Sewe Despensasies 2

Die Dispensasies ‘n Skriftuurlike perspektief

In hierdie reeks artikels gaan ons die dispensasies, soos in die Bybel gevind, van nader bekyk, wat baie onnodiglike verwarring tydens Bybelstudie vir die leser sal verwyder. Paulus vermaan ons ten sterkste om die Skrifte reg te sny, omrede dit wat ons glo ons optrede vorentoe gaan bepaal. Wanneer ‘n persoon aan dwaaleerstelling blootgestel word, en dit glo, sal daardie leerstellings ook noodwendig sy daaropeenvolgende optredes beïnvloed, wat weer ewigdurende implikasies vir die persoon en sy medemens inhou. Om hierdie rede is dit van uiterste belang dat ons die Skrifte korrek uitlê en verstaan.
2Tim2:15 “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.”
God gaan ons op hierdie spesifieke punt oordeel! Die Bybel moet op ‘n konsekwente, normaal letterlike, grammatiese, historiese en kontekstuele wyse geïnterpreteer word, wat logies tot die leer van Dispensasionalisme aanleiding gee. Wanneer mense van vergeesteliking/allegorie van die skrifte gebruik maak gee dit tot dwaaleerstelling aanleiding. Dit is net vanselfsprekend dat dieselfde metode wat gebruik word om die Ou Testament te interpreteer, ook vir die interpretasie van die Nuwe-Testament geld. Indien ‘n persoon nie die dispensasies in die Bybel verstaan nie, dan sal daardie persoon nie die Bybel korrek kan verstaan nie, wat logies weer tot verdraaide leerstellings aanleiding sal gee. In hierdie reeks artikels gaan ons die sewe dispensasies, soos wat ons dit in die Skrifte vind, afsonderlik bestudeer en bespreek. Voor dat ons met hierdie artikel begin is dit uiters belangrik dat die leser die illustrasie “Die Sewe Dispensasies” bestudeer.

Dit is belangrik om te onthou dat God altyd die verskillende groepe, naamlik die heidene, die Jode, die volk Israel en laastens die Kerk se identiteit van mekaar skei. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Het die Kerk Israel as God se verbondsvolk vervang” te lees. Die heiden nasies bly die heiden nasies, Israel as volk bly Israel as volk, en so ook bly die Kerk die Kerk en die volk Israel het nie skielik die Kerk geword nie. Die Kerk en Israel is twee verskillende entiteite wat elkeen ‘n rol in God se plan van die eeue het. Suid Afrikaners bly Suid Afrikaners wanneer hulle deel van die Kerk word, en gee nie hulle kulturele identiteit of burgerskap prys indien hulle deel van die Kerk word nie. God sien die verskillende mensegroepe as die Heidene (wat Afrikaners insluit), Israel as Sy verbondsvolk en laastens die Kerk wat uit gelowige Israeliete sowel as gelowige mense vanuit die heiden nasies bestaan. (wat as die bruid van Christus bekendstaan)

Omskrywing van ‘n Dispensasie:
Etimologies is “dispensasie” van die Griekse woord (oikonomia) afgelei wat letterlik “Huis wet, regeer of administrasie” beteken. Die sentrale idee van ‘n dispensasie is die bestuur, of administrasie van sake binne ‘n spesifieke huishouding wat dus op niks anders as ‘n rentmeesterskap neerkom nie. Dus kan met sekerheid gestel word, dat ‘n dispensasie ‘n spesifieke wyse is waarop God Sy heerskappy oor die wêreld administreer, terwyl Hy progressief Sy doel vir die wêreld uitwerk.

‘n Dispensasie kan ook as ‘n Godgegewe periode omskryf word, waartydens God aan die mens ‘n openbaring gee, en waardeur Hy die mens vir sy gehoorsaamheid aan die spesifieke openbaring aangaande God se wil toets. Indien mens enige dispensasie ontleed, blyk dit duidelik dat ‘n dispensasie oor ‘n aantal spesifieke konsepte bestaan naamlik:

  • Vir rentmeesterskap om werklik ‘n rentmeesterskap te wees, moet daar twee partye betrokke wees. Die een party moet die nodige gesag besit om opdragte uit te deel, en ‘n ander party wat verantwoordelik is om daardie opdragte na te kom en uit te voer.
  • God gee aan die mens ‘n spesifieke stel openbarings, in die vorm van ‘n spesifieke stel lewensreëls en verantwoordelikhede, wat God se wil vir die mens se optrede tydens daardie spesifieke dispensasie bekendmaak. Sodra die Here ‘n openbaring aan alle mense, of slegs ‘n beperkte groep, soos byvoorbeeld die volk Israel gegee het, is die onus op die mens om God se openbaring tot dusver gegee as getroue rentmeesters daarvan te gehoorsaam. (Hierdie openbarings van God en die daaropvolgende vereistes om gehoorsaamheid moet dus as ‘n rentmeesterskap van geloof eerbiedig word.) Die mens, as rentmeester van hierdie spesifieke openbarings, is aan God verantwoordelik om Sy opdragte soos daarin gevind te gehoorsaam en moet aan God verantwoording doen.
  • Hierdie Godgegewe openbaring/opdragte word in die raamwerk van ‘n waarneembare periode van tyd, wat ook in die Skrifte as ‘n “eeu” (nie noodwendig ‘n eeu soos wat ons dit ken nie, maar eerder ‘n spesifieke bedeling of era wat baie langer as ‘n eeu kan voortduur) beskryf word, aan die mens as lewensreël opgedra en waarvoor die mens deur God aan die gehoorsaamheid daarvan getoets word.
  • Gedurende die spesifieke dispensasie/administrasie mag daar ten eniger tyd ‘n verandering in die inhoud, asook die persone betrokke gemaak word, indien daar ontrouheid by die mens of spesifieke groep/volk bespeur word, wat dus logies na ‘n verandering van die dispensasie/rentmeesterskap aanleiding sal gee.
  • Elke dispensasie begin met God se seëninge en eindig in God se oordeel.
  • Tydens elke dispensasie is daar ‘n heersende beginsel. Die betrokke dispensasie word gewoonlik na hierdie beginsel vernoem. Dus is daar ‘n nuwe kode of reël waarvolgens die mens moet leef. Hierdie heersende beginsel kan volkome, of slegs gedeeltelik na ‘n nuwe dispensasie oorgedra word wat dus as reël geldig bly. Menslike goewerment geld byvoorbeeld as beginsel vir alle latere dispensasies, maar dit was oorspronklik in die Dispensasie van Menslike Owerheid, deur God as institusie in die boek Genesis ingestel. (wat een van die vroeëre dispensasies is.) Daar is egter ook sekere beginsels/reëls wat nie na die nuwe dispensasie oorgedra word nie. Derhalwe is die geredde persone wat tydens die huidige dispensasie, naamlik die Dispensasie van Genade/Kerk leef, nie onder die Wet van Moses as ‘n spesifieke toets van gehoorsaamheid aan God se openbaring nie.
    Rom. 6:14 “Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade.
    Gal.5:18 “Maar as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie onder die wet nie.
    Gal.2:16 terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.
    Gal.3:11 En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe.”
  • Alhoewel die Goddelike openbaring op ‘n progressiewe gekonnekteerde wyse, met verloop van tyd ontvou, beteken geensins dat die openbarings van die vorige bedelings/dispensasies noodwendig verwerp word nie, omrede alle vorige openbarings in een sin kumulatief van aard is. Dus is die gewete (wat morele verantwoordelikheid insluit) ‘n blywende beginsel in die mensdom se alledaagse bestaan, al duur dit nie as ‘n spesifieke dispensasie voort nie.
    Rom.2:14 “Want wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself ‘n wet, al het hulle geen wet nie; 15 omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig,”
    Tog bly die wet ‘n integrale deel van die Heilige Skrif, wat vir gelowiges van alle dispensasies nuttig is vir “onderrig in geregtigheid”
    2.Tim.3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
    Rom.15:4 Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.”
    Onthou, God se openbarings word soms aan die hele mensdom gemaak, en op ander geleenthede slegs tot sekere spesifieke groep mense beperk, soos byvoorbeeld Israel. ‘n Mooi voorbeeld hiervan is, die feit dat die Wet van Moses slegs aan Israel as volk gegee is, en nie aan die heiden nasies as geheel nie.
  • Daar is ‘n bepaalde nuwe openbaring waarop die mensdom moet reageer. Die Bybel is nie in een sitting deur God laat skryf nie, maar is eerder oor die verloop van tyd progressief geopenbaar. (Progressiewe openbaring) Met die aanbreek van elke nuwe dispensasie is daar nuwe openbarings en verantwoordelikhede wat die Here aan die mens gee en wat die mens moet nakom omrede daar ‘n nuwe heersende element is.

‘n Paar feit om op te let:

‘n Uiterste belangrike beginsel om te verstaan is dat die hele Bybel vir ons geskryf is, maar dit beteken nie dat die hele Bybel in alle gevalle direk aan ons gerig is nie:

Ons moet dus versigtig wees om nie boodskappe wat aan ‘n ander persoon of groep (wat tydens ‘n ander dispensasie as ons gelewe het) gerig is op onsself van toepassing te wil maak.
2Tim.3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,”
‘n Mooi voorbeeld hiervan is dat ons nie meer diereoffers aan God bring, en mense wat egbreuk pleeg stenig nie. Die rede hiervoor is eenvoudig, naamlik dat die hele Bybel vir ons geskryf is, maar dit beteken nie dat die hele Bybel in alle gevalle direk aan ons gerig is nie.
Rom.15:4 “4 “Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, (soos byvoorbeeld die Ou Testament) sodat ons (wie tydens die Dispensasie van die Kerk/genade leef)deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.”
1Kor.10:1 “Want ek wil nie hê, broeders,
(alle gelowiges wat tydens die Kerk dispensasie leef wat die heiden nasies insluit) dat julle (Nuwe Testamentiese gelowiges, wie almal deel van die Kerk is en nie noodwendig deel van Israel as volk is nie)nie sou weet nie dat ons vaders (Ou Testamentiese gelowiges)almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, 2 en almal in Moses gedoop (geïdentifiseer is)is in die wolk en in die see, 3 en almal dieselfde geestelike spys geëet het, 4 en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus. 5 Maar God het in die meeste van hulle (Ou Testamentiese Israeliete wat geredde persone ingesluit het) geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn. (hulle is a.g.v. hulle sondes gestraf, maar hulle is nie noodwendig verlore nie) 6 En hierdie dinge (wat met die Ou Testamentiese verbondsvolk, naamlik die Israeliete gebeur het) was voorbeelde vir ons, (Nuwe Testamentiese gelowiges, wie tydens die huidige Kerk Dispensasie leef)dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie. 7 En wees ook nie afgodedienaars soos sommige van hulle was nie, soos geskrywe is: Die volk (Israel) het gaan sit om te eet en te drink en het en het opgestaan om te speel. 8 En laat ons (Nuwe Testamentiese gelowiges, naamlik die ware Kerk) nie hoereer soos sommige van hulle (Ou-Testamentiese Israeliete) gehoereer het nie, en daar het op een dag drie en twintig duisend geval. 9 En laat ons (Nuwe Testamentiese gelowiges/Kerk) Christus nie versoek soos ook sommige van hulle (Israeliete)gedoen het nie, en hulle het deur die slange omgekom. 10 En moenie murmureer soos ook sommige van hulle (Israeliete) gemurmureer het nie, en hulle het deur die verderwer omgekom. 11 Maar al hierdie dinge het hulle (Ou Testamentiese Israel)oorgekom as voorbeelde (aan ons die Kerk, wat eers op Pinksterdag tot stand gekom het)en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.”
Die hele Bybel is “vir” ons geskryf, maar dit beteken nie dat die hele Bybel in alle gevalle “direk” aan ons gerig is nie, omrede ons nie Jode onder die Ou Testamentiese Wet/Dispensasie is nie, maar daar is egter sekere lesse wat ons vanuit die gebeure wat hulle tydens die Ou Testament beleef het by hulle kan leer. Ons bevind ons in die Dispensasie van Genade/Kerk en nie in die Dispensasie van die Wet nie, waar die doodstraf wel vir diesulke sondes voorgeskryf word. Ons is die Kerk en is nie onder die wet nie maar onder die genade. Daar is egter lesse wat ons uit Israel se geskiedenis kan leer en op onsself toepas.

Nog ‘n voorbeeld:
Lev.20:10 “En as iemand owerspel doen met ‘n man se vrou, owerspel doen met sy naaste se vrou, moet hy en sy wat owerspel doen, sekerlik gedood word. 11 En as ‘n man met sy vader se vrou gemeenskap het, het hy die skaamte van sy vader ontbloot. Hulle altwee moet sekerlik gedood word. Hulle bloedskuld is op hulle. 12 En as ‘n man met sy skoondogter gemeenskap het, moet hulle altwee sekerlik gedood word. Hulle het ‘n gruwelike vermenging bewerk. Hulle bloedskuld is op hulle. 13 En as ‘n man met ‘n manspersoon gemeenskap het soos ‘n mens met ‘n vrou het, het hulle altwee iets gruweliks gedoen. Hulle moet sekerlik gedood word. Hulle bloedskuld is op hulle.14 En as ‘n man ‘n vrou en haar moeder neem, is dit ‘n skandelike daad; hulle moet hom en dié twee met vuur verbrand: daar mag geen bloedskande onder julle wees nie.”
Tydens die Dispensasie van die Kerk/Genade dood ons nie meer mense indien hulle bogenoemde sondes pleeg nie.
1Ko.6:8 “Maar julle doen onreg en pleeg roof, en dit aan broeders. (medegelowiges) 9 Of weet julle nie dat die onregverdiges (ongelowiges wie nie deur geloof in Christus Sy toegerekende geregtigheid ontvang het nie) die koninkryk van God nie sal beërwe nie? 10 Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. (die hele ongelowige mensdom behalwe mense wat die Evangelie geglo het val in hierdie kategorie) 11 En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, (Fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte a.g.v. die glo van die Evangelie) maar julle is (alreeds a.g.v. van die glo van die Evangelie) geheilig, maar julle is geregverdig (fase een van ons verlossing, naamlik wedergebore wat slegs eenmaal op ‘n gegewe punt in tyd plaasvind) in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees (Wie die oomblik van geloof in die Evangelie permanent in ons kom woon het) van onse God.” (sien ook Ef.1:13)

Omrede gelowiges die ontvangers van God se genade is, behoort ons liefde vir Hom ons aan te spoor om vir Christus te lewe, en hierdie feit behoort as hoof motivering te dien om nie te sondig nie. (Joh.14:15) So ook behoort ons liefde vir Christus, ons te motiveer om goeie dade aan ons medemens te verrig (Rom.13:8), en sodoende sal ons God se dissipline vermy (Heb.12:6) en nie soos Joodse gelowiges van ouds in hierdie lewe getug word nie. (Tydelike tugtiging nie ewige verderf nie, God gooi nie Sy kinders weg nie maar tugtig hulle soos wat enige goeie aardse pa sal doen.)

Indien ‘n persoon die verskillende Dispensasies met mekaar verwar gee dit aanleiding dat mense dink dat die Bybel homself weerspreek, iets wat nie kan gebeur nie. Die bostaande twee teksgedeeltes het betrekking op twee verskillende dispensasies, naamlik die Dispensasie van die Wet, wat die doodstraf vir egbreuk vereis het, en die Dispensasie van die Kerk/Genade waar die doodstraf nie voorgeskryf word nie. Tydens die Dispensasie van die Wet het die Wet as die volk Israel se grondwet/konstitusie gegeld, omrede hulle God se verbondsvolk was. Derhalwe was alle burger, gered of ongered, vir die oortreding van die Wet van Moses gestraf en selfs gedood. Onthou, die man wat op die sabbatdag hout opgetel het. (Num.32-35) Hy is onder die wet gestenig. So ook kan God ons as gelowiges tydens die Kerk Dispensasie vir ons sondes straf, maar dit beteken nie dat ons verlore sal gaan nie. Huidiglik het daar dus ‘n dispensasionele verandering plaasgevind, en ons bevind ons in die Dispensasie van Genade/Kerk, en nie in die Dispensasie van eie Wet nie, waar die doodstraf wel vir diesulke sondes voorgeskryf was. Die sabbatdag onderhouding is nie aan gelowiges wat tydens die dispensasie van genade leef as reël oorgedra nie en geld nie vir ons nie.
Kol.2:16 “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie, 17 wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.”
Nege van die tien gebooie is wel na die Dispensasie van die Kerk oorgedra, maar hulle word in die terme van God se genade aan die gelowige voorgehou, en dus kan die Kerk nie die doodstraf vir daardie sondes opdra nie, want die Kerk is nie ‘n nasie met ‘n goewerment nie. Die Kerk is nie die staat/verbondsvolk Israel nie, en beskik nie oor die Godgegewe verpligting om die doodstraf op te lê nie. Die Kerk moet egter kerklike tug toepas maar dit sluit definitief nie die doodstraf in nie.

So ook is sekere kossoorte onder die Dispensasie van die Wet verbode (Lev.11:3, 7-8) maar dieselfde kossoorte kan vrylik deur gelowiges wat tydens die Dispensasie van die Kerk/genade leef geniet word, naamlik:
Kol.2:14-17 “En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, 14 en die skuldbrief (van die Wet) teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael, 15 nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het. 16 Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie, 17 wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.”

God het ‘n spesifieke plan vir die volk Israel, wie onder die Wet van Moses, of te wel Dispensasie van die Wet gelewe het. So ook het Hy ‘n spesifieke plan met die Kerk, wat gedurende die Dispensasie van die Kerk/Genade leef en wat ‘n heel ander entiteit as die volk Israel is. Wanneer die verskillende dispensasies met mekaar verwar word, gee dit tot verkeerde leerstelling aanleiding, soos om byvoorbeeld vereistes onder die Dispensasie van die Wet met die vereistes van die Dispensasie van Genade/Kerk te vermeng. Onthou, dat nie alle reëls/vereistes, soos in die onderskeie dispensasies gevind, in alle gevalle transdispensasioneel van aard is nie, en kan dus nie goedsmoeds van een dispensasie na ‘n ander dispensasie oorgedra word nie. Weereens geld die beginsel dat die hele Bybel vir ons geskryf is, maar dit beteken nie dat die hele Bybel in alle gevalle direk aan ons gerig is nie. Johannes Calvyn (een van die vaders van die Gereformeerde Kerke) het nie die dispensasie korrek van mekaar geskei nie, en daarom het hy mense laat dood wat sekere sondes gepleeg het. Ook die Rooms Katolieke kerk het miljoene mense gedood wat hulle valse godsdiensstelsel verwerp het. Baie van hierdie mense wat gedood is was ware gelowiges wat die Here as getroue dissipels gedien het. Ons moet dus die Bybel reg sny, en die onderskeid tussen Israel vs. die Kerk, asook wie Wet vs. Genade van mekaar onderskei anders gaan ons erge leerstellige foute begaan.

Die verskillende dispensasies verteenwoordig nie verskillende metodes om wedergebore/verlos te word nie:

Dit moet egter gelet word dat die verskillende dispensasies nie verskillende metodes van verlossing verteenwoordig nie. Tydens elke dispensasie word die mens op grond van God se genade deur geloof alleen, op grond van Christus se voltooide werk aan die kruis en opstanding vanuit die dood geregverdig. Voor Christus se kruisiging is ‘n persoon op grond van die vooruitsig van die Here Jesus Christus se soenoffer gered, omrede die persoon die openbaring wat God tot op daardie stadium aan die persoon/mensdom gegee het geglo het. Na afloop van die Here Jesus Christus se kruisiging word ‘n persoon gered wanneer hy geloof in Christus, wat Sy voltooide werk aan die kruis vir die mensdom insluit, glo. Die rede hiervoor is eenvoudig, in Christus word God se progressiewe openbaring en verlossing volkome voltrek.

Dispensasionalisme herken die feit dat die Skrifte deur God geïnspireer is:

En daarom is dit uiters belangrik dat die Bybel op ‘n konsekwente, normaal letterlike, grammatiese, historiese en kontekstuele wyse geïnterpreteer moet word, anders sal daar verwarring ontstaan wat selfs tot dwaaleerstelling aanleiding kan gee. Dieselfde beginsel geld vir wanneer ons, ons landswette interpreteer, omrede mens slegs tot die korrekte slotsom sal kom indien daar van die konsekwente, normaal letterlike, grammatiese, historiese en kontekstuele metode gebruik gemaak word wat noodwendig beeldspraak insluit. Die Bybel is vol voorbeelde van beeldspraak, net soos wat ons taal en grammatiese reëls vol voorbeelde van beeldspraak is en dit erken, soos byvoorbeeld: “Jan het die emmer geskop” Indien ‘n persoon hierdie stelling aan ons maak weet ons dat Jan nie werklik ‘n emmer geskop het nie, maar eerder dat hy tot sterwe gekom het. So ook vind mens voorbeelde van beeldspraak in die Skrifte, naamlik:
Joh.10:7 “Jesus het toe weer vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, Ek is die deur van die skape.”
Wanneer die Here na Homself as ‘n deur verwys, weet ons dat Hy nie beweer dat Hy ‘n letterlike deur is wat met hout gemaak is nie, maar dat Hy die enigste weg na die Vader is. Beeldspraak is dus deel van enige taal en val onder die grammatiese reëls van daardie taal.

Dispensasionalisme herken dus die verloop van die menslike geskiedenis in tyd, wat God se glorie manifesteer en daarom het dispensasionalisme ‘n positiewe uitkyk op die toekoms:

Met die wete dat God oor goddeloosheid sal triomfeer, en Sy koninkryk op aarde sal vestig, kan die gelowige ‘n positiewe uitkyk op die toekoms handhaaf al lyk dinge nou sleg. God se raadsplan vir die skepping, wat die eeue insluit, het as doel om Homself te verheerlik. Die mens se verlossing is slegs ‘n subkategorie van God se ewige raadsplan. God het nie slegs ‘n plan vir die mensdom nie, maar ook ‘n plan vir die heilige engele; ‘n plan vir die gevalle engele; ‘n plan vir die volk Israel; ‘n plan vir die Kerk, asook ‘n plan vir die aarde en hemele. (lewenslose skepping) Verbondsteologie, soos wat ons in meeste gereformeerde kerke aantref, kyk hierdie feit heeltemal mis en beperk God se doel slegs tot die mens se verlossing, wat indirek die mens die sentrale punt van God se raadsplan maak, en nie God se glorie nie. (Hulle sal nie met hierdie stelling saamstem nie, maar in die praktyk is dit juis wat hulle doen)
1Tim.1:17 “Aan die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen.”
God se glorie is die hoofdoel van die skepping se geskiedenis. Die mens se verlossing verheerlik die Here, maar God se raadsplan is baie meer as net die mens se verlossing. God se raadsplan het die hele skepping as doel waardeur Hy Homself sal verheerlik.

Dispensasionalisme erken die feit van progressiewe Bybelse openbaring:

Heb.1:1 “Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun 2 wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het.”
Vanuit die Bybel is dit duidelik opmerklik, dat soos wat die eeue verloop het, God toenemend meer openbarings aan die mensdom in die skrifte gemaak het. Die Ou Testamentiese gelowiges het byvoorbeeld nie al die ses en sestig boeke van die Bybel tot hulle beskikking gehad nie. God het nie in een sitting die hele Bybel aan ons gegee nie, maar het deur die verloop van die eeue die Bybel stelselmatig op skrif laat stel. ‘n Mooi illustrasie van hierdie feit vind ons in Joh.16:12, naamlik:
Joh.16:12 “Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê, maar julle kan dit nou nie dra nie. 13 Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig. 14 Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig. 15 Alles wat die Vader het, is myne; daarom het Ek gesê dat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.”

Dispensasionalisme herinner die gelowige daaraan dat hy tydens ‘n dispensasie van ongeëwenaarde geestelike seëninge leef:

Die rede hiervoor is dat die Skrifte dit duidelik maak dat gelowiges wat tydens die Dispensasie van Genade/Kerk leef “in Christus” is. Hierdie feit was nooit aan enige gelowige van die Ou Testament gemaak nie, maar is slegs vir gelowiges wat tydens die Dispensasie van die Kerk/genade leef.
Ef.1:3 “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons (gelowiges wat tydens die Dispensasie van die Kerk/Genade leef) geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus,”
Geen gelowige wat gedurende enige van die vorige dispensasies geleef het kon so ‘n stelling maak nie, behalwe ons wat tydens die Dispensasie van die Kerk/Genade leef. Ongelukkig weet die meeste gelowiges nie van hierdie feit nie, en geniet dus nie hulle seëning in Christus soos wat hulle behoort nie. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Voorbeelde van die seëninge en rykdom in Christus” te lees)

Ter Afsluiting: Nou dat ons die grondslag vir die verskillende dispensasies gelê het, sal ons in die hieropvolgende artikels afsonderlik die verskillende dispensasies bestudeer. En onthou: Elke dispensasie het dus as doelwit om die mens onder ‘n spesifieke stel gedragsreëls te plaas. Dit moet egter duidelik verstaan word, dat die spesifieke stel gedragsreëls (waar menslike werke vereis word) nie ‘n vereiste om verlossing/wedergeboorte is nie. Daarbenewens is dit ook ‘n feit dat die ongeredde/ongelowige mensdom in elke dispensasie gefaal het, en dit sluit die huidige dispensasie, naamlik die Dispensasie van Genade/Kerk in. Selfs in die komende dispensasie, naamlik die Dispensasie van die Koninkryk sal die ongelowige mensdom ook faal. Hierdie feit sal duidelik word soos wat ons met die reeks artikels vorder. Dit beteken nie dat daar geen hoop vir die ongelowige mensdom bestaan nie. Op grond van God se genade is, en sal, verlossing aan die ongeredde mensdom deur geloof beskikbaar wees.


Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.