Dispensasie van Belofte 2

Die dispensasie van belofte. Deel 2

In deel een van die artikel “Die Dispensasie van Belofte” het ons gesien hoe die Here Abraham vanuit die nasies roep en met hom ‘n onvoorwaardelike verbond gesluit het. Vanuit die Abrahamitiese Verbond (Gen.12) vloei daar drie onvoorwaardelike verbonde voort, naamlik die Die Land van Israel Verbond, (Deut.30) Die Dawidiese Verbond, (2Sam.7) asook die Die Nuwe Verbond. (Jer.31) God het ook ‘n vierde verbond met die volk Israel gesluit en dit is die Mosaïese Verbond wat nie ‘n onvoorwaardelike verbond was nie maar wat van Israel se gehoorsaamheid afhanklik was. (Ex.18; Gal.3) Die leser word ten sterkste aangeraai om die Illustrasie “Bybelse Verbonde: God se verbond met die Volk Israel” deeglik te bestudeer, asook die illustrasie “Die Sewe Dispensasies” te bestudeer. Dit is belangrik omrede die verbonde die dryfveer agter die sewe dispensasies van God se raadsplan is. Kom ons gaan nou voort waar ons in die deel een opgehou het, naamlik:

Die mens misluk weereens a.g.v. ongeloof:

a. Abraham misluk:

Abraham verlaat kanaan en gaan na Egipte waar hy oor sy vrou lieg:
Gen.12:10 “En daar was hongersnood in die land, sodat Abram na Egipte afgetrek het om daar as vreemdeling te vertoef; want die hongersnood was swaar in die land. 11 n toe hy op die punt staan om Egipte in te trek, het hy met sy vrou Sarai gespreek: Kyk, ek weet dat jy ‘n vrou is mooi van aansien. 12 As die Egiptenaars jou nou sien, sal hulle sê: Dit is sy vrou en hulle sal my doodmaak en jou laat lewe. 13 Sê tog jy is my suster, dat dit met my goed kan gaan ter wille van jou en ek om jou ontwil in die lewe kan bly. 14 Toe Abram dan in Egipte gekom het, sien die Egiptenaars dat die vrou baie mooi was. 15 Ook het die vorste van Farao haar gesien en haar by Farao geprys. En die vrou is na die paleis van Farao geneem. 16 En hy het goed gedoen aan Abram om haar ontwil, sodat hy kleinvee en beeste en esels, slawe en slavinne, eselinne en kamele in besit gekry het. 17 Maar die HERE het Farao en sy huis met groot plae besoek ter wille van Sarai, die vrou van Abram. 18 Daarop laat Farao Abram roep en hy sê: Wat het jy my nou aangedoen? Waarom het jy my nie te kenne gegee dat sy jou vrou is nie? 19 Waarom het jy gesê: Sy is my suster — sodat ek haar vir my as vrou geneem het? Daar is jou vrou dan nou; neem haar en gaan weg. 20 En Farao het aan enkele manne aangaande hom bevel gegee, en hulle het hom weggebring met sy vrou en sy hele besitting.”

Abraham verwek vir hom ‘n nasaat by sy Egiptiese slavin Hagar:

Gen.16:1 “Maar Sarai, die vrou van Abram, het vir hom geen kinders gebaar nie; en sy het ‘n Egiptiese slavin gehad met die naam van Hagar. 2 En Sarai het vir Abram gesê: Jy weet, die HERE het my nie toegelaat om moeder te word nie. Gaan tog in by my slavin; miskien sal ek uit haar gebou word. En Abram het na Sarai geluister. 3 Toe neem Sarai, die vrou van Abram, Hagar, die Egiptiese, haar slavin — nadat Abram tien jaar in die land Kanaän gewoon het — en gee haar aan haar man Abram om sy vrou te wees. 4 En hy het by Hagar ingegaan, en sy het swanger geword. Maar toe sy sien dat sy swanger was, het haar meesteres veragtelik in haar oë geword.”
God het egter aan Abraham (85jaar oud) belowe dat Hy deur Sara (75 jaar oud) vir hom ‘n nasaat sal verwek. Omrede Abraham in die vlees gewandel, en na Egipte afgegaan het, het hy Hagar as slaaf verkry en dit was juis hierdie slaaf wat tot verdere probleme aanleiding gegee het. Dit was met Hagar wat Abraham en Sara deur hulle tydelike ongeloof vir hom ‘n nasaat wou verwek het. God sal ‘n gelowige wat in die vlees, en in ongeloof optree vergewe maar die gevolge van sodanige besluit sal nie noodwendig weggeneem word nie. Wanneer ons in ongeloof optree plaas dit ons in ‘n posisie waar ons maklik kan struikel en verkeerde besluite kan neem. Ongeloof, selfs tydelike ongeloof is sonde en sonde het gevolge! Alle gelowiges moet geduld ontwikkel, en leer om in God se beloftes te rus, en om op die Here te wag al lyk dit of alles uitmekaar wil val. Hy bly in beheer en weet wat Hy doen. Ons moet Hom glo en vertrou! Onthou God se waarskuwing, naamlik:
Jes.50: 10 “Wie is daar onder julle wat die HERE vrees, wat na die stem van sy Kneg (Die Here Jesus Christus) luister, wat in duisternisse wandel en geen ligstraal sien nie? — laat hy vertrou op die Naam van die HERE en steun op sy God! 11 Kyk, julle almal wat ‘n vuur aansteek, wat julle met vuurpyle omgord — wandel in die vlam van julle vuur en onder die vuurpyle wat julle aangesteek het! Van my hand het dit julle oorgekom; in smart sal julle neerlê.”

Abraham lieg vir ‘n tweede keer oor Sarah sy vrou in Gerar:

Gen.2:1 “En Abraham het daarvandaan weggetrek na die Suidland en gaan woon tussen Kades en Sur en in Gerar as vreemdeling vertoef. 2 En Abraham het van Sara, sy vrou, gesê: Sy is my suster. Toe laat Abiméleg, die koning van Gerar, Sara haal. Maar God het in die nag by Abiméleg gekom in ‘n droom en vir hom gesê: Kyk, jy sal sterwe ter wille van die vrou wat jy laat haal het, want sy is ‘n getroude vrou. 4 Maar Abiméleg het nog nie naby haar gekom nie; daarom het hy gevra: Here, sal U ook ‘n regverdige nasie ombring? 5 Het hy my nie self gesê nie: Sy is my suster? En sy het self ook gesê: Hy is my broer. In die onskuld van my hart en in die reinheid van my hande het ek dit gedoen. 6 Daarop antwoord God hom in die droom: Ek weet ook dat jy dit in die onskuld van jou hart gedoen het, en Ek self het jou daarvan teruggehou om nie teen My te sondig nie. Daarom het Ek jou nie toegelaat om haar aan te raak nie. 7 Gee dan nou die man se vrou terug, want hy is ‘n profeet; en hy sal vir jou bid, dat jy kan lewe. Maar as jy haar nie teruggee nie, weet dan dat jy sekerlik sal sterwe, jy en almal wat aan jou behoort.”
God moes weer ingryp om die bloedlyn van die beloofde Verlosser te beskerm, want Abraham in sy ongeloof was bereid om sy vrou aan ‘n ander man weg te gee om sy eie lewe te spaar. Hy moes eerder op God vertrou het, en die beloftes wat God aan hom gemaak het moes as die raamwerk vir sy optredes dien, omrede hy moes weet dat God Sy woord t.o.v. Sara, as die moeder van Isak wat deur hom verwek sou word, sou nakom. Maar wag! Die appel van nie ver van die boom af nie!

b. Isak misluk:

Isak lieg ook oor sy vrou om sy eie lewe te spaar:

Gen.26:1 “En daar was hongersnood in die land, buiten die eerste hongersnood wat in die dae van Abraham gewees het. Daarom het Isak getrek na Abiméleg, die koning van die Filistyne, na Gerar. 2 En die HERE het aan hom verskyn en gesê: Moenie aftrek na Egipte nie; woon in die land wat Ek jou sal aanwys. 3 Vertoef as vreemdeling in hierdie land, en Ek sal met jou wees en jou seën; want aan jou en jou nageslag sal Ek al hierdie lande gee: Ek sal die eed bevestig wat Ek vir jou vader Abraham gesweer het. 4 En Ek sal jou nageslag vermeerder soos die sterre van die hemel en aan jou nageslag al hierdie lande gee, en in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word; 5 omdat Abraham na my stem geluister en my ordening, my gebooie, my insettinge en my wette onderhou het. 6 “So het Isak dan in Gerar gebly. 7 En toe die manne van die plek hom na sy vrou vra, antwoord hy: Sy is my suster. Want hy was bang om te sê: My vrou — anders sal die manne van die plek, so het hy gedink, my miskien doodmaak ter wille van Rebekka; want sy was mooi van aansien. 8 En toe hy al ‘n lang tyd daar was, kyk Abiméleg, die koning van die Filistyne, deur die venster uit en sien hoe Isak speel met Rebekka, sy vrou. 9 En Abiméleg het Isak geroep en gesê: Kyk, sy is dan tog jou vrou! Hoe kon jy dan verklaar: Sy is my suster? En Isak antwoord hom: Ja, ek het gedink ek kan miskien om haar ontwil my lewe verloor! 10 En Abiméleg sê: Wat het jy ons nou aangedoen? Hoe maklik kon een van die mense met jou vrou gemeenskap gehad en jy ‘n skuld oor ons gebring het! 11 Daarop gee Abiméleg bevel aan die hele volk en sê: Wie hierdie man of sy vrou aanraak, sal sekerlik gedood word.”
God moes ook in die geval van Isak se ongeloof ingryp om die situasie, en Sy onvoorwaardelike verbond wat Hy met Abraham gemaak het, te beskerm. Daar is ook baie beloftes aan ons gemaak waaraan ons in geloof moet vashou. Ek het byvoorbeeld nie baie aardse besittings nie, maar ek het meer as dit, en dit is God se belofte aan my, naamlik:
1Pet.5:7 “Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.”
Let op die stelling “Hy sorg vir julle.” Daar staan nie dat Hy vir julle sal sorg nie maar dat Hy dit alreeds doen. Alle gelowiges kan hulle in hierdie belofte van God berus wanneer dit lyk of alles om hulle in duie wil stort. Ek kan met opregtheid verklaar dat God my nog nooit gefaal het nie, al toets Hy met tye my geloof op wyses wat ek nie verwag nie. Ek weet die Here wil my leer om met my hele wese op Hom en Sy beloftes aan my te rus en om dit te bewerkstellig moet Hy ons soms in benarde posisies plaas. 1Pet.1:6 “Daarin verheug julle jul, al word julle nou — as dit nodig is — ‘n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, 7 sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring (die wegraping)van Jesus Christus;”

Isak was vasbeslote om die familie seën aan Esau te gee, al het God alreeds dit duidelik gestel dat die oudste seun die jongste sou dien:

Isak het Esau voorgetrek, naamlik:
Gen.25:28 “En Isak het Esau liefgehad, want wildsvleis was na sy smaak; maar Rebekka het Jakob liefgehad.”
Isak was toe vasbeslote om aan hom die familie seën te gee ten spyte van die feit dat God dit alreeds duidelik gestel het dat die oudste die jongste sou dien.
Gen.27:1 “1 “Toe Isak oud geword het en sy oë swak was, sodat hy nie kon sien nie, het hy sy oudste seun Esau geroep en vir hom gesê: My seun! En hy het hom geantwoord: Hier is ek! 2 Toe sê hy: Kyk tog, ek het oud geword, ek weet die dag van my dood nie. 3 Neem dan nou tog jou wapens, jou pylkoker en jou boog, en gaan uit in die veld en jag vir my ‘n stuk wild 4 en maak vir my lekker ete klaar soos ek dit graag wil hê; en bring dit vir my om te eet; sodat my siel jou kan seën voordat ek sterwe.”

c. Jakob misluk:

Jakob en sy ma mislei Isak:

Jakob en sy ma mislei Isak en bekom so Esau se seëning (Gen 27:1-33) op ‘n wyse wat nie deur God goedgekeur was nie. Rebekka het die gesprek tussen Isak en Esau gehoor en het saam met Jakob ‘n plan bewerkstellig wat beteken dat hulle Isak moes mislei. Hulle moes eerder op God gewag het om Sy belofte te bewerkstellig maar in hulle ongeloof het hulle sake in hulle eie hande geneem wat verreikende gevolge vir die familie ingehou het. Omrede Jakob vir sy broer moes vlug het sy nooit weer haar geliefde seun gesien nie. Indien hulle God se beloftes geglo, en daarin gerus het, sou sake anders verloop het en sou Jakob alles wat God aangaande hom belowe het ontvang het sonder die meegaande smarte wat hulle ongeloof teweeg gebring het. Onthou, sonde het gevolge!

Soms het Jakob opgetree asof God se vloek op hom was:

In stede daarvan om op te tree asof God se seën op hom gerus het, tree hy eerder soms op asof God se vloek op hom was.
Gen.42:36 “Daarop sê Jakob, hulle vader, vir hulle: Julle beroof my van kinders. Josef is weg! En Símeon is weg! En Benjamin wil julle wegneem! Alles is teen my!” God het egter die kwaad wat sy seuns aan hom gedoen het, deur om Josef na Egipte as slaaf te verkoop, ten goede vir hom laat saamwerk, om hom en sy gesin van hongersnood te verlos en sake so gewerk dat hy weer al sy seuns by hom sou hê. Boonop het Jakob die hongersnood wat die hele streek getref het grootliks misgeloop. Die stelling “Alles is teen my” klink nogal bekend aan my, al moet ek dit met skaamte sê.

d. Die seuns van Jakob misluk ook:

Josef se broers was jaloers omrede hy Jakob se gunsteling/witbroodjie was: (Gen.37:1-8)

Josef se broers het beplan om hom te vermoor maar in stede daarvan het hulle hom as slaaf na Egipte verkoop. (Gen.37:21-27) Selfs in die donker tye van hulle sondige planne was God nog steeds besig om Sy plan vir hulle uit te werk. Hulle het sake net vir hulle self moeiliker gemaak as wat dit moes wees. Ons kan baie uit hulle voorbeeld uit leer! Die leser word versoek om die teksgedeeltes waarna ek verwys self te lees, anders gaan hierdie artikel te lank raak.

Jakob se seuns het gelieg om hulle bose dade te bedek.
Gen. 37:18 “En hulle het hom van ver af gesien. Maar voordat hy naby hulle kom, het hulle listig raad gehou teen hom om hom dood te maak. 19 En hulle het vir mekaar gesê: Daar kom daardie dromer aan! 20 Kom dan nou, laat ons hom doodmaak en in een van die putte gooi en sê: ‘n Wilde dier het hom opgeëet. Dan sal ons sien wat van sy drome word.”

Die mens misluk en ook die Dispensasie van Belofte eindig in God se oordeel:

Israel word slawe in die land van Egipte:

God het vooraf aan Abraham die feit dat Israel slawe in Egipte sou wees bekendgemaak. God het hierdie feit aan Abraham bekendgemaak nog voordat Abraham al enige kinders gehad het.
Gen.15:12 “En toe die son wou ondergaan, val daar ‘n diepe slaap op Abram, en kyk, skrik en groot duisternis het hom oorval. 13 Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vier honderd jaar lank.14 Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed.”
God is alwetend, en het alreeds van ewigheid af geweet dat Israel slawe in Egipte sou wees omrede hulle nie na die beloofde land terug gegaan het nie.Net omrede God hierdie voorspelling gemaak het, beteken dit nie dat hulle binne die raamwerk van Sy wil opgetree het toe hulle in Egipte vertoef het eerder as om na die beloofde land terug te keer toe die hongersnood tot ‘n einde gekom het nie. Ons vind ‘n soortgelyke voorspelling van die smarte wat Israel oor hulleself sou bring a.g.v hulle sonde toe Moses die volk aangespreek het net voordat hulle die beloofde land sou binnegaan. (Deut.29-30) Net so weet God van die verloop van ons lewens en die keuses wat ons sal maak asook die gevolge daarvan.

Jakob en sy seuns het na Egipte af gegaan om die ‘n ernstige droogte wat sewe jaar lank geduur het vry te spring. (Gen.46:1-7)

Na afloop van die droogte het Israel in Egipte aangebly en nie na die landstreek wat God aan hulle gegee het terug gegaan soos hulle moes nie. (Ex.1:1-7) Hulle moes na die land wat God hulle gegee het teruggegaan het, want dit is in hierdie grondgebied waar God hulle sou seën.

Die kinders van Israel het toe slawe in Egipte geword omrede hulle in ‘n land vertoef het wat nie aan hulle belowe was nie.
Ex.1:8 “Toe staan daar ‘n nuwe koning oor Egipte op wat niks van Josef geweet het nie. 9 Dié het aan sy volk gesê: Kyk, die volk van die kinders van Israel is meer en magtiger as ons. 10 Kom, laat ons ‘n slim plan teen hulle beraam, sodat hulle nie kan vermeerder nie, en as ons in oorlog geraak, hulle ook nie by ons vyande aansluit en teen ons veg en uit die land optrek nie. 11 Daar is toe opsigters van dwangarbeid oor hulle aangestel om hulle met harde arbeid te verdruk. En hulle het vir Farao die voorraadstede Pitom en Raämses gebou. 12 Maar hoe meer hulle verdruk is, hoe meer het hulle vermenigvuldig en hulle uitgebrei, sodat hulle bang geword het vir die kinders van Israel. 13 Daarom het die Egiptenaars die kinders van Israel met hardheid laat dien 14 en hulle lewe verbitter deur swaar werk met klei en bakstene en deur allerhande werk in die landerye — al dié werk wat hulle met hardheid deur hulle laat verrig het.”

Ter afsluiting: So eindig die Dispensasie van Belofte weereens in mislukking en God se oordeel. Deur al die menslike mislukkings van die stamvaders van Israel het God Sy getrouheid gedemonstreer, en dit duidelik gemaak dat Hy nooit Sy uitverkore volk sal verlaat nie, al beteken dit dat Hy hulle soms vir hulle sondes sal moet straf bly hulle egter nog Sy volk en Hy sal Sy beloftes wat Hy aan hulle gemaak het in vervulling laat gaan.
God het Israel se hulpgeroep gehoor en hulle uit slawerny uit verlos en maak sewe beloftes aan hulle: (Ex.3-14)
Ex.6:5 “Daarom, sê aan die kinders van Israel: Ek is die HERE, en Ek sal julle onder die harde arbeid van die Egiptenaars uitlei en julle red uit hulle slawerny, (1) en Ek sal julle verlos deur ‘n uitgestrekte arm en deur groot strafgerigte; (2)6 en Ek sal julle as my volk aanneem (3) en vir julle ‘n God wees. (4) En julle sal erken dat Ek die HERE julle God is wat julle uitlei onder die harde arbeid van die Egiptenaars uit. (5) 7 En Ek sal julle bring in die land waaromtrent Ek my hand opgehef het, om dit aan Abraham, aan Isak en aan Jakob te gee; (6) en Ek sal dit aan julle as ‘n besitting gee, Ek, die HERE.”
Al die beloftes wat God aan Israel gemaak het, en wat nog nie in vervulling gegaan het nie, sal na afloop van Sy wederkoms en die aanbreek van die Dispensasie van die Koninkryk volkome in vervulling gaan.

Alhoewel die Dispensasie van Belofte direk aan Israel as volk gemaak is , bly dit egter ‘n feit dat daar ook vir gelowiges wat tydens die Dispensasie van Genade/Kerk leef lesse is wat ons kan leer. Nie alles in die Skrifte is direk aan ons wie tydens die Kerk Dispensasie leef gerig nie, maar dit is wel vir ons geskryf, naamlik:
1Kor.10:6 “En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, (gelowiges wie tydens die Kerk Dispensasie leef) dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle (Israel se ongeloof tydens die uittog uit Egipte en die tydperk in die woestyn) begerig was nie.”
Wanneer ons God se beloftes bevraagteken doen ons dit altyd tot ons eie nadeel. Dit is onmoontlik om God te behaag indien ons nie geloof het nie.
Hebr.11:6 “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.”
Indien ons soms moeilike omstandighede beleef, en nog steeds binne die raamwerk van God se wil bly leef, en op Hom vertrou, kan ons verseker weet dat Hy ons vir ons geloof sal beloon. Dit is wanneer ons van hierdie feit vergeet, en ons eie planne beraam wanneer ons werklike smarte oor onsself bring. Ook in hierdie opsig het die Here Jesus Christus tydens Sy eerste koms vir ons ‘n perfekte voorbeeld nagelaat om te volg. Toe Hy deur die Heilige Gees die woestyn ingelei was, het Hy volkome op Sy Vader staangemaak en nie Sy eie planne gemaak nie. Hy was tot die uiterste versoek en het as God die vermoeë beskik om Homself te help, maar Hy het eerder verkies om op Sy Vader staat te maak met die wete dat God die Vader Hom nooit in die steek sou laat nie. (Matt.4:1-12) Ook ons sal met tye in die woestyn gelei word om sodoende ons geloof in God te ontwikkel. In tye soos hierdie moet ons in geloof op ons hemelse Vader vertrou, Hy sal ons nooit in die steek laat nie.
1Pet.1:6 “Daarin verheug julle jul, al word julle nou — as dit nodig is — ‘n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, 7 sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring (die wegraping)van Jesus Christus;”

Ons sien weereens dat die Dispensasie van Belofte met God se seën begin, wat deur verdere voortgesette Goddelike openbaring gevolg word. Net soos al die vorige dispensasies merk ons dat ook die Dispensasie van Belofte met ‘n Godgegewe toets vergesel is, en wat deur die mens se mislukking gevolg word en wat tot God se oordeel aanleiding gee. (Hierdie patroon van gebeure vind in al die dispensasies van die mens se geskiedenis op aarde.) Die volgende dispensasie wat ons gaan bestudeer is die Dispensasie van die Wet. Onthou al bly ons nie altyd getrou aan die Here nie, bly Hy egter altyd getrou aan Sy beloftes aan ons. Wanneer ons egter getrou aan Hom bly en binne die raamwerk van Sy wil vir ons optree sal ons loon soveel groter wees en sal ons as een van die geloofshelde bekendheid verwerf. (sien Hebr.11)

Seën Groete!

Vic

Deel met ander asb.