Baie mense wat die leerstelling verkondig wat verklaar dat ʼn gelowige die gawe van die ewige lewe kan verbeur, gebruik soms Openbaring 3:5 as bewys dat ʼn gelowige se naam uit die boek van die lewe verwyder kan word. Die teksgedeelte lees soos volg, naamlik:
Openb.3:5 “Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele. 6 Wie ʼn oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”
Die vraag is of bogenoemde teksgedeelte verklaar dat ʼn gelowige se naam uit die boek van die lewe verwyder kan word, en wat sou beteken dat iemand wat alreeds die evangelie geglo het, die gawe van die ewige lewe kan verbeur?
Derhalwe is dit van kardinale belang om een uiters belangrike reël van skrifuitleg hier te noem, en dit is dat ons altyd skrif met skrif moet vergelyk. Onthou, dat indien die Bybel korrek uitgelê word, dan sal daar nooit enige weersprekings kan wees nie. Teksgedeeltes kan nie met ander teksgedeeltes, wat binne die korrekte dispensasionele konteks uitgelê is, in botsing kom nie. Die Bybel in die oorspronklike grondteks is die woord van God en God kan Homself nie weerspreek nie. Hierdie feit geld ook vir Openbaring 3:5 wat oor die boek van die lewe handel.
Indien mens die Bybel in geheel bestudeer, dan verklaar die Bybel nadruklik dat ʼn persoon se naam wel uit die boek van die lewe verwyder kan word. Mense wat verkondig dat ʼn gelowige die gawe van die ewige lewe kan verloor, neem dit as vanselfsprekend aan dat dit is wat die Here Jesus Christus in Openbaring 3:5 bedoel het. Voordat ons so vinnig tot sodanige gevolgtrekking kom, is dit van uiterste belang dat ons vasstel wat die res van die Bybel oor die onderwerp van die boek van die lewe te sê het.
Dit is duidelik dat die skrifte wel verklaar dat elke persoon se naam in die boek van die lewe aangeteken word. Dawid maak die volgende stelling wat bostaande stelling bevestig, naamlik:
Ps.139:16 “U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.”
Omrede Dawid geweet het dat een van God se attribute alwetendheid is kon Hy die bostaande verklaring onder inspirasie van die Heilige Gees maak.
Dit is ook egter ʼn feit dat mense se name wel uit die boek van die lewe verwyder kan word, naamlik:
Ps.69:29 “Laat hulle uitgedelg word uit die boek van die lewe en nie saam met die regverdiges opgeskrywe word nie.”
Het die Here Jesus Christus dan die gelowiges in die gemeente van Sardis gewaarsku dat daar ʼn moontlikheid bestaan dat Hy hulle name wel uit die boek van die lewe sal verwyder? Onthou, ons praat hier oor die gelowiges in die gemeente wat alreeds die evangelie geglo het (fase een van hulle verlossing, naamlik wedergeboorte is alreeds afgehandel). Hul bevind hulself nou in fase twee van hulle verlossing, naamlik die heiligmakings fase, waar dit van die gelowige verwag word om deur voortgesette dade van geloof goeie werke voor te bring. Werke wat God vooraf vir hulle voorberei het. Die Here Jesus Christus se vermaning verwys terug na hoofstuk drie vers een waar Hy die volgende stelling maak, naamlik:
Openb.3:1 “En skryf aan die engel van die gemeente in Sardis: Dít sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het: Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef en jy is dood.”
Indien ons die konteks waarin Christus Sy stelling gemaak is, asook skrif met skrif vergelyk, dan moet die antwoord op die vraag of die gelowiges in Sardis se name uit die boek van die lewe verwyder kan word met ʼn groot nee beantwoord word. Inteendeel, Openbaring 3:5 waarborg die feit dat die Here nooit ʼn gelowige se naam uit die boek van die lewe sal verwyder nie.
Die skrifte stel dit baie duidelik dat die oomblik wanneer ʼn persoon die evangelie glo, dat daardie persoon met die Heilige Gees verseël word wat ʼn waarborg is dat die gelowige verlos sal word, naamlik:
Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, (fase een van verlossing, naamlik wedergeboorte is alreeds afgehandel) 1:14 wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.” (fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking) Efesiërs 4:30 bevestig die feit dat die gelowige deur die Heilige Gees verseël is tot sy verlossing volkome afgehandel is en hy met sy verheerlikte liggaam oorklee is, naamlik:
Ef.4:30 “En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.” (Die leser word aangeraai om die artikel “Drie Fases van Verlossing” te lees.)
Indien ʼn persoon deur die Heilige Gees verseël is, hoe kan sy naam dan uit die boek van die lewe verwyder word? Die antwoord is vanselfsprekend. ʼn Gelowige kan nie die gawe van die ewige lewe verbeur nie, anders sou God Homself in bostaande teksgedeelte weerspreek het, iets wat nooit kan gebeur nie.
Die Here Jesus Christus het herhaaldelik die belofte gemaak dat ʼn persoon wat in Hom glo nooit verlore sal gaan nie.
Joh.6:38 “Want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. 39 En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag.”
Joh.10:28 “En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 10:29 My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie. 30 Ek en die Vader is een.”
Die Here Jesus Christus bly getrou en Hy kan nie Homself verloën nie, nie eens as gelowiges in hulle geloof struikel nie. Petrus se verloëning van die Here dien as goeie voorbeeld hiervan.
2Tim2:12 “ As ons (gelowiges) verdra, sal ons met Hom regeer. (fase twee van ʼn gelowige se verlossing, naamlik heiligmaking, waar dissipelskap, wat lyding en goeiewerke insluit, vereis word en wat met genadeloon beloon sal word. 1Kor.3:11-15) As ons Hom verloën, sal Hy ons (gelowiges) ook verloën. (voor die Regterstoel Oordeel van Christus, waar ʼn gelowige se werke na aanvanklike wedergeboorte beoordeel sal word om sy genadeloon te bepaal. Die poel van vuur is glad nie hier te sprake nie. 1Kor.3:11-15) 13 As ons (gelowiges) ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.” (die Here kom ten alle tye Sy beloftes na.)
God sal wel soms gelowiges wat ontrou aan Hom is tugtig.
Hebr. 12:6 “want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem.” (tydens fase twee van verlossing, naamlik heiligmaking)
Mense wat beweer dat ʼn gelowige se naam uit die boek van die lewe verwyder kan word, verstaan in my beskeie opinie nie die leerstelling van die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid korrek nie. Wanneer ʼn persoon die evangelie glo, dan ontvang daardie persoon die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid. ʼn Persoon se eie geregtigheid kan geensins tot sy verlossing bydra nie, en sal eerder verseker dat die persoon hel toe sal gaan indien hy op sy eie geregtigheid staatmaak om hom in die hemel te kry. Dit is op grond van die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid waarop God die Vader, Wie alwetend is, die gelowige vryspreek asof hy sondeloos is. Die rede hiervoor is dat die Here Jesus Christus al die sondes (verlede, hede en alle toekomstige sondes) van die gelowige op Homself geneem het en is op die kruis daarvoor deur God die Vader gestraf. Christus het volkome met Sy dood/bloed versoenning aan die kruis gedoen. Omrede God die Vader absoluut geregtig is, kan Hy in werklikheid nie ʼn persoon wat die evangelie geglo het veroordeel nie. Hy moet Hom in Sy geregtigheid geregtig verklaar, omrede die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis volkome versoenning vir die gelowige se sondes bewerkstellig het en die gelowige staan nou in Christus se toegerekende geregtigheid voor God.
Die vraag wat ons nou moet beantwoord, is of die toegerekende geregtigheid wat die gelowige by die Here Jesus Christus ontvang het, ewigdurend of tydelik is? Die Here Jesus is God en daarom weet ons dat Sy geregtigheid ewigdurend is omrede God onveranderlik in al Sy attribute is. Op grond van hierdie feit kan die gawe van die ewige lewe nie verloor of tydelik van aard wees nie, omrede die toegerekende geregtigheid wat die gelowige ten tye van die glo van die evangelie ontvang het, niks anders as die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid is wat ewigdurend van aard is nie (anders sou God die Vader nie die persoon geregtig kon verklaar nie). Iemand wat beweer dat ʼn gelowige se naam uit die boek van die lewe verwyder kan word, en gevolglik verlore kan gaan, moet dan op dieselfde tyd verklaar dat die Here Jesus Christus se geregtigheid tydelik van aard is. Om so ʼn bewering te maak kom op niks anders as godslastering neer nie. Onthou, dit is God die Vader, wie buite tyd en ruimte bestaan, en wat alwetend is, wat die gelowige ten tye van die glo van die evangelie, op grond van die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid regverdig verklaar. Indien ʼn gelowige se naam uit die boek van die lewe verwyder kan word, dan sou dit beteken dat God die Vader ʼn fout begaan het. So iets kan nooit gebeur nie. Vir God die Vader om ʼn gelowige op grond van die Here Jesus se toegerekende geregtigheid regverdig te verklaar vereis dat die toegerekende geregtigheid wat die gelowige by die Here Jesus Christus ontvang ook ewigdurend moet wees. Die bewering dat ʼn gelowige se naam uit die boek van die lewe verwyder kan word weerspreek ook alles wat God aangaande Homself in die skrifte aan ons geopenbaar het.
Die interpretasie van Openbaring 3:5, soos bespreek, beklemtoon die sekerheid van gelowiges se verlossing in Christus. Soos alreeds gestel, is dit nie ‘n waarskuwing van verlies nie, maar ‘n verklaring van sekerheid. Dit stem ooreen met die herhaaldelike versekeringe in Johannes se geskrifte dat diegene wat geloof in Christus plaas ‘n onomkeerbare posisie voor God besit.
Die konsep van die “boek van die lewe” kan moeilik wees om ten volle te verstaan, maar deur die perspektief van onvoorwaardelike genade, soos hierbo uiteengesit, word dit ‘n bron van hoop en sekerheid. Die skrifte bied ‘n bevestiging dat verlossing deur geloof in Jesus ‘n permanente verandering in ‘n persoon se geestelike toestand meebring. Bykomende verse soos Romeine 8:1, “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie”, en Romeine 8:38-39, “Want ek is oortuig dat … niks ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, ons Here, is nie”, kan ook as bevestiging van hierdie waarheid beskou word.
Verder stel die aangehaalde tekste in 1 Johannes 5 dit duidelik dat die geloof in Jesus as die Seun van God op sigself ‘n oorwinning is oor die wêreld. Dit is hierdie geloof, en nie menslike werke of verdienstes nie, wat as die sleutel tot ewige lewe beskou word.
Dit is ook belangrik om te herken dat die Skrif ‘n rykdom aan verse versekaf wat meewerk om ‘n samehangende teologie van redding en sekerheid te bou. Die wete dat verlossing ‘n geskenk van God is, gegrond op genade en nie op persoonlike verdienste of behoud nie, is ‘n kragtige en herhalende tema in die Nuwe Testament.
Ter afsluiting: Deur die Skrif as ons gids te gebruik, is dit duidelik dat ‘n verhouding met Jesus Christus onverbreekbaar is en dat dit die ware bron van ewige lewe is. Hierdie boodskap weerspieël die hart van die Christelike geloof, wat sentreer rondom die onvoorwaardelike liefde en genade van God, deur Jesus Christus, en bied ‘n vaste fondament waarop gelowiges in die aangesig van onsekerheid en twyfel kan vasstaan.
Seën groete!