Sleutelwoord se argiewe: Word met die Gees Vervul

Doop met die Heilige Gees vs Vulling met die Heilige Gees

Daar heers huidiglik groot verwarring rondom die kwessie van doop met die Heilige Gees en vulling met die Heilige Gees. Baie mense gaan dus van plek tot plek om die teenwoordigheid van die Gees te beleef, of om daar deur die Heilige Gees gedoop te word, en dit in teenstelling met die feit dat God dit baie duidelik in Sy woord (die Bybel) stel dat die gelowige wat tydens die Dispensasie van Genade/Kerk lewe slegs een maal met die Heilige Gees, by wedergeboorte, gedoop word, en daarna word dit van die gelowige verwag om met die Gees gevul te word, wat nie ‘n eenmalige gebeurtenis is nie, maar wat ‘n gereelde/herhalende gebeurtenis in die gelowige se lewe behoort te wees, en waar die vulling met die Gees van die gelowige se samewerking afhang en word daar geensins bedoel dat die gelowige die Gees by byeenkomste weer moet vang of die Gees aan ander oor te dra nie. (voorbeelde van hierdie mistasting is die sogenaamde “Catch the fire” konferensies of waar dit beweer word dat die Gees by ‘n gegewe samekoms teenwoordig was. Hierdie terme skep die idee by mense dat die Heilige Gees slegs op sekere konferensies en samekomste teenwoordig is, en dit in teenstelling met die Bybel se opdrag om met die Gees vervul te word, en dit maak nie saak waar die gelowige homself mag bevind nie. Baie keer word dit beweer dat die Heilige Gees by die spesifieke samekoms teenwoordig was. Is Hy dan nie altyd in die gelowige teenwoordig nie? In hierdie artikel gaan hoofsaaklik van twee afsonderlike teksgedeeltes gebruik gemaak word om die onderskeid tussen die doop met die Heilige Gees en die vulling met die Gees te kontrasteer, wat tot ‘n groot mate hierdie misverstand sal opklaar en meer duidelikheid rondom hierdie aangeleentheid sal verskaf.
Lees meer Doop met die Heilige Gees vs Vulling met die Heilige Gees

Word met die Gees Vervul

Efs 5:18 “Moenie dronk word van wyn nie—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.”
Uit bostaande teksgedeelte is dit baie duidelik dat die apostel Paulus ons vermaan het om met die Heilige Gees vervuld te word. Hy praat nie hier van die ontvang van die Gees by wedergeboorte nie, maar die dag na dag vervulling met die heilige Gees na wedergeboorte.
1Ko 12:13 “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.”
Dit is belangrik om die onderskeid te merk. Anders as met wedergeboorte, waar die Heilige Gees outomaties in ons kom inwoon, omrede ons die Evangelie verstaan en geglo het, word die opdrag, om met die Gees vervuld te word, aan ons gegee en is ons samewerking nodig. ‘n Persoon ontvang die Heilige Gees net een keer wanneer hy die Evangelie op ‘n punt in tyd glo.  Die vraag wat dan egter ontstaan, is wat moet ons doen om met die Gees vervuld te word?  Om die antwoord te kry moet ons na die Bybel gaan en nie na buite Bybelse praktyke of tradisies nie. (Waarvan daar baie voorbeelde in die belydende Christendom is) Die Bybel is God se Woord, en ons moet ons leerstellings slegs vanuit die Bybel bekom en nie van menslike opinies, tradisies en vleeslike manifestasies wat met die Bybel in botsing is nie. Vervolgens ‘n paar riglyne vanuit die Bybel oor hoe ons deur die Gees vervul kan word, want dit is die wil van God vir al Sy kinders en nie net vir sommiges nie. Onthou, om met die Heilige Gees gedoop te word, is ‘n eenmalige proses wat met wedergeboorte plaasvind. Om met die Gees vervul te word is ‘n voortdurende proses waar ons moet toelaat om deur die Heilige Gees beheer te word. Lees meer Word met die Gees Vervul