Die Opstanding deel 2

Die opstanding en meegaande implikasies deel 2

In deel een van hierdie reeks artikels het ons gesien hoedat daar ‘n valse leerstelling die gemeente in Korinthe binnegedring het, wat beweer het dat daar geen liggaamlike opstanding vanuit die dood is nie. Ons het gemerk hoedat Paulus die onbetwisbare geskiedkundige feite aangaande Christus se dood en opstanding aan sy lesers voorgehou het. Indien die leser nog nie deel een van hierdie reeks artikels gelees het nie, word hy/sy sterk aangeraai om dit te doen omrede die inligting daarin weergegee met hierdie artikel inskakel. In Deel 2 van hierdie reeks artikels gaan ons na 1Kor.15:12-34 kyk en met behulp van Paulus demonstreer dat die Here Jesus Christus se opstanding direk met die Korintiërs (en dus alle gelowiges) se opstanding gekoppel is.

1Kor.15:12-19: “As dit dan gepreek word dat Christus uit die dode opgewek is, hoe sê sommige onder julle (sommiges in die gemeente in Korinthe) dat daar geen opstanding van die dode is nie? 13 As daar geen opstanding van die dode is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie. 14 En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof; 15 en dan word ons valse getuies van God bevind, omdat ons teen God getuig het dat Hy Christus opgewek het, wat Hy nie opgewek het nie, ten minste as die dode nie opgewek word nie. 16 Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie; 17 en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; 18 dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore. 19 As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense.”
Opmerking: Soos alreeds in die vorige artikel genoem is, het daar ‘n dwaalleerstelling die gemeente in Korinthe binnegedring wat die feit van ‘n liggaamlike opstanding ontken het. Paulus neem nou hierdie dwaalleerstelling op en volg dit tot sy logiese uitkoms. Sodoende wil hy demonstreer dat enige leerstelling wat die opstanding ontken ernstige implikasies vir die Christelike geloof en die Kerk as geheel inhou. Daar was blykbaar alreeds gelowiges in die gemeente wat vir hierdie dwaalleerstelling geval het, en daarom stel Paulus dit duidelik, dat as daar nie ‘n liggaamlike opstanding is nie, dan beweer hulle dat Christus ook nie uit die dood uit opgestaan nie, en hy wil hulle derhalwe van die ernstige implikasies van hierdie vorm van ongeloof waarsku.

  • Die eerste implikasie: Die leerstelling wat die opstanding ontken, ontneem die Evangelie wat Paulus hulle verkondig het, van een van sy belangrikste elemente, naamlik die Here Jesus Christus se opstanding vanuit die dood. Om so iets te doen, is om die Evangelie kragteloos te maak, om enige persoon van die gevolge van sy sondes te red/verlos. (dit sluit al drie die fases van ons verlossing in, naamlik wedergeboorte, heiligmaking asook die verheerliking.) Omrede die krag/waarde van ons geloof heeltemal in die voorwerp van ons geloof, naamlik die Here Jesus Christus, (wat Sy voltooide werk aan die kruis en opstanding vanuit die dood insluit.) gesetel is, en daardie Christus het nie uit die dood uit opgestaan, soos wat Hy herhaaldelik belowe het nie, en soos wat die Apostels verkondig het nie, dan was hulle geloof misplaas en is dan heeltemal waardeloos. Hulle geloof sou dus in ‘n dooie verlosser gesetel wees, en ‘n dooie verlosser kan immers niemand red nie. (nie eers homself nie, want die dood het hom oorwin.) Dit geld vir enige persoon wat die opstanding ontken. Die historiese Christus van die Bybel, Wie God in die vlees is, het aan die kruis gesterwe en vanuit die dood uit opgestaan. Om die opstanding te ontken, beteken dat so ‘n persoon in ‘n ander christus, wie nie uit die dood uit opgestaan het nie, glo. Iemand wat in so ‘n christus glo, glo nie in die ware Here Jesus Christus van die Bybel nie en derhalwe is so ‘n persoon se geloof heeltemal misplaas, en sal nog steeds verlore wees. (en dit maak nie saak hoe sterk sy geloof mag wees nie, omrede die voorwerp van sy geloof kragteloos is, omrede hy nog steeds in die graf lê.) Onthou, ons geloof beskik nie oor inherente krag nie, maar die krag/waarde van ons geloof is slegs in die voorwerp waarin ons, ons geloof plaas, gesetel en in die geval van die gelowige is dit die Here Jesus Christus, wie aan die kruis vir ons sondes met Sy lewe betaal het, en toe uit die dood uit opgestaan het, omrede Hy die dood oorwin het. Nou kan Hy aan enige persoon wat in Hom glo die ewige lewe skenk.
  • Die tweede implikasie: Indien die opstanding ‘n onmoontlikheid is, dan sou dit beteken dat Paulus en die ander dissipels valse getuienis in die Here se Naam aangaande God versprei het, wat ernstige implikasie vir so ‘n persoon inhou. (Hierdie feit behoort deur enige persoon wat God se woord verkondig in gedagte gehou te word. Daar is baie mense wat beweer dat hulle hemel toe was of dat Christus persoonlik aan hulle verskyn het. Hulle gaan verantwoording vir daardie uitlatings doen.) In die geval van Paulus en die ander apostels, sou dit beteken dat die boodskap wat hulle verkondig het, en wat die feit van die opstanding ingesluit het, hulleself daaraan skuldig gemaak het dat hulle valse getuienis aangaande God gelewer het. Die Ou Testament waarsku herhaaldelik dat ‘n persoon slegs ware getuienis moet lewer. Om valse getuienis in God se Naam te lewer is ‘n baie ernstige sonde.
  • Die derde implikasie: Indien Christus nie vanuit die dood uit opgestaan het nie, dan sou die Korinthiërs se geloof heeltemal waardeloos wees. In hierdie geval sou die Korinthiërs se geloof slegs in hulle eie verstand ‘n werklikheid wees, maar die ware feite sou later toon dat hulle nooit reddende geloof gehad het nie, omrede die voorwerp van hulle geloof nie die mag gehad het op uit die dood uit op te staan nie. (die Leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Generiese geloof vs reddende geloof” te lees.) In hierdie opsig sou hulle dus nog in hulle sondes gewees het al het hulle verkeerdelik onder die indruk verkeer dat hulle gered is. Onthou, Christus se opstanding vanuit die dood het as bewys gedien dat God die Vader, Sy plaasvervangende dood aan die kruis vir ons sondes, as ‘n volkome offer vir al ons sonde aanvaar het.
    Rom.4:25 “wat oorgelewer is ter wille van ons misdade en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking.”
    Sonder Christus se opstanding sou gelowiges nooit regverdig verklaar en dus verlos kon word nie. En onthou, ons gaan nie op ons gevoelens nie, ons gaan op God se woord. ‘n Persoon mag dalk voel dat hy gered is maar in werklikheid is hy heeltemal verlore. En sonder die opstanding sou daar boonop geen bewys gewees het dat Christus se kruisdood genoegsaam was om ons van die gevolge (naamlik die ewige verderf) van ons sondes verlos het nie. Daar sou dus geen sekerheid van ons verlossing (wat ‘n onlosmaaklike gedeelte van reddende geloof vorm) kan wees nie, omrede ons nooit met sekerheid sou kon weet dat Christus se kruisdood voldoende was om ons van ons sondes te red nie.
  • Die vierde implikasie: Sonder die opstanding sou die angel van die dood, naamlik die sonde, vir die Korinthiërs, en hulle geliefdes (in die geloof) wat alreeds afgesterwe het nog steeds ‘n pynlike werklikheid wees.
    1Kor.15:54 “En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning. 55 Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning? 56 Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet. 57 Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus.”
    Sonder die opstanding, is die afgestorwe gelowiges nie in die hemel, in God se teenwoordigheid nie, maar in die smarte van die doderyk.
  • Die vyfde implikasie: Indien daar geen opstanding is nie, dan is die ongelowiges van hierdie wêreld korrek omrede hulle die boodskap van die kruis as dwaasheid beskou.
    1Kor.1:18 “Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God;”
    Dan sou dit ook beteken dat gelowiges, wat vir hulle geloof lyding, asook teëstand ervaar het die ellendigste van alle mense op aarde is. Dan sou diegene wat vir hulleself, die wêreld en die wêreldse genot gelewe het in werklikheid die wyses onder ons gewees het. In hierdie opsig sou al die opofferinge wat gelowiges vir hulle geloof in Christus gemaak het ‘n wrede grap wees.
    1Kor.15:30 “Waarom is ons ook elke uur in gevaar? 31 Ek sterf dag vir dag, broeders, so waar as ek op julle roem in Christus Jesus, onse Here. 32 As ek in Éfese op menslike wyse met wilde diere geveg het, watter voordeel was dit vir my? As die dode nie opgewek word nie, laat ons dan eet en drink, want môre sterf ons!”

1Kor.15:20 “Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het.”
Opmerking: Nadat Paulus aan sy lesers die ernstige negatiewe implikasies van die leerstelling wat die opstanding ontken voorgehou het, lê hy nou spesifiek die historiese feit aangaande Christus se opstanding vanuit die dood aan sy lesers voor. As Christus vanuit die dood uit opgestaan het, dan is dit nie onmoontlik dat die gelowiges ook vanuit die dood kan opstaan nie, iets wat wel sal plaasvind vir diegene wat in Christus gevind word. Hy verduidelik dat met Christus se opstanding Hy die eersteling geword het van die wat alreeds tot sterwe gekom het. Met die term “eersteling” verwys Paulus na die Ou Testament, en die offer van die eersteling gerf wat aan die Jode onder die wet voorgeskryf was. Onthou, die wet was die skaduwee en Christus die substansie waarna die wet verwys het. In die Ou Testament het die Jode ‘n klein gedeelte van die oes geneem, en dit aan God as dankoffer voorgehou en dit was die uitdrukking van hulle dankbaarheid aan God vir die oes met die wete dat God die hele oes sal inbring.
Lev.23:16 “verder die fees van die oes, van die eerstelinge van jou werk, van wat jy op die land saai; en ook die fees van die insameling aan die einde van die jaar as jy jou werk uit die land insamel.”
So ook verseker die opstanding van Christus dat die gelowige net soos Christus vanuit die dood sal opstaan. ‘n Belofte wat nog in die toekoms vervul sal word. Christus se dood en opstanding vanuit die dood het ‘n hele nuwe era vir die mensdom ingelei.
Col.1:18 “En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees.
1Thess.4:
15 Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. 16 Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. 17 Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. 18 Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.”
Dit is en bly ‘n Godgegewe belofte dat as die Here Jesus Christus vanuit die dood uit opgestaan het (om nooit weer te sterwe nie) dan kan die gelowige met alle sekerheid weet dat hyself ook in die toekoms verseker uit die dood uit opgewek sal word. Christus se opstanding is dus vir ons as gelowiges ‘n voorbeeld, asook ‘n Godgegewe waarborg dat ons ook uit die dood opgewek sal word om nooit weer te sterwe nie.

1Kor.15:21 “Want aangesien die dood deur ‘n mens is, is die opstanding van die dode ook deur ‘n mens. 22 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word;”
Opmerking: Die eerste man Adam het teen God gerebelleer, deur Hom ongehoorsaam te wees. A.g.v. Adam se ongehoorsaamheid, en die feit dat hy die vader van alle mense is, het die dood (beide geestelike dood sowel as fisiese dood) deel van die mensdom se bestaan geword.
Gen.3:17 “En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie — vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. 18 Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. 19 In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.
Rom.5:12 Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het”
Daarenteen het die gehoorsaamheid van die een Man (die Here Jesus Christus) die versekering gegee, dat die opstanding vanuit die dood, vir almal wat deur geloof met Hom geïdentifiseer is, ‘n waarborg/belofte geword het.
Joh.11:25 “Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; 26 en elkeen wat lewe (ten tye van die wegraping) en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?
Filip.2:8 en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.
1Tim.2:5 Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, 6 wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd,”
Omrede die hele mensdom as sy afstammelinge, almal vanuit Adam voorgekom het, kom alle mense ook tot sterwe. (beide geestelike dood sowel as fisies dood.) Daarenteen sal almal wat in Christus (wat die feit van Sy dood en opstanding insluit) glo lewend gemaak word. (beide geestelike lewe sowel as fisiese lewe.) Let op die volgorde. Adam het gesondig en het onmiddellik geestelik gesterwe en eers later het hy fisies gesterwe. Almal wat in Christus glo, word onmiddellik wedergebore en sal eers later d.m.v. die eerste opstanding van fisiese dood bevry word.) Wat Satan en die mens in die tuin van eden deur hulle rebellie bewerkstellig het, word stelselmatig deur God ongedaan gemaak! (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Waarom sterwe gelowiges nog” te lees) Dit is egter belangrik om te onthou, dat Paulus slegs drie groepe wesens in gedagte gehad het toe hy bostaande stellings gemaak het. Eerstens, die opgestane God-Man die Here Jesus Christus. Tweedens, persone wie in Christus (slegs gelowiges) tot sterwe gekom het. En laastens, gelowiges wie nog ten tye van die Wegraping lewe.

1Kor.15:23 “maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, (met Sy eerste koms.) daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. (die wegraping, wat deur ‘n opstanding voorafgegaan sal word, en wat uitsluitlik gelowiges, wie tydens die Kerk Dispensasie tot geloof gekom het, sal insluit. Dit sluit die gemeente in Korinthe in. Hierdie tydperk strek vir ‘n periode van omtrent 2000 jaar na Christus se hemelvaart, en word afgesluit met die eerste fase van die eerste opstanding, wat die wegraping met millisekondes vooraf sal gaan.) 24 Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, (na afloop van Christus se duisendjarige Vrederyk, wat na afloop van Sy koms vir die Kerk/wegraping in aanvang sal neem. Hierdie tydperk strek vir net meer as een duisend jaar.) as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. 25 Want Hy moet as koning heers (die duisendjarige Vrederyk Van Christus) totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. 26 Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. 27 Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. 28 En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.
Opsomming: God se plan met die opstanding sluit elke groep in sy eie spesifieke orde in. Dit moet in gedagte gehou word, dat Paulus nie ‘n volledige uiteensetting van alle eskatologiese gebeure, (leerstelling oor die laaste dinge) wat die verskillende opstanding insluit, hier weergee nie. Omrede hy ‘n spesifieke dwaallering in die gemeente van die Korinthiërs aanspreek, is sy doel om uitsluitlik hulle plek in die groter skema van die wêreld se geskiedenis hier weer te gee. (dit sluit by implikasie alle gelowiges wie tydens die Kerk Dispensasie leef in)

  • Die eerste opstanding, in God se orde van opstandings, is die Here Jesus Christus se opstanding vanuit die dood, nadat Hy tydens Sy eerste koms aan die kruis gesterwe het en toe na drie dae uit die dood uit opgewek is. Christus is dus die Eersteling van alle persone wie uit die dood uit opgestaan het om nooit weer te sterf nie. Boonop dien Christus se opstanding as waarborg van al die ander opstandings wat in die Skrifte belowe word.
  • Daarna volg die tweede groep mense, wat al diegene, wat met Sy koms vir die Kerk nog lewe sal insluit, net soos wat Christus belowe het, naamlik:
    Joh.14:2 “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. 3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”
    Die Kerk Dispensasie kom met die wegraping, wat deur ‘n opstanding voorafgegaan sal word, en wat uitsluitlik gelowiges wie tydens die Kerk Dispensasie tot geloof gekom het sal insluit, tot ‘n einde. Dit sluit die gemeente in Korinthe in. ’n Gebeurtenis wat omtrent tweeduisend jaar na Christus se opstanding vanuit die dood sal plaasvind.
    1Thess.4:13 “Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die (wedergebore)ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander (ongeredde persone) wat geen hoop het nie. 14 Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. (met die wegraping)15 Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, (Fase een van die wederkoms. Dit sluit alle gelowiges in, wie nog steeds lewe wanneer die Kerk Dispensasie met die wegraping tot ‘n einde kom.) die ontslapenes (afgestorwe gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie tot sterwe gekom het.) hoegenaamd nie sal vóór wees nie. 16 Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, (alle gelowiges van die Kerk Dispensasie) sal eerste opstaan. 17 Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; (die Wegraping) en so sal ons altyd by die Here wees. (net soos wat Christus in Joh.14:2-3 belowe het.) 18 Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.”
  • Daarna sal die koms van Christus vir die Kerk deur nog ‘n tydperk van duisend jaar, naamlik Christus se Duisendjarige Vrederyk, gevolg word wat as die einde beskryf word, wanneer Christus die koninkryk (die Geopolitieke Teokratiese Koninkryk op aarde) aan God die Vader sal oorhandig, nadat Hy (Christus) alle heerskappy en alle gesag en mag totaal en al vernietig het. Soos reeds genoem, vind hierdie gebeure omstreeks duisend jaar na Christus se koms vir die Kerk plaas en sluit die duisendjarige Vrederyk van Christus in.
  • Maar voordat Christus die koninkryk aan Sy Vader oorhandig, sou Hy alreeds die dood, wat wat die laaste vyand is, totaal en al vernietig het. Dus sal Christus nie menslike liggame vernietig nie, maar die verskrikking wat menslike liggame vernietig, naamlik die dood sal deur Hom vernietig wees. 1Kor.15:26 Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.
    Christus se kruisdood, en opstanding vanuit die dood, het vir eens en vir altyd die dood oorwin. Maar Christus sal die dood se vonnis, in fases tydens die verskillende opstandings oplê, net soos wat Hy sistematies, deur die verloop van die wêreld se geskiedenis, die duiwel oorwin het en Satan se vonnis sistematies gaan oplê. (Die leser word aangeraai om die artikel “Christus se sistematiese oorwinning oor Satan” te lees.) Dan sal die hele mensdom met regte kan vra:
    1Kor.15:55 “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?”
  • God die Vader het alle dinge onder die laaste Adam, naamlik die Here Jesus Christus geplaas, en dit is met die gesag en met God se mag dat Christus Sy taak met verloop van die wêreld se geskiedenis suksesvol uitvoer. Na afloop van die Duisendjarige Vrederyk Van Christus, sal alle dinge (wat Sy vyande insluit) onder Christus se voete geplaas wees. Alle dinge sal dan onder Christus se gesag wees. Die enigste uitsondering sal God die Vader wees, en alle rebellie sal tot ‘n einde gebring wees en die koninkryk sal dan aan God die Vader oorhandig word. Die Here Jesus Christus, die tweede Adam, sal deur Sy voltooide werk God die Vader verheerlik, net soos wat alle gelowiges behoort te doen, naamlik:
    1Kor.10:31 “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.”
    Nadat Christus die Messiaanse Koninkryk aan die Vader oorhandig het, sal die ewigheid aanbreek, waar die Drie-Enige God alles in almal kan wees, en waar die Kerk, as Christus se bruid, ‘n aandeel sal geniet. Na afloop van Christus se oorhandiging van die aardse Geopolitieke Messiaanse Koninkryk aan die Vader, sal die nuwe hemel en nuwe aarde geskape word, en so sal die Drie-Enige God as enigste onbetwiste Heerser vir ewig oor alle fasette van Sy Universêle Koninkryk regeer.

1Kor.15:29 “Anders, wat sal hulle doen wat hulle vir die dode laat doop, as die dode geheel en al nie opgewek word nie? Waarom laat hulle hul nog vir die dode doop?”
Opmerking: Bogenoemde teksgedeelte het al tot groot verwarring en spekulasie aanleiding gegee. Indien mens die konteks waarin Paulus bogenoemde stelling maak in ag neem, dan is daar ‘n heel eenvoudige verduideliking vir sy stelling. Vir ‘n persoon om sy lewe vir Christus te waag sou sinneloosheid wees indien die opstanding nie plaasgevind het nie. Paulus konsentreer nou op die Korinthiërs se eie misplaaste gebruike om die dwaalleerstelling wat die opstanding ontken te weerlê. Let weer op die stelling: “Anders, wat sal hulle doen wat hulle vir die dode laat doop” Indien die doop vir die dode ‘n ortodokse Christelike leerstelling was, dan sou Paulus homself in die groep ingesluit het wat hulle vir die dode laat doop het. Hy sou dus nie na “hulle” verwys het nie, maar na “ons”. Veral indien mens die feit in gedagte hou dat hy op twee verskillende plekke, vroeër in hierdie einste brief, die gelowiges in Korinthe aangemoedig het om sy voorbeeld na te volg, naamlik:
1Kor.4:16 “Ek vermaan julle dan, word my navolgers.
1Kor.11:1 Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is.”
Indien dit die geval is, en dit is, hoekom het hy homself dan nie vir die dode laat doop nie? Of hierdie leerstelling verkondig nie? Die rede is eenvoudig. Gegewe die Korinthiërs se geneigdheid om hulleself vir dwaalleerstellings oop te stel, veral indien mens in ag neem dat hulle vanuit ‘n Grieks heidense agtergrond afkomstig was, gebruik hy nou hulle eie dwaallering as wapen teen hulle. Nie hier, of enige ander plek in die Bybel, word die leerstelling van doop vir die dooies ooit verkondig of aan gelowiges as leerstelling voorgehou nie. Indien dit ‘n Godgegewe leerstelling was, dan sou God dit in sy woord laat opteken het, iets wat Hy nooit gedoen het nie. Boonop sou Paulus, wie Christus gehoorsaam was, homself ook vir die dooies laat doop het, iets wat hy nooit laat doen het nie. Derhalwe hou hy nie met sy bogenoemde stelling ‘n nuwe leerstelling aan die Kerk voor nie, maar hy noem slegs een van die verkeerde leerstellings/gebruike wat alreeds die gemeente in Korinthe binnegekom het, en wat slegs deur ‘n spesifieke gedeelte van die gemeentelede aanvaar en toegepas is. Hy gebruik slegs hulle verkeerde leerstelling/gebruike aangaande die doop vir die dooies, as wapen, teen hulle om die sinneloosheid van die bewering wat die opstanding ontken duidelik te demonstreer. Hoekom hulle vir die dooies laat doop indien hulle nie in die opstanding glo nie? Die leerstelling van die doop vir die dooies is heel moontlik vanuit die misteriegodsdienste, wat in daardie gebied verkondig is, afkomstig en wat geleer het dat die doop verseker dat die aanhangers van hierdie spesifieke geloof die saligheid van die hiernamaals sal binnegaan. Net oorkant die Saroniese Golf, noord van die Korinthiese stad, was Eleusis wat die middelpunt van een sodanige misteriegodsdiens was, naamlik die Eleusiniese misteriegodsdiens. ‘n Meer moderne voorbeeld van hoe maklik ‘n valse leerstelling die Kerk kan binnedring, is die leerstelling wat sy oorsprong in die okkult het, en wat leer dat ons krag in ons woorde het, en wat veral onder proponente van die Woord Geloof Beweging, asook die proponente van die Voorspoed Evangelie verkondig word. (Die leser word aangeraai om die artikel “Krag in ons Woorde” te lees.)

1Kor.15:30-32: “30 “Waarom is ons ook elke uur in gevaar? 31 Ek sterf dag vir dag, broeders, so waar as ek op julle roem in Christus Jesus, onse Here. 32 As ek in Éfese op menslike wyse met wilde diere geveg het, watter voordeel was dit vir my? As die dode nie opgewek word nie, laat ons dan eet en drink, want môre sterf ons!”
Opmerking: In teenstelling met diegene wat hulle vir die dooies laat doop het, fokus Paulus op ‘n werklike voorbeeld, naamlik sy eie oortuigings en opofferings. Paulus (en die ander apostels en gelowiges) se lewens was deur opofferings, teëstand, lyding en selfs die moontlikheid van martelaarskap gekenmerk. Sy eie lewe was gereeld in gevaar, en dit alles net omrede hy die Evangelie van God se genade, wat die leerstelling van die opstanding vanuit die dood insluit, verkondig het. Hulle belewenisse in Asië is maar slegs een van baie voorbeelde hiervan, naamlik:
2Kor.1:8 “Want ons wil nie hê, broeders, dat julle onbekend moet wees met ons verdrukking wat oor ons in Asië gekom het nie, dat ons dit bo ons krag uitermate swaar gehad het, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het. 9 Ja, ons het al self by onsself die doodvonnis oor ons gehad, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dode opwek;”
Indien daar geen opstanding is nie, wat sou al hierdie opofferings hom gebaat het? Hy antwoord sy eie vraag, en verklaar dat as daar geen opstanding is nie, dan sou dit vir hom baie meer voordelig gewees het, indien hy die filosofie van Epikurisme nagevolg het wat die volgende leerstelling verkondig het, naamlik “laat ons dan eet en drink, want môre sterf ons!” Paulus het egter sonder enige twyfel geweet dat daar meer as net hierdie lewe is, en dat daar ‘n opstanding vanuit die dood sal wees, wanneer elke gelowige voor die Regterstoel Oordeel van Christus sal moet verskyn, om rekenskap vir hulle lewens na wedergeboorte te gee. En sy lewe (met al die smarte, lyding en opofferings) het as bewys van sy geloof in die opstanding vanuit die dood gedien.
1Kor.9:24 “Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, (voordat iemand aan die resies kan deelneem, moes hulle eers kwalifiseer. Almal wat die Evangelie glo kwalifiseer deur wedergeboorte en kan dan in die reisies van heiligmaking/dissipelskap deelneem) wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal. (genadeloon en een of meer van die vyf krone insluit) 25 En elkeen wat aan ‘n wedstryd deelneem, onthou hom in alles — húlle nogal om ‘n verwelklike krans te ontvang, maar ons ‘n onverwelklike. 26 Ek hardloop dan soos een wat nie onseker is nie; (voortgesette geloofsdade na wedergeboorte) ek slaan met die vuis soos een wat nie in die lug slaan nie. 27 Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie. (sonder enige genadeloon van Christus by die regterstoel oordeel moet weggaan nie. 1Joh.2:28. Die gelowige se ewige bestemming is nie in gedrang nie, maar wel sy genadeloon, wat deur voortgesette dade van geloof verdien moet word, wat lyding en opofferings verg.)
2Kor.4:16 “Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe. 17 Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid;
(genadeloon. Lees die gelykenis van die ponde.)18 omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.”

Ter Afsluiting:
1Kor.15:33-34: “Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes. 34 Wees nugter op die regte manier, en sondig nie; want sommige het geen kennis van God nie. Ek sê dit tot julle beskaming.”
Opmerking: Paulus waarsku die Korinthiërs om nie met valse leraars, asook enige iemand, wat die leerstelling van die opstanding ontken, (hierdie vermaning geld vir alle persone wat valse leerstellings verkondig.) om te gaan nie. Daar was alreeds gelowiges in die gemeente wat vir hierdie valse leerstelling geval het, en daarom haal Paulus ‘n frase, uit ‘n heidense skrywer, naamlik Menander (Thais. 218) aan, wat korrek verklaar, naamlik: “slegte gesprekke bederf goeie sedes.” Gelowiges in Korinthe word gemaan om nie met gemeentelede wat hulleself aan dwaalleerstellings onderwerp om te gaan nie. Hy het dieselfde opdragte vroeër aangaande lidmate wat immorele leefwyses navolg gemaak, (1Kor.5) en nou waarsku hy die gemeente om nie met aanhangers van valse leerstellig om te gaan nie. Sonde, wat dwaalleerstellings insluit, is net soos suurdeeg wat die hele gemeente sal beïnvloed, indien dit nie gestop en verwyder word nie. Die Here Jesus Christus het vroeër, tydens Sy aardse bediening, juis van hierdie tendens gewaarsku, toe Hy die gelykenis van die suurdeeg in Matt.13:33 vertel het. (Die leser word aangeraai om die artikel “Gelykenis van die suurdeeg” te lees.) Dit mag dalk voorkom dat persone wat valse leerstellings verkondig oor baie kennis van God beskik, maar in werklikheid is die teendeel egter waar. Hulle dra nie werklik kennis van God nie! Dit is nie dat God genoemde kennis van hulle weerhou nie, maar dit is eerder ‘n geval dat hulle nie werklik kennis aangaande God wil bekom nie. Die oorgroot meerderheid van die belydende Christendom van vandag val in hierdie kategorie. ‘n Groot gedeelte van vandag se Christendom se geloof is op gevoelens, buite Bybelse openbarings, menslike opinies, asook op teksgedeeltes wat buite konteks aangehaal en misbruik word, gebaseer. Persone wat slegs hulle leerstellings vanuit die Bybel bekom, word aangeval en baiekeer as Fariseërs uitgekryt. Paulus het bogenoemde stellings aan die “wyse” Korinthiërs gerig. Ek wonder wat sou hy van die dwaalleerstellings in vandag se belydende Christendom sê?

En onthou: Reddende geloof is om in die Here Jesus Christus, as die Seun van God te glo, Wie gesterf het en weer uit die dood uit opgestaan het, om al jou persoonlike sondeskuld (verlede, hede en toekomstige sondes) voor ‘n regverdige God te betaal, en die Een wat aan almal die ewige lewe skenk wat Hom, en Hom alleen, daarvoor vertrou. Glo jy dit?

Seën Groete!

Vic

Deel met ander asb.