Siel

Die siel van die mens en prokreasie, ‘n skriftuurlike perspektief


Christene wat die inspirasie van die Bybel erken, weet dat Adam ‘n onmiddellike en direkte skepping van God was. Die Bybel stel hierdie feit baie duidelik, naamlik:
Gen.2:7 “En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.”
God het dus die mens met ‘n materiële (stoflike) aspek, asook ‘n immateriële (nie-stoflike) aspek, naamlik die gees en siel geskape. Die “asem van die lewe” is die immateriële (nie-stoflike) faset van ‘n mens wat lewe aan die stoflike deel van die mens gee.

Die mens vorm dus ‘n eenheid wat uit sy materiële (fisiese liggaam) en immateriële faset (siel en gees) bestaan. Tydens die sterf proses word die materiële faset (fisiese liggaam) van die immateriële faset (siel en gees) geskei, waarna die persoon se liggaam in die graf gelê word maar sy immateriële faset bly nog steeds bewustelik voortbestaan. (Openb.6:9) In ‘n Bybelse sin beteken dood nooit uitwissing van bestaan nie maar wel skeiding. Wanneer ‘n persoon tot sterwe kom vind daar ‘n skeiding tussen die persoon se liggaam, wat in die graf geplaas word, en sy siel, wat nog steeds bewustelik bly voortbestaan, plaas. So ook is ‘n persoon wat geestelik dood is nog steeds fisies lewendig, maar sy gees en siel is van God se Gees geskei. Alhoewel so ‘n persoon nog steeds fisies lewe word hy as geestelik dood geklassifiseer en indien hy in hierdie toestand tot sterwe kom sal hy vir ewig van God se aangesig geskei word. (die poel van vuur) Die leser word aangeraai om die artikel “Sewe vorme van dood in die Bybel” te bestudeer.

Let op die term “in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.” (Gen.2:7) Ons kan dan met absolute sekerheid aanneem dat die immateriële (nie-stoflike) faset van die mens die materiële (stoflike) faset van die mens animeer of lewendig maak. Hierdie waarneming word deur die skrifte bevestig, naamlik:
Jak.2:26a “Want soos die liggaam sonder gees dood is,”
Wanneer dieimmateriële faset van die mens sy fisiese liggaam verlaat, dan eers is daardie persoon dood en sal nie sonder ‘n direkte wonderwerk weer lewendig kan word nie. Lees gerus die artikel “Naby die dood ervarings of skyndood vs wat sê die skrifte”

Boonop is die mens se intellek in die immateriële (nie-stoflike) faset van die mens gesetel, omrede die mens se intellek immateriële (nie-stoflike) konsepte, idees en proposisies kan hanteer. Ons weet byvoorbeeld dat vliegtuie ‘n materiële (fisiese) voorwerp is, maar die stelling “vliegtuie is wonderlik” is ‘n immateriële (nie-stoflike) proposisie. Wanneer ek byvoorbeeld ‘n denkbeeldige ruimtetuig met duisende vlerke in my gedagtes opmaak, dan demonstreer dit die feit dat my gedagtes immaterieel van aard is omrede daar geen materiële ekwivalent in die fisiese wêreld te vinde is nie. Indien ek dit so sou verkies dan maak ek van my materiële (fisiese) aspek, wat my fisiese brein insluit, gebruik om daardie immateriële konsep op papier vas te lê Die feit dat die konsep van die ruimtetuig met duisend vlerke slegs in my gedagtes/denke, wat immaterieel van aard is, bestaan dien as bewys dat die mens d.m.v. sy nie-stoflike faset dink waarna hy die materiële (stoflike) aspek van sy wese (wat sy fisiese brein insluit) gebruikmaak om die idee/konsep op papier vas te lê. My nie-stoflike faset, naamlik my gees en siel is die oorsprong van my idees en my stoflike faset (liggaam wat die brein insluit) is die medium waardeur ek myself in die fisiese wêreld uitdruk.

Die skrifte verklaar ook dat Adam in God se beeld geskape was en dat hy boonop ‘n direkte skepping van God was. Daarenteen word al Adam se kinders in Adam se beeld deur voortplanting verwek.
Gen.5:3 “Toe Adam honderd en dertig jaar oud was, het hy ‘n seun verwek na sy gelykenis, na sy ewebeeld, en hom Set genoem.”
Sover dit die stoflike faset van die mens aanbetref is hierdie feit maklik verstaanbaar, maar die vraag ontstaan hoe die immateriële (nie-stoflike) deel van die mens voortgeplant word? Onder die belydende Christendom is daar hoofsaaklik twee teorie wat as antwoord voorgestel word.

Kreasionisme:

Teoloë wat kreasionisme voorstaan beweer dat die immateriële faset van die mens (sy siel en gees) ten tye van bevrugting deur God geskape word en onmiddellik met die persoon se materiële faset verenig word. Dit is vanselfsprekend dat albei fasette van die mens tydens bevrugting teenwoordig moes wees anders sou Dawid nie die volgende stelling kon maak nie, naamlik:
Ps.139:16 “U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.”
In bostaande teksgedeelte verwys Dawid na sy bevrugte selle as hyself, wat beteken dat God die bevrugte sel alreeds as ‘n mens bestempel, wat vereis dat sy siel en gees alreeds in sy liggaam teenwoordig moet wees. Hierdie teorie staan as die teorie van kreasionisme bekend wat leer dat God tydens bevrugting ‘n nuwe menslike gees skep en dit met die materiële faset verenig.

Die redes wat die proponente van kreasionisme voorhou is as volg:

a. Charles Hodge, wat die leerstelling van kreasionisme voorstaan, argumenteer dat hierdie leerstelling in lyn met teksgedeeltes soos Heb.12:9 en Num.16:22 is wat leer dat die mens se gees van God afkomstig is, naamlik:
Num.16:22a “Maar hulle het op hul aangesig geval en gesê: o God, God van die geeste van alle vlees!”
Heb.12:9 “Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie?”
Volgens hierdie sienswyse kom die gees van God af en die liggaam van die ouers af.

b. Die siel van die mens vorm deel van sy immateriële (nie-stoflike) faset en daarom kan dit nie deur die ouers oorgedra word nie.

c. Die Here Jesus Christus se sondeloosheid kon slegs moontlik wees indien Sy menslike siel geskape is. Hierdie sienswyse verklaar dat omrede die Here Jesus Christus ‘n sondelose liggaam gehad het, kon Sy siel nie deur enige sonde natuur besoedel word nie wat sou verseker dat Sy Persoon sondeloos sou wees. So ver dit die mensdom aanbetref, beteken dit nie noodwendig dat God die siel van ‘n persoon met ‘n gevalle natuur skep nie. God skep die nuwe siel van die baba in ‘n heilige toestand, maar sodra die siel van die baba met die oorerflike sondeskuld van die baba se liggaam in kontak kom plaas dit die baba onder God se oordeel. Die Rooms-katolieke Kerk, asook ‘n groot gedeelte van die Gereformeerde Kerke glo aan kreasionisme.

Traducianisme

Persoonlik verkies ek traducianisme, wat beteken dat tydens bevrugting die materiële (stoflike) sowel as die immateriële (nie-stoflike) fasette van die ouers na die kind getransmuteer word. Die redes hiervoor is as volg:

a. Die skrifte verklaar onomwonde dat God se skeppingswerk in ses dae voltooi was en dat Hy op die sewende dag van Sy skeppingswerk gerus het.
Exodus 20:11a “Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus.”
Vanuit bostaande teksgedeelte is dit duidelik dat God se skeppingswerk in ses dae afgehandel is. Dit wil dus voorkom dat geen nuwe siele nog geskape word nie. Verder verklaar die Nuwe Testament dat die Here Jesus Christus nou die skepping onderhou wat hierdie gevolgtrekking bevestig, naamlik:
Kol:1:17 “En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.”

Boonop het God die asem van die lewe in slegs Adam geblaas, en God het nooit weer die proses in Adam se nasate herhaal nie. Alle mense na Adam en Eva word deur natuurlike voortplanting voortgebring en nie deur ‘n direkte skeppingsdaad van God nie.
Gen.2:7 “En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde (materiële of te wel stoflike faset van die mens) en in sy neus die asem van die lewe geblaas. (immateriële of te wel nie-stoflike faset van die mens) So het dan die mens ‘n lewende siel geword.
Daar is geen indikasie in die skrifte dat God nuwe siele skep nie. Hierdie feit lê die grondslag van die wetenskaplike wet van biogenese, wat verklaar dat lewe slegs van bestaande lewe af kom, en wat die teorie van ewolusie van laer na hoër vorme van lewe onmoontlik maak. Die mens kom dus nie van ‘n aap af nie, maar is as mens geskape en plant volgens sy “soort” voort. Dit geld vir alle ander “soorte” lewe op aarde.

b. Vanuit die skrifte merk ons dat die liggaam en siel van ‘n persoon van die oomblik van bevrugting af teenwoordig is.
Ps.51:7 “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.”
Die King James Version stel hierdie feit nog duideliker, naamlik:
Ps.51:5 “Behold, I was shapen in iniquity; and in sin did my mother conceive me.”

In my beskeie opinie sluit bostaande teksgedeelte die moontlikheid uit dat God ‘n nuwe siel tydens bevrugting skape. Die rede hiervoor is eenvoudig. Die Bybel verklaar onomwonde dat al Adam se nasate geestelik dood gebore word, wat beteken dat hulle geeste van God geskei is. Let op die stelling “in sonde het my moeder my ontvang” Onthou, al Adam se nasate word na sy gelykenis, en ewebeeld verwek wat beteken dat ons in Adam as gevalle wesens (stoflike sowel as nie-stoflike faset) gebore word. (Gen.5:3) Dit is a.g.v. hierdie feit dat Paulus die volgende stelling gemaak het, naamlik:
Rom.5:12v “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal
(in Adam)gesondig het”

Dit verduidelik hoe die erfsonde vanaf Adam na sy nasate via sy immateriële (nie-stoflike) faset oorgedra word. Daarom kon die skrywer van Hebreeus verklaar dat Levi, wie toe nog nie gebore was nie, via Abraham tiendes aan Melgisédek kon gee.
Hebr.7:9 “En, om so te sê, het ook Levi wat tiendes ontvang, deur Abraham tiendes gegee;10 want hy was nog in die lendene van sy vader toe Melgisédek hom tegemoetgegaan het.”
Vir Levi om in Abraham se lendene teenwoordig te kan wees, vereis die gevolgtrekking dat sy siel nie later deur God geskape kon word nie. ‘n Persoon se siel (immateriële faset) moet dus d.m.v. die voortplantingsproses direk vanaf sy ouers na hom getransmuteer word om die skrywer van Hebreërs se stelling te regverdig. Onthou, die mens is ‘n gees en siel wat in ‘n liggaam inwoon, en tydens die afsterwe van die persoon verlaat sy siel sy liggaam en sal eers later tydens die opstanding weer met sy liggaam versoen word. (2Kor.5:6)

Ek stem saam met Charles Hodge dat die gees van die mens van God afkomstig is, maar net omrede die immateriële (nie-stoflike) faset van die mens van God afkomstig is beteken geensins dat God elke keer wanneer bevrugting plaasvind ‘n nuwe siel uit niks moet skape nie. Ons liggame is ook van God afkomstig, maar God skep nie tydens bevrugting ‘n nuwe persoon uit niks uit nie, maar God maak eerder van die biologiese proses wat Hy in die mens se DNA geprogrammeer het gebruik om voortplanting te bewerkstellig. In hierdie opsig bly Hy nog steeds ons Skepper want ons almal kom van Adam af. Dieselfde beginsel moet ook vir die immateriële (nie-stoflike) faset van die mens geld, anders sou Die Bybel nie kon verklaar dat God se skeppingswerk in ses dae voltooi was nie.

Indien God elke keer wanneer bevrugting plaasvind ‘n nuwe siel vir die mens moet skep, hoe sou dit dan die mens se sonde natuur verduidelik? Onthou, God skep altyd net dit wat goed (in die geval van ‘n menslike siel heilig) is en hierdie feit geld vir die menslike siel ook. Indien ons erfsonde in ons gene te vinde is, dan sal God ‘n sondelose siel moes neem en dit besoedel deur dit met ‘n sondige liggaam te verenig. Dit is te veel gevra om so ‘n konsep met God se heiligheid te versoen, wetende dat Hy niemand met sonde versoek nie.
Jak.1:13 “Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie.”

Boonop is dit ‘n feit dat Adam en Eva geestelik gesterwe het die oomblik toe hulle van die vrug van die boom van die kennis van goed en kwaad geëet het. (Gen.2:9; 3:6-7) Hierdie daad sou verseker dat al hulle nasate wat uit hulle sou voorkom ook geestelik dood gebore sou word, maar om geestelik dood gebore te word vereis dat ‘n persoon se siel en gees alreeds teenwoordig moet wees. (Gen.2:9) Onthou, al Adam en Eva se nasate word geestelik dood gebore, alhoewel hulle lewens met bevrugting begin. Om hierdie rede leun ek meer na die idee van traducianisme, waar die kind se stoflike, asook nie-stoflike faset van die ouers af oorgedra word en hierdie feit verduidelik ook hoe die sonde natuur (ons geneigdheid om te sondig) vanaf ons ouers na ons getransmuteer word. Traducianisme versoen die konsep van die mens se sonde natuur ten spyte van die feit dat God slegs dit wat goed is kan skep. Dit versoen ook die feit dat God Sy aanvanklike skeppingswerk in ses dae voltooi het, naamlik:
Gen.2:1 “So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag. 2 En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het.”

God het dus die proses van traducianisme geskep en sodoende sou Hy die primêre of hoofoorsaak wees terwyl die ouers die sekondêre oorsaak is. Die Bybel leer ons dat die mens oor die vermoë beskik om kinders te verwek maar dat dit op die ou einde van die dag God is wat dit moontlik maak. Hierdie feit geld vir alles wat die mens op hierdie aarde maak.
Heb.3:4 “ want elke huis word deur iemand gebou, maar Hy wat alle dinge gebou het, is God.”

Ter afsluiting: Dit is my bede dat met die skryf van hierdie artikel dit die leser sal aanmoedig om dieper in die Bybel te grawe. Daar is so baie wat ons nie weet nie en wat die Here wil hê ons moet weet. Hierdie hele proses vorm ‘n uiters belangrike faset van ons geestelike ontwikkeling na aanvanklike wedergeboorte. In hierdie opsig is dit belangrik vir elke persoon om self tot ‘n skriftuurlike gevolgtrekking te kom. Hierdie is ook ‘n interessante onderwerp wat om die braai vuur, etenstafel of tydens Bybelstudies met vriende en familie bespreek kan word.

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.