Sleutelwoord se argiewe: Adam en Eva

Die duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref. Deel 6

Dit moet in gedagte gehou word dat die Here Jesus Christus slegs van buite Sy wese deur die duiwel versoek kon word. Die duiwel het Hom genader met voorstelle wat bedoel was om Hom so ver te kry om teenstrydig met God die Vader se wil op te tree. Maar in teenstelling met ons, kon die Here Jesus Christus nie van binne Homself versoek word nie. Ons, as gevalle wesens, beskik huidiglik oor ‘n sonde natuur, wat tydens die sondeval bekom is, en word soms vanuit ons sonde natuur versoek sonder dat die duiwel ons enigsins versoek.
Mat 15:16 “maar Jesus sê: Is julle dan ook nog sonder verstand? 15:17 Begryp julle nog nie dat alles wat in die mond ingaan, in die maag kom en in die heimlikheid uitgewerp word nie? 15:18 Maar die dinge wat uit die mond uitgaan, kom uit die hart, en dit is dié wat die mens onrein maak. 15:19 Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal. 15:20 Dit is hierdie dinge wat die mens onrein maak; maar om met ongewaste hande te eet, maak die mens nie onrein nie.”
En onthou, God versoek niemand met sonde nie, maar ons word eerder deur ons bose begeertes vanuit ons gevalle sonde natuur versoek.
Jak 1:13 “Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. 1:14 Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. 1:15 Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.”
Die Here Jesus Christus beskik egter nie oor ‘n sonde natuur nie, en derhalwe was daar niks binne in Hom wat daartoe sou bydra dat Hy vanuit hierdie posisie deur die duiwel versoek sou word nie.
Joh 14:30 “Ek sal nie veel meer met julle spreek nie; want die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie.
1Jo 3:5 En julle weet dat Hy verskyn het om ons sondes weg te neem, en geen sonde is in Hom nie.”

Lees meer Die duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref. Deel 6