Heiligmaking

Heiligmaking op grond van Genade deur Geloof. Deel 1

Inleiding: As dit by die onderwerp van heiligmaking (fase twee van verlossing) in die gelowige se lewe kom, dan word daar in die meeste gevalle groot klem op die gelowige se werke geplaas, en dit ten koste van die feit dat heiligmaking, net soos aanvanklike wedergeboorte, op grond van God se genade, deur geloof sonder die doen van menslike werke bewerkstellig word. God verwag dat die mens sy samewerking in die proses van heiligmaking gee, maar dit is en bly God wat heiligmaking moontlik maak.
(Vir ‘n meer omvangryke verduideliking van die verskillende fases van verlossing, word die leser aangeraai om die artikel “Drie Fases van Verlossing” te lees”) In hierdie artikel sal daar gedemonstreer word, dat as dit by die onderwerp van heiligmaking in die gelowige se lewe kom, die klem eerder op God se genade, en op Christus en Sy voltooide werk aan die kruis geplaas moet word en nie soseer op die gelowige se eie pogings om heiligmaking te bewerkstellig nie.

‘n Kortlikse omskrywing van terme:

Wat is genade?

Genade kan as God se onverdiende goedhartigheid, barmhartigheid, en vriendelikheid omskryf word. Ware Christenskap is op God se genade gebaseer, en sonder God se genade sou daar geen werklike Christendom bestaan het nie. Dit is slegs in die skrifte waar die konsep van God se genade breedvoerig uiteengesit word. Sonder sorgvuldige Bybelstudie sal mens nooit werklik die idee van God se genade kan verstaan nie. Genade kan dus soos volg omskryf word: “Genade is dit wat God d.m.v Sy Seun, die Here Jesus Christus, vir die mensdom doen, en dit terwyl die mens nie God se genade verdien het, kan verdien of enige inherente verdienstelikheid in homself het nie.”

Dit is slegs in die ware Christendom waar mens die konsep van ‘n Heilige God vind, wat vrywilliglik die sondeskuld van Sy skepsele op Homself neem en daarvoor met Sy eie bloed/lewe versoening doen. En dit alles op grond van Sy onbeperkte genade sonder enige verdienstelikheid aan die kant van Sy skepsele. Geen ander geloof in die wêreld handhaaf so ‘n konsep nie. Boonop sou die mens nooit in homself so ‘n konsep kon uitdink nie. Dit is iets wat slegs God kon uitdink en bewerkstellig.

Indien ‘n persoon nie werklik die konsep van God se genade verstaan nie, dan sal hy ook nie werklik die ware evangelie kan verstaan nie. Om werklik die grondbeginsels van die ware Christendom te verstaan moet ‘n persoon werklik God se genade verstaan. Slegs indien ‘n persoon God se genade verstaan sal hy werklik in staat wees om God se gedagtes te kan verstaan. Sonder die korrekte begrip van God se genade sal ‘n persoon ook nie werklik die Here Jesus Christus kan verstaan nie. Genade is die essensie, asook die grondslag van die ware Christendom. Hierdie beginsel geld ook vir enige Christelike leerstellings wat uit hierdie feit uit voortvloei. Sonder genade sou die ware Christendom nooit kon bestaan nie.

Wat is Heiligmaking?

Heiligmaking (fase twee van ons verlossing) is die teologiese term wat beskryf hoe God verandering in die gelowige teweegbring. In kort, heiligmaking kan as die proses beskryf word, waardeur die Here toenemend die gelowige vir diens aan Homself afsonder. Heiligmaking beteken in kort “Afgesonder tot God wat die konsep van persoonlike heiligheid insluit.”

Met wedergeboorte (fase een van ons verlossing) ontvang God die sondaar soos wat hy is. Maar God los nie die gelowige om in sy sonde voort te gaan nie. Dit is God se wil om die nou wedergebore persoon toenemend na die beeld van die Here Jesus Christus te verander. Hierdie proses staan as heiligmaking bekend en vorm deel van fase twee van die gelowige se verlossing.

Heiligmaking is dus ‘n genadewerk wat God d.m.v. die Heilige Gees in die gelowige bewerkstellig. Wedergeboorte is ‘n eenmalige gebeurtenis op ‘n spesifieke punt in tyd en word nooit weer herhaal nie. Daarenteen is heiligmaking ‘n lewenslange proses. Die twee konsepte moet nooit met mekaar verwar word nie.

Vind heiligmaking op grond van genade deur geloof alleen plaas, of vind heiligmaking op grond van geloof plus goeie werke plaas?

Het ons werke enige meriete as dit by die proses van heiligmaking kom? Die Skrifte verklaar baie duidelik dat die mens se werke absoluut geen rol tydens aanvanklike wedergeboorte speel nie.
Rom.3:28 “Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.”
Om hierdie rede is dit van uiterste belang, dat ons die inhoud van die Evangelie teen enige pogings om werke daarby te voeg moet verdedig. Die rede hiervoor is eenvoudig. Wanneer enige menslike werke by slegs geloof in die evangelie gevoeg word, dan verander ons die evangelie van God se genade na ‘n werke evangelie toe. Sodanige (werke) evangelie sal niemand kan verlos nie.

Die beginsel van genade geld ook as dit by heiligmaking (fase twee van ons verlossing) kom. Omrede heiligmaking ‘n genadewerk van God is, kan suiwer menslike werke nooit as grondslag vir heiligmaking dien nie. Die rede hiervoor is eenvoudig. Indien menslike werke die grondslag vir heiligmaking is, dan kan dit nie verklaar word dat heiligmaking ‘n genadewerk van God se kant af is nie. Of heiligmaking is op God se genade gebaseer of dit is op menslike werke gebaseer. Daar kan geen middeweg wees nie. Die skrifte verklaar onomwonde dat die mense se verlossing (in al drie fases) ‘n genadewerk van God is, wat op grond van geloof ontvang en bewerkstellig word, naamlik:
Ef. 2:8 “Want uit genade is julle gered, (verledetydsvorm, wedergeboorte is dus afgehandel) deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 2:9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.”
Bostaande teksgedeelte handel spesifiek oor fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte, maar met die skryf van hierdie reeks artikels sal gedemonstreer word dat werklike heiligmaking, net soos aanvanklike wedergeboorte, op grond van God se genade deur geloof alleen bewerkstellig moet word. Onthou, daar is slegs een Verlosser en dit is God alleen. Sover dit God se verlossingsplan aangaan, is daar geen vennote of mede verlossers wat Hom kan bystaan nie. Daar is dus geen middelweg in hierdie verband nie!

Die skrifte verklaar baie duidelik dat God se hele verlossingsplan vir die mensdom van die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis afhanklik is. Geen ander wese behalwe God het enige aandeel in God se verlossingsplan nie, en hierdie feit geld ook vir die mens se werke, al word daardie werke met goeie bedoelings verrig. Satan is al te bewus van hierdie feit, en daarom poog hy om menslike werke as vereiste by slegs geloof in God se verlossingsplan by te voeg en so verhinder hy God se genadewerk in die mens. Hierdie feit geld vir al die fases van die mens se verlossing. In hierdie opsig dra die mens se sondenatuur tot satan se plan by, omrede die mens se sondenatuur die mens aanmoedig om onafhanklik van God op te tree en nie op Hom alleen te vertrou nie. Indien menslike werke by God se genade gevoeg word, dan word die konsep van genade in menslike meriete verander.
Rom 11:6 “En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie.”
Net soos wat olie en water nie met mekaar vermeng kan word nie, so ook kan genade nie met werke vermeng word nie.

Die feit dat die gelowige, na aanvanklike wedergeboorte, die Christelike lewe op grond van genade deur geloof uit lewe, en nie deur die werke van die wet nie, word in die skrifte bevestig, naamlik:.
Gal 3:1 “Onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig? 3:2 “Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?”
Gal 3:3 “Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, (fase een – wedergeboorte) eindig julle nou met die vlees? (fase twee – heiligmaking)
Die Galasiërs het die Heilige Gees ontvang die oomblik toe hulle die evangelie geglo het en dit alles sonder om enige menslike werke te verrig. Fase een van hulle verlossing, naamlik wedergeboorte is dus afgehandel en dit slegs deur geloof in die evangelie.

Hulle het nie besef nie dat net soos fase een van hulle verlossing, naamlik wedergeboorte, word heiligmaking slegs op grond van God se genade deur geloof bewerkstellig. Hulle wou egter die Wet van Moses (in hierdie geval besnyding) gebruik om hulle heiligmaking te bewerkstellig en dit het tot Paulus se uittrap aanleiding gegee. Deur om dit te doen wandel hulle nie deur die Gees nie, maar tree in die vlees op en sodoende verwerp hulle in effek God se genade.
Gal 2:20 “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. (fase een – wedergeboorte) En wat ek nou in die vlees lewe, (fase twee – heiligmaking) leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het. 2:21 Ek verwerp nie die genade van God nie; want as daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe.”

Vir ons goeie werke om enigsins God se goedkeuring weg te dra, moet ons seker maak dat daardie werke in en deur die Heilige Gees verrig word en nie uit ons eie vleeslike pogings nie.
2Ko 3:5 “Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God, 3:6 wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van ‘n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die Gees; want die letter maak dood, maar die Gees maak lewend.”
Solank as wat die gelowige heiligmaking in sy eie krag wil bewerkstellig, sal hy in sy pogings misluk en homself frustreer. Soos wat ons, ons oë op die Here Jesus Christus in geloof vestig so verander die Heilige Gees ons van binne af.
2Ko 3:17 “Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid. 3:18 En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.”

Soos wat die gelowige in geloof saam met die Here wandel (in Hom bly), en tyd met Hom spandeer, so sal die Here die gelowige dan van binne af na buite verander. Op hierdie wyse sal die gelowige toenemend na die beeld van Christus verander word. Ons moet egter onthou dat dit die Heilige Gees is wat die verandering bewerkstellig en nie die gelowige self nie. Dit bly egter die gelowige se eie keuse of hy hierdie opdrag gaan nakom.
Joh 15:5 “Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.”

Werklike heiligmaking sal slegs in en deur die krag van die God bewerkstellig kan word. Die vraag is egter of ons Hom daarvoor sal vertrou. Wanneer die gelowige homself aan God deur geloof beskikbaar stel, dan sal die Heilige Gees die vrugte van die Gees in en deur die gelowige laat manifesteer. Dit is die Heilige Gees wat die vrugte van die Gees in en deur die gelowige voortbring en daarom verwys die skrifte daarna as die vrug van die Gees en nie die vrug van die persoon self nie. Heiligmaking is ‘n genadewerk van God alleen en die mens kan geen bydra daartoe lewer nie. Werklike heiligmaking vind nie op grond van geloof plus werke plaas nie, maar slegs deur geloof alleen in wat God in Sy genade sal voorsien!

Bepaal die gelowige se werke sy posisie, of bepaal die gelowige se posisie sy werke?

Met die gelowige se werke word sy daaglikse optrede en gedrag bedoel. Wat dien dus as grondslag vir die gelowige se heiligmaking? Dien die gelowige se optrede as die grondslag of dien sy posisie in Christus as grondslag vir sy heiligmaking? Hierdie is ‘n uiters belangrike vraag, en die korrekte beantwoording daarvan is van kardinale belang vir die praktiese uitlewing van die Christelike leefwyse. Romeine hoofstuk 5 handel hoofsaaklik oor die gelowige se identiteit. Kennis van sy identiteit in Christus vorm ‘n groot deel van die grondslag waarop suksesvolle heiligmaking in die gelowige se lewe bewerkstellig kan word. Daarom is dit belangrik om die gelowige se identiteit en posisie in Christus te bepaal. Soos reeds genoem, handel Romeine 5 hoofsaaklik oor die gelowige se identiteit en Romeine 6 hoofsaaklik oor die gelowige se posisie in Christus. Hierdie twee hoofstukke sal kortliks in hierdie deel van die studie behandel word.

Wanneer God na die mensdom kyk, dan sien Hy slegs twee groepe mense, naamlik diegene wat posisioneel in Adam is en diegene wat posisioneel in die Here Jesus Christus is.
Rom 5:12 “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het 5:15 Maar dit is met die misdaad nie soos met die genadegawe nie; want as deur die misdaad van die één baie gesterf het, veel meer het die genade van God en die gawe deur die genade van die een mens, Jesus Christus, vir baie oorvloedig geword. 5:16 En nie soos deur één wat gesondig het, is die gawe nie; want die oordeel was uit één tot veroordeling, maar die genadegawe is uit baie misdade tot vryspraak. 5:17 Want as ten gevolge van die misdaad van die één die dood geheers het deur die één, veel meer sal hulle wat die oorvloed van die genade en van die gawe van die geregtigheid ontvang, in die lewe heers deur die Één, Jesus Christus. 5:18 Daarom dan, net soos dit deur een misdaad vir alle mense tot veroordeling gekom het, so ook is dit deur een daad (Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis) van geregtigheid vir alle mense tot regverdigmaking van die lewe. 5:19 Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie tot regverdiges gestel word. (almal wat in Jesus Christus en Sy voltooide werk aan die kruis vir hulle glo.) 5:20 Maar die wet het daar bygekom, sodat die misdaad meer sou word; en waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword; (God se genade is altyd groter as die mens se sonde) 5:21 sodat, soos die sonde (Sonde natuur) geheers het in die dood, so ook die genade kan heers deur die geregtigheid tot die ewige lewe deur Jesus Christus, onse Here.”
Dit is opmerklik dat God se genade altyd meer as die mens se sonde is. Hierdie enkele feit alleen demonstreer die grootheid van God se genade wat deur Sy Seun se voltooide werk aan die kruis in sy volle maat gedemonstreer word.

Indien ‘n persoon egter in Adam bevind word, dan is daardie persoon ongered en is hy posisioneel nog in sy sondes. Indien ‘n persoon in die Here Jesus Christus bevind word, staan hy posisioneel in Jesus Christus se geregtigheid en op grond van hierdie feit verklaar die Vader daardie persoon as geregverdig. Ons moet mooi verstaan dat slegs die Here Jesus Christus se daad van geregtigheid aan die kruis by die Vader aanvaarbaar is. Die standaard van geregtigheid wat God van die mens vereis is niks minder as Sy eie geregtigheid nie. Die mensdom se werke van geregtigheid sal nooit aan hierdie standaard van God se geregtigheid kan voldoen nie. Maar omrede die Here Jesus Christus self God is, is Sy werke, net soos die van die Vader, absoluut heilig en is om hierdie rede vir God aanvaarbaar. Dit is slegs op grond van die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis, en die ontvangs van Sy toegerekende geregtigheid dat die mens voor God as geregverdig verklaar kan word.

Dit is egter ‘n werk wat slegs deur God verrig kan word en daarom kan die mens geen bydrae tot God se verlossingsplan lewer nie. Vir die mens om deur die Vader as geregverdig verklaar te word, moet die mens niks anders doen behalwe om die evangelie te glo nie. Die Here Jesus Christus het alreeds al die werk aan die kruis verrig. Deur Jesus Christus se een werk van geregtigheid (Sy kruisdood vir die sondige mensdom) sal dit vir baie mense (almal wat die Evangelie glo) tot verlossing strek.

Indien ‘n persoon homself in Adam bevind, dan verkeer hy volkome onder die beheer van sy sondenatuur. Wanneer ‘n persoon posisioneel in Adam is, dan beheer daardie persoon se sondenatuur hom. Hy is dus die slaaf van sy sondenatuur. Dit is a.g.v. hierdie feit dat die persoon nie in staat is om op te hou sonde pleeg nie. Ons pleeg sonde omrede ons van nature sondaars is.

Wanneer ‘n persoon homself egter posisioneel in Christus bevind, dan heers geregtigheid en genade wat tot die ewige lewe aanleiding gee. In hierdie geval is die Here Jesus Christus die persoon se wettige Heerser, en hierdie feit stel die gelowige vry om in die krag van die Heilige Gees oor sy sondenatuur te heers. In Christus is die persoon nie meer die slaaf van sy sondenatuur nie. God verwag egter van die persoon om hierdie feit deur geloof te aanvaar.

Tydens die sondeval het die mens se gees van God se Gees gediskonnekteerd geraak. Die mens het dus geestelik gesterf. Solank as wat die persoon in hierdie ongeredde toestand verkeer kan hy nie werklik die Bybel verstaan nie.
1 Kor. 2:14 “Maar die natuurlike mens (ongeredde mens) neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.”
Omrede alle mense van geboorte af hulleself in Adam bevind, beskik alle mense oor ‘n sonde natuur, en daarom het alle mense ‘n inherente geneigdheid om teen God te rebelleer en begeer om onafhanklik van Hom op te tree.

Wat die saak nog verder vererger is die feit dat die mens oor ‘n aartsvyand beskik, naamlik satan, wie huidiglik in beheer van die wêreld sisteem is. Satan wend die wêreld sisteem aan om die mensdom met sy eie propaganda boodskappe te bombardeer. In hierdie opsig gebruik hy die mens se sonde natuur teen die mens, wetende dat die mens oor die algemeen begeer om onafhanklik van God op te wil tree. Sodoende maak hy van die mens se sondenatuur gebruik om sy wil op aarde te bewerkstellig. Dit is en bly satan se doel om die wêreld sisteem te gebruik om die mens se waardestelsels te beïnvloed. Boonop begeer hy om aan die mensdom voor te skryf wat werklik van belang is, en poog sodoende om die mensdom so ver te kry om op hulleself staat te maak, en oor die algemeen afhanklik van God te laat op tree en hulleself te verheerlik. Al hierdie dinge bots egter met wat God in die Bybel aan ons verklaar, naamlik:
1 Kor.10:31 “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God”

Alle werke, insluitende goeie werke, wat in die vlees verrig word, gaan deur God verwerp word en dit sluit goeie werke wat in Sy naam met verkeerde motiewe verrig is in. Slegs werke wat na wedergeboorte en in en deur die Heilige Gees voortgebring is, gaan deur God as aanvaarbaar beskou word, en met genadeloon beloon word. Om hierdie rede is dit belangrik om seker te maak dat die werke wat ons doen in die Gees gedoen word en nie in die vlees nie. Dit is ook belangrik om te onthou dat ons nie op grond van ons werke verlos word nie maar slegs op grond van ons geloof in die evangelie.

Om hierdie rede is ons identiteit in Christus van uiterste belang, want alle werke wat ‘n persoon in Adam verrig gaan deur God verwerp word. ‘n Persoon wat in Adam is moet eers die Evangelie glo anders sal God hom moet verwerp. Daar is geen middeweg nie. Soos wat ons later sal sien, speel ons identiteit in Christus ‘n bepalende rol, nie net in aanvanklike wedergeboorte nie, maar ook in heiligmaking. Nog ‘n aspek wat net so belangrik as ons identiteit in Christus is, is ons stand of posisie in Christus.

Ons Posisie in Christus (Romeine 6) Hierdie gedeelte skakel by bostaande gedeelte in.

Rom 5:19 “Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie tot regverdiges gestel word. 5:20 Maar die wet het daar bygekom, sodat die misdaad meer sou word; en waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword; 5:21 sodat, soos die sonde geheers het in die dood, so ook die genade kan heers deur die geregtigheid tot die ewige lewe deur Jesus Christus, onse Here.”
Uit bostaande teksgedeelte is dit duidelik gestel, dat waar sonde meer geword het, God se genade nog meer oorvloediger geword het. God se genade is altyd meer as die mens se sonde.
Rom 6:1 “Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word?”
Indien ‘n persoon die Evangelie korrek verstaan en verkondig dan kan hy verwag dat diegene wat nie die konsep van God se genade werklik verstaan nie hom sal beskuldig dat hy mense aanmoedig om in sonde voort te lewe. Hierdie beskuldiging sal egter met die verloop van hierdie studie heeltemal weerlê word. Om hierdie rede is Paulus ook op dieselfde wyse belaster, naamlik:
Rom 3:7 “Maar as die waarheid van God deur my leuen oorvloediger geword het tot sy heerlikheid, waarom word ek dan nog as sondaar geoordeel? 3:8 “En moet ons nie liewer sê nie, soos ons belaster word en soos sommige beweer dat ons sê: Laat ons kwaad doen, sodat die goeie daaruit kan voortkom? Hulle veroordeling is regverdig.”

‘n Groot gedeelte van die mense wat hierdie valse aantyging uiter sal deur God geoordeel word. Hierdie is gewoonlik mense wat nie werklik die Evangelie van God se genade verstaan nie, en daarom maak hulle menslike werke die bepalende faktor om te bepaal of ‘n persoon werklik wedergebore is. Dit ten spyte van die feit dat die skrifte onomwonde verklaar dat die ewige lewe ‘n genadegawe is wat slegs deur geloof in die evangelie in ontvangs geneem word. Menslike werke het absoluut geen aandeel daarin om ‘n persoon se verlossing te bewerkstellig nie en dit kan hom ook nie gered hou nie. Dit kan met regte gestel word dat indien ‘n persoon nie werklik die evangelie van God se genade ken (en glo) nie, dan ken daardie persoon nie werklik die Here nie.

Paulus weerlê hierdie valse bewerings en verduidelik die regte rede waarom ‘n gelowige nie meer in sonde moet voortleef nie.
Rom 6:2 “Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?”
Die oomblik wanneer ‘n persoon die evangelie hoor, verstaan en glo, dan word daardie persoon deur die Heilige Gees in Christus (wat Sy voltooide werk aan die kruis en opstandeling vanuit die dood insluit) ingedoop (die gelowige word dus met Christus geïdentifiseer) en van daardie oomblik af beskou die Vader daardie gelowige as in Christus en handel met hom op die grondslag van die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid. Op grond van hierdie feit neem die Vader die gelowige vir ewig as Sy kind aan.
Rom 6:3 “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?”
Wanneer ‘n persoon dus wedergebore raak, word hy deur die Heilige Gees in Christus in ingedoop. Die gelowige se identiteit is dus “in Christus” en nie meer “in Adam” nie.

Om ‘n duideliker begrip van hierdie waarheid te verkry, help dit nogal indien ‘n gelowige hierdie waarheid op ‘n visuele wyse aan homself demonstreer. Ek stel voor dat die leser sy Bybel in een hand neem en ‘n boekmerk of stukkie papier in die ander hand. Die Bybel verteenwoordig die Here Jesus Christus en die boekmerk verteenwoordig die gelowige. Maak die Bybel oop en plaas die boekmerk nou in die Bybel en maak die Bybel heeltemal toe, sodat die boekmerk nie gesien kan word nie. Hierdie illustrasie demonstreer mooi wat met die gelowige gebeur die oomblik wanneer hy die Evangelie glo. Hy word deur die Heilige Gees in Christus en Sy dood gedoop/geplaas en staan dan saam met Christus in ‘n nuwe lewe op. Die Vader sien die gelowige nou in Christus se toegerekende geregtigheid. Posisioneel beskou die Vader die gelowige as perfek, en om hierdie rede sal Hy nooit die gelowige kan veroordeel nie. Die gelowige sal dus nooit verlore kan gaan nie. (Lees asb die artikel “Ewige Sekuriteit van die Gelowige” vir meer inligting)
Rom 6:4 “Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.”
Omrede die gelowige in Christus geplaas/gedoop is, word hy tydens wedergeboorte deur die Heilige Gees met Christus se kruisdood vereenselwig of geïdentifiseer, (die gelowig is posisioneel dus saam met Christus gekruisig) en net soos wat Christus uit die dood opgewek is, is die gelowige saam met Hom opgewek om in ‘n nuwe opstandings lewe (God se lewe in die gelowige) te lewe. Die ewige lewe is nie iets wat die gelowige nog in die toekoms moet ontvang nie, maar hy ontvang dit as ewige besitting die oomblik wanneer hy die evangelie glo. (Joh.3:36; 5:24; 6:47; 6:54)
Lees asb die artikel “Wat is die Ewige Lewe” vir meer besonderhede.

Rom 6:5 “Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; 6:6 aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.”
Ons moet nie die die ordinasie van die waterdoop met die doop van die Heilige Gees verwar nie. Die gelowige ontvang die Heilige Gees (en is dus met die Heilige Gees gedoop) die oomblik wanneer hy die evangelie glo en nie wanneer hy in water gedoop word nie. (Ef.1:13) Die oue mens is die gelowige toe hy nog posisioneel “in Adam” was. Die oue mens wat posisioneel in Adam was is deur die Heilige Gees, tydens die glo van die evangelie, in Christus geplaas en is in hierdie opsig saam met Christus gekruisig. Dit beteken dat daar ‘n wettige sterfte plaasgevind het. God het dus alles wat die gelowige, voor wedergeboorte “in Adam” was as wettiglik dood verklaar.

Die term “die liggaam van die sonde” verwys na die sondenatuur van die mens. Die sondenatuur domineer as heerser die fisiese liggaam en gebruik dit om sy begeertes uit te voer. Omrede die gelowige d.m.v. die doping van die Heilige Gees posisioneel saam met Christus gekruisig en opgestaan het is die sondenatuur kragteloos gestel en daarom beskryf die Bybel dit is “tot niet maak” (Rom:6:5). Die gelowige hoef dus nie meer die sondenatuur as slaaf te dien nie. Die gelowige moet egter hierdie skriftelike feit deur geloof aanvaar en dit deel van sy lewe maak.

Hierdie waarheid kan baie duidelik d.m.v. ‘n algemene voorbeeld van die weermag geïllustreer word. Indien ‘n persoon by die weermag aansluit en ‘n militêre leefwyse volg, dan is hy aan die drilsersant onderworpe. Die drilsersant kan nou sekere optredes van die persoon vereis, soos bv opstote ens. Die drilsersant in hierdie illustrasie verteenwoordig die mens se sonde natuur wat as drilsersant gesag oor die ongeredde persoon, wie posisioneel nog “in Adam” is, uitoefen en hom aan sy wil diensbaar maak.

En net soos die drilsersant is die sondenatuur veeleisend. Wanner die persoon se kontrak egter met die weermag voltooi is, begin hy ‘n nuwe lewe as ‘n siviele burger. Daar het dus nou ‘n verandering in die verhouding tussen die drilsersant en die troepie plaasgevind. Die troepie is nie meer deel van die weermag nie en hy hoef nie meer onderdanig aan die drilsersant te wees nie. Die troepie staan dus nie meer onder die drilsersant se wettige gesag nie, omrede daar ‘n posisionele verandering in hulle verhouding plaasgevind het. Die siviele lewe verteenwoordig die lewe van die gelowige na wedergeboorte . Hy staan nou onder die gesag van die Here Jesus Christus. Die rede vir die verandering is dat hy met wedergeboorte deur die Heilige Gees uit sy posisie “in Adam” verwyder is en “in Christus” ingedoop is. Daar het dus ‘n verandering van identiteit en stand plaasgevind. Indien die troepie nou sy ou drilsersant op straat raakloop dan hoef die hy nie meer die drilsersant te opdragte uit te voer nie. Inteendeel, hy sal nou dwaas wees om sy ou drilsersant se opdragte uit te voer.

Dieselfde beginsel geld vir die persoon wat die Evangelie geglo het. Hy is nie meer posisioneel “in Adam” en onder die gesag van die sonde natuur nie. Hy in nou “in Christus” en sal dwaas wees indien hy nou die begeertes van die sonde natuur wil gehoorsaam. Om hierdie rede is dit van uiterste belang dat die gelowige bewus van sy stand en nuwe identiteit in Christus moet wees.
Rom 6:7 “Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde. 6:8 As ons (alle mense wat die evangelie op ‘n punt in tyd geglo het) dan saam met Christus gesterf het, (en ons het) glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe, 6:9 omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie. Die dood heers oor Hom nie meer nie. 6:10 Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God.”
Die gelowige moet dus in geloof reken dat hy saam met Christus gesterwe het en saam met Hom in ‘n nuwe lewe opgestaan het. En net soos die opgestane Christus moet die gelowige nou vir God lewe. Al hierdie feite moet op grond van ons rasionele denkprosesse, aangeneem en uitgeleef word. Dit is in hierdie opsig wat die samewerking van die gelowige verwag word.

Rom 6:11 So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.”
Die gelowige moet op ‘n rasionele wyse homself ten opsigte van sy sondenatuur as dood reken en homself vir God as lewend te reken, omrede God deur Sy Gees nou in hom lewe. Hierdie hele proses is gebaseer op wat Paulus alreeds in Rom 6:5-6 verduidelik het, naamlik:
Rom 6:5 “Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; 6:6 aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde (die sonde natuur as drilsersant) sou dien nie.”
Elke gelowige kan dus met absolute sekerheid verklaar dat hy “in Christus” vry verklaar is en nie meer nodig het om die sonde natuur as harde drilmeester te gehoorsaam nie!

Rom 6:12 “Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie.”
Omrede die gelowige nie meer “in Adam” is nie, maar homself nou posisioneel “in Christus” bevind moet hy nie toelaat dat die sondenatuur sy liggaam beheer nie. Daar is geen grondige rede waarom die gelowige aan die sonde natuur moet toegee om dit gehoorsaam te wees nie. Die gelowige is nie meer “in Adam” nie, maar is nou “in Christus”, en daarom moet hy in geloof hierdie waarhede aanneem en dit in die krag van die Heilige Gees uitvoer. Wanneer die gelowige dit doen, dan sal die Heilige Gees in en deur die gelowige werk en aan hom die krag verleen om oor die sondenatuur te heers. As gelowiges dien ons nou God en nie meer die sondenatuur nie. Onthou, die Christelike lewe word deur die geloof uitgeleef en daarom is dit uiters belangrik om hierdie feite soos wat God dit in Sy woord aan ons gegee het in geloof te eerbiedig.

Rom 6:13 “En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God.”
In bostaande teksgedeelte vind ons ‘n negatiewe sowel as ‘n positiewe stelling. Gelowiges moet nie hulle liggame tot beskikking van die sonde natuur stel om sonde te pleeg nie. Om so iets te doen sal teenstrydig wees met dit wat die gelowige nou “in Christus” is. Die gelowige is mos nie meer “in Adam” en dus onder gesag van die harde drilsersant om al sy opdragte uit te voer nie. Sy posisie en identiteit is nou in Christus. Omrede hy nou ‘n nuwe lewe in Christus het, moet hy sy liggaam aan God as ‘n werktuig van geregtigheid beskikbaar stel.

Die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis is die sentrale punt rondom wat die gelowiges se nuwe lewe draai. Dit is aan die kruis waar die die gelowige saam met Christus gesterwe het. Tydens wedergeboorte is daar ‘n einde gemaak in alles wat die gelowige “in Adam” was. Om hierdie rede maak dit nie sin indien die gelowige sy liggaam nou weer aan die sonde natuur tot beskikking stel nie. Dit is uiters belangrik vir die gelowige om te besef dat hy posisioneel nie meer “in Adam” verkeer nie maar eerder “in Christus” is. Dit is aan die kruis waar die sondenatuur se heerskappy oor die gelowige tot ‘n einde gebring is en daarom hoef die gelowige nie meer die sondenatuur as slaaf te dien nie. Die gelowige het dus nou ‘n nuwe posisie in Christus en hy beskik nou oor ‘n nuwe identiteit. Hy is nie meer onder die gesag van die sonde natuur nie omrede hy nie meer “in Adam” is nie.

Ter afsluiting: “Wedergeboorte is wanner God in Sy genade Goddelike lewe aan ‘n ongeredde persoon skenk.”
Tit 3:5 “nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees”
Tydens wedergeboorte (Joh 3:37) ontvang die gelowige ‘n nuwe sondelose natuur wat God in die gelowige skep.
2Pe 1:4 “waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.”

Met wedergeboorte ontvang die persoon die Heilige Gees en word deur Hom verseël. Die gelowige se liggaam word dan die tempel van die Heilige Gees.
1Ko 6:19 “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?”
Omrede die gelowige in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel.
2Ko 5:17 “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.”
Na wedergeboorte het die gelowige ook ‘n nuwe toekomsverwagting.
1Pe 1:3 “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, 1:4 sodat ons ‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons 1:5 wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd.”
Omrede hierdie feite deel van God se genadegawe aan die gelowige vorm, moet die gelowige dit deur geloof aanneem en deel van sy lewe maak.

Wetende dat die gelowige tydens die glo van die evangelie in Christus gedoop/geplaas is, en homself nou nie meer posisioneel “in Adam” bevind nie, behoort die gelowige die Heilige Gees toe te laat om deur God se woord (die Bybel) die gelowige se denkrigtings, begeertes en optrede te bepaal. Die Heilige Gees gebruik die woord van God om Sy waardes aan die gelowige te leer. Hy doen dit soos wat die gelowige die skrifte bestudeer, daaroor nadink en in gebed met God bespreek. Boonop sal God Sy begeertes op die gelowiges se hart lê. Omrede die gelowige met wedergeboorte ‘n nuwe sondelose natuur (met die begeerte om God te behaag) ontvang het, kan die gelowige met alle sekerheid weet dat die inwonende Heilige Gees aan hom die krag sal voorsien om die begeertes wat God op sy hart lê deur geloof uit te lewe. Die gelowige het nou ‘n nuwe identiteit en posisie in Christus en hoef nie meer die sondenatuur se slaaf te wees nie. Wanneer ‘n gelowige toegee dat die sondenatuur hom beheer dat tree hy in stryd met sy nuwe posie in Christus op en dit behoort nie so te wees nie. Die gelowige se posisionele stand in Christus dien as grondslag vir suksesvolle heiligmaking. Ons nuwe posisie in Christus behoort ons optredes te bepaal, nie ons ou sondenatuur nie. Ons moet egter hierdie feite in die geloof aanneem en deur geloof toepas wetende dat die Heilige Gees ons die krag sal gee om oorwinnend te lewe. En vanuit hierdie oogpunt moet ons dus die Christelike leefwyse uitleef.
Rom 6:14 “Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade.”
Wie ‘n persoon in Christus is, moet dus bepaal hoe daardie gelowige optree.

In deel twee van hierdie artikel sal ons Romeine 7 kortliks behandel. Ons sal dan leer dat dit hopeloos vir die mens is om heiligmaking in sy eie krag te wil bewerkstellig. Slegs indien ‘n persoon God se metode vir heiligmaking in geloof toepas, sal hy werklik in oorwinning oor die sondenatuur kan lewe. Vra my ek weet!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.