Heiligmaking op Grond van Genade deur Geloof. Deel 3

Heiligmaking op Grond van Genade deur Geloof. Deel 3

In die finale deel van hierdie reeks, van drie artikels, wat oor heiligmaking in die gelowige se lewe handel, sal die vierde en laaste vraag gestel en beantwoord word. Daar sal gepoog word om te demonstreer, dat die gelowige nie onder die wet vir die uitleef van die Christelike lewe is nie, maar onder genade, en behoort die gelowige se stand in Christus en die Heilige Gees, wat die bron van krag in en deur die gelowige vir ‘n heilige lewe is, die gelowige aanmoedig om sy fokus, in geloof, op Christus vir suksesvolle heiligmaking te vestig en nie op homself of die wet nie.

Is die gelowige onder die beheer van die wet, vir die uitleef van die Christelike lewe, of is die gelowige heeltemal vrygestel van die wet ?

Die gelowige wat tydens die dispensasie van Genade, naamlik die Kerk dispensasie leef, moet besef, dat hy nie onder die wet, as die reël vir die uitleef van die Christelike lewe is nie. In sommige opsigte is daar duidelike verskille tussen gelowiges wat in die Ou Testament en gelowiges wat tydens die Kerk dispensasie leef. Eerstens moet ons besef dat die gelowiges wat gedurende die Kerk dispensasie leef, nie onder die wet is nie, maar onder genade. Ons lewe nie tans onder die dispensasie van die Wet nie! Die dispensasie van die Wet het met Jesus Christus se kruisiging tot ‘n einde gekom. Van geen Ou Testamentiese gelowige is daar ooit gesê, dat hy in Christus se dood ingedoop is nie, of dat hy saam met Christus opgestaan het nie, of dat hy posisioneel saam met die Here opgevaar het en saam met Christus in die Hemel op die Vader se troon sit nie nie. ( Rom 6: 3-6; Efs 2:6; Kol 2:11-14; 3:1-4. Lees asb self hierdie teksverwysings, want dit is nogal lank) Boonop sou die Ou Testamentiese gelowige nie die konsep, dat hy vir die wet gesterf het, omrede hy posisioneel saam met Christus gekruisig is en dat die Messias nou Sy lewe deur die gelowige moes lewe, verstaan het nie.
Gal 2:19 “ want deur die wet is ek vir die wet dood om vir God te lewe. 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het. 2:21 Ek verwerp nie die genade van God nie; want as daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe.”
En onthou Jesus Christus se waarskuwing:
Joh 15:4 “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. 15:5 Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.”

Geen Ou Testamentiese gelowige sou in geloof kon verklaar, dat hy vry van die oorheersing van die sonde (sonde natuur) in sy lewe is nie, en dat hy nie meer onder die wet is nie, maar onder die genade.
Rom 6:14 “Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade.”
Boonop is daar nooit van die enige Ou Testamentiese gelowige verwag om homself in geloof vir die sonde natuur as dood, en deur geloof as aan God lewend in die Here Jesus Christus te reken nie.
Rom 6:11 “So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.”
En met hierdie wete, in kinderlike afhanklikheid, deur geloof in die Here, te wandel nie.
Rom 6:13 “En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God.”
Die Ou Testamentiese gelowige sou ook nie die konsep, dat hy in geloof saam met die Here, in ‘n nuwe opstandingslewe, moet wandel en God in en deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees behoort te dien, verstaan het nie.
Rom 6:4 “Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.
Rom 7:6 Maar nou is ons ontslae van die wet waardeur ons gebonde was, aangesien ons dit afgesterf het, sodat ons dien in die nuwigheid van die Gees en nie in die oudheid van die letter nie.
Rom 8:1 Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. 8:2 Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. 8:3 Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, 8:4 sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.” (‘n Gelowige wat in die Gees wandel vervul die reg (geregtigheid) van die wet, deur die Heilige Gees en nie deur die Wet as ‘n stel uiterlike reëls na te volg nie. Die Gees verander die gelowige van binne af buite toe, wat na goeie werke behoort te lei. Indien ‘n persoon die wet vir heiligmaking wil gebruik, dan poog hy om homself van buite af binnetoe te verander, wat op ‘n groot mislukking gaan uitloop. Daar is ‘n ontsaglike groot verskil tussen hierdie twee metodes. Indien ons toelaat dat die Heilige Gees Sy lewe deur ons leef, sal Hy ons altyd na geregtigheid toe lei, en daarom is ons vry van die oorheersing van die sonde natuur, asook die wet, wat ons altyd tot wettiesheid sal neig.)

Die Skrifte stel dit ook baie duidelik, dat slegs gelowiges wat tydens die dispensasie van genade/Kerk lewe, permanent deur die Heilige Gees bewoon word.
Rom 8:9 “julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie.”
Boonop stel die Bybel dit duidelik, dat die Heilige Gees slegs Nuwe Testamentiese gelowiges verseël, iets wat nie in die Ou Testament die geval was nie.
Efs 1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, 1:14 wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.”
Die verseëling deur die Heilige Gees, maak dit vir die Nuwe Testamentiese gelowige moontlik om die opdrag om in die Gees te wandel (Gal 5:16) en met die Gees vervul te word (Efs 5:18) te gehoorsaam. Hierdie is seker een van die mees insiggewende verskille wat daar tussen gelowiges wat tydens die dispensasie van die Wet en die gelowiges wat tydens die dispensasie van Genade/Kerk lewe. Dit is God se wil, vir diegene wat tydens die dispensasie van genade lewe, om gedurigdeur in die krag van die Heilige Gees te wandel. Dit is egter ‘n keuse wat die gelowige self moet maak. Die Ou Testamentiese gelowiges was nooit beveel om in ononderbroke gemeenskap met die Heilige Gees te wandel nie. Hierdie opdrag is slegs vir gelowiges wat tydens die Kerk dispensasie lewe geldig, omrede die Heilige Gees nie die gelowiges van die Ou Testament permanent bewoon het nie. Daarom is dit net logies, dat daar van gelowiges wat tydens die Kerk dispensasie leef, verwag word om in die Gees te wandel en nie in die vlees nie.

Daar is ‘n baie groot verskil tussen die Wet en genade. Die Skrifte stel dit baie duidelik dat genade absoluut kosteloos vir die ontvanger daarvan is.
Rom 3:24 “en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.”
Die Bybel stel dit egter ook baie duidelik, dat loon deur verdienstelikheid bekom word, anders kan dit nie as verdiende loon beskou word nie.
Rom 11:6 “En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie.”
Die wet gee egter aan ons slegs wat ons verdien, en is dus van werke afhanklik.
Rom 3:19 “Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees; 3:20 aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.”
Maar God, in Sy genade, gee aan die gelowige juis dit wat hy nie verdien of deur sy eie werke kan verdien nie!
Rom 5:20 “Maar die wet het daar bygekom, sodat die misdaad meer sou word; en waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword; 5:21 sodat, soos die sonde geheers het in die dood, so ook die genade kan heers deur die geregtigheid tot die ewige lewe deur Jesus Christus, onse Here.”
Die Wet is ‘n refleksie van God se geregtigheid (God doen altyd wat reg is). God administreer Sy geregtigheid, deur om van Sy wet gebruik te maak, daarom is alle mense skuldig voor God, en verdien hulle die ewige dood en is alle mense onder God se regmatige veroordeling.
Gal 3:10 “Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie.”
God se ander attribuut is egter ook liefde. Deur Sy genade administreer God Sy liefde aan ons op grond van Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis.
Gal 2:21 “Ek verwerp nie die genade van God nie; want as daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe.”
Om hierdie rede, tref die Bybel duidelik onderskeid tussen die wet en genade vir aanvanklike verlossing, en moet ons seker maak dat ons nie God se genade met die wet vermeng nie, anders verander ons God se genade, en kan dit nie meer as genade omskryf word nie. Dit is ‘n baie ernstige fout wat die oorgrote meerderheid van die belydende Christendom begaan.
Gal 3:2 “Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?”
Dit is uiters belangrik om tot die besef te kom, dat die mens geensins God se genade deur sy eie werke kan verdien nie. Vir ‘n persoon om werke by God se genade te wil voeg, kan as ‘n poging om ‘n verandering in die essensie van God se genade te bewerkstellig omskryf word. Romeine 11:6 stel hierdie feit baie duidelik:
Rom 11:6 “En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie.”
Baie Christene maak egter hierdie fout! Om die wet en genade op enige wyse met mekaar te vermeng, verander die persoon die samestelling daarvan en kom hy in direkte botsing met wat God in Sy woord aan ons wil oordra. Daar moet duidelik besef word, dat die wet nie ‘n persoon kan red nie, ook kan die wet nie as die fondament vir heiligmaking na aanvanklike wedergeboorte gebruik word nie!
Rom 6:14 “Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade.”

Soos alreeds in Rom 6:1-10 verduidelik is, het die gelowige posisioneel saam met Christus vir die sonde natuur gesterf, en het ons saam met Christus in ‘n nuwe lewe opgestaan, en daarom het die sonde natuur nie meer ‘n regmatige posisie van heerskappy oor die gelowige nie. Daar moet net gelet word, dat die sonde natuur nog steeds in die gelowige, na wedergeboorte, (Fase een van verlossing) aanwesig is, en hierdie sonde natuur sal slegs met die afsterf van die gelowige, of met die wegraping, vir die wat nog lewe, permanent verwyder word. Voordat ‘n persoon wedergebore raak, is daardie persoon nog steeds in Adam, en wandel daardie persoon nog steeds volgens die vlees, en word sy sonde natuur juis deur die wet aangewakker. Alhoewel die wet heilig, geregtig en goed is (Rom 7:12) en boonop God se woord is, wat Sy geregtigheid en heilige karakter aan ons bekendmaak, beskik die wet egter oor geen krag, om in die mens te bewerkstellig wat dit van hom vereis nie. Gevolglik reageer ons sonde natuur op die vereistes van die wet met of onafhanklike selfvertroue, of met openlike weerstand teen die vereistes van die wet. Op hierdie wyse wil die sonde natuur sy onafhanklikheid van God en sy eie geregtigheid ten toon stel, in ‘n poging om homself daardeur te verheerlik en om alle aandag op homself te fokus. (die eie ek. Ons is veronderstel om Christus te verheerlik nie onsself nie!) As gevolg van die sonde natuur, en die gelowige se swakheid, loop heiligmaking in eie krag altyd op mislukking uit, soos wat Rom 7:8 dit duidelik stel:
Rom 7:8 “Maar die sonde het aanleiding gevind deur die gebod (die wet) en in my allerhande begeerlikheid gewerk; want sonder die wet is die sonde dood.”
Daarom verduidelik Paulus in 1 Kor 15:56 dat die krag van die sonde die wet is.
1Ko 15:56 “Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet.”
En wanneer die wet bygekom het, word die sonde altyd meer.
Rom 5:20 “Maar die wet het daar bygekom, sodat die misdaad meer sou word; en waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword;”
God se genade is egter baie groter as ons sonde! Om ‘n persoon weer terug onder die wet te wil neem, vir die uitleef van sy Christelike lewe, sal net daartoe lei dat die persoon se sonde natuur aangewakker word, wat weer na meer sonde in die gelowige se lewe sal lei. Dit is amper soos om ‘n vuur met petrol te wil blus!

Die oplossing vir die probleem lê in die feit, dat die gelowige homself onder die gesag van die Here Jesus Christus moet plaas en deur geloof in God se genade moet wandel. Indien die gelowige hierdie vereistes nakom, sal God in Sy genade d.m.v die Heilige Gees aan die gelowige die krag verleen om oorwinnend oor die sonde natuur te lewe.
Rom 8:1 “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. 8:2 Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. 8:3 Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, 8:4 sodat die reg van die wet (nie die wet self nie)vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.”
En in Gal 3:2-4 maak Paulus dieselfde stelling, maar stel hy dit net effens op ‘n ander wyse, naamlik:
Gal 3:2 “Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof? 3:3 Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees? 3:4 Het julle verniet so baie gely? As dit maar verniet was! 3:5 Hy wat julle dan die Gees verleen en kragte onder julle werk, doen Hy dit uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?”
Deur middel van Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis, het Hy nou die regmatige posisie van heerskappy oor die gelowige bekom en is die sonde natuur van die posisie van heerskappy, oor die gelowige se lewe, ontneem.
Rom 6:11 “So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.”
Daarom moet die gelowige, in geloof, vanuit sy nuwe posisie in Christus, op grond van God se genade, in kinderlike afhanklikheid in die Gees wandel, wat tot gehoorsaamheid, heiligmaking, praktiese geregtigheid, asook geestelike vrugbaarheid in die gelowige se lewe sal lei.

Volgens Romeine 6 -7 is die gelowige nie meer onder die wet nie. Boonop is die gelowige nou vir die wet dood en is hy bevry van die wet. Die rede hiervoor is dat die gelowige in ‘n nuwe opstandingslewe, deur geloof, moet lewe.
Rom 6:4 “Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.”
Die gelowige behoort nou in die nuwigheid van die Heilige Gees te wandel.
Rom 7:6 “Maar nou is ons ontslae van die wet (Ou Testamentiese wet) waardeur ons gebonde was, aangesien ons dit afgesterf het, sodat ons dien in die nuwigheid van die Gees en nie in die oudheid van die letter nie.”
Indien ons God se model vir heiligmaking nougeset, in geloof, gehoorsaam en toepas, sal dit enige geneigdheid tot wettiesheid, asook wetteloosheid in ons Christelike wandel uitskakel. Indien die gelowige se lewe deur God se genade, op grond van geloof, en nie deur die wet (lys van wette en reëls) gereguleer word, beteken dit geensins dat die gelowige wetteloos sal lewe nie. Die gelowige lewe nou deur geloof in ‘n lewende verhouding met die Here Jesus Christus self. In hierdie opsig kan dit met sekerheid gestel word, dat die gelowige onder ‘n baie hoër vorm van die wet, naamlik die wet van Christus, wat ook as die wet van liefde bekendstaan, lewe. Hierdie benadering tot die uitleef van die Christelike lewe, poog geensins om die geregtigheid van die Ou Testamentiese Wet te omseil nie, maar die Ou Testamentiese Wet, word in werklikheid oortref. Vanuit die Skrifte is dit opmerklik, dat nege uit tien van die Ou Testamentiese wette in die briewe, wat aan die Kerk gerig is, herhaal word. Slegs die vierde gebod, naamlik sabbatdag onderhouding, word nie aan die Kerk voorgehou nie. Al die wette, behalwe die van Sabbatdag onderhouding, word egter in ‘n ander raamwerk, naamlik die raamwerk van God se genade aan die Kerk bekendgemaak en voorgehou.

1Ko 9:20 “Vir die Jode het ek soos ‘n Jood geword om die Jode te win; vir die wat onder die wet is, soos een wat onder die wet is, om die wat onder die wet is, te win. 9:21 Vir die wat sonder die wet is, soos een sonder wet—al is ek nie sonder die wet van God nie, maar onder die wet van Christus—om die wat sonder die wet is, te win;”
Vanuit bostaande teksgedeelte merk ons op, dat alhoewel Paulus nie onder die wet was nie, hy nie wetteloos was of wetteloos opgetree het nie. Indien gelowiges onder die wet, as reël vir hulle lewe is, het Paulus dan , onder die inspirasie van die Heilige Gees, ‘n baie ernstige fout met bostaande stelling begaan. Hoe kon hy beweer dat hy vir diegene wat onder die wet was (Jode), geword het as een wat onder die wet is, as hy alreeds onder die wet was? Die antwoord is dood eenvoudig! Paulus het geweet dat hy vrygestel is van die wet! Hy het ook van die vryheid wat hy in Christus geniet het, gebruik gemaak om vir diegene wat onder die wet was, soos een onder die wet te word en vir diegene wat sonder die wet was, soos een wat sonder die wet is, om hulle vir Christus te wen.

Die leerstelling van heiligmaking, op grond van God se genade, deur geloof alleen, stel dit baie duidelik, dat die gelowige vrygestel is van die oorheersing wat die sonde natuur oor hom gehad het, voordat hy wedergebore geraak het. (Rom 6:1-10) Die gelowige is nou vir alle praktiese doeleindes vrygestel van die krag en houvas wat die sonde natuur oor hom gehad het. (Rom 6:11-13). Die gelowige behoort nou, deur geloof, in die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus te wandel en nie volgens die letter nie.
Rom 8:2 “Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood.”
Indien ‘n gelowige in die Gees wandel, dan wandel hy in liefde, want God is liefde, en die wet van Jesus Christus is die wet van liefde. Om hierdie rede vermaan Paulus die gemeente van Galasiërs dat hulle mekaar se laste moes help dra, want dit is wat ware liefde sal doen. Die Here Jesus Christus het immers ons sondelas op Homself geneem, en met Sy eie lewe daarvoor aan die kruis betaal! Dit is liefde!
Gal 6:2 “Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.”
Onthou die wet van Christus is die wet van liefde! Indien ons na die konteks waarin hierdie stelling gemaak is kyk, dan sal ons opmerk dat hierdie vermaning kort op die hakke van Gal 5:16 -25 volg, waarin hy die Galasiërs vermaan het om in die Gees te wandel. Om die geregtigheid van die wet te vervul, of selfs die hoë standaarde van die Ou Testamentiese wet te oortref, kan slegs deur middel van die instaatstellende krag van die Heilige Gees bewerkstellig word. Hierdie teksgedeeltes demonstreer baie duidelik, dat ‘n Geesvervulde lewe, ‘n lewe van liefde tot God en ‘n persoon se medemens is, wat geen wet of stel reëls werklik in enige persoon se lewe kan bewerkstellig nie. ‘n Gelowige wat ‘n Geesvervulde lewe lei, en deur wie die vrugte van die Gees manifesteer, sal nie sy medemens op enige wyse verontreg of benadeel nie. (Dink mooi oor hierdie stelling na!)
Gal 5:22 “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.”
Liefde is een van die eienskappe van ‘n Geesvervulde lewe, en daarom is die liefde die vervulling van die wet, want ware liefde sal nooit sy naaste kwaad of leed berokken nie.
Rom 13:10 “Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet.”
Onthou egter, dat ware liefde ‘n vrug van die Heilige Gees is, wat Hy in die gelowige se lewe sal voorbring, indien die gelowige homself aan God onderwerp, en Hom in geloof gehoorsaam en in afhanklike gemeenskap en vertroue met God wandel.

Soos reeds genoem, is die standaarde vir die uitleef vir die Christelike lewe, gedurende die dispensasie van genade (Kerk) baie hoër as dit wat van die Ou Testamentiese gelowiges verwag was. Gedurende die Kerk dispensasie, verwag en verskaf God die krag om tot ‘n baie hoër standaard van praktiese geregtigheid te lewe, wat nie die geval met gelowiges, wat onder die wet van Moses gelewe die geval was nie. Die Here Jesus Christus het hierdie feit baie duidelik in Joh 13:34 verduidelik:
Joh 13:34 “‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.”
Die Here kon nie van ‘n “nuwe gebod” praat as daardie gebot alreeds in die wet van Moses opgeskryf was nie! Dit is ‘n nuwe gebod, omrede daar vir gelowiges wat tydens die dispensasie van genade lewe, ‘n baie hoër standaard vir liefde voorgehou word, wat nie die geval in die Ou Testament was nie. “Soos wat Ek julle liefgehad het” is ‘n baie hoër standaard as die opdrag wat ons in Luk 6:31 vind, naamlik:
Luk 6:31 “En soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.”
In die Ou Testament is daar slegs van die Israeliete verwag dat hulle aan ander doen, dit wat hulle aan hulleself gedoen wou hê. Dit het nooit die konsep ingesluit dat hulle, hulle lewens vir ‘n ander moes aflê en dit terwyl die ander persoon teen hulle gesondig het nie! (Hierdie is egter die omvang van die Liefde van God self, wat deur Christus se kruisdood aan ons gedemonstreer is) Hierdie ongelooflike hoë standaard kan slegs van gelowiges, wat tydens die Kerk dispensasie leef, verwag word, omrede hulle in Christus is. Iets wat in die Ou Testament ongekend was. God se genade (Efs 4:32) ontferminge (Rom 12:1) en liefde (2 Ko 5:14) wat deur Jesus Christus gedemonstreer is, gee aan die Nuwe Testamentiese gelowige ‘n nuwe motivering om vir God te lewe, en God self verskaf die nodige middele en krag om hierdie bonatuurlike lewe suksesvol uit te leef. (2Ko 3:5-6; 9:8; 12:9-10; Gal 3:5; 1 Pet 4:11; 2 Pet 1:3) Dit was egter nie die geval met die Ou Testamentiese gelowiges nie, en daarom word ons tot ‘n baie hoër standaard as hulle gehou.

Ter Afsluiting: Dit is belangrik dat die gelowige besef dat die geregtigheid van die wet, nie die wet self nie, vervul sal word indien die gelowige in die Gees wandel. Om in die Gees te wandel, beteken dat die gelowige daagliks tree vir tree in die krag van die Heilige Gees, in afhanklikheid, deur geloof, saam met Christus wandel.
Gal 5:25 “As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel.”
Maar hoe doen mens dit? Rom 5:5-8 verskaf aan ons die antwoord, naamlik:
Rom 8:5 “Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. 8:6 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, 8:7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8:8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;”
Die gelowige moet die dinge van die Gees bedink en nie die dinge van die vlees nie. Wat ons oor dink bepaal grootliks watter soort werke ons sal wil doen. As ek die heeltyd aan visvang dink, dan sal ek later wil gaan visvang! So geld hierdie beginsel vir alle aspekte van ons lewens. As ons die heeltyd aan vleeslike dinge dink, dan gaan ons die sonde natuur aanwakker. (Ek dink nou aan ‘n man wat heeltyd aan kaal vrouens sit en dink) Elke gelowige het ‘n keuse om te maak. Onthou, dit is die Heilige Gees se doel om die Here Jesus Christus te verheerlik, en indien ons die dinge van die Gees bedink, sal ons ons gedagtes op die Here Jesus Christus en Sy woord fokus en nie op vleeslike dinge nie. (Dit sluit die waarheid van ons posisionele stand in Christus, asook Sy liefde vir ons, in.)
Joh 16:13 “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig. 16:14 Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.”
Net soos dit die Heilige Gees se werk is om die Here Jesus Christus te verheerlik, moet dit ook die gelowige se wil wees om dieselfde te doen. Die Heilige Gees sal altyd die gelowige na Jesus Christus lei en sal nie poog om aandag op Homself te fokus nie. Ons doel moet ook altyd wees, om die Here Jesus Christus, in en deur ons lewens te wil verheerlik!

Om die dinge van die Gees te bedink, beteken dat ons dieselfde doelstellings as God koester en met God se begeertes en wil saamstem. Omdat ons ‘n nuwe natuur, by wedergeboorte ontvang het, is dit nou vir alle gelowiges moontlik, om dieselfde begeertes as God vir hulle lewens te koester. En omdat ons die Heilige Gees by weergeboorte ontvang het, beskik ons nou oor God se krag om oor die sonde natuur te heers, en om God se wil en begeertes, wat Hy op ons harte lê, uit te voer.
Fil 2:13 “want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.”
Die gelowige kan egter kies of hy God, in geloof, gaan gehoorsaam, en die dinge van die Gees gaan bedink, wat tot Geesvervulde werke sal lei, wat die Here Jesus Christus sal verheerlik. Aan die anderkant van die saak, kan die gelowige kies om die dinge van die vlees te bedink, wat na die werke van die vlees en sonde sal lei en wat sal veroorsaak dat die sonde natuur oor die gelowige sal heers. Hierdie waarskuwing sluit wettiese werke in die vlees gedoen ook in, en hierdie tiepe werke sal nie die Here Jesus Christus verheerlik nie. En onthou, alle werke in die Gees gedoen, word in en deur die Gees van God in die gelowige bewerkstellig, en dit alles vind op grond van God se genade deur geloof in God en in Sy instaatstellende krag plaas. Om hierdie rede stel Paulus dit duidelik dat die regverdige (alreeds verloste persoon) deur die geloof sal lewe.
Rom 1:17 “Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof (Fase een van verlossing – naamlik Wedergeboorte) tot geloof, (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking) soos geskrywe is: Maar die regverdige (Fase een -verlossing/wedergeboorte) sal uit die geloof lewe.” (fase twee – Heiligmaking) Die leser word aangeraai om die artikel “ Drie Fases van Verlossing” te lees)

Deesdae hoor mens nogal gereeld preke waarin die gelowiges gewaarsku word, dat hulle nie genoeg doen, nie genoeg gee, nie liefdevol genoeg is nie, nie hard genoeg teen die sonde in hulle lewe stry nie, ens. Alhoewel hierdie vermaninge nie opsigself verkeerd is nie, is dit egter nie die wyse waarop die Here in die boek Romeine die gelowiges aanmoedig om heiligmaking in hulle lewens te bewerkstellig nie. Paulus moedig egter die gelowiges aan, om in geloof te besef en te aanvaar, dat hulle nuwe skepsels in Christus is, dat hulle verlos is, dat hulle in geloof moet aanneem dat hulle vir die sonde natuur dood is en dat hulle God se kinders is, ens. Van daar af sal die Heilige Gees oorneem en die gelowige van binne af buitentoe verander. Dit is egter God wat alles in en deur die gelowige bewerkstellig (Rom 8:3) en ons behoort God te dank daarvoor, want daar is alreeds vroeër in hierdie artikel gedemonstreer hoe hoog God se standaarde vir die gelowige, wat gedurende die dispensasie van genade leef, gestel is. In baie opsigte oortref die wet van Christus die standaarde van die Ou Testamentiese wet. Die reg van die wet is niks anders as God se eie standaarde nie, en indien die Heilige Gees nie self heiligmaking in of deur die gelowige bewerkstellig nie, sal werklike heiligmaking altyd ‘n onmoontlike taak vir die mens wees, en daarom is dit van uiterste belang dat die gelowige die dinge van die Gees bedink, wat beteken dat hy sy fokus en gedagtes op Christus en Sy woord vestig en nie op die dinge van die wêreld fokus nie.
Fil 4:8 “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.
Kol 3:2 Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.”

Is werke dan belangrik? Ja, inderdaad! Goeie werke is nie net slegs belangrik nie, maar dit word ook deur God van die gelowige verwag en daarom is dit uiters belangrik! Boonop het al die goeie werke, wat ons in die Gees doen, ewigdurende implikasies! Goeie werke is God se metode waardeur Hy, in baie opsigte, Sy wil op aarde laat geskied, en is dit ook dan Sy wil om Sy kinders te gebruik om Sy wil op aarde te bewerkstellig. As die verlore wêreld na ons kyk, dan moet hulle Christus in ons en ons optrede kan raaksien. Ons is immers God se ambassadeurs.
Efs 2:10 “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.”
Soos reeds genoem, is dit egter net werke wat God in en deur die gelowige doen, wat enige loon by God sal ontvang en wat enigsins enige betekenis kan hê. (Die leser word aangeraai om die artikel “Gelowiges se werke gaan beoordeel word” te lees vir meer inligting rondom hierdie aangeleentheid.) Ware heiligmaking vind dus slegs op grond van God se genade, deur geloof alleen plaas, wat aanleiding tot Geesvervulde werke sal gee, waardeur die Here Jesus Christus verheerlik sal word. Indien die gelowige hierdie opdragte uitvoer sal niks vir hom onmoontlik wees nie.
Fil 4:13 “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”
En onthou:
Sag 4:6 “Toe antwoord hy en sê vir my: Dit is die woord van die HERE aan Serubbábel, naamlik: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.”
Geniet jou wandel saam met God en rus volkome in Hom!

Seën Groete

Vic