Humanisme is ‘n filosofiese sisteem wat glo dat die mensdom, sonder enige inset van God, die probleme wat ons in die lewe/wêreld ondervind kan oplos. Sekulêre humanisme is dus ‘n strewe om deur suiwer menslike krag persoonlike perfeksionisme te bewerkstellig en verwerp en ignoreer so God en Sy soewereine beheer oor die verloop van die mensdom se geskiedenis.
Die humanis verwerp die konsep van Bybelse geloof as ‘n dwase sprong in die onbekende in, en in hierdie opsig reken hulle dat die onbekende alles is wat buite die raamwerk van menslike redenasie en empirisme val. Hulle verwerp die feit dat Bybelse geloof op historiese feite gebaseer is, en daarom word suiwer menslike deliberasies en rasionalisering die grondslag van hulle mensgesentreerde sisteem van wysheid. Vir die humanis is daar geen werklike wysheid buite die beperkte menslike raamwerk van sy eie insig nie, en in hierdie opsig trek hulle moedswillig ‘n mantel van blindheid oor hulle verstand juis omrede hulle God (wie alleenlik alwetend en alomteenwoordig is en wat die Skepper van alle dinge is) en Sy woord verwerp.
In hierdie opsig is humanisme niks anders as die beliggaming van die satan se skema om ‘n mensgemaakte utopia op aarde te vestig nie. Omrede hulle nie God erken, en die skriftuurlike konsep van die mens se sonde natuur aanvaar nie, maak hulle die mens se intellek, sy vermoë om te redeneer, persoonlike vermoëns en die leuen dat die mens inherent goed is die belangrikste steunpilare waarop hulle filosofie van humanisme geformeer word. In hierdie stelsel word die mens tot die apeks van sy eie bestaan verhef, en is dus niks anders as selfvergoddeliking en ‘n vorm van afgodediens nie.
Humanisme maak op wetenskaplike ondersoek staat om die geheimenisse van lewe en die heelal te ontdek. (naturalisme) Hulle glo nie dat daar ‘n geestelike wêreld is wat nie deur die natuurlike wetenskap verduidelik kan word nie. Omrede hulle ook nie in ‘n God glo wat alles geskape het nie, glo hulle dat die oorsprong van lewe op aarde die gevolg van ewolusie is. Wat hulle vergeet is dat die mens slegs beperkte kennis besit, en dat die mens nooit alwetend sal wees en dus nooit al die geheimenisse van die skepping sal kan ontdek nie. Boonop word wetenskaplike teorieë/modelle gereeld aangepas, en selfs heeltemal verwerp, wat beteken dat die fondasie waarop humanisme gebou is, op sand gebou is wat gereeld by die “nuutste” bevindinge aangepas moet word.
Boonop hou humanisme menslike filosofie, asook sielkundige oplossings vir teëspoed en disfunksies aan die mensdom voor, en blameer die mens se verknorsing op eksterne invloede eerder as die persoon/mensdom se persoonlike keuses self. Die skrifte verkondig dat die mens vry is om tussen goed en sleg te kies en dat daar gevolge vir sodanige keuses is. Boonop is die mens nie net aan homself verantwoordelik soos wat humanisme verkondig nie, maar is aan God verantwoordelik en elke mens sal aan Hom rekenskap moet gee al glo hulle nie in Hom nie.
Sodoende vervang humanisme God se oplossings met antroposentriese oplossings en verblind hulself t.o.v. Goddelike openbarings. Hulle ignoreer dus die feit dat die skrifte niks anders as die inherente gedagtes van God self is nie. In hierdie opsig skiet hulle hulleself in die voet.
1Kor.2: 12 Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het. 13 Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk. 14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.”
Humanisme as ideologie poog om die mensdom as geheel se denke d.m.v. multikulturalisme te hervorm, wat gewoonlik gedragswetgewing tot gevolg het en wat geensins die Bybel se morele standaarde in ag neem nie. In hierdie opsig word sleg goed genoem en goed sleg en dit ten spyte van die waarskuwing wat God ons in Sy woord gee, naamlik:
Jes.5:20 “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.”
Humanisme herdefinieer die konsep van vryheid, en beperk dit slegs tot ‘n regsraamwerk wat vir hulle aanvaarbaar is en enige meningsverskil wat buite die humanistiese raamwerk bestaan word toenemend onder die vaandel van menseregte onwettig verklaar. Die gevolg hiervan is dat die konsep van sonde, soos wat ons dit in die skrifte vind, toenemend met die humanistiese raamwerk van morele optredes in botsing kom. Die Bela wet is maar net een so ‘n voorbeeld en sake sal net vererger soos wat die Here Jesus Christus se wederkoms nader kom.
Hervorming van denke d.m.v. multikulturalisme wat gewoonlik tot gedragswetgewing aanleiding gee sal ‘n alledaagse verskynsel word. Humanisme streef ook om wêreldvrede deur internasionalisme te bewerkstellig, en die logiese uitvloeisel hiervan is ‘n eenwêreld regering net soos wat die skrifte dit voorspel. Een wyse waarop humanistiese stelsels hulle doel wil bereik is om beweerde (en ek bedoel beweerde) onreg deur sosiale kruistogte en selfs revolusionêre optredes te bewerkstellig, wat in baie gevalle tot erge leiding en op die ou einde van die dag tot geweldige bloedvergieting aanleiding sal gee.
Om hierdie rede moet gelowiges daarteen waak om nie die wêreld en die dinge in die wêreld lief te hê nie. Die skrifte waarsku ons teen so ‘n gesindheid.
1Joh.2:15 “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. 16 Want alles wat in die wêreld is — die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe — is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. 17 En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”
Een van die redes waarom gelowiges die wêreld nog steeds liefhet is omrede hulle nog steeds geestelike babas is en nie werklik die konsep van geestelike volwassenheid verstaan nie. Baie van hierdie gelowiges is ongelukkig die slagoffers van dwaalleer of bevind hulle onder predikers wat versuim om die hele raad van God aan hulle te verkondig. (en dit sluit die profesieë soos wat dit in die Bybel opgeteken staan in. Hand.20:26-27)
Gelowiges moet nooit humanistiese humanitêre hulpverleningsprojekte met werklike Christenskap verwar nie. Die verskil tussen die twee is so groot soos die verskil tussen die hemel en die hel. Wanneer ‘n persoon die evangelie hoor verstaan en glo dan is daardie persoon vir ewig gered. God neem die gelowige aan en maak hom vir ewig deel van Sy familie. As lid van God se familie beskik die gelowige nou oor sekere regte, voordele en verantwoordelikhede. Dit is egter ook so dat wanneer ‘n persoon wedergebore raak, daardie persoon nog steeds ‘n baba in Christus is, en God verwag van hom om deur die inname en toepassing van Sy woord (die Bybel) tot geestelike volwassenheid te ontwikkel. Hierdie faset van die gelowiges se lewe, wat ‘n lewenslange proses is, vorm deel van die heiligmakingsproses en sluit die proses van dissipelskap en die doen van goeie werke in.
2Pet.2:1 “Lê dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery; 2 en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei,”
In die proses van geestelike groei verwag God dat die gelowige seker maak dat hy instruksie ontvang van ‘n leeraar wat werklik die geestelike gawe by God ontvang het en wat daarna streef om die Bybel korrek te verklaar.
1Kor.12:28 “En God het sommige in die gemeente gestel: in die eerste plek apostels, ten tweede profete, (die gawes van apostels en profete het slegs vir die fondasie stadium, naamlik die Apostoliese Tydperk van die kerk gegeld en het na afloop van die Apostoliese Tydperk met die voltooiing van die skrifte tot ‘n einde gekom.) ten derde leraars, daarna kragte, daarna genadegawes van gesondmaking, (‘n gawe wat slegs vir die Apostoliese Tydperk gegeld het en wat ook tot ‘n einde gekom het.) helpers, regeringe, allerhande tale.” (Die die gawe en vermoë om in vreemde nie-aangeleerde menslike tale het ook na afloop van die Apostoliese tydperk in 95nC toe die laaste apostel, naamlik Johannes, tot sterwe gekom het tot ‘n einde gekom.) Toe die Apostel Paulus aan die einde van sy lewe gekom het, het hy die volgende opdrag aan Timoteus gegee, omrede Timoteus deel van die leierskap van die tweede generasie Christene sou vorm en wat na afloop van die einde van die Apostoliese tydperk aan die kerk leiding moes verskaf. Dit is opmerklik dat slegs die bevel om die woord reg te verklaar aan hom oorgedra is en nie die opdrag om te profeteer of in vreemde tale te praat nie of om mense te genees nie.
2Tim.2:15 “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.”
Die rede hiervoor is eenvoudig. Die afloop van die Apostoliese tydperk sou hierdie gawes nie meer nodig wees nie omrede die kerk nou die volledige Bybel tot hulle beskikking gehad het. Ons moet altyd onthou dat die Bybel ‘n progressiewe openbaring van God is en ons moet hierdie feit in gedagte hou soos wat ons die Bybel verklaar.Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Genees en Genesing tydens die Post-Apostoliese tydperk”, asook die artikel “Is die gawe van Profesie nog in werking vandag?” en “Spreek in vreemde tale” sorgvuldig deur te lees. Die leser kan ook gerus die artikel “’n Uitdaging aan geloofsgenesers” te lees.
Ongelukkig is die belydende Christendom met valse apostels en profete besaai, en diegene wat huidiglik beweer dat hulle hierdie gawes besit begaan ‘n ernstige mistasting en en kom in botsing met wat God in Sy woord verklaar het. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels Valse en ware apostels” asook die artikel “Valse en ware profete” sorgvuldig deur te lees. Die skrifte stel dit baie duidelik dat die gawes van apostel en Nuwe Testamentiese profete slegs vir die fondasie stadium van die kerk gegeld het, naamlik:
Ef.2:19 “So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, 20 gebou op die fondament van die apostels en (Nuwe Testamentiese) profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, 21 in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, 22 in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees.”
Sommige van die geestelike gawes was tydelike gawes en het as fondament gedien waarop die kerk gebou is. Met die voltooiing van die skrifte, en afsterwe van die laaste apostel het die Apostoliese Tydperk finaal tot ‘n einde gekom. Paulus het ons van hierdie feit ingelig, naamlik:
1Kor.13:8 “Die liefde vergaan nimmermeer; maar profesieë — hulle sal tot niet gaan; of tale (nie aangeleerde menslike tale) — hulle sal ophou; of kennis — dit sal tot niet gaan.”
Soos wat die gelowige korrekte Bybelse leerstellings inneem, en homself daarop toespits om meer aangaande God se plan vir hom te leer, en dit in die krag van die Gees in sy lewe toepas, sal hy toenemend na die beeld van Christus verander word. En soos wat die gelowige in sy kennis aangaande die Here Jesus Christus groei sal hy ‘n groter kapasiteit by God ontvang waardeur hy nog verdere seëninge, wat ‘n dieper insig aangaande God en Sy woord insluit, ontvang wat weer verder tot ‘n groter mate van genadeloon by die Regterstoel Oordeel van Christus aanleiding sal gee.
Dit kan egter gebeur dat ‘n gelowige ‘n vleeslike lewenswandel nastreef en dus ‘n wêreldse gesindheid handhaaf, en in so ‘n geval sal die gelowige nie tot geestelike volwassenheid opgroei nie, maar hy sal eerder ‘n baba in die geloof bly wat weer tot ‘n self-geïnduseerde miserabele aardse bestaan aanleiding sal gee. In ‘n geval soos hierdie stel die gelowige homself aan God se tugtiging bloot en hy sal ook boonop genadeloon by die Regterstoel Oordeel van Christus verbeur. (die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Gevolge en verliese as gevolg van sonde in ‘n gelowige se lewe” sorgvuldig deur te lees. Ons moet altyd onthou dat die ewige lewe kosteloos by God deur geloof ontvang word. Daarenteen word genadeloon, na afloop van aanvanklike wedergeboorte, deur voortgesette dade van geloof en goeie werke bekom.
Ter afsluiting: Humanisme is geensins met Bybelse Christenskap versoenbaar nie. Humanisme se oorspring is in satan en die mens te vinde, en daarenteen is ware Christenskap in God te vinde. Albei stelsels kan byvoorbeeld die versorging van armes voorstaan, maar die motivering en metodes wat gebruik word verskil hemelsbreed. Humanistiese sisteme soos byvoorbeeld Marxisme se gedwonge herverdeling van eiendom dien as voorbeeld hiervan. In die naam van geregtigheid word een gedeelte van die bevolking se eiendom teen hulle wil (wat niks anders as ‘n vorm van diefstal is nie) by hulle gekonfiskeer om dit aan iemand anders te gee wat nie daarvoor gewerk het nie. So ook word sondige leefwyses, soos byvoorbeeld homoseksualiteit, onder die vaandel van liefde en verdraagsaamheid deur humanisme bevorder en kom sodoende direk in botsing met God se woord. Humanisme en Bybelse Christenskap is geensins met mekaar versoenbaar nie. Ons moet daarna streef om toenemend ‘n Bybelse raamwerk te ontwikkel en handhaaf. Ongelukkig vermeng baie pastore suiwere humanistiese beginsels met Bybelse terme, en verkondig sodoende ernstige dwaalleer in die vorm van ‘n verchristelikte vorm van humanisme aan hulle gemeentes. Reformasie in die vlees verrig is nie Bybelse heiligmaking nie. Ons moenie humanisme met heiligmaking verwar nie.
Jes.5:20 “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.”
Liewe broer in Christus, waak teen humanistiese leerstellings in die kerk.
Seën Groete!