Vraag: Hi Vic
Verwys die Hebreërs skrywer na gelowiges wat sondes gepleeg het en afvallig geraak het, of ‘n ander geloof beoefen. M.a.w daar is geen vergifnis.
Hebreërs 6:4-6 AFR20 “Dit is immers onmoontlik om hulle wat eenmaal verlig is, wat die hemelse gawe gesmaak, en deel gekry het aan die Heilige Gees, en wat die goeie woord van God gesmaak het, en ook die kragte van die komende bedeling, en tog afvallig geword het, weer opnuut tot bekering te bring; aangesien hulle wat hulleself betref, die Seun van God opnuut kruisig en openlik tot skande maak.“
Groete
Antwoord: Dis ‘n baie goeie vraag wat jy opbring. Die skrywer van Hebreërs spreek met Messiaanse Jode, en dus Christene wat uit die Joodse geloof kom. Hulle was onder druk van hulle volksgenote om na die Jodedom met sy toe nog bestaande tempeldiens terug te keer. Die sondes wat hier van gepraat word moet in daardie konteks verstaan word.
Heb.6:6 is nog ‘n verdere teksgedeelte wat soms aangehaal word as bewys dat ‘n gelowige die gawe van die ewige lewe kan verbeur. Ek gaan net gou weer die teksgedeelte waarna jy verwys hier aanhaal en dan kan ons dit binne die korrekte konteks bespreek.
Heb.6:4 “Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, 5 en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, 6 en afvallig geword het — om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak. 7 Want die grond wat die reën indrink wat dikwels daarop val, en nuttige plante voortbring ter wille van hulle vir wie dit ook bewerk word, het deel aan die seën van God. 8 Maar as dit dorings en distels oplewer, deug dit nie en is naby die vervloeking — die einde daarvan is verbranding.”
Die brief is aan wedergebore mense (en dus gelowiges) gerig wat alreeds die genadegawe van ewige lewe, as ewige besitting, by God deur geloof in die evangelie in ontvangs geneem het. (Heb.3:1, 12; 4:14-16; 5:13; 6:1, 9-12, 19; 10:10, 14, 19-25, 32-39; 12:1-15; 13:20-21). Hierdie gelowiges het a.g.v. van hulle geloof in die Here Jesus Christus vervolging ervaar.
Heb.10:32 “Maar onthou die vorige dae waarin julle, toe julle verlig geword het, ‘n groot lydensworsteling deurstaan het, 33 gedeeltelik omdat julle deur smaad en verdrukkinge ‘n skouspel geword het, gedeeltelik omdat julle deelgenote geword het van die wat in so ‘n toestand verkeer het. 34 Want julle (Hebreeuse gelowiges) het ook saam met my gevoel in my boeie, en julle het die berowing van julle goed (deur die ongeredde Jode) met blydskap aanvaar, omdat julle geweet het dat julle in julself ‘n beter en blywende besitting in die hemele het.”
Omrede hierdie gelowiges vanuit ‘n Joodse agtergrond kom, gaan die skrywer van die brief uit sy weg om te demonstreer dat die Here Jesus Christus in Sy Persoon (1:1-4:13), en Sy werk (4:14-10:18) hoër as die engele, Moses en die Levitiese priesterdom (met sy meegaande diereoffers) verhewe is. Die Here Jesus Christus het dus deur die eenmalige offer van Homself vir ewig diegene wat op ‘n punt in tyd in Hom geglo het volmaak, naamlik:
Heb.10:14 “Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak (fase een van hulle verlossing, naamlik wedergeboorte is afgehandel) die wat geheilig word.” (fase twee van die gelowiges se verlossing, naamlik heiligmaking, waar voortgesette dade van geloof van die gelowige vereis word. Lees gerus weer die artikels “Drie Fases van Verlossing”, asook “Heiligmaking in drie Fases”)
Werklike heiligmaking kan slegs in ‘n wedergebore persoon se lewe bewerkstellig word. ‘n Ongelowige persoon kan homself reformeer maar hierdie reformasie het geen ewigheidswaarde nie en dit sal hom ook nie kan red nie. En om heiligmaking te bewerkstellig het die persoon die inwoning van die Heilige Gees nodig wat hom in staat sal stel om werklike heiligmaking in sy lewe te bewerkstellig. ‘n Persoon ontvang, en word met die Heilige Gees tydens die glo van die evangelie verseël.
Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,”
Hierdie verseëling van die Heilige Gees waarborg die feit dat die gelowige nooit verlore sal kan gaan nie. (Ef.4:30) ‘n Gelowige kan a.g.v. sonde die Heilige Gees bedroef maar die heilige Gees sal nie die gelowige a.g.v. sonde verlaat nie.
Ef.4:30 En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.” (fase drie van hulle verlossing, naamlik die verheerliking, wat ‘n gewaarborgde feit is.) Die term “tot die dag van verlossing.” verwys na fase drie van die gelowige se verlossing, naamlik die verheerliking, wat tydens die eerste opstanding (of die wegraping indien die gelowige nog sou leef) eers afgehandel sal wees. In lig van Christus se volmaakte offer word hierdie gelowiges (wie alreeds die ewige lewe besit) aangemoedig om onwrikbaar aan hulle belydenis vas te hou, naamlik:
Heb.10:23 “Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou;”
Dit is in hierdie konteks waartydens die skrywer die superioriteit (en voortreflikheid) van die Here Jesus Christus se priesterskap (bo die van die Levitiese priestersamp) verduidelik en waartydens hy die onderwerp aanhaal dat sommige van hierdie gelowiges in hulle geestelike groei agteruitgaan.
Heb.5:11 “waaroor ons veel te sê het wat swaar is om te verklaar, omdat julle traag geword het om te hoor. (die feit dat hulle traag geword het om te hoor beteken dat hulle op ‘n stadium nie traag was om te hoor nie)12 Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie. (In stede daarvan dat hulle geestelike volwassenheid bereik het, het hulle eerder agteruitgegaan en is nou weer in die stadium van geestelike babas. Om in die eerste plek babas te geword het moes hulle op ‘n gegewe punt in tyd wedergebore gewees het. Die skrywer praat dus hier met gelowiges wat alreeds die gawe van die ewige lewe besit.) 13 Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is. (en nie ‘n geestelike volwassene nie) 14 Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed (wat korrekte Bybelse leerstellings insluit)van kwaad (wat verkeerde leerstellings insluit) te onderskei.”
Die leerstellings wat ‘n persoon glo en toepas het ‘n direkte invloed op sy geestelike ontwikkeling. Om na die Wet van Moses terug te wil keer is om geestelik agteruit te gaan. En daarom vermaan die skrywer hulle om tot geestelike volwassenheid te op te groei.Heb.6:1 “Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid (geestelike volwassenheid)voortgaan sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God,”
‘n Gelowige wat na die Wet van Moses terugkeer om homself gered te hou, of om heiligmaking in sy lewe te bewerkstellig wandel in die vlees en nie in die Gees nie.
Gal.3:2 “Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang (fase een van hulle verlossing, naamlik wedergeboorte afgehandel) uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof? 3 Is julle (gelowiges) so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, (wedergebore geraak het) eindig julle nou met die vlees? (Fase twee van hulle verlossing, naamlik heiligmaking.) Hierdie gelowiges wou verkeerdelik die Wet van Moses gebruik om heiligmaking in hulle lewens te bewerkstellig. Sodoende wandel hulle in die vlees en nie in die Gees soos wat God van hulle verwag nie. Hulle is dus vleeslike gelowiges al mag hulle dalk vroom voorkom.
Soos ons alreeds gesien het kan hierdie vermaning slegs op gelowiges van toepassing wees, omrede ‘n ongelowige persoon nie in staat is om geestelik te groei nie. ‘n Persoon moet eers wedergebore raak alvorens hy geestelik kan groei. Dit is in die konteks van geestelike groei (heiligmaking) waarin die skrywer die volgende stelling maak:
Heb.6:4 Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, (die skrywer praat dus hier met persone wat alreeds die evangelie op ‘n punt in tyd geglo het en wat alreeds met die ‘n Heilige Gees verseël is. Hulle is dus alreeds wedergebore.) 5 en die goeie woord van God gesmaak het (korrekte Bybelse leerstellings wat die evangelie van God se genade insluit) en die kragte van die toekomstige wêreld, 6 en afvallig geword het — om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.
Onthou, konteks, konteks konteks!
Ons moet die feit in gedagte hou dat die Joodse tempel in Jerusalem ten tye van die skryf van hierdie brief nog bestaan en gefunksioneer het. Die Brief aan die Hebreërs is in die omgewing van 68nC op skrif gestel en die tempel was eers in 70nC deur die Romeinse generaal Titus vernietig. Hierdie Hebreeuse gelowiges was onder druk om na die Jodedom en meegaande diereoffers in die nog staande tempel terug te keer. Indien hulle aan hierdie versoeking/druk toe sou gee, dan sou hulle weer diereoffers in die tempel gaan verrig het, en dit terwyl die skrifte dit duidelik stel dat die tempeldiens met sy diereoffers slegs ‘n heenwysing na die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis was. Die bloed van diere kon nie die sondes van die mensdom wegneem nie.
Heb.10:1 “Want die wet, (van Moses) wat ‘n skaduwee het van die toekomstige weldade, nie die beeld self van die dinge nie, kan nooit deur dieselfde offers wat jaar na jaar gedurig gebring word, die wat toetree, tot volmaaktheid lei nie. 2 Anders sou hulle opgehou het om geoffer te word, omdat die wat die diens verrig, nadat hulle een maal gereinig is, geen bewussyn meer van sondes sou gehad het nie. 3 Maar in dié offers is daar jaar na jaar ‘n herinnering aan die sondes; 4 want die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem.”
Indien hierdie spesifieke gelowiges a.g.v. die vervolging wat hulle beleef het na die tempel sou terugkeer om daar diereoffers te bring, dan sou “hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak” (Heb.6:6). Hierdie optrede van hulle sou dan hulle vorige geloofsbelydenis, en die werklikheid van die eens-vir-altyd-soenoffer van die Here Jesus Christus aan die kruis (Heb.10:12) waardeur hulle vir ewig posisioneel geheilig is weerspreek. Om hierdie rede wy die skrywer van Hebreërs hoofstukke 9 en 10 daaraan toe om die feit te demosntreer dat die finale en voltooide offer van Christus “beter” as enige Ou Testamentiese offer is.
Heb.10:14 “Want deur een offer (van Homself aan die kruis) het Hy vir altyd volmaak die (persone wat op ‘n punt in tyd die evangelie geglo het. Fase een van hulle verlossing, naamlik wedergeboorte is alreeds afgehandel.) wat geheilig word.” (fase twee van hulle verlossing, naamlik heiligmaking, waar dit van hulle verwag word om tot geestelike volwassenheid te ontwikkel. Dit vereis dat hulle getrou aan die Here bly.) Dit is in hierdie konteks van fase twee van die gelowige se verlossing, naamlik heiligmaking waaroor die teksgedeelte handel.
Anders as wat sommige teoloë beweer, verklaar die skrifte onomwonde dat ‘n wedergebore persoon wat die ewige lewe ontvang het: afgodery en afvalligheid kan pleeg (1 Kon. 11:1-10); net vir ‘n rukkie te glo (Luk. 8:13); nie in die Woord van Christus te bly nie (Joh. 8:31); nie in Christus te bly nie (Joh. 15:1-8); om in die wedloop van die Christelike lewe gediskwalifiseer te word (1Kor. 9:24-27); om God se tugtiging en teregwysing tot so ‘n mate te weerstaan wat God daartoe noop om die gelowige se fisiese lewe te neem (1Kor. 11:30-32); van die geloof af dwaal (1Tim. 1:5-6); om skipbreuk in sy geloof te ly (1Tim. 1:18-20); van die geloof afvallig word(1Tim. 4:1-3); om die geloof te verloën (1 Tim. 5:8); om hulle aanvanklike geloof te verwerp en agter satan aan te loop (1 Tim. 5:12-15); om a.g.v. geldgierigheid van die geloof af te dwaal (1Tim. 6:9-10); wat die geloof betref op ‘n dwaalweg geraak het (1Tim. 6:20-21); om (net soos Petrus) die Here Jesus Christus te verloën en ontrou aan Hom te wees (2 Tim. 2:11-13); om van die waarheid af te dwaal, asook hulle geloof omverwerp (2 Tim. 2:14-18). Dit is juis omrede dat gelowiges in hulle geloof kan struikel/val dat Paulus die volgende vermaninge aan ons gerig het, naamlik:
1Kor.10:12 “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”
Gal.5:4 “Julle (gelowiges) wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.
Heb.4:10 “want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne. 11 Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie.” (wat die moontlikheid van fisiese dood insluit. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Sewe verskillende vorms van Dood in die Bybel” te lees.) Dit is ‘n skriftuurlike feit dat gelowiges op al die bogenoemde wyses kan struikel, en tot so ‘n mate dat hulle selfs van die genade kan verval. Dit is egter ook ‘n skriftuurlike feit dat ‘n gelowige nooit uit God se hande kan val en die gawe van die ewige lewe kan verbeur nie. Ons moenie ons teologie in die Bybel inlees nie, maar eerder toelaat dat God met ons deur Sy woord praat. Die Here Jesus Christus het juis die onderwerp van gelowiges wat in tye van versoeking wegval in die gelykenis van die saaier aangespreek.
Luk.8:11 “Dit is dan die gelykenis: Die saad is die woord van God. (korrekte Bybelse leerstellings wat die evangelie insluit) 12 Dié langs die pad is die hoorders. Daarna kom die duiwel en neem die woord uit hul harte weg, sodat hulle nie sou glo en gered word nie. (Hierdie mense hoor die woord wat gepreek word maar hulle glo nie in die evangelie nie en bly dus ongered. Hierdie groep mense is die enigste groep mense wat in die gelykenis van die saaier ongered is.) 13 En dié op die rots is hulle wat die woord met blydskap ontvang (wat ‘n aanduiding is dat hulle die evangelie glo) wanneer hulle dit hoor; en hulle het geen wortel nie, aangesien hulle net vir ‘n tyd glo, (Hierdie mense het op ‘n punt in tyd die evangelie gehoor, en het Christus se toegerekende geregtigheid ontvang wat die ewige lewe aan hulle waarborg. Fase een van hulle verlossing, naamlik wedergeboorte is dus afgehandel en hulle sal vir ewig God se kinders bly. Hulle struikel dus na aanvanklike wedergeboorte in hulle geloof) en in die tyd van versoeking (wat vervolging vir hulle geloof insluit) val hulle af. (Hierdie gelowiges val weg van Christus af, maar hulle kan nie uit Christus en die Vader se hande val nie. Joh.6:39-40; Joh.10:28-30. Dit is God wat ons gered hou. Dit is nie ons werk om onsself gered te hou nie, want die ewige lewe is ‘n genadegawe van ons deur geloof moet ontvang, nie iets wat ons kan verdien nie. Ons kan ook nie God vir daardie gawe vergoed nie anders sou dit nie ‘n genadegawe kan wees nie. Hierdie gelowiges misluk egter in fase twee van hulle verlossing, naamlik heiligmaking.) 14 En wat in die dorings geval het — dit is die wat gehoor het, en hulle gaan weg en word verstik deur die sorge en rykdom en genietinge van die lewe en dra geen ryp vrug nie. (Hierdie verteenwoordig gelowiges wat die ewige lewe besit, maar hulle raak so besorg met die dinge van hierdie lewe dat hulle nooit werklik geestelike volwassenheid bereik nie. Hierdie gelowiges misluk ook in fase twee van hulle verlossing, naamlik heiligmaking. In my beskeie opinie val die meeste gelowiges in die bogenoemde twee kategorieë.) 15 En (die saad, naamlik korrekte Bybelse leerstellings, wat God se woord is) wat in die goeie grond (die grond verteenwoordig die gelowige) val — dit is die wat, nadat hulle gehoor het, die woord in ‘n edele en goeie hart hou (en dus glo en wedergebore word) en met volharding vrug dra. (Hierdie groep verteenwoordig gelowiges wat toelaat dat God heiligmaking in hulle lewens bewerkstellig, en wat tot geestelike volwassenheid opgroei. Dit is hierdie laaste groep gelowiges wat genadeloon sal ontvang.) Lees asseblief weer die artikels “Ons kan nie God vir Sy genade beloon nie”, asook “God se genade word in gelyke maat aan alle mense aangebied” en laastens “Die mens se sondeskuld verhoed nie God se genade nie”
Paulus stel dit soos volg:
1Kor.3:11”Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. (wat Sy Persoon en voltooide werk aan die kruis insluit. Fase een van sy verlossing, naamlik wedergeboorte is dus alreeds afgehandel) 12 En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels (fase twee van sy verlossing, naamlik heiligmaking, waar voortgesette dade van geloof verwag word en waarin die gelowige kan misluk) — 13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag (Regterstoel Oordeel van Christus. Rom.14:10; 2Kor.5:10) sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.”
Lees ook asseblief weer die artikel “Proponente van werkheiligheid se herdefiniëring van geloof”.
Hebreërs 6:6 is ‘n ernstige waarskuwing aan sommige gelowiges in die gemeente wat hulle teen die moontlikheid waarsku dat hulle in hulle geestelike lewens agteruitgaan, en dat die moontlikheid bestaan dat hulle uit die weg van dissipelskap kan wegval. (Lees asb die artikel “Die onderskeid tussen ‘n gelowige en ‘n dissipel”) Indien hierdie gelowiges aan die druk toegee, dan sal dit daartoe lei dat hulle weer aan die Levitiese sisteem van diereoffers sal deelneem, en dit met die wete dat die tempeldiens met sy diereoffers slegs ‘n heenwysing na Christus en Sy nou alreeds voltooide werk aan die kruis was. In hierdie opsig sal hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik (in die openbaar in die tempel) tot skande maak. Deur hulle optrede van diereoffers bring verklaar hulle dan in effek dat Christus nie werklik vir die mensdom se sondes aan die kruis gesterf het nie, maar dat Hy vir sy eie sondes gesterf het. Dit is na hierdie mense wat die Here in die Gelykenis van die saaier as diegene wat “die woord met blydskap ontvang wanneer hulle dit hoor; en hulle het geen wortel nie, aangesien hulle net vir ‘n tyd glo, en in die tyd van versoeking val hulle af.” verwys. So ‘n stand van sake sal net tot verdere geestelike agteruitgang aanleiding gee.
Omrede so baie Bybelkenners nie die hele konteks van die brief aan die Hebreërs in rekening hou wanneer hulle by Heb.6:4-6 kom nie, veroorsaak dit dat hulle hulle weg verloor en tot verkeerde gevolgtrekkings kom. Sodoende ignoreer hulle die feit dat die skrywer van die brief alreeds vroeër in die brief sy lesers ingelig het waaroor die waarskuwing in Heb.6:4-6 handel, naamlik:
Heb.6:1 “Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan (geestelike volwassenheid) sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God, 2 van die leer van die doop en van die handoplegging en van die opstanding van die dode en van die ewige oordeel. 3 En dit sal ons doen as God dit toelaat.”
Die skrywer van die brief waarsku in ander woorde nie sy lesers van die gevaar dat hulle die gawe van die ewige lewe kan verloor nie, maar hy waarsku hulle eerder dat hulle die moontlikheid om tot geestelike volwassenheid te ontwikkel kan verbeur, (ontneem kan word) net soos wat die dit die geval met die Exodus generasie was toe hulle a.g.v. hulle ongeloof geweier het om die beloofde land binne te gaan. En later toe hulle die beloofde land wou binnegaan is dit hulle geweier en hulle het in die woestyn omgekom. Dit moet ook onthou word dat selfs Moses a.g.v. sonde nie die beloofde land kon binnegaan nie.
En net soos wat dit met die Exodus generasie die geval was, bestaan die gevaar dat God nie weer hierdie gelowiges die geleentheid sal gee om tot geestelike volwassenheid te ontwikkel nie. Let op die stelling “as God dit toelaat”. Heb. 5:11-14 stel dit duidelik dat hierdie gelowiges nie tot geestelike volwassenheid opgegroei het nie, en dit terwyl hulle alreeds meer as genoeg tyd gehad het om dit te doen. Daar was alreeds sommige onder hulle wat na die Joodse geloof wou terugkeer, net soos wat meeste van die Exodus generasie na Egipte wou terugkeer. Hulle is egter deur God geoordeel en hulle is nie die geleentheid gegee om weer te bekeer toe hulle later die land wou binnegaan nie. Lees asseblief Numeri 13 en 14 sorgvuldig deur. Die konteks hier handel nie oor die vraag of hierdie Hebreërs wedergebore is of nie. Dit handel ook nie daaroor of hulle dalk die gawe van die ewige lewe kan verbeur nie. Die konteks handel oor die feit dat hulle nie geestelik ontwikkel het soos wat God van hulle verwag het nie, en die moontlikheid bestaan dat Hy hulle (veral indien hulle na die Jodedom terugkeer) nie weer die geleentheid sal gee om tot geestelike volwassenheid te ontwikkel nie.
Heb.6:4 “Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, 5 en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, 6 en afvallig geword het — om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.
Net soos die Exodus generasie, sal hierdie gelowiges nie weer die geleentheid gegee word om van hulle sonde te bekeer nie, maar hulle kon verseker God se vaderlike tugtiging verwag. Heb.12:5-10) Dit sluit tragiese gevolge in hierdie lewe, sowel as die ewigheid in, maar dit behels nie die gevaar dat hulle die ewige lewe kan verbeur nie.
Anders gestel: Hierdie gelowiges moes positief op die vermaning in hierdie brief reageer en werk met met hulle geestelike traagheid maak. Indien hulle nie dit nie doen nie, maar eerder verder geestelik agteruitgaan en na die Jodedom terugkeer, dan sal hulle nie later weer die geleentheid gegun word om te bekeer en tot geestelike volwassenheid te ontwikkel nie. Hulle sal egter die gevolge van hulle sonde moet dra. Hulle sal gered bly maar sal deur God getugtig word.
In die lig van bogenoemde feite kon die Hebreeuse gelowiges een van twee opsies nastreef. Hulle kan die skrywer van die brief se vermanning ernstig opneem, en in geloof op die brief reageer en getrou aan die Here bly. Sodoende sal hulle tot geestelike volwassenheid opgroei en vrug voortbring. (wat die belofte van genadeloon insluit) Of hulle kan hierdie vermaninge, wat God se direkte woord aan hulle is, ignoreer en weer na die tempeldiens met sy (en nog funksionerende) diereoffers terugkeer en sodoende hulle Verlosser openlik tot skande maak. Aangesien hierdie brief God se direkte woord aan hulle was, word die brief aan Hebreërs vergelyk met “die reën wat dikwels op die aarde val” (6:7; vgl. Jes. 55:8-11). Indien die lesers positief op die brief reageer sal hulle nuttige plante voortbring (goud, silwer, kosbare stene. Kor.3:12.) en sal deel aan God se seën hê wat genadeloon insluit. Indien hulle nie positief op hierdie brief aan hulle reageer nie, dan sal hulle dorings en distels voorbring (hout, hooi, stoppels. 1Kor.3:12) alles werke wat verbrand sal word.
Heb.6:7 Want die grond wat die reën indrink wat dikwels daarop val, en nuttige plante voortbring ter wille van hulle vir wie dit ook bewerk word, het deel aan die seën van God. 8 Maar as dit dorings en distels oplewer, deug dit nie en is naby die vervloeking — die einde daarvan is verbranding.” (sien weer 1Kor.3:11-15)
Baie teoloë neem verkeerdelik aan dat die verbranding wat hier van gepraat word die helse vuur is. So ‘n aanname weerspreek die konteks en ander teksgedeeltes in die skrifte wat onomwonde verklaar dat ‘n gelowige nie verlore kan gaan nie. Onthou altyd, dat indien ons die woord van God korrek verstaan, dan kan daar geen weersprekings in die Bybel wees nie. Die Bybel is immers God se woord en Hy kan Homself weerspreek nie. Die “grond” in hierdie konteks verteenwoordig die gelowige. Die reën verteenwoordig God se woord (korrekte Bybelse leerstellings) wat die gelowige ontvang. Die nuttige plante verteenwoordig die vrug van die Gees. Die dorings en dissels verteenwoordig nuttelose werke wat sonde en in hierdie konteks diereoffers insluit. Wanneer ‘n gelowige nuttelose werke voortbring dan sal daardie werke by die Regterstoel Oordeel van Christus verbrand word (Sien 1Kor.3:11- 15 hierbo). Onthou, die Here Jesus Christus, wie self God is, en wat Homself nie kan weerspreek nie, het die volgende ewige belofte gemaak, naamlik:
Joh. 5:24 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het (as huidige besitting. Let op die teenswoordige tydsvorm) die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het (alreeds. Let op die verlede tydsvorm) oorgegaan uit die dood in die (ewige) lewe.”
Joh.10:28 En Ek gee hulle (alle gelowiges) die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand (en dit sluit die gelowige in) sal hulle uit my hand ruk nie.
Die belofte wat die here Jesus Christus hier maak is niks anders as die belofte van die ewige sekuriteit van die gelowige nie. ‘n Persoon wat beweer dat ‘n gelowige verlore kan gaan verwerp moedswillig God se ewige beloftes hierbo.
Indien hierdie Hebreeuse gelowiges nie hierdie brief ten harte neem, en getrou aan hulle belydenis vashou nie, dan kan hulle God se ernstige tugtiging in hierdie lewe verwag, wat in hierdie lewe tot fisiese dood aanleiding kan gee en wat tot gevolg sal hê dat die gelowige in die hiernamaals genadeloon sal verbeur. (sien ook 2Joh.1:8)
Heb.10:26 Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, 27 maar ‘n verskriklike verwagting van oordeel en ‘n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer. 28 As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; 29 hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het? 30 Want ons ken Hom wat gesê het: My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here; en weer: Die Here sal sy volk oordeel. 31 Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.
Binne die konteks van hierdie brief, sou hierdie Hebreeuse gelowiges wat weer na die Jodedom teruggekeer, hulleself saam met die ongelowige Jode aan God se oordeel oor Jerusalem in 70nC blootstel. (hulle sou net soos die ongelowige Jode grootskaalse hongersnood en massa-kruisiging ensovoorts beleef. Hulle sou egter nie die ewige lewe verbeur nie.) Bostaande teksgedeelte is egter alreeds in die artikel “Heb.10:26 en die opsetlike sonde” bespreek en die leser word aangeraai om weer daardie artikel te lees.
Ter afsluiting: As gelowiges moet ons besef dat ons nie meer onder die Wet van Moses funksioneer nie. Ons staan nou onder ‘n hele nuwe bedeling, naamlik die Dispensasie van die Kerk en funksioneer onder die Wet van Christus. (ook genoem die Wet van Genade.)
Rom.6:14 “Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade.”
Ons funksioneer nou onder die Wet van Christus en die Wet van Christus is niks anders as die Wet van Liefde nie.
Joh.13:34 ‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.
Hierdie standaard van liefde onder die Wet van Christus is baie hoër as dit wat onder die Wet van Moses gegeld het. Onder die Wet van Moses is daar van ‘n persoon verwag om sy naaste net so lief te hê soos wat hy homself gehad het. (Lev.19:18; 19:34; Matt.19:19; 22:39; Mark.12:31) Die wet van Christus verwag egter van ons om ons medemens so lief te hê soos wat God ons het. Sonder die inwoning en instaatstellende krag van die Heilige Gees sou die nakoming van hierdie nuwe gebod vir die mens absoluut onmoontlik wees.
Boonop het ons tydens die Kerk Dispensasie ook ‘n verdere gebod ontvang, wat sal verseker dat ons die Wet van Christus kan vervul, naamlik:
Ef.5:18 “Moenie dronk word van wyn nie — daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.”
Dit beteken dat ons deur die Gees beheer moet word, en indien hierdie gebod nakom, dan sal die Heilige Gees die vrugte van die Gees in en deur ons voortbring, naamlik:
Gal.5:22 “Maar die vrug van die Gees is liefde, (die soort liefde wat God van ons onder die Wet van Christus verwag) blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, (wat getrouheid aan Christus insluit) sagmoedigheid, selfbeheersing. 23 Teen sulke dinge is die wet nie. 24 Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig. (iets wat ons deur geloof moet aanvaar. Rom.6:11; Heb.10:38) 25 As ons deur die Gees lewe, (en ons doen, omrede ons die Heilige Gees met wedergeboorte ontvang het. Fase een van ons verlossing is dus alreeds afgehandel.) laat ons ook (dan nou) deur die Gees wandel. (Wat fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking sal verseker)
Gehoorsaamheid aan hierdie nuwe gebod is nodig om die daaropvolgende opdrag te vervul, naamlik:
2Pet.3:18a “Maar julle moet toeneem in die genade en kennis (korrekte Bybelse leerstellings) van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus.” (wat geestelike groei sal verseker.)
Indien ons hierdie opdragte nakom, dan sal ons in ons geestelike lewens ontwikkel en getrou aan die Here bly. God verwag van ons om tot geestelike volwassenheid te ontwikkel. Die keuse of ons Hom gaan eerbiedig bly egter ons sin, maar ons moet ook bereid wes om die gevolge van ons keuses te dra.
Gal.6:7 “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.”
Dit is my bede dat hierdie artikel jou vraag beantwoord.
Seën groete.
Vic