Vraag: My vriendin noem dat hulle by hulle kerk gelees het dat mens nie vark, kreef, mossels, ens mag eet nie. (Nou ongelukkig is dit ‘n vraag wat ek self nog nooit gevra het nie, so ek is nie seker hoe om haar dit te beantwoord nie. Ek weet daar is ‘n lys van kosse, in Levitikus, wat die Israeliete nie mag geëet het nie, maar is dit vandag nog geldig?
Antwoord: Die probleem ontstaan wanneer mense die volk Israel, wat tydens die Dispensasie van die Wet gelewe het, met die Kerk wat tydens die Dispensasie van die Kerk leef verwar (ook bekend as die dispensasie van genade). Boonop is die Kerk ‘n heel ander entiteit as wat Israel as volk was. Die Kerk het eers met die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag amptelik ontstaan, daarenteen het Israel toe al vir meer as twee duisend jaar as volk bestaan. (Hand.2:3) Dit is ook opmerklik dat die ware Kerk uit individuele gelowiges bestaan. (daar is dus geen ongeredde persone in die ware Kerk nie) ‘n Persoon word deur die Heilige Gees in die liggaam van Christus (die kerk) gedoop slegs wanneer daardie persoon die Evangelie van God se genade verstaan, en glo en word dus nie as Christen gebore nie. Wanneer ‘n persoon se ouers deel van Israel as volk is, dan word hulle kinders as Israeliete gebore. Hulle vorm dus deel van die volk Israel al het hulle in God geglo of nie. Boonop het slegs die Joodse volk onder die Dispensasie van die Wet geleef en nie enige ander nasie nie. Die Kerk is nie Israel nie, en Israel is ook nie die Kerk nie. Boonop het die Kerk nooit Israel as God se verbondsvolk vervang nie. Hierdie leerstellige mistasting word ondermeer deur Calviniste, wat die drie Afrikaanse Susterkerke insluit, verkondig. Om hierdie rede raai ek jou ten sterkste aan om die artikel “Het die Kerk Israel as God se verbondsvolk vervang?” te lees.) Dit is wanneer die volk Israel met die Kerk verwar word wanneer daar ernstige leerstellige mistastings plaasvind.
Die Kerk leef dus nie onder die Dispensasie van die Wet nie, maar lewe tydens die Dispensasie van die Kerk wat ‘n heel ander dispensasie is. Die Kerk is dus ‘n heel ander entiteit as wat die volk Israel is. Soos alreeds gestel, het Israel byvoorbeeld hoofsaaklik uit gebore Israeliete bestaan en was outomaties deel van Israelitiese nasie (met hulle eie kulturele gebruike) soos wat ek deel van die Suid Afrikaanse nasie deur geboorte is. (met ons eie unieke kulturele gebruike en wat ook ‘n regering het.) Daarenteen bestaan die Kerk uit gelowiges van alle nasies, en die Kerk is boonop nie ‘n nasie met ‘n goewerment nie, dit is eerder ‘n lewende organisme, wat uit alle individuele gelowiges uit alle volke bestaan met Christus as Hoof. Die Kerk is nie ‘n nasie nie, en het dus nie ‘n goewerment nie of selfs is spesifieke grondgebied nie. Die ware Kerk, wat nie onder die Dispensasie van die Wet lewe nie, val dus nie onder die Wet van Moses nie maar onder die Wet van Christus (1Kor.9:21;Gal.6:2) Om hierdie rede hoef die Kerk nie spesifieke sabbatdae na te kom of hulleself van sekere kossoorte te weerhou nie. Hierdie wette was slegs op Israel, wat hulleself onder die Wet van Moses (die Dispensasie van die Wet) bevind het van toepassing gewees. Die Dispensasie van die Wet het met Christus se kruisiging en opstanding vanuit die dood tot ‘n einde gekom. Maar noudat Christus alreeds gekruisig is, en uit die dood uit opgestaan, en na die hemel opgevaar het, is gelowiges nie meer onder die wet nie. Dit is op grond van hierdie feit dat Paulus die volgende stelling kon maak, naamlik:
Kol.2:16 “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie, 17 wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.”
Die Wet van Moses met sy diereoffers en meegaande sabbatdae was ‘n skaduwee van die toekomstige dinge, maar die Here Jesus Christus was die substansie daarvan. Dit is belangrik dat ons nie die Kerk met Israel verwar nie. Die Kerk is nie Israel nie! Israel het onder die Dispensasie van die Wet gelewe, maar met die kruisiging van Christus, en Sy opstanding vanuit die dood het daar ‘n dispensasionele (bedeling) verandering plaasgevind, en daarom bevind ons, onsself nie in die Dispensasie van die Wet nie. Ons leef nou in die Dispensasie van die Kerk.
Om die twee verskillende entiteite, naamlik die volk Israel met die Kerk te verwar is ‘n ernstige mistasting, en dit het tot baie ander gevaarlike leerstellings aanleiding gegee, waarvan die valse leerstelling van werkheiligheid, of te wel Heerskappy Verlossing, die vernaamste is. Werkheiligheid, asook Heerskappy Verlossing, is niks anders as ‘n werke evangelie nie, en is dus ‘n ander evangelie waarteen Paulus ons gewaarsku het. Heerskappy Verlossing, waarvan John MacArthur en baie ander Calviniste voorstanders is, is nie die ware Evangelie van Christus se genade nie en daarom het Paulus homself so sterk teen hierdie dwaallering uitgespreek, naamlik:
Gal.1:6 “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe, 7 terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai. 8 Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees! 9 Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees! 10 Soek ek dan nou die guns van mense, of van God? Of probeer ek om mense te behaag? As ek nog mense behaag, dan sou ek nie ‘n dienskneg van Christus wees nie.”
Soos wat die menslike geskiedenis verloop, maak die Here van spesifieke dispensasies/bedelings gebruik, wat as unieke rentmeesterskappe omskryf kan word, waardeur Hy Sy raadsplan en voornemens op aarde deur die mens bewerkstellig. Alhoewel enige verandering van dispensasie uitsluitlik op grond van God se soewereine wil verander, is dit wel opmerklik dat enige verandering in dispensasie kort op die hakke van die mensdom se mislukking en God se regverdige oordeel plaasvind.
In die Skrifte kan mens verskillende dispensasies waarneem. Hierdie dispensasies is die Dispensasie van Onskuld (Gen.1:1-3:7); Die Dispensasie van Gewete (Gen.3:8-8:22); Die Dispensasie van Menslike Owerheid (Gen.9:1-11:32); Die Dispensasie van die Stamvaders/Belofte (Gen.12; Ex.19); die Dispensasie van die Wet (Ex.20:1-Hand.2:4); Die Dispensasie van die Kerk/genade (Hand.2:4-Openb.20:3); en laastens die Dispensasie van die Koninkryk/Millennium. (Openb.20:4-6) (Die leser word ten sterkste aangeraai om die illustrasie “Die Sewe Dispensasies” te bestudeer.) Elke dispensasie beskik dus oor ‘n spesifieke stel lewensreëls, wat die mensdom wat tydens daardie spesifieke dispensasie leef moet nakom. Die doel van hierdie reëls/wette is om die mensdom te toets, om te kyk of hulle wel hulleself aan God se wil vir daardie dispensasie wil onderwerp of teen hom wil rebelleer. Ongelukkig eindig elke dispensasie in rebellie en word deur God se regverdige oordeel gevolg.
Dit bly egter ‘n Skriftuurlike feit dat verlossing, in enige van die verskillende dispensasies, nog altyd op grond van God se genade deur geloof alleen ontvang is. Die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis en Sy opstanding vanuit die dood dien as grondslag waarop die verlossing van alle mense van alle tye bewerkstellig is. Want sonder geloof bly dit egter onmoontlik om God te behaag en dit maak nie saak in watter dispensasie ‘n persoon gelewe het nie.
Heb.11:6 “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.”
Boonop het die Ou Testamentiese gelowiges geloof in die konsep van ‘n komende Messias gehad, naamlik:
Gen.3:15 “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy (Die Here Jesus Christus) sal jou die kop vermorsel, (die oorwinning aan die kruis) en jy sal hom in die hakskeen byt.” (Christus se kruisdood)
Met die Here Jesus Christus se eerste koms het Hy die volgende stelling gemaak, naamlik:
Joh.5:39 “Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig.”
Sonder geloof in die Here Jesus Christus alleenlik is daar nie verlossing nie!
Let Wel: Nege van die tien gebooie, soos in die Wet van Moses gevind,(Dispensasie van die Wet) behalwe die gebot om die sabbatdag te eerbiedig, word weer in die gedeeltes van die Nuwe Testament wat direk aan die Kerk gerig is herhaal. (Dispensasie van Genade) Hierdie nege gebooie word egter aan die gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie lewe as instruksies voorgehou oor hoe hulle die Christelike lewenswandel deur voortgesette dade van geloof op ‘n praktiese wyse kan uitleef, maar dit is egter nie die wyse waarop ‘n persoon die ewige lewe ontvang of behou nie. Die ewige lewe word slegs op grond van God se genade deur die glo van die ware Evangelie van God se genade ontvang en op geen ander wyse nie.
Rom.6:13 “En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, (fase twee, naamlik heiligmaking)maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat (alreeds)uit die dode lewend geword het, (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte wat alreeds afgehandel is)en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God.” (Fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap, wat slegs na afloop van aanvanklike wedergeboorte deur voortgesette dade van geloof toenemend kan plaasvind.)
Ter afsluiting: Om hierdie rede is dit van uiterste belang om teksgedeeltes binne hulle korrekte konteks, asook binne die raamwerk van die gegewe dispensasie, en in die lig van God se progressiewe openbaring, soos wat ons dit in die Skrifte vind, te bestudeer en deur geloof in die krag van die Heilige Gees in ons lewens toe te pas. (wat dade van voortgesette geloof vereis.) Om bogenoemde feite te verontagsaam kan tot ernstige misleiding aanleiding gee. Ons, moet altyd die Ou Testamentiese openbarings in die lig van die korrekte dispensasie bestudeer, en onthou dat God Sy raadsplan, op ‘n progressiewe wyse, met verloop van tyd in die Skrifte bekend gemaak het. Bestudeer altyd die Ou Testamentiese skrifte in die lig van die Nuwe Testamentiese openbarings, veral in die lig van die briewe wat direk aan die Kerk gerig is. Sodanige optrede sal verhoed dat ons verkeerdelik leerstellings wat op die Dispensasie van die Wet van toepassing is, met leerstellings wat op die Dispensasie van die Kerk van toepassing is met mekaar verwar of vermeng. Omrede jy nou tydens die Dispensasie van die Kerk leef kan jy vrylik alle kossoorte wat aan jou voorgesit word met danksegging geniet. Onthou jy is nie onder die Wet nie maar onder genade.
Seën Groete
Vic