Matteus 13:45–46: “Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n koopman wat mooi pêrels soek; en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit.”
Opmerking: Die koopman verteenwoordig die Here Jesus Christus, en nie die kerk soos dikwels verkeerdelik verkondig word nie. Gelowiges gee niks prys en verkoop niks om Jesus as Verlosser te ontvang nie. Die ewige lewe is ‘n geskenk wat deur geloof ontvang word; ons betaal geensins daarvoor nie. God het deur Jesus Christus alles prysgegee om vir ons sondes te betaal. Dit is vir die mensdom onmoontlik om ‘n absolute heilige en regverdige God vir sonde te vergoed. Wat verlossing of wedergeboorte (fase een van ons verlossing) betref, kan ons niks by “geloof alleen in die Evangelie” voeg om wedergebore te word nie. Ons kan niks betaal nie, aangesien ons onsself nie kan red nie en oor niks beskik waarmee ons God kan vergoed nie. Dus is die lering dat die kerk die koopman verteenwoordig eksegeties foutief en vreemd aan die konteks van die Skrif. (Die leser word aangeraai om die artikel “Drie fases van verlossing” te lees).
Romeine 4:5: “Aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.”
Die Here Jesus Christus het egter alles — selfs Sy eie lewe — prysgegee. Hy het aarde toe gekom en in ons plek aan die kruis gesterf, sodat God regverdig sou wees wanneer Hy ons van al ons sondes vryspreek.
Filippense 2:6–8: “Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.”
Jesus het ons met Sy bloed gekoop. Hy verteenwoordig die koopman in sowel die gelykenis van die pêrel as die gelykenis van die skat. Dit is Christus wat ons met Sy bloed gekoop het. Dit is noodsaaklik om hierdie feit te begryp; anders word die gelykenis verkeerd toegepas, wat kan lei tot die verkondiging van ‘n werke-evangelie. Verlossing gaan nie oor wat die mens vir God doen nie, maar oor wat God in Sy liefde en genade vir die mens gedoen het.
1 Korinthiërs 6:20: “Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.”Die Bybel stel dit onomwonde: Jesus het ons gekoop, nie andersom nie!
Daarbenewens verteenwoordig die pêrel nie dieselfde groep as die skat nie. Die gelykenis van die skat handel hoofsaaklik oor die volk Israel, terwyl die pêrel dui op die Kerk, wat grootliks uit die nasies saamgestel is (met gelowige Jode as ‘n oorblyfsel). Die feit dat oesters, waaruit pêrels ontwikkel, in die Ou Testament as onrein beskou is (Deut. 14:10), is ‘n duidelike aanduiding dat die pêrel op ‘n nie-Israelitiese groep dui. Tydens die huidige Kerk-bedeling is daar geen onderskeid tussen rein en onrein voedsel nie — ‘n vryheid wat Israel onder die Wet nie geniet het nie. Geen Ou-Testamentiese Jood sou homself met ‘n onrein dier vergelyk het nie; die hoorders van Jesus sou hierdie implikasie onmiddellik verstaan het.
Deuteronomium 14:10: “Maar alles wat geen vinne en skubbe het nie, mag julle nie eet nie — onrein is dit vir julle.”
Alhoewel daar Jode in die Kerk is, bestaan die liggaam hoofsaaklik uit die heidennasies. Net soos ‘n pêrel vorm as gevolg van ‘n irritasie in ‘n oester, het die Kerk sy ontstaan gevind deur die wonde en lyding van Christus. Die gelykenis beklemtoon dat die Kerk bestaan omdat die Koopman alles prysgegee het.
Die gemeente van Christus word ook as ‘n lewende organisme beskryf — net soos die oester — wat opgebou word uit “lewende stene” (1 Petrus 2:5).
Efesiërs 2:20–22: “Gebou op die fondant van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here…”
Hierdie gelykenis demonstreer God se doel in die interim-tydperk tussen Christus se eerste en tweede koms: die vorming van die Kerk uit al die nasies gedurende hierdie Dispensasie van Genade. Dit bevestig ook dat God twee afsonderlike doelwitte vir Israel en die Kerk het, en dat Hy albei sal volvoer.
(Die leser word aangeraai om die artikels “Het die Kerk Israel as God se verbondsvolk vervang?” asook “Die Kerk is nie die Messiaanse Koninkryk van Christus nie” te lees).
In die gelykenis van die pêrel sien ons die Evangelie in neutedop: Die Here gee Sy lewe sodat onrein sondaars gered kan word. Mag ons nooit ophou om die lof van ons Hemelse Vader te besing vir hierdie onverdiende guns nie!
Seën groete.