Daar is ‘n groeiende beweging wat poog om die persoon van Jesus Christus te reduseer tot slegs ‘n ‘profeet soos Moses’, soos wat sommige voorstanders van die Hebreeuse Wortel-beweging verkondig. Hierdie siening, soos onder andere verkondig deur Jason van Huyssteen, argumenteer dat Jesus se aanspraak op Godheid ‘n latere uitvinding van die kerk is, en dat die apostels en die mense van daardie tyd Hom slegs as ‘n profeet beskou het. Hierdie artikel is geskryf as reaksie op ‘n YouTube-aanbieding waarin van Huyssteen die Drie-Eenheid en Christus se Godheid aanval. Sy aanbieding genaamd “I AM HE ..!!! Has nothing to do with a trinity!!! Trinity is false doctrine!!!” kan op sy YouTube-kanaal gekyk word. Die leser word versoek om hierdie hele weerlegging te lees, omrede die leerstelling van die Drie-eenheid daarin verduidelik word. Boonop kan ons verwag dat dwaalleer wat die Drie-eenheid en Christus se Godheid ontken, sal toeneem soos wat Christus se koms vir ons nader kom.
Van Huyssteen begin sy betoog met die direkte stelling: “Christians, the trinity is false doctrine.” Deur die grammatikaal-historiese metode te gebruik—die studie van wat die skrywers in hulle oorspronklike konteks bedoel het—sowel as logiese analise, sal ons aantoon dat hierdie siening nie net Bybelse getuienis ignoreer nie, maar ook die aard van Goddelike openbaring misverstaan.
1. Die Logiese Drogredenasie van “Eksklusiewe Kategorieë”
The argument in Van Huyssteen se aanbieding steun swaar op Deuteronomium 18:15: “Die Here jou God sal vir jou ’n profeet uit jou midde, uit jou broeders, laat opstaan soos ek is; na hom moet julle luister.” Sy hele kernargument berus egter op ‘n vals dilemma en ‘n eksklusiewe kategorie-fout.
Sy redenering gaan so:
- Moses het geprofeteer van ‘n “Profeet soos ek” (Deuteronomium 18).
- Jesus het die “Profeet soos Moses” geword.
- Daarom is Jesus slegs ‘n menslike profeet, en nie God nie.
Hierdie logika faal omdat dit aanvaar dat die amp van ‘Profeet’ en die natuur van ‘Godheid’ mekaar wedersyds uitsluit. Dit is ‘n logiese fout. Die Skrif, wanneer dit reg verstaan word, openbaar egter dat Jesus albei is—en nog meer (Johannes 1:1, 14; Kolossense 2:9). ‘n Man kan ‘n vader wees én ‘n werknemer. As iemand sê: ‘Hy is ‘n pa,’ impliseer dit nie dat hy nie ‘n werknemer is nié. Die Bybel leer dat Jesus die vervulling van die profetiese amp is (die Profeet) (Handelinge 3:20-22), maar dit beteken nie dat Hy ophou om God te wees nie (Filippense 2:6-7). Trouens, Jesus is die enigste profeet wat ook die Bron (God) van die wet is waarvan Hy getuig (Matteus 5:17, 21-22; Johannes 1:17).
Die Grammatikaal-Historiese Konteks van Hebreërs
Die boek Hebreërs is juis geskryf om hierdie wanopvatting reg te stel. Die outeur van Hebreërs erken dat Jesus ‘n profeet is, maar hy wys dat Jesus inherent bo Moses verhewe is: “Want Hy is waardig geag om soveel meer heerlikheid as Moses te ontvang as wat die bouer van die huis meer eer geniet as die huis self… En Moses was wel getrou in die hele huis van God as ‘n dienaar… maar Christus as ‘n Seun oor sy huis.” (Hebreërs 3:3-6)
Moses was ‘n dienaar in die huis; Christus is die Seun en die Bouer van die huis. Die teks sê nie dat Jesus slegs ‘n profeet is nie; dit sê dat Hy die vervulling van die profetiese amp is, maar dat Sy identiteit as die Seun van God Hom ver bo die profete verhef. As Jesus slegs ‘n menslike profeet soos Moses was, sou die Skrif Hom nie as die “Bouer van die huis” beskryf nie.
2. Hoe die Skrif verdraai word: Die betekenis van “Ek is” (Ego Eimi)
Die argument dat Jesus se woorde in Johannes 8:24 (“Ek het dan vir julle gesê dat julle in jul sondes sal sterwe; want as julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in jul sondes sterwe.”) bloot na sy Messiasskap verwys, is ‘n poging om die teologiese gewig van die Griekse frase ego eimi (EK IS) te systap.
In die Septuaginta (die Griekse vertaling van die Ou Testament wat deur die dissipels gebruik is) word ego eimi gebruik om die goddelike Naam, YHWH, te vertaal – soos in Eksodus 3:14: “EK IS WAT EK IS”. Wanneer Jesus in Johannes 8:58 sê: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek,“ gebruik Hy nie ‘n werkwoord wat ‘n tydsverloop aandui nie (ginomai), maar ego eimi. Hierdie konstruksie dui op ‘n ewige, tydlose bestaan wat inherent aan God is.
Van Huyssteen probeer hierdie goddelike selfidentifikasie reduseer tot die profetiese amp deur te argumenteer: “So clearly Yeshua himself is claiming to be the prophet prophesied in Deuteronomy 18, because he does not speak his own words, but only the words of the one who sent him as stated in Deuteronomy 18… So as he spoke these words, many believed him. Did they believe he was God or did they believe he was the prophet prophesied to come like Moses?”
Hierin maak hy hom skuldig aan doelbewuste selektiewe eksegese deur die Jode se onmiddellike reaksie in die Skrif te ignoreer:
- Die reaksie van die Jode: In Johannes 10:33 het die Jode klippe opgetel om Jesus te stenig. Hulle rede was nie dat Hy Homself as ‘n profeet voorgedoen het nié, maar omdat hulle gesê het: “U, wat ‘n mens is, maak Uself God.”
- Jesus se stilswye: As Jesus bloot ‘n mens of profeet was, sou dit die ideale geleentheid gewees het om die misverstand reg te stel: “Nee, julle verstaan My verkeerd, Ek is net ‘n profeet.” In plaas daarvan bekragtig Hy sy aanspraak in Johannes 10:30 deur te verklaar: “Ek en die Vader is een.”
As Jesus slegs gesê het ‘Ek is die profeet,’ sou die Jode nie klippe opgetel het om Hom te stenig nie (Johannes 8:59). Die oortreding wat hulle die doodstraf laat eis het, was godslastering (Levitikus 24:16). Binne die eerste eeuse Joodse raamwerk was die doodstraf deur steniging vir godslastering gereserveer vir gevalle waar iemand beweer het om God self, of aan God gelyk, te wees (vergelyk Johannes 5:18 en 10:33). Die Jode het Jesus se woorde perfek verstaan; dit is Van Huyssteen wat doelbewus die konteks probeer wegredeneer.”
3. Die Apostoliese Getuienis: Het hulle geweet wie Hy is?
Van Huyssteen voer aan dat die mense en apostels wat saam met Jesus gewandel het, absoluut geen konsep van Sy Godheid gehad het nie: “So here we can see that they were all expecting some form of a prophet to come, not God… Question, did Peter answer and say, you are God? No, he said he is the Messiah, the one that was prophesied to come… Question, did Philip and Nathaniel believe he was God or the son of God who was prophesied to come?”
Die argument dat die apostels Jesus slegs as ‘n menslike profeet beskou het, misken die progressiewe aard van die evangeliese openbaring. Alhoewel die dissipels se begrip eers ná die opstanding en die uitstorting van die Heilige Gees tot volle volwassenheid gekom het, het hulle Hom reeds lank voor die kruisiging as die unieke Seun van God bely (Matteus 16:16, Johannes 6:69). Die Nuwe Testament is weliswaar geskryf vanuit die perspektief van die voltooide openbaring, maar dit dokumenteer ‘n geloofsgroei waarin Jesus nooit bloot as een van die profete hanteer is nie, maar as die selfopenbaring van God in die vlees.
Teologies en histories is die term “Seun van God” nie ’n ontkenning van Jesus se Godheid nie, maar juis die mees kragtige antieke belydenis daarvan. Om hierdie konsep te verstaan, kan mens kyk na die basiese taalreël van natuur en nageslag: die “seun” van ‘n mens is inherent ‘n mens, en die “seun” van ‘n dier deel dieselfde biologiese natuur as sy bron (‘n seun van ‘n olifant is volkome ‘n olifant)—net soos die bekende Engelse idioom/belediging son of a b@#ch ten diepste verklaar dat die persoon wat beledig word onteenseglik die nageslag van ‘n hond is en dus ‘n hond is.
In die Semitiese idioom van die eerste eeu het die frase ‘seun van’ presies hierdie beginsel gedra; dit het aangedui dat die persoon dieselfde wese, status en eienskappe (Attribute) as die vader besit. Wanneer die Skrif Jesus dus openbaar as die unieke, “Eniggebore Seun van God” (Monogenes), beteken dit nie dat Hy naas of onder God bestaan as ’n minderwaardige skepsel nie; dit verklaar op grond van Sy “natuur” dat Hy dieselfde goddelike identiteit dra, attribute besit en dieselfde ongeskape, goddelike substansie as die Vader deel. Hierdie feit bevestig die leer van die Drie-Eenheid. Wanneer die Skrif Jesus as Monogenes beskryf (Johannes 1:18; 3:16, 18), beteken dit nie dat Hy ‘n skepsel is wat iewers in die verlede ‘gebore’ is nie (Miga 5:1; Johannes 1:1; 8:58). Dit dui op Sy unieke status as die ewig-bestaande Seun wat, saam met die Heilige Gees (Handelinge 5:3-4; 1 Korintiërs 2:10-11), die volle en onverdeelde goddelike wese met die Vader deel (Matteus 28:19; 2 Korintiërs 13:13; Kolossense 2:9). In teenstelling met gelowiges wat deur die wedergeboorte (Johannes 1:12-13; 3:3; 1 Petrus 1:3) tot kinders van God aangeneem word (Romeine 8:15; Galasiërs 4:5; Efesiërs 1:5), is Jesus uniek in Sy verhouding tot die Vader omdat Hy van nature volkome God is (Filippense 2:6; Hebreërs 1:3, 8).
Die mense van Sy tyd het hierdie kulturele en taalkundige konteks perfek verstaan. In Johannes 5:18 word daar eksplisiet vermeld dat die Jode Hom wou stenig omdat Hy “God sy eie Vader genoem het en Hom sodoende met God gelyk gemaak het.” Vir die Joodse gehoor was die titel “Seun van God” glad nie ’n onskuldige eretitel vir ’n profeet nie, maar ’n direkte aanspraak op Godheid self. Dit is om hierdie rede dat die hoëpriester tydens Jesus se verhoor sy klere geskeur en Hom van godslastering beskuldig het toe Jesus hierdie identiteit bevestig het (Matteus 26:63-65). As Hy slegs as ‘n menslike profeet of boodskapper beskou was, sou Sy verhoor nie op die doodstraf weens godslastering uitgeloop het nie.
Om die term ‘Seun van’ deur ’n moderne Westerse bril te lees—asof die Seun noodwendig ondergeskik of chronologies jonger as die Vader moet wees—is om die hele histories-grammatikale konteks van die Nuwe Testament te misken. Kritici wat beweer dat Jesus Seunskap verkies het in plaas van Godheid, skep ’n valse teologiese dilemma. Die antieke wêreld het geweet: wat uit God gegenereer is, besit die natuur van Godheid (Johannes 1:1, 14; Kolossense 1:15). Deur Homself die Seun van God te noem, het Christus dus nie Sy goddelike status afgewater nie, maar juis Sy absolute gelykheid met die Vader onderstreep (Johannes 5:18, 10:30-33; Filippense 2:6).
Kom ons kyk na die getuienis van die apostels self, wat direk bots met die bewering dat hulle Hom permanent net as ‘n profeet gesien het:
- Thomas (Johannes 20:28): Nadat hy Jesus se wonde aangeraak het, roep hy uit: “My Here en my God!” As Jesus slegs ‘n profeet was, sou Hy Thomas bestraf het vir afgodery. Inteendeel, Hy aanvaar die aanbidding.
- Paulus (Kolossense 2:9): “Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik.” Paulus skryf nie van ‘n “profeet” nie; hy skryf van die Godheid self.
- Johannes (Johannes 1:1): “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.”
Die argument dat “die apostels hom net as ‘n profeet gesien het” is bloot vals. Hulle het Hom as die vleesgeworde God gesien. Om die apostels se vroeë verwarring (voor die opstanding) as die finale definisie van Jesus se identiteit te gebruik, is om die hele Nuwe Testament te verwerp. Dit is nie “ander doktrines” wat deur “moderne Christene” uitgedink is nie; dit is die apostoliese getuienis wat in die eerste eeu neergeskryf is. Om terug te keer na die onvolwasse begrip van die dissipels voordat die Gees gekom het, is om die progressiewe openbaring van die Nuwe Testament te verwerp.
4. Identiteit teenoor Rol: Waarom die Ewige Seun Gehoorsaam Het
Om te verstaan waarom Jesus die Vader gehoorsaam het sonder om minder as God te wees, moet ‘n mens onderskei tussen wie Hy is (Sy identiteit) en wat Hy gedoen het (Sy rol). Van ewigheid af is die Vader, die Seun en die Heilige Gees absoluut gelyk in wese, krag en goddelike eienskappe (Genesis 1:26; Matteus 28:19; 2 Korintiërs 13:13). Johannes 1:1 stel dit immers onteenseglik dat die Woord self God was (vergelyk ook Romeine 9:5; Titus 2:13). In die groter verlossingsplan het elke Persoon van die Drie-eenheid egter vrywillig ’n unieke funksie aangeneem: die Vader beplan (Efesiërs 1:3-4), die Seun word mens om die reddingswerk aan die kruis uit te voer (Johannes 6:38; Hebreërs 10:7), en die Gees pas dit in mense se lewens toe (Johannes 16:13-14; Titus 3:5-6). Wanneer Jesus die Vader gehoorsaam, is dit dus nie omdat Hy minder werd of inherent ondergeskik is nie, maar omdat Hy vrywillig ingestem het om hierdie spesifieke rol binne die geskiedenis te vervul.
Hierdie dinamika word pragtig verduidelik in Filippense 2:5-8, waar Paulus skryf dat Jesus, wat van nature ten volle aan God gelyk was, Homself vrywillig “ontledig” het. Dit beteken nie dat Hy Sy Godheid verloor het toe Hy mens geword het nie, maar dat Hy Sy goddelike regte en hemelse heerlikheid tydelik eenkant toe geskuif het om die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem (Johannes 17:5; 2 Korintiërs 8:9). Omdat die kerneienskap van ‘n dienskneg gehoorsaamheid is, was Jesus se onderwerping aan die Vader op aarde die natuurlike gevolg van hierdie rol. Sy gehoorsaamheid was dus bloot funksioneel van aard om ons te kom red, en dit verander niks aan die feit dat Hy in Sy diepste wese volkome God was en is nie (Kolossense 2:9; Hebreërs 13:8).
Hierdie kulturele beginsel stem perfek ooreen met die Joodse kultuur van die eerste eeu, wat die instelling van die Sjalioeg (ʼn amptelike gesant of agent) geken het. Volgens die antieke Joodse reg was ’n mens se amptelike gesant presies soos die mens self. As ‘n koning sy seun met hierdie volmag gestuur het om ‘n saak te beklink, het daardie seun met die volle gesag, status en waardigheid van die koning self opgetree. Wanneer Jesus dus in die Johannes-evangelie deurlopend sê dat Hy nie uit Homself gekom het nie, maar deur die Vader gestuur is (Johannes 7:28), gebruik Hy hierdie bekende agtergrond. As die ewig-gelykwaardige Seun wat nou as die Gesant optree, moes Hy die opdragte van Sy Stuurder perfek uitvoer (Johannes 4:34; 5:19; 12:49). Die Jode van daardie tyd het hierdie wetlike raamwerk baie goed verstaan; daarom het hulle Hom juis as gelyk aan God beskou wanneer Hy hierdie absolute volmag namens die Vader uitgeleef het (Johannes 5:18; 10:30-33). Jason van Huyssteen neem nie hierdie historiese konteks in ag nie, wat sy hele argument teologies en histories onhoudbaar maak.
Daar was ook ‘n diep logiese en historiese noodsaaklikheid vir hierdie gehoorsaamheid: die Verlosser moes die mislukking van die eerste mens kom herstel. Die eerste mens, Adam, het in rebellie en ongehoorsaamheid verval (Genesis 3:6). Christus kom as die “Laaste Adam” (1 Korintiërs 15:45) om die mensdom te red deur die pad van volmaakte gehoorsaamheid te stap waar Adam gefaal het. Soos Romeine 5:19 dit stel: “Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Een baie tot regverdiges gestel word.” In die hemel kan God nie aan God gehoorsaam wees nie, want daar is net een goddelike wil. Maar toe die Seun as mens gebore is, het Hy ‘n egte menslike wil aangeneem wat vrywillig en perfek aan die goddelike wil ondergeskik was—dink maar aan Sy woorde in Getsemané: “Nogtans nie my wil nie, maar u wil.” (Lukas 22:42; Matthéüs 26:39; Johannes 6:38).
Wanneer kritici dus Jesus se gehoorsaamheid gebruik om te beweer dat Hy minder as God is, verwar hulle bloot ‘n tydelike rol met Sy ewige identiteit. As ‘n aardse seun in sy vader se besigheid werk en sy vader se opdragte uitvoer, beteken dit nie die seun is minder “mens” as sy vader nie. Hulle deel presies dieselfde menslike natuur, al is die seun vir die doel van die werk funksioneel aan die vader ondergeskik. Net so deel Christus die ewige, ongeskape natuur van Godheid met die Vader (Johannes 1:1, 14; 8:58), maar vir die uitvoering van ons redding het Hy vrywillig die pad van gehoorsaamheid gekies—selfs tot die dood toe aan die kruis (Hebreërs 5:8-9; 12:2).
5. Deuteronomium 18: Die Misverstand van die “Profeet”
Van Huyssteen haal Deuteronomium 18 aan asof dit die finale, eksklusiewe woord oor Jesus se identiteit is, en vra ten opsigte van Johannes 6:14: “Question, did they say this is of the truth that God should come into the world? No. Why? Because the prophet said that God would send his son into the world. They were all at the time expecting this prophet like Moses to make his appearance… Question, were they expecting God himself to come or this prophet like Moses?”
Hierdie redenering ignoreer die groter Ou-Testamentiese konteks. In die Ou Testament word God se optrede dikwels beskryf as ‘die koms van YHWH’. Maleagi 3:1 sê: ‘Kyk, Ek stuur My boodskapper… en skielik sal die Here wat julle soek, na Sy tempel kom.‘ Hier is ‘n duidelike profetiese onderskeid: Die boodskapper (Johannes die Doper) kom voor die Here (YHWH) uit, wat self na Sy tempel toe kom. Jesus is die Profeet wat deur Moses belowe is, én Christus is die Here (YHWH) wat na Sy tempel kom. Die een rol sluit geensins die ander uit nie. Die Ou Testamentiese profeet Jesaja het voorspel dat God in die vlees as ‘n mens gebore sou word, naamlik: “Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors.” (Jesaja 9:5)
6. Johannes 10: Is Jesus “God” of die “Seun van God”?
Van Huyssteen probeer Johannes 10 gebruik om Jesus se goddelikheid te ontken deur te argumenteer dat Jesus die Fariseërs reggewys het toe hulle Hom van Godheid beskuldig het. Hy skryf: “So the Pharisees are making a claim that Yeshua is claiming to be God, just like you Christians are doing today. Now see how Yeshua corrects them. You say of him who the father has sanctified and sent into the world, thou blaspheme, because I said I am the son of God.”
Hier begaan Van Huyssteen ‘n ernstige fout in redenasie. Jesus gebruik hier ‘n klassieke Hebreeuse a fortiori argument (van die minder na die meer). Hy sê in wese: “As julle eie wet selfs feilbare menslike regters wat die woord van God ontvang het, ‘gode’ noem (soos in Psalm 82), hoe kan julle My van godslastering beskuldig omdat Ek sê Ek is die Seun van God—Ek, wat deur die Vader geheilig en spesifiek in die wêreld gestuur is?” (sien Jesaja 9:5 onder punt 5 hierbo)
Die Here Jesus Christus ontken nie Sy goddelikheid nie; Hy wys bloot op die skynheiligheid en inkonsekwentheid van die Fariseërs. As hulle die regters in Psalm 82 as “gode” aanvaar, is dit dubbele standaarde om Hom te stenig vir ‘n unieke, veel groter aanspraak. Boonop sê Hy in Johannes 10:30: “Ek en die Vader is een.” Hierdie uitspraak is die teologiese sleutel wat die hele hoofstuk ontsluit, en die Fariseërs het dit ook presies so verstaan, want dadelik daarna probeer hulle Hom weer gevange neem.
7. Die Logiese Noodsaaklikheid van die Drie-eenheid
Die Drie-eenheid is nie ‘n “valse doktrine” soos beweer word nie; dit is die enigste logiese en skriftuurlike verklaring vir die Bybel se drievoudige getuienis dat:
- Daar net een God is (Deuteronomium 6:4).
- Die Vader is God.
- Die Seun is God (Johannes 1:1, Titus 2:13).
- Die Heilige Gees is God (Handelinge 5:3-4).
As Jesus nie God is nie, wie verlos ons? (Psalm 49:7-9; Jesaja 43:11). As Jesus ‘n skepsel is (selfs ‘n verhewe profeet), dan aanbid Christene ‘n skepsel, maar die Skrif verbied dit pertinent en sê ons mag net die Skepper aanbid (Eksodus 20:3; Romeine 1:25); tog sien ons dat Jesus deur sowel engele as mense aanbid word (Matteus 2:11; Hebreërs 1:6). As Jesus nie God is nie, kan Sy dood nie die ewige, oneindige skuld van sonde teen ‘n heilige God betaal nie (Psalm 49:7-8; 1 Johannes 2:2). ‘n Blote mens kan nie die sondes van die hele wêreld dra nie; slegs God self het die kapasiteit om dit te doen (Jesaja 44:6; Handelinge 20:28). Die Drie-eenheid is die enigste ware God (Deuteronomium 6:4; Jesaja 45:21-22); Hy alleen kan die mens verlos (Jesaja 43:11; Handelinge 4:12).
Van Huyssteen beskuldig Christene daarvan dat hulle “eie begrip” volg omdat hulle die Ou Testament “verlaat”. Dit is intens ironies, want sy eie aanbieding verlaat die Ou-Testamentiese getuienis van die Engel van die Here (wat as God geïdentifiseer word en tog apart van YHWH optree, soos in Genesis 16:7-13, Genesis 22:11-18 en Eksodus 3:2-6) asook die meervoudige verwysings na God (soos in Genesis 1:26, “Laat Ons mense maak”; asook Genesis 3:22 en Genesis 11:7).
Om die Skrif reg te verstaan, moet mens nie die Nuwe Testament gebruik om die Ou Testament te ignoreer nie, en mens moet ook nie die Ou Testament gebruik om die duidelike openbarings van die Nuwe Testament weg te redeneer nie. Hulle vorm saam een onverdeelbare openbaring van God.
8. Waarom die “Profeet-alleen” Siening Dodelik is
Logies gesproke, as Jesus slegs ‘n profeet is:
- Dan is ons redding onmoontlik: ‘n Skepsel (selfs ‘n profeet) kan nie die ewige, oneindige skuld van die mensdom teenoor ‘n heilige God betaal nie (Psalm 49:7-9; Jesaja 43:11). Slegs ‘n oneindige Persoon kan ‘n oneindige skuld versoen (Handelinge 20:28; 1 Johannes 2:2).
- Dan is aanbidding afgodery: Die hele Christelike geloof is gebaseer op die aanbidding van die Here Jesus Christus (Matteus 2:11; Johannes 20:28). As Hy net ‘n mens is, dan is die hele geskiedenis van die kerk niks anders as growwe afgodery nie (Eksodus 20:3; Romeine 1:25). Dit is waarom die volgelinge van Christus, wat Hom reeds as God aanbid het, in Antiochië vir die eerste keer Christene genoem is (Handelinge 11:26). Sou die vroeë kerk Jesus bloot as ’n wyse leraar of profeet beskou het, sou hulle waarskynlik bloot as ‘n nuwe godsdienstige filosofie binne die Jodedom gesien gewees het; maar juis omdat hulle Jesus as God aanbid het—ten spyte van die spanning met die Romeinse keiseraanbidding en die Joodse monoteïstiese verbod—is hulle as ‘n unieke en radikale groep onderskei wat nie bloot ‘n leerstelling nie, maar ‘n goddelike Persoon aanbid het.
In sy misplaaste poging om die Skrif van ‘n sogenaamde ‘valse doktrine’ te ‘red’, vernietig Jason van Huyssteen die hart van die Evangelie. Hy maak van Jesus ‘n mooi voorbeeld om te volg, maar ontneem Hom die krag om te red (Romeine 1:16; 1 Korintiërs 1:18).
9. Die “Ander Jesus” Waarskuwing
In sy aanbieding haal Van Huyssteen 2 Korintiërs 11:3-4 aan as ‘n waarskuwing aan Christene. Hierdie gedeelte is egter juis ‘n kragtige waarskuwing teen diegene wat, soos hy, die ware evangelie probeer verander. Die apostel Paulus skryf daar: Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval.”
Die evangelie wat deur die apostels verkondig is, is ten diepste die boodskap van versoening deur die God-Mens, Jesus Christus (2 Korintiërs 5:19; Kolossense 2:9). Om Jesus te reduseer tot ‘n blote profeet, is om die kern van hierdie boodskap uit te rafel en die evangelie kragteloos te maak (1 Korintiërs 1:23-24). Van Huyssteen verkondig ‘n ander God (deur die Drie-eenheid te ontken), ‘n ander Christus (deur te ontken dat Christus die tweede Persoon in die Godheid/Drie-eenheid is), en gevolglik ‘n ander evangelie—een wat die menslike rede bo die goddelike openbaring stel en presies dit doen waarteen Paulus hier so ernstig waarsku (Galasiërs 1:8-9; 2 Korintiërs 11:4).
10. ‘n Oproep tot die Waarheid
Die metode wat Jason van Huyssteen deurlopend gebruik (“Looking like a fool yet?”), is nie ‘n geldige teologiese argument nie; dit is ‘n retoriese taktiek wat bedoel is om te intimideer. Die waarheid word egter nie in spotterny gevind nie, maar in die nederige onderwerping aan die hele Skrif.
Die apostel Paulus het gewaarsku teen mense wat ‘ander evangelies’ preek (Galasiërs 1:8). Die evangelie wat deur die apostels verkondig is, is die boodskap van die God-Mens, Jesus Christus, wat gesterf het en opgestaan het (1 Korintiërs 15:3-4). Om Hom te reduseer tot ‘n blote profeet is om die ‘eenvoud wat in Christus is’ (2 Korintiërs 11:3) te verruil vir ‘n mensgemaakte filosofie wat die Skrif selektief lees om by ‘n voorafbepaalde agenda te pas (Kolossense 2:8).
Dit laat immers die deurslaggewende vraag ontstaan: Hoe kon Christus sê dat Hy Sy eie lewe aflê en dit self weer opneem, terwyl die Skrif terselfdertyd verklaar dat God Hom uit die dood opgewek het, as Hy nie self God is nie? “Daarom is die Vader My lief, omdat Ek my lewe aflê om dit weer te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer te neem.”(Johannes 10:17-18) Vanuit ‘n suiwer logiese oogpunt skep die Skrif ‘n skynbare teenstrydigheid as Jesus bloot ‘n mens of profeet was. Aan die een kant verklaar die Nuwe Testament deurlopend dat God die Oorsaak van die opstanding is en dat Hy Jesus uit die dood opgewek het (Handelinge 2:24). Aan die ander kant verklaar Jesus in Johannes 10:18 onomwonde dat niemand Sy lewe van Hom neem nie, maar dat Hy self die mag besit om dit af te lê en dit weer op te neem. As Jesus net ‘n gewone menslike skepsel soos Moses was, sou hierdie twee getuienisse mekaar reglynig weerspreek en logies uitsluit. ‘n Dooie mens besit immers geen lewensbepalende krag, wil of agentskap nie en is heeltemal passief. Dit is logies onmoontlik vir ‘n blote skepsel om terselfdertyd die passiewe voorwerp van ‘n opstanding én die aktiewe, lewende Oorsaak van daardie selfde opstanding te wees.
Die enigste manier om hierdie oënskynlike teenstrydigheid op te los sonder om die teks te verdraai, is om te erken dat Jesus se wil en krag identies is aan God se eie wil en krag. Die opstanding is in werklikheid ‘n gesamentlike daad van die Drie-enige God, waarin dieselfde ongeskape natuur en mag gedeel word: die Vader wek die Seun op (Galasiërs 1:1), die Seun wek Homself op (Johannes 2:19; 10:18), en die Heilige Gees neem aktief deel aan hierdie opwekking (Romeine 8:11). As Jesus die mag gehad het om Homself uit die dood op te wek terwyl Hy in die graf was, bewys dit dat Hy ‘n ewige, goddelike natuur besit wat groter as die dood self is. Johannes 10:17-18 dien dus as deurslaggewende bewys dat Christus nie bloot die ontvanger van God se krag was nie, maar die selfbestaande Bron daarvan, wat die “profeet-alleen”-siening logies heeltemal vernietig.
Die Skrif is nie ‘n legkaart waar jy die stukke wat jou nie pas nie, kan weggooi nie. Die Skrif getuig van begin tot end van die Vader, die Seun en die Heilige Gees (Matteus 28:19). Jesus is die Profeet (Handelinge 3:22), die Priester (Hebreërs 4:14) en die Koning (Openbaring 19:16)—maar Hy is ook, en bowenal, die Seun van God wat as God in die vlees gekom het om die wêreld te red (Johannes 1:1,14; 1 Johannes 4:14). Die leser word aangeraai om ook die artikel “Ontleding van Menorah Tabernakel en die Hebreeuse Wortels-dwaling” te lees.
Ter Afsluiting
Die argument dat Jesus slegs ‘n profeet is en nie God nie, is gebaseer op die isolering van verse en die ignoreer van die kumulatiewe getuienis van die hele Bybel. Die Jode het Jesus se aansprake as godslasterlik verstaan, omdat hulle geweet het Hy maak aanspraak op Godheid (Johannes 5:18, Johannes 10:33). Die dissipels het Hom aanbid as “Here en God” (Johannes 20:28, Matteus 28:17). Die apostels het Hom verkondig as die een in wie “al die volheid van die Godheid liggaamlik woon” (Kolossense 2:9).
Om Jesus as God te erken, is nie om Moses of die profete te verwerp nie; dit is om te sien waarheen hulle almal gewys het (Lukas 24:27, Johannes 5:46). Moses het gesê daar sal ‘n profeet kom (Deuteronomium 18:15), maar hy het ook geskryf van die Skepper wat die hemel en aarde gemaak het (Genesis 1:1). Daardie Skepper het in die volheid van die tyd (Galasiërs 4:4) mens geword in Jesus Christus (Johannes 1:3,14).
Om Jesus as God te aanbid is die mees logiese, Bybelgetroue en histories akkurate posisie wat enige denkende mens kan inneem. Diegene wat beweer dat Hy slegs ‘n profeet is, mis nie net die betekenis van die Skrif nie; hulle mis die enigste Een wat die krag het om te red (Handelinge 4:12). Die Here Jesus Christus is God in die vlees, net soos wat die profete vooraf verklaar het: “Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors.” (Jesaja 9:5) En onthou Christus se woorde aan sy dissipels “As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien.” (Johannes 14:7)
Seën groete.