geloof in Bybelse beginsel

Onderskeid tussen geloof in ‘n beginsel en geloof in ‘n belofte

As Christene maak ons daagliks vanuit die Skrifte aanspraak op sekere algemene Bybelse beginsels, asook spesifieke Bybelse beloftes wat direk aan ons as persoon, of aan ons as deel van ‘n spesifieke groep mense gemaak is. Alle gelowiges behoort elke dag in geloof ‘n sekere Bybelse beginsel, of stel beginsels, in ons lewens toe te pas en daarvolgens te leef. So ook behoort elke gelowige daagliks geloof in God se spesifieke beloftes, wat direk aan ons, binne die korrekte dispensasionele konteks, gemaak is vas te hou. Ons moet egter onderskeid tussen ‘n belofte wat spesifiek aan ons gerig is, en ‘n Bybelse beginsel wat oor die algemeen vir ons geld tref, anders kan dit tot erge ontnugtering en frustrasie aanleiding gee.

Ons moet egter ‘n onderskeid tussen geloof in ‘n algemene Skriftuurlike waarheid, asook ‘n spesifieke Bybelse belofte wat direk aan ons gerig is tref. Algemene Bybelse beginsels is anders as Bybelse beloftes. Algemene Bybelse beginsels word deur spesifieke Bybelse waarhede, soos wat ons dit in die Skrifte vind, gevorm. Hierdie Skriftuurlike waarhede mag inligting aangaande God se attribute, Sy optrede teenoor spesifieke mense of groepe mense insluit, asook die belewenisse en God se optrede ten opsigte van spesifieke persone en groepe mense wat gelowiges sowel as ongelowiges insluit. Ons vind hierdie vorm van beginsels oor die algemeen is teksgedeeltes wat beskrywend van aard is, en wat aan ons die historiese feite soos wat dit plaasgevind het weergee. Die historiese verhaal van Dawid en Goliat, asook die stryd tussen die Israeliete en die Filistyne kan as voorbeelde van teksgedeeltes wat beskrywend van aard is gebruik word. Soos wat mense deur die verloop van die wêreld se geskiedenis saam met die Here gewandel het, het mense verskillende ervarings beleef en in die proses het hulle sekere beginsels geleer, en sommige van hulle het self direkte waarskuwings en beloftes ontvang.

Dus is dit van uiterste belang dat die persoon wat die Bybel bestudeer, onderskeid moet tref tussen algemene Bybelse beginsels van hoe God t.o.v. ‘n spesifieke persoon (of groep persone), wie hulleself in ‘n spesifieke stel omstandighede bevind het, opgetree het, en spesifieke beloftes wat God aan spesifieke persone (of groepe) binne die dispensasionele raamwerk waarin daardie mense leef, as belofte gemaak het. Beloftes is dus direk en spesifiek van aard, en anders as algemene Bybelse beginsels, word beloftes direk aan ‘n persoon of groep persone gemaak, en mag spesifieke leerstellige inligting wat slegs aan die ontvangers daarvan gerig is insluit, en kan dus nie noodwendig as ‘n spesifieke belofte op alle mense van alle tye van toepassing gemaak word nie. Daarbenewens kan ‘n spesifieke belofte ook aan ‘n spesifieke tydraamwerk gekoppel wees, wat verseker dat daardie belofte tydens daardie tydraamwerk, (wat ‘n spesifieke Dispensasie kan insluit) vervul sal word. ‘n Mooi voorbeeld hiervan is die belofte wat God deur Sy engel aan Maria gemaak het dat sy die moeder van die beloofde Messias van Israel sal wees. Geen ander persoon kan hierdie belofte op hulleself wil toepas nie, omrede dit nie spesifiek aan hulle gerig is nie, maar slegs aan Maria. Dieselfde beginsel geld vir die belofte van die wegraping, wat voor die aanbreek van die Groot Verdrukking sal plaasvind en dat die Kerk as geheel nie vir God se oordeel bestem is nie. (hierdie is ‘n direkte belofte wat slegs aan die ware Kerk, wie tydens die Dispensasie van die Kerk leef gemaak is, en geen ander persoon buiten hierdie groep kan op daardie beloftes aanspraak maak nie.)

Wanneer God ‘n direkte belofte aan ‘n persoon, of groep persone maak, kan mens met absolute sekerheid weet dat daardie belofte in vervulling sal gaan. Daarenteen is ‘n Bybelse beginsel bindend op ‘n persoon, maar dit is nie dieselfde as ‘n direkte belofte aan die persoon deur God gemaak nie. Kom ons kyk na ‘n voorbeeld. Vanuit die Bybel leer ons die beginsel dat God almagtig is, en omdat God almagtig is, kan Hy enige en iedere siek persoon met wedergeboorte genees. Dit is ‘n Bybelse beginsel wat korrek verklaar dat God almagtig is. Maar nêrens in die Bybel, wat binne die korrekte dispensasionele konteks vertolk word, vind ons die belofte dat God belowe om elke persoon wat tot geloof in Hom kom, onmiddellik van al sy siektes te genees nie. Indien God dus nie direk ‘n belofte aan ‘n spesifieke persoon, of groep persone, gemaak het nie, kan mens nie ‘n algemene Bybelse beginsel as direkte belofte op homself van toepassing maak nie. Baie sogenaamde geloofsgenesers, asook die moderne profete, maak verkeerdelik van teksgedeeltes soos byvoorbeeld Lukas 5:12-13 as belofte gebruik, wat glo aan alle gelowiges beloof dat dit in alle gevalle Christus se begeerte is om hulle van hulle siektes te genees. Kom ons gaan kyk egter mooi na die teksgedeelte, (wat die korrekte konteks insluit), naamlik:
Luk.5:12 “En terwyl Hy in een van die stede was, kom daar ‘n man vol van melaatsheid; en toe hy Jesus sien, val hy op sy aangesig en smeek Hom en sê: Here, as U wil, kan U my reinig. 13 Daarop steek Hy die hand uit en raak hom aan en sê: Ek wil, word gereinig! En dadelik het die melaatsheid hom verlaat.”

Indien mens egter die spesifieke teksgedeelte binne die korrekte konteks (wat die korrekte dispensasionele konteks insluit ) bestudeer vind ons dat daar sekere feite is wat uitstaan. Eerstens, het die gebeure wat hier plaasgevind het tydens Christus se eerste koms plaasgevind en vorm dus deel van die Dispensasie van die Wet. Christus is God, en as sulks kan Hy enige persoon ten eniger tyd genees soos wat ons hier sien. (net soos wat die melaatse man korrek verstaan het) Maar ons moet egter die direkte konteks waarin hierdie gebeure plaasvind in ag neem, alvorens ons dit as direkte belofte op onsself, wie tydens die Dispensasie van die Kerk leef, van toepassing wil maak. Die Ou Testament profesieë het voorspel dat Israel se Messias mense sou genees, wat as bewys sou dien dat die persoon wat hierdie wonderwerke verrig die ware Messias van Israel is. En daarom het Christus die volgende stelling gemaak nadat Hy die melaatse man van sy melaatsheid genees het, naamlik:
Luk.5:14 “Toe gee Hy (Christus) hom bevel om dit aan niemand te vertel nie; (wat ‘n vreemde opdrag is indien mens nie die korrekte konteks waarin die genesing plaasgevind het in ag neem nie) maar, sê Hy, gaan vertoon jou aan die priester (wat toe nog by die nog staande tempel diens verrig het) en offer vir jou reiniging, (maak die voorgeskrewe offergawe, wat slegs vir die Dispensasie van die Wet geld) soos Moses voorgeskrywe het, vir hulle tot ‘n getuienis.”

Die Here beveel die persoon om vir niemand van die genesing te vertel nie maar, om homself met die nodige offers in hand, aan die priesters wat by die tempel diens gedoen het te gaan toon. Onthou die gebeure vind tydens die Dispensasie van die Wet plaas, en die Wet van Moses was toe nog in werking en die tempel was toe nog nie verwoes nie. Die priesters wat by die tempel diens gedoen het, moes ondersoek instel, en sien dat daar ‘n werklike wonderwerk plaasgevind het, en moes toe besef het dat Israel se lank-beloofde Messias op die toneel verskyn het (net soos wat hulle Skrifte voorspel het) en die volk aangaande hierdie feit ingelig het. Christus se stelling dat Hy die persoon wil genees is dus aan ‘n spesifieke persoon, wat tydens ‘n spesifieke dispensasie gelewe het gemaak, en kan nie goedsmoeds as belofte op gelowiges, wie tydens die Kerk Dispensasie lewe, van toepassing gemaak word nie, en daarom sien ons dat gelowiges oor die algemeen net soos ongelowiges nog steeds siek word en tot sterwe kom en nie noodwendig van hulle siektes genees word nie. God is dus nie deur Sy woorde, soos aan die melaatse man hierbo gegee, gebonde om alle gelowiges van hulle siektes te genees nie. Maar ongelukkig is dit wat baie mense verkondig en leer!

In hierdie opsig dien ‘n belofte vanaf God as absolute waarborg, dat dit wat belowe is, in vervulling sal gaan. Daarenteen kan ‘n algemene Bybelse beginsel, alhoewel absoluut waar, nie as absolute waarborg dien, wat God verplig om aan ‘n belofte te voldoen wat Hy nie gemaak het nie, alhoewel Hy wel oor die vermoë beskik om dit wel te doen. Net omrede God iets kan doen, of dit in die verlede teenoor ‘n ander persoon of groep mense gedoen het, beteken nie dat Hy dit ook nou as belofte aan ons moet doen nie. God se wil in daardie spesifieke geval is die bepalende faktor. Dit is ook ironies dat die melaatse man hierdie konsep duidelik verstaan het, naamlik:
Luk.5:12a “En terwyl Hy in een van die stede was, kom daar ‘n man vol van melaatsheid; en toe hy Jesus sien, val hy op sy aangesig en smeek Hom en sê: Here, as U wil, kan U my reinig.” (let op die stelling “as U wil”)

Wanneer ons dus ons versoeke aan God in gebed rig, dan moet dit a.g.v. ons geloof in ‘n Bybelse beginsel gedoen word. Waar God ‘n belofte in die Skrifte direk aan ons as persoon, of aan ons as deel van ‘n spesifieke groep mense (binne die korrekte Dispensasionele raamwerk) gemaak het, dan kan ons in geloof op daardie belofte aanspraak maak, met die wete dat God met absolute sekerheid Sy woord sal eerbiedig en ons versoek sal toestaan. In hierdie opsig vind ons dat ‘n versoek wat slegs op ‘n Bybelse beginsel gebaseer is, slegs aan ons toegestaan sal word indien dit God se wil vir daardie spesifieke versoek is. Indien dit nie Sy wil is om aan ons versoek te voldoen nie, sal Hy ons versoek weier, want Hy het Homself nie deur ‘n spesifieke belofte aan ons verbind om aan ons versoek te voldoen nie. Net omrede God almagtig is, en in staat is om alles te doen, beteken nie dat Hy dit noodwendig gaan doen as ons so ‘n versoek aan Hom rig nie. God werk ook oor die algemeen afsonderlik met al Sy kinders, en net omrede Hy op ‘n spesifieke wyse in die verlede ten opsigte van ‘n spesifieke gelowige opgetree het, of ‘n spesifieke gebedsversoek van ‘n gelowige toegestaan het, beteken nie outomaties dat Hy dieselfde aan ons moet doen nie. ‘n Mooi voorbeeld hiervan is Jabes se gebed wat in die verlede al meer as eenmaal gruwelik misbruik is, naamlik:
1Kron 4:10 “En Jabes het die God van Israel aangeroep en gesê: As U my ryklik seën en my grondgebied vermeerder en u hand met my sal wees en U die onheil afweer, sodat my geen smart tref nie! En God het laat kom wat hy begeer het.”

Hierdie is ‘n mooi voorbeeld van ‘n gebed wat op ‘n Bybelse beginsel aan God gerig is, en wat God toegestaan het. Dit dien egter nie as belofte dat God in alle gevalle waar iemand so ‘n gebed aan Hom rig, aan hulle versoek sal voldoen nie. Nêrens het God spesifiek so ‘n belofte aan enige persoon buiten Jabes gemaak nie. Die boek “Jabes se gebed” wat deur dr Bruce Wilkinson geskryf is, en waaruit hy baie geld gemaak het, het foutiewelik Jabes se gebed as ‘n basiese mantra aan gelowiges voorgehou waardeur hulle kwansuis wonderwerk sou beleef. Hierdie boek het ‘n algemene Bybelse beginsel geneem, en dit as belofte aan alle gelowiges wat die gebed herhaaldelik bid verander, iets wat nie uit die Skrifte geregverdig word nie, en daar is hordes mense wat hierdie gebed gebid het en wie se versoeke God nie toegestaan het nie. God het egter nêrens beloof dat diegene wat Jabes se gebed aan Hom rig, se versoeke outomaties as belofte aan hulle toegestaan sou word nie. Daarenteen waarborg God dat ons versoeke wat aan Hom, op grond van ‘n direkte belofte wat Hy in die Skrifte aan ons gemaak het, sal voldoen en kan ons verseker weet dat Hy ons versoeke op grond van Sy belofte aan ons sal goedkeur. ‘n Mooi voorbeeld van ‘n belofte wat spesifiek aan ons gerig is, is Joh.3:36, naamlik:
Joh. 3:36 “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.”
Om hierdie rede is dit van uiterste belang dat ons weet hoe om die Bybel korrek te vertolk, en dit is ook dan vanselfsprekend dat gelowiges hulle Bybels moet ken.

Wanneer ons ‘n spesifieke gebedsversoek aan God rig wat op ‘n algemene Bybelse beginsel gebaseer is, kan ons nie outomaties verwag dat God ons versoek in alle gevalle moet toestaan nie. Nee, in hierdie geval rig ons, ons versoeke aan God met die wete dat Hy dit wel kan toestaan indien Hy so wil en los die uitkoms van ons versoek dan met Hom. Sy wil in daardie spesifieke geval is dan die bepalende beginsel, en ons berus ons in Sy besluit wetende dat Hy almagtig is en as liefdevolle Vader weet wat die beste vir ons is. Jesus het hierdie feit mooi gedemonstreer, naamlik:
Matt. 26:39 En Hy het ‘n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil. 42 Weer het Hy vir die tweede maal gaan bid en gesê: My Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.”
Ek kan persoonlik van gevalle getuig waar ek die Here gesmeek het om my lewe te verleng, en wat Hy toegestaan het omrede dit Sy wil was. Ek moes egter my versoeke aan God rig en op die punt kom waar ek in Sy wil berus het. Hy het toe my versoek toegestaan en my lewe verleng.

Toe ek my versoek aan God gerig het, het ek my versoek op ‘n algemene Bybelse beginsel gebaseer, want daar is geen teksvers in die Bybel wat aan my die belofte maak, dat as ek God versoek om my lewe in hierdie liggaam te verleng, Hy dit moet doen nie. (daar is dus geen Bybelse belofte vir so iets nie.) Ek moes toe in onsekerheid wag totdat Hy my versoek toegestaan het. Die feit dat ek onseker was of God my versoek gaan toestaan of nie, dien nie as voorbeeld van ongeloof, soos wat baie predikers verkeerdelik verkondig nie. Dit dien as bewys dat ek weet dat my versoek nie noodwendig aan my toegestaan sou word nie. Ek het egter myself berus in die feit dat God dit kan doen indien Hy wil en Hy het dit ook dan so gedoen. Dieselfde beginsel geld vir al ons versoeke wat op die beginsel van ‘n algemene Bybelse beginsel aan God in geloof gerig is. Wanneer ‘n persoon hierdie gesindheid t.o.v. ‘n algemene Bybelse beginsel handhaaf, dien dit juis as bewys van sy geloof in God en is nie ‘n teken van ongeloof nie. Ons moet ons geloof in wysheid toepas en nie op ons emosies staatmaak nie. Ek was wys genoeg om te besef dat God nêrens aan my ‘n belofte gemaak het dat Hy my lewe sou verleng, net omrede Hy dit in die verlede vir ander gelowiges (wat dieselfde versoek aan Hom gerig het) gedoen het nie.

Die belofte dat wanneer die dissipels van die Here hulle hande op siek mense lê, dat daardie mense gesond sou word, is slegs aan gelowiges wat tydens die Apostoliese tydperk, vroeg tydens die aanvang van die Kerk Dispensasie geleef het gemaak. (die apostoliese tydperk verwys na die tydperk toe die Apostels van Christus nog geleef het en het met die dood van die Apostel Johannes tot ‘n einde gekom. Ons bevind ons huidiglik in die Post-Apostoliese tydperk van die Kerk.) Die konteks waarin die Here hierdie belofte van genesing gemaak het is duidelik waarneembaar, naamlik:
Mark.16:14 “Later het Hy aan die elf (oorlewende apostels en later aan die apostel Paulus) self verskyn toe hulle aan tafel was, en Hy het hulle hul ongeloof en hardheid van hart verwyt, omdat hulle die wat Hom ná sy opstanding gesien het, nie geglo het nie. 15 En Hy het vir hulle ( die apostels) gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom. 16 Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word. 17 En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: (as teken dat die leerstellings wat die Apostels verkondig het van God afkomstig was, onthou die Bybel was toe nog nie voltooi nie) in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, 18 slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word. 19 Nadat die Here dan met hulle (die Apostels) gespreek het, is Hy opgeneem in die hemel en het gaan sit aan die regterhand van God. 20 Maar hulle (die apostels) het uitgegaan en oral gepreek, en die Here het saamgewerk en die woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het. Amen.”
Die wonderwerke wat gevolg het was een van die kentekens van die apostels en het slesg plaagevind in gavalle wat God self bepaal het.
2Kor.12: “Die kentekens tog van ‘n apostel is onder julle verwerklik met alle volharding deur tekens en wonders en kragtige dade.”

Toe die apostel Paulus aan die einde van sy lewe gekom het, en hy die mandaat vir die verkondiging van die evangelie aan die tweede generasie kerkleiers oorgedra het, het hy nie die belofte aan hulle gemaak dat hulle ook die hande op siekes sal kan lê en hulle sal kan genees nie. Hulle was aangesê om die leerstellings wat hulle van hom ontvang het aan ander te leer en niks meer nie.
2Tim.2:1 “Jy dan, my seun, wees sterk deur die genade wat in Christus Jesus is; 2 en (die leerstellings) wat jy van my gehoor het onder baie getuies, vertrou dit (hierdie leerstellings) toe aan getroue manne wat bekwaam sal wees om ook ander (hierdie leerstellings) te leer.”
Wanneer ons dus om genesing bid moet ons, ons versoek aan die Here rig, en die uitslag in Sy hande los, met die wete dat Hy volkome in beheer is en presies weet wat Hy doen. Ons gesindheid moet wees, dat indien dit God se wil is om die persoon te genees, dan beskik Hy oor die vermoë om dit te doen, en sal so doen slegs indien dit Sy wil is en ons moet onsself in Sy besluit berus. (dit is geloof) Wanneer ons hierdie gesindheid inneem, sal dit verseker dat ons nie die slagoffers van dwaalleer word nie, en sal ook nie die die verskonings/leuens van sogenaamde geloofsgenesers glo, dat wanneer ‘n persoon nie van sy siekte genees word nie, daardie persoon nie oor die nodige geloof beskik het nie.

Ter Afsluiting: Net omrede ‘n persoon geloof het beteken nie dat God verplig is om in enige versoek wat aan Hom gerig is te voldoen nie. Ons geloof moet nie in ons geloof gebaseer wees nie maar in God wat die krag besit om ons versoeke toe te staan. Wanneer ons byvoorbeeld om werk, of ‘n spesifieke posisie binne ‘n maatskappy bid, dan moet ons glo, dat indien dit God se wil vir ons is, Hy ons versoek sal toestaan. Hierdie gesindheid is beter as die gesindheid wat bepaal, dat as ek net genoeg geloof het, (of kan opwerk) God in my versoek sal of moet voldoen. Net omrede ek genoeg geloof het, beteken nie dat God nou my slaaf is en alles wat ek Hom nou vra Hy verplig is om vir my te doen nie. Om so iets te verwag is ‘n subtiele vorm van arrogansie/hoogmoed, nie Bybelse geloof nie. Mens hoor deesdae nogal gereeld die volgende stelling, naamlik: “Ek glo God vir ‘n kar of genesing” Waar het God dit in Sy woord gestel dat Hy aan die persoon ‘n kar gaan gee net omrede hy geloof het. So ‘n persoon bring onwetend God tot die vlak van sy slaaf af, omrede hy dink dat as hy genoeg geloof het God aan sy versoek moet voldoen. ‘n Beter gesindheid sal soos volg wees, naamlik: “ Ek het God in gebed versoek om aan my ‘n motor te voorsien, en indien dit Sy wil is sal Hy my versoek toestaan omrede ek glo dat Hy God is en niks vir Hom onmoontlik is nie.” Dit is eerder hierdie gesindheid wat God sal behaag.

Onthou, waar Satan ‘n verkeerde gesindheid wil bevorder, of ‘n valse leerstelling wil versterk, beskik hy ook oor die vermoë om ‘n kar aan ‘n persoon te gee. Sy doel is egter om die mens te verlei en in die afgrond in te sleep. Kyk maar as voorbeeld na die valse predikers soos Kenneth Copeland, John Bevere en baie soos hulle. Hulle is skatryk maar die leerstellings wat hulle verkondig kom van die Satan af en nie van God af nie. Die volgende stelling geld spesifiek vir mense soos hulle, naamlik:
2Kor.11:13 “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. 14 En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. 15 Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.
1Joh4:1 “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.”
En is dit nie Satan wat die glorie en rykdom van die koninkryke van die aarde aan die Here aangebied het nie?
Matt.4:8 “Weer neem die duiwel Hom saam na ‘n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid, 9 en sê vir Hom: Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid.
10 Toe sê Jesus vir hom: Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.”
Moet nooit die fout begaan om te dink dat Satan nie oor die vermoë beskik om mense ryk te maak nie, hy beskik oor daai vermoë en doen dit gereeld. (Kyk na Hollywood) Om hierdie redes moet ons leerstellings op die Bybel gebaseer wees en op niks anders nie. Dit sluit die korrekte konteks, wat die korrekte dispensasionele konteks insluit in.

Dit is my bede dat hierdie artikel die leser voedsel tot verdere denke sal gee. Ek het hierdie onderwerp nogal baie oordink en leersaam gevind.

Seën Groete!

Vic

Deel met ander asb.