1Joh.3:9 en sonde pleeg

1Joh.3:9 Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie

Vraag: Kan jy asb Joh.3:9 aan my verduidelik. Indien ‘n persoon wat uit God gebore is nie volgens Johannes kan sonde pleeg nie, hoe is dit dan dat ek en almal wat ek ken dan nog steeds sonde pleeg. Is die feit dat ek nog steeds sonde pleeg ‘n bewys dat ek nooit werklik wedergebore is nie? Ek glo die evangelie soos wat jy dit op jou webtuiste weergee, maar ek pleeg nog steeds sondes. Of Johannes weerspreek homself of ek is nooit werklik wedergebore nie. Kan jy my asb met raad of inligting voorsien. Weereens baie dankie!

Antwoord: Die Bybel is deur die Heilige Gees geïnspireer, en is as sulks foutloos in die oorspronklike tale. Verder kan mens slegs met die Heilige Gees se hulp die skrifte korrek uitgelê. Indien die Bybel korrek verklaar word, kan daar geen weersprekings wees nie. Beweerde weersprekings is die resultaat van verkeerde Bybel interpretasie. So moenie bekommerd wees nie, Johannes het homself nie weerspreek nie en jy is ook nie ongered nie. Jy bevind jouself nou in fase twee van jou verlossing, waar jy deur voortgesette dade van geloof God se opdragte in jou lewe moet toepas om sodoende geestelik te groei. Ek raai jou egter ten sterkste aan om die reeks van drie artikels “Heiligmaking op grond van genade deur geloof alleen” te bestudeer waar hierdie onderwerp in baie meer diepte bespreek word. Ek bid egter dat hierdie artikel jou vrese ten ruste sal lê.

Kom ons haal eers die teksgedeelte waarna jy verwys aan en dan bespreek ons dit, naamlik:
1Joh.3:9 “Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore.”
Onthou, alle mense word na die sondeval met ‘n gevalle aard/natuur, wat ons by Adam oorgeërf het, gebore.Wanneer ‘n persoon wedergebore raak skep God ‘n nuwe sondelose natuur in die binnekant van ‘n persoon. Hierdie nuwe persoon is in die beeld van God geskape en is vir ewig t.o.v. sy kind, Vader verhouding met God veilig. Net soos wat ‘n mens as baba gebore word, so word die nuwe wedergebore persoon as ‘n baba geskape en is nou in staat om met Bybelse leerstellings gevoed te word. Net soos wat babas moet eet om gesonde groei te verseker, moet die wedergebore persoon korrekte Bybelse leerstellings inneem, en dit in geloof toepas, wat sal verseker dat die gelowige tot geestelike volwassenheid opgroei. (Wat God se wil vir alle gelowiges is)
1Pet.2:2 en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei,”
Ef.4:22 “dat julle, wat die vorige lewenswandel betref die oue mens
(met sy gevalle natuur) moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, 23 en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed 24 en julle met die nuwe mens (wat die sondelose aard insluit) moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.”

Ook, wanneer ‘n persoon wedergebore word, vind ‘n geestelike operasie plaas waartydens die ou sonde natuur (daardie deel van ons wat sonde pleeg), van ons nuwe ewige identiteit voor God gedisassosieer word. Die gelowige word dus deur die Heilige Gees in Christus gedoop en daar het nou ‘n posisionele verandering plaasgevind. Die gelowige is nie meer in Adam nie maar is nou posisioneel in Christus. God sien ons nou in Christus se toegerekende geregtigheid en verskaf aan ons die Heilige Gees om oor die ou sonde natuur te heers.
Rom.6:3 “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus
(deur die Heilige Gees) gedoop is, in sy dood gedoop is nie?” (Om in ‘n persoon gedoop te wees beteken om met daardie persoon geïdentifiseer te wees.) 4 Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.”
Rom.6:11 “So moet julle ook
(in geloof) reken dat julle wel vir die sonde (of te wel gevalle natuur) dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.”
Onthou, God het bepaal dat die gelowige persoon deur die geloof sou lewe, naamlik:
Rom.1:17 “Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige
(fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte is alreeds afgehandel.) sal uit die geloof lewe. (deel twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking, wat voortgesette dade van geloof vereis soos byvoorbeeld om in geloof te reken dat ons vir die sonde natuur dood is en “lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.”) Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Drie fases van verlossing” asook “Heiligmaking in drie fases” te lees.)

Ons moet mooi begryp dat dit God is wat al hierdie dinge vir die mens bewerkstellig het, ons moet dit net in geloof aanneem en toepas.
Kol.2:11 “in wie julle ook besny is met ‘n besnydenis wat nie met
(menslike) hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus, 12 omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, (deur die Heilige Gees) waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het. 13 En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, 14 en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael,” (Let op die feit dat dit God is wat alles verrig.)

Rom.6:6 “aangesien ons dit weet dat ons oue mens (met sy sonde natuur) saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde (natuur as slawe) sou dien nie.”
Ons hoef dus nie meer die ou sonde natuur se slawe te wees om uitdrukking aan sy sondige begeertes te gee nie. Ons kan kies om dit te doen, maar ons sal dwaas wees. Die term “Nie meer slaaf van sonde nie” beteken dat die ou man (wat die ou sonde natuur insluit) nie langer meer gekoppel is aan ons identiteit voor God nie, maar eerder geskeduleer is om vernietig te word wanneer ons fisies tot sterwe kom. (of weggeraap word, fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking) Vanuit bogenoemde konteks is dit duidelike dat met wedergeboorte ‘n nuwe mens geskep word en die ou sonde natuur weggesit word. (al word dit nie nou al tot net gemaak nie) Op daardie presiese oomblik bepaal die Vader dat die nuwe mens ons ware en ewige identiteit voor Hom sal wees en hierdie feit dien as waarborg dat ons nooit verlore sal kan gaan nie.

Dit is a.g.v. hierdie feit dat die apostel Paulus die volgende stelling kon maak sonder om homself te weerspreek, naamlik:
Rom.7:15 “Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek. 16 En as ek doen wat ek nie wil nie, dan stem ek die wet toe dat dit goed is. 17 Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde (gevalle/sonde natuur) wat in my woon. (nog teenwoordig is en wat poog om uiting aan sondige dade d.m.v. die vlees te vind.) 18 Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie. 19 Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. 20 Maar as ek doen wat ek nie wil nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar die sonde (natuur) wat in my woon.”

Die rede waarom Paulus dus die bogenoemde stelling kan maak, is dat wanneer ‘n persoon wedergebore word, daar by implikasie ook ‘n verandering in identiteit voor God plaasvind. Ons neem dus waar dat selfs nadat Paulus wedergebore geraak het hy nog steeds met sonde gesukkel het. Maar daar het ‘n verandering tydens wedergeboorte plaasgevind, omrede hy met sekerheid kan verklaar dat wanneer hy sonde pleeg dit nie vanuit sy nuwe (natuur) voortkom nie, maar eerder die produk van sy ou sonde/gevalle natuur is wat ook nog steeds in hom teenwoordig is. Hierdie sonde natuur is egter alreeds deur God veroordeel, en is bestem om vernietig te word en sal met sy dood (of met die wegraping) heeltemal afgehandel word. (fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking.) Ons vind die konsep van fases reg deur die Bybel.

Met wedergeboorte word die nuwe natuur boonop, in ‘n bevestigde staat van geregtigheid, na die beeld van God geskape.
1Joh.3:9 “Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore.”
Dit is hierdie nuwe natuur, wat in die beeld van God geskape is, wat dus nie kan sonde pleeg nie, omrede hy uit God gebore is en wat vir ewig in God se teenwoordigheid sal lewe.

Omrede die gelowige wedergebore is (let die term “ want hy is uit God gebore”, fase een van ons verlossing.) is die gelowige nie meer die slaaf van sonde nie, en hoef dus nie te sondig solank as wat hy in Christus bly nie. Die term “ omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie” verwys na die nuwe natuur wat tydens wedergeboorte by God ontvang word, en wat van die persoon ‘n nuwe skepsel in Christus maak en kan dus nie sonde pleeg nie. Sonde kan dus nie vanuit die nuwe sondelose natuur uitdrukking vind nie, omrede die wedergebore gelowige uit God gebore is. (let die term “omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie”). Die gelowige sondig nog steeds wanneer hy vanuit sy ou sonde/gevalle natuur, wat nog steeds binne die persoon teenwoordig is, optree.

Dus poog die sonde natuur nog steeds om as die heersende beginsel oor die gelowige te regeer, nie teen staande die feit dat Christus alreeds die oorwinning oor die sonde natuur aan die kruis namens die gelowige behaal het.
Rom.6:1 “Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? 2“Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe? (die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Sewe vorms van dood in die Bybel” te lees.)
Rom.6:14 Want die sonde (natuur) sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade.”
Wanneer ons dus in versoeking kom dan moet ons Paulus se opdrag uitvoer, naamlik:
Rom.6:11“So moet julle ook (deur geloof) reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.”
Rom.6:12 “Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie.”
(Let op die stelling “ Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers” wat bewys dat die gelowige wel ‘n keuse het of hy die ou sonde natuur gaan toelaat om oor hom te heers of nie.)

Omrede die ou gevalle/sonde natuur nie met wedergeboorte (fase een van ons verlossing) onmiddellik vernietig word nie, kan die gelowige nog steeds vanuit hierdie natuur optree. Op enige gegewe tydstip tree ‘n gelowige of vanuit sy sonde natuur, of vanuit sy nuwe sondelose natuur op, maar hy kan nooit vanuit beide nature op dieselfde oomblik optree nie. Die ou sonde natuur kan slegs oor die gelowige regeer indien die gelowige versuim om in geloof Christus se oorwinning oor die sonde natuur toe te pas, iets wat alle gelowiges in geloof vir hulleself moet toeëien, op grond van die feit dat hulle deur die indoping van die Heilige Gees in Christus se dood, begrafnis en opstanding vanuit die dood geïdentifiseer is. (Rom 6:1-6)

Om hierdie rede is dit van uiterste belang om prakties in Christus te bly, naamlik:
Joh.15:4 “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie.”
Ons doen dit wanneer ons in die Gees wandel, sodat Hy ons kan vul en sodoende sal die sonde natuur nie ons vlees kan gebruik om die werke van die vlees te verrig nie.
Gal.5:16 “Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;”
Gal.5: 24 “Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig. (deur die glo van die evangelie, en daarmee gepaardgaande doping deur die Heilige Gees, wanneer Hy die gelowige in Christus, wat Sy voltooide werk aan die kruis en opstanding vanuit die dood insluit, doop/identifiseer) 25 As ons deur die Gees lewe, (en ons doen, a.g.v. ons wedergeboorte, fase een van ons verlossing alreeds afgehandel) laat ons (omrede ons alreeds wedergebore is) ook deur die Gees wandel.” (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking, waar dit van ons verwag word om deur die Gees te wandel.)

Ter afsluiting: Onthou, heiligmaking is ‘n lewenslange proses en ons moet leer om hierdie beginsels in geloof toe te eien en in ons lewens ‘n werklikheid te maak. Ons almal bly nog steeds sonde pleeg maar ons hoef nie wanneer ons in die Gees wandel nie. Maar God weet ook dat die vlees swak is en het ook daarvoor voorsiening gemaak, naamlik:
1Joh.2:1 “My kinders, (gelowiges, fase een naamlik wedergeboorte alreeds afgehandel) ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.” (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking)
Die drie briewe van Johannes is aan gelowiges gerig wat alreeds wedergebore is (fase een van hulle verlossing is dus alreeds afgehandel), en wat hulleself nou in fase twee van hulle verlossing, naamlik heiligmaking vind. God neem nie ons vrye wil na wedergeboorte weg nie, en daarom kan ons nog steeds heiligmaking in ons lewens teëstaan deur om nie in die Gees te wandel nie. Wanneer ons hierdie feite vergeet, val ons almal baie maklik in sonde en daarom het Johannes die volgende stelling gemaak, naamlik:
1Joh.1:8 “As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.”

Dit is God se doel dat gelowiges toenemend tot Christelike volwassenheid moet opgroei en nie geestelike babas moet bly nie. Christelike volwassenheid is ‘n kombinasie van die volgende beginsels, naamlik: a. Die kind van God moet in die sekerheid van sy verlossing gevestig word en oortuig daarvan wees dat God hom nooit sal verwerp nie. b. Die Gees van God leer die nuwe mens korrekte Bybelse leerstellings/ waarhede wat die kind van God dan moet inneem terwyl hy die woord van God (soos wat dit in die Bybel staan) oordink. c. Die gelowige moet tydens tye van toetsing die Bybelse leerstellings wat hy alreeds ingeneem het gebruik en aanwend. Ja, en daar sal altyd tye van toetsings kom, want dit is deel van God se wil vir Sy kinders. Toe Christus op aarde was, Het God die Vader ook Sy enigste Seun aan toetsings blootgestel, maar Hy het nooit gesondig nie. In hierdie opsig is Christus ons voorbeeld wat ons moet navolg. Hierdie kombinasie van geestelike aktiwiteite lei die gelowige in die rigting van gelykvormigheid aan Christus.

Indien ons wel toelaat dat die Heilige Gees heiligmaking in ons lewens bewerkstellig, dan kan God werklik van ons gebruik maak en waarvoor Christus ons by die Regterstoel Oordeel van Christus sal beloon. En onthou:
2Kor.5:17 “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. (Fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte, alreeds afgehandel en kan nie ongedaan gemaak word nie)
Ef.2:10 “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus (Fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel. (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking, waar goeie werke, wat in en deur die Heilige Gees bewerkstellig word, behoort gedoen te word.) Ek hoop hierdie artikel beantwoord jou vraag.

Seën groete!

Vic.

Deel met ander asb.