Godsdiens

Godsdiens vs Verlossing – dieskrifte.org

Het jy blote godsdiens of het jy verlossing? Dit is die vraag wat ons in hierdie studie moet beantwoord. Die antwoord op hierdie vraag het ewigdurende implikasies. Wanneer dit by die leerstelling van ons verlossing kom, is dit van uiterste belang dat ons die Skrifte reg sny, anders kan dit daartoe lei dat ons ‘n ander evangelie glo, wat op werke alleenlik, of Christus se voltooide werk aan die kruis plus werke gebaseer is om gered te word, of om gered te bly, wat in my beskeie opinie ‘n ander evangelie is. Iets waarteen die apostel Paulus ons ernstig gewaarsku het.
2Ti 2:15 “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.”

Hnd 4:12 “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.”
Vir baie mense sal dit as ‘n skok kom om te hoor dat die Bybel dit baie duidelik stel dat ‘n persoon “godsdienstig” kan wees en nog steeds die ewige lewe kan misloop. Dit is ook opmerklik dat die natuurlike (ongeredde) mens by tye godsdienstige dade sal verrig, en dan verkeerdelik onder die indruk kan verkeer dat hy deur die doen van hierdie dade God aanbid in ‘n poging om deur genoemde werke God te oorreed om hom te verlos en die ewige lewe aan hom te skenk.

Hand. 4:12 stel dit baie duidelik dat daar geen ander naam, onder die hemel, aan die mensdom gegee is waardeur hy gered kan word nie! Of jy word deur die Here Jesus Christus (plus niks) gered of jy sal nooit gered word nie. Punt! Dit is van uiterste belang dat daar geen misverstand rondom hierdie aangeleentheid bestaan nie. Dit is letterlik ‘n kwessie tussen Hemel of Hel! Daar is baie name onder die son waardeur die mensdom godsdiens kan bedryf (insluitend baie sogenaamde Christelike groepe) maar verlossing is slegs in een persoon te vinde, naamlik in die naam van die Here Jesus Christus!

Daar is geen verlossing in priesters, profete, apostels, boetedoening, goeie werke doen, of selfs gebed nie. Verlossing sal slegs plaasvind wanneer ‘n persoon uitsluitlik die Here Jesus Christus vir sy verlossing vertrou. ‘n Persoon, of groep persone, mag dalk sakramente en goeie diens beoefen; of hulle mag dalk oor hulle eie kerk, kerk geboue en liefdadigheidswerk beskik; of trane huil; of skatte aanbied; of hulle mag dalk hulle rituele en selfs hulleself reformeer, en al hierdie dinge mag opsigself dalk goed en wel wees, maar dit beskik nie oor die vermoë om die ewige lewe aan die mensdom te gee nie. God het hierdie feit baie duidelik in Sy woord aan ons oorgedra!
1Jo 5:11 “En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun. 5:12 Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie. 5:13 Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God.”

Die oorgroot meerderheid van die mensdom is bereid om die hoogtes van gunsbetoning en kerklike rituele te beoefen, (wat na aanvanklike wedergeboorte uiters belangrik is) maar wat egter weier om die laagste plek van ‘n skuldige sondaar, wat as erkende sondaar slegs op die Here Jesus Christus om verlossing vertrou. Hulle is bereid om oor ‘n kop kennis van die Christelike geloof te beskik, asook om die morele voorskrifte van God, soos wat dit op die tien gebooie gebaseer is, te glo, maar weier om volkome op Christus alleenlik, as die Verlosser van hulle siele te glo, en volkome op Sy Persoon, en voltooide werk aan die kruis vir hulle, te rus en derhalwe maak hulle op hulle eie rituele en goeie werke staat al erken hulle dit nie openlik nie. Derhalwe gaan ons blote godsdiens met verlossing vergelyk, sodat ons in die bestudering van hierdie twee belangrike onderwerpe kan seker maak dat ons nie net oor blote godsdiens beskik nie, maar dat ons werklik verlossing bekom het.

1. Blote godsdiens: Is die mens se poging om sy eie sonde natuur te verbeter of te reformeer.

Verlossing: Is wanneer God aan ‘n persoon, wanneer daardie persoon, deur geloof in Sy Seun (se Persoon, en voltooide werk aan die kruis) aan daardie gelowige, (sondaar) ten tye van wedergeboorte, ‘n nuwe natuur toevoeg.
Joh 1:12 “Maar almal wat Hom ( Die Here Jesus Christus) aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;” (In konteks van die Bybel, verteenwoordig ‘n persoon se Naam die persoon self, wie hy is en wat hy gedoen het.)
Esg 11:19 “En Ek sal hulle een hart gee, en ‘n nuwe gees in julle binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit hulle vlees verwyder en hulle ‘n hart van vlees gee,
2Ko 5:17 Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.
Gal 6:15 Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar ‘n nuwe skepsel.”
Die leser word ten sterkste aangeraai om die studie “Heiligmaking op grond van genade deur geloof” te lees.)

2. Blote godsdiens: Is ‘n poging van die mens om homself in ‘n kleed van sy eie geregtigheid te klee, om sodoende verlossing te bewerkstellig. God stel dit egter baie duidelik in Sy woord (die Bybel) dat al die mens se geregtighede soos ‘n besoedelde kleed voor Hom is en derhalwe sal ons goeie werke nooit ons voor ‘n heilige God geregtig kan verklaar nie!.
Jes 64:6 “En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.”

Verlossing: Klee die gelowige in die kleed van Christus se toegerekende geregtigheid. Slegs hierdie toegerekende geregtigheid van die Here Jesus Christus maak ons voor ‘n absolute Heilige God aanvaarbaar. Hierdie toegerekende geregtigheid van die Here Jesus Christus sluit alle menslike werke uit. Om enigsins menslike werke by Christus se toegerekende geregtigheid vir verlossing te voeg, is om God en Sy gawe van die ewige lewe, wat op Sy terme in geloof aanvaar moet word, te verwerp.
Tit 3:5 “nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees 3:6 wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser; 3:7 sodat ons, geregverdig deur sy genade, erfgename kan word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe.”
Genade kan nie slegs goedkoop wees nie! Om werklik genade in die Bybelse sin van die woord te wees, moet genade heeltemal kosteloos wees! Om te beweer dat ‘n persoon goedkoop genade verkondig, is om te beweer dat God se genade deur ons gekoop moet word. (al is dit goedkoop, of dalk ‘n winskopie!) Om so iets te verkondig, is om God se genade tot ‘n menslike transaksie te verlaag, en God se werk van verlossing te verwerp en die eer, wat slegs Hom toekom, te roof! (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Bekering, geloof en die ewige lewe” te lees.)

3. Blote godsdiens: Godsdiens beteken net dit, Godsdiens! Godsdiens is dus iets wat die mens vir God doen, naamlik enige goeie werke of diens deur die mens vir God gedoen.

Verlossing: Is wat God vir die mens doen. Die Bybel stel dit duidelik, dat ons almal in rebellie teen God, ons eie wee gevolg het, wat beteken dat Hy verplig is om ons in Sy geregtigheid tot ‘n ewige verderf te veroordeel. God het egter die inisiatief geneem en alles gedoen wat gedoen kan word om die mens van die verderf te red. (die mens kon, en kan, niks tot hierdie verlossing bydra nie!)
Jes 53:6 “Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.”
Dit is God, wat in Christus, die mens se sonde probleem eens en vir altyd opgelos het, deur al ons sondes op Christus te lê en Hom in ons plek aan die kruis vir daardie sondes te straf. Dit is dus nie wat die mens vir God moet doen om Hom so ver te kry om ons te wil verlos nie, maar die mens moet nou slegs in geloof die geskenk van die ewige lewe van God ontvang, sonder om enigsins daarvoor te probeer werk! (dit het God alles gekos! Dit kos die mens niks!)

4. Blote Godsdiens: Godsdiens is wanneer die mens God met iets (enige iets, soos byvoorbeeld goeie werke, doop, kerk bywoon, tiendes gee ens.) in sy hande nader. (ons almal behoort God te dien maar ons dien nie om gered te word nie, maar omrede ons alreeds deur God verlos is! Daar is ‘n groot verskil tussen die twee stellings. Die verskil is egter tussen die ewige lewe of die ewige verderf!)

Verlossing: Verlossing verklaar in effek dat ek God nader met niks in my hande nie, en dat ek op God se genade, en beloftes, en Christus se voltooide werk in my plek aan die kruis, deur geloof in ontvangs neem, met die wete dat ek as sondaar niks het om myself van God se oordele los te koop nie.
Efs 2:8 “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 2:9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.”

5. Blote Godsdiens: Is wanneer ons op die goeie werke wat ons self doen vertrou om ons voor ‘n Heilige God regverdig te verklaar.

Verlossing: Is om op die alreeds voltooide werk wat God, in Christus aan die kruis bewerkstellig het, te vertrou.
Heb 10:10 “Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal.”
Dus moet ons in Christus se alreeds afgehandelde werk aan die kruis vertrou en nie op iets wat ons vir God kan doen nie! Ons kan geensins iets tot God se verlossingswerk bydra nie. Om te poog om so iets te doen is om die evangelie op God se terme te verwerp!

6. Blote Godsdiens: Is van ons gehoorsaamheid aan God afhanklik.

Verlossing: Is van ons geloof in Christus, en Sy voltooide werk aan die kruis namens ons, afhanklik.
Hnd 16:30 “En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word? 16:31 Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”

7. Blote Godsdiens: Vereis van ons om ons beste gedrag te lewer.

Verlossing: Verwag van ons om God se beste in geloof te aanvaar.
Rom 6:23 “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.”

 8. Blote Godsdiens: Is van die mens se toewyding en karakter afhanklik.

Verlossing: Is van God, in Christus, en Sy voltooide werk aan die kruis, afhanklik.
1Ko 1:18 “Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God;”

9. Blote Godsdiens: Alle godsdienste (insluitend die oorgroot meerderheid van die belydende Christendom) is ‘n poging van die mens, om op die een of ander wyse, deur sy eie menslike werke sy eie offergawes vir sondes aan God te bied, om daardeur sy verlossing te bewerkstellig. Die enigste uitsondering is die ware Christelike geloof wat uitsluitlik op God, in Christus, vertrou wat hulle verlossing volkome bewerkstellig het.

Verlossing: Vertrou alleenlik, en uitsluitlik, op Christus en die opoffering van Homself aan die kruis om ons redding te bewerkstellig.
Joh 19:30 “En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! (ons sondeskuld is eens en vir altyd volkome betaal. ‘n Enkele gebeurtenis op ‘n punt in tyd!) En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.”
Dit is nou nie meer ‘n kwessie oor wat ons met ons sonde moet doen om die ewige lewe te ontvang nie, maar wat ons met die Seun (en Sy offergawe) gaan doen, wat gaan bepaal waar ons die ewigheid gaan deurbring!

10. Blote Godsdiens: Streef deur eie werke, en boetedoening, om ‘n gunstige posisie voor God te bewerkstellig.

Verlossing: Is volledige, en volkome, versoening wat slegs op grond van God se genade en Christus se Persoon, en voltooide werk aan die kruis, bewerkstellig is en wat in geloof aangeneem moet word.
1Pe 1:18 “omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, 1:19 maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,”

 11. Blote Godsdiens: Is ‘n menslike poging om homself deur sy eie werke vanuit die duisternis na die lig oor te bring.

Verlossing: Vind plaas wanneer God, in Christus, die mens vanuit die dood (die duisternis) na die ewige lewe (lig) oorbring.
Joh 5:24 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.”

12. Blote Godsdiens: Vereis dat ons in God se huis gevind word.

Verlossing: Vereis dat ons in Christus gevind word.
Fil 3:9 “en in Hom (die Here Jesus Christus) gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid (toegerekende geregtigheid wat net in Christus te vinde is) wat uit God is deur die geloof;”
Die ware Kerk is nie ‘n gebou of denominasie nie, maar bestaan uit alle wedergebore gelowiges wat hulle geloof slegs in die Here Jesus Christus se Persoon, en voltooide werk vir hulle aan die kruis vir hulle, geplaas het (Die Evangelie) Verlossing is nie in die Kerk of enige iets anders behalwe die Here Jesus Christus te vinde nie. (Lees asb die artikel “Is die Kerk die weg na God?”)
Hnd 4:12 “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.”
Bogenoemde stelling vrywaar die gelowige geensins om saam met ander gelowiges as gemeente te versamel nie, maar die bywoning van Kerk vorm deel van dissipelskap/heiligmaking (fase twee van ons verlossing) en nie wedergeboorte (fase een van ons verlossing) nie. Dit is uiters belangrik dat alle gelowiges die drie fases van ons verlossing ken en verstaan en derhalwe word die leser ten sterkste aangeraai om die artikels “Drie Fases van Verlossing” asook “Onderskeid tussen ‘n gelowige en ‘n dissipel” te lees)
Heb 10:25 “en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”

 Ter Afsluiting: Of ons dit nou wil erken of nie, een feit bly staan en dit is dat ons in ‘n geweldige stryd gewikkel is om die Evangelie van God se genade van aanvalle daarteen te verdedig. 
2Ti 2:15 “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.” 

Die vraag wat elkeen van ons eerlik moet kan beantwoord, is of ons godsdiens of verlossing het. Indien ‘n persoon slegs godsdienstig is (en daar is baie sulke mense in die belydende Christendom) en daardie persoon het nie verlossing nie, gaan so ‘n persoon met ‘n skok agterkom dat hy die ewigheid in die poel van vuur gaan deurbring. En dan gaan dit te laat wees om enigsins sy lot te verander. Ons het net tydens ons huidige lewens kans om seker te maak of ons wel die Evangelie verstaan en geglo het. Daar is nie ‘n tweede kans na afloop van hierdie lewe nie.

Derhalwe is dit van uiterste belang dat gelowiges die drie fases van verlossing verstaan. Om enigsins werke, by slegs geloof in Christus se voltooide werk aan die kruis, te voeg is om die Evangelie in ‘n werke evangelie te verander, wat sal veroorsaak dat so ‘n persoon sy hele lewe lank sal stry om deur sy geloof, plus goeie werke, homself te red of gered te hou. (die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Drie fases van verlossing” op die webtuiste te lees) Slegs na wedergeboorte (fase een van ons verlossing) kan werklike heiligmaking (fase twee van ons verlossing) werklik begin. Slegs indien ‘n persoon werklik wedergebore is, kan ware Godsdiens in die vorm van toegewyde dissipelskap/heiligmaking deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees plaasvind, wat ‘n lewenslange proses is. Vir ‘n ongeredde persoon om heiligmaking toe te pas, is niks anders as reformasie in eie krag nie. Sodanige reformasie het dalk voordele vir hierdie lewe, maar sal geensins daartoe bydra dat die ongeredde persoon die ewige lewe sal ontvang nie. (Lees asb die artikel “Wat is die Ewige Lewe?) Geloof in Christus + niks = Die Ewige Lewe. (Ware Evangelie) Geloof in Christus + enigiets anders = Ewige Verderf. (Werke evangelie/valse evangelie)

Die onus is op ons om seker te maak in Wie, wat en hoekom ons glo. Onthou, geloof wat nie op korrekte Bybelse leerstellings gebaseer is nie, is nie reddende geloof nie maar eerder ‘n delusie!
Reddende geloof is om in die Here Jesus Christus, as die Seun van God te glo, Wie gesterf het en weer uit die dood uit opgestaan het, om jou persoonlike sondeskuld voor ‘n regverdige God te betaal, en die Een wat aan almal die ewige lewe skenk wat Hom, en Hom alleen, daarvoor vertrou.

Het jy godsdiens of het jy verlossing? Soos reeds gemeld, kan werklike Godsdiens slegs na afloop van wedergeboorte/verlossing begin.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.

Een kommentaar op “Godsdiens vs Verlossing – dieskrifte.org”

Kommentaar is gesluit.