Vraag: Hallo Vic. Dankie vir die inligting. Kan u die volgende ook behandel. Heb.10:26. Hoe verskil dit van die sondes waarmee ons sukkel? Groete
Antwoord: Baie goeie vraag en dit is een van die teksgedeeltes wat mense wat glo dat ‘n gelowige die gawe van die ewige lewe kan verbeur (moderne Armenianisme) aanhaal om hierdie dwaalleer te regverdig. Ek gaan eers die teksgedeelte aanhaal en dit dan binne die korrekte konteks bespreek.
Heb.10:26 “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, 27 maar ‘n verskriklike verwagting van oordeel en ‘n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer. 28 As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; 29 hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het? 30 Want ons ken Hom wat gesê het: My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here; en weer: Die Here sal sy volk oordeel. 31 Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God. 31 Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God. 32 Maar onthou die vorige dae waarin julle, toe julle verlig geword het, ‘n groot lydensworsteling deurstaan het, 33 gedeeltelik omdat julle deur smaad en verdrukkinge ‘n skouspel geword het, gedeeltelik omdat julle deelgenote geword het van die wat in so ‘n toestand verkeer het. 34 Want julle het ook saam met my gevoel in my boeie, en julle het die berowing van julle goed met blydskap aanvaar, omdat julle geweet het dat julle in julself ‘n beter en blywende besitting in die hemele het. 35 Werp dan julle vrymoedigheid, wat ‘n groot beloning het, nie weg nie. 36 Want julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry. 37 Want nog ‘n klein tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie versuim nie. 38 Maar die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie. 39 Maar by ons is daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe.”
Wanneer dit by die uitleg van die skrifte kom is dit van uiterste belang om eers die korrekte konteks te bepaal. Alle teksgedeeltes in die Bybel is binne die raamwerk van ‘n spesifieke konteks gemaak en dit geld ook vir die brief aan die Hebreërs. Hierdie is een van die kardinale reëls vir korrekte Bybel uitleg.
Aan wie is die brief hoofsaaklik gerig:
Die brief aan die Hebreërs is aan Messiaanse Jode (Hebreërs) wat a.g.v. hulle geloof in Christus, op ‘n gegewe punt in tyd in die verlede, wedergebore geraak en posisioneel geheilig is (vers 29 hierbo). Hierdie gelowiges vorm dus deel van die kerk. Hulle is dus alreeds posisioneel in Christus geheilig en is alreeds (vir ewig) wedergebore. Fase een van hulle verlossing, naamlik wedergeboorte is dus alreeds afgehandel. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Heiligmaking in Drie Fases”, asook die artikel “Die Drie Fases van Verlossing” sorgvuldig deur te lees.)
Let op die term “Want as ons opsetlik sondig” (vers 26) Dit is opmerklik dat die skrywer van die brief, wie ‘n gelowige is, homself by die groep mense insluit wat deur God in die brief aangespreek word. Die brief is dus aan gelowiges gerig. Hierdie groep mense wat die skrywer insluit het alreeds “die kennis van die waarheid ontvang” (vers 26) waardeur hulle “geheilig is” (vers 29), hulle weet dat hulle “Sy volk” (vers 30) is. Hulle is “verlig” en het a.g.v. hierdie feit “‘n groot lydensworsteling deurstaan”(vervolging vir hulle geloof ondergaan. Vers 32). Hulle het alreeds geweet dat hulle ‘n “ blywende besitting in die hemele het” wat beteken dat hulle alreeds ‘n erflating in die hemel het (vers 34). ‘n Ongelowige persoon het geensins ‘n erflating in die hemel nie, en daarom kan dit met alle sekerheid gestel word dat die skrywer van die brief met gelowiges praat wat alreeds wedergebore is en wat alreeds die ewige lewe as ewige besitting by God (deur geloof in die evangelie) ontvang het.
Op grond van hierdie feit het hulle ‘n erflating in die hemel ontvang wat nou alreeds vir hulle bewaar word. (sien ook 1Pet.1:4) Hierdie erflating is die gevolg van die beloftes wat die Here Jesus Christus gemaak het, naamlik:
Joh.3:36 “Hy wat in die Seun glo, het (alreeds) die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.
Joh.5:24 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het (alreeds) die ewige lewe (huidige besitting) en kom nie in die oordeel nie, (wat beteken dat hy nie later veroordeel kan word nie omrede Christus vir al sy sonde, verlede, hede en toekomstige sondes, aan die kruis versoening gedoen het.) maar het (alreeds) oorgegaan uit die dood in die lewe.”
God kan Homself nie weerspreek nie. Hy sal nie op een plek verklaar dat ‘n persoon alreeds die ewige lewe ontvang het, en daardie persoon verseker dat hy nie in die oordeel kan kom nie, en dan later weer verklaar dat die persoon wel verlore kan gaan en in die oordeel kan kom. ‘n Persoon wat glo dat hy die ewige lewe kan verbeur, glo nie werklik dat Christus vir al sy sondes (verlede, hede en toekomstige) sondes aan die kruis gesterf het nie. Sodanige persoon se soteriologie (verlossingsleer) is gebrekkig wat beteken dat hy nie werklik reddende geloof beoefen het nie. (die leser word aangeraai om die artikel “Generiese geloof vs Reddende geloof” sorgvuldig deur te lees.)
Wat is die moedswillige sonde wat hierdie gelowiges op die punt staan om te pleeg:
Ons moet die konteks waarin hierdie waarskuwing gerig word gebruik om te bepaal wat die sonde is wat hierdie gelowiges op die punt staan om te pleeg. Onthou, hierdie gelowiges was Messiaanse Jode wat vanuit die Jodedom kom en wat nou a.g.v. hulle geloof in die Here Jesus Christus vervolg word. Op daardie stadium het die tempel nog bestaan en diereoffers is nog deur ongeredde Jode in die tempel geoffer. Die Messiaanse Jode was onder druk om hulle getuienis van Christus te laat vaar en om weer na die Wet van Moses met sy diereoffers terug te keer. Alreeds in Heb.4:14 het die skrywer hulle gewaarsku om aan hulle geloof in Christus vas te hou en hulle weereens van die nuwe bedeling volgens die priesterlike orde van Melgisédek ingelig. (Heb.5:1) (Die leser word versoek om self Heb.5:1 te lees.
Heb.4:14 “Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou.”
Heb.10:19 “Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus 20 op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, (sy voltooide werk aan die kruis) 21 en ons ‘n groot Priester oor die huis van God het, 22 laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water. 23 Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou; 24 en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde (wat liefde vir God en ons medemens insluit.) en goeie werke aan te spoor; (‘n Persoon demonstreer sy liefde vir God deur om Sy wil na te kom. Joh.14:15. Dit sluit die bevel om die evangelie te verkondig in.) 25 en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, (sommige in die gemeente het alreeds a.g.v. die vervolging wat hulle ondergaan het nie meer saam met ander Christene in die gemeente vergader nie) maar laat ons mekaar (in hierdie opsig) vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom. 26 Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie,”
Sommige in die gemeente het alreeds die Christelike samesyn vir die Joodse tempeldiens met sy diereoffers verlaat (Heb.10:25). Onthou, die tempel het op hierdie stadium nog bestaan. Die spesifieke sonde waarna die skrywer hier verwys is die sonde van afvalligheid. (Engels “apostasy) Om ons Christelike belydenis te laat vaar en om na die Wet van Moses terug te keer is niks anders as ‘n vorm van geestelike egbreuk nie. ‘n Persoon wat na die tempel diens (Wet van Moses) terugkeer vertrap sodoende die Seun van God, en die bloed van die testament waardeur hy alreeds geheilig is, en ag die bloed van Christus as onrein en smaad so die Gees van God. Sodanige gelowige verklaar in effek dat die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis nie genoegsaam was om vir die mensdom se sondes versoening te doen nie. Hy besef nie dat daar nou geen ander offer, naas die offer wat die Here Jesus Christus aan die kruis gemaak het, is wat by God aanvaarbaar is nie. ‘n Wedergebore persoon wat opsetlik op hierdie wyse sonde pleeg kan God se oordeel verwag.
Heb.10:27 maar ‘n verskriklike verwagting van oordeel en ‘n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer.
Net vir interessantheid: Die gemeente van Galasie is ook op soortgelyke wyse deur hierdie dwaalleer geteister.
Gal.5:2 “Kyk, ek, Paulus, sê vir julle (wedergebore gelowiges waarvan vase een van hulle verlossing alreeds afgehandel is) dat as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut (tydens fase twee van sy verlossing, naamlik heiligmaking) sal wees nie. (Heiligmaking net soos wedergeboorte word op grond van God se genade deur geloof in God bewerkstellig en nie deur die Wet van Moses nie. Die leser word aangeraai om die artikel “Elkeen wat uit God gebore is doen geen sonde nie” te lees.) 3 En ek betuig dit weer aan elke mens wat hom laat besny, dat hy onder verpligting is om die hele wet (van Moses) te onderhou. 4 Julle (wedergebore gelowiges) wat geregverdig wil wees deur die wet, (van Moses) is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.
Om van Christus losgemaak te word vereis dat daardie persoon op ‘n stadium nie van Christus losgemaak was nie, wat as bewys dien dat Paulus hier met gelowiges (mense wat alreeds wedergebore is) praat. ‘n Persoon kan nie uit genade verval as daardie persoon homself nie eers in God se genade (en dus in Christus) bevind het nie.
Wat is die oordeel wat so ‘n gelowige kan verwag?:
Onthou, konteks, konteks en weer konteks! Mense wat beweer dat ‘n gelowige uit genade kan val, en verlore kan gaan, beweer dat die oordeel wat hier van gepraat word die hel is. Meeste calviniste (wat die Gereformeerde Tradisie insluit) beweer dat ‘n persoon wat homself aan hierdie sonde skuldig maak nooit werklik wedergebore was nie. Hierdie siening weerspreek egter alles wat die skrywer in die Brief aan die Hebreërs skryf. Soos reeds gedemonstreer, is dit duidelik dat die brief aan gelowiges gerig is. Slegs ‘n gelowige kan uit genade verval. Diegene wat beweer dat ‘n gelowige uit genade kan verval is in hierdie opsig korrek maar hulle interpretasie dat ‘n gelowige die gawe van die ewige lewe kan verbeur weerspreek die beloftes wat die Here Jesus Christus self gemaak het (sien Joh.3:36; 5:24 hierbo). Hier is nog ‘n voorbeeld van Christus se beloftes:
Joh.10:28 “En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand (en dit beteken niemand, en dit sluit die gelowige in) sal hulle uit my hand ruk nie. 29 My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.”
Self die skrywer van die Brief aan die Hebreërs gaan uit sy pad uit om hierdie feit te bevestig, naamlik:
Heb.10:14 “Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak (fase een van hulle verlossing, naamlik wedergeboorte is afgehandel) die wat geheilig word.” (Fase twee van die gelowige se verlossing, naamlik heiligmaking, waar voortgesette dade van geloof vereis word. Lees ook die artikel Heiligmaking in drie fases)
Maar verwys die skrywer nie na die poel van vuur as hy die volgende stelling maak nie? “Maar ‘n verskriklike verwagting van oordeel en ‘n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer (Heb.10:26b). Nee, mits ‘n persoon verkeerdelik en sonder enige geldige rede die helse vuur in hierdie teksgedeelte inlees. Onthou, die terme “oordeel” en “vuurgloed” is nie tegniese terme wat slegs een betekenis het nie. Die terme “oordeel” en “vuurgloed” beteken nie outomaties die helse vuur nie. Ons moet die konteks waarin hierdie terme voorkom gebruik om die spesifieke betekenis wat die skrywer bedoel het vas te stel. Dit kan definitief nie die Wit Troon Oordeel wees waarna hier verwys word nie, want dan sou die Here Jesus Christus Homself in Joh.10:28 hierbo weerspreek het, iets wat nooit kan gebeur nie. Kom ons gebruik die nabye konteks van die teksgedeelte om die betekenis van die terme “oordeel” en “vuurgloed” te bepaal. In Heb.10:28 maak die skrywer die volgende stelling, naamlik:
Heb.10:28 As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie”
Die skrywer verwys terug na die gee van die Wet van Moses waar die doodstraf vir sekere sondes voorgeskryf is. Die ewige verderf of helse vuur word geensins in hierdie konteks behandel nie. Hierdie was ‘n oordeel in tyd op aarde en het niks met die Wit troon Oordeel en die hel te make nie. ‘n Persoon (wat gelowiges kan insluit) kon op die getuienis van twee of drie mense die doodstraf opgelê word. Die ewige verderf is glad nie in hierdie teksgedeelte terspraaklik nie, mits ‘n persoon dit sonder skriftuurlike regverdiging in die teksgedeelte inlees. David, wie ‘n gelowige was, kon met regte op die getuienis van twee of drie persone vir sy egbreuk met Batseba, en die daaropvolgende moord op haar man, die doodstraf opgelê geword het. Hy sou nog steeds hemel toe gaan, net soos wat die gelowige in Korinte wat met sy pa se vrou ‘n verhouding aangeknoop het ook fisies sou sterf indien hy nie bekeer het nie. Maar hyself sou nog steeds hemel toe gaan.
1Kor.5:3 “Want wat my betref, het ek, liggaamlik afwesig maar in die gees teenwoordig, alreeds besluit asof ek teenwoordig was, om hom (die gelowige wat met sy vader se vrou egbreuk gepleeg het)wat so iets gedoen het, 4 in die Naam van onse Here Jesus Christus, as julle vergader het en my gees saam met die krag van onse Here Jesus Christus — 5 om so iemand aan die Satan oor te lewer tot verderf van die vlees, sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus”
Onthou, volgens die Wet van Moses het hierdie persoon die doodstraf verdien.
Lev.20:11 “En as ‘n man met sy vader se vrou gemeenskap het, het hy die skaamte van sy vader ontbloot. Hulle altwee moet sekerlik gedood word. Hulle bloedskuld is op hulle.”
Maar in 1Kor.5:3 hierbo sien ons dat die persoon se liggaam gedood kan word maar sy gees gaan nog steeds hemel toe. Ons moenie die doodstraf in tyd met die tweede dood (wat vir alle ongelowiges geld) verwar nie.
Indien ons hierdie feite in rekening hou maak die res van die teksgedeelte heeltemal sin.
Heb.10:29 hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy (die gelowige is alreeds posisioneel in Christus) geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het? 30 Want ons ken Hom wat gesê het: My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here; en weer: Die Here sal sy volk oordeel. 31 Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God (hierdie stelling geld vir gelowiges tydens hulle aardse bestaan). Maar wat word dan met die term “swaarder straf” in vers 29 bedoel? Dit is duidelik nie die ewige verderf in die poel van vuur nie, aangesien hierdie teksgedeelte gelowiges beskryf wat alreeds deur die eens-vir-altyd-soenoffer van die Here Jesus Christus geheilig (vers 10) en “vir ewig (met die klem op die ewig posisioneel in Christus) volmaak” is. (v.14)
Maar indien hulle wel afvallig raak en “terugtrek” as gevolg van die huidige vervolging, kan hulle God se misnoeë (v.38) en ernstige goddelike dissipline in hierdie lewe verwag. (v29) Die dissipline waarna hier verwys word kan selfs selfs ‘n vroeë en baie pynlike fisiese dood insluit). Let mooi op wat die skrywer in Heb.10:38 verklaar, naamlik:
Heb.10:38 Maar die regverdige (fase een van die persoon se verlossing is alreeds afgehandel, en omrede hy die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid ontvang het, word hy as ‘n regverdige deur God bestempel en besit alreeds die ewige lewe as ewige besitting) sal uit die geloof lewe; (fase twee van sy verlossing, naamlik heiligmaking, waar voortgesette dade van geloof verwag word. Dit is tydens die heiligmaking fase waar die Here van die gelowige verwag om getrou aan Hom te bly en tot geestelike volwassenheid op te groei) en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie. (sien Heb.11:6) 39 Maar by ons (die skrywer sluit homself by sy gehoor in.) is daar geen onttrekking tot verderf nie, (die sonde wat tot fisies dood aanleiding gee. 1Joh.5:16-17) maar geloof tot behoud van die (fisiese) lewe.
Johannes praat ook van die sonde wat tot fisiese dood lei, naamlik:
1Joh.5:16 “As iemand sy broeder (medegelowige)‘n sonde sien doen wat nie tot die dood is nie, moet hy bid, en Hy sal hom die lewe gee — vir die wat nie ‘n sonde tot die dood doen nie. Daar is ‘n sonde tot die (fisiese) dood; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie.” (dood in hierdie konteks kan niks anders as fisiese dood wees nie. Dit is sinneloos om vir ‘n wedergebore persoon te bid om die ewige lewe te ontvang want hy besit dit alreeds. Dit is boonop ondenkbaar dat Johannes ons sal opdrag gee om nie vir ‘n ongeredde sondaar te bid nie. Dit is duidelik dat Johannes ‘n gelowige in hierdie konteks in gedagte gehad het.)
Die leser word aangeraai om die artikel “Verliese en gevolge a.g.v. sonde in die gelowige se lewe” te lees. As gelowiges moet ons altyd onthou dat daar in hierdie lewe dinge is wat selfs erger as fisiese dood is. Ons moenie God en Sy genade ligtelik opneem nie. Dit is immers ‘n verskriklike ding om in die hande van die lewende God te val (v31). As gelowiges moet ons egter verstaan dat ons wel uit die weg van genade kan verval, maar ons kan nooit uit God se hande val en verlore gaan nie. Ons het immers God se woord daarvoor.
Net vir interessantheid: Toe hierdie brief aan die Hebreërs gerig was het die tempel nog steeds gestaan en die tempeldiens was nog steeds bedryf. Messiaanse Christene wat hulle Christelike belydenis laat vaar het, en wat na die Jodedom teruggekeer het, het hulle aan dieselfde oordeel as die ongelowige Jode blootgestel toe die Romeine die stad in 70nC verower het. Die enigste verskil tussen die twee groepe is dat ontroue gelowiges wat tydens die val van Jerusalem omgekom het nog steeds hemel toe sou gaan terwyl die ongeredde Jode hel toe sou gaan. Die smarte wat die twee groepe tydens die verowering van die stad sou beleef sou egter dieselfde wees. Erger dinge as net fisiese dood het daar plaasgevind, soos byvoorbeeld hongersnood, moeders wat hul kinders eet, massa-kruisiging, ensovoorts. Die historikus Flavius Josefus het in sy monumentale werk “Jewish Wars” ‘n beskrywing van die gebeure tydens die val van Jerusalem in 70nC gegee. Hy was ‘n Joodse historikus wat na die Romeine oorgeloop het en het die gebeure wat daar plaasgevind het op rekord gestel. Getroue gelowiges het egter God se waarskuwing oor die val van Jerusalem ernstig opgeneem, en het die stad verlaat toe hulle nog kon en so het hulle die verskriklike oordeel oor die stad vrygespring.
Baie Bybelkenners het sonder enige kontekstuele regverdiging aangeneem dat terme soos “oordeel” en “vuurgloed” in Hebreërs na die hel verwys, dit ten spyte van die feit dat die skrywer dit duidelik gemaak het dat sy lesers “geheilig” en “vir ewig volmaak” is. Die skrywer praat hier met mense wat hulleself nou in fase twee van hulle verlossing bevind en waartydens God hulle progressiewe heiligmaking wil bewerkstellig. Daar bestaan ‘n moontlikheid dat gelowiges a.g.v. ongeloof (en ander redes) in hulle progressiewe heiligmaking kan misluk en sodoende stel hulle hulleself vir God se tugtiging oop. Hierdie tugtiging kan by tye ernstige afmetings aanneem en daarom beskryf die skrywer dit as “kastyding”. Nêrens meld hy enigsins dat hulle kan verlore gaan nie, maar gebruik juis die feit van God se tugtiging as bewys dat hulle Sy kinders is.
Heb.12:5 “En julle (gelowiges) het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; 6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. 7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? 8 Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal (al Sy kinders) deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie. 9 Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie? 10 Want húlle het ons wel ‘n kort tydjie na hulle beste wete getugtig; maar Hy tot ons beswil, sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word. 11 Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.”
Ter afsluiting: Om na jou vraag terug te kom. Enige gelowige wat moedswillig bly sonde doen kan verwag dat hy getugtig gaan word. Ek sal jou weereens aanraai om die artikel “Verliese en gevolge van sonde in die gelowige se lewe” te lees. As gelowiges hoef ons nie bang te wees dat God ons sal verwerp nie. Dit is ‘n godslasterlike (en dus duiwelse) leerstelling wat beweer dat God Sy kinders sal verwerp sodat hulle hel toe sal gaan.
2Tim.2:11 “Dit is ‘n betroubare woord; want as ons met Hom gesterf het, sal ons ook met Hom lewe. (die oomblik toe ons die evangelie geglo het, het die Heilige Gees ons met Christus se dood en opstanding geïdentifiseer [gedoop] en ons deel nou in Sy opstandingslewe wat vir ewig sal voortduur. Fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte, is vir eens en altyd afgehandel.) 12 As ons (versoekinge en vervolginge) verdra, sal ons met Hom regeer. (Fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking waar voortgesette dade van geloof van ons vereis word en waardeur ons genadeloon vir onsself kan verdien.) As ons Hom verloën, sal Hy ons ook (By die Regterstoel Oordeel ) verloën. (Die ontroue gelowige sal nie genadeloon ontvang nie maar hy sal hemel toe gaan. Sien 1Kor.3:15 hieronder) 13 As ons ontrou is, (en ons almal is met tye) Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.” Hy sal Homself verloën indien een van Sy kinders hel toe sou gaan want dan het Hy in stryd met Sy herhaalde beloftes opgetree. So iets kan en sal nooit gebeur nie.
Paulus bevestig hierdie feit, naamlik:
1Kor.3:11 “Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte, wat op ons geloof in die evangelie gebaseer is) 12 En as iemand op dié fondament bou (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking waar voortgesette dade van geloof van ons verwag word) goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels — 13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag (die Regterstoel Oordeel van Christus) sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.”
Gelowiges kan afvallig raak maar dan moet hulle God se tugtiging, wat ernstige afmetings kan aanneem, verwag. Gelowiges kan egter nooit verlore gaan nie. Dit is my bede dat hierdie artikel jou vraag beantwoord.
Seën groete!