sonde tot die dood

1Joh.5:16 Die sonde wat tot die dood lei

Vraag: Hi Vic. Kan jy my asb sê watter sonde verwys Johannes na wat tot die dood lei.
1Joh. 5:16 “As iemand sy broer ‘n sonde sien doen wat nie tot die dood lei nie, moet hy bid, en God sal aan hom, ja, aan hulle wat sonde doen wat nie tot die dood lei nie, die lewe gee. Daar is ‘n sonde wat tot die dood lei – ek sê nie dat hy daaroor moet bid nie.”

Antwoord: Uitstekende vraag. Baie mense neem verkeerdelik aan dat die stelling “sonde wat tot die dood lei “die tweede dood of ewige verderf beteken.” Hulle vergeet egter een van die kardinale reëls vir korrekte skrifuitleg, naamlik konteks, konteks en weereens konteks. Ek sal die leser van hierdie artikel ten sterkste aanraai om eers die artikel “Sewe verskillende vorms van dood in die Bybel” sorgvuldig deur te lees.” Johannes praat hier met mense wat alreeds wedergebore is en broeders in die geloof is. Hierdie mense besit dus die gawe van die ewige lewe as ewige besitting en kan nie verlore gaan nie.
Joh 5:24 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe(as huidige besitting) en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.
Joh 10:28 En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie,sal hulle uit my hand ruk nie. 10:29 My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.”

Volgens die Bybel beteken dood nooit die uitwissing van bestaan nie. Wanneer ‘n persoon fisies tot sterwe kom, dan word sy gees en siel van sy liggaam geskei. Die persoon se liggaam word in die graf gelê maar sy gees en siel bly bewustelik of in die hel of in die hemel voort bestaan. Eksperiënsiële of temporale dood vind plaas wanneer daar ‘n skeiding tussen God en Sy kind (‘n gelowige) binne familieverband a.g.v. sonde plaasvind (Luk.15:11-32; Jak.1:15 ens). Operasionele dood vind plaas wanneer die gelowige aaneenlopend in die vlees wandel, en nie geestelik groei en nie in sy geloof ontwikkel nie (Jak.2:17; Heb.5:11ens). Temporale en Operasionele dood oorvleuel in die meeste gevalle met mekaar, en dit is na hierdie twee vorme van dood waarna die teksgedeelte in 1Joh.5:16 verwys. Die ander vorme van dood wat ons in die skrifte vind is Geestelike dood; Ewige of tweede dood; Posisionele Dood; Seksuele dood.

Die woord “dood” het dus meer as net een betekenis en dit verwys nie in alle gevalle na die tweede dood of ewige verderf nie. Die konteks waarin die woord “dood” in gebruik word moet die spesifieke betekenis van die woord “dood” bepaal. ‘n Gelowige wat buite God se wil vir hom lewe is in effek van God se wil vir sy lewe geskei en in hierdie opsig is die persoon dood. ‘n Gelowige persoon wat ‘n losbandige lewe lei is in hierdie opsig lewendig dood. (alhoewel hy nog God se kind bly)
1Tim.5:6 “Maar sy wat losbandig is, is lewendig dood.”
So ‘n persoon se optrede skei hom binne familieverband met God, net soos wat daar ‘n skeiding binne menslike families plaasvind indien een van die kinders ‘n rebelse lewe lei. Hy bly nog die vader se kind maar daar het ‘n temporale en operasionele skeiding in hulle verhouding plaasgevind. Sover dit die gelowige se verhouding met God aanbetref is fase een van die gelowige se verlossing, naamlik wedergeboorte, alreeds afgehandel en in hierdie opsig is hy vir ewig God se kind en God sal hom nooit verwerp nie. Daar kan egter ‘n doding/skeiding in die interpersoonlike verhouding tussen die gelowige en die Vader plaasvind indien daardie gelowige in sonde lewe.

So ook vind ons voorbeelde in die skrifte van gelowiges wat a.g.v. ernstige sondes met fisiese dood deur die Vader getugtig word. Ananías en sy vrou Saffíra wat vir die Heilige Gees gelieg het (Hand.5:1-11), asook sekere gelowiges in die gemeente van Korinthe, wat hulleself nie geoordeel het vir die wyse waarop hulle die armes in die gemeente tydens die liefdesmaal behandel het nie (1Kor.11:20-34), is twee voorbeelde hiervan. In hierdie opsig het sommige van hulle die sonde gepleeg wat tot fisiese dood aanleiding gegee het, naamlik:
1Kor.11:30 “Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap.(gesterf) 31 Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie. 32 Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.
Hulle moes geweet het dat dit wat ‘n persoon aan ‘n gelowige doen hy ook aan Christus doen. (Hand.9:1-4) Indien die Korintiërs hulleself, t.o.v. hulle gedrag sover dit hulle arm broeders aanbetref beoordeel het, en tot bekering sou kom, dan sou hulle nie deur God getugtig hoef te word nie. Hierdie beginsel geld vir enige sonde, en wanneer daardie sonde ernstig genoeg is om die doodstraf te regverdig, dan kan God daardie gelowige se fisiese lewe neem.
In 1Joh.5:16-17 merk ons egter dat Johannes twee klasse van sonde bespreek. Die eerste is ‘n sonde wat ons ‘n medegelowige sien pleeg wat nie tot die dood lei nie. Dit is ‘n minder ernstige sonde wat nie die doodstraf verdien nie. God verwag nog steeds dat die gelowige homself moet beoordeel, en indien hy nie toelaat dat die Heilige Gees heiligmaking in sy lewe bewerkstellig nie, dan sal God hom tugtig maar nie met fisiese dood nie. In gevalle soos hierdie kan ‘n medegelowige met selfvertroue vir sodanige gelowige by God intree wetende dat God sy lewe sal spaar. Daar is egter ook ‘n sonde wat die doodsvonnis verdien.

Ernstige sondes het ernstige gevolge, wat in sommige gevalle tot siekte en fisiese dood aanleiding kan gee. Om hierdie rede word ons vermaan om nie die Gees te blus nie, naamlik:
1Thess.5:19 “Blus die Gees nie uit nie.”
Die gelowige in Korinthe wat met sy vader se vrou gehoereer het dien as mooi voorbeeld van ‘n gelowige wat die sonde tot die dood pleeg. Dit is ook opmerklik dat Paulus nêrens die gemeente aangesê het om vir daardie spesifieke gelowige te bid nie. Hy het eerder die gemeente aangesê om die persoon uit die gemeente te verwyder en hom aan satan oor te lewer, naamlik:
1Kor.5:1 “’n Mens hoor waarlik van hoerery onder julle, en hoerery van so ‘n aard as wat selfs onder die heidene nie bekend is nie: dat iemand die vrou van sy vader het. 2 En tog is julle opgeblase in plaas dat julle liewer getreur het, sodat hy wat hierdie daad gedoen het, kan verwyder word onder julle uit. 3 Want wat my betref, het ek, liggaamlik afwesig maar in die gees teenwoordig, alreeds besluit asof ek teenwoordig was, om hom wat so iets gedoen het, 4 in die Naam van onse Here Jesus Christus, as julle vergader het en my gees saam met die krag van onse Here Jesus Christus — 5 om so iemand aan die Satan oor te lewer tot verderf van die vlees, sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus.”
Dit sou nie noodwendig verkeerd wees om vir hom te bid nie, maar God gaan nie noodwendig so ‘n gebed verhoor en die persoon se lewe spaar nie. In gevalle soos hierdie is dit meer raadsaam om die persoon met sy sonde te konfronteer in ‘n poging om hom sover te kry om tot bekering te kom alvorens dit te laat is.
Jak.5:19 “Broeders, as een onder julle van die waarheid afgedwaal het en iemand hom bekeer, 20 laat hy weet dat die een wat ‘n sondaar van sy dwaalweg bekeer, ‘n siel uit die dood (temporale en operasionele dood, en in sommige gevalle selfs fisiese dood) sal red en ‘n menigte sondes sal bedek.”

Tydens die Kerk Dispensasie onderrig die Nuwe Testament ons in beide die private en openbare sfere van die lewe. Ons lewe dus nie nou asof ons steeds onder die heerskappy van die Mosaïese Wet funksioneer nie, naamlik:
Rom.6:14 “Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade.”
Ons moet mooi verstaan dat ons nou onder die honderde opdragte funksioneer wat die Nuwe Testament die Wet van Christus noem (1 Kor. 9:21; Gal. 6:2).
1Kor.9:19 “Want alhoewel ek van almal vry was, het ek my aan almal diensbaar gemaak om soveel van hulle as moontlik te win. 20 Vir die Jode het ek soos ‘n Jood geword om die Jode te win; (Paulus was ‘n aanhanger van die Joodse geloof voordat hy ‘n Christen geword het.) vir die wat onder die wet is, soos een wat onder die wet is, om die wat onder die wet is, te win. (slegs Jode was onder die wet van Moses geplaas, want dit is slegs aan Israel wat die Wet van Moses gegee is. Indien Christene nog onder die Wet van Moses was dan sou Paulus nie hierdie stelling kon maak nie.) 21 Vir die wat sonder die wet is, soos een sonder wet — al is ek nie sonder die wet van God nie, maar onder die wet van Christus — om die wat sonder die wet is, te win;”
Die leser word ten sterkste aangeraai om die reeks artikels wat oor die verskillende dispensasies handel te lees.

Dit beteken geensins dat ons nie vanuit die Wet van Moses wysheid kan bekom wanneer dit binne die raamwerk van die Wet van Christus wettiglik toegepas kan word nie.
1Tim.1:8 “Maar ons weet dat die wet goed is as iemand dit wettiglik gebruik”
Ons weet byvoorbeeld dat tydens die verandering van dispensasies sekere verantwoordelikhede weggeval het (diereoffers, sabbatsonderhouding ens) en dat sekere fasette van die Wet van Moses in die Wet van Christus opgeneem is, soos byvoorbeeld die morele aspekte van die Wet van Moses, wat ewigdurend van aard is, omrede dit ‘n refleksie van God se karakter is. Nege van die tien gebooie is dus in die Wet van Christus opgeneem. (sabbatsonderhouding is nie in die Wet van Christus opgeneem nie.)
Kol.2:16 Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie, 17 wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.”
Tydens die Dispensasie van die Wet was Israel as volk die opdrag gegee om die doodstraf vir ernstige sondes op te lê. Die Kerk wat ‘n hele nuwe entiteit is, en wat tydens die Dispensasie van die Kerk funksioneer, het nie die reg om die doodstraf op te lê nie. Tydens die Kerk Dispensasie het net God en die staat die reg om die doodstraf op te lê. (Rom.13:4).

Huidige dispensasionele verpligtinge word dus met verantwoordelikhede wat God vanuit vorige dispensasies na die Wet van Christus oorgebring het gekombineer, om aan die Nuwe-Testamentiese gelowige ‘n volledige Bybelse raamwerk te verskaf waardeur hy kan verstaan hoe om God in elke gebied van sy lewe te behaag. Alle morele sondes waarvoor die doodstraf in die Ou Testament opgelê is kwalifiseer tydens die Dispensasie van die Kerk as sondes wat tot die dood aanleiding kan gee. Dit sluit sondes soos homoseksualiteit, moord, egbreuk, afgodediens, bestialiteit, voortgesette ongeloof na aanvanklike wedergeboorte, ensovoorts in. Tydens die Kerk Dispensasie pleeg ‘n persoon verder ook die sonde wat tot die dood aanleiding kan gee wanneer hy die liefdesmaal op ‘n onwaardige wyse gebruik, (1Kor.11:17:34). Ananias en Saffira, wie vir die Heilige Gees gelieg het, het ook die sonde wat tot die dood aanleiding gee gepleeg. (Hand.5:1-11)

Ter afsluiting: 1Joh.5:16 verbied nie ‘n gelowige om vir sy broeder, wie hy sien ‘n sonde pleeg wat tot die dood lei, te bid nie. Hy sal egter nie met sekerheid kan verklaar dat God sy versoek sal toestaan nie. In gevalle soos hierdie is dit eerder raadsaam om die gelowige met sy sonde te konfronteer en in van die potensiale gevolge van sy sonde waarsku. Maar indien God alreeds besluit het om sy lewe op enige gegewe tyd te neem, dan is enige gebed om sy lewe te spaar nutteloos en die persoon sal die gevolge van sy sonde moet dra.
Gal.6:7 “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.”
So ‘n gelowige sal egter nie verlore gaan nie. Om hierdie rede is dit van uiterste belang om sonde ernstig op te neem en om die ongeoorloofde aannames t.o.v. God se genade te maak nie. Indien die gelowige die punt bereik het waar God besluit het om sy lewe te neem, dan is daar heelwaarskynlik geen gebed wat enigsins iets aan die saak kan doen nie. Hy sal sterf.

Ek hoop hierdie artikel beantwoord jou vraag.

Seën Groete!

Vic


NB: Ek wil net graag weereens die mense bedank wat tot hierdie bediening bydrae. Die Here weet wie julle is en ek bid dat Hy dit op julle rekening sal plaas. Julle is medearbeiders in die werk wat ons hier doen en mag julle loon groot wees.
2Kor.9:6 “Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai. 7 Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief. 8 En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk.
Ef.6:8 omdat julle weet dat elkeen vir die goeie wat hy doen, loon van die Here sal ontvang, of hy ‘n slaaf is of ‘n vryman.”

Deel met ander asb.