Dispensasie van die Kerk

Die Dispensasie van die Kerk. Deel een

Met hierdie artikel gaan ons die Dispensasie van die Kerk, ook bekend as die Dispensasie van Genade bestudeer. Die ander sewe dispensasies is die Dispensasie van Onskuld, die Dispensasie van Menslike Gewete, die Dispensasie van Menslike Owerheid, die Dispensasie van Belofte, die Dispensasie van die Wet, die Dispensasie van die Kerk/Genade en laastens die Dispensasie van die Koninkryk wat die ewigheid sal inlei. Die leser word ten sterkste aangeraai om die illustrasies “Die Sewe Dispensasies” asook “God se verbonde met Israel” te bestudeer. Met die bestudering van die vorige dispensasies het ons gemerk hoe God d.m.v. progressiewe openbaring die institusies van die huwelik, familie, menslike owerheid, asook onafhanklike nasiestate (nasionalisme) daar gestel het. Met die aanbreek van die Dispensasie van die Kerk/genade sal ons opmerk dat God ‘n verdere instansie wat nooit tevore bestaan het nie bekendmaak, naamlik die Kerk, wat uit alle gelowiges wat die evangelie van God se genade geglo het bestaan. Die Kerk het op pinksterdag haar ontstaan gehad en sal met die wegraping afgesluit word. Die Kerk het dus nooit in die Ou Testament bestaan, en is boonop nie in die Ou Testament bekend gemaak nie, en om hierdie rede word na die kerk as ‘n verborgenheid verwys. Die Kerk het dus nie in die Ou Testament bestaan soos wat baie teoloë verkeerdelik beweer nie. Diegene wat dit nie alreeds gedoen het nie word versoek om die artikel “Die drie fases van verlossing” te lees.

Feite aangaande die genade van God:

1. Die Griekse woord “charis” wat in Afrikaans as genade oorvertaal is, verwys hoofsaaklik na God se onverdiende genade of seëninge t.o.v. ons en tweedens na ‘n houding/ingesteldheid van dankbaarheid vir al God se seëninge aan ons.

2. God het nog altyd met die mens op grond van Sy genade gehandel:
In al die dispensasies het God nog altyd met die mens op grond van Sy genade gehandel, anders sou geen persoon gered en voor Hom as geregtig verklaar kon word nie.
Gen.6:8 “Maar Noag het genade gevind in die oë van die HERE”
(Sien ook Ex.33:12; Esra 9:8; Ps.84:11; Jer.31:2)
Met die aanbreek van die Dispensasie van Genade/Kerk beteken dit nie dat God nooit vantevore met mense op grond van Sy genade opgetree het nie. Hy het nog altyd met die mens op grond van Sy genade gehandel. Joh.1:14 “En die Woord (die Here Jesus Christus) het vlees (mens) geword en het onder ons gewoon — en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom — vol van genade en waarheid. 15 Johannes getuig van Hom en roep en sê: Dit was Hy van wie ek gesê het: Hy wat ná my kom, het voor my geword, want Hy was eerder as ek. 16 En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade. 17 Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.”
Met die Here Jesus Christus se koms aarde toe het Hy die feit dat God met die mens in terme van Sy genade handel nog duideliker bekend gemaak. Let op die term “genade op genade” wat beteken dat God se genade op ‘n uitgebreide formaat nou aan die mens bekendgemaak word. Onthou, die Wet van Moses was nooit gegee as ‘n weg om die ewige lewe te kon ontvang nie, maar was slegs ‘n lewensreël waaronder Israel as volk moes funksioneer. Tydens die Dispensasie van Genade funksioneer God se genade as ‘n lewensreël vir die Kerk, op grond van die feit dat heiligmaking nou op grond van God se genade d.m.v. die instaatstellende krag van die Heilige Gees in, en deur die gelowige bewerkstellig word en nie die Wet van Moses nie.

3. In die Dispensasie van die Kerk is God se genade:
a. Die grondslag van ons regverdiging (Rom.3:23-28).
b. Die basis van die ewige sekuriteit van die gelowige (Rom.5:1-2, 6-10). Die leser word aangeraai om die artikel “Ewige sekuriteit van die gelowige” te lees.
c. Die rede vir ons posisionele stand in Christus. (Rom.5:20-6:10).
d. Die wyse waarop praktiese heiligmaking (fase twee van ons verlossing) na aanvanklike wedergeboorte (fase een van ons verlossing) in ons lewens bewerkstellig word. (die Leser word aangeraai om die reeks artikels “Heiligmaking op grond van God se genade deur geloof” te lees.)
d. Die grondslag van effektiewe diens. (1Kor.15:10)
e. Die motiverende motief vir die gee van finansiële bydraes. (2Kor.8-9)

God gee nuwe openbarings inligting:

a. Christus gee nuwe openbarings inligting aangaande die kerk:

Tydens die gesprek in die bokamer, wat ook as die boonste kamer diskoers bekendstaan, het die Here in antisipasie van Sy dood, en opstanding vanuit die dood, nuwe openbarings inligting aangaande die kerk aan die apostels gegee. Ons vind hierdie inligting in Johannes hoofstukke dertien tot sewentien. Die leser word aangeraai om self hierdie hoofstukke te lees. In kort voorspel die Here Jesus Christus weer Sy dood en opstanding vanuit die dood. Die feit dat Hy na die hemel gaan opvaar en waarna die Vader die Heilige Gees na die gelowiges sou stuur. (Joh.14:26) Alle gelowiges sou ‘n nuwe voorreg in gebed geniet (Joh.14:13-14) Hulle gaan Sy getuies op aarde wees, en omrede hulle Hom liefhet sal die wêreld hulle haat en daarom sal hulle lyding beleef. (Joh.16:33) Ook in hierdie gesprek maak Christus vir die eerste keer van ons posisionele posisie in Hom bekend, naamlik Hy in ons, en ons in Hom, asook die wyse waardeur ons gemeenskap met Hom geniet, naamlik die bevel om in Hom te bly. (Joh.13:10; 15:1-8) Die gesprek in die bovertrek kan dus as die kern van die Kerk se leerstellings beskou word, omrede ons in hierdie gesprek in kernvorm die belangrikste leerstellings vir die kerk dispensasie aantref en waarop die apostels verder in die briewe sou uitbrei. Dus verwys die gebooie waarna die Here in hierdie gesprek verwys nie na die Wet van Moses nie, maar eerder na die Wet van Christus, insluitende die gebod om mekaar so lief te hê soos wat Hy ons het, ‘n baie hoër standaard as die gebod om ons naaste so lief soos onsself te hê (soos wat dit in die Wet van Moses gevind word. Joh 13:34-35) In Johannes 14:1-3 vind ons die eerste verwysing na die wegraping in die Skrifte. In Joh.16:7-14 vind ons vir die eerste keer die leerstelling van die gawes van die Gees, wat die Heilige Gees aan individuele lede van die kerk sou uitdeel soos wat Hy wou. In Joh.17 vind ons die konsep van die eenheid van gelowiges, waarvan die evangelie van God se genade die grondslag vorm. Die Here Jesus Christus het met die gesprek in die bovertrek dus die leerstellings wat vir die Kerk sou geld aan die dissipels bekendgemaak omrede die aanbreek van die Kerk Dispensasie op hande was.

b. God gee verdere openbarings inligting d.m.v. die apostels en Nuwe Testamentiese profete:

Ef.3:1 “Om hierdie rede is ek, Paulus, die gevangene van Christus Jesus vir julle wat heidene is — 2 as julle ten minste gehoor het van die bediening van die genade van God wat aan my verleen is vir julle, 3 dat Hy aan my deur ‘n openbaring bekend gemaak het die verborgenheid, (openbarings inligting wat nie voorheen bekendgemaak is nie) soos ek tevore kortliks geskryf het; 4 waardeur julle, as julle dit lees, my insig in die verborgenheid van Christus kan verstaan, 5 wat in ander tye aan die mensekinders nie bekend gemaak is nie soos dit nou aan sy heilige apostels en (nuwe Testamentiese Profete, let op die term “nou”) profete geopenbaar is deur die Gees…”

c. Die nuwe openbarings inligting staan as die verborgenheid van Christus bekend:

Let op die term “ verborgenheid van Christus” soos in bogenoemde teksgedeelte gevind. In kort beteken die term “verborgenheid” ‘n geopenbaarde waarheid wat in die Nuwe Testament gegee is en wat tydens die Ou Testament verberg was. In die Ou Testament kon nie-Jode gered word, maar dit was nooit bekend dat daar ‘n nuwe entiteit, naamlik die Kerk sou ontstaan waarin heiden sowel as Jood op gelyke terme in Christus verenig sou wees nie.
Ef.2:13 “Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. 14 Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het 15 deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep 16 en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het.”
Die Kerk was dus nooit in die Ou Testament bekendgemaak nie en was dus ‘n verborgenheid.
Ef.3:8 “Aan my, die geringste van al die heiliges, is hierdie genade gegee om onder die heidene die evangelie van die onnaspeurlike rykdom van Christus te verkondig, 9 en vir almal aan die lig te bring wat die gemeenskap is van die verborgenheid wat van alle eeue af verborge was in God wat alles geskape het deur Jesus Christus, 10 sodat nou deur die gemeente aan die owerhede en magte in die hemele die menigvuldige wysheid van God bekend gemaak kan word,”

d. Die nuwe openbaring sluit die geestelike eenheid en seëninge van gelowige Jode sowel as gelowige heidene in een liggaam, naamlik die universele kerk in:

Ef.3:6 “dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie”
Mens sal nooit die term “in Christus” in die Ou Testament vind nie, omrede ‘n persoon slegs na afloop van pinksterdag, toe die Heilige Gees uitgestort is, met wedergeboorte in Christus deur die Gees geplaas/ingedoop word. Dit is belangrik om te onthou dat God een program vir Israel, onder die Wet van Moses gehad het, en ‘n ander plan vir die Kerk het wat onder die Wet van Christus is.

e. Die nuwe openbarings inligting sluit die onnaspeurlike rykdom van Christus is:

Ef.3:7 “waarvan ek ‘n dienaar geword het, volgens die gawe van die genade van God wat aan my gegee is ooreenkomstig die werking van sy krag. 8 Aan my, die geringste van al die heiliges, is hierdie genade gegee om onder die heidene die evangelie van die onnaspeurlike rykdom van Christus te verkondig,”
Die term “ onnaspeurlike rykdom van Christus” sluit die volgende feite in, naamlik: Ons in Christus en Christus in ons, en ons is met alle geestelike seëninge in Christus geseën. (Ef.1:3) Ons het die volheid in Christus en dus is ons volkome in Hom. (Kol.2:10)

f. Die onderskeid tussen die Dispensasie van die Wet en die Dispensasie van die Kerk/genade:

Dit wat God tydens die Dispensasie van die Wet vereis het dit het Hy met die aanbreek van die Dispensasie van Genade/Kerk verskaf. Dit is ook ‘n tragedie dat die moderne Judaïsering van die kerk ongekende skade aan die kerk berokken het. In stede daarvan om haar hemelse roeping na te streef, het groot gedeeltes van die kerk Joodse teksgedeeltes gebruik om haar aardse gesindheid te regverdig. Die afdwing van kerklike rituele, die oprigting van majestueuse kerkgeboue, die strewe na rykdom en die skeiding van die kerk in geestelikes (wat die priesterdom verteenwoordig) en leke (wat die algemene lidmate verteenwoordig), nieteenstaande die feit dat die Nuwe Testament dit duidelik maak dat alle gelowiges priesters is, en dat die kerk nie uit ‘n gebou bestaan nie maar uit elke wedergebore gelowige. Daar is groot verskille tussen die Dispensasie van die Wet en die Dispensasie van die Kerk/Genade. Indien hierdie verskille nie onderskei word nie gee dit tot erge teologiese verwarring aanleiding, en gee daartoe aanleiding dat die juk van die Wet van Moses weer op die nekke van die Kerk afgedwing word. (Wat niks anders as ‘n moderne vorm van Fariseïsme is nie) Vervolgens net ‘n paar verskille, naamlik:

a1. Tydens die Dispensasie van die Wet het Israel oor ‘n tempel beskik wat deur mens hande gebou is, en was dus ‘n gebou met spesifieke dimensies. (2Sam.7:13) Onder die Dispensasie van die Kerk is die liggaam van die gelowige die tempel van God, en die tempel van God is nie huidiglik in ‘n gebou te vinde nie. (1Kor.6:19-20) Boonop bestaan die kerk uit alle wedergebore gelowiges as geheel en nie uit ‘n gebou nie. (1Kor.3:16)

a2. Onder die Dispensasie van die Wet kon slegs Aäron se seuns as priesters kwalifiseer. (Lev.8) Tydens die Dispensasie van die Kerk is die Here Jesus Christus ons Hoë Priester (Hebr.7:7-28), en elke individuele gelowige ‘n priester. (1Pet.2:5)

a3. Tydens die Dispensasie van die Wet was daar voortdurende offers gemaak. (Lev.1-7) Tydens die Dispensasie van die Kerk word daar geen verdere offers gemaak nie, omrede die Here Jesus Christus ons eenmalige offer was. (Heb.10:10-18)

a4. Tydens die Dispensasie van die Wet was sabbatdae en die onderhouding daarvan vereis. (Ex.20:8; Lev.23; Num.28) Tydens die Dispensasie van die Kerk/genade is daar geen spesifieke sabbatdae wat eerbiedig hoef te word nie. (Kol.2:16-17; Gal.4:8-10; Heb.4:9)

a5. Tydens die Dispensasie van die Wet mag slegs sekere kossoorte geëet word. (Lev.11) Tydens die Dispensasie van die Kerk/genade kan enige voedsel met danksegging genuttig word. (1Tom.4:1-5) En ja, dit sluit varkspek in!!

a6. Tydens die Dispensasie van die Wet was daar onderskeiding tussen Jode en nie-Jode gemaak. Tydens die dispensasie van die Kerk/genade is alle mense een in Christus. (Gal.3:28; Ef.2:13-16)

a7. Tydens die Dispensasie van die Wet, moes alle Joodse mans besny word. (Lev.12:3) Tydens die Dispensasie van die Kerk/Genade word alle gelowiges, met wedergeboorte in hulle harte besny met ‘n besnydenis wat nie met mense hande verrig word nie. (Kol.2:11-12)

a8. Tydens die Dispensasie van die Wet, het die voorhangsel wat in die tempel gehang het, as indikasie gedien van die skeiding wat ons sondes tussen ons en God veroorsaak het. ( Heb.9:2-3) Toe Christus aan die kruis gesterwe het is die voorhangsel deur God van bo na onder geskeur, wat as indikasie dien dat die probleem van ons sonde wat ons van God geskei het met Christus se kruisdood uit die weg geruim is. (Matt.27:51.) Ongelukkig is daar baie mense wat die Wet van Moses gebruik in ‘n poging om die voorhangsel van onder na bo deur mense hande toe te werk. Die verkondiging van enige werke evangelie is ‘n direkte poging om dit wat Christus aan die kruis bewerkstellig het ongedaan te maak. Dit is niks anders as satanies nie!

Ter Afsluiting: Ek gaan vir eers hierdie deel van die studie hier afsluit. In deel twee van hierdie studie sal ons opmerk hoe selfs die Kerk Dispensasie grootliks in mislukking gaan eindig. Ons moet egter nie die fout begaan om die Kerk met die volk Israel te verwar nie. Die twee entiteite is heeltemal apart in God se raadsplan. Wanneer elemente van die Dispensasie van die Wet met die Dispensasie van Genade/Kerk vermeng word, veroorsaak dit verwarrende leerstellings wat tot verdere dwaalleer aanleiding sal gee. Die Rooms-Katolieke Kerk, Hebreeuse Wortels Beweging, Sewedaagse Adventiste en selfs baie protestante kerke begaan hierdie fout. Daarom is dit belangrik dat die skrifte op ‘n konsekwente, letterlike, grammatiese en historiese wyse geïnterpreteer word om sodoende vas te stel wat die Here aan ons wil sê en nie ons vooropgestelde teologiese idees in die Bybel in te lees nie.

Seën Groete!

Vic

Deel met ander asb.