Slegs geloof as basis vir wedergeboorte

Slegs geloof as basis vir wedergeboorte

Rom 4:5 “aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.”
Geen mens sal ooit gered word deur sy eie goeie werke nie. Die sondaar word slegs op grond van God se genade en geloof in Jesus Christus gered en nooit op grond van die persoon se eie goeie werke nie. (Efesiërs 2:8-9; Titus 3:5) Nie een van ons sal ooit genoeg goeie werke kan doen om by God geregverdig te word nie, omrede ons goeie werke nooit by God aanvaarbaar sal wees as grond vir regverdiging nie.
Jes 64:6 “En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.”
Op grond van hierdie feite, moet ons ophou werk om gered te word en in geloof, in die voltooide werk van Jesus Christus aan die kruis, te rus.
Joh 19:30 “En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.”
Met die woorde: “Dit is volbring” het Jesus dit duidelik gestel dat Sy verlossingswerk voltooi is. Daarom is dit van kardinale belang, dat ons as gelowiges besef, dat Jesus vir al ons sondes aan die kruis betaal het en dat dit Hy was wat al die werk gedoen het. Al wat Hy van ons verwag is om Sy Evangelie in geloof toe te eien en te rus van ons eie werke en slegs op Hom te vertrou.

Soos wat ons duidelik in die bostaande gedeelte van hierdie artikel opgemerk het, is dat dit net geloof is wat God van ons verwag om gered te word. Geloof is maar net ‘n menslike reaksie wat God van die mens verwag op grond van Sy woord, Sy Persoon, Sy werke en beloftes. Sonder geloof sal niemand ooit God kan behaag nie en daarom is dit so belangrik dat ons geloof in God het.
Heb 11:6 “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.”
Om hierdie rede is geloof so belangrik nie net vir wedergeboorte nie, maar ook vir ons verhouding met die Here na wedergeboorte, wat heiligmaking insluit. Daarom het die Apostel Paulus ook die gemeente van die Galasiërs ernstig vermaan, omdat hulle begin luister het na valse apostels wat werke (besnyding) by die die Evangelie wou voeg as grond waarop ‘n persoon gered moes word.
Gal 3:2 “Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?
3:3 Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees?
3:4 Het julle verniet so baie gely? As dit maar verniet was!
3:5 Hy wat julle dan die Gees verleen en kragte onder julle werk, doen Hy dit uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?”
Hierdie valse leerstellings is nog steeds met ons, en is aan die toeneem. Die vereiste vir besnydenis vir wedergeboorte is net met ander werke vervang, nl sabbatdag onderhouding asook die doop ens. (Ek glo mens moet na wedergeboorte gedoop word. “n Persoon word egter nie gedoop om gered te word nie, maar hy word gedoop omdat hy wedergeboorte is en die doop is ‘n praktiese uitbeelding of demonstrasie wat werklik met wedergeboorte in die persoon plaasgevind het.)

Die vraag wat dus nou ontstaan is, hoe bekom ‘n persoon geloof om gered te word? Vir die antwoord moet ons na die Bybel gaan, want dit is God se woord aan ons. Ons moenie op buite Bybelse openbarings staatmaak vir waarheid nie, anders gaan ons ernstig verlei word.
Rom 10:17 “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.”
Geloof word dus geaktiveer as ons hoor wat in die Bybel staan. Dit is die Bybel waar God Homself duidelik aan die mensdom bekendstel. Daarom is dit so belangrik dat ons altyd die Bybel as maatstaf vir ons leerstellings gebruik en nie ons opinies of buite Bybelse openbarings nie. Dit is dan ook van uiterste belang dat ons hierdie leerstellings aan ander verkondig. Dit sluit alle vorms van die media, asook direkte verkondiging van die woord van God, in.
Rom 10:14 “Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek?”

Die Bybel stel dit ook baie duidelik dat met wedergeboorte in drie afsonderlike stappe plaasvind.
Efs 1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,”
Dus is die eerste stap tot wedergeboorte die hoor van die Evangelie. Die tweede stap tot wedergeboorte behels die aanhoor van die Evangelie. Die derde en laaste stap tot wedergeboorte vind plaas as ons die Evangelie wat ons gehoor het, glo. Die oomblik as ons die Evangelie glo is ons wedergeboorte en ontvang ons God se waarborg dat ons die ewige lewe het en daarom word ons deur die Heilige Gees verseël as waarborg dat ons aan Hom behoort is. Ons kan dus nie verlore gaan nie! Dus is dit belangrik dat ons besef dat geloof se waarde nie in die geloof self lê nie, maar dat die waarde van ons geloof in die objek van ons geloof gesetel is. In die geval van die gelowige is dit God, en omdat God almagtig is kan die gelowige verseker weet dat sy geloof nie verydel sal word nie. Dus sal ‘n gelowige nooit verlore kan gaan nie!

Verder moet ons ook duidelik verstaan dat ons geloof op ware feite gebaseer moet wees en nie op fabels nie. As ons geloof in iets onbetroubaar gestel is, gaan dit tot ons ondergang lei en daarom is dit belangrik dat ons geloof in Jesus Christus alleen gesetel is en nie in onsself , die wet of in enige iets anders, of enige werke of tradisies nie. Net God is onfeilbaar en net Hy kan ons red. Dit is dan ook baie belangrik dat ons geloof op feite gebaseer is en nie op ons gevoelens nie. Gevoelens kan mens mislei maar ware feite (God se woord) bly vir ewig staan en is nie afhanklik van gevoelens nie.
1Pe 1:23 “want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.
1:24 Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ‘n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af,
1:25 maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is.”

‘n Verdere vraag ontstaan dus nou. Hoeveel geloof is nodig om wedergebore te word? Soos reeds genoem lê die waarde van ons geloof nie in ons geloof self nie, maar is die objek van ons geloof. Dus hang dit nie af van hoeveel geloof ons het nie, maar in wie die geloof wat ons wel het geplaas is. Onthou as ons geloof in die Evangelie geplaas is, is dit God wat ons red. Ons geloof is maar net ‘n logiese reaksie op wat ons weet wat die waarheid is.
1Ko 15:1 “Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan,
15:2 waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het.
15:3 Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte;
15:4 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;
15:5 en dat Hy aan Céfas verskyn het; daarna aan die twaalf.”
Dus is dit duidelik dat Jesus gesterf het (verlede tyd). Hoekom het Christus gesterf? Hy het as plaasvervanger vir ons sondes gesterwe. Jesus Christus was begrawe (verlede tyd) as bewys dat Hy gesterwe het. Hy was op die derde dag liggaamlik opgewek uit die dood uit, as bewys dat Sy soendood aan die kruis deur God as finale offer vir die sondes van die mensdom aanvaar is. Na Sy opstanding is Jesus Christus deur Sy dissipels gesien(Verlede tyd) en dien as bewys dat Hy wel werklik uit die dood uit opgestaan het. Dus is ons geloof nie op fabels gebaseer nie maar op feitlike gebeure en persone!

Sodra ‘n persoon hierdie feite soos in die Evangelie soos hierbo uiteengesit is, glo, word die persoon onmiddellik wedergebore en ontvang hy die ewige lewe. (fase een van wedergeboorte) Die wedergebore persoon se geloof behoort dan ook na positiewe aksies te lei wat heiligmaking insluit. (Fase twee van wedergeboorte).
Kol 2:6 “Soos julle dan Christus Jesus, die Here, aangeneem het,(Hoe het ons Hom aangeneem? Deur geloof) wandel so in Hom, (So behoort ons wandel saam met Jesus ook op grond van geloof plaas te vind. Onthou alles wat nie in geloof gedoen word nie is sonde. Rom 14:23)
2:7 gewortel (in Jesus Christus sodat geestelike groei kan plaasvind) en opgebou in Hom (Groei en ontwikkeling is ‘n moet vir elke gelowige) en bevestig in die geloof, soos julle geleer is,(die ware doktrines soos wat dit is die Bybel opgeteken staan) terwyl julle daarin oorvloedig is in danksegging.”
2Ko 5:7 “Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie.
Gal 5:16 Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;”

Efs 2:8 “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;
Efs 2:9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.”
Daarom is dit belangrik dat ons besef dat reddende geloof nie ‘n gawe is nie. Reddende geloof verskil van die gawe van geloof soos wat ons dit in 1 Korintiërs 12:9 en Rom 12:7 vind . Die gawe van geloof wat ons in 1 Kor 12:9 en Rom 12:7 vind is ‘n gawe van uitsonderlike geloof wat die Heilige Gees aan ‘n gelowige skenk om ‘n belangrike werk te voltooi, wat afhang van ‘n uitsonderlike mate van geloof. Ook kan reddende geloof nie as ‘n verdienstelike werk beskou word nie en daarom is geloof alleen in volkome harmonie met God se verlossingsplan, wat slegs afhanklik is van Sy genade en wat nie op die gelowige se eie werke gebaseer is nie.
Rom 3:27 “Waar is dan die roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Van die werke? Nee, maar deur die wet van die geloof.
3:28 Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.”

Reddende geloof is dus net ‘n menslike reaksie wat God van die mens verwag op grond van Sy Persoon, Sy beloftes, Sy woord en Sy onthulling.
Heb 11:6 “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.”
Geloof is ook die enigste daad van toeëiening wat nie as ‘n werk gesien kan word nie.
Rom 4:4 “Maar aan hom wat werk, word die loon nie na guns toegereken nie, maar na verdienste;
4:5 aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.”
Ware geloof is dus ‘n vaste vertroue wat in ‘n betroubare objek geplaas word. In die geval van die gelowige is dit ‘n vaste vertroue in God se karakter, Sy vermoëns, Sy beloftes en Sy dade. Dus kan ons met sekerheid sê dat net geloof in die Evangelie tot wedergeboorte sal lei en niks anders nie. Die leser word aangeraai om seker te maak dat hy slegs die Evangelie glo en geensins op enige werke staatmaak om by God geregverdig verklaar te wil word nie. Dus:
Hnd 16:30 “En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word?
16:31 Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”
En vir verdere bevestiging:
Joh 6:28 “Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring?
6:29 Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het.”
Vertrou op God se woord en jy sal nooit beskaamd staan nie!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.