Kindertjies

Gaan klein kindertjies hemel toe as hulle sterf?


Die onderwerp rakende babatjies, en klein kindertjies wat tot sterwe kom alvorens hulle die evangelie kon verstaan en glo kan nogmaals groot spekulasie veroorsaak. Daar is uitstaande teoloë wat beweer dat mens nie werklik met sekerheid kan verklaar dat kindertjies wat tot sterwe kom hemel toe sal gaan nie. Net omrede ‘n persoon verklaar dat babatjies wat tot sterwe kom outomaties hemel toe gaan beteken geensins dat dit wat die persoon verklaar noodwendig die waarheid is nie. Slegs indien ons teologiese stelsel met die woord van God versoenbaar is, kan dit as ‘n geldige Bybelse leerstelling aanvaar word. Onthou, net omrede ‘n persoon ‘n spesifieke proposisie glo beteken nie dat daardie proposisie noodwendig die waarheid is nie. ‘n Persoon mag dalk heel opreg glo dat die maan van kaas gemaak is, maar daar bestaan altyd die moontlikheid dat daardie persoon opreg verkeerd kan wees. Om hierdie rede is dit belangrik dat ons enige teologiese stelling wat ons maak vanuit die skrifte, binne die korrekte konteks, moet kan regverdig alvorens ons dit as leerstelling aanvaar. Ons moet nooit hierdie feit uit die oog verloor nie. Met die skryf van hierdie artikel sal ek poog om hierdie vraagstuk vanuit die skrifte te beantwoord en vra die leser om dit in lig van die skrifte te oorweeg.

Alhoewel alle mense in sonde gebore word blyk dit egter dat alle kinders eers ‘n spesifieke stadium van verstandelike ontwikkeling moet bereik alvorens God hulle vir hulle eie keuses verantwoordelik sal hou. Hierdie stelling geld ook vir volwasse mense wat nie oor die intellektuele vermoëns beskik om werklik onderskeid tussen goed en kwaad te kan tref nie. Die Here Jesus se volgende stelling bevestig hierdie feit, naamlik:
Joh.9:41 “Jesus antwoord hulle: As julle blind was, sou julle geen sonde hê nie; maar nou sê julle: Ons sien! Daarom bly julle sonde.”
Wat Jesus in bostaande teksgedeelte bedoel het, is dat indien die Fariseërs nie met insig dinge kon raaksien nie (dus nie oor die intellektuele vermoëns beskik het om tussen reg en verkeerd te onderskei nie) en nie in staat was om ingeligte besluite te kon maak nie, dan sou hulle sonde van ongeloof hulle nie toegereken word nie, maar nou dat hulle verklaar dat hulle kan sien (insig het) bly hulle verantwoordelik vir hulle sonde. As hierdie beginsel vir volwassenes geld, hoeveel te meer sal dit nie op kindertjies, wat nie tussen goed en kwaad kan onderskei nie, van toepassing wees nie?

Die ouderdom van toerekenbaarheid is ‘n leerstelling wat op grond van teologiese ekstrapolasie wat op grond van sekere teksgedeeltes gebaseer is, is net soos die leerstelling van die Drie-Eenheid ‘n Bybelse leerstelling. Moses verwys byvoorbeeld na kindertjies “wat vandag van geen goed of kwaad weet nie” (Deut.1:39) So ook verwys die skrifte die feit dat daar ‘n stadium in enige kind se lewe is waartydens hy nog nie oor die intellektuele vermoë beskik om tussen goed en kwaad te onderskei nie.
Jes.7:16a “Want voordat die seuntjie weet om te verwerp wat kwaad is en te kies wat goed is,”

Morele verantwoordelikheid voor God vereis dat ‘n persoon tot so ‘n mate verstandelik ontwikkel moet wees, sodat hy oor genoegsame intellektuele kapasiteit beskik, dat wanneer hy na die skepping om hom kyk, hy instinktief kan besef dat daar ‘n Skepper moet wees en om dan ‘n ingeligte keuse te maak of hy God gaan soek of die waarheid wat in sy hart openbaar is in ongeregtigheid te onderdruk. Die ouderdom van toerekenbaarheid word bereik wanneer die kind op ‘n punt kom waartydens hy die verstandelike vermoë beskik om die bestaan van ‘n Opperwese te kan besef, en dit sluit die feit dat die kind die eenvoudige boodskap van die evangelie kan verstaan en glo in. Die kind moet dus oor die verstandelike vermoë beskik om ‘n verantwoordelik-ingeligte keuse te kan maak of hy die evangelie gaan glo of nie. Vir ‘n kind om sodanige keuse te maak moet hy van God se bestaan bewus kan wees, omrede die Bybel onomwonde verklaar dat God Sy bestaan in die wêreld openbaar maak.
Rom.1:19 “omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. 20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;”

Hierdie leerstelling staan as die leerstelling van God se algemene openbaring bekend. Alle mense is die ontvangers van God se algemene openbaring. Hierdie leerstelling is gebaseer op die feit, dat alle mense deur waarneming van die skepping, God se ewige krag en goddelikheid kan waarneem, wat impliseer dat alle mense instinktief moet weet dat daar ‘n God van die skepping moet wees. Indien ‘n persoon positief op God se algemene openbaring reageer, en Hom met ‘n opregte hart soek, dan sal God verseker dat die persoon d.m.v spesiale openbaring (die Bybel) aan die evangelie blootgestel word. Wanneer sodanige persoon dan met die evangelie gekonfronteer word moet hy kies of hy die evangelie wil glo of nie. Om ‘n ingeligte besluit te kan neem, vereis by implikasie dat die persoon oor die nodige intellektuele vermoë, asook ‘n vrye wil moet beskik, om ‘n ingeligte keuse te kan maak waarvoor God hom dan verantwoordelik kan en sal hou.

Wanneer ‘n persoon dus God se algemene openbaring verwerp, dan verduister sodanige persoon se gemoed, en een wyse waarop hierdie verduistering uitdrukking vind, is dat die mens sy eie verduideliking vir die oorsprong van die skepping uitdink/opmaak. Die evolusieleer, asook afgodediens dien as mooi voorbeelde hiervan.
Rom.1: 18 “Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, 19 omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. 20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; (God se algemene openbaring) 21 omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister.”
Daar is dus nie ‘n probleem met God se openbaring nie, maar wanneer ‘n persoon se hart negatief t.o.v. God ingestel is, dan onderdruk hy in sy ongeregtigheid die waarheid wat God aan hom openbaar. Let op die stelling “omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. ”
Charles Darwin is ‘n baie mooi voorbeeld van so ‘n persoon.

Alle mense wat verstandelik normaal ontwikkel sal ‘n stadium bereik wanneer hulle intuïtief in hulle harte sal weet dat daar ‘n God is wat bestaan. Wanneer ‘n persoon daardie vlak bereik dan is hy voor God verantwoordbaar vir die keuses wat hy maak. Die opdrag om in die Here Jesus Christus vir verlossing te glo vooronderstel dat die persoon die nodige intellektuele vermoë beskik om die evangelie te verstaan en dan ‘n ingeligte wilsbesluit te maak of hy dit gaan glo of nie.
Joh.3:16 “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”
(Direkte openbaring)
Die ouderdom van toerekenbaarheid word dus bereik wanneer die kind die verstandelike kapasiteit beskik om oor God se bestaan te redeneer en sy eie gevolgtrekkings te kan vorm. Die ouderdom van toerekenbaarheid gaan dus van kind tot kind wissel en is van individuele kind se verstandelike kapasiteit/ontwikkeling afhanklik.

Enige persoon wat dus tot strewe kom, voordat hy die ouderdom van toerekenbaarheid bereik, gaan onmiddellik in die teenwoordigheid van God in. Hierdie feit geld ook vir enige persoon wat op die een of ander wyse nie die ouderdom van toerekenbaarheid kan bereik nie. Dit sluit alle mense in wat nie oor die intellektuele vermoë beskik om verantwoordelike en ingeligte keuse te maak nie. Baie Bybelkenners verklaar dat ‘n kind van 13 jaar oud die ouderdom van verantwoordelikheidsbesef bereik het, en hulle baseer hierdie siening op die Joodse tradisie wat verklaar dat ‘n kind op sy dertiende verjaarsdag die stadium van volwassenheid bereik. Dit moet egter genoem word dat die Bybel nêrens so ‘n stelling maak nie en daarom moet ons die saak verder ondersoek om tot ‘n ingeligte antwoord te kom. Daar is baie kinders wat so vroeg as vyf, en soms jonger die eenvoudige evangelie kan verstaan en glo en die Here wet wanneer ‘n persoon die nodige kapasiteit besit. Ongelukkig voeg baie teoloë so baie voorwaardes voor of aan die agterkant van die evangelie, en maak die hele proses van verlossing so ingewikkeld met die gevolg dat baie kinders wat die evangelie geglo het (en gered is) toe hulle kinders was later nie meer seker is of hulle werklik die evangelie geglo het of nie. Dit is ‘n tragedie waarvoor hierdie predikers aan God verantwoording sal moet doen, want dit lei later tot onnodige smart en angs in die kind se lewe. Hierdie stelling geld ook vir predikers wat die dwaalleerstelling van doopsaligheid verkondig. (Die leser word aangeraai om die artikel Generiese geloof vs Reddende geloof”, asook die artikel “Die proponente van werkheiligheid se herdefiniëring van geloof” en te lees.)

Nêrens in die Bybel vind ons die opdrag dat kindertjies wat nie in staat is om te glo, beveel word om te glo nie. Indien ‘n persoon die skrifte sorgvuldig bestudeer, dan is dit opvallend dat klein kindertjies nooit as verwerpers van God en Sy genade geklassifiseer word nie. Daarenteen is dit in alle gevalle volwassenes wat in sodanige opsig aangespreek word. Die Bybel verwys wel na die feit dat daar mense is wat nie oor die intellektuele vermoeë beskik om ‘n ingeligte keuse vir of teen God te maak nie (Joh.9:41), maar nêrens vind ons ‘n teksgedeelte wat meld dat sulke mense hel toe sal gaan nie. Alle babatjies/klein kindertjies, ongeag of hulle gedoop of nie gedoop is nie, sal outomaties die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid tydens hulle dood ontvang en veilig in die arms van Jesus rus. Hierdie feit sal as ‘n verassing vir baie mense kom wat die dwaalleer van doopsaligheid aanhang. Nêrens in die Skrifte vind ons die opdrag dat klein kindertjies gedoop moet word om te verseker dat hulle met hulle dood deel van die uitverkorenes sal wees nie. (Die leser word aangeraai om die artikel “Wil God alle mense verlos”, asook “Predestinasie, voorkennis en God se Soewereiniteit” te lees.)

Maar op grond van watter skriftuurlike beginsels kan God iemand wat nog nie in staat is om die evangelie te verstaan en glo nie red, wetende dat so ‘n persoon nog steeds in sonde gebore is en wat nog steeds onder die vloek van die sonde verkeer? Die antwoord: Die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid. Mense wat met verstandelike ontwikkelingsgestremdheid sukkel, en alle kindertjies wat nog nie genoegsaam ontwikkel het om ‘n werklike ingeligte besluit kan neem nie, ontvang outomaties in God se genade die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid omrede God regverdig is, en dit beteken dat Hy nie iemand verantwoordelik sal hou wetende dat daardie persoon nie oor die intellektuele kapasiteit beskik om ‘n ingeligte keuse te kan maak nie. ‘n Besluit vir, of teen God, vereis ‘n sekere graad van intellektuele kapasiteit om ‘n berekende keuse te maak om die evangelie te glo of om dit te verwerp. ‘n Persoon wat nie oor sodanige vermoë beskik nie ontvang in God se onbeperkte genade die Here Jesus Christus se toegekende geregtigheid.

Indien bogenoemde feite nie die waarheid was nie, dan sou Dawid nooit die volgende stelling oor sy baba kindjie kon maak nie, naamlik:
2Sam.12:21 “Toe vra sy dienaars hom: Wat is dit vir ‘n ding wat u gedoen het? Ter wille van die lewende kind het u gevas en geween, maar net toe die kind dood was, het u opgestaan en brood geëet. 22 En hy sê: Toe die kind nog in die lewe was, het ek gevas en geween, want ek het gedink: Wie weet — die HERE kan my genadig wees, sodat die kind in die lewe bly. 23 Maar nou is hy dood — waarom sou ek dan vas? Sal ek hom nog kan terugbring? Ek gaan na hom, maar hy sal na my nie terugkeer nie.”
Let op die stelling “Ek gaan na hom, maar hy sal na my nie terugkeer nie.” Ek lig hierdie feit uit omrede daar teoloë is wat beweer dat Dawid nie na die hemel verwys het nie, maar slegs die feit uitgelig het dat die kind in die doderyk (graf) is en dat hy ook eendag net soos sy kind in die graf neergelê sou word. Die konteks waarin Dawid die bostaande stelling gemaak het sluit so ‘n interpretasie heeltemal uit. Dawid was ‘n gelowige en was optimisties om eendag in God se teenwoordigheid te wees. Sy stelling dat hy na sy kind toe sou gaan, verklaar die feit dat hy oortuig was dat hy eendag weer met sy kind versoen sou word, en met hierdie vaste oortuiging het hy opgestaan en opgehou treur. Hy sou nie so kon optree indien daar ‘n moontlikheid was dat sy kind in die hel kon opeindig net omrede hy in sonde gebore is en God hom nie uitverkies om gered te word nie. Dit is duidelik dat Dawid geweet het dat hy weer eendag met sy kind versoen sou word, en hierdie feit dien as verdere bewys dat alle klein kindertjies outomaties hemel toe gaan.

Hierdie feit behoort ook as vertroosting, vir ouers wat hulle babatjies (en klein kindertjies) aan die dood afgestaan het, te dien. Indien die ouers gelowiges is kan hulle met absolute sekerheid weet dat hulle binnekort weer met hulle kindertjies in die hemel versoen sal word. Daarenteen is dit ook ‘n feit dat baie kindertjies die kans gegee word om op te groei en wat die stadium van toerekenbaarheid bereik en wat ongelukkig kies om die evangelie te verwerp. Gevalle soos hierdie is ‘n absolute tragedie en dit is kinders soos hierdie wat hulle ouers slaaplose nagte gee.

Ter afsluiting: Op grond van die feite soos in hierdie artikel weergegee, glo ek onomwonde dat kindertjies, wat tot sterwe kom voordat hulle die ouderdom van toerekenbaarheid bereik het, definitief hemel toe sal gaan. Ek sal self so ver gaan om te verklaar dat mens dogmaties oor hierdie onderwerp kan wees. Die Here Jesus Christus was boonop dogmaties oor hierdie feit toe Hy die volgende stelling gemaak het, naamlik:
Mark.10:14 “Maar toe Jesus dit sien, het Hy hulle dit baie kwalik geneem en vir hulle gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God.”

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.