Die Here roep almal

Die Here roep almal

Vraag:  Wat het die Here met die volgende stelling bedoel?
Johannes 6:44 “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.”
Beteken dit dat die Vader sekere mense nie na Jesus sal trek om gered te word nie? Hoekom roep ek die Here dan aan as Hy klaar oor my lot besluit het?

Antwoord: Hierdie stelling wat Jesus gemaak kan nogal baie angstigheid by mense skep. Hoe kan mens dan seker wees dat die Vader iemand in die eerste plek getrek het? Dit wil ook dan voorkom asof net seker mense getrek word om dan gered te word. Die probleem kom wanneer die mens sy teologie op die Bybel afdwing en nie toelaat dat die Bybel die persoon se teologie vorm nie. Kom ek verduidelik.

Johannes 12:32 “En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek.”
Hier het die Here nie net aangedui hoe Hy sou sterf nie, maar dit ook duidelik gestel dat Hy alle mense na Hom toe sou trek. Almal beteken almal en nie net sekeres nie, anders sou die Here dit so gestel het. Petrus en Paulus stel dit ook mooi duidelik.
2Petrus 3:9 “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.
En verder:
1Timoteus 2:3 “Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.”
Bogenoemde  teksgedeeltes stel dit duidelik dat die Vader nie wil hê dat enige iemand verlore moet gaan nie, maar Hy wil hê almal moet tot bekering kom en gered word. Ek moet net noem dat nie almal gered word nie. Dit is nie omdat God nie wil hê dat hulle gered moet word nie. Hulle gaan verlore, omdat hulle nie die betaling van hulle sondes, deur Jesus se Kruisdood wil aanvaar nie. Hulle verwerp dus die enigste metode om gered te word. Dit is ‘n vrye keuse wat hulle maak en hulle is verantwoordelik vir hulle eie keuse.

Die Vader kies nie dat enige mens verlore gaan nie, maar Hy weet vooraf wie Jesus gaan aanneem en wie Hom gaan verwerp. Die Here het voorkennis en dit is hoekom Hy kan sê dat Hy ons voor die skepping van die wêreld uitgekies het om in Sy Seun te wees, maar elke persoon bly verantwoordelik vir die keuse wat hyself maak, want die Here het aan hom ‘n vrye wil gegee om te kan kies.
Romeine 8:29 “Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; 8:30 en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.”
Uit bogenoemde teksgedeeltes kan mens duidelik die hele proses sien wat die Here volg om mense te red.

Mense wat beweer dat die Here uit Sy genade uit vooraf besluit wie Hel toe gaan en wie nie, bring ‘n klad teen God se persoonlikheid, want Hy is ‘n God van genade en liefde. Daar is geen liefde of genade daarin om iemand Hel toe te verdoem net omdat Hy so besluit het nie. Almal verdien om Hel toe te gaan, hoe kan dit liefde wees as God almal kan help, maar Hy help net ‘n klein groepie. Wat ‘n verkragting van God se karakter is dit nie!  Gelukkig is dit nie die God van die Bybel nie, want die God van die Bybel wil hê almal moet gered word en dat niemand verlore moet gaan nie. Die Bybel stel hierdie feit baie duidelik.

Die Bybel is vol teksgedeeltes waar die Here met die mens pleit om na Hom te bekeer (Om hulle opinie oor Hom, en Sy voltooide werk aan die kruis vir hulle, te verander en Hom te glo) om gered te word. Indien die Here vooraf bepaal het om ‘n sekere persentasie van die mensdom te laat verlore gaan wie Hy kon gered het, dan sou ‘n groot groot gedeelte van die Bybel absoluut niks beteken het nie. Hoekom sou die Here met die mens pleit om hulle saak met Hom reg te maak, indien Hy alreeds besluit het om hulle nie te red nie?
Jesaja 1:18 “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.”
Nie net dit alleen nie, maar dit sal van God ‘n leuenaar maak. Hoe kan Hy in die een asem iemand uitnooi om met Hom sy saak uit te maak, indien Hy dan alreeds besluit het om die persoon na die Hel te verdoem. Die God van die Bybel doen nie so iets nie. (en dit is ongelukkig hierdie valse leerstelling wat veroorsaak dat baie mense hulle rug op God draai!) Indien dit so was dat God vooraf mense uitverkies om Hel toe te gaan, sou die onderstaande stelling sinneloos gewees het.
Romeine 10:13 “Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. 10:14 Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek?”
Hoekom dan preek indien die mensdom se lot alreeds deur God bepaal is? Maar gelukkig weet ons dat elkeen, elkeen beteken en dit sluit niemand uit nie, anders sou Paulus nie die term “almal” gebruik het nie en moes hy dan eerder die term “vooraf uitverkorenes.” gebruik het. Dan sou die genoemde teksgedeelte soos volg op skrif gestel moes word , naamlik: “Net die uitverkorenes, wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.”  Dit is egter nie wat in die Bybel staan nie, en hoekom moes hulle dan die Naam van die Here aanroep as Hy alreeds besluit het dat hulle Hemel toe gaan sonder enige besluit/wil van hulle eie? Dit sou mos onnodig wees. Hoekom moes hulle na die Here roep as Hy hulle alreeds uitgekies het en hulle keuse geen invloed op hulle heil/verlossing kon hê nie? Die Bybels stel dit egter duidelik dat die Here almal na Hom toe trek, soos alreeds hierbo gedemonstreer is.

Hoe trek die Here dan mense na Hom toe? Op verskeie maniere maar ek gaan net twee hier weergee. Die Here trek hoofsaaklik mense na Homself toe, deur die oortuigings werk van die Heilige Gees in ‘n persoon se hart, wanneer die ware Evangelie aan hom verkondig word.
Markus 16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.
Romeine 10:14 Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek?
Tweedens getuig die Skepping self van God.
Romeine 1:18 “Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, 1:19 omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. 1:20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;
1:21 omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister.”

Ek is vas oortuig daarvan dat enige persoon wat werklik met sy hele hart uitroep na God toe, Hom sal vind, maak nie saak waar daardie persoon homself in die wêreld mag bevind nie. Die Here sal Homself aan daardie persoon openbaar en die Evangelie by hom kry.
Lukas 11:9 “En Ek sê vir julle: Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. 11:10 Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.”
Onthou, geen mens sal die Here aanroep as die Vader nie eerstens daardie persoon op die een of ander wyse trek nie. En soos alreeds genoem, trek God almal!

Hierdie is ‘n onderwerp wat nog baie bespreek kan word, maar ek glo hierdie sal genoeg wees. Ek hoop dit help. Daar is geen twyfel by my dat die Here ons almal roep nie. Net die mense wat in geloof na Hom toe draai sal egter gered word.  Daarom is dit belangrik om die Evangelie met die hele mensdom te deel!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.