Ras

‘n Verdere vraag oor ras en volks-identitiet

Vraag: Goeie dag Vic. Ek het nog ʼn vraag asb. Ek het jou artikel oor Ras, die gelowige en haat gelees. Ek verstaan wat jy daarin skryf en stem saam met jou artikel. My vraag is oor rasse vermenging. Die Here het tog die nasies geskei en hulle verskillende tale gegee. Ons het groot geword dat rasse nie moet vermeng nie m.a.w. trou. Ek weet dit is ʼn sensitiewe onderwerp maar dis ook nie gemik op rassisme of rasse haat wat volgens my nie dieselfde is as rasse vermenging nie. Sal waardeer as u kan probeer antwoord.

Antwoord: Rassisme, waar een ras dink dat hy belangriker of beter as ‘n ander ras is sonde. Maar net soos wat jy korrek genoem het, stel die Bybel dit duidelik dat dit God is wat die verskillende volke, stamme en nasies daargestel het en hulle duidelike perke van identiteit gegee het. Ek gaan jou reguit sê dat ek myself as ‘n Christen-Boere-Afrikaner beskou en dat ek trots op hierdie feit is. As Boere-Afrikaner dink ek nie dat ek enigsins beter as enige ander volk of nasie is nie. Daarbenewens stel die skrifte dit duidelik dat God nie die aannemer van die persoon is nie en daarom bied Hy die gawe van die ewige lewe kosteloos aan enige persoon wat die evangelie glo, en dit maak nie saak in watter volk of stam daardie persoon homself bevind nie. Dit was God gewees wat bepaal het in watse volk ons in gebore moes word en Hy het ʼn rede vir daardie spesifieke keuse gehad. Hierdie feit geld vir alle mense van alle volke, en dit was nooit God se doel dat die diverse spektrum van volke met mekaar moes wedywer en mekaar haat nie.

Ek het dus niks op te roem nie, maar ek is, en bly ‘n Christen-Boere-Afrikaner met ‘n spesifieke kultuur en godsdiens oortuiging. Ek glo dat op genetiese vlak elke verskillende ras sy eiesoortige genetiese kenmerke het, en wat weereens God se liefde vir verskeidenheid ten toon stel en waarvoor ons Hom moet loof. (eerder as om mekaar te haat) Die verskille in ras kan nooit as regverdiging aangewend word om mekaar te haat, en as regverdiging vir die een of ander vorm van diskriminasie gebruik word nie. Swart atlete wat oorspronklik vanuit Wes Afrika afkomstig is, is geneties beter toegerus vir kort afstand wedlope, waar plofkrag van absolute belang is, as byvoorbeeld ‘n wit atleet. Om hierdie rede vind ons dat die meeste van die rekords oor kort afstande deur swart atlete opgestel is. So het elke etniese groep ʼn spesifieke stel genetiese kenmerke, maar dit beteken geensins dat die een beter in God se oë as die ander is nie.

Dit is God wat die moontlikheid van genetiese variasie in ons DNA geplaas het. Hierdie beginsel geld ook vir die diere en planteryk. Ek praat nie nou van makro ewolusie wat ‘n mite is nie, maar van genetiese aanpasbaarheid, wat ons binne die raamwerk van elke “soort” aantref en wat ook die moontlikheid van genetiese variasie tussen die verskillende etniese groepe daarstel. Hierdie genetiese aanpasbaarheid (wat op die inligting wat in DNA vasgestel is) is egter tot die “soort” beperk (Gen.1:11-1:25) en ons vind hierdieselfde verskynsel ook in die mens wie in God se beeld geskape is. (Gen.1:27) Om hierdie rede sien ons nooit dat ‘n mens byvoorbeeld ‘n aap word, of andersom soos wat die proponente van ewolusie verkeerdelik beweer nie. Ek glo dat die verskillende volke (wat die verskillende etniese groeperinge) by die toring van Babel ontstaan het en dat dit God was wat sake so bewerkstellig het.

Ek glo egter dat daar wel ʼn onderskeid tussen die verskillende kulture wat ons op aarde vind bestaan en dat sekere kulture wel beter as ander is. ʼn Gegewe kultuur is dus nie noodwendig aan ʼn spesifieke etniese groep gekoppel nie, maar dit kan oor ʼn wye spektrum van etniese groepe versprei wees. Dit is dus nie ‘n spesifieke ras wat ʼn gegewe kultuur skep nie, maar eerder ‘n spesifieke stel waardes en geloofsoortuigings, en wat tot ʼn spesifieke stel morele beginsels aanleiding gee en dit is hierdie feit wat daartoe aanleiding gee dat die een kultuur beter as ‘n ander is. Die Weste het die Christelike geloof as hulle grondslag en hierdie feit het daartoe aanleiding gegee dat hulle tegnologies en ekonomies beter af as ander kulture is. (sake is baie vinnig besig om te verander, juis omrede die Weste toenemend hulle Christelike grondslag verwerp, en met humanistiese en valse godsdiensstelsels vervang. In hierdie opsig kan ons ook God se oordeel oor die Westerse nasies te wagte wees waarvan die finale uitdrukking daarvan in die Groot Verdrukking uiting sal vind.

Ons almal (mense uit alle volke en nasies) Het Adam en Eva as stamvaders en is in hierdie opsig broers van mekaar.
Hand.17:26 “En Hy het uit een bloed (Adam waaruit die Here Eva gemaak het) al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, 27 sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie;”
Maar ons merk ook dat die skrifte nie net verklaar dat ons almal Adam as stamvader het nie, maar dat dit ook God is wat die nasies daargestel het en wat hulle grense bepaal. Self tydens die Dispensasie van die Koninkryk sal die onderskeid tussen die verskillende nasies gehandhaaf word.
Miga 4:3 “En Hy (die Here Jesus Christus) sal oordeel tussen baie volke en regspreek vir magtige nasies tot in die verte; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.”
Dieselfde beginsel geld vir die ewigheid op die nuwe hemel en aarde, ‘n artikel wat ek juis nou besig is om te skryf.

Ons lewe in ‘n samelewing waarin daar gepoog word om alle grense wat God daargestel het ongedaan te maak. God verwag byvoorbeeld van ons om die evangelie aan volke binne hulle spesifieke kulturele taalverband te verkondig, en daarom merk ons dat daar baie sendelinge is wat na ander lande reis om daar hulle teiken volk se taal, en kultuur aan te leer met die doel om die evangelie aan hulle binne die raamwerk van hulle eie kultuur te verkondig. Dit is nie die sendeling se opdrag om ‘n gegewe groep mense se kultuur te verander nie. Ongelukkig is hierdie fout wel in die verlede deur goed bedoelende sendelinge gedoen. Ons is veronderstel om die kerk se mandaat, naamlik om die evangelie te verkondig, (Mark.16:15) en dissipels van hulle te maak, (Matt.28:19) getrou uit te voer.

Daarbenewens behoort daarna gestreef te word om korrekte Bybelse leerstellings aan hierdie mense, binne die raamwerk van hulle spesifieke kultuur, te verkondig. Soos wat hulle korrekte Bybelse leerstellings in hulle persoonlike lewenswandel toepas, sal dit tot veranderings in die areas waar hulle kultuur met God se woord in botsing kom, van binne na buite verander word. Indien die evangelieboodskap met byvoorbeeld Zoeloes gedeel word, dan moet ons nie poog om ons Boere-Afrikaner kultuur op hulle af te dwing nie. Die kulturele verskille wat daar tussen die verskillende volke bestaan behoort gerespekteer te word, en God moet toegelaat word om enige veranderings te maak soos wat Hy dit goeddink. Daar moet dus nie gepoog word om byvoorbeeld van ‘n Zoeloe ‘n Boere-Afrikaner te maak nie. In hierdie opsig behoort hy ʼn Christen Zulu te word en deel van die universele kerk (die liggaam van Christus) te word maar sy volksidentiteit, asook sy etniese identisiteit, behoort binne hierdie konteks gerespekteer te word. Dit geld vir elke stam en taal, maar dit beteken nie dat ons die een groep minder moet liefhê as wat ons ‘n ander groep het nie. God is vir almal lief, en net soos God moet ons almal liefhê sonder om inbraak op hulle unieke volksidentiteit te maak. Om die verskillende volke op ‘n kunsmatige wyse saam te voeg gaan net tot verdere probleme aanleiding gee.

Die proponente van die een wêreld regering poog nie net om enige verskille wat daar tussen die verskillende volke, en etniese groepe bestaan uit te wis nie, maar self die onderskeid tussen mans en vroue heeltemal te ontken, en uit die weg te ruim en met onbybelse definisies te vervang. Die transgender beweging is ʼn mooi voorbeeld hiervan. Hierdie is maar net nog ‘n vorm van rebellie teen God en is niks anders as kulturele Marxisme nie. Dit is ʼn historiese feit, dat orals in die wêreld waar die ideologiese stelsel van Marxisme toegepas is, dit op ongekende magsvergrype en smart aanleiding gegee het. Dieselfde uitkoms kan dus ook verwag word sou kulturele Marxisme die oorhand in veral die Westerse wêreld kry. God se oordeel oor die Weste kan nie meer ver wees indien die konsep van onder andere liberale teologie, en kulturele Marxisme, die heersende dryfveer agter die Weste se polities-georiënteerde verwerping van hulle Bybelse fondasie is nie. Dit is nogal ironies dat diegene wat hulleself as die oplossing vir enige vorm van rassisme voorhou, in baie gevalle juis diegene is wat d.m.v. hulle uitsprake, (en optredes) die verskillende rasse polariseer en die oorsaak van rassespanning is. Hierdie feit geld veral vir politieke leiers wat deur die verpolitisering van etniese identiteit vir hulle eie sinistere doeleindes aanwend.

Dit is die duiwel se begeerte om alle grense wat God daargestel het, soos byvoorbeeld Bybelsgebaseerde volksidentiteit, geslagsidentiteit ensovoorts ongedaan te maak en dit te herdefinieer. Liberale teoloë maak gereeld van teksgedeeltes soos byvoorbeeld Gal. 3:28 wat buite konteks aangehaal word gebruik, naamlik:
Gal 3:28 “Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus.”

Die konteks van hierdie teksgedeelte handel oor alle gelowiges se posisie/stand in Christus, en handel oor verlossing fase een, naamlik wedergeboorte, nie die wegdoen met die skriftuurlike verskille soos wat ons dit in die sosiale sfeer op aarde vind nie. (Dit sluit byvoorbeeld verskille tussen volke, mense se sosiale, en ekonomiese stand, geslagsverskille tussen mans en vroue en die feit dat daar net twee geslagte is in.) Om bostaande teksgedeelte sosio-polities te verklaar kan as’n doelbewuste poging beskryf word om God se woord te verdraai om iets te sê wat die oorspronklike skrywer nooit met die stelling bedoel het nie. Ons merk dat die apostels byvoorbeeld arm was, (1Kor.4:11) maar dat hulle nooit gepoog het om hierdie feit deur sosio-politiese stelsels, soos byvoorbeeld Marxisme, te verander nie. In baie gevalle was dit juis God se wil vir hulle gewees, en dit was deel van God se plan om hulle tot geestelike volwassenheid te ontwikkel met die wete dat Hy ‘n uiters belangrike werk deur hulle wou verrig.
Fillip.4:11 “Nie dat ek dit uit gebrek sê nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. 4:12 Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. 4:13 Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee. 
1Tim. 6:6 Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ʼn groot wins. 6:7 Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie. 6:8 Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees. 6:9 Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang.”

Daar is absoluut niks daarmee verkeerd om ‘n Bybelse volksbewustheid te koester, en om ons volksidentiteit teen assimilasie te beskerm nie. Indien ‘n volk hulle Bybelgebaseerde volksbewustheid, asook volksidentiteit prysgee dan sal daardie volk met tyd sy unieke identiteit verloor en d.m.v. assimilasie met ander volke ophou om as unieke volk voort te bestaan. Om hierdie rede behoort elke afsonderlike volk sy unieke volsidentiteit teen assimilasie te beskerm en op ‘n sinvolle wyse hulle daaraan toewy om hulle voortbestaan te verseker.

Ter afsluiting: Ek glo wel dat die Here die verskillende volke van mekaar geskei het, en indien ons as volk wil bly voortbestaan dan moet ons hierdie perke eerbiedig. Hierdie feit geld vir alle volke. Bostaande stelling sou egter sinneloos vir ‘n persoon wees wat nie ‘n begeerte het om sy volk se unieke volksidentiteit te bewaar nie. Daar is al baie mense wat ʼn ander volk se identiteit aangeneem het en wat dan a.g.v. hierdie feit heeltemal deur daardie volk geassimileer is. Dit is egter die individu se eie keuse om te maak en ek sal altyd hulle keuse respekteer. Die verloop van die mens se geskiedenis is vol voorbeelde hiervan. So ‘n keuse is egter nie vir ‘n persoon wat sy eie volk se unieke volksidentiteit wil bewaar ‘n opsie nie. Om hierdie rede dink ek dat dit nie ‘n wyse besluit is om buite ʼn persoon se volksverband te trou nie. As Christen Boere-Afrikaner van Germaanse afkoms streef ek daarna om toenemend in die kennis van die Here Jesus Christus te groei en om my medemens, maak nie saak wat hulle volksverband ook al mag wees nie, op gelyke terme te respekteer. Verder glo ek dat enige vorm van diskriminasie teenoor ‘n spesifieke groep, of volk op grond van hulle kleur of volksidentiteit verkeerd is. Hierdie bly maar altyd ʼn omstrede onderwerp en daarom het ek gepoog om dit vanuit die skrifte te beantwoord.

Seën groete,

Vic.





Deel met ander asb.