Sleutelwoord se argiewe: die duiwel se aktiwiteite

Die duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref. Deel 5

Voordat ons met hierdie studie begin, word die leser ten sterkste aangeraai om eerstens die voorafgaande artikels oor die duiwel se aktiwiteite in hierdie reeks te lees, om sodoende ‘n volledige raamwerk waarin hierdie versoekinge van Christus in plaasgevind het te bekom.

Die versoeking om Homself van die tempel af te werp en deur die volk as hulle Messias aanvaar te word:
Luk 4:9 “Toe bring hy Hom na Jerusalem en stel Hom op die dak van die tempel en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself hiervandaan neer. 4:10 Want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U om U te bewaar, 4:11en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ‘n klip stamp nie.”
Opmerking: Met bogenoemde versoeking, versoek die duiwel die Here, deur om Hom so ver te kry om Sy Messiasskap, deur middel van ‘n skouspelagtige wonderteken aan die Jode te demonstreer en daardeur hulle erkenning van Hom as hulle beloofde Messias te bewerkstellig. Indien mens ingedagte hou dat die tempel op plekke tussen 121 meter en 182 meter hoog kon wees, en indien die Here skielik vanaf die tempel dak tussen die Jode wat in die tempel diens verrig het, asook diegene wat daar aanbid het, te lande sou kom, sou dit bo enige twyfel aan hulle bewys het dat die Here hulle beloofde Messias was. Veral indien die Here tussen hulle op Sy voete te lande sou kom, sonder om enige beserings op te doen, en sodoende sou die Here Jesus Christus Sy ewige Seunskap aan die volk kon demonstreer en deur hulle aanvaar word. Lees meer Die duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref. Deel 5

Die duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref. Deel 4

Tydens die versoeking om die klippe in brode te verander het ons gesien hoe die duiwel die Here versoek het om ‘n vleeslike behoefte buiten God die Vader se wil vir Hom te bevredig. (Lees asb dele een, twee en drie van hierdie reeks studies, om ‘n deeglike agtergrond kennis rondom hierdie aangeleentheid te bekom en waar die versoeking om die klippe in brode te verander ook deeglik bespreek is.) 1 Joh. 2:6 gee aan ons die drie kanale waardeur die duiwel van die wêreld/kosmos (waaroor hy beheer uitoefen) gebruikmaak om die mensdom te verlei, naamlik:
1Jo 2:15 “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. 2:16 Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. 2:17 En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”
Soos alreeds genoem, het Satan die Here langs drie van die mens se sterkste drange versoek, naamlik fisiese/vleeslike aptyte, die begeerte vir mag en besittings, asook die begeerte vir publieke aanvaarding en/of erkenning. Die mensdom word nog steeds deur hierdie drie drange versoek! Lees meer Die duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref. Deel 4