gee jou lewe vir Jesus

Die gevaar van “gee jou lewe vir Jesus”

As jy al ooit ‘n evangelisasie-byeenkoms of kerkdiens bygewoon het, het jy dit heel moontlik al gehoor: “Kom vorentoe en gee vanaand jou lewe vir Jesus.” Hierdie frase is so diep ingeburger dat dit selde teologies bevraagteken word. Alhoewel dit dikwels uit ‘n opregte begeerte gebruik word om mense na God toe te roep, skep dit ernstige verwarring oor hoe ‘n mens werklik gered word.

Wanneer ons die Bybel vanuit ‘n konsekwente, letterlike en grammatikaal-historiese hoek ontleed, word een ding vinnig duidelik: hierdie manier van praat draai die Evangelie om. Verlossing word nie ontvang deur jou lewe vir Christus te gee nie. Verlossing word uitsluitlik ontvang deur te glo in Christus wat Sý lewe vir jou gegee het. Die frase “gee jou lewe vir Jesus” verwar die gratis geskenk van die ewige lewe met die hoë prys van dissipelskap. Dit maak van genade ‘n besigheidstransaksie.

Christus is die Gewer — die Sondaar is die Ontvanger

Die Bybelse Evangelie stel Jesus Christus deurlopend voor as die Gewer van die ewige lewe. Die verlore sondaar is uitsluitlik die leëhand-ontvanger van hierdie genadedaad. Die mens het niks van eie waarde wat hy aan ‘n heilige God kan bied om sy sondeskuld te delg of verlossing te verdien nie. Wanneer ons die Heilige Skrif in sy natuurlike, letterlike sin lees, sien ons dat die inisiatief en die voorsiening geheel en al van God af kom.

Die apostel Paulus beklemtoon in Romeine die absolute kontras tussen dit wat die mens verdien en dit wat God skenk. Die loon van die sonde is die dood — ‘n verdiende uitkoms. Die ewige lewe is egter ‘n genadegawe. ‘n Geskenk kan per definisie nie gekoop, verdien of omgeruil word vir die mens se eie beloftes van toegewydheid nie: “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, ons Here.” (Romeine 6:23)

Jesus herhaal hierdie fundamentele waarheid wanneer Hy oor Sy skape praat. Hy verklaar eksplisiet dat Hy aan hulle die ewige lewe gee, en dat hulle nooit verlore sal gaan nie: “En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.” (Johannes 10:28) “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo, het die ewige lewe.” (Johannes 6:47)

Jy kan nie die gawe van die ewige lewe by Christus koop deur om jou lewe vir Hom te gee nie. Insien jy dit probeer doen verwerp jy die evangelie van God se genade en vervang dit met ‘n ruiltransaksie.

Christus het Sy lewe vir ons gegee

Die Evangelie fokus nie op dit wat die mens vir God kan gee nie, maar op dit wat Christus reeds ten behoewe van die mens volbring het. Die meganisme van verlossing rus op die plaasvervangende offer van Jesus Christus aan die kruis. Hy het in die plek van die sondaar gestaan en die volle straf vir die sonde op Hom geneem. “wat Homself gegee het vir ons sondes, sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld, volgens die wil van onse God en Vader” (Galasiërs 1:4) Ons verlossing is gekoop met die kosbare bloed van Christus — nie met die mens se beloftes om sy lewe te hervorm of aan God te wy nie.

Daarby beklemtoon die Skrif dat God Sy liefde aan ons bewys het juis toe ons nog sondaars was (Romeine 5:8). Christus het nie gesterf vir mense wat belowe het om hul lewens aan Hom te gee nie; Hy het gesterf voor goddeloses wat volkome hulpeloos was. Jesus verklaar Sy eie missie duidelik in Markus 10:45: “Want die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.”Toe Jesus aan die kruis uitgeroep het “Dit is volbring!” (Johannes 19:30), het Hy aangedui dat die mensdom se sondeskuld ten volle betaal is. Daar bly niks vir die mens oor om by te voeg tot die betaling van sy sondeskuld nie.

Dit voeg ‘n vae voorwaarde by die Evangelie

Wat beteken dit grammatikaal en prakties wanneer daar van ‘n ongelowige vereis word om “sy lewe vir Christus te gee”?

• Beteken dit hy moet elke terrein van sy lewe volkome oorgee voordat hy gered kan word?

• Beteken dit hy moet eers elke bekende sonde laat vaar?

• Of impliseer dit ‘n plegtige belofte van lewenslange gehoorsaamheid en die prysgawe van alle persoonlike ambisies?

Geen mens kan objektief bepaal of hy alreeds “genoeg” van sy lewe vir God gegee het nie. Selfs as gelowiges struikel ons nog. Enige sonde demonstreer dat daardie spesifieke aspek van ons lewe op daardie oomblik nie onder God se beheer was nie. Hierdie vaagheid dwing die soeker na angstige introspeksie eerder as na die aanskouing van Christus: “Was my oorgawe opreg en volkome genoeg?”

Die Bybelse vraag is onmeetlik duideliker: “Het ek in Jesus Christus geglo vir die ewige lewe wat Hy beloof?” Die Bybelse voorwaarde is ‘n enkele, duidelike aksie van die gees — om God te glo op Sy Woord rakende die volbragte werk van Sy Seun. Lees gerus ook die artikel “Ons Kan nie God vir Sy genade beloon nie”.

Dit verwar geloof met toegewydheid

Vanuit ‘n suiwer skriftuurlike perspektief moet ons die Bybelse definisie van geloof (pistis) suiwer hou. Geloof beteken om oortuig te wees van die waarheid van ‘n stelling, of om te berus in die betroubaarheid van ‘n persoon en sy belofte. Saligmakende geloof is die volle vertroue op Jesus Christus alleen vir die geskenk van die ewige lewe.

Reddende Geloof is nie die volgende dinge nie:

• ‘n Belofte om in die toekoms gehoorsaam te wees nie.

• ‘n Onderneming om jou lewenswyse te hervorm nie.

• ‘n Gewilligheid om te ly of te dien nie.

• ‘n Plegtige gelofte van lewenslange toegewydheid nie.

Wanneer menslike oorgawe en gehoorsaamheid binne-in die definisie van saligmakende geloof ingepers word, word geloof ongemerk verander in ‘n menslike werk. Paulus tref hieroor ‘n duidelike kontras: “Aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.” (Romeine 4:5)

Dit verwar verlossing met dissipelskap


‘n Fundamentele pilaar van die Klassieke Vrye Genade-teologie is die duidelike onderskeid tussen verlossing en dissipelskap. Dit is twee onderskeie onderwerpe in die Skrif met verskillende voorwaardes, verskillende kostes en verskillende resultate.

Die Here Jesus roep gelowiges inderdaad op tot radikale dissipelskap (Lukas 9:23). Paulus vermaan gelowiges ook om hul liggame te stel as ‘n lewendige offer (Romeine 12:1). Hierdie uitnodigings is egter verantwoordelikhede wat gerig is aan mense wat reeds gelowiges is. Dit is nie voorwaardes om gered te word nie.

Verlossing is ‘n gratis gawe (Romeine 6:23; Efesiërs 2:8-9). Dissipelskap is uiters kostelik (Lukas 14:27-33).

Verlossing vind plaas op die presiese oomblik wanneer ‘n persoon glo (Johannes 5:24). Dissipelskap is ‘n lewenslange proses van geestelike groei en gehoorsaamheid (2 Petrus 3:18).

Verlossing bepaal die mens se ewige bestemming en red hom van die ewige oordeel (Johannes 3:18). Dissipelskap het betrekking op gemeenskap met God, bruikbaarheid in Sy koninkryk, goddelike tugtiging in hierdie lewe en ewige belonings by die regterstoel van Christus (1 Korintiërs 3:11-15; 2 Korintiërs 5:10).

Wanneer die voorwaardes van dissipelskap voorgestel word as voorwaardes vir verlossing, word die Evangelie vervals en verander genade in ‘n nuwe vorm van wettiesheid. Om die vereiste om “jou lewe vir Christus te gee” by slegs geloof in dit wat Christus aan die kruis vir jou gedoen het te voeg is om ‘n werke evangelie te verkondig.

Die erns van dissipelskap: Hoekom dit nogtans lewensbelangrik is:

Om te beklemtoon dat die gee van jou lewe nie ‘n voorwaarde vir verlossing is nie, beteken glad nie dat dissipelskap onbelangrik is nie. Die Nuwe Testament roep elke gelowige dringend op om hul lewe volkome vir Christus in te wy (Romeine 12:1; 2 Korintiërs 5:15). Om as ‘n reeds-geredde gelowige nie jou lewe vir Hom te gee nie, dra ernstige gevare en konsekwensies: dit lei tot geestelike stagnasie (Hebreërs 5:11–14; 2 Petrus 1:8–9), die verlies aan ewige belonings by die regterstoel van Christus (1 Korintiërs 3:12–15; 2 Korintiërs 5:10), goddelike tugtiging in hierdie lewe (Hebreërs 12:5–8; 1 Korintiërs 11:30–32), en ‘n kragtelose getuienis wat ander van die Here kan vervreem (Matteus 5:13, 16; Titus 2:7–8). Ons gee dus nie ons lewens om gered te word nie, maar ons gee ons lewens vol dankbaarheid omdat ons reeds gered is (1 Johannes 4:19; Efesiërs 2:8–10) — en die geestelike prys van ‘n ongehoorsame “gemaksone-christenskap” is ontsaglik hoog (Lukas 14:28–33).

Dit ondermyn jou verlossingssekerheid

Wanneer verlossing beskryf word as “om jou lewe vir Christus te gee”, word jou sekerheid afhanklik van die kwaliteit en volhoubaarheid van jou eie oorgawe (Galasiërs 3:1–3). Dit beroof die gelowige van vrede (Romeine 5:1). Jy begin wonder:

• “Was my oorgawe op daardie oomblik eg genoeg?”

• “Het ek miskien onbewustelik terreine teruggehou?”

• “Bewys my huidige struikeling dat ek my lewe nooit werklik vir Christus gegee het nie?”

Bybelse verlossingssekerheid rus nie op jou graad van toegewydheid nie (Efesiërs 2:8–9; Romeine 4:4–5). Dit rus uitsluitlik op die onveranderlike belofte van Jesus Christus (Johannes 3:16; Johannes 5:24; Johannes 6:47) en Sy voltooide werk aan die kruis vir jou (Johannes 19:30; Hebreërs 10:10, 14). Ons koop nie die ewige lewe deur ons lewens as betaling aan te bied nie (Romeine 6:23; Jesaja 55:1).

Beter en suiwerder Bybelse taalgebruik

Ten einde die suiwerheid van die Evangelie te bewaar, moet ons terminologie gebruik wat presies ooreenstem met die Skrif. In plaas daarvan om vir ongelowiges te sê: “Gee jou lewe vir Christus,” behoort ons die duidelike taal van die Nuwe Testament te gebruik:

• Glo in Christus, wat vir jou sondes gesterf het en uit die dood opgestaan het, vir die ewige lewe wat Hy beloof.” (1 Korintiërs 15:3-4)

• “Glo in die Here Jesus Christus, en jy sal gered word.” (Handelinge 16:31)

• “Glo in Jesus Christus vir die ontvangs van die ewige lewe.” (Johannes 3:16)

• “Ontvang God se genadegawe van die ewige lewe deur in Sy Seun te glo.” (Romeine 6:23)

Nadat iemand tot geloof in Christus gekom het en die ewige lewe as ‘n gratis gawe ontvang het, is dit ten volle Bybels om te sê: “Omdat Christus Sy lewe vir jou gegee het, kies nou om jou lewe vir Hom te leef.” Hierdie volgorde bewaar die kritiese verskil tussen die ontvangs van verlossing en die uitleef van dissipelskap.

Ter afsluiting

Die uitdrukking “om jou lewe vir Christus te gee” kan gebruik word om toegewydheid of heiligmaking te beskryf, maar dit mag nooit gebruik word om te verduidelik hoe ‘n mens gered word nie.

Die Evangelie handel nie oor wat die sondaar beloof om vir Jesus te gee nie. Dit handel oor wat Jesus Christus reeds vir die sondaar gedoen het en die ewige lewe wat Hy verniet gee aan elkeen wat in Hom glo. Mense se siele is op die spel, en hierdie stryd word met die presisie van ons woorde geveg.

‘n Ware gelowige is iemand wat op ‘n spesifieke punt in tyd geglo het (Johannes 5:24; Handelinge 16:31) dat Jesus Christus die Seun van God is (Johannes 20:31; 1 Johannes 5:1), dat Hy vir al sy sondes — verlede, hede en toekoms — aan die kruis gesterf het (1 Korintiërs 15:3; Kolossense 2:13–14; Hebreërs 10:12, 14), en dat Hy op die derde dag uit die dood opgestaan het (1 Korintiërs 15:4; Romeine 10:9).

Glo jy dit?

Seën groete.

Deel met ander asb.