God se voorsienigheidsbeheer

God se Voorsienigheidsbeheer

Wat behels God se voorsienigheidsbeheer? God beheer die vloei van die loop van geskiedenis waarin al Sy skepsele, insluitend die mensdom leef, en hierdie vloei van die geskiedenis word deur God voortgedryf deur die omstandighede wat Hy beheer. Elke ding wat met ons gebeur vorm deel van God se raadsplan. Niks gebeur met toeval nie. Boonop werk God alles volgens die raad van Sy wil, en daar is niks wat enige van Sy skepsele daaraan kan doen nie, naamlik:
Dan.4:35 En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel (wat die gevalle sowel as die heilige engele insluit) en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê: Wat doen U nie?
Daarbenewens is God altyd goed en daarom laat Hy alles ten goede vir die gelowige meewerk:Rom.8:28 “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”
God se voorsienigheidsbeheer kan soosvolg omskryf word: In Sy voorsienigheid en wil, en as Skepper van alles, onderhou God deur Sy soewereiniteit alles in die hemele en aarde. In Sy alwetendheid, alomteenwoordigheid en almag, bestuur Hy alles om die vloei van die verloop van die geskiedenis volgens Sy voorafbepaalde raadsplan te rig. Al hierdie dinge verrig Hy tot voordeel van alle gelowiges en met die doel om Homself te verheerlik. God se voorsienigheid vorm deel van Sy wese en raadsplan.

God is heilig en al Sy planne is heilig. Hy tree altyd in geregtigheid op en hierdie feit geld ook vir Sy voorsienigheidsbeheer. God het die mense met die vermoë geskape (vrye wil) om in stryd met Sy toelaatbare wil te kan optree. As sulks het goddeloosheid God se skepping binnegedring, maar die bose optredes van God se skepsele kan nie Sy heilige wil en ewige raadsplan verydel nie. Inteendeel, omrede God alwetend is, weet Hy ten alle tye alles insluitend hoe enige van Sy skepsele sal dink en optree, en dit sluit alle moontlike keuses (verlede, hede en toekomstige keuses/gedagtes) wat gemaak kan word in. Onthou, God bestaan buite tyd en Hy neem die verlede hede en toekoms as ‘n ewige teenswoordigheid waar. God se voorkennis vorm dus ‘n subkategorie van Sy alwetendheid, en Hy het al hierdie moontlike keuses (en gedagtes) wat Sy skepsele kon maak in Sy Ewige Raadsplan ingewerk. Hierdie is maar net een van die redes waarom boosheid nooit God se raadsplan kan verydel nie en waarom ons nooit Sy voorsienigheid (voorsienigheidsbeheer) in betwyfeling moet trek nie. Wanneer ons so iets doen dan beledig ons Hom en pleeg ‘n verskriklike sonde.

Dit is ‘n skriftuurlike feit dat God die mens (en engele) met ‘n wil geskape het, wat beteken dat hulle die vermoeë beskik om ‘n keuse vir Hom (wat Sy wil insluit), of teen Hom en Sy wil te kan maak. Hierdie feit verseker dat al die goddelose ook onder God se soewereine beheer val, al het God aan hulle die vermoeë gegee om Sy wil tydelik teë te staan (vrye wil). Die goddelose se rebellie, en elke keuse wat hulle sou maak, is van ewigheid af aan God bekend en Hy het hierdie rebelse keuses in Sy raadsplan ingewerk. Daar bestaan dus geen moontlikheid dat God se raadsplan verydel kan word nie, en omrede Sy skepsele van hulle vrye wil gebruik gemaak het om teen Hom te rebelleer, tree Hy in geregtigheid op wanneer Hy hulle vir hulle keuses verantwoordelik hou.

Spr.16:4 “Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.”
Die gedagtes wat ek nou hier sit en dink is alreeds van ewigheid af aan God bekend. Self die gedagtes wat ek nog nie van bewus is nie, en wat ek nog in die toekoms gaan dink, is alreeds aan God bekend en daarom kon Dawid die volgende stelling maak:
Ps.139:1 “Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. HERE, U deurgrond en ken my. 2 U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. 3 U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend. 4 Want daar is nog geen woord op my tong nie — of U, HERE, U ken dit geheel en al. (God se alwetendheid) 5 U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my. (God se almag en alomteenwoordigheid wat Sy voorsienigheid/ voorsienigheidsbeheer insluit) 6 Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie.”
Die Here Jesus Christus, wie self God is, het ook die volgende stelling gemaak, naamlik:Matt.10:29 “Word twee mossies nie vir ‘n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie. 30 En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel.”

Mens neem God se voorsienigheidsbeheer regdeur die Bybel waar en dit sal net gepas wees om ‘n paar voorbeelde hier te noem. In Genesis 37 merk ons hoedat Josef se broers, omrede hulle afgunstig op hom was, hom aan die Ismaelitiese koopmans verkoop het waarna hy toe as slaaf na Egipte geneem en daar verkoop is.
Gen.37:19 “En hulle het vir mekaar gesê: Daar kom daardie dromer aan! 20 Kom dan nou, laat ons hom doodmaak en in een van die putte gooi en sê: ‘n Wilde dier het hom opgeëet. Dan sal ons sien wat van sy drome word. 21 Toe Ruben dit hoor, het hy hom uit hulle hand gered deur te sê: Laat ons hom nie doodslaan nie. 22 Ruben het ook vir hulle gesê: Moenie bloed vergiet nie; gooi hom in hierdie put wat in die woestyn is, maar moenie die hand aan hom slaan nie — sodat hy hom uit hulle hand kon red om hom na sy vader terug te bring. 23 En toe Josef by sy broers kom, trek hulle Josef se rok uit, die rok met lang moue wat hy aangehad het, 24 en hulle neem hom en gooi hom in die put. Maar die put was leeg; daar was geen water in nie. 25 Daarna het hulle gaan sit om brood te eet; en toe hulle hul oë opslaan, sien hulle meteens ‘n reisgeselskap Ismaeliete wat uit Gílead kom — hulle kamele gelaai met speserye en balsem en gom op pad om dit na Egipte af te bring. 26 Toe sê Juda aan sy broers: Watter voordeel is dit dat ons ons broer doodmaak en sy bloed verberg? 27 Kom, laat ons hom aan die Ismaeliete verkoop, maar laat ons hand nie teen hom wees nie, want hy is ons broer, ons vlees. En sy broers het na hom geluister. 28 En toe die Midianitiese koopmans verbykom, het hulle Josef uit die put uit opgetrek en uitgehaal en Josef aan die Ismaeliete verkoop vir twintig sikkels silwer. En húlle het Josef na Egipte gebring.”

Alhoewel Josef se broers hulle vrye wil misbruik het om hulle eie broer leed aan te doen, het God egter hulle bose optrede gebruik om Israel d.m.v. die einste Josef van die komende hongersnood te bewaar. (Gen. 45:5-8; 47:11, 27-28; 50:20) Sodoende het God Sy belofte wat Hy voor hierdie gebeure aan Abraham gemaak het nagekom.
Gen.47:11 “En Josef (as tweede in bevel in Egipte) het vir Jakob en sy broers woonplekke aangewys en aan hulle besitting in Egipteland gegee, in die beste deel van die land, in die landstreek Raämses, soos Farao beveel het.”
(sien ook Gen. 15:13; 47:27-28) Daar is nie iets soos toeval nie en ons moet hierdie feit onthou wanneer teenspoed ons tref. Ons bly in ‘n gevalle wêreld en kan teenspoed verwag. Die Here het ons immers vooraf gewaarsku sodat ons daarop voorbereid kan wees:
Joh.16:33 “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”
Net soos wat God ‘n doel met Josef gehad het, het Hy ‘n doel met elke liewe een van ons, en Hy het die mag om enige situasie te verander en goed daaruit voort te bring. In Josef se geval het God hom tot tweede in bevel van die Egiptiese ryk laat bevorder. As geestelike volwasse gelowige het Josef God se voorsienigheidsbeheer in al hierdie gebeure waargeneem en daarom kon hy die volgende stelling gemaak:
Gen.45:5 “Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur.

Die skrifte is letterlik besaai met voorbeelde soos hierdie. Die Here verwag egter dat ons geduldig op Hom moet wag en volkome op Hom vertrou. Hier is nog ‘n verdere voorbeeld uit die Nuwe Testament. God het keiser Claudius se bose besluit (wat hy vrywilliglik gemaak het) om al die Jode uit Rome te verban, as deel van Sy voorsienigheidsbeheer gebruik sodat Aquila en Priscilla vir Paulus in Korinte kon ontmoet en by hom in sy bediening aansluit.
Hand.18:1 “En daarna het Paulus uit Athéne vertrek en in Korinthe gekom. 2 En hy het ‘n Jood gevind met die naam van Aquila, afkomstig uit Pontus, wat onlangs met sy vrou Priscílla van Italië gekom het, omdat Claudius beveel het dat al die Jode uit Rome moes vertrek. Na hulle toe het hy gegaan; 3 en omdat hy van dieselfde ambag was, het hy by hulle gebly en gewerk, want hulle was tentmakers van ambag.”
Vanuit ‘n menslike perspektief moes so ‘n gebeurtenis traumaties vir Aquila en Priscilla gewees het, (die trauma wat hulle moes beleef het is soortgelyk aan die wat die blanke boere in Zimbabwe ervaar het toe Robert Mugabe onwettig hulle plase sonder vergoeding gekonfiskeer het.) maar God het die situasie omgedraai sodat alles vir Aquila en Priscilla ten goede saamgewerk het. Hulle was nou in die posisie om deur God gebruik te word, en in die proses kon hulle genadeloon vir hulleself verdien wat sou verseker dat hulle ‘n hoër amp in Sy komende koninkryk sal ontvang.

Dit alles terwyl God nog steeds in hulle behoeftes op aarde voorsien het.
1Kor.16:19 “Die gemeentes van Asië groet julle. Aquila en Priscílla saam met die gemeente wat in hulle huis is, laat vir julle baie groete weet in die Here.”
Aquila en Priscilla het nog steeds alles gehad wat hulle nodig het, en het selfs ‘n huis besit wat hulle vir kerkdienste aangewend het.
Filip. 4:19 En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.”
Dit is God se wil vir ons dat ons geloof moet ontwikkel, sodat ons ‘n stadium van geestelike volwassenheid kan bereik. In sommige gevalle maak Hy van die bose (vrye wil) optredes van ander gebruik om Sy doel te bereik. God se voorsienigheidsbeheer speel in hierdie opsig ‘n groot rol. Alle gelowiges moet leer dat God se wil vir ons altyd goed is, en Sy voorsienigheidsbeheer behoort in ons vertroue te ontwikkel wetende dat God alles ten goede vir die gelowige laat saamwerk.
Rom.8:28 “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”
Dink mooi oor al hierdie feite na. Hierdie feit dien as ‘n raamwerk waardeur alles wat met ons gebeur gefiltreer behoort te word.

God verwag nie noodwendig dat ons alles wat met ons in die wêreld gebeur moet verstaan nie. Hy verwag egter dat ons Hom in alles moet vertrou. Onthou, ons is nie slagoffers van toeval nie. Soos wat God mense en omstandighede volgens Sy soewereine wil rig, behoort ons altyd God se wil met Sy voorsienigheidsbeheer te assosieer. Ons moet nooit die interaksie van God se soewereine wil en Sy skepsele se vrye wil vergeet nie. Hierdie feit geld ook vir die onderlinge interaksie van magte (goed of sleg) agter wêreldse gebeure, wetende dat dit deel van God se raadsplan vorm en dat die uitkoms alreeds bepaal is. Ons (gelowiges) kan verseker weet dat ons aan die wenkant is, en dat die goddeloosheid wat ons nou in die skepping waarneem deur God tot ‘n einde gebring gaan word. Die leser word ten sterkste aangeraai om die reeks artikels wat oor die dispensasies handel sorgvuldig deur te lees. Ons staan aan die einde van die Kerk Dispensasie en daarom moet ons sekermaak dat ons binne die raamwerk van God se wil vir ons lewe.

Ons behoort nooit God se voorsienigheidsbeheer (voorsienigheid) te bevraagteken of daaroor te twyfel nie. Hy weet presies wat in ons lewens aangaan en waarheen alle gelowiges op pad is. God los ons nie in die duisternis nie. In die kort termyn (net soos Job) mag ons dalk nie alles verstaan nie, en in tye soos hierdie moet ons net op God vertrou en onthou dat Hy ‘n plan vir elkeen van ons het. Hoeveel te meer is ons nie werd as mossies nie, en die Here sorg vir die mossies, hoekom sal Hy nie ook vir ons wat Sy kinders is voorsien nie? Hy het immers nie eers Sy Seun gespaar om ons verlossing te bewerkstellig nie:
Rom.8:32 “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?”
Vertrou ons God werklik in hierdie opsig?

Die vloei van die wêreld se geskiedenis is in God se beheer en Hy beheer die vloei daarvan. God is in beheer van alle lewe (Gen. 2:17; Job. 1:21; Ps. 104:29–30; Pred.12:7; Dan. 5:23); die mens se geboorte en roeping vir diens (Ps. 139:13-16; Jer.1:4-5; Gal.1:15); Hy is in beheer van die natuur en alle natuurlike prosesse (Ps. 147:8; Jona 1:4; Mark 4:39-41); Hy is ook in beheer van plae (Ex. 7–11; 12:29; Openb.16:10-11); God het selfs beheer op die werp van die lot (Spr. 16:33; sien ook, Ps. 22:19; Matt. 27:35); siekte en gesondheid (Deut. 28:27-30; 2Kron. 21:18; Ps. 41:3; Hand. 3:16); asook voorspoed en teenspoed (1Sam. 2:7; Job 2:10; Isa. 45:5-7); God het ook beheer oor lyding (Ps.119:71; Heb.12:5-11); asook die ontwikkeling van Christelike karakter. (Rom. 5:2-5; 2 Kor.12:7-10; Jak.1:2-4).

Ter afsluiting: God los ons nie in die duisternis nie. In die kort termyn mag ons dalk nie alles verstaan nie, maar God maak die raamwerk van die vloei van die geskiedenis in die Bybel bekend. In hierdie opsig speel Bybelse profesie (soos wat dit in die Bybel opgeteken staan) ‘n baie belangrike rol en dit is ongelukkig een van die onderwerpe wat deur ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom geïgnoreer word. Dit is belangrik om die Bybel op ‘n konsekwente, letterlike, grammatiese en historiese wyse te interpreteer. God verwag van ons om die Bybel te verstaan, (en dit sluit die boek van Openbaring in) en ‘n goeie begrip van die konsep van Sy voorsienigheidsbeheer is uiters belangrik. God is in beheer. Dit is belangrik dat ons in Hom rus. In Genesis merk ons hoe boosheid in God se skepping ingedring het. In die einde van Openbaring sien ons hoe God ‘n einde aan goddeloosheid maak. Tussen hierdie twee punte vind die vloei van die wêreld se geskiedenis plaas. God wen! Dink mooi hieroor na.

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.