Daar bestaan groot verwarring onder gelowiges tussen die leerstelling van die Die Ewige Sekuriteit van die Gelowige (ook bekend as die Bewaring van die Heiliges) en die leerstelling van die Volharding van die Heiliges. Die twee leerstellings is nie dieselfde nie en is ook nie met mekaar versoenbaar nie. Met die skryf van hierdie artikel sal daar gepoog word om enige verdere misverstande t.o.v. hierdie verskillende teologiese leerstellings uit die weg te ruim.
Calvinisme (gereformeerde teologie) En Hulle Leerstelling van Volharding
Calvinisme (gereformeerde teologie) leer dat, aangesien die mens totaal verdorwe is, slegs die onvoorwaardelik uitverkorenes Christus se versoening en onweerstaanbare genade ontvang. Die verlostes, sowel as die uitverkorenes het dus geen sê in die saak nie en hulle wilsbesluite (wil) speel geen rol in die keuse van hulle verlossing nie. Volgens Calvinisme beskik die mens nie oor ‘n vrye wil om die evangelie te glo of te verwerp nie. In kort beteken dit dat God in Sy raadsbesluit kies om slegs sekere mense te red en die res los Hy om verlore te gaan. God gee dus slegs aan diegene wat Hy uitverkies het om te verlos die geloof om te glo en by implikasie weerhou Hy dit van diegene wat Hy nie tot verlossing uitverkies het nie. Die geloof wat die uitverkorenes ontvang, verseker ook dat hulle tot die einde van hulle lewens toe sal volhard. Eenvoudig gestel, hierdie siening leer dat ‘n ware Christen in geloof en goeie werke sal voortgaan tot die dood – en indien nie, was hulle nooit werklik gered nie. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Wil God almal verlos”, asook “Die Proponente van werkheiligheid se herdefiniëring van geloof” vir ‘n meer in diepte studie aangaande hierdie onderwerpe te lees.
Arminianisme En Hulle Leerstelling Van Volharding
Arminianisme leer dat verlossing afhanklik is van voortgesette geloof en gehoorsaamheid – wat beteken dat gelowiges verlore kan gaan as hulle nie tot die einde van hulle lewes in die geloof volhard nie. Hulle erken dus die rol van die mens se vrye wil om die evangelie te glo, maar beweer in kort dat ‘n persoon wat die evangelie op ‘n punt in tyd geglo het en wedergebore geraak het, uit genade kan verval en verlore kan gaan. Hulle ontken dus die Leerstelling van die Ewige Sekuriteit van die Gelowiges.
Die Gevolge Van Die Leerstelling Van Volharding
In beide Calvinisme en Arminianisme word werke en volharding as bewys van verlossing vereis. Die logiese gevolg van hierdie siening is dat die gelowige nooit absoluut seker kan wees dat hy verlos is nie, omrede geloofswerke tot en met sy dood ‘n vereiste is. Gelowiges kan slegs “seker” van hulle verlossing wees solank as wat hulle tot hulle dood toe getrou in die geloof voortgaan. In beide hierdie teologiese sisteme kan ‘n persoon nooit absoluut verseker weet dat hy werklik verlos is nie. Hy weet immers nie of hy in die toekoms gaan struikel nie. Boonop kan hy ook nooit absoluut seker wees dat hy verlos is nie omrede hy nie weet of hy genoeg geloofswerke verrig het nie. Nêrens in die Bybel staan daar hoeveel geloofswerke ‘n persoon moet verrig om seker te wees dat hy gered is nie. Die gelowige sal dus tot en met sy dood moet wag om te sien of hy werklik verlos is. In beide hierdie teologiese sisteme is sekerheid van verlossing voorwaardelik en kan nooit absoluut wees nie.
Skriftuurlike Argumente Teen Die Leerstelling Van Volharding
Die Calvinistiese Leerstelling van Volharding beweer dat geloof ‘n bonatuurlike krag is wat God slegs aan ‘n selektiewe minderheid (die uitverkorenes) skenk en dit word van die res van die mensdom weerhou. Hulle gebruik Efesiërs 2:8–9 om hulle siening te regverdig, naamlik:
Ef.2:8 “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.”
Calvinisme beskou die “verlossing”, asook “geloof” as die genadegawe en volgens hulle kan ‘n persoon nie glo indien hy nie eerstens die gawe van “geloof” by God ontvang het nie. Die korrekte siening is dat die gawe na “verlossing” (ewige lewe) verwys en nie na geloof nie. Die wyse waarop ‘n persoon die gawe van die ewige lewe by God in ontvangs neem is geloof. Alle verstandelik gesonde mense beskik die vermoeë om te glo, nie net ‘n sekere groepie aan wie God dit skenk nie. Die skrifte bevestig hierdie feit en daarom nooi God almal uit om te glo.
Tit.2:11 “Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn
Openb.22:17b “ En laat hom wat dors het, (by implikasie enige persoon) kom; en laat hom wat wil, (vrye keuse wat ‘n vrye wil vereis) die water van die lewe neem, verniet.”
In die Evangelie volgens Johannes merk ons waar die Here in ‘n woordewisseling met die ongelowige Jode die volgende stelling maak, naamlik:
Joh.5:39 “Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié (skrifte) wat van My getuig. 40 En julle wil nie na My kom om die lewe te hê nie.”
Let weereens op die stelling “En julle wil nie na My kom om die lewe te hê nie.” Die Here sou nooit met alle eerlikheid hierdie beskuldiging teen die ongelowige Jode kon maak indien Hy die een is wat die gawe om te glo in die eerste plek van hulle weerhou het nie. Dit beklemtoon ook die feit dat ‘n persoon oor ‘n vrye wil beskik om in Christus te glo of nie.
Onthou, indien ons die Bybel reg verstaan dan kan daar geen weersprekings daarin wees nie, want die Bybel is God se woord en God kan nie lieg nie. Net soos wat die Jode die vrywe wil beskik het om die skrifte te bestudeer, net so kon hulle ‘n wilsbesluit maak om dit wat die Skrifte aangaande Christus getuig te glo en gered word. Die gawe waarvan in Efesiërs.2:8 gepraat word is verlossing, nie geloof nie. Rom.4:4-5 bevestig hierdie feit, naamlik:
Rom4:4 “Maar aan hom (enige persoon, nie net ‘n selektiewe paar nie) wat werk, word die loon nie na guns toegereken nie, maar na verdienste; 5 aan hom (enige persoon, nie net ‘n selektiewe paar nie) egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.
Die skrifte verklaar ook dat ‘n persoon verlos is die oomblik wanneer hy die evangelie (op ‘n spesifieke punt in tyd) glo en dan word hy met die Heilige Gees verseël wat sy verlossing waarborg.
Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,
2Kor.1:22 “wat ons ook verseël het en die Gees as onderpand in ons harte gegee het.”
Die leser word aangeraai om weereens die artikel “Die wet van nie-teenstrydigheid en die ewige lewe” te lees. Verlossing is deur geloof sonder werke (sien ook Romeine 11:6; Titus 3:5; Johannes 3:16).
Onthou, die stryd hier gaan oor menslike siele nie die een of ander aardse, tydelike dinge nie en daarom moet ons seker maak dat wat ons aan mense verkondig werklik dit is wat God in Sy woord aan ons geskryf het. Reddende geloof is om in die Here Jesus Christus die Seun van God te glo, wie gesterf het en weer uit die dood uit opgestaan het, om jou (volledige) persoonlike sondeskuld voor ‘n regverdige God te betaal (dit sluit jou verlede, huidige, asook toekomstige sondes in. Dit geld ook vir die toekomstige sonde wat ‘n gelowige pleeg indien hy versuim om te volhard), en die Een wat aan almal die ewige lewe skenk wat Hom en Hom alleen daarvoor vertrou. Vir die gelowige is die voorwerp van sy geloof die Here Jesus Christus (wat Sy voltooide werk aan die kruis insluit). Ons moet daarteen waak om nie die voorwerp van ons verlossing ons geloof te maak nie. Ons moet dus nie geloof in ons geloof plaas nie maar slegs ons geloof in Christus plaas. Indien ‘n persoon ten tye van die glo van die evangelie nie vas daarvan oortuig is dat die Here vir al sy sondes (verlede, hede en toekomstige sondes) aan die kruis gesterf het nie, dan kan dit nie met enige sekerheid gestel word dat hy reddende geloof uitgeoefen het nie. Net so kan dit met sekerheid gestel word, dat ‘n persoon nie reddende geloof uitgeoefen het nie, indien daardie persoon nie absoluut verseker is dat hy ten tye van die glo van die evangelie die ewige lewe as huidige, en ewige besitting, by God ontvang het die oomblik toe hy die evangelie geglo het nie. So ‘n persoon moet dus ten tye van die glo van die evangelie oortuig wees dat hy nooit weer in die toekoms in die oordeel kan kom en verlore kan gaan nie (Joh.3:18; 5:24).
Sekerheid van verlossing kan absoluut wees omrede dit op God se belofte rus, nie op ons toekomstige gedrag nie.
Joh.5:24 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het (alreeds) die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het (alreeds) oorgegaan uit die dood in die lewe.”
Indien verlossing volharding tot ons sterfdag vereis, dan sou niemand ooit seker kon wees dat hy alreeds gered is nie. Anders as wat Calvinisme, asook Arminianisme beweer, is daar in die skrifte voorbeelde van geredde mense (gelowiges) wat nie in goeie gedrag en geloof volhard het nie. Ananias en Saffira (Handelinge 5:1–11); gelowiges in die gemeente van Korinthe wat met fisies dood gestraf is omrede hulle die arm gemeentelede tydens die liefdesmaal (nagmaal) beskaamd gemaak het (1Kor.11:20-34). Al hierdie gelowiges het gered gebly al is hulle met fisiese dood gestraf en hulle het duidelik nie tot en met hulle dood voortgesette dade van geloof verrig nie. Demas, wie ‘n medearbeider van Paulus was, het Paulus verlaat en weer in die wêreld in teruggegaan.
2Tim.4:10 “Want Demas het my verlaat, omdat hy die teenwoordige wêreld liefgekry het, en het na Thessaloníka vertrek,”
Hierdie voorbeelde van gelowiges wat nie volhard nie weerlê die Leerstelling van Volharding. Hulle bly egter gered omrede God getrou is om Sy beloftes na te kom.
2 Timoteus 2:12–13 illustreer hierdie feit baie mooi, naamlik:
2Tim.2:12 “As ons ( gelowiges. Fase een van hulle verlossing, naamlik wedergeboorte is alreeds afgehandel) verdra, (fase twee van hulle verlossing, naamlik heiligmaking, waar voortgesette dade van geloof verwag word.) sal ons met Hom regeer. (indien gelowiges in die geloof en meegaande goeie werke volhard, dan sal hulle saam met die Here in Sy koninkryk regeer.) As ons Hom verloën, sal Hy ons ook (voor die Regterstoel Oordeel van Christus, waartydens die gelowige vir getroue diens in die Here verrig beloon sal word) verloën. (wat beteken dat die gelowige genadeloon verbeur maar nie die gawe van die ewige lewe nie. 1Kor.3:15)13 As ons ontrou is, (Grieks: apisteō = “nie glo nie”) Hy bly getrou; (sal nie op Sy beloftes teruggaan nie) Hy (as God) kan Homself nie verloën nie.” (Iets wat Hy wel sou doen indien Hy die gawe van die ewige lewe sou terugneem of een gelowige uit Sy hande sou verloor. Rom.11:29; Joh.6:37-40; Joh.3:15-18; Joh.3:36; Joh.5:24; Joh.10:28 ens.)
In kort: Volharding bring beloning (om te regeer). Die verloëning van Christus na aanvanklike wedergeboorte lei tot verlies van genadeloon. Selfs al is ons ontrou (Grieks: apisteō = “nie glo nie”), bly Hy getrou. Hy kan Homself nie verloën en op Sy woord teruggaan nie. God het die werk om ons vir ewig te bewaar op Homself geneem en het dit nie aan die gelowige oorgelaat nie.
Die Leerstelling Van Die Ewige Sekuriteit Van Die Gelowige of te wel Preservasie:
Preservasie van die gelowige (Die Ewige sekuriteit van die Gelowige) beklemtoon God se belofte van die ewige lewe (Johannes 3:16), en God se doel om ons aan Christus gelykvormig te maak (Romeine 8:29) en beklemtoon God se krag om ons veilig te bewaar (Romeine 8:31–39) Anders as die Leerstelling van Volharding, bied die Leerstelling van die Ewige Sekuriteit van die Gelowige absolute versekerdheid van verlossing – omdat dit van God afhang, nie van ons prestasie nie. Dit is die Heilige Gees wat die gelowige verseël en bewaar (2Kor.1:22; Ef.1:13; 4:10). Daarbenewens bewaar ook die Vader en die Seun ons, en niemand sal die Heilige Gees se verseëling kan ongedaan maak nie. Boonop dit alles sal niemand (wat onsself insluit) ons uit die Vader, asook die Seun se hande kan ruk nie. Dit is God alleen wat ons gered hou, die mens het geen aandeel daarin nie. Ons werk nie saam met God om ons te verlos of om ons gered te hou nie. Indien dit die geval sou wees beteken dit dat ons saam met God mede-verlossers is. ‘n Leerstelling wat die Bybel heeltemal verwerp.
Joh.10:28 “En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 29 My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.”
Volharding het sy plek – nie vir verlossing nie, maar vir genadeloon. Dit is in terme van genadeloon waar Paulus gevrees het om “gediskwalifiseer” (Grieks, adokimos) te word – nie van verlossing nie.
1Kor.9:27 “Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie.”
Hebreërs spoor gelowiges herhaaldelik aan om in die geloof te volhard – vir seën en beloning, nie om die ewige lewe te behou nie. (Hebreërs 6:11–12; 10:36; 12:1).
Heb.6:11 “Maar ons verlang dat elkeen van julle (gelowiges wat alreeds die ewige lewe besit) dieselfde ywer mag toon om te kom tot die volkome sekerheid van die hoop tot die einde toe; 12 sodat julle nie traag word nie, maar navolgers van hulle wat deur geloof en lankmoedigheid erfgename van die belofte (van genadeloon) is.” Heb.10:36 Want julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle (gelowiges) die wil van God gedoen het, die belofte (van genadeloon) te verkry.
Heb.12:1 Daarom dan, terwyl ons (gelowiges wie alreeds die ewige lewe besit) so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê,” (sodat ons ook genadeloon kan ontvang) Lees gerus weer die artikel “Verliese en gevolge van sonde in die gelowige se lewe” nog ‘n keer.
Praktiese Toepassings
Wanneer ons genade-gebaseerde verlossing van volharding-gebaseerde beloning korrek skei dan spoor dit ons aan om in getroue diens te volhard (1 Timoteus 6:11; Hebreërs 10:36; 12:1; 2 Petrus 1:6). Die ewige lewe is ‘n genadegawe wat nie deur werke ontvang of behou word nie. Daarenteen hou die skrifte genadeloon aan die gelowige voor wat in die geloof volhard en goeie werke verrig (Rom.5:3–4; Kol.1:21–23; 2Tim.4:7–8; Heb.11; Jak.1:12; 2 Pet1:8–11). Genade-gebaseerde verlossing het absolute versekerdheid van verlossing tot gevolg (Romeine 8:28–39; 1 Johannes 5:11–13). Die leerstelling van die Ewige Sekuriteit van die Gelowige, wat God se genade beklemtoon, motiveer ons om uit dankbaarheid uit godvrugtige lewens te lei en nie uit vrees uit nie (Rom.12:1; Tit.2:11–12). Wanneer ‘n gelowige struikel dan moet ons hom van sy nuwe posisionele stand in Christus herinner, en hom aanmoedig om vanuit daardie posisie homself te bekeer en volgens God se wil te lewe (Filippense 1:6; Galasiërs 6:1). ‘n Gelowige wat struikel word nooit in die Bybel gedreig dat hy die gawe van die ewige lewe kan verbeur nie. Alle persone wat die evangelie van God se genade geglo het, het ‘n nuwe posisionele stand in Christus en moet nooit in daardie feit twyfel nie. Indien ‘n persoon twyfel dat God hom nie vir ewige sal bewaar nie, dan toon daardie persoon sy gebrek aan geloof in God se beloftes.
Ter Afsluiting:
Die ewige sekuriteit van die gelowige, of te wel God se bewaring van die gelowige, is die belofte van die evangelie, nie volharding nie. Indien hierdie konsepte met mekaar verwar word, dan gaan genade verlore en menslike werke en volharding, en nie geloof nie, word die maatstaf wat bepaal of ‘n mens gered is of nie. In so ‘n geval word die evangelie van God se genade op ‘n subtiele wyse met ‘n werke evangelie vervang.
Rom.5:2 “deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte alreeds afgehandel) tot hierdie genade waarin ons (alreeds) staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God.”
Die gawe van die ewige lewe is nie afhanklik van ons volharding, uithouvermoë of goeie werke nie. Dit is afhanklik van God se belofte, doel en krag om ons vir ewig te red en te bewaar. Daar is geen middeweg nie. Die Leerstelling van die Ewige sekuriteit van die Gelowige leer dat dit God is wat die gelowige verlos en bewaar, nie menslike prestasie nie. Laat genade genade bly en God verheerlik word!
Seën groete!
Vic