Israel

Dit is God wat Israel in hulle eie land hervestig.

Dit sal ‘n ernstige mistasting wees om na die gebeure in die Midde Ooste vanuit ‘n suiwer menslike oogpunt te benader. Daar is baie groter magte in die agtergrond werksaam wat in die mensdom se optredes regoor aarde uitdrukking vind. Ons is geneig om na die gebeure in die wêreld vanuit ons menslike perspektief te kyk, omrede ons sukkel om na die wêreld vanuit God se perspektief te kyk. Ons sien hoe die samelewing toenemend in twee kampe verdeel word. Diegene wat vir Israel is, en diegene wat teen Israel is en die debat rondom hierdie kwessies is intens. Die vraag wat ons almal eindelik moet vra is wat God oor die hele aangeleentheid te sê het, en is Sy hand in die hervestiging van Israel in hulle land waarneembaar? Daarbenewens kan ons verseker weet dat die god van hierdie wêreld, naamlik Satan, ook agter die skerms by die politieke, sosiale, ekonomiese, asook godsdienstige verwikkelinge in die Middeooste betrokke is en dit sluit die gruweldade wat Hamas in Israel gepleeg het in.

Wat ons in die Midde-Ooste waarneem vorm deel van die geopolitieke wedywering van die verskillende magsbokke in die wêreld en dit sluit die aanhitsing van rassespanning, opstande en oorloë in. Die duiwel poog om alle politieke, godsdienstige en ekonomiese stelsels te beïnvloed met die doel om globalisering te bewerkstellig. Sy doel is en bly ‘n wêreldregering waar hy in, en deur die Antichris sy plan om al die Jode, sowel as ware gelowiges om die lewe te bring en sodoende ‘n oorwinning oor God te behaal. Onthou, ons kan nie in die geesteswêreld insien nie, en daarom vergeet ons al te maklik van die intense geestelike stryd wat tussen God se engele, en Satan en sy engele plaasvind. ‘n Baie groot gedeelte van die menslike geestelike stryd vind in ons gedagte wêreld plaas. Om hierdie rede plaas die duiwel (of direk of d.m.v. sy engele) sy begeertes/filosofieë in die menslike gedagtes. Dit sluit politieke ideologieë, ekonomiese beleidsrigtings en godsdienstige leerstellings in, en vanwaar hy maklik rassespanning, haat en moord kan aanblaas. Hamas se gruweldade teenoor onskuldige Israeliese burgers is grotendeels die uitdrukking van hierdie geestelike beïnvloeding.

‘n Groot gedeelte van die Islamitiese wêreld ontken Israel se reg om in hulle eie land te bestaan. In sekere Islamitiese gebiede word Israel glad nie op die kaarte wat in hierdie gebiede gebruik word aangebring nie. Lande soos Iran, Algerië, Comore, Djiboeti, Irak, Libanon, Libië, Afghanistan, Mauritanië, Oman, Pakistan, Katar, Saoedi-Arabië, Somalië, Sirië, Tunisië en Jemen, Koeweit, Bangladesj, Brunei, Indonesië, Maleisië, Maldives, Mali, Niger en Pakistan erken glad nie Israel se reg om as onafhanklike staat te bestaan nie. Dit is ook nogal opvallend dat dit Marxistiese lande soos Noord-Korea, Venezuela en Kuba is wat ook nie Israel se reg om te bestaan erken nie. En kyk maar hoe uitgesproke ons eie regering teenoor Israel is, en die gevolglike haglike toestand waarin ons land tans verkeer.

Vir die eindtydse profesieë om in vervulling te gaan, is dit ‘n absolute vereiste vir Israel om weereens in hulle land versamel te wees. Die skrifte voorspel hierdie feit herhaaldelik en die eindtydse profesieë kan nie in vervulling gaan indien Israel nie weer in hulle land hervestig is nie, naamlik:
Jer.30: 1 “Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het. 2 So spreek die HERE, die God van Israel: Skryf vir jou in ‘n boek al die woorde wat Ek met jou gespreek het; 3 want kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek die lot van my volk Israel en Juda sal verander, sê die HERE; en Ek sal hulle terugbring in die land wat Ek aan hulle vaders gegee het, en hulle sal dit in besit neem.” (sien ook Eseg.34:11-24; Eseg.37; Sag.10:6-10)
Israel word om hierdie rede God se stophorlosie vir eindtydse gebeure genoem en dit veral m.b.t. tot Christus se wederkoms. Sommige Bybelkenners verwys na die hervestiging van die Israeliese staat as ‘n super teken vir die eindtydse gebeure om plaas te vind. Maak geen fout nie, Israel sal die sentrale punt vir die finale beslissende veldtogte wees wat ons Armageddon noem.

Maar vir die veldslae van Armageddon om plaas te vind, moet Israel weereens in hulle land teenwoordig wees, en Israel is die finale maatstaf m.b.t. die eindtydse gebeure soos wat dit in die skrifte opgeteken staan.
Sag.12:2 “Kyk, Ek maak Jerusalem vir al die volke rondom tot ‘n beker van bedwelming, en ook teen Juda sal dit wees tydens die beleëring teen Jerusalem. 3 En in dié dag maak Ek Jerusalem tot ‘n baie swaar klip vir al die volke: elkeen wat dit optel, sal hom daarmee sekerlik seer maak; en al die nasies van die aarde sal daarteen vergader word.” (en dit sluit Suid Afrika in!)

Seker een van die profetiese teksgedeeltes wat die meeste buite konteks op die kerk toegepas word is Eseg.37:1-14 wat juis oor Israel se hervestiging en hulle reg tot hulle grondgebied handel. Dit is ook dan die teksgedeelte wat ek gaan gebruik om te bewys dat Israel huidiglik weer deur God in hulle land hervestig word.
Eseg.37:1 “Die hand van die HERE was op my, en Hy het my uitgebring deur die Gees van die HERE en my neergesit in die laagte; en dit was vol bene. 2 En Hy het my by hulle laat verbygaan na alle kante toe; en kyk, daar het ‘n groot menigte oor die laagte gelê, en kyk, hulle was baie dor. 3 Toe sê Hy vir my: Mensekind, kan hierdie bene lewendig word? En ek antwoord: Here HERE, U weet dit. 4 Daarop sê Hy vir my: Profeteer oor hierdie bene en sê vir hulle: Dor bene, hoor die woord van die HERE! 5 So spreek die Here HERE tot hierdie bene: Kyk, Ek bring gees in julle in, sodat julle lewendig kan word. 6 En Ek sal senings op julle lê en vlees oor julle laat opkom en ‘n vel oor julle trek en gees in julle gee, sodat julle lewendig kan word; en julle sal weet dat Ek die HERE is. 7 Toe het ek geprofeteer soos my beveel was. En sodra ek geprofeteer het, was daar ‘n geruis, en kyk — ‘n beroering! En die bene het nader gekom, elke been na sy been. 8 Toe kyk ek en — daar was senings op hulle, en daar het vlees op gekom, en ‘n vel is bo-oor hulle getrek, maar daar was geen gees in hulle nie. (Israel word huidiglik op ‘n sistematiese wyse been vir been, stukkie vir stukkie, weer in hulle land versamel. Hierdie hervestiging van Israel in die land wat God aan hulle belowe het vind egter grotendeels in ongeloof plaas. Huidiglik is die land oorwegend ongelowig en weier om die Here Jesus Christus as hulle Messias te aanvaar. Uit ‘n populasie van ongeveer 8 miljoen Jode wat in Israel hervestig is, is daar tans na beraming slegs 10 000 tot 20 000 Messiaanse Jode in Israel teenwoordig.) 9 Daarop sê Hy vir my: Profeteer tot die gees, profeteer, mensekind, en sê aan die gees: So spreek die Here HERE: Kom aan uit die vier windstreke, o gees, en blaas in hierdie dooies, dat hulle lewendig kan word. 10 En ek het geprofeteer soos Hy my beveel het. Toe het die gees in hulle gekom, en hulle het lewendig geword en op hulle voete gaan staan — ‘n ontsaglike groot leër! (Israel wat teen die einde van die Groot Verdrukking tot geloof in Christus kom en wat dan deur die Heilige Gees wederbaar word.) 11 Toe sê Hy vir my: Mensekind, hierdie bene is die hele huis van Israel. (nie die kerk nie) Kyk, hulle sê: Ons bene is verdor, en ons verwagting is verlore; dit is klaar met ons! (’n Stelling wat die Jode teen die einde van die Groot Verdrukking sal uiter wanneer die volk gewisse uitwissing in die oog staar)12 Daarom, profeteer en sê aan hulle (Israel): So spreek die Here HERE: Kyk, Ek sal julle grafte oopmaak en julle uit jul grafte laat opkom, o my volk! En Ek sal julle (die hele huis van Israel)bring in die land van Israel. 13 En julle sal weet dat Ek die HERE is as Ek julle grafte oopmaak en julle uit jul grafte laat opkom, o my volk! (die opstanding van Ou Testamentiese gelowiges, en is ‘n gebeurtenis wat na afloop van Christus se wederkoms sal plaasvind. Bestudeer asb die illustrasie “Die Opstandings”) 14 En Ek sal my Gees in julle gee, (die Israeliete wat die Groot Verdrukking oorleef het) dat julle lewendig (wedergebore) kan word; en Ek sal julle (die hele Israel)vestig in jul land (die spesifieke grondgebied wat God aan Israel belowe het); en julle sal weet dat Ek, die HERE, dit gespreek en gedoen het, spreek die HERE.”

Bostaande teksgedeelte stel dit duidelik dat die hervestiging van Israel in fases sal plaasvind. Huidiglik sien ons hoedat die Israeliete in ongeloof besig is om in hulle land hervestig te word. Op 14 Mei 1948 het Israel onafhanklikheid verklaar, en teen die einde van die Groot Verdrukking, wanneer hulle gewisse uitwissing in die oog staar, sal hulle die Here Jesus Christus as hulle Messias aanvaar, en Israel as geheel sal wedergebore raak waarna die Here Jesus Christus met Sy wederkoms hulle van gewisse uitwissing sal kom verlos. In lig van ander teksgedeeltes in die skrifte, weet ons dat Israel eers teen die einde van die Groot Verdrukking tot geloof in die Here Jesus Christus sal kom, en waarna Hy na afloop van Sy wederkoms alle Israeliete weer in hulle land sal vestig en as Koning oor hulle sal regeer. Paulus het hierdie feit bevestig, naamlik:
Rom.11:25 “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle (die ware kerk wat hoofsaaklik uit heidene bestaan)nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele (daar is altyd ‘n baie klein oorblyfseltjie gelowige Jode wat ons as Messiaanse Jode ken wat in Christus glo)oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; 26 en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob (Israel) afwend; 27 en dit is van my kant die verbond met hulle (Israel)as Ek hulle (Israel se)sondes wegneem. 28 Wat die evangelie betref, is hulle (ongelowige Israel)wel vyande ter wille van julle (die ware kerk wat hoofsaaklik uit heidene bestaan); maar wat die uitverkiesing (as God se verbondsvolk)betref, bemindes ter wille van die vaders. (Stamvaders van Israel)29 Want die genadegawes en die roeping van God is onberoulik.” (God sal die Abrahamitiese Verbond wat Hy met Israel aangegaan het nooit verbreek nie. Bestudeer gerus weer die illustrasie “God se Verbonde met die Volk Israel”)

Christene wat teen die huidige herstel van Israel, in die land wat God aan hulle belowe het, gekant is tree in stryd met God se wil op. In hierdie opsig rebelleer hulle teen Christus. Daarbenewens rebelleer ‘n gelowige ook teen God, indien daardie persoon vir ‘n party stem wat teen Israel gekant is en wat vereis dat Israel gedeeltes van hulle huidige grondgebied moet afstaan. Die Here gaan nog met Sy wederkoms die nasies wat Israel se grondgebied verdeel het veroordeel, naamlik:
Joël.3.1 “Want kyk, in dié dae en in dié tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem verander, 2 sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat (‘n vallei wat in die huidige Israel geleë is) laat aftrek, om daar met hulle ‘n strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het.”

Onder die vaandel van politieke oortuigings, rassisme (wat omgekeerde rassisme insluit), asook valse godsdiensstelsels (wat ‘n baie groot gedeelte van die belydende Christendom insluit) kan sadistiese/barbaarse vergrype maklik tot ‘n morele beginsel verhef word. Sodoende kan die wreedste dade gepleeg en dan weer geregverdig word. Dit is boonop bitter ironies dat die sterkste uitsprake teen onreg gewoonlik van diegene afkom wat die meeste bloed op hulle hande het. Hamas, en vele ander radikale Moslem lande/groepe soos die, is ‘n mooi voorbeeld hiervan. Marxisme, ‘n ideologie wat verantwoordelik is vir die dood van ontelbare miljoene mense is nog ‘n verdere voorbeeld hiervan, en moet asb nie die Natsies onder bevel van Adolf Hitler, asook Robert Mugabe van Zimbabwe miskyk nie.

Ons moet die gebeure wat in die wêreld aangaan vanuit ‘n skriftuurlike oogpunt benader, om seker te maak dat die dinge wat ons as realiteit aanvaar nie in werklikheid ‘n misleidende realiteit is nie. Daar is baie meer as net die fisiese wêreld wat ons rondom ons waarneem. Indien ons ‘n kontekstuele korrekte Bybelse oogpunt handhaaf, sal dit verhoed dat ons die slagoffers van ‘n misleidende realiteit is, of mense is wat maar net in ‘n valse realiteit voortploeter en aspirasies nastreef wat geen ewigheidswaarde het nie.
2Kor.4:18 “omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.”
Onthou, daar is baie mense wat vir hulle misleide oortuigings sal moord pleeg. Hamas se gruweldade in Israel is ‘n mooi voorbeeld hiervan.

Ter Afsluiting: Daar kan geen twyfel bestaan dat dit God is wat Israel weer in hulle land versamel nie, en om hierdie rede sal niemand dit weer regkry om die Jode uit hulle land te verdryf nie. God bepaal waar elke nasie op elke spesifieke tydstip in die wêreld sal bestaan. Elke nasie wat vandag bestaan, bestaan omrede God dit so bepaal het en hierdie feit geld ook vir Israel.
Hand. 17:26 “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het,”

Elke nasie en volk bevind hulleself presies waar God wil hê hulle moet wees. Daar is geen uitsondering nie en dit sluit Israel in. Ons kan weereens die historiese feit van Juda se ballingskap in Babilon in 587vC as voorbeeld gebruik. Indien ‘n persoon na die Babiloniese ballingskap vanuit ‘n suiwer menslike perspektief kyk, dan sal mens logies tot die slotsom kom dat Juda se militêre nederlaag a.g.v. van Israel se sosiale, politieke en ekonomiese agteruitgang was, en wat weer tot ‘n verswakte weermag, en dus tot die militêre nederlaag en daaropvolgende ballingskap aanleiding gegee het. Maar indien mens die vraagstuk vanuit die Skrifte benader, dan vind mens uit dat die oorsaak van Juda se ballingskap, niks anders as hulle afgodediens, en goddeloosheid was nie, en die daaropvolgende ballingskap is niks anders as God se oordeel oor Israel nie. (Die leser word te sterkste aangeraai om die artikel “Dokumentêre programme en die komende oorlog” te bestudeer.”) Daar is dus slegs een oorsaak vir Juda se ballingskap, en dit is God se oordeel oor hulle vir hulle sondes, en die sosiale, ekonomiese politieke en militêre debakel is maar net effekte van God se oordeel oor Juda. Maak geen fout nie, Israel is presies waar die Here hulle wil hê en dit geld vir elke nasie en volk wat op die aarde bestaan. Dit is God wat die wêreld op ‘n verdrukking af stuur juis om die goddelose mensdom vir hulle boosheid te veroordeel. In hierdie opsig is die duiwel, asook die goddelose mensdom instrumente in God se hande. Van ‘n suiwer humanistiese oogpunt mag die idee van ‘n eenwêreld regering met ‘n enkele geldeenheid, een godsdiens, en een weermag na ‘n goeie idee lyk, en wat weer moontlik ‘n einde aan oorloë, rassisme, misdaad en geweld kan maak. Maar vanuit ‘n korrekte skriftuurlike oogpunt, is dit duidelik dat die God-verwerpende mensdom se planne nie gaan verloop soos wat hulle beplan het nie Dit gaan eerder tot die grootste bloedvergieting van alle tye aanleiding gee. (Bestudeer asb die illustrasies “Daniël se 70 Jaarweke” asook ” Nebukadnesar se droom in Daniël 2 en Daniël se visioen Daniël 7

Alle Christene behoort agter Israel te staan, nie omrede hulle ons broeders in die geloof is nie, die meerderheid van hulle is nie, maar omrede hulle God se uitverkore volk is. Daarbenewens is dit God wat Israel weer in ongeloof in hulle land versamel. Na afloop van die Groot Verdrukking, en Christus se wederkoms, sal hulle wel ons broeders in die geloof wees. Ons staan agter Israel omrede ons God se kinders is, en as dit God is wat weer Sy volk Israel in hulle beloofde grondgebied hervestig dan kan ons nie teen hulle gekant wees nie.
Ps.122:6 “Bid om die vrede van Jerusalem; mag hulle wat jou liefhet, rustig lewe!”
Sag.2:8ff “ wie julle
(Israel) aanraak, raak Sy oogappel aan.”
En daarom is dit van uiterste belang om vir Israel te bid. (onthou om nie die illustrasie “Die Opstandings” sorgvuldig te bestudeer nie.)

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.