Is die Kerk die weg na God?

Is die kerk die weg na God?

Vraag: Die vraag wat ek het is net dit: “Is die kerk, of ‘n sekere bekende kerk denominasie die enigste weg na God toe, of kan ek in enige kerk behoort en nog steeds ‘n kind van God wees?” Ek wil nie ‘n fout op hierdie punt maak nie, maar oorweeg om my huidige denominasie te verlaat. Baie dankie.

Antwoord: Moenie bekommerd wees nie, jy sal verbaas wees om te weet dat daar net een ware Kerk van Jesus Christus is, en dit is nie ‘n denominasie nie, maar bestaan uit alle wedergebore Christene wat die Evangelie geglo het. Kerk lidmaatskap red niemand nie en het nog nooit iemand gered nie. Dit is ‘n ongelukkig ‘n feit, dat daar baie mense is wat die kerke se banke warm sit, en wat nog nooit in werklikheid wedergebore geraak het nie en dus op pad hel toe is. Ek stel dit weer: “Die kerk of ‘n denominasie is nie die weg na God die Vader nie!”

‘n Persoon word wedergebore deur die aanhoor en glo van die Evangelie, soos wat dit in die Bybel aan ons gegee word en op geen ander wyse nie. Mens word ook slegs deel van die liggaam van Christus (die Kerk) nadat mens wedergebore geraak het.
1Ko 12:13 “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.
Ef. 1:13 in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,””

Daar is deesdae baie kerke waar die Evangelie nie duidelik verkondig word nie, of selfs ‘n valse evangelie verkondig , soos byvoorbeeld die Rooms Katolieke Kerk wat ‘n werke evangelie verkondig. Sulke kerke sit vol mense wat verlei is, deurdat hulle verkeerdelik onder die indruk verkeer, dat omrede hulle deel van die kerk of ‘n sekere denominasie is, hulle wedergebore is. (Hierdie stelling geld vir baie denominasies, selfs denominasies wat uit die reformasie kom.) Hierdie mense is egter nie werklik wedergebore nie. Mens word slegs weergebore deur die aanhoor en glo van die Evangelie en op geen ander wyse nie. Indien jy in ‘n kerk behoort en jy kan nie met sekerheid verduidelik wat die Evangelie is nie, dan moet jy jouself afvra wat jy nog in daardie kerk doen. Die Here het aan ons die opdrag gegee om die Evangelie te verkondig, en soos ek reeds genoem het, is dit juis die glo van die Evangelie wat mens red en niks anders nie. ‘n Kerk denominasie, of self kerkbywoning, vorm nie deel van die Evangelie nie, maar vorm deel van fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap. (lees asb die artikel “Drie fases van verlossing“)

Joh 14:6 “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”
Onthou, die Here Jesus Christus het vir al jou sondes aan die kruis gesterf en nie die kerk of enige iemand anders nie! Die Here Jesus Christus is die enigste weg na die Vader en daar is geen ander weg naas Hom nie!! Derhalwe is dit van uiterste belang om ‘n gemeente by te woon waar die Evangelie suiwer verkondig word.
1Ko 15:1 “Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, 15:2 waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het. 15:3 Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; 15:4 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte; 15:5 en dat Hy aan Céfas verskyn het; daarna aan die twaalf.”
En Jesus Christus self het gesê:
Joh 6:28 “Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring? 6:29 Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het. “
Jy kan met sekerheid God op Sy woord neem. Dit is die Here Jesus Christus, Wie jou eendag gaan oordeel en jy kan met absolute sekerheid weet dat Hy nooit op Sy woord sal terug gaan nie. Om Jesus Christus as die enigste weg met die kerk te vervang is om baie ernstig te dwaal. Daar is baie kerke wat hierdie leerstelling verkondig en ek sal jou aanraai om baie versigtig te wees indien jy so iets hoor. Bestudeer altyd jou Bybel en maak seker dat jy persoonlik self weet wat die Bybel oor enige onderwerp te sê het. Die Bybel is God se woord aan jou, en dit is die Bybel wat dit duidelik stel dat daar geen ander weg, behalwe die Here Jesus Christus, na die Vader is nie.

My raad aan jou sal wees om ‘n gemeente te besoek waar daar van die konsekwente, letterlike, grammatiese en historiese Bybel interpretasie metode gebruik gemaak word om die Skrif te interpreteer.  Maak ook seker dat slegs die Skrifte gebruik word om die gemeente se leerstellings te bepaal, en nie menslike tradisies, vleeslike manifestasies, buite Bybelse profesie of gevoelens en emosies nie. Vergelyk ook alles wat aan jou verkondig word, self met die Skrifte om seker te maak dat jy nie die slagoffer van dwaalleer is nie. Bid dat die Heilige Gees jou in hierdie opsig help en jy kan verseker wees dat Hy jou die nodige leiding sal gee. 

Ek bid dat my antwoord tot hulp sal wees.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.