse gelowige bly gered al mag sy voortgesette sonde tot sy fisiese dood aanleiding gee. Let op die term: “sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus”)

Wanneer ‘n gelowige in sonde leef, dan verloor daardie gelowige sy vrede, en hy kan verseker weet dat Satan die Here sal versoek om ook deur ‘n bose gees te teister. Onthou, die duiwel, asook bose geeste, tree slegs volgens hulle aard op, en daarom sal hulle altyd God versoek om hulle toe te laat om gelowiges te teister. Dit hang egter van God se wil af of Hy dit gaan toelaat of nie. In Saul se geval het die Here Saul se rebellie, asook die gevolglike versoek van die bose gees om Saul te teister, omgeswaai en hom (die bose gees) as instrument gebruik om God se wil uit te oefen. (sien ook Job.3:10; 6:34; 13:25; 14:6; 1Kon.22:19) ‘n Kort verduideliking sal hier van pas wees.

Saul het a.g.v. sy voortgesette rebellie, en die daaropvolgende inwerking van die bose gees, ‘n geestelike versteuring opgedoen wat slegs deur middel van musiek verlig kon word. (Iets wat God so bestem het)
1Sam.16:14 “Maar die Gees van die HERE het van Saul gewyk, en ‘n bose gees, deur die HERE gestuur, het hom verskrik. 15 Toe sê die dienaars van Saul vir hom: Kyk tog, ‘n bose gees van God verskrik u: 16 laat ons heer net sê, en u dienaars wat voor u staan, sal ‘n man soek wat op die siter kan speel; en as die bose gees van God oor u is, moet hy speel met sy hand, dan sal dit beter met u word. 17 Daarop sê Saul aan sy dienaars: Kyk tog vir my uit na ‘n man wat goed kan speel, en bring hom na my. 18 En een van die dienaars antwoord en sê: Kyk, ek het ‘n seun van Isai, die Betlehemiet, gesien wat kan speel, en hy is ‘n dapper held en ‘n krygsman en wel ter tale en mooi gebou, en die HERE is met hom. (let op die term “die Here is met Hom”) 19 Toe het Saul boodskappers na Isai gestuur en gesê: Stuur tog jou seun Dawid wat by die skape is, na my.”
God het die gebeure rondom die bose gees gebruik, om die deur vir Dawid oop te maak sodat hy, as deel van God se raadsplan, as eenvoudige veewagter, tot die koning se paleis bevorder kon word. God het dus, in Sy voorsienigheid, alles so bewerk dat dit juis Dawid (God se keuse vir die volgende Koning) was wat deur die speel van die harp die teistering van die bose gees tydelik kon verlig het. Ons moet egter onthou dat dit ook nie Dawid is wat die bose gees weggedryf het nie, maar die Heilige Gees wat in en deur Dawid gewerk het. En so het God die bose gees as instrument gebruik, om die rebelse Saul so ver te kry om Dawid se vader te versoek om hom na die paleis te stuur. (wat die wil van God vir Dawid op daardie stadium was.)

Onthou God toets die hart van die mens en weet wat op enige gewewe oomblik binne die hart van ‘n mens is.
Spr.21:2 “Elke weg van ‘n mens is reg in sy oë, maar die HERE toets die harte.”
Soms is dit egter nodig vir Hom om openlik te toon wat in ‘n gegewe persoon se hart is.
Mark.7:20 “En Hy sê: Wat uit die mens uitgaan, dit maak die mens onrein. 21 Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, 22 diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. 23 Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.”
God kan van ‘n bose gees gebruik maak, deurdat Hy ‘n bose gees toelaat om die boosheid wat daar alreeds in die persoon se hart is aan te blaas, om sodoende die bose gedagtes/idees wat die persoon alreeds in sy hart koester te openbaar. Onthou, dit is nie God wat daardie persoon versoek nie. Die bose begeertes is alreeds in daardie persoon se hart teenwoordig. God laat slegs die bose gees toe om daardie begeertes aan te blaas sodat dit openbaar kan word. Ek kan byvoorbeeld haat en ‘n wrok teen iemand wat niks daarvan weet in my hart koester. Die bose gees (wat slegs volgens sy aard optree) sal dan God versoek om my oor daardie bose gesindheid te teister. Indien dit God se wil is sal Hy die bose gees die nodige toestemming gee. Die bose gees sal dan van die wrok in my hart gebruik maak, en die haat wat alreeds in my hart teenwoordig is, aanblaas sodat ek openlik die persoon agter sy rug slegsê, wat weer my gevoelens vir hom aan ander sal kan openbaar. Ek mag dalk planne gekoester het om vir die regte geleentheid te wag om die persoon wie ek haat skade te berokken, maar nou sal daardie persoon ten minste weet hoe ek oor hom voel, en op sy hoede vir my kan wees. So help die Here hom teen my bose begeertes en maak my begeertes aan ander bekend.

Dit bly egter die mens wat die werke van die vlees voortbring, want alhoewel ons versoek, of selfs geteister mag word, is die keuse van hoe ons daarop gaan reageer ons eie om te maak. Die vlees manifesteer dus wat in die hart van die betrokke persoon is en die bose gees blaas maar net die boosheid wat die persoon alreeds in sy hart koester aan. ‘n Paar voorbeelde sal hier van pas wees, naamlik, afgodery, towery, moord, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap, asook skinder en kwaadpratery om maar net ‘n paar voorbeelde te noem. (Gal.5:19; 1Kor.6:10)

Mens kan ook die voorbeeld van ‘n politikus gebruik. ‘n Politikus kan binne sy hart haat teenoor ‘n groep mens koester, en moontlik net vir die regte oomblik wag om hulle kwaad aan te doen. (Haman se optrede teenoor die Jode in die boek van Ester dien as goeie voorbeeld) Die politikus kan so slinks wees, en sy begeertes so goed wegsteek, sodat selfs van die mense wie hy haat vir hom sal stem. Maar sodra hy in bewind kom, draai hy om en val hulle aan. In so ‘n geval kan God ‘n bose gees toelaat om die haat, wat die politikus alreeds in sy hart t.o.v. die spesifieke groep mense koester, tot so ‘n mate aan te blaas, dat die politikus mondelings vroeër as wat hy beplan het uiting aan sy bose planne gee. Sodoende word sy teiken groep oor sy bose begeertes ingelig. Dit alles vorm egter deel van God se voorsienigheid, en so verhoed God dat ‘n persoon vir iemand stem wat slegste planne teenoor hom koester. Daarom moet mens mooi luister as iemand praat. In baie gevalle maak hy sy begeertes bekend al probeer hy dit wegsteek. (die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Bind en ontbind van bose geeste”, asook “Hulp met bose geeste in huis” te lees.)

Ter afsluiting: Wanneer God iets toelaat, kan ons met absolute sekerheid weet dat Hy ‘n spesifieke doel daarmee het en dat daardie doel net ons algehele welstand wil verseker.
Rom. 8:28 “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.
En dit sluit soms God se tugtiging in, naamlik:
Hebr.12:5 “En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; 6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. 7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? 8 Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie.”

Hierdie feit behoort aan ons bemoediging te skenk in hierdie tye waarin ons leef. God weet presies wat aangaan en is in volle beheer. Ons moet hierdie feit in gedagte hou wanneer ons oor die Bybel, asook die wêreld rondom ons nadink. Boonop moet ons besef dat sonde wel gevolge het, en die feit dat ‘n ware gelowige nooit verlore kan gaan nie beteken nie dat hy goedsmoeds sonde kan pleeg nie. Alhoewel ‘n ware gelowige nie deur ‘n bose gees beset kan word nie, kan hy nog steeds, met God se toestemming, deur een geteister word. Ek hoop hierdie artikel beantwoord jou vraag.

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.