Indien ons na die nuus kyk om sekerheid/vrede in die lewe te bekom dan maak ons ‘n ernstige fout. Die skrifte voorspel nie ‘n wêreld wat toenemend beter raak nie, maar eerder ‘n wêreld wat toenemend erger sal raak en wat eers tydens die Here Jesus Christus se wederkoms weer beter sal raak. (Die leser word aangeraai om die reeks artikels genaamd “Die Dispensasies” sorgvuldig te bestudeer. Indien ons eerlik is dan sal ons moet erken dat internasionale spanning besig is om vinnig toe te neem. Ons land se ekonomiese vooruitsigte lyk ook nie baie belowend nie. Baie mense is bekommerd oor hulle gesondheid juis omrede ons almal daarvan bewus is dat siekte enigeen van ons op enige tydstip kan oorval. Baie mense (soos byvoorbeeld myself) is van chroniese medikasie afhanklik waarsonder hulle nie kan klaarkom nie. Indien God verkies om nie hierdie mense op ‘n bonatuurlike wyse te genees nie, het hulle geen ander keuse as om op chroniese medikasie te bly tot en met die wegraping of dood hulle daarvan verlos nie. Indien die wegraping nie in ons lewe plaasvind nie is dit ‘n gegewe feit dat ons almal tot sterwe sal kom, ‘n feit waarmee elkeen van ons moet saamleef. Maar selfs in tye soos hierdie kan alle gelowiges vrede in alle omstandighede vind.
God het die mens met ‘n vrye wil geskape en Hy weet dat dit daartoe aanleiding sou gee dat die mens se optredes gevolge sal hê. Hy het ons immers daarvan gewaarsku.
Gal.6:7 “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.”
God het nie die mens se goddeloosheid gepredestineer soos wat baie calviniste verkeerdelik verkondig nie. Dit is die mens se eie optrede en boosheid wat die wêreld gebring het waar dit vandag staan, en die skrifte stel dit duidelik dat sake net sal vererger soos wat die einde van die Kerk Dispensasie nader kom, naamlik:
2Tim.3:1 “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. 2 Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, 3 sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, 4 verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; 5 mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.”
Soms help dit om hierdie werklikhede in ag te neem, en ons verwagtinge vir hierdie lewe te verlaag, nie op grond van ons gebrek aan geloof nie, maar eerder op grond van dit wat God in Sy woord openbaar. As voorbeeld is daar baie mense wat graag die hoogste vlak in hulle beroep wil bereik, maar wat dit nooit sal kan verrig nie, nie omrede hulle lui of onbekwaam is nie, maar omrede nepotisme of die kleur van hulle vel dit sal verhoed. Die gevolge van ander mense se dade is baie keer buite ons beheer. In baie gevalle dra ons die gevolge van ander se optredes in hierdie lewe. Indien ‘n land se goewerment korrup is en/of die verkeerde ekonomiese beleid nastreef, dan is dit gewoonlik die algemene man op straat wat die gevolge daarvan in hierdie lewe moet dra al het hulle geen aandeel in die regering se besluitneming gehad nie. Dit is juis die euwels soos hierbo (2Tim.3:1) weergegee wat die wêreld op die rand van die afgrond gebring het. Dit beteken geensins dat God nie vir ‘n getroue gelowige onder sulke omstandighede kan sorg nie. Hy kan en sal, maar dit beteken nie dat die gelowige alles wat hy begeer sal kry nie. Daar is gelowiges wat onder haglike omstandighede oorleef, maar hulle oorleef want die Here sorg vir hulle.
Indien ons nie ‘n gebalanseerde skriftuurlike verwysingsraamwerk handhaaf nie dan sal dit daartoe bydrae dat ons onnodiglik gefrustreerd raak indien ons nie al ons doelstellings in hierdie lewe verwesenlik nie. Die feit bly staan dat ons in ‘n gevalle wêreld lewe en dit is ook ‘n feit dat die meeste van ons nooit alles kry wat ons graag wil hê nie. Indien ons alles gehad het wat ons wou hê, dan sou ons geen verdere begeertes gehad het nie. (en dit sou boonop ‘n hemel op aarde gewees het) Ek glo nie daar is een mens in hierdie wêreld wat kan verklaar dat hy alles bereik het wat hy wou bereik het en dat hy niks kortkom nie. Ons almal weet byvoorbeeld dat ons oud word en dat met ouderdom daar sekere beperkings op ons geplaas word. Boonop neem ons gesondheid ook met tyd af en sal uiteindelik tot ons dood aanleiding gee. Al sou ek graag wou, laat my gesondheid dit nie toe dat ek byvoorbeeld Mount Everest sal kan uitklim nie. Vir my om nou so ‘n uitdaging aan te pak sou roekeloosheid wees en volgens die skrifte is roekeloosheid sonde. En wie van ons sou nie graag vir ewig jonk wou bly nie? In hierdie opsig sal die nastreef van persoonlike drome en doelstellings nie noodwendig geluk meebring nie. Daarom is dit belangrik om vanuit die skrifte te leer en sodoende sal ons onnodiglike teleurstellings en frustrasies vermy.
Om onrealistiese verwagtinge te koester, en na te streef sal eerder tot frustrasie aanleiding gee. ‘n Mooi voorbeeld hiervan is ‘n persoon wat lief vir geld is. Omrede hy nooit tevrede is met die hoeveelheid wat hy alreeds besit nie, sal hy altyd daarna streef om meer te maak al het hy meer as genoeg.
Pred.5:9 “Hy wat geld liefhet, kry nie genoeg van geld nie, en wie rykdom liefhet, nie van inkomste nie; ook dit is dan tevergeefs.”
So ‘n persoon jaag in effek na wind, omrede hy eendag tot sterwe sal kom en hy sal nie ‘n sent van sy rykdom saam met hom kan neem nie. Dieselfde beginsel geld vir ‘n persoon se ekonomiese, politiese asook sy sosiale stand in hierdie lewe. Nie een van hierdie drie dinge sal innerlike vrede verseker nie juis omrede alles in hierdie lewe net tydelik is. Daarom waarsku die skrifte ons teen enige vorm van gierigheid.
Luk.12:15 “En Hy sê vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie. 16 Toe vertel Hy hulle hierdie gelykenis: ‘n Ryk man se grond het goed gedra. 17 En hy het by homself geredeneer en gesê: Wat sal ek doen, want ek het geen plek waar ek my oes kan insamel nie? 18 Toe sê hy: Dit sal ek doen: ek sal my skure afbreek en groter bou, en ek sal daar al my opbrengste en my goed insamel. 19 En ek sal vir my siel sê: Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik. 20 Maar God het aan hom gesê: Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s’n sal dit wees? 21 So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie.”
(‘n Persoon is ryk in God wanneer hy binne die raamwerk van God se wil vir hom optree.)
Om binne die raamwerk van God se wil soms meer te begeer is nie noodwendig die sonde van hebsug nie. Dit is nie sonde om ‘n heilige Geesvervulde lewe te begeer of meer insig aangaande God se woord te begeer nie. Om na God te smag sal nooit sonde kan wees nie maar is eerder wenslik.
Ps.42:2 “Soos ‘n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God!”
Dit kan ook nie ‘n sonde wees om te smag om God se wil op aarde te volbring nie. Die vraag wat dan ontstaan is of dit sonde is om meer geld of aardse besittings te begeer as wat ons huidiglik het. Die antwoord op hierdie vraag is nie so eenvoudig nie, veral indien mens die volgende skrifgedeeltes in ag neem, naamlik:
1Tim.6:6 “Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ‘n groot wins. 7 Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie. 8 Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees. 9 Maar diewat ryk wil word, val in versoeking (om byvoorbeeld oneerlik te wees, te steel of hoogmoedig te wees) en strikke (soos om byvoorbeeld in rykdom vir sekuriteit te vertrou, wat niks anders as afgodediens is nie) en baie dwase en skadelike begeerlikhede (soos byvoorbeeld die begeerte om te roem, selfverheffing/selfverheerliking en om die mag wat met rykdom gepaardgaan te misbruik.) wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. (God se uiteindelike oordeel oor sulke sondes. Die gelowige wat homself aan hierdie sondes skuldig maak, sal in hierdie lewe getugtig word (insluitende siekte, of selfs vroeëre dood) en in die hiernamaals genadeloon verbeur. Die ongelowige sal vir ewig in die poel van vuur gepynig word.) 10 Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor. 11 Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid.” (wat niks anders as heiligmaking is nie)
Let wel, op sigself is rykdom nie ‘n sonde nie juis omrede die skrifte rykdom in sommige gevalle as ‘n seën voorhou. God het juis Salomo met rykdom geseën, omrede hy aanvanklik die regte dinge as die nuut aangestelde koning begeer het. Dit is geldgierigheid wat ‘n sonde is, nie geld of rykdom self nie. Om hierdie rede is dit belangrik om ook die volgende stelling van Jakobus in ag te neem, naamlik:
Jak.4:1 “Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? 2 Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie. 3 Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.”
Vanuit bostaande teksgedeelte is dit duidelik dat die Bybel nie ‘n begeerte om meer in die lewe te begeer veroordeel nie. Ambisie binne die raamwerk van God se woord/wil is nie ‘n sonde nie maar word eerder aangeprys. Dit gaan eerder oor die motiewe agter die begeertes en ambisie. Indien ‘n persoon meer geld wil maak omrede hy beter vir sy gesin wil sorg (alles binne die raamwerk van God se wil/woord) dan is die begeerte van die persoon se hart nie verkeerd nie. Dieselfde geld ook vir mense wat meer wil hê om sodoende ander in nood te help (ook slegs binne die raamwerk van God se wil/woord) of met die verkondiging van die woord te help se motiewe is suiwer en val binne die raamwerk van God se wil. (1Kor.5:17; Spr.3:9-10; 2Kor.9:10-11; Hand.20:35 ens). Let wel, daar is baie mense wat sê dat hulle God vir meer geld vra sodat hulle byvoorbeeld die armes kan help. Die vraag wat hulle eerder moet vra is wat hulle nou huidiglik met die geld wat hulle alreeds tot hulle beskikking het doen? Veral indien mens in ag neem dat die meeste van ons ryk in vergelyking met die apostels en meeste van die vroeë Christene is. Onthou God kyk na die motiewe van ons hart. Dit is iets om oor na te dink.
Onthou, alle ware behoeftes, soos byvoorbeeld voedsel en water, asook kameraadskap, is versadigbaar. Daarenteen is alle ongeoorloofde/bose begeertes, soos byvoorbeeld afguns, hebsug en hoogmoed, en vraatsug by implikasie onversadigbaar. In hierdie opsig is genoeg nooit genoeg nie en groter hoeveelhede word begeer om bevrediging te bewerkstellig, maar die stadium van bevrediging word nooit werklik bereik nie en daarom word nog meer begeer. A.g.v. hierdie onversadigbare drang val baie mense (wat gelowiges insluit) in “versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang.” Die gejaag na meer neem dan God se plek in die persoon se lewe oor en word die dryfkrag agter die persoon se optrede. (al doen hy dit in die naam van God soos byvoorbeeld die proponente van die Voorspoed Evangelie) In so ‘n geval is die persoon besig met afgodediens en hy het God se weë
verlaat en pleeg geestelike egbreuk. So ‘n persoon pleeg nie slegs sonde nie maar hy ly ook op baie ander vlakke verlies. Sy hart verhard byvoorbeeld en solank as wat hy in daardie toestand verkeer kan hy nie tot geestelike volwassenheid ontwikkel nie. Dan praat ons nie eers van die seer, trane en verwoeste lewens wat so ‘n persoon agterlaat nie en dit alles a.g.v. ‘n onversadigde drang na nog meer.
Dit is ‘n skriftuurlike feit dat ons almal nog steeds met ‘n sonde natuur sit en daarom is dit so dat dit wat ons vandag opgewonde maak more nie dieselfde uitwerking op ons het nie. Ons sien dit self in die huwelik. Na die verliefdheid afgeneem het skei baie mense. Vandag se nuwe kar gee aan ons ‘n onbeskryflike vreugde, maar oor ‘n maand of wat kla ons oor presies dieselfde kar en begeer ‘n duurder en mooier een. Is dit nie met alles so in die lewe nie?
Gierigheid strek verder as net liefde vir geld en die skrifte vereenselwig gierigheid met afgodediens want so ‘n persoon dien in effek dit wat hy begeer. ‘n Persoon pleeg afgodediens wanneer hy homself meer aan iets anders as God toewy en/of om meer in iets of iemand anders as God vertrou om in sy daaglikse behoeftes te voorsien. In hierdie opsig verklaar Paulus dat gierigheid/hebsug die sonde van afgodediens is, naamlik:
Kol.3:5 “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is, 6 waardeur die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom,”
Gierigheid/hebsug is ook die sonde van afgodery omrede ‘n hebsugtige hart dinge wat God geskape het meer begeer as wat hy God self begeer. Die gelowige wat met God tevrede is, sal ook tevrede wees met dit wat hy alreeds besit omrede hy weet dat God in al sy behoeftes sal voorsien. Daarenteen is ‘n gierige persoon nooit tevrede met wat hy alreeds besit nie maar streef altyd om meer geld, sukses of vriende (en enige iets anders) te versamel om sodoende veilig te voel en om sy vlees te behaag. In hierdie opsig vertrou die persoon meer op die dinge wat God aan ons gegee het as wat hy op God self vertrou, en daarom het hy altyd meer nodig en val hy uitmekaar as hy teenspoed beleef. (en ons almal se geloof sal met tye getoets word. Jak.1:2-4) Al gee God ons ‘n fortuin vandag, beteken dit enigsins dat ons more, of oormore geluk, vrede en vergenoegdheid sal ervaar nie. Die feit is dat hierdie dinge ons geensins vervuld sal laat nie, en dit sal nie lank wees alvorens ons weer nuwe begeertes en vrese koester nie.
Rykdom het nog nooit geluk gewaarborg nie. Baie ryk mense vind dat hulle nog steeds ‘n leegheid binne in hulle beleef al het hulle al hulle materialistiese doelstellings bereik. Sukses verseker ook nie vrede nie. Baie suksesvolle mense ondervind juis vrees, en druk en sukkel om dit te beheer. Baie ryk mense moes al op die harde manier leer wat die Bybel al lank verkondig het, en dit is dat ‘n persoon homself nie moet afsloof om ryk te word nie, want rykdom kan weer baie vinnig verdwyn en dan het die persoon niks blywend om vir al sy moeite te wys nie.
Spr.23:4 “Vermoei jou nie om ryk te word nie, laat staan jou slimheid. 5 Sou jy jou oë daarop laat afvlieg? Maar weg is dit! want skielik maak dit vir hom vlerke en vlieg soos die arend na die hemel toe!”
Die begeerte om ryk te word moet nie die dryfveer agter ons optredes wees nie. In dieselfde opsig waarborg ‘n persoon se sosiale status nie vrede of sekuriteit nie. Vooraanstaande mense beleef ook vrees en onsekerheid wetende dat siekte en dood enige persoon soos ‘n rower in die nag kan oorval. En sou die markte in duie stort staan hulle baie meer om te verloor as die persoon wat min het en hierdie feit werk op hulle. So ook begaan die persoon wat dink dat materiële besittings hom vergenoegd sal laat ‘n ernstige fout. Ons pas alte vinnig by ons besittings aan en raak dit vinnig gewoond om dan net weer na meer te begeer.
Dit is egter ‘n wyse man wat vergenoegdheid en vrede in Christus en Sy woord soek. So ‘n persoon kan werklike vrede en vervulling in Christus, en die doen van Sy wil/woord, vind en dit maak nie saak onder watse omstandighede die persoon homself bevind nie. (Kyk maar onder watse omstandighede Paulus sy werk verrig het en let ook op die feit dat hy nooit opgehou het om die Here vir alles te dank nie.) So ‘n gelowige weet ook dat solank as wat hy binne die raamwerk van God se wil leef die Here in al sy behoeftes sal voorsien.
Filip.4:19 “En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.”
‘n Ingeligte gelowige weet dat dit nie saak maak onder watse omstandighede hy homself in hierdie lewe bevind nie, God is met hom en die beste lê nog voor. So ‘n persoon sal nie sy hoop op die tydelike plaas nie, maar sy hoop is op God en die lewe wat kom.
Jak.1:10 “en die ryke in sy geringheid, want soos ‘n blom van die gras sal hy verbygaan. 11 Want die son gaan op met sy hitte en laat die gras verdor, en sy blom val af, en die sierlikheid van sy gedaante vergaan; so sal die ryke ook in sy weë verwelk. 12 Salig is die man wat versoeking verdra, (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking) want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe (as genadeloon) ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet.
Paulus het dieselfde feit so volg gestel, naamlik:
2Kor.4:17 “Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; 18 omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.”
Werklike vrede kan net in Christus gevind word en daarom het die Here die volgende stelling gemaak, naamlik:
Joh.14:27 “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.”
Maar hoekom is dit so. Want ons weet dat die Here Jesus Christus terug aarde toe sal kom en ‘n einde aan al die onsekerheid en lyding sal maak. Werklike vrede, vreugde en vervullende lewe vind mens slegs in Christus, en dit sluit die raamwerk van Sy wil wat Hy vir elke gelowige bepaal het in. Die leser word gerus weer aangeraai om die artikel “ “Wedergeboorte en die rede vir goeie werke”,asook “Verheerlik God of dra die gevolge”
Ter afsluiting: Op die ou einde van die dag moet ons streef om meer te doen, meer te wees en selfs meer te hê, solank as wat dit binne die raamwerk van God se wil/woord plaasvind met die doel om die Here te verheerlik en nie onsself nie. Indien ons egter op enige van hierdie dinge vertrou om aan ons sekuriteit en vrede te gee dan begaan ons ‘n ernstige mistasting en kan dit met regte gesê word dat ons met afgodediens besig is. As ons vertroue werklik in God gesetel is, dan sal ons nie vrees bevange raak indien ons lewens geskud word nie. Ons moet eerlik wees en erken dat indien aardse besittings al is wat ons in hierdie lewe opgegaar het, dan sal ons geestelik bankrot wees en werklike vrede sal onmoontlik wees.
Filip.4:6 “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. 7 En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.”
En as die Here jou met baie besittings/geld geseën het, moet nie skroom om dit te geniet nie, solank as wat jy dit binne die raamwerk van God se woord/wil doen. En moet ook nie die besittings liewer kry as vir God, of daarop vertrou nie.
1Tim.6:17 “Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet;“
En onthou:
1Joh14:27 Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.”
Mag u ‘n vreedsame en vreugdevolle vakansieseisoen beleef met ons oë volkome op Christus gevestig.
Heb.12:1 “Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, 2 die oog gevestig op Jesus, (nie op onsself, ons status, geld of probleme nie) die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.”
Prys die Here onder alle omstandighede, wees dankbaar en bid vir ander!
1Tim.1 “In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; 2 vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid. 3 Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser,”
Seën groete!
Vic