Voordat ons met hierdie Bybelstudie begin, moet ons besef dat die dood nooit in die Bybel as die totale uitwissing van die mens beskryf word nie. Met sowel fisiese as geestelike dood vind daar ‘n skeiding plaas. Wanneer ‘n persoon fisies te sterwe kom, word sy vleeslike liggaam van sy gees en siel geskei, maar die persoon is nog steeds bewus van alles wat om hom aangaan. Dus word die liggaam van die persoon in die graf gelê, maar sy siel en gees leef bewustelik voort in die hel of in die hemel. (Kyk Luk 16:19–31: Lasarus en die ryk man).
2Ko 5:8 “Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon.”
Net so ook, wanneer ‘n persoon geestelik dood is, is sy gees van God geskei as gevolg van sy sonde. Solank as wat hy nog in sy fisiese liggaam hier op aarde lewe, is hy steeds bewus van sy aardse bestaan sowel as die omstandighede waarin hy homself mag bevind. Indien so ‘n persoon egter in sy ongeredde toestand te sterwe sou kom, word sy gees en siel permanent van God en Sy teenwoordigheid geskei, en is hy volkome bewus van die omstandighede waarin hy homself bevind.
Lukas 16:24 “En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam.”
In bostaande teksgedeelte sal opgemerk word dat die Here Jesus dit baie duidelik stel: wanneer ‘n persoon fisies te sterwe kom, bestaan daardie persoon steeds bewustelik voort en kan hy boonop lyding en smarte ervaar.
Fase 1: Wedergeboorte (Regverdigmaking)
Die eerste fase van verlossing, naamlik wedergeboorte, vind plaas die oomblik wanneer ‘n persoon die Evangelie glo. Op daardie oomblik kom woon die Heilige Gees in die persoon en word hy boonop deur die Heilige Gees verseël.
Ef. 1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,”
Die verseëling deur die Heilige Gees dien as waarborg dat die wedergebore persoon nou die eiendom van God is; dit verseker dat die gelowige nooit verlore sal gaan nie.
2Kol.1:22 “wat ons ook verseël het en die Gees as onderpand in ons harte gegee het.”
Die Heilige Gees, die derde Persoon in die Drie-eenheid en God self, is die seël wat die gelowige se verlossing waarborg. Enigiemand wat hierdie seël sou wou breek, moet sterker as God wees – en so iemand bestaan nie. Die gelowige kan dus verseker weet dat God hom sal verlos; daar is geen sprake dat hy ooit weer verlore kan gaan nie.
Ef. 4:30 “En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.”
Op daardie oomblik is al ons sondes volkome deur Jesus Christus betaal en staan ons voor God asof ons nog nooit gesondig het nie (Posisionele Geregtigheid). Onthou, Jesus Christus het al die gelowige se sondes op Homself geneem en met Sy bloed aan die kruis daarvoor betaal. Dit sluit verlede, hede en toekomstige sondes in. Daar is nie een sonde wat nie deur Jesus Christus aan die kruis betaal is nie. Hierdie gebeurtenis staan bekend as die voltooide werk van Christus.
Kol. 1:20 “en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis—ek sê deur Hom—die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele.”
Kol. 2:13-15 “En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael, nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het.”
In hierdie eerste fase dra die gelowige niks by tot sy redding nie, behalwe geloof in Jesus Christus en Sy voltooide werk. Geen werke word vereis nie. Sou enige vereiste by geloof gevoeg word, verander die ware Evangelie in ‘n “werke-evangelie” wat nie kan red nie. So ‘n persoon kom onder die vloek van Galasiërs 1:8–9.
Gal 1:8-9 “Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees! Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees!”
In die Bybel word fase een hoofsaaklik in die verlede tyd gestel, omdat dit ‘n eenmalige gebeurtenis op ‘n spesifieke tydstip is.
Tit 3:5-7 “nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered (verlede tyd) deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser; sodat ons, geregverdig deur sy genade, erfgename kan word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe.”
Fase 2: Heiligmaking (Dissipelskap)
Die tweede fase vind plaas wanneer die reeds wedergebore persoon verlos word van die krag en houvas van sonde in sy lewe. Hierdie fase vind in die hede plaas. Hier word samewerking van die gelowige verwag om homself met die Here Jesus Christus te beklee.
Ef. 4:22-24 “dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee (teenwoordige tyd) wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.”
Kol. 3:9-10 “Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het (posisioneel)wat vernuwe word (teenwoordige proses) tot kennis na die beeld van sy Skepper,”
1Kol.1:18 “Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word (teenwoordige tyd) is dit die krag van God;”
Jak.1:21 “Daarom, doen afstand van alle vuiligheid en oorvloed van boosheid, en ontvang met sagmoedigheid die ingeplante woord, wat in staat is om julle siele te red.” (Hier beteken “red” die redding van die siel van die skadelike gevolge van sonde in hierdie lewe).
Fase 3: Verheerliking
Die laaste fase vind plaas met die eerste opstanding (die Voorverdrukking-Wegraping). Lees gerus die reeks artikels: “Die Wegraping”. In hierdie fase word die gelowige geskei van die teenwoordigheid van sonde en die fisiese dood. Die tydsvorm is hier die toekomstige tyd.
Heb 9:28 “so sal Christus ook, nadat Hy een maal geoffer is om die sondes van baie weg te neem, vir die tweede maal sonder sonde verskyn aan die wat Hom verwag tot saligheid.”
Fil 3:20-21 “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam…”
Praktiese Toepassing: Filippense 2:12
Wanneer ‘n mens hierdie drie fases verstaan, verdwyn skynbare teenstrydighede.
Fil. 2:12 “…werk julle eie heil uit met vrees en bewing;”
Omdat die werkwoord in die teenwoordige tyd is, verwys dit na fase twee (heiligmaking). Dit gaan nie oor hoe om die hemel te bereik nie (fase een), maar oor hoe om die redding wat jy reeds besit, prakties uit te leef in gehoorsaamheid.
Opsommend: ‘n Gelowige kan verklaar:
- Ek is verlos (Fase 1: Wedergeboorte – van die straf van sonde).
- Ek word verlos (Fase 2: Heiligmaking – van die krag van sonde).
- Ek sal verlos word (Fase 3: Verheerliking – van die teenwoordigheid van sonde).
Bestudeer asseblief die aangehegte illustrasie: “Drie Fases van Verlossing Illustrasie”.
Seëngroete, Vic