Ewige Sekuriteit van die Gelowige

Ewige Sekuriteit van die Gelowige

Aangesien die mens geensins verdien om gered te word nie, en boonop niks kan doen om homself te red nie, maar slegs die ewige lewe as geskenk, deur geloof by God ontvang, kan hy ook niks doen om die geskenk van die ewige lewe te verloor nie. Die Here is nie ‘n mens dat Hy ‘n geskenk, wat Hy kosteloos aan die mens gegee het, sal terugneem nie. Die vrye gawe van die ewige lewe is ewigdurend en kan nie verloor, ongedaan gemaak, nietig verklaar, omgekeer of beëindig word, deur ‘n gedagte, daad of die verandering van die geloof van die wedergebore persoon nie. Die ewige sekuriteit van die gelowige kan omskryf word as ‘n onverbreekbare verhouding met God, wat Sy integriteit, absolute geregtigheid en Sy onmeetbare liefde insluit. Met aanvanklike geloof in die Evangelie vorm die Here ‘n onbreekbare Vader/kind verhouding met die gelowige en sal God,  op grond van wat die gelowige ook al mag doen, nooit daardie verhouding verbreek of ongedaan maak nie . Die Vader se werk in die verlossing van die mens kan dus geensins ongedaan gemaak word nie! Dit is God wat die verhouding inisieer en na aanvanklike geloof/wedergeboorte onderhou, nie die mens nie.

Rom 8:29 “Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders;
8:30 en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte)  en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” (Fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking wat met die wegraping voltooi sal word)
Opmerking: Indien ons die bostaande teksgedeelte sorgvuldig bestudeer, sal ons opmerk dat dieselfde groep mense wat God vooraf geken het, Hy ook uitverkies, om gelykvormig aan die beeld van Jesus Christus te wees. Die mense wat God uitverkies het, het Hy ook geroep (die hoor van die Evangelie) en die wat Hy geroep het, het Hy oog regverdig verklaar (Wedergeboorte met die oomblik van geloof in die Evangelie. Fase een van verlossing) en die wat Hy geregverdig verklaar het, het Hy ook verheerlik. (fase drie van verlossing) Dis ook opmerklik dat van diegene wat die Here vooraf geken het, niemand verlore gaan nie, maar dat almal regverdig verklaar word en uiteindelik verheerlik word. (Lees asb die artikel “drie fases van verlossing” vir meer inligting oor die fases van ons verlossing) Dit moet ook mooi verstaan word, dat God nie vooraf by Homself bepaal om sekere mense hel toe te stuur en sekeres te red nie. God is alwetend en dus weet Hy op enige gegewe tyd alles wat daar te wete is, naamlik elke moontlike gebeurlikheid, uitkoms en besluit en is daar niks wat Hy nie weet nie. God neem alles wat geweet kan word gelyktydig, onmiddellik en ewig waar. Daarom vorm voorkennis ‘n sub-kategorie van Goddelike alwetendheid. In Sy voorkennis tref God onderskeid tussen die aktuele en moontlike uitkomste, en weet daarom wie van Sy skepsels Hom gaan aanneem en wie Hom gaan verwerp. Dit is God se wil dat alle mense gered word, en daarom kies Hy diegene, wie Hy weet Hom gaan aanneem uit, en word hulle die uitverkorenes genoem. In God se alwetendheid, asook Sy algehele soewereiniteit, het Hy bepaal dat Sy wil nie die vrye wil van die mens tersyde sal stel nie en dat die mens verantwoordelik vir sy eie keuses sal wees. (dus beskik die mens oor ‘n vrye wil) God het die mens dus geskep met ‘n vrye wil en daarom maak ons daagliks vrye keuses. Ons het ook die keuse om die Evangelie te glo of om die Evangelie te verwerp. God kies nie namens ons nie, maar Hy het nog altyd geweet wat ons keuse sou wees.

God is alwetend. Hy weet alles wat daar te wete is, en boonop weet Hy ook gelyktydig alles wat daar te wete is, en boonop dit alles, het Hy ook altyd alles geweet wat daar te wete is. Die logiese uitkoms van hierdie feit is, dat God in die duister verlede geweet het dat ek en jy sou bestaan. Hy het verder van elke gedagte wat ons ooit sou dink; elke woord wat ons ooit sou uiter en elke daad wat ons sou pleeg, geweet. Hy het ook ons motiewe, gevoelens, begeertes en wense geken en dit alles van die ewige verlede af. Daarom is daar niks wat ons kan doen wat God kan verras of onkant kan betrap nie. Hy het ons ten alle tye ten volle geken nog lank voordat ons geskape is.

Boonop dit alles is God almagtig. God het dus die vermoë om alles, wat Hy nodig ag, om Sy wil suksesvol uit te voer, te bewerkstellig om Sy plan suksesvol uit te voer. Indien ons God se alwetendheid met Sy almag saamvoeg, dan is dit duidelik dat God oor al die nodige feite en middele beskik het, en dat Hy boonop ook die vermoë het om ‘n gedetailleerde plan, so groot en omvangryk soos Sy verlossingsplan vir die mensdom, saam te stel, wat nie net ons individuele sondes alles dek nie, maar wat ook al die sondes van alle mense van alle tye insluit. Daar is dus nie een sonde wat God onkant kan vertrap en waarvoor Hy nie voorsiening getref het nie! Daar is ook dan geen sonde wat die Here nie ‘n oplossing voor het nie! Daar is dus geen sonde, te groot vir die plan van God nie!! Die enigste vereiste wat God bepaal het om die Ewige Lewe te beërwe, is om Hom op Sy terme te gehoorsaam, deur om die Evangelie te glo sonder om enigsins werke daarby te voeg.

Joh 10:28 “En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.
10:29 My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.
10:30 Ek en die Vader is een.”
Jud 1:24 “Aan Hom nou wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig,”
Opmerking: Slegs God is almagtig en daarom is dit menslik onmoontlik om Sy genadegawe van die ewige elwe ongedaan te maak. Ons moet ook mooi begryp, dat dit God is wat ons verlos en geloof is maar net die kanaal waardeur ons Sy verlossing ontvang. Die verlossings daad bly egter nog steeds God se werk en daarom is Hy heeltemal in staat om die gelowige te bewaar. Dit is ook nie slegs God se werk om die gelowige te verlos nie, maar dit is ook Sy werk om ons gered te hou, soos wat die bostaande teksgedeeltes dit baie duidelik stel. Indien iemand beweer dat die gelowige homself deur ongeloof of sonde uit God se hand kan neem, beweer daardie persoon eintlik dat God, of lieg, of dat God nie almagtig is nie, want God self stel dit baie duidelik dat niemand, en ek bedoel niemand, die gelowige uit Sy hande kan neem nie. Die woord “niemand” moet by implikasie die gelowige insluit, anders sou God nie so ‘n stelling kon maak nie. God stel dit baie duidelik, dat niemand die gelowige uit Sy hande kan neem nie! Indien iemand nou beweer dat die gelowige homself uit God se hande kan neem, dan beweer daardie persoon eintlik dat Hy sterker as God self is, en dat God nie oor al die feite beskik het toe Hy hierdie stelling gemaak het nie, want God sê niemand kan die gelowige uit Sy hande neem nie, maar die mens beweer dat die mens so iets kan doen. Net een party se stelling kan die waarheid wees! Of God se stelling!  Of die mens se stelling wat God se stelling weerspreek! Om so iets te verkondig, is om woorde in God se mond te lê, iets wat uiters gevaarlik is om te doen. (Op 22:18-20) Vir die mens om te dink dat hy iets kan sê, dink of doen wat God se meesterplan vir ons verlossing ongedaan kan maak, is niks anders as ‘n direkte aanval ten opsigte van die almag en alwetendheid van God, en kom dus op ‘n baie subtiele wyse op Godslastering ten opsigte van die Naam en Persoon van God self neer!! Dink baie mooi oor hierdie feit na!

Rom 8:33 “Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. 8:34 Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.”
Opmerking: Indien God ons regverdig verklaar, iets wat Hy die oomblik wat ons die Evangelie geglo het, gedoen het, dan is daar niemand in die hele skepping wat ons kan veroordeel nie. Weereens beteken die woord niemand net dit, niemand, en dit sluit almal uit, insluitende die gelowige self. Omrede Jesus Christus se dood alle sondes van die gelowige dek, is daar geen sonde wat nie deur Christus betaal is nie en kan daar ook geen veroordeling vir die gelowige wees nie. Indien dit beweer word (wat wel in sekere sirkels die geval is) dat ‘n sekere sonde die gelowige se verlossing ongedaan kan maak, beweer so ‘n persoon dat daar ‘n sonde was, wat nie deur Jesus se soendood betaal is nie, en kan dit as ‘n aanval op die algenoegsaamheid van Jesus Christus se soendood aan die kruis beskou word! So ‘n persoon beweer dus op ‘n indirekte (of dalk direkte ) wyse dat God se meesterplan onvoldoende is en kom dit weereens op niks anders as Godslastering neer nie. Indien ons sou beweer dat die gelowige verlore kan gaan, beweer ons ook dan indirek, dat Jesus se kruisdood nie genoegsaam vir verlossing was nie, en plaas dit die mens se verlossing weer terug op die werke van die mens self. Om so iets te verkondig, is niks anders om weer ‘n werke evangelie, wat in botsing met die ware Evangelie is, te verkondig.  Vir iemand om te dink dat hy God, in Sy plan om ons te verlos, kan help verwerp indirek God se verlossing en dus die Evangelie. Ons moet mooi verstaan, dat indien die gelowige geestelik misluk, so ‘n daad nie God se krag, verlossing en beloftes ongedaan kan maak nie!

Om hierdie feit beter te kan verstaan, moet ons eerstens die dinamiese kompleksiteit van God se plan vir die mens beter verstaan. Die oomblik wanneer ‘n persoon geloof alleen, in Christus, alleen plaas, word Jesus Christus se geregtigheid aan die gelowige toegereken. God die Vader sien dan die gelowige in Christus, en in Sy (Jesus Christus) se geregtigheid, en op grond van hierdie feit, verklaar die Vader die gelowige as geregverdig, asof die gelowige nooit gesondig het nie. (wedergeboorte is ‘n eenmalige gebeurtenis in tyd en kan nie weer herhaal word nie. Dit vind ook nie oor ‘n tydperk plaas nie, maar vind onmiddelik op die oomblik van geloof in Christus plaas) Onthou die gelowige word op grond van Jesus Christus se toegerekende geregtigheid geregverdig verklaar en nie a.g.v sy eie geregtigheid nie, en daarom kan die gelowige ook nie verlore gaan nie, want sy verlossing is nie op sy eie geregtigheid gebaseer nie, maar op die toegerekende geregtigheid van Jesus Christus. Die gelowige se eie geregtigheid is glad nie hier ter sprake nie, maar wel die geregtigheid van Jesus Christus, wat self God is. Dus word die gelowige op grond van Jesus Christus se perfekte geregtigheid geregverdig verklaar. Omrede God die gelowige , op grond van Jesus Christus se toegerekende geregtigheid, as geregverdig beskou en verklaar, kan die gelowige nie later as ongeregverdig beskou word nie, want dan sou God ‘n fout begaan het om so ‘n persoon geregverdig te verklaar, wanneer dit nie werklik die geval was nie. Dit sou ook dan beteken dat Jesus Christus se toegerekende geregtigheid nie genoegsaam vir die gelowige was nie. Iets wat nie kan gebeur nie, want Jesus Christus, as God, beskik oor niks minder as volkome Godlike geregtigheid nie. Omrede Jesus Christus se geregtigheid nooit van die gelowige weggeneem word nie, kan die gelowige ook nooit verlore gaan nie. God neem nooit ‘n geskenk wat Hy aan iemand gee terug nie, want God is onveranderlik. Onthou Jesus Christus (God) se toegerekende geregtigheid is die enigste wyse waarop God die Vader, wat absoluut geregtig is, iemand as geregtig kan verklaar. Om deur God geregverdig verklaar te word is om in ‘n verhouding met God te staan, wat op God se integriteit gebaseer is en nie op die integriteit van die mens nie.

Verder moet ons ook mooi verstaan, dat die oomblik met wedergeboorte, wanneer iemand geloof in Jesus Christus alleen plaas, daardie persoon se gees wedergebore word en word God se eie ewige lewe aan die gelowige gegee.
Joh 14:6 “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.
4:14 maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.
6:47 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo, het die ewige lewe.”
Onthou ‘n geskenk is ‘n geskenk, en hierdie geskenk of gawe is gebaseer op God se woord en beloftes, en nie op die mens se woord of getrouheid nie! God sal nie die ewige lewe van ‘n persoon onttrek nie, want dan sal Hy die ewige lewe, wat Hy aan die gelowige gegee het, moet vernietig! Iets wat God nie sal doen nie, want dan was daardie lewe nooit die ewige lewe nie. God kan nie op Sy eie woord teruggaan nie en daarom kan ‘n gelowige nooit sy verlossing verloor nie. Die oomblik wanneer ‘n persoon die Evangelie glo, HET daardie persoon die ewige lewe as huidige besitting, en kom hy nie in die oordeel nie! Om iets anders as Jesus Christus se eie woorde in hierdie teksgedeelte te verkondig, of in te voeg, is om van Hom ‘n leuenaar te wil maak.
Joh 5:24 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe (Fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.” (Wat fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking waarborg!)

Uit die aard van God se karakter alleen, kan ons verseker weet dat God altyd Sy beloftes sal nakom. Omdat God ‘n ewige bestaan het; oneindig is; en boonop onveranderlik is en oor volmaakte geregtigheid beskik, kan die gelowige verseker weet dat God nooit die ewige lewe, wat Hy met wedergeboorte aan die gelowige gegee het, sal kanselleer of terugneem nie. Dit maak die saak hoe erg die sondaar dalk mag sondig nie. (die gelowige sal baie ernstig gestraf word, maar hy sal nooit verlore kan gaan nie!) Onthou, Jesus Christus het vir elke sonde (verlede, hede en toekomstige sonde) van die gelowige aan die kruis betaal, en dus is daar geen sonde wat nie voor versoening gedoen is nie en daarom kan die gelowige nie verlore gaan nie!!
2Ti 2:11 “Dit is ‘n betroubare woord; want as ons met Hom gesterf het,(en ons het, die leerstelling van posisionele waarheid. Weergeboorte, fase een van ons verlossing) sal ons ook met Hom lewe. (Die absolute sekerheid van die ewige lewe)
2:12 As ons verdra,(deur om te lei vir toekomstige seëninge) sal ons met Hom regeer. (as volwasse gelowiges in die duisendjarige vrederyk van Christus) As ons Hom verloën,(as ons in ons geestelike lewens en getrouheid aan Hom misluk) sal Hy ons ook verloën. (as ons voor die Regterstoel Oordeel van Christus verskyn, waar ons beloon sal word vir getroue diens of loon sal verloor, maar nog steeds gered bly. 2 Kor 5:10; 1 Kor 3:14-15. Dit sluit verder leierskap posisies in die Vrederyk van Christus in! Lees asb die artikels “die gelykenis van die ponde” asook “Gelowiges se werke gaan beoordeel word” )
2:13 As ons ontrou is, Hy bly getrou; (Hy red ons nog steeds) Hy kan Homself nie verloën nie.” (Omrede Hy is Wie Hy is!!)

2Ko 1:22 “wat ons ook verseël het en die Gees as onderpand in ons harte gegee het.
Efs 1:13 in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,
4:30 En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.”
Opmerking: Mense wat verkondig dat die gelowige verlore kan gaan, kan nie een teksvers aanhaal wat bewys dat die gelowige deur God onverseël word nie, nie een nie! Want daar is nie so teksgedeelte nie! Indien ‘n gelowige verlore sou kon gaan, dan sou ons verwag dat God dit baie duidelik in Sy woord oor so ‘n moontlikheid sou gewaarsku het. Die Bybel stel egter die teenoorgestelde feite baie duidelik. Ons met baie mooi verstaan, dat die Heilige Gees die seël is wat ons verlossing waarborg! Efs 4:30 stel dit baie duidelik, dat die Heilige Gees die gelowige verseël en nie net tydelik soos in die Ou-Testament die geval was nie, maar tot die dag van verlossing toe, wanneer die Here Jesus Christus ons kom haal. (met die wegraping of ons afsterwe) Die Heilige Gees wat ook God is, is dus ons waarborg dat ons nooit verlore kan gaan nie! Efesiërs 2:8-9 stel hierdie waarheid baie duidelik.
Efs 2:8 “Want uit genade is julle gered,(verlede taal, fase een van verlossing wat slegs eenkeer plaasvind met wedergeboorte) deur die geloof, (die oomblik wanneer die gelowige die Evangelie glo) en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;(ons verlossing is ‘n gawe van God.) 2:9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.” (Ons verlossing word nie deur ons werke bekom nie, of onderhou nie, want dan sou dit nie meer ‘n gawe wees nie, maar loon wat ons verdien. (en waarvoor die here in Sy geregtigheid verplig sou wees om ons te vergoed) Slegs God, op grond van Sy genade en liefde, is die gewer van die geskenk van die ewige lewe. (Lees gerus die artikel “Wat is die Ewige Lewe” Dus het ons geen aandeel in ons verlossing nie, en omdat ons die ewige lewe nie kan verdien nie, en ook geen aandeel daarin het nie, kan ons dit ook nie verloor nie. Ons het dus niks gedoen om die ewige lewe te verdien of te verkry nie, behalwe om die Evangelie te glo, en daarom kan ons ook niks doen om die ewige lewe te verloor nie. God is die gewer en onderhouer van die gelowige se verlossing, want dit is ‘n onherroeplike gawe van God!)

1Ko 12:13 “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.
Efs 4:5 een Here, een geloof een doop,”
Opmerking: Nog ‘n verdere rede hoekom die gelowige nie verlore kan gaan nie, is feit dat die Heilige Gees die gelowige in Jesus Christus indoop, waarna die gelowige homself in Christus bevind. Dus word die gelowige met Christus in Sy dood, begrafnis, opstanding en hemelvaart verenig, waar Jesus Christus ook deur die Vader ontvang is en waar Jesus Christus aan die regter hand van God die Vader sit.
Rom 6:3 “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?”

En omdat ons deur die Heilige Gees in Christus ingedoop is, is ons ook posisioneel in Christus waar Hy in die hemel aan die regter hand van God die Vader sit!!
Efs 2:4 “Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, 2:5 ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus—uit genade is julle gered— 2:6 en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus, 2:7 sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in Christus Jesus.” 
Omrede ons in Christus ingedoop is, kan niemand ons uit Christus haal nie, net soos wat Jesus Christus dit duidelik in Joh 10:28-30 stel!
Joh 10:28 “En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.
10:29 My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.
10:30 Ek en die Vader is een.”
En daarom kan niks ons, van die liefde wat daar in Jesus Christus is, skei nie.
Rom 8:38 “Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge 8:39 of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.”

Omdat absoluut niks ons van God se liefde in Christus kan skei nie, is die gelowige verseker dat hy nooit verlore kan gaan nie. Omdat ons in die Seun geplaas is, en dus die Seun as Verlosser ontvang het , het ons God se woord as waarborg dat ons die ewige lewe as huidige besitting het, en daarom moet ons nie op ons gevoelens gaan nie, maar op die onveranderlike beloftes in God se woord self.
1Jo 5:11 “En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun. 5:12 Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.5:13 Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God.”  (Dit is deel van jou geboortereg in Christus om met absolute sekerheid te weet dat jy die ewige lewe het en dit nooit sal kan verbeur nie! Lees asb die artikel “Voorbeelde van die gelowige se seëninge en rykdom in Christus” asook “Wie is die Here Jesus Christus vir die gelowige?”)
Die verlossings boodskap in die Bybel is in werklikheid ‘n baie groot en omvangryke waarheid. Selfs die naam “Jesus” beteken “Verlossing” Die Naam van Jesus Christus sluit baie van die belangrikste doktrines of leerstellings in die Bybel in, insluitende die leerstelling van versoening (Levitikus 17:11; 1Joh 2:2)); die leerstelling van substitusie (Jes 53:5); die leerstelling van toerekening (Rom 4:6-8); die leerstelling van verlossing (1Pet 1:18-20); die leerstelling van vergifnis (Hnd 10:43); die leerstelling van regverdiging (Rom 3:28) die leerstelling van aanneming (Efs 1:5); die leerstelling van rekonsiliasie (Rom 5:10-11); die leerstelling van wedergeboorte (Titus 3:5); die leerstelling van heiligmaking (Rom 6:22) en laastens die leerstelling van verheerliking in. (Rom 8:30) Al hierdie leerstellings fokus op Jesus Christus en Sy getrouheid en nie op die mens en sy onbetroubaarheid nie!

Efs 5:30 “Want ons is lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene.
5:31 Daarom moet die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef en hulle twee sal een vlees word. 5:32 Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente.”
Opmerking: Boonop dit alles, is ons nie net in God se hande vir ewig nie, maar ons is ook deel van Sy liggaam! Alle gelowiges is deel van Jesus Christus (Wie God is) se liggaam, omrede hulle met wedergeboorte  deur die Heilige Gees, in Christus ingedoop is! Dus is ons in Christus en is een met Hom en is dus Sy liggaam.
Joh 17:21 “dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. 17:22 En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is. 17:23 Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het.”
Omdat ons met wedergeboorte, in Christus ingedoop is, en Christus by ons kom inwoon het, word ons een met Hom, en die Vader, en hierdie eenheid sal nooit deur enigiemand verbreek kan word nie. Dit sluit die gelowige in! Indien iemand dink dat hy homself uit hierdie eenheid kan sondig of losruk, moet die vraag gevra word, naamlik hoe? Want, al die gelowige se sondes is deur Christus op die kruis betaal, anders sou die gelowige nooit in Christus se liggaam ingedoop kon geword het nie. Om een met God te wees, vereis dat die persoon oor volkome Goddelike geregtigheid moet beskik, en dit het ons bekom deurdat Jesus Christus se geregtigheid aan ons toegereken is, deur slegs geloof in die Evangelie en niks anders nie! Daar is egter sekere dinge wat die gelowige kan verloor, naamlik gemeenskap, genootskap, dissipelskap, genade loon en ‘n vriendskapsverhouding met God, om maar net ‘n paar te noem. Wat ‘n tragedie is dit nie wanneer so iets gebeur of wanneer mense die intieme gemeenskap en vriendskap met God a.g.v. wêreldsgesindheid en sonde prysgee! Die gelowige bly egter gered en deel van Jesus Christus se liggaam op grond van God se beloftes en getrouheid! (nie die mens sin nie)

Joh 17:11 “En Ek is nie meer in die wêreld nie, maar hulle is in die wêreld; en Ek kom na U toe. Heilige Vader, bewaar in u Naam die wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees net soos Ons. 17:12 Toe Ek saam met hulle in die wêreld was, het Ek hulle in u Naam bewaar. Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif vervul sou word. 17:13 Maar nou kom Ek na U toe; en Ek spreek hierdie dinge in die wêreld, sodat hulle my blydskap volkome in hulle kan hê.
17:14 Ek het hulle u woord gegee, en die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. 17:15 Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar. 17:16 Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.”
Opmerking: Die Here Jesus Christus bid ook altyd vir ons by die Vader. Omdat Jesus Christus aan al die vereistes vir beantwoorde gebed voldoen, en die Vader altyd om hierdie rede Sy gebede beantwoord, kan die gelowige verseker weet dat Jesus vir hom sal intree as hy struikel, of geestelik misluk, net soos wat Hy vir Petrus gedoen het, toe Petrus, Jesus Christus verloën het. En daarom kan die gelowige verseker weet dat hy nie verlore sal kan gaan nie!
Luk 22:32 “Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk.”
Die gelowige kan dus met absolute sekerheid weet dat hy nie verlore kan gaan nie, nie omdat die gelowige self getrou is nie, maar omdat God getrou is en nie sal toelaat dat Sy kinders verlore gaan nie.
Rom 8:34 “Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.”
En omdat ons posisioneel in Jesus Christus is, en deelgenote van Sy toegerekende geregtigheid geword het, kan ons verseker weet dat God die Vader, wat ons verlossing geïnisieer het, ook sal seker maak dat ons nie verlore gaan nie. God werp nie Sy eie kinders weg nie, dit maak nie saak hoe erg hulle mag struikel nie!! Om te beweer dat God Sy kinders vir enige rede sal verwerp, is in my beskeie mening Godslastering!

Ter Afsluiting: Ons moet nie die vereistes van dissipelskap met die  die Evangelie verwar of meng nie, anders skep ons ‘n werke evangelie wat nie hoorders daarvan sal red nie. Die ewige lewe is ‘n geskenk, wat slegs deur geloof ontvang moet word! Hierdie geskenk het God alles gekos en ons niks gekos nie. (Daarom is dit ‘n vrye gawe of geskenk) Om dissipels van Jesus Christus te wil wees, sal ons egter alles kos, en dit sal van ons vereis om onsself te verloën en ons kruis op te neem en Jesus te volg.
Luk 14:26 “As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie. 14:27 En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie. 14:33 So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie.” (Lees gerus die artikel  “Onderskeid tussen ‘n gelowige en ‘n dissipel“asook “Onderskeid tussen Wedergeboorte en loon vir goeie werke“)

‘n Persoon kan byvoorbeeld, soos Judas Iskáriot, ‘n dissipel van Christus wees, maar heeltemal ongered wees, en so ook kan iemand wat gered is, en wat die ewige lewe as ewige besitting ontvang het, terselfdertyd ook nie ‘n dissipel van Christus wees nie. Indien ‘n persoon dood eenvoudig die Evangelie geglo het, kan daardie persoon verseker weet dat hy die ewige lewe het. Hy het God se woord daarvoor!
Joh 3:16 “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Joh 3:36 Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.
Rom 4:5 aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.”
En laastens!
Hnd 16:30 “En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word? 16:31 Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”

Let Wel: Alhoewel dissipelskap nie ‘n vereiste vir wedergeboorte is nie, moet ons egter besef, dat om nie ‘n toegewyde dissipel van Christus te wees nie, egter verreikende gevolge in hierdie lewe en veral die hiernamaals sal hê, en sal die gelowige groot verlies lei. Hy sal egter nie die ewige lewe kan verloor nie. God bly getrou!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.