Genesing

Genesing ‘n Skriftuurlike Perspektief

As dit by die bestudering van die onderwerp van genesing in die Bybel kom, is dit baie belangrik om te besef, dat alle siektes wat ons huidiglik in die wêreld beleef, in ‘n algemene sin, die gevolge van sonde is. As sonde nie deur die ongehoorsaamheid van die mens in die tuin van Eden toegelaat was nie, sou daar geen siektes, lyding of fisiese dood in die wêreld gewees het nie. Dit is baie belangrik om hierdie feit ingedagte te hou indien ons om onsself rondkyk en al die swaarkry en lyding om ons waarneem. Dood en lyding is die gevolg van sonde, en dit behoort ons te herinner dat alle sonde rebellie teen God is en dat sonde gevolge het. Die leser word ten sterkste aangeraai om ook die artikel “Het die Kerk dieselfde Mag en Outoriteit as wat die Apostels gehad het om te Genees?” te lees.

Soms is siekte nie die gevolg van ‘n spesifieke sonde in ‘n persoon se lewe nie:
Siekte dien egter nie altyd as bewys, dat daardie spesifieke siekte die direkte oorsaak van ‘n spesifieke sonde in daardie persoon se lewe is nie. Soms is ‘n persoon siek en is daardie siekte nie die gevolg van ‘n spesifieke sonde in die persoon se lewe nie. Lees maar watse lyding Job alles moes deurgaan, en dit alles ten spyte van die feit dat God hom as die mees regverdige man op aarde bestempel het.
Job 1:8 “En die HERE vra vir die Satan: Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: ‘n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad.”
In Fil 2:30 sien ons dat Epafrodítus siek en naby die dood was, juis omdat hy so toegewyd sy diens aan God en God se gemeente uitgevoer het.
Fil 2:30 “Want ter wille van die werk van Christus het hy tot naby die dood gekom en sy lewe gewaag om aan te vul wat julle kortgekom het in die diensbetoning aan my.”
So ook was Gajus se geestelike lewe gesond, en dit ten spyte van die feit dat dit blykbaar liggaamlik nie so goed met hom gegaan het nie.
3Jo 1:2 “Geliefde, ek wens dat dit met jou in alles goed mag gaan en dat jy gesond is, soos dit met jou siel goed gaan;”
Die Here Jesus Christus self het ook bevestig dat ‘n siekte nie noodwendig deur ‘n spesifieke sonde in ‘n persoon se lewe veroorsaak is nie.
Joh 9:1 “En toe Hy verbygaan, sien Hy ‘n man wat blind was van sy geboorte af. 9:2 En sy dissipels vra Hom en sê: Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is 9:3 Jesus antwoord: Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word.” (Let wel: Die Here Jesus Christus beweer glad nie, dat die blinde man in ‘n absolute sin sondeloos is nie. Hy stel dit net duidelik, dat die blindheid van die man nie deur ‘n spesifieke sonde van sy kant of van sy ouers se kant af veroorsaak is nie.)

Sonde wel soms die direkte oorsaak van siekte:
Aan die ander kant, stel die Bybel dit ook baie duidelik, dat siekte en selfs die dood soms wel die gevolg van ‘n spesifieke sonde in ‘n persoon se lewe mag wees. 1Kor 11:17-34 gee aan ons ‘n mooi voorbeeld van gelowiges wat siek, en sommige selfs gesterf het, omrede hulle nie die armes by die liefdesmaal (wat die nagmaal ingesluit het) in ag geneem het nie. Sommige gelowiges het selfs dronk geword, en dit terwyl sommige arm gelowiges nie eers genoeg gehad het om te eet nie. Op hierdie wyse het die gelowiges wat genoeg gehad het, die gelowiges wat arm was beskaamd gemaak, en wat iemand aan ‘n gelowige doen, doen hy aan Christus. Op hierdie wyse het sommige gelowiges God se oordeel oor hulleself gebring en het God hulle siek gemaak en selfs sommiges laat sterf.
Ek gaan slegs 1Kor 11:29-33 aanhaal. Die leser word aangeraai om die hele gedeelte mooi deur te lees en om daaroor na te dink.
1Ko 11:29 “Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ‘n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam (die Kerk wat uit alle gelowiges bestaan)van die Here nie onderskei nie. 11:30 Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap. (gesterwe) 11:31 Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie. 11:32 Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie. 11:33 Daarom, my broeders, as julle saamkom om te eet, wag vir mekaar;”

Bostaande teksgedeelte dien as ernstige waarskuwing aan gelowiges wat glo, dat omrede Jesus Christus al hulle sondes aan die kruis betaal het, hulle maar kan sondig soos wat hulle wil, en dat daar geen gevolge sal wees nie. Hulle mislei hulleself ongelukkig en hulle kan verseker wees dat hulle optrede gevolge sal hê, maak nie saak hoe lank dit mag neem nie. Om hierdie rede is ek vas oortuig daarvan, dat baie van die probleme wat ons tans in ons eie land, samelewing en in die wêreld ondervind, die direkte gevolg van ons eie sondes en wêreldsgesindheid is. Ek is ook van mening dat God aan ‘n nasie die leierskap gee wat daardie nasie verdien. Dit is iets om mooi oor na te dink! As ‘n nasie goddeloosheid bedryf en wêreldgesind is, dan sal God aan daardie nasie goddelose leiers gee. Hierdie sienswyse geld veral vir ‘n volk wat beweer dat hulle die Here dien, maar dit nie in werklikheid doen nie.

Siekte kan deur Satan veroorsaak word:
Siekte in ‘n persoon se lewe kan ook a.g.v. die Satan se werking in daardie persoon se lewe wees. In Lukas lees ons van ‘n vrou wat agtien jaar lank deur Satan gebind was en wat nie regop kon loop nie.
Luk 13:11 “En daar was ‘n vrou wat ‘n gees van krankheid agttien jaar lank gehad het, en sy was inmekaargetrek en glad nie in staat om regop te kom nie. 13:12 En toe Jesus haar sien, roep Hy haar en sê: Vrou, jy is van jou krankheid verlos. 13:13 En Hy het haar die hande opgelê, en onmiddellik het sy regop gestaan en God verheerlik. 13:14 Maar die owerste van die sinagoge, wat verontwaardig was dat Jesus op die sabbat genees het, antwoord en sê vir die skare: Daar is ses dae waarop ‘n mens behoort te werk; kom dan op dié dae en laat julle genees en nie op die sabbatdag nie. 13:15 Toe antwoord die Here hom en sê: Jou geveinsde, maak elkeen van julle nie op die sabbat sy os of esel van die krip los en lei hom weg om hom te laat drink nie? 13:16 Maar hierdie vrou wat ‘n dogter van Abraham is, wat die Satan—dink daaraan! —agttien jaar lank gebind het, moes sy nie van hierdie band op die sabbatdag verlos word nie?”
So vind ons dat Paulus ook deur Satan geteister was.
2Ko 12:7 “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie.”
Dit is opmerklik dat daar deesdae so baie mense beweer dat hulle hemel toe en terug was, maar ek vind dit vreemd dat die Here nie toelaat dat Satan hulle ‘n doring in die vlees gee om hulle nederig te hou nie. So ook is die regverdige Job deur Satan se werking met swere oor sy hele liggaam getref.
Job 2:7 “En die Satan het weggegaan van die aangesig van die HERE, en hy het Job met bose swere getref, van sy voetsool tot sy skedel.”
Daar moet egter gelet word, dat Satan slegs die gelowige met siekte kan tref, as hy deur God toestemming daarvoor gegee is. Ons moet egter besef dat indien God vir Satan toestemming gee om ‘n gelowige met ‘n siekte te tref, God altyd ‘n rede daarvoor het, al besef ons nie altyd wat die rede is nie. In baie gevalle kan sonde, in die gelowige se lewe, die oorsaak wees waarom die Here die Satan toelaat om ‘n gelowige siek te maak. Ek dink nou aan die geval van die man in die gemeente van Korinthe wat egbreuk met sy stiefma gepleeg het.
1Ko 5:3 “Want wat my betref, het ek, liggaamlik afwesig maar in die gees teenwoordig, alreeds besluit asof ek teenwoordig was, om hom wat so iets gedoen het, 5:4 in die Naam van onse Here Jesus Christus, as julle vergader het en my gees saam met die krag van onse Here Jesus Christus—
5:5 om so iemand aan die Satan oor te lewer tot verderf van die vlees, sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus.”

God kan en genees wel.
Die Here stel Homself nie verniet as die God wat gesond maak voor nie!
Eks 15:26 “en gesê: As jy getrou na die stem van die HERE jou God luister en doen wat reg is in sy oë, en luister na sy gebooie en al sy insettinge hou, dan sal Ek geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Egipteland gelê het nie; want Ek is die HERE wat jou gesond maak.”
Daarom is dit ook belangrik om in alle gevalle waar genesing, op watse wyse ook al, plaasgevind het, God daarvoor te dank en Hom al die eer vir die genesing te gee.

Die Bybel stel dit duidelik, dat God wel soms op bonatuurlike wyses genees. Die Ou Testament sowel as die Nuwe Testament bevat genoeg getuienis hiervan. Alhoewel ek oortuig is dat die genadegawe van genesing met die afsluit van die Apostoliese tydperk opgehou het om te funksioneer, moet ons egter besef dat God soewerein is en kan Hy dus nog steeds ‘n persoon op bonatuurlike wyse genees, indien dit Sy wil is. (Indien dit die Here se wil is, sal ek later ‘n artikel skryf waarin ek Skriftuurlike redes sal gee waarom ek glo dat die genade gawe van genesing nie vir die post-apostoliese kerk bedoel is nie.) In die boek “To Russia with Love” wat deur Dave Hunt geskryf is, dokumenteer hy hoe God ‘n man, met die naam van Hans Kristian, op bonatuurlike wyse van die gevolge van ‘n beroerte skielik genees het. As gevolg van die beroerte wat Hans Kristian beleef het, het die spesialiste wat hom behandel het, hom op die staat se mediese ongeskiktheid fonds geplaas. Nadat God vir Hans egter genees het, wou hy homself van die ongeskiktheid vonds laat verwyder, maar om dit te kon doen moes die spesialiste erken het dat daar ‘n wonderwerk plaasgevind het, iets wat hulle nie geredelik wou erken nie, omdat hulle nie in Christus geglo het nie. Ek stel voor dat die leser self die boek in die hande kry en lees. Ek wil egter net noem, dat in Hans Kristian se geval, daar geen bemiddeling van ‘n sogenaamde geloof geneesheer was nie en het God dood eenvoudig vir Hans op ‘n soewereine bonatuurlike wyse genees.

Dit sou dus verkeerd wees om te verkondig, dat God nie huidiglik op ‘n bonatuurlike wyse genees nie. Aan die ander kant van die saak, is dit egter verkeerd om te beweer, dat God huidiglik gereeld op bonatuurlike wyses genees, en dat bonatuurlike genesings alledaagse verskynsels is, soos wat baie mense ook dan valslik verkondig. (Die leser word aangeraai om die artikel “Salwing (Anointing)” te lees, om die misbruike rondom hierdie onderwerp te leer.) Daar is geen rede waarom ons as gelowiges nie mag glo dat God ons wel vandag op ‘n bonatuurlike wyse kan genees nie, maar ons moet besef dat genesing slegs sal plaasvind , indien dit God wil is. Manipulatiewe aangeleerde tegnieke is nie bonatuurlike genesing nie, maar leuens en doen God ‘n oneer aan!

Anders as wat soms verkondig word, is dit ook egter ‘n Skriftuurlike feit, dat dit nie altyd God se wil is om ‘n persoon te genees nie. Soms word teksgedeeltes, wat aan ‘n spesifieke persoon of groep gerig is, aangehaal en dit dan as ‘n reël op alle gelowiges van alle tye van toepassing gemaak, wat dan kwansuis as bewys dien dat dit God se wil is om in alle gevalle te genees. Die Skrifte teken egter ‘n heel ander prentjie. In 2Kor 12:7-10 sien ons, dat dit nie God se wil was om die apostel Paulus van die doring in sy vlees te genees nie.
2Ko 12:7 “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie. 12:8 Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk. 12:9 En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. 12:10 Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk.”
Boonop het Paulus, wat ons bo enige twyfel weet oor die gawe van genesing beskik het, vir Trófimus siek in Miléte agtergelaat.
2Ti 4:20 “Erástus het in Korinthe gebly. Trófimus het ek siek in Miléte agtergelaat.”
Dit was duidelik nie God se wil gewees, om Trófimus op daardie stadium op bonatuurlike wyse te genees nie. En moenie van die Korinthiërs vergeet, wat gesondig het, en wat self deur God siek gemaak is en waar sommiges selfs van daardie siektes gesterf het. Dit was nie God se wil om hulle te genees, alvorens hulle tot bekering gekom het nie. Baie van hulle het egter nie tot bekering gekom nie en daarom het God toegelaat dat hulle sterf.
1Ko 11:30 “Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap.” (Gesterwe)
Indien dit altyd God se wil is om te genees, soos wat sommige mense verkeerdelik verkondig, dan sou daar mos baie mense gewees het wat nooit tot sterwe sou kom nie. Indien die wegraping nie in ons leeftyd plaasvind nie, is dit egter ‘n feit dat ons almal tot sterwe sal kom. Dit sluit die tel-evangeliste, wat kwansuis ander deur gebed kan genees, maar wat self die dokters en spesialiste moet gaan sien as hulle siek word, in. Ek dink nou in die onlangse geval van Rod Parsley, wat kwansuis mense deur gebed kan genees, maar hyself het spesialiste gaan sien toe hy keelkanker opgedoen het. Dit blyk boonop dat nie een van sy vriende, wat kwansuis die gawe van genesing het, hom gesond kan maak nie. Inteendeel ek weet nie eers of hy na hulle of na enige van hulle sogenaamde genesing dienste vir gebed om genesing gegaan het nie. Weet hy dalk iets wat ons nie weet nie? Ek dink hy besef, dat indien hy werklik na sy rekord van genesing gaan kyk, hy agter sal kom dat hy ‘n baie groter kans het om deur konvensionele medisyne genees te word, as deur sy leuen dat hy die gawe van genesing het. Hoekom besoek hy nie sy vriende soos Benny Hinn, Kenneth Copeland, Rodney Howard-Browne, Fred Price en te veel ander om te noem, nie. Besef hy dalk dat hulle bewerings van genesings net so vals is as syne is? Dieselfde geld vir die sogenaamde profeet Van Rensburg van Spirit Word Ministeries hier in Suid Afrika. Onthou God is waarheid. Indien ons nie die waarheid doen nie, dan dien ons Hom nie. Bybelse geloof moet op die waarheid, soos wat dit in God se woord opgeteken staan, gebaseer wees, anders is dit niks anders as ‘n delusie nie. Ongelukkig is baie gelowiges die slagoffers van ‘n delusie en word hulle, deur gewetenlose mense, van hulle geld beroof en ernstig mislei!

Genesing in die versoeningswerk (Atonement) van Christus:
Maar is genesing dan nie in die versoeningswerk (Atonement) van Christus aan die kruis vir ons bewerkstellig nie. Ja, genesing is in die versoeningswerk bekom, maar die Bybel stel dit egter baie duidelik, dat nie al die seëninge en voordele, van Christus se versoeningswerk aan die kruis, nou al deur gelowiges ontvang is nie. Dit behoort baie duidelik te wees, dat ons verheerlikte liggame een van die seëninge is, wat Christus met Sy soendood vir ons bekom het, maar dit is ook egter baie duidelik, dat gelowiges, nie alreeds met hulle verheerlikte liggame oorklee is nie. Ons sal eers met ons verheerlikte liggame oorklee word tydens die eerste opstanding. (fase drie van ons verlossing, die verheerliking fase. (Lees asb die artikel “Drie fases van verlossing” vir meer inligting oor die fases van ons verlossing.) Dus is nie alle seëninge, wat Christus aan die kruis bewerkstellig het, al aan ons gegee nie, en sal God dit slegs op Sy tyd wel verseker aan ons gee. Rom 8:23 illustreer hierdie feit baie mooi.
Rom 8:23 “En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam. (Fase drie van ons verlossing nl. Die verheerliking fase) 8:24 Want ons is gered (Verlede tydvorm. Fase een van ons verlossing nl. wedergeboorte) in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog? 8:25 Maar as ons hoop wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding.” (Toekomstige tydvorm, fase drie nl. verheerliking fase)
Dus behoort dit duidelik te wees, dat sommige van die seëninge wat in Christus se versoeningswerk bewerkstellig is, ook in verskillende fases ontvang sal word, net soos wat ons verlossing in fases geskied. Ons moet daarteen waak om seëninge wat eers met fase drie (Verheerliking Fase) aan ons gegee sal word, nou al as ons reg op te wil opeis, of om te verkondig dat ons dit nou al kan opeis. Ons sal slegs met die ontvang van ons verheerlikte liggame volkome verlos van siektes wees, en nie voor die tyd nie.

Genesing nie in die Kerk dispensasie gewaarborg nie:
Ons moet besef dat God op geen stadium, gedurende die Kerk dispensasie, aan gelowiges die belofte gegee het, dat Hy altyd, in alle gevalle sal genees nie. Genesing is dus nie iets, wat ons van God in hierdie dispensasie of gedurende fase twee (heiligmaking fase) van ons verlossing, as ons reg kan opeis nie. (Ek vra om verskoning, omrede ek hierdie feit hier herhaal, maar dit is van uiterste belang om hierdie feit ter harte te neem en te verstaan, anders gaan dit tot baie frustrasie en dwaling in ons geloofslewe lei.) Enige ware geval van genesing moet dus as ‘n genadige toegewing, as van God afkomstig, bestempel word en moet ons Hom daarvoor dank. God is egter geensins verplig om ons in hierdie dispensasie te genees nie.
Fil 2:27 “Want hy was ook siek tot by die dood; maar God was hom barmhartig, en nie hom alleen nie, maar ook my, dat ek nie droefheid op droefheid sou hê nie.”
Mense wat Jesus Christus se Naam gebruik, om siektes te beveel om ‘n persoon te verlaat, of wat bevele tot hierdie effek uitspreek (decree and declare) is arrogant, en dwaal oor die ware Skriftuurlike feite, soos wat dit in die Bybel opgeteken staan. Ons moet in nederigheid, en in vertroue op God ons versoeke aan Hom rig, met die wete dat Sy wil altyd die beste vir ons is, al stem ons nie daarmee saam nie.
Luk 11:2 “En Hy sê vir hulle: Wanneer julle bid, sê: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;”
Fil 4:6 “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.”

Waar ‘n gelowige in ons gemeente siek is, moet ons die ouderlinge roep, nie die een of ander geloof geneesheer nie, en in geloof ons gebed aan God rig, nie verklaar of die siekte beveel om die persoon te verlaat nie. Hoe kan ek ‘n siekte beveel om ‘n persoon te verlaat, indien dit juis God is wat daardie siekte in die eerste plek op die persoon geplaas het? Moet God nou my bevele in Sy Naam gehoorsaam? Ek dink nie so nie!
Jak 5:14 “Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid (Nie beveel en verklaar nie! [decree and declare])nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het. 5:15 En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word.” (Slegs indien dit God se wil is en nadat die siek persoon egter van sy sonde bekeer het.)
Dit is nogal opmerklik, dat baie mense wat huidiglik die amp van opsiener in die Kerk beklee, nie werklik volgens die voorskrifte soos wat ons dit in 1Tim 3:1-14 en Tit 1:6-11 vind, as ouderlinge kwalifiseer nie. Is dit nie dalk ‘n rede waarom daar nie meer bonatuurlike genesings  plaasvind nie? Word hierdie opdragte van Paulus nog enigsins nagevolg, as dit by die aanstelling van opsieners of ouderlinge kom? (Dit is maar net iets om oor na te dink.)

Die Toets vir beweerde genesing:
Om hierdie rede glo ek dat mense in die post-apostoliese tydperk (die tydperk waarin ons nou lewe) beweer dat hulle oor die gawe van genesing beskik, mislei of doelbewus nie die waarheid praat nie. Met hierdie stelling weet ek egter dat ek op baie mense se tone gaan trap, maar dit is baie maklik om my sienswyse te verdedig. Ek daag enige geloof geneesheer of persoon wat beweer dat hy die gawe van genesing het, om aan my slegs een gedokumenteerde geval te gee, waar hy ‘n totaal blinde persoon; of ‘n persoon wat heeltemal verlam is; of wat ledemate of organe kortkom genees het. Onthou dit moet nie net bewerings of hoorsê getuienis wees nie, maar gedokumenteerde feite wees, sodat ek dit self kan ondersoek. Dit is ook opmerklik, dat hierdie selfde uitdaging male sonder tal aan sogenaamde tel-evangeliste gemaak is, wat beweer dat hulle mense kan gesond bid, en nog nooit is daar een geval waar so ‘n beweerde genesing ‘n volledige ondersoek deurstaan het, en wat as bewys gedien het dat daar wel ‘n bonatuurlike genesing plaasgevind het nie. Ek vind hierdie stand van sake baie vreemd en so behoort alle gelowiges! As dieselfde standaard egter op Jesus Christus en Sy aangewese apostels se genesings toegepas word, dan sal hulle met gemak die toets deurstaan het. (Het die Here nie self baiekeer die geneesde persone na die priesters gestuur nie? Mense wat Hom juis gehaat het en wat enige valse genesing onmiddellik sou uitwys. Hulle kon egter geen aanklag van valse genesings teen Jesus Christus maak nie, want daar het waarlik wonderwerke plaasgevind en self die fariseërs, wat onwillige getuies was, moes dit erken. Hulle het Christus wel valslik beskuldig, dat Hy die wonderwerke in die krag van Satan gedoen het, want hulle het het bo enige twyfel geweet dat daar wonderwerke plaasgevind het.) Is daar nie iets ernstigs met vandag se selfaangestelde apostels en profete se bewerings verkeerd nie? (Die Leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Het die Kerk dieselfde Mag en Outoriteit as wat die Apostels gehad het om te Genees?“; “Valse Apostels vs Ware Apostels en Valse Profete vs Ware Profete” en die artikel “Salwing (Anointing)”vir meer inligting rondom hierdie aangeleentheid te lees.) Onthou ons geloof moet op Bybelse feite en waarheid gebaseer wees, anders is dit niks anders as ‘n delusie nie!

‘n Ander opsie is dat die leser self ‘n toets doen. Indien daar weer ‘n genesings diens in jou omgewing geadverteer word, gaan dan en versamel self gelowiges wat ledemate of organe kortkom en neem hulle na die diens en laat daar vir hulle gebid word. (Maak seker om mense te neem wat in genesing glo.) Kyk dan, na afloop van die genesings diens, hoeveel van hierdie mense se ledemate of vermiste organe weer terug gegroei het, of hoeveel parapleë weer volkome herstel is. Indien daar so ‘n wonderwerk plaasgevind het, behoort dit baie opmerklik te wees. Die eenvoudige feit van die saak is, dat mense wat beweer dat hulle die gawe van genesing het, nie werklik oor hierdie gawe beskik nie, anders sou ons hope sulke genesings gesien het en sou die koerante en tydskrifte daaroor gegons het. (selfs onwillige getuies sou moes erken dat bonatuurlike genesings wel plaas gevind het) Ons, as gelowiges, moet nie alles net goedsmoeds glo wat mense aan ons voorhou nie. Onthou die Here self het ons gewaarsku!
Mat 7:15 “Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.
Mat 7:22 Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? 7:23 En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”
Om genesings en leerstellings wat aan ons voorgehou is deeglik te ondersoek, alvorens ons dit glo, dien nie as bewys van gebrek aan geloof nie. Dit diens as gehoorsaamheid aan Christus. Indien ‘n bewering nie die waarheid is nie, dan is dit ‘n leun, en as dit ‘n leuen is dan is dit niks anders as ongeregtigheid nie. Indien ‘n persoon oor sy gawe om te genees lieg, oor watter ander dinge lieg hy ook dan nie?

Verskillende wyses waarop God genees:
Indien ons egter ‘n deeglike studie van die Bybel maak, sal ons opmerk dat God verskillende metodes gebruik om die mens te genees. God het in die menslike liggaam wonderbaarlike vermoëns van genesing geplaas, en daarom maak Hy soms gebruik van die prosesse wat Hy in die menslike liggaam ingebou het, om mense te genees, soos bv die menslike immuunstelsel. Dit is ‘n algemene feit dat die meeste kwale na ‘n goeie nagrus beter voel. Op ander geleenthede genees God mense deur die hande van gekwalifiseerde geneeshere en medisyne. Het die Here Jesus Christus nie self geleer dat ‘n siek persoon ‘ geneesheer nodig het nie?
Mat 9:12 “Maar toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is.”
So ook was Lukas die skrywer van die Evangelie volgens Lukas ook ‘n geneesheer. Die feit van die saak bly egter waar, dat God wel van geneeshere gebruik maak om mense te genees, en daarom is dit belangrik om altyd ons geneesheer en ander mense in die mediese beroep aan God in gebed op te dra, alvorens ons hulle besoek. Alle mense in die mediese beroepe behoort gereeld deel van ons gebede-lys uit te maak, want hulle het ook ons gebede nodig. Paré die befaamde chirurg het bv gesê: “Ek verbind die word, God genees die wond” Kyk maar watse wonderlike geneesmiddels God in die natuur geplaas het, sodat die mens dit kan ontdek en vir genesing kan aanwend. Dink maar hoeveel mense se lewens is a.g.v. die ontdekking van antibiotika gered. Ek vir een sou nie meer geleef het as dit nie vir die moderne geneesmiddels en bekwame geneeshere was nie. (Alles ‘n gawe van God.) Die apostel Paulus het ook dan vir sy getroue metgesel, Timotheus, aangeraai om van natuurlike geneesmiddels gebruik te maak.
1Ti 5:23 “Moenie langer water alleen drink nie, maar gebruik ‘n bietjie wyn ter wille van jou maag en jou herhaalde ongesteldhede.”

Ons moet ook versigtig wees, indien ons beweer dat ‘n gebrek aan geloof die rede is waarom iemand nie genees is nie. Hierdie is egter een van die verskonings wat baie ‘n geloof geneesheer gebruik, in gevalle waar die persone waarvoor hy gebid het nie genees is nie. Dit is egter belangrik om te onthou, dat God se wil, sonde en nie slegs geloof ‘n rol in iemand se genesing speel nie. Die Here Jesus Christus het geleer, dat indien ‘n persoon geloof so groot soos ‘n mosterdsaad het, hy ongelooflike wonderwerke sal kan doen. Ons moet besef dat mosterdsaadjies baie klein is. Die krag van ons geloof is nie in ons geloof self gesetel nie, maar in die voorwerp van ons geloof. In die geval van die gelowige is dit die Almagtige Skepper van die heelal. Daar is geen krag in geloof self nie. God wat die voorwerp van ons geloof is, het egter al die krag om die wonderwerk te bewerkstellig. Vir ‘n wonderwerk om egter plaas te vind, moet dit God se wil wees om daardie wonderwerk te laat plaasvind. Indien dit nie God se wil is, om ‘n wonderwerk te doen nie, kan ‘n persoon al die geloof in die wêreld besit, dit gaan geen verandering in die uitkoms van God se wil teweeg bring nie! Baie tel-evangeliste beweer dat ‘n gebrek aan geloof verhoed dat iemand genees is, en dit ten spyte van die feit dat hulle nie werklik oor die gawe van genesing beskik nie. Boonop laat die bewering dat die siek persoon, nie oor genoegsame geloof beskik het om genees te word nie, in baie gevalle die siek persoon in ‘n toestand van vrees verval, omrede die implikasie van so ‘n bewering verreikende gevolge in ‘n gelowige se lewe kan hê. Die vraag ontstaan dan, of die siek persoon oor genoegsame aanvanklike geloof beskik om wedergebore te word, indien hy nie oor genoegsame geloof beskik het om genees te word nie? En wat van geliefdes wat juis a.g.v. siekte gesterf het? Het hulle genoegsame geloof gehad om wedergebore te raak of is hulle in die hel a.g.v. te min geloof? Soos reeds in hierdie artikel duidelik gedemonstreer is, is daar verskeie faktore wat siekte in ‘n persoon se lewe kan veroorsaak, en al hierdie feite moet ingedagte gehou word as dit by die bestudering van die onderwerp van genesing kom. Dit is baie belangrik om al ons leerstellings in konteks van die hele Skrif te bestudeer, alvorens ons dit as bindend op ons lewens van toepassing wil maak.

Ter afsluiting: As dit by die Bybelse onderwerp van genesing kom, is daar ongelukkig baie verwarring. Boonop word die onderwerp van genesing ook ongelukkig, in baie gevalle, misbruik om mense te manipuleer en te verkul. Genesing het ‘n biljoen rand bedryf in groot gedeeltes van die Christendom geword, en baie oningeligte gelowiges is al uit hulle hard-verdiende geld verkul. Geld wat werklik vir die verspreiding van die Evangelie aangewend kon word, lê egter in die bankrekenings van selferkende biljoenêrs soos Kenneth Copeland en kié. Daarom is dit baie belangrik dat ons as gelowiges ‘n suiwer Skriftuurlike perspektief rondom hierdie sensitiewe onderwerp handhaaf. Ek hoop hierdie artikel help die leser om hierdie doel te bereik.

Seën Groete

Vic

 

Deel met ander asb.