Die Kerk

Belangrike feite aangaande die kerk. Deel 2

In deel twee van die reeks “Belangrike feite aangaande die Kerk” gaan daar nog verdere belangrike inligting aangaande die kerk aan die leser gegee word. Die bestudering van hierdie onderwerp is uiters belangrik omrede die kerk as entiteit in baie kringe so verkeerd verstaan is. Die kerk moet nie met Christus se Messiaanse Koninkryk op aarde, asook Israel as volk verwar word nie en daarom is dit belangrik om die Bybels korrek uit te te lê.
2Tim.2:15 “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.
Kom ons begin nou met deel twee van hierdie studie.

Die Kerk is hemels georiënteerd:

Die Kerk het ‘n hemelse Hoof, naamlik die Here Jesus Christus:

Ef.1:20 “wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, 21 bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige. 22 En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente (die Kerk) gegee, 23 wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.”
Die Here Jesus Christus is die hoof van die kerk en om hierdie rede is elke individuele gemeente direk aan Christus verantwoordelik. Indien ‘n gelowige homself in ‘n gemeente bevind waar willens en wetens valse leerstellings verkondig word, dan is dit sy plig om daardie dwaalleerstelling in liefde teë te staan. Ons liefde vir die Here Jesus Christus en ons mede broers en susters in die geloof moet die grondslag vir ons optrede wees. Die Here het ons nie gerep om gewild te wees nie, Hy het ons geroep om getrou aan Hom te wees. Onthou, die Here Jesus Christus is die hoof van die kerk en dit is aan Hom voor wie ons gaan staan en rekenskap van onsself moet gee.

Die Kerk het ‘n hemelse roeping:

Heb.3:1 “Daarom, heilige broeders, deelgenote van die hemelse roeping, let op die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis, Christus Jesus”
Gegewe hierdie feit kan na die kerk as die hemelse mense van God verwys word.
Heb.12:22 “Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tien duisende engele, 23 by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die volmaakte regverdiges,”
Bogenoemde teksgedeelte weerlê ook die konsep van sieleslaap soos wat die Jehova Getuies, asook Sewende Dag Adventiste beweer. Bogenoemde teksgedeelte stel dit duidelik dat die geeste van afgestorwe gelowiges by God in die hemel is. Die Apostel Paulus bevestig hierdie feit, naamlik:
2Kor.5:8 “Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon.”

Die Kerk se tuiste is in die hemel:

Joh.14:2 “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. 3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer (die wegraping) en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”
Hierdie is die eerste verwysing in die Skrifte van die wegraping en dien as die grondslag van die leerstelling van die wegraping waarop die apostel Paulus verder uitgebrei het. (Die leser word aangeraai om die reeks artikels “Die Wegraping” te bestudeer.)

Die Kerk het ‘n hemelse posisie:

Ef.2:6 “ook toe ons (gelowiges wie tydens die dispensasie van Genade/Kerk tot geloof gekom het) dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus — uit genade is julle gered — 6 en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus,”
Die kerk bestaan slegs uit gelowiges wat die evangelie van God se genade geglo het en wat posisioneel in Christus geplaas is, omrede hulle deur die Heilige Gees in Christus se dood, en opstanding vanuit die dood gedoop/geïdentifiseer is en besit dus ‘n hemelse posisie. Ons is dus hemels kinders en is net vreemdelinge en bywoners op aarde.
1Pet.2:11 “Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel;”
1Pet.1:17 “En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap;” (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking. Die briewe is aan gelowiges gerig in wie fase een van hulle verlossing, naamlik wedergeboorte alreeds afgehandel is. Sien Heb.12:5-13) Lees gerus weer die artikel “ Die Drie Fases van Verlossing

Die Kerk se burgerskap is in die Hemel:

Filip.3:20 “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, 21 wat ons vernederde liggaam (tydens die wegraping) van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam (fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking) volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp.”

Die kerk het ‘n hemelse erflating met die meegaande hemelse seëninge:

1Pet.3 “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, (Fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) 4 sodat ons ‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat (nou alreeds)in die hemele bewaar is vir ons 5 wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd.” (fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking)
Ef.1:3 “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus,”

Die kerk behoort ‘n hemelse perspektief te handhaaf:

Kol.3:1 “As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. 2 Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. 3 Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.”
Gelowiges behoort die lewe in die lig van hulle posisie in Christus d.m.v. ‘n hemelse perspektief met die gesindheid van ‘n pelgrim op aarde uit te leef. Ons is blote vreemdelinge en reisigers op aarde. Ons burgerskap is in die hemel, en daarom moet ons op hemelse dinge fokus met Christus se Persoon en wil as sentrale fokuspunt.

Die Kerk het ‘n hemelse hoop met ‘n hemelse verheerlikte liggaam:

Filip.3:20 “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, 21 wat ons vernederde liggaam (tydens die wegraping)van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp.(fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking)

1Thess.1:10 “en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn (verdrukking) verlos.
1Thess.4:13 “Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. 14 Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het,
(tydens die wegraping) saam met Hom bring. 15 Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. 16 Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. 17 Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.”
Dit is opmerklik dat die Here Jesus Christus nie by hierdie geleentheid (die wegraping) Sy voete op aarde sit nie, maar ons gaan Hom in ons opgestane verheerlikte liggame tegemoet waarna Hy ons na die Vader se huis (en ons huis) sal neem soos wat Hy in Joh.14:2-4 belowe het.
Joh.14:2 “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. 3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer (die wegraping) en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”
Dit is opmerklik dat slegs gelowiges tydens hierdie opstanding vanuit die dood opstaan. Alle ongelowiges sal tydens die Wit Troon Oordeel, na afloop van die duisendjarige Vrederyk van Christus, uit die dood uit opstaan.

Ons verheerlikte liggame sal onsterflik wees en sal ook nie oor ‘n sonde natuur beskik nie. Boonop sal God ons in daardie sondelose staat bevestig sodat ons nooit weer sal sonde pleeg nie. Dit is belangrik om te onthou dat ons nie as engele geskape is nie en ook sal ons nooit engele word soos wat sommige mense verkeerdelik aanneem nie. God het ons as mense geskape en ons sal nooit die attribute wat ons ‘n mens maak verloor of verbeur nie. Ons sal nog steeds loop, eet en met mekaar kommunikeer en sal boonop vreugdevolle diens in God se koninkryk verrig. Ons gaan nie op die wolke ronddryf en niks doen nie, maar ons gaan eerder genotvolle diens in God se koninkryk verrig. Ons gaan dus volle lewens lei en dan sal ons eers werklik besef wat ‘n sinvolle en bevredigende lewe in werklikheid beteken.

Indien ons alreeds kinders van die Hemelse Vader is, en posisioneel saam met Christus in die hemele sit, (en ons is) dan behoort ons in lig van hierdie waarhede in hierdie wêreld lewe. Ons optredes op aarde behoort ons hooggeplaaste possie in die hemel te reflekteer. ‘n Koningskind behoort immers ‘n voorbeeldige lewe te leef. Ons moet die versoeking weerstaan om ons wortels te diep in hierdie wêreld in te grou. Ons behoort altyd in lig van die ewigheid te leef en volkome tot die besef kom dat hierdie aarde net tydelik is. In vergelyking met die ewigheid is ons huidige aardse bestaan met sy lyding en smarte inkluis niks. Die ewigheid is ‘n lank tyd en slegs die werke wat ons in, en deur die Heilige Gees in hierdie lewe verrig het sal ons die ewigheid in volg, en daarom is die konsep van genadeloon so belangrik.
2Kor.4:18 “omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.”
Ons moet dus altyd poog om God se doel op hierdie aarde te

Die kerk se toekoms:

Alle afgestorwe gelowiges wat tydens die Dispensasie van die Kerk tot sterwe gekom het sal liggaamlik uit die dood opstaan:

Die konsep van die opstanding word duidelik in die skrifte bevestig. Maar indien ons die skrifte sorgvuldig bestudeer sal ons vind dat daar meer as slegs een algemene opstanding in die skrifte beskryf word. Die opstanding van gelowiges, wie tydens die dispensasie van genade/kerk tot bekering gekom het, en wat in die skrifte as “in Christus” omskryf word, sal naas Christus se opstanding vanuit die dood, die eerste groep mense wees wat uit die dood sal opstaan.
1Thess.4:16 “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, (slegs gelowiges wie tydens die dispensasie van die Kerk/genade tot bekering kom, naamlik die ware kerk, word in die skrifte as in Christus omskryf)sal eerste opstaan”
Gelowiges van die kerktydperk wie alreeds in Christus tot sterwe gekom het se geeste sal saam met Hom tydens die wegraping kom en sal met hulle opgestane verheerlikte liggame verenig word. Die wegraping is die eerste fase van Christus se wederkoms.

1Kor.15:20-23 20 “Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het. 21 Want aangesien die dood deur ‘n mens is, is die opstanding van die dode ook deur ‘n mens. 22 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; 23 maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, (op die derde dag nadat Hy aan die kruis gesterf het) daarna die wat aan Christus behoort by sy koms.
1Kor.51-52a 51 Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, (nie alle gelowiges sal tot sterwe kom nie)maar ons sal almal verander word, 52 in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin (wat die Kerk Dispensasie afsluit)sal weerklink, en die dode (Kerktydperk gelowiges wat alreeds afgesterwe het) sal onverganklik opgewek word; en ons (wat ten tye van die wegraping nog leef) sal verander word. 53 Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word. (fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking)
Daar is dus ‘n toekomstige wegraping vir alle kerktydperk gelowiges. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “die Wegraping” sorgvuldig deur te lees.)
1Thess.4:17 “Daarna sal ons (kerktydperk gelowiges)wat in die lewe oorbly, saam met hulle (kerktydperk gelowiges wat alreeds afgesterf en wat nou uit die dood uit opgestaan het)in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; (die Here sit nie Sy voete met die wegraping op aarde nie. Ons gaan Hom in die lug tegemoet)en so sal ons altyd by die Here wees.”

Alle kerktydperk gelowiges sal beoordeel word maar nooit veroordeel word nie:

Hierdie gebeurtenis staan as die Regterstoel Oordeel van Christus bekend, en alle gelowiges wat tydens die kerktydperk gelewe het sal daar voor Christus moet verskyn, waar hulle werke na aanvanklike wedergeboorte beoordeel sal word en waar genadeloon uitgedeel sal word.
2Kor.5:10 “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.”
Onthou, by die Regterstoel Oordeel van Christus word niemand se ewige bestemming bepaal nie. Slegs gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie gelewe het sal by hierdie oordeel verskyn, omrede hulle alreeds in Christus deur die Heilige Gees ingedoop is. Die Here Jesus Christus het dus alreeds aan die kruis vir hulle sondes versoening gedoen en hulle kan dus nooit veroordeel word nie.
Joh.5:24 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het (alreeds) die ewige lewe (as ewige besitting omrede hy nie in die oordeel kan kom nie) en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan (verlede tydvorm) uit die dood in die lewe.” (Fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte is alreeds eens en vir altyd afgehandel)

1Kor.3:11-15 gee aan ons ‘n mooi beskrywing van wat by die Regterstoel Oordeel van Christus sal plaasvind, naamlik:
1Kor.3:11 “Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. 12 En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels — 13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.”
Lees gerus ook weer die artikels “Kriteria by die Regterstoel Oordeel van Christus” asook “Krone loon en goeie werke” en die artikel “Die Gelykenis van die Ponde” (Sien ook 1Joh.2:28-3:3)

Die Regterstoel Oordeel van Christus moet ook nie met die Wit Troon Oordeel van Christus verwar word nie. By die Wit Troon Oordeel sal slegs die ongelowiges van alle tye verskyn, en almal wat daar verskyn sal tot die poel van vuur verdoem word. (Die leser word aangeraai om die artikel “Die Wit Troon Oordeel” te lees.) By die Wit Troon Oordeel word niemand se ewige bestemming bepaal nie, maar slegs die mate van ewige straf wat hulle in die poel van vuur sal moet verduur. Ongelowiges se ewige bestemming is alreeds bepaal toe hulle in ongeloof tot sterwe gekom het, naamlik:
Joh.3:18 “Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.”

Die Kerk gaan in die toekoms saam met die Here Jesus Christus regeer:

Openb.1:5 “en van Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die aarde! Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed 6 en ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader, aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.
Wanneer die Here Jesus Christus met Sy wederkoms aarde toe kom, en Sy koninkryk op aarde vestig, dan sal ons saam met Hom terugkom en regeer. Die Kerk gaan dus deel van Christus se administrasie op aarde wees. Ons werke na aanvanklike wedergeboorte gaan ons posisies in God se koninkryk bepaal.
Openb.2:26 En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, 27 en hy sal hulle regeer met ‘n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het.”
Om hierdie rede is dit belangrik om in die Here se wil te leef en goeie werke te verrig wat Hy vir ons bepaal het. Ons moet nooit God se woord ligtelik opneem nie en kan eendag saam, en onder Hom as dienskneg konings regeer.

Ter Afsluiting:

Die kerk is nie dieselfde as die belydende Christendom nie:
Met die term “belydende Christendom” word alle denominasies en kerke wat onder die vaandel van die Christendom funksioneer bedoel, maar wat nie noodwendig die ware evangelie verkondig nie. ‘n Mooi voorbeeld hiervan is die Rooms Katolieke Kerk wat uit en uit ‘n werke evangelie verkondig en wat ook dan die grootste denominasie in die belydende Christendom is. Baie mense verwys na die moord en doodslag wat in die naam van “die Christendom” gepleeg is, maar vergeet dat nie alle denominasies, en groepe wat onder die vaandel van die belydende Christendom gefunksioneer (en soms nog steeds funksioneer) enigsins iets met die ware kerk van Christus te make het nie. Veral die sekulêre wêreld plaas die skuld van hierdie soort vergrype by die voete van die Christendom, maar besef nie dat die ware kerk uit slegs ‘n baie klein gedeelte van die belydende Christendom bestaan en niks met hierdie vergrype te doen gehad het nie. Jehova getuies en ander groepe soos hulle wat verklaar dat Christus nie God in die vlees is nie is ook voorbeelde van die belydende Christendom maar wat in werklikheid niks met die ware kerk te make het nie. Enige denominasie wat enigsins ‘n werke evangelie verkondig, of voorstaan, en wat nie die ware evangelie van God se genade verkondig nie kan nie deel van die ware kerk vorm nie. Dit sluit alle denominasies in wat doopsaligheid verkondig. Slegs mense wat die evangelie van God se genade gehoor, verstaan en geglo het vorm deel van die ware kerk, en hierdie reël geld sonder uitsondering. By verre die grootste gedeelte van die belydende Christendom is glad nie wedergebore nie en vorm nie deel van die ware kerk nie.

Daar word nooit na die Kerk as ‘n denominasie in die Bybel verwys nie:
Elke individuele gemeente is direk aan Christus verantwoordelik soos wat ons duidelik in Openbaring hoofstuk 2 en drie opmerk.

Daar word nooit na die kerk as ‘n gebou in die skrifte verwys nie:
Kol.4:15 “Groet die broeders in Laodicéa en Nimfas en die gemeente wat in sy huis is.”
In bogenoemde teksgedeelte verwys Paulus spesifiek na die groep mense daar teenwoordig as die gemeente en dit is daardie gemeente wat in ‘n spesifieke persoon se huis saamkom. Die gebou is dus nie die Kerk nie maar die mense is die Kerk.

Israel is nie ‘n ander naam vir die kerk nie:
Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Het die Kerk die volk Israel as God se verbondsvolk vervang?”te lees wat die verskille tussen die kerk en Israel duidelik weergee.)

Die Kerk is nie die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde nie:
Christus is nie nou besig om die Sy Koninkryk op aarde op te rig nie, Hy is besig om die kerk te bou. Met Sy wederkoms sal Hyself ‘n einde aan alle menslike koninkryke maak en self Sy koninkryk op aarde vestig. (Dan.2:44; Openb.11:15)

Indien die leser hierdie feite onthou sal dit verhoed dat hy deur verkeerde leerstellings weggevoer word.

Seën Groete!

Vic

Deel met ander asb.