Is iets te wonderbaar vir die Here

Is iets te wonderbaar vir die Here

Mat 22:29 “Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.”
Indien die Here Jesus nou hier was, sou Hy nie dieselfde stelling aan ons, in hierdie generasie, kon maak nie? Hoeveel van ons ken werklik die Skrifte tot so ‘n mate dat ons dit akkuraat kan aanwend as die Lig vir ons pad? Kyk maar net om jou rond en jy sal opmerk, dat dit ‘n geval van vreet of word gevreet is. Ek praat nie hier van ongelowiges nie, maar van gelowiges. Deesdae sien mens nie meer ‘n verskil tussen die Kerk en die wêreld nie. Hoe dikwels hoor mens nie van gevalle waar die een gelowige ‘n ander besteel, of op die een of ander manier ‘n ander mede gelowige benadeel het, nie? Ek het al baie nagedink daaroor en tot ‘n slotsom gekom dat sekere mense steel en oneerlik is, omdat hulle ongelowig is, en dus onseker raak en nie werklik glo dat God mense meer help nie. Ek beweer nie hier dat dit in alle gevalle so is nie, want baie mense steel net uit blote gierigheid uit.

Ons lewe in moeilike tye, en ek glo dit gaan nog erger word voordat dit beter gaan word. As jou geloof nie werklik in die Here Jesus Christus geanker is nie, sien ek swarigheid vorentoe. Want ‘n mens kan net so lank aangaan om te steel en te bedrieg, dan begin jy maai waar jy gesaai het. As jy beweer jy is ‘n kind van die Here en jy kan goedsmoeds ander beroof, belieg of beskinder sonder dat daar straf in jou lewe kom, moet jy ernstig kyk of jy werklik wedergebore is. As iemand in sonde kan voortleef sonder dat daar straf in sy lewe kom, kan met regte gevra word of so iemand werklik God as Vader het. God tugtig al Sy kinders sonder uitsondering!
Hebreërs 12:6 “want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. 12:7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? 12:8 Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie.”

Kom ons gaan weer terug Skrifte toe en lees wat daar staan en begin weer toepas wat die Here daar vir ons wil sê. Kom ons maak weer werk daarvan om op God te vertrou en op niks anders nie. Ons moet weer op die punt kom  waar ons saam met die die gelowiges van ouds sal kan vra: ”Sal iets te wonderbaar wees vir my God?” Ons het nie nodig om oneerlike of wêreldse metodes te gebruik om te oorleef nie. Ons het God as Vader! Daar is siks wat te wonderbaar is vir Hom nie, hoekom twyfel ons dan en wend ons na wêreldse metodes in ‘n poging om ons self te beskerm?

‘n Vers om oor na te dink:
Gen 18:14 “Sou iets vir die HERE te wonderbaar wees? Hierdie tyd, oor ‘n jaar, sal Ek na jou terugkom, en Sara sal ‘n seun hê.”
Jou saak mag ook dalk so hopeloos soos Abraham en Sara sin lyk, maar vra jouself die vraag af, hoe lyk dit vir God. Sal daar enigiets te wonderbaar wees vir Hom om te doen?.

Kom laat ons Hom nie oneer aandoen met ons optrede en ongeloof nie, maar laat ons Hom verheerlik. Hy verdien niks minder nie. En onthou ons God is, en word genoem, “Wonderbaar”

Mag God jou vandag seën!

Vic

Deel met ander asb.