Christelike Sionisme

Christelike Sionisme: ‘n Skriftuurlike Perspektief

Die geopolitieke en teologiese fokus van die wêreld is onwankelbaar gerig op ‘n klein strokie land aan die oostelike kus van die Middellandse See: Israel. Vir eeue lank, en veral in die moderne era, wek die vraagstuk rondom die Joodse volk se reg op selfbeskikking en nasionale bestaan intense debat op (Sionisme). Binne die Christelike teologie is hierdie debat nie bloot polities of humanisties van aard nie; dit sny regdeur na die kern van hoe die Heilige Skrif geïnterpreteer word.

Om die verhouding tussen die Christelike geloof en die staat Israel te verstaan, is dit nodig om terug te keer na die fondamente van die skrifverklaring, spesifiek die grammatikaal-historiese hermeneutiek. Hierdie artikel ondersoek die definisie van Sionisme, die teologiese mandaat vir Christene om Israel te ondersteun en te seën, en die Bybelse profesieë aangaande die eskatologiese (eindtydse) toename in antisemitisme as ‘n verskynsel van sataniese oorsprong.

Wat beteken dit om ‘n Sionis te wees? ‘n Definisie

Die term “Sionisme” is histories en polities dikwels gelaai met kontroversie, misverstande en doelbewuste wanvoorstellings. Om te verstaan wat dit beteken om ‘n Sionis te wees, moet ‘n mens eers na die etimologiese en historiese wortels van die woord kyk.

Die woord is afgelei van Sion (Hebreeus: Tziyon), die spesifieke heuwel in Jerusalem waar die stad van Dawid gebou is en waar die Tempel gestaan het. In die Bybelse profete het “Sion” egter sinoniem geword met die hele Jerusalem en, by uitbreiding, met die hele land Israel en die hele etniese nageslag van Jakob.

Historis-polities gesproke is Sionisme die nasionale beweging van die Joodse volk vir die herstel van hul nasionale tuisland en die behoud van hul reg op selfbeskikking in die historiese geografiese area bekend as die Land van Israel (Eretz Yisrael). Die beweging het aan die einde van die 19de eeu onder leiding van figure so sê Theodor Herzl formele beslag gekry as ‘n antwoord op eeue van intense vervolging en pogroms in Europa.

Op ‘n basiese vlak beteken dit bloot die volgende om ‘n Sionis te wees:

  • Die erkenning van historiese en Bybelse bande: Dit is die oortuiging dat die Joodse volk ‘n unieke, onbreekbare historiese, kulturele en godsdienstige band met die land Israel het.
  • Die ondersteuning van die reg op selfbeskikking en staatsvorming: Dit is die erkenning dat die Joodse volk, net soos enige ander unieke volk op aarde, die reg het om in vrede en veiligheid in hul eie soewereine staat binne hul nasionale tuisland te leef
  • Die verwerping van Israel se uitwissing: Om ‘n Sionis te wees, beteken om die reg van die Staat Israel om te bestaan te verdedig teen magte wat die totale vernietiging of delegitimisering daarvan eis.

Vir ‘n Christen gaan Sionisme egter verder as sekulêre nasionalisme. Christelike Sionisme is die oortuiging, suiwer gebaseer op die beloftes van God in die Skrif, dat God se verbond met die nageslag van Abraham, Isak en Jakob aangaande die land Israel ewigdurend en onvoorwaardelik is (Genesis 15:18, Genesis 17:7–8, Psalm 105:8–11). Dit is nie ‘n blanko tjek vir die politieke besluite van ‘n sekulêre regering nie, maar ‘n diep teologiese erkenning dat God getrou is aan Sy Woord (Numeri 23:19, Romeine 11:28–29). Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Die Belofte van Israel se Nasionale Herstel in Deuteronomium”, asook “Dit is God wat Israel in hulle eie land hervestig.

Die Grammatikaal-Historiese Hermeneutiek as Vertrekpunt

Voordat ons na die spesifieke teksgedeeltes kyk, is dit krities om die metode van skrifverklaring vas te stel. Die grammatikaal-historiese perspektief, of hermeneutiek, is die goue standaard van gesonde teologiese eksegese. Hierdie benadering poog om die oorspronklike, natuurlike en letterlike betekenis van die teks te ontdek deur eerstens na die grammatika te kyk, wat die reëls van die taal, sinsbou, woordbetekenisse en idiome insluit soos dit deur die oorspronklike skrywer gebruik is, en tweedens na die histories-kulturele konteks te kyk, wat die historiese agtergrond, die gehoor aan wie dit geskryf is, en die omstandighede waarin die profeet of skrywer hom bevind het, in ag neem.

Hierdie metode staan lynreg teenoor die allegoriese of geestelike interpretasiemetode, wat dikwels deur die sogenaamde Vervangingsteologie (Supersessionalisme) gebruik word. Vervangingsteologie beweer dat omdat die Joodse volk as ‘n nasionale eenheid Jesus as Messias verwerp het, die Kerk nou “die nuwe Israel” geword het en dat al die fisiese beloftes van land, nasionale herstel en seën nou vergeestelik en op die Kerk van toepassing gemaak is.

Wanneer die grammatikaal-historiese metode egter konsekwent toegepas word, word dit duidelik dat wanneer God met “Israel”, “Jakob”, en die “nageslag van Abraham” praat, Hy verwys na die letterlike, vleeslike, etnies-nasionale nageslag van Jakob. Die land beloftes is fisies, geografies en permanent. Om hierdie profesieë te “vergeestelik” sodat die land skielik die hemel of die kerk word, skend die mees basiese reëls van taal en historiese kommunikasie. As God se letterlike beloftes aan Israel nietig verklaar kan word, dan verval die fondamente van God se betroubaarheid en getrouheid aan Sy eie woord vir elke gelowige en nie net Israel nie.

Die Onvoorwaardelike Verbond en Israel se Reg op die Land

Vanuit die grammatikaal-historiese perspektief begin die Christen se ondersteuning van Israel by die Abrahamitiese Verbond. Hierdie verbond is uniek omdat dit ‘n onvoorwaardelike verbond is. In die Ou Nabye Ooste is verbonde dikwels bekragtig deurdat die partye tussen die helftes van geslagte diere deurloop, wat beteken het: “Mag dit met my gaan soos met hierdie diere as ek die verbond verbreek.” In Genesis 15 sien ons egter dat God vir Abram in ‘n diepe slaap laat val het, en dat God alleen (gesimboliseer deur ‘n rokende oond en ‘n brandende fakkel) tussen die stukke deur beweeg het. Dit beteken die nakoming van die verbond rus uitsluitlik op God se karakter en getrouheid, nie op Israel se prestasie of gehoorsaamheid nie.

Genesis 12:1-3 bevestig hierdie feit: “En die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.”
As ons hierdie gedeelte grammatikaal ontleed, sien ons dat die opdragte en beloftes direk aan die historiese figuur Abram en sy fisiese nageslag gerig is. Daar is geen voorwaarde gekoppel aan die belofte van “Ek sal seën diegene wat jou seën” nie.

Verder word die grense en die ewige aard van hierdie grondgebied eksplisiet is Genesis 17:7-8 uitgespel, naamlik: “En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ‘n ewige verbond, om vir jou ‘n God te wees en vir jou nageslag ná jou. En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap gee, die hele land Kanaän, as ‘n ewige besitting; en Ek sal vir hulle ‘n God wees.”
Die term “ewige besitting” laat vanuit ‘n taalkundige perspektief geen ruimte vir ‘n vervaldatum of ‘n oordrag na ‘n ander entiteit (soos die Kerk) nie.

Die profete van die Ou Testament, wat eeue ná Abraham geskryf het—en selfs te midde van Israel se nasionale ongehoorsaamheid en ballingskap—het hierdie letterlike belofte herbevestig. Die grammatikaal-historiese konteks van die ballingskap wys dat God se strawwe oor Israel tydelik was, maar Sy verbond permanent. Jeremia 31:35-37 is net een van vele teksgedeeltes wat hierdie feit bevestig, naamlik: “So sê die HERE wat die son gee tot ‘n lig oordag, die ordeninge van die maan en die sterre tot ‘n lig in die nag, wat die see in beroering bring, sodat sy golwe bruis, HERE van die leërskare is sy Naam: As hierdie ordeninge voor my aangesig sal wyk, spreek die HERE, dan sal die nageslag van Israel ook ophou om ‘n volk te wees voor my aangesig altyd. So sê die HERE: As die hemele daarbo gemeet en die fondamente van die aarde daaronder nagespeur kan word, dan sal Ek ook die hele nageslag van Israel verwerp weens alles wat hulle gedoen het, spreek die HERE.”

Hierdie teks maak dit onmoontlik om te beweer dat Israel as volk permanent deur God verwerp is weens hulle sondes of die verwerping van die Messias. Solank as wat die son skyn en die maan sy lig gee, sal die fisiese nageslag van Israel ‘n volk voor God bly. Vir ‘n Christen wat die Skrif ernstig opneem, is die ontkenning van Israel se reg om in hul land te bestaan niks minder as ‘n ontkenning van God se soewereine eed nie. So ‘n persoon stel God dus tot leuenaar.

Waarom dit vir ‘n Christen noodsaaklik is om Israel te Ondersteun en te Seën

Vanuit ‘n Nuwe-Testamentiese perspektief wat in kontinuïteit met die Ou Testament gelees word, het die Christelike kerk ‘n diep geestelike skuldlas teenoor die Joodse volk. Die apostel Paulus, wat self ‘n grammatikaal-historiese benadering tot die profete gehad het, skryf in Romeine 15:27: “Hulle het dit goedgevind, sê ek, en hulle is ook hul skuldenaars; want as die heidene deel gekry het aan hulle geestelike voorregte, is hulle ook verskuldig om hulle met stoflike goedere te dien.”
Die Messias, die Skrifte, die verbonde en die beloftes het almal deur die Joodse volk na die wêreld gekom. Om Israel te seën is dus nie ‘n opsionele politieke opinie vir ‘n Christen nie, maar ‘n daad van gehoorsaamheid en dankbaarheid teenoor die God van Abraham. Verder word gelowiges spesifiek beveel om te bid vir die geografiese sentrum van hierdie volk se tuisland. Psalm 122:6 verklaar uitdruklik: “Bid om die vrede van Jerusalem; mag hulle wat jou liefhet, rustig lewe!”

In die profetiese raamwerk is die fisiese herstel van die Joodse volk na die land ‘n voorloper vir die geestelike herstel van die volk en die wederkoms van Christus. In Eségiël 36:24-28 skets die profeet hierdie presiese volgorde op ‘n baie letterlike wyse: “En Ek sal julle (Israel) uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring. Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig. En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen. En julle sal woon in die land wat Ek aan jul vaders gegee het; en julle sal vir My ‘n volk en Ek sal vir julle ‘n God wees.”

As ons hierdie gedeelte letterlik verstaan, sien ons dat die fisiese terugkeer na die land (vers 24) plaasvind voordat die nasionale geestelike reiniging en wedergeboorte intree (verse 25–26). Die feit dat die moderne staat Israel in 1948 in ongeloof en as ‘n grootliks sekulêre entiteit gestig is, weerspreek dus nie die profesieë nie—dit vervul dit juis presies soos Eségiël voorspel het. ‘n Christen wat Israel ondersteun, belyn hom- of haarself met die profetiese plan van God wat besig is om voor ons oë te ontvou. Die profetiese woord aangaande hierdie hervestiging van Israel in ongeloof in hulle land word ook baie duidelik in Eségiël 37:1–14 geprofeteer. Die leser word ten sterkste aangeraai om self hierdie teksgedeelte te lees.

Die Eskatologiese Toename van Antisemitisme

Die Skrif is baie duidelik daaroor dat soos die geskiedenis sy klimaks nader—die tydvak wat bekend staan as die “eintyd” of die laaste dae—die nasies van die wêreld in toenemende mate gefokus sal wees op die vernietiging van Israel en die Joodse volk. Hierdie wêreldwye vyandigheid staan vandag bekend as antisemitisme, maar in sy kern is dit nie bloot ‘n sosio-politieke vooroordeel of ‘n vorm van rassisme nie; dit is ‘n diep gees van rebellie teen die God van die Bybel.

Profesieë van Wêreldwye Vyandigheid

Die profeet Sagarja beskryf die eskatologiese toestand (eindtyd-scenario) van die nasies rondom Jerusalem met ontstellende akkuraatheid, naamlik: “Godspraak. Die woord van die HERE oor Israel. Die HERE spreek, wat die hemele uitsprei en die aarde grondves en die gees van die mens in sy binneste formeer: Kyk, Ek maak Jerusalem vir al die volke rondom tot ‘n beker van bedwelming, en ook teen Juda sal dit wees tydens die beleëring teen Jerusalem. En in dié dag maak Ek Jerusalem tot ‘n baie swaar klip vir al die volke: elkeen wat dit optel, sal hom daarmee sekerlik seer maak; en al die nasies van die aarde sal daarteen vergader word.” (Sagarja 12:1-3) As ons hierdie woorde grammatikaal-histories ontleed, sien ons dat “al die nasies van die aarde” in die eindtyd gefokus sal wees op Jerusalem. Jerusalem word ‘n “swaar steen”—’n geopolitieke probleem wat die nasies probeer oplos of verskuif, maar elkeen wat hom daaraan inmeng met die doel om God se nasionale doelwitte te dwarsboom, “sal hom daarmee sekerlik seer maak”

Verder beskryf Sagarja 14:2 die fisiese realiteit van hierdie internasionale vyandigheid:
“Kyk, daar kom ‘n dag vir die HERE; dan sal wat van jou buitgemaak is, binne-in jou verdeel word, o Jerusalem! Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; en die stad sal ingeneem en die huise geplunder en die vroue onteer word, en die helfte van die stad sal uitgaan in ballingskap; maar die orige deel van die bevolking sal nie uit die stad uitgeroei word nie. En die HERE sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê (die wederkoms), aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ‘n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide.”

Hierdie profesieë maak dit duidelik dat antisemitisme nie sal afneem deur menslike diplomasie, onderwys of verdrae nie. Inteendeel, die Skrif voorspel ‘n berekende, wêreldwye eskalasie van Jodehaat en anti-Israel sentiment wat sy hoogtepunt tydens die Groot Verdrukking sal bereik, net voor die Wederkoms van die Messias.”

Die Sataniese Oorsprong van Antisemitisme

Waarom is daar hierdie irrasionele, eeue-oue, wêreldwye haat teen ‘n unieke, relatief klein groep mense? Geen ander etniese groep het deur die eeue heen so ‘n volgehoue, universele poging tot totale uitwissing beleef nie—van die Egiptiese Farao se opdrag om die Joodse seuntjies dood te maak (Eksodus 1:15-16, 22), na Haman in die Persiese ryk wat die uitwissing van die hele Joodse volk beplan het (Ester 3:8-9, 13), tot by Adolf Hitler se Derde Ryk, en vandag se radikale magte wat openlik die totale uitwissing van die “Sionistiese entiteit” eis.

Die Bybel ontbloot die ware dryfveer agter hierdie haat in die boek Openbaring. Dit is nie ‘n menslike probleem nie, maar ‘n kosmiese, sataniese gees. In Openbaring 12:1-5 sien ons ‘n visioen van ‘n vrou wat bekleed is met die son, met die maan onder haar voete en op haar kop ‘n kroon van twaalf sterre. Sy was swanger en het ‘n seuntjie gebaar wat al die nasies met ‘n ystersepter sou regeer—’n duidelike verwysing na Jesus die Messias. Grammatikaal en simbool-histories verteenwoordig die vrou met die twaalf sterre die volk Israel (verwysende na Josef se droom in Genesis 37).

Kyk nou na wat in Openbaring 12:13 gebeur nadat die Messias na die hemel opgeneem is: “En toe die draak sien dat hy neergewerp is op die aarde, het hy die vrou agtervolg wat die seuntjie gebaar het.” Verder word in Openbaring 12:17 die volgende voorspel: “En die draak was toornig op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.”
Die “draak” word in dieselfde hoofstuk geïdentifiseer as die ou slang, wat genoem word die duiwel en die Satan. Dit toon dat antisemitisme sy oorsprong in die satan het en derhalwe demonies van aard is.

Waarom haat Satan vir Israel so intens?

Satan se strategie is eenvoudig dog dodelik: geskiedkundig wou hy die geboorte van die Messias verhoed deur die nageslag van Abraham uit te wis—soos in Egipte of deur Haman—in ‘n poging om God se belofte van ‘n Verlosser te vernietig. Hy het egter gefaal; die Seun is gebore en het oorwin. Eskatologies gesproke het God Sy nasionale herstel van Israel en die fisiese terugkeer van Jesus na Jerusalem gekoppel aan die Joodse volk se uitroep na Hom, soos wat Jesus Self in Matthéüs 23:39 aan die leiers van Jerusalem gesê het: “Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!”

Satan weet dat as hy die Joodse volk totaal kan uitwis, of as hy kan verhoed dat hulle in hul eie land gevestig is waar die Messias se voete op die Olyfberg sal staan (Sagarja 14:4), hy God tot ‘n leuenaar kan maak en sodoende sy eie finale oordeel kan vryspring. Antisemitisme en anti-Sionisme (die ontkenning van die Joodse reg op hul land) is dus niks minder nie as die woede van die draak teen die vrou wat die Messias voortgebring het. Dit is ‘n direkte aanval op die raadsplan en karakter van die Almagtige God. Ongelukkig maak ‘n baie groot gedeelte van die belydende Christendom hulle aan hierdie verskriklike sonde skuldig.

Die Onderskeid tussen die Volke en die Toets vir die Kerk

In die lig van hierdie eskatologiese realiteite word die Christen se houding teenoor Israel ‘n lakmoestoets van gehoorsaamheid aan die Woord van God. Wanneer die nasies stroom na die totale veroordeling en isolasie van Israel, kan die ware Kerk nie saam met die stroom van hierdie wêreld beweeg nie.

Die oordeel van die nasies word in Joël 3:1-2 direk gekoppel aan hoe die wêreldmagte met God se volk en Sy land omgegaan het: “Want kyk, in dié dae en in dié tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem sal verander, sal Ek al die nasies versamel en hulle laat afdaal in die dal van Jósafat; en Ek sal daar met hulle ‘n strafgerig hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, terwyl hulle my land verdeel het.”

Let op die grammatikale besitlike voornaamwoorde wat God hier gebruik: “my volk”, “my erfdeel”, en “my land”. Die land behoort aan die HERE (Levitikus 25:23), en nie aan die Verenigde Nasies nie. Hy het dit as ‘n ewige besitting aan die nageslag van Jakob gegee (Genesis 17:7-8; Psalm 105:9-11). Die pogings van moderne politieke entiteite om “die land te verdeel” om mensgemaakte politieke vrede te bewerkstellig, staan in direkte konflik met hierdie ernstige waarskuwing in Joël.

Christene word opgeroep om die profetiese stem van waarheid te wees in ‘n wêreld wat bedwelm is deur die gees van antisemitisme. Ons moet besef dat die stryd rondom Israel nie oor menslike geregtigheid of politieke ideologieë gaan nie, maar oor geestelike oorlogvoering.

Ter Afsluiting

Om ‘n Sionis te wees—spesifiek ‘n Christelike Sionis—is om te staan op die onwankelbare, letterlike beloftes van God. Deur gebruik te maak van die grammatikaal-historiese uitlegmetode, word die Skrif selfverduidelikend: God het ‘n ewige, onvoorwaardelike verbond met die fisiese nageslag van Abraham gesluit, en die land Israel behoort aan hulle as ‘n ewige besitting. Christelike Sionisme is die vaste oortuiging dat God ‘n deurlopende program vir die nasionale staat Israel het, en dat Hy die Joodse volk na hul land laat terugkeer het as deel van Sy profetiese plan (Esra 1:1–3, Esegiël 36:24). Volgens hierdie siening dien Israel se huidige voortbestaan en toekomstige rol as voorbereiding vir die finale vervulling van God se beloftes aan hulle (Romeine 11:25–26, Jeremia 31:31–33).

As volgelinge van Jesus Christus kan Christene nie neutraal staan teenoor die nasionale herstel van Israel nie. Dit is ons teologiese plig om hulle reg op bestaan te ondersteun, om te bid vir die vrede van Jerusalem, en om die Joodse volk te seën.

Soos die eindtyd nader kom en die sataniese gees van antisemitisme wêreldwyd toeneem en die nasies teen Jerusalem saamdrom, moet die Kerk vasstaan, gewapen met die profetiese Woord. Ons seën Israel nie omdat hulle perfek is nie, maar omdat die God wat hulle gekies het, getrou is; as Sy aanbidders wil ons nie teen Sy raadsbesluite rebelleer nie. Hou die woorde van die eeue-oue belofte in gedagte, wat vandag nog net so kragtig weerklink as in die dae van Abraham: “En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek.”

Seën groete!

Lees gerus hierdie reeks artikels in volgorde. Dit sal jou help om ‘n Bybelse raamwerk vir die geskiedenis van die skepping te verstaan.

Die Dispensasies ‘n Skriftuurlike perspektief
Dispensasie van Onskuld
Die Dispensasie van Menslike Gewete
Die Dispensasie van Menslike Owerheid
Die Dispensasie van Belofte. Deel Een
Die dispensasie van belofte. Deel 2
Die Dispensasie van die Wet. Deel 1
Die Dispensasie van die Wet. Deel 2
Die Dispensasie van die Kerk. Deel een
Die Dispensasie van die Kerk. Deel 2
Belangrike feite aangaande die kerk. Deel 1
Belangrike feite aangaande die kerk. Deel 2
Die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde. Deel 1
Die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde. Deel 2
Die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde. Deel 3
Die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde. Deel 4
Die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde. Deel 5
Die Dispensasie van die Koninkryk
Die Ewigheid

Die volgende twee artikels kan ook as profetiese aanhangsels gelees word.

Dit is God wat Israel in hulle eie land hervestig.
Israel en die oorlog van Gog en Magog Esegiël 38–39
Die Wegraping. Deel 1
Die Wegraping. Deel 2
Die Wegraping. Deel 3

Deel met ander asb.