Ons lewe in ‘n tydperk waar die evangelie van God se genade meedoënloos van alle kante af aangeval word. Selfs in die protestantse kamp tref ons mense aan wat die evangelie van God se genade op ‘n subtiele wyse aanval deur om terme soos “geloof” te herdefinieer. Geloof is nie ‘n komplekse konsep nie, en beteken heel eenvoudig om vas oortuig daarvan te wees dat ‘n gegewe stelling of proposisie waar is. Om enige iets anders by die die betekenis van die term “geloof” te voeg is om met die apostel Paulus oor die aard van geloof in botsing te kom. Met die skryf van hierdie artikel sal ons hierdie subtiele maar uiterste gevaarlike aanval op die evangelie van God se genade ondersoek en blootlê.
John MacArthur is seker een van die bekendste voorstanders van Heerskappy Verlossing (Lordship Salvation) wat die Bybelse konsep van geloof geherdefinieer het. Hy beweer byvoorbeeld dat geloof nie van gehoorsaamheid geskei kan word nie. Dit maak nie saak hoe ongewens ongehoorsaamheid ook al mag wees nie, mens kan nie geloof in die Skriftuurlike sin van die woord verander om werke in te sluit nie. In sekere kontekste behoort geloof tot goeie werke aanleiding te gee, maar dit beteken nie dat mens die doen van goeie werke in die omskrywing van geloof kan insluit nie. Volgens MacArthur sluit ware geloof die determinasie om gehoorsaam te wees in. Daar is mense wat selfs verder gaan en verklaar dat werke van gehoorsaamheid inherent deel van ware geloof uitmaak. Hulle sal byvoorbeeld beweer dat ‘n persoon wat die evangelie geglo het, en hom nie daarna laat doop nie, nie werklik reddende geloof beskik nie en dus nie wedergebore kan wees nie. Net soos John MacArthur en baie ander “Protestante”, wat die dwaallering van Heerskappy Verlossing voorstaan, maak hierdie mense basies dieselfde fout deur om indirek ‘n werke evangelie te verkondig. Dit is ‘n jammerte, want so baie van die oorspronklike Protestante het met hulle lewens geboet juis omrede hulle die werke evangelie van die Rooms-Katolieke kerk teëgestaan het. Net soos die Rooms-Katolieke Kerk poog hierdie mense om goeie werke deel van die definisie van geloof te maak en sodoende wil hulle op ‘n baie subtiele wyse goeie werke ‘n vereiste vir die ontvangs van die gawe van die ewige lewe maak. Dit is tragedie, en dit gaan ernstige gevolge inhou vir diegene wat die herdefiniëring van geloof gaan aanvaar en toepas.
Die Skrifte laat nie so ‘n herdefiniëring van die term “geloof” toe nie. Bybelse geloof sluit nie ‘n determinasie om gehoorsaam te wees, of enige ander werk in nie. Reddende geloof is om die Here Jesus Christus se Persoon en voltooide werk aan die kruis te glo/vertrou en in Hom alleen te rus. Die Here Jesus Christus het al die werk gedoen, al wat ons moet doen is om hierdie feit te glo, en volkome op Hom te vertrou om ons van die gevolge van ons sondes (die ewige poel van vuur) te verlos, omrede ons weet dat Hy deur Sy voltooide werk aan die kruis ons wel volkome van die gevolge van ons sondes verlos het. Niks meer nie!
Onthou, ons moet ons definisie van geloof vanuit die Skrifte bekom, en woorde verstaan soos wat die Bybelskrywers daardie woorde verstaan en gebruik het toe hulle die God se woord op skrif gestel het. Dit is duidelik dat Paulus nie werke van gehoorsaamheid as integrale deel van geloof beskou het nie, anders sou hy nie geloof met werke gekontrasteer het nie. Gal.3:5 illustreer hierdie feit baie duidelik, naamlik:
“Hy wat julle dan die Gees verleen en kragte onder julle werk, doen Hy dit uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?” (Gal.3:5)
Indien werke deel van geloof is, hoe kon Paulus dan geloof met werke kontrasteer? Die rede hiervoor is eenvoudig. Werke vorm nie deel van die betekenis van geloof nie. Inteendeel, geloof het niks met werke te make nie. Ongelukkig het die mense wat hulleself aan hierdie vergryp skuldig gemaak het, op ‘n sinistere wyse die Evangelie van God se genade in ‘n ander Evangelie verander. ‘n Evangelie wat niemand sal red nie en wat deur God vervloek is, naamlik:
“Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe, terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai. Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees! Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees!” (Gal.1:6-9)
Voorstanders van werkheiligheid besef dat teksgedeeltes soos Gal.2:16 en vele ander dit duidelik stel dat die mens die ewige lewe ontvang slegs op grond van ons geloof in Christus. (wat die proposisionele feite aangaande Sy Persoon, en voltooide werk aan die kruis, asook Sy opstanding vanuit die dood insluit.)
Gal. 2:16 “terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.
Gal.3:24 Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof.
En daarom poog hulle om die betekenis van geloof te herdefinieer om werke van gehoorsaamheid, soos byvoorbeeld die waterdoop in te sluit. Hulle maak dan van die brief van Jakobus asook Abraham se bereidwilligheid om sy seun aan God te offer gebruik as voorbeeld van hoe ware geloof moet lyk. Wat hulle egter versuim om te noem is dat Abraham alreeds deur God geregtig verklaar is dekades voordat hy bereid was om Isak te offer.
Gen.15:3 “Verder het Abram gesê: Aan my het U geen nageslag gegee nie; so sal dan die bediende van my huis my erfgenaam wees. 4 Toe kom die woord van die HERE tot hom en sê: Hierdie een sal jou erfgenaam nie wees nie, maar die een wat uit jou liggaam sal voortkom, hy sal jou erfgenaam wees. 5 Daarop lei Hy hom uit na buite met die woorde: Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel. En Hy sê vir hom: So sal jou nageslag wees. 6 En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.”
Het Abraham enige daad verrig om deur God geregtig verklaar te word? Die antwoord is nee, hy het God se belofte aan hom geglo en niks anders nie. Dit is duidelik dat geloof in hierdie geval passief van aard was. Die persoon glo net wat hy hoor en niks meer as dit nie. Goeie werke van gehoorsaamheid vorm dus nie ‘n integrale deel van geloof nie. Om iets anders as dit te verkondig is om werke op ‘n subtiele wyse deel van die Evangelie te maak, en so word die Evangelie van God se genade in ‘n werke evangelie verander. Boonop is daar vele ander teksgedeeltes in die Skrifte wat hierdie feit bevestig, naamlik: Rom.4:5; Joh.3:36; Joh.6:35; Joh.6:40; Joh.11:26; 1Joh.5:12-13; Joh.3:16. Enige persoon wat werke van gehoorsaamheid deel van geloof maak verander die betekenis van geloof in iets anders as wat God met die term geloof in die Bybel bedoel het.
En boonop tussen die tyd toe God, Abraham geregtig gereken het, en die tyd toe Abraham bereid was om Isak te offer het hy herhaaldelik gesondig. Hy en Sara het a.g.v. ongeloof self planne gemaak om ‘n nageslag te bewerkstellig en Ismael is gebore wat verreikende gevolge vir die Joodse nasie ingehou het. Selfs vandag nog is daar haat vanuit die nasate van Ismael teenoor die Jode. Kyk maar wat in die Middeooste aangaan. Boonop het Abraham nie in Kanaan gebly soos wat die Here hom beveel het nie, maar toe dit begin moeilik gaan het hy na Egipte afgegaan en daar oor sy vrou gejok en sodoende toegelaat dat sy in ‘n ander man se harem opgeneem is. Was dit nie vir die Here se ingryping nie, sou die heerser van Egipte met Sara egbreuk gepleeg het en dit op grond van Abraham se ongeloof en leuens. Mense wat werke inherent deel van geloof wil maak noem egter nie hierdie voorbeelde van Abraham se ongeloof as voorbeelde van Abraham se geloof nie. Die eenvoudige feit is dat Abraham deur God geregtig gereken is toe Abraham absoluut niks gedoen het behalwe om God se belofte aan hom te glo, lank voordat hy bereid was om Isak te offer. Dit kan dus aangeneem word dat Abraham alreeds ‘n gelowige was toe die Here hom aangesê het om Isak te offer. Abraham was toe alreeds in fase twee van sy verlossing, naamlik heiligmaking. Fase een naamlik regverdiging in God se oë is dekades lank al afgehandel gewees. Toe Abraham bereid was om Isak te offer, was hy alreeds God se kind en het homself in fase twee, naamlik heiligmaking bevind waar daar van voortgesette dade ven geloof van sy kant af verwag was om goeie werke voor te bring. (nie om die ewige lewe te bekom, of te behou nie, maar om die Here te verheerlik, deurdat Abraham as ‘n gelowige deur die mense om hom erken kon word, en sodoende deur hulle as God se vriend gereken is.) In sekere instansies het hy gefaal en in ander het hy geslaag. Toe hy bereid was om Isak te offer was hy as God se vriend bestempel omrede hy alreeds God se kind was. Daar is wel ‘n verskil. Ek kan byvoorbeeld my pa se kind wees, maar op dieselfde tyd nie gemeenskap met my pa geniet nie. In hierdie opsig is ek nie sy vriend nie, en die mense oms ons, sal my nie as my pa se vriend bestempel nie. Dit beteken geensins dat ek nie sy kind is nie. Ek is. Indien ons (alle gelowiges) na aanvanklike wedergeboorte God deur voortgesette dade van geloof gehoorsaam navolg, sal die mense om ons, ons ook as God se vriende kan bestempel.
Werke van geloof behoort op die hakke van geloof te volg, net soos wat die brief van Jakobus dit duidelik stel. Dit is en bly egter ‘n feit dat die brief van Jacobus aan gelowiges geskryf is wat hulleself alreeds in fase twee van hulle verlossing, naamlik heiligmaking bevind het. Om vir ‘n ongeredde persoon te sê dat hy werke van geloof moet voortbring is sinneloos. Die enigste werk wat ‘n ongelowige kan doen om God te behaag is om die Evangelie te glo. Ongelukkig is die brief van Jakobus heeltemal verkeerd verstaan, en daarom het dit tot ernstige mistastings aangaande die mens se verlossing, op grond van God se genade, deur geloof alleenlik aanleiding gegee en baie mense het werke deel van geloof gemaak. Indien mens besef dat Jakobus aan gelowiges gerig is, en nie aan ongelowiges nie, dan word dit duidelik dat hy hoofsaaklik oor die fase twee van die gelowige se verlossing, naamlik heiligmaking praat. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Geloof sonder werke is dood? ” asook “Sewe vorme van dood in die Bybel” te lees. Maar die feit bly staan dat die enigste werke wat ‘n ongelowige kan doen is om die Evangelie te glo.
Joh.6:28 “Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring? 29 Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het.”
Die ewige lewe is ‘n gawe en menslike werke het niks daarmee te doen nie. Slegs geloof is by God aanvaarbaar.
Goeie werke nie noodwendig bewys van ware geloof nie:
Daar is teoloë wat beweer dat goeie werke altyd sal manifesteer waar ‘n persoon oor reddende geloof beskik. Alhoewel hulle sal beweer dat hulle nie werke deel van die evangelie maak nie, maak hulle wel werke implisiet deel van geloof, omrede hulle die doen van goeie werke as bewys van ware geloof maak. Dus vorm goeie werke, volgens hulle siening, ‘n onontbeerlike deel van ware geloof. Volgens hulle is daar nie ware geloof as daar nie goeie werke is nie. Alhoewel hulle dit nie sal erken nie, maak hulle egter goeie werke deel van geloof en is niks anders as ‘n vindingryke manier om werke deel van die Evangelie van God se genade te maak nie. Deur om goeie werke ‘n essensiële deel van geloof te maak, het hulle die betekenis van die term “geloof” in iets anders verander as wat die skrywers van die Bybel met die terme “geloof” en sy werkwoord “glo” bedoel het.
Hulle ontken dat hulle goeie werke deel van die Evangelie van God se genade maak, maar wat hulle egter nie mooi besef nie, is dat die skrywers van die Bybel herhaaldelik die voorstanders van Werkheiligheid se leerstelling, wat werke ‘n integrale deel van geloof wil maak, weerspreek, naamlik:
“Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.” (Rom.3: 28)
Dit is ‘n kontradiksie van terme om te beweer dat ‘n persoon die ewige lewe ontvang deur slegs in die Evangelie te glo, en dit sonder die doen van enige werke, en dan op dieselfde tyd goeie werke deel van die definisie van geloof te maak. Indien dit die geval was sou Paulus nie geloof met menslike werke kon kontrasteer nie. Ons merk egter dat Hy herhaaldelik in sy briewe juis geloof met werke kontrasteer. Om goeie werke op ‘n subtiele wyse deel van die omskrywing van geloof te maak, is om ‘n bespotting van die Bybelskrywers se stellings, dat verlossing slegs op grond van God se genade, deur geloof, sonder die doen van enige werke bekom word te maak. Boonop hou hierdie herdefiniëring van geloof ernstige implikasies vir mense in. In effek glo hulle dan in niks anders as ‘n werke evangelie wat niemand sal kan verlos nie. Vervolgens ‘n paar voorbeelde wat as onbetwisbare bewys dien dat goeie werke nie deel van die definisie van geloof gemaak kan word nie.
Rom.4:5 “aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.
Rom.3:20 aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.
Rom.3:27 Waar is dan die roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Van die werke? Nee, maar deur die wet van die geloof.
Rom.4:6 Soos Dawid ook die mens salig spreek aan wie God geregtigheid toereken sonder werke:
Gal.2:16 terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.
Gal.3:10 Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie.”
Goeie werke is nie inherent deel van geloof nie:
Voordat die apostel Paulus gelowiges aangemoedig het om goeie werke deur geloof deur die instaatstellinde krag van die Heilige Gees te verrig, het hy altyd eers die teologiese grondslag van hulle verlossing, naamlik geloof in die Evangelie, (fase een van hulle verlossing) as die fondament gelê waarop hulle deur heiligmaking/dissipelskap, (fase twee van hulle verlossing) wat voortgesette werke van geloof insluit, kon voortbou. Die Skrifte stel dit egter duidelik dat daar altyd die moontlikheid bestaan dat ‘n gelowige in ‘n toestand van rebellie teen God, waar daar geen goeie werke na afloop van wedergeboorte verrig is nie, tot sterwe kan kom wat sou beteken dat die gelowige se werke by die Regterstoel Oordeel van Christus verbrand sal word, maar die gelowige self sal nog steeds in ‘n soteriologiese sin verlos wees, naamlik:
“Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels — elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen. Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?” (1Kor.3:11-16)
Omrede die proponente van Heerskappy Verlossing met ‘n vooropgestelde leerstelling die Skrifte nader, het hulle konsepte soos byvoorbeeld toegeeflikheid, gehoorsaamheid, bekering van sonde, onderdanigheid, asook totale oorgawe aan God by die eenvoudige betekenis van geloof gevoeg, en sodoende het hulle die betekenis van die woorde “glo” en “geloof” totaal en al verander. Omrede daar addisionele betekenisse in die konsep van geloof ingelees is, het hulle die betekenis wat die oorspronklike skrywers van die Bybel met die woord “geloof” bedoel het heeltemal verander. Omrede daar nou addisionele vereistes by die konsep van geloof gevoeg is, sal daar egter verreikende gevolge vir diegene inhou wat die veranderde vorm van die woord “geloof” so verstaan en toepas. Hulle sal dus indirek in ‘n werke evangelie glo wat niks anders as ‘n moderne vorm van Fariseïsme is nie.
Persone wat verdere vereistes soos byvoorbeeld gehoorsaamheid, onderdanigheid, bekering van sondes, goeie werke ens by die oorspronklike betekenis van geloof voeg, volg onwetend die weë van die Rooms Katolieke Kerk, wat ‘n werke evangelie verkondig, en wat tydens die konsilie van Trente ‘n vloek op enige persoon geplaas het wat verklaar dat reddende geloof niks meer as vertroue in die voltooide werk van Christus aan die kruis is nie. Die voorwerp van ons geloof is en bly die Here Jesus Christus, wat die proposisionele feite aangaande sy dood aan die kruis vir ons sondes, en Sy opstanding vanuit die dood insluit. Om ons geloof van die Here Jesus Christus af te haal en dit op onsself, ons werke of selfs on eie geloof te plaas, is om ons geloof in die verkeerde voorwerp te plaas wat verreikende gevolge vir ons kan inhou. Ons moenie geloof in ons geloof hê nie maar geloof in Christus!
Daar moet gelet word dat die Griekse woorde “pisteuõ” (werkwoord) en “pistis” (selfstandige naamwoord) geensins die idee van gehoorsaamheid, ‘n persoon se bereidwilligheid of begeerte om sy weë te verander, of om van enige sonde af te sien insluit nie. Jesus se gesprek met die vrou by die put in Joh. 4:21 dien as goeie illustrasie van hierdie feit, naamlik:
“Jesus sê vir haar: “Vrou glo My, daar kom ‘n uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie.”
Die Here het haar dus versoek om Sy stelling te glo, wat beteken dat Hy die waarheid praat. Nêrens in hierdie hele gesprek wat die Here met die vrou by die put gevoer het, het hy enigsins vir haar gesê om haar weë te verander nie. Dit beteken geensins dat sy nie later haar weë moes verander het nie. Sy moes! Maar dit sou eers in enige betekenisvolle sin kon plaasvind nadat sy alreeds wedergebore geraak het, nie voor die tyd nie. Om haar weë te verander het agter niks met Sy versoek om Hom te glo te make nie en enige moontlike werke van haar kant af vorm dus geen deel van Sy versoek om Hom te glo nie.
In hierdie konteks beteken “pisteuõ” slegs “glo My” wat niks met die begeerte om op te hou sonde pleeg te make het nie. Geloof is dus ‘n intellektuele oefening en het nie noodwendig met die wegdraai van sondes of gehoorsaamheid te make nie. Ons kan byvoorbeeld iets glo en op dieselfde tyd teenstrydig met ons geloof optree. ‘n Voorbeeld vanuit die alledaagse lewe sal hierdie feit mooi illustreer. Daar is herhaaldelik deur medici verklaar dat ooreet nadelig vir mens se gesondheid is. Ek kan bewus van hierdie feit wees, en vas daarvan oortuig wees dat ooreet nalatig vir my gesondheid sal wees. Ek beskik dus in hierdie sin geloof in die medici se proposisie en dit is al wat geloof werklik behels. Ek kan, en het al egter op baie geleenthede, ten spyte van my geloof in die medici se waarskuwing, myself willens in wetens ooreet. Ek beskik dus in hierdie sin oor ware geloof, maar ek tree willens en wetens teen my geloof in op. Ons almal maak onsself die een of ander tyd aan hierdie soort van optrede skuldig. Indien goeie werke, en die vereiste om op te hou sonde pleeg, deel van die inhoud van geloof vorm, dan sal nie een mens ooit gered kan word nie, want nie een van ons gehoorsaam God in alle opsigte, ten alle tye, volkome nie. In hierdie opsig het die voorstanders van werkheiligheid die oorspronklike betekenis van geloof, soos wat die skrywers van die Bybel die term “geloof” verstaan het, heeltemal verander wat niks anders is as nog ‘n verdere aanslag op die Evangelie van God se genade beskou kan word nie.
Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. (Heb.11:1)
Die woord geloof beteken in kort, om te glo dat iets waar is en derhalwe is dit om vertroue in die voorwerp waarin geglo word te hê. Niks meer nie.
Reddende geloof soos wat die Bybel dit omskryf, is eenvoudig die aanvaarding van die meriete wat die Here Jesus Christus aan die kruis vir die mensdom bewerkstellig het. Die toeëiening van Christus se meriete is ‘n passiewe daad waardeur die gelowige die gawe van die ewige lewe deur geloof by God ontvang. Die Here Jesus Christus het aan die kruis finaal die probleem van die mensdom se sonde opgelos. Hy het alles gedoen en daarom kan ons niks tot Sy voltooide werk aan die kruis vir ons byvoeg nie. Indien ‘n persoon enige menslike werke, op enige wyse, by die voltooide werk van Christus aan die kruis byvoeg, verklaar hy deur sy optrede dat Christus se voltooide werk aan die kruis nie voldoende was nie. Dit is niks anders as ‘n vorm van ongeloof nie. (Gal.3:5)
Na aanvanklike wedergeboorte, met die wete dat hulle hulleself nou in fase twee van hulle verlossing, naamlik die heiligmaking fase bevind, word voortgesette dade van geloof van gelowiges verwag, sodat hulle geloof ‘n praktiese uitdrukking in die uitleef van hulle lewens vind, waarvan Heb.11:7- 40 ‘n mooi voorbeeld is. (die leser word aangeraai om self die genoemde teksgedeelte te lees, omrede dit te lank is om hier weer te gee.)
Indien gelowiges na aanvanklike wedergeboorte werke deur geloof voortbring, sal hulle ryklik voor die Regterstoel Oordeel van Christus vir daardie werke met genadeloon beloon word, wat vir ewig deel van daardie gelowige se erfporsie sal bly. Indien ‘n gelowige nie getrou in hierdie opsig is nie, sal hy met leë hande by die Regterstoel Oordeel van Christus moet weggaan, maar hyself sal nooit verlore kan gaan nie, omrede so ‘n gelowige met Heilige Gees verseël is wat sy ewige verlossing in al drie fases waarborg.
Ef.4:30 “En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.” (wanneer al drie fases van die gelowige se verlossing finaal afgehandel sal wees. Die leser word aangeraai om die artikel “Drie fases van verlossing” asook “Ewige sekuriteit van die gelowige” te lees.)
Bostaande teksgedeelte verpletter heeltemal die leerstelling wat deur hoofsaaklik moderne Arminianisme verkondig word dat gelowiges, na aanvanklike wedergeboorte, uit genade kan verval en verlore kan gaan.
Moet dus nie te vinnig oordeel nie:
Omrede dit vanuit die Skrifte duidelik is dat gelowiges soms net soos ongelowiges kan optree, is dit net logies dat daar gelowiges is wat net soos die ongelowiges om hulle kan lyk. Mens moet dus versigtig wees om op grond van ‘n persoon se optrede te verklaar dat daardie persoon ongered is, omrede hy in ‘n voortgesette toestand van sonde leef. ‘n Mooi voorbeeld hiervan is die man wat sy stiefma as vrou gehad het, naamlik:
“‘n Mens hoor waarlik van hoerery onder julle, en hoerery van so ‘n aard as wat selfs onder die heidene nie bekend is nie: dat iemand die vrou van sy vader het.” (1Kor.5:1)
Dit sou maklik wees om so ‘n persoon as ongered te oordeel, maar indien mens die konteks waarin hierdie gebeure plaasgevind het in ag neem, is dit duidelik dat die persoon wel ‘n gelowige was. Om hierdie rede het Paulus die gemeente beveel om die spesifieke gelowige uit die gemeente te sit, en hom aan Satan oor te gee, met die doel om die persoon tot sy sinne te bring, naamlik:
“En tog is julle opgeblase in plaas dat julle liewer getreur het, sodat hy wat hierdie daad gedoen het, kan verwyder word onder julle uit. 3 Want wat my betref, het ek, liggaamlik afwesig maar in die gees teenwoordig, alreeds besluit asof ek teenwoordig was, om hom wat so iets gedoen het, 4 in die Naam van onse Here Jesus Christus, as julle vergader het en my gees saam met die krag van onse Here Jesus Christus — 5 om so iemand aan die Satan oor te lewer tot verderf van die vlees, sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus.” (2Kor.5:2)
Die sonde waaraan die man homself aan skuldig gemaak het, is die sonde wat tot fisiese dood aanleiding kon gee, wat beteken dat die Here die Satan sou toelaat om die persoon se vlees te vernietig, maar die gelowige self sal gered bly, omrede hy alreeds in Christus is, en die gawe van die ewige lewe, as geskenk, by God deur geloof ontvang het. Ons weet dat die betrokke persoon wel tot sy sinne gekom het, waarop Paulus die gemeente aangemoedig het om die persoon te vergewe en hom weer in die gemeente toe te laat, naamlik:
“Vir so iemand is daardie bestraffing deur die meerderheid genoeg; sodat julle daarenteen hom liewer moet vergewe en vertroos, dat so iemand nie miskien deur al te groot droefheid verteer word nie. Daarom vermaan ek julle om die liefde aan hom te bevestig. Want daarom het ek ook geskrywe om julle beproefdheid te weet, of julle in alles gehoorsaam is. Aan wie julle iets vergewe, vergeef ek ook; want wie ek ook vergeef het — as ek iets vergeef het — dit was om julle ontwil voor die aangesig van Christus, sodat ons nie deur die Satan bedrieg sou word nie; want ons is met sy planne nie onbekend nie. (2Kor.2:6-11)
Dit is vanuit die briewe aan die Korinthiërs ook duidelik dat daar alreeds gelowiges was wat a.g.v. hulle voortgesette rebellie teen God tot sterwe gekom het. Daar is egter geen indikasie in die Bybel dat hierdie mense verlore gegaan het nie, maar hulle werke sou by die Regterstoel Oordeel van Christus verbrand word maar hulleself sal gered wees, naamlik:
“Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap. Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie. Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.” (1Kor.11)
Indien menslike werke deel van die omskrywing van geloof vorm, sou teksgedeeltes soos hierdie sinneloos wees, en sou daar nooit gelowiges wees wat met fisiese dood vir hulle voortgesette sondes getugtig kon word nie.
Dit is fassinerend om te sien hoe gereeld gelowiges gewilliglik ander gelowiges vir ‘n spesifieke sonde as ongered veroordeel, net vir dieselfde persoon om dan om te draai en dan onmiddellik van ander mense te gaan skinder of hulleself aan die een of ander sonde skuldig te maak. Paulus waarsku ons om nie te haastig te wees om ander as ongered te veroordeel nie, omrede ons nie werklik weet wat in ‘n ander persoon se hart aangaan nie. (ons moet wel die sonde oordeel maar nie die persoon se ewige stand voor God oordeel nie)
1Kor.4:5 “Daarom moet julle nie voor die tyd oordeel, voordat die Here kom nie, wat die verborge dinge van die duisternis in die lig sal bring en die bedoelinge van die harte openbaar sal maak; en dan sal elkeen lof van God ontvang.”
‘n Persoon se optrede is nie noodwendig ‘n getroue indikator of ‘n persoon gered is of nie. Ons almal se optredes verskil van oomblik tot oomblik, en hierdie feit maak ‘n korrekte gevolgtrekking aangaande daardie persoon se stand voor God ‘n moeilike proses. Die beste metode om vas te stel of ‘n persoon wel oor reddende geloof beskik, is om spesifieke vra aangaande die Evangelie aan daardie persoon te rig. Glo hy byvoorbeeld dat Christus die seun van God is, Wie vir al sy sondes (verlede, hede en toekomstige sondes) voor ‘n regverdige God versoening gedoen het en op die derde dag vanuit die dood uit opgestaan het? Glo die persoon dat die Here Jesus Christus vir al sy sondes aan die kruis versoening gedoen het of glo hy dat daar ‘n sonde is wat hy na aanvanklike wedergeboorte kan doen wat kan veroorsaak dat hy die gawe van die ewige lewe kan verbeur? (dit sluit dade van ongeloof na aanvanklike wedergeboorte in) Indien ‘n persoon glo dat hy ‘n sonde na aanvanklike wedergeboorte kan pleeg wat sou veroorsaak dat hy die ewige lewe kan verbeur, dan bestaan daar wel ‘n groot moontlikheid dat die persoon nie oor reddende geloof beskik nie. Dit geld ook vir mense wat enige vorm van menslike werke by slegs geloof in die evangelie voeg. (dit sluit die waterdoop, in vreemde tale praat ens in.)
Indien ‘n persoon verklaar dat hy glo dat die doop of enige ander menslike werk deel van die Evangelie van God se genade uitmaak, en dat sonder die doen van hierdie werk niemand gered sal word nie, dan kan daardie persoon se posisionele stand wel bevraagteken word, en sou dit wys wees om daardie persoon sover te kry om slegs op die enigste waardige voorwerp van sy geloof te fokus, naamlik die Here Jesus Christus (wat die proposisionele feite aangaande Sy voltooide werk aan die kruis vir hom en Sy opstanding vanuit die dood insluit.) Werkheiligheid haal die fokus van die korrekte voorwerp van geloof, naamlik die Here Jesus Christus en Sy voltooide werk aan die kruis af, en plaas dit op die mens en sy werke. Werkheiligheid is ‘n ernstige mistasting en plaas so ‘n persoon in ‘n kategorie van moderne Fariseïsme. Onthou, die Fariseërs wou hulle eie geregtigheid bewerkstellig en daarom het hulle geweier om na die Here Jesus Christus om verlossing te gaan. In hierdie opsig geld die Here se oordeel ook aan enige persoon wat enige vorm van werke evangelie verkondig of voorstaan. Dit sluit die proponente van Heerskappy Verlossing en werkheiligheid in. Dit was juis die godsdiensleiers van die dag wat veral aan die ontvangskant van Christus se skerpste kritiek was, naamlik:
“Maar wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie.”
Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle trek rond oor see en land om een bekeerling te maak; en as hy dit geword het, maak julle hom ‘n kind van die hel, twee maal erger as julle self. (Mat.23:13,15)
Wat ons vandag in ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom waarneem is niks anders as ‘n moderne vorm van Fariseïsme wat ook streng deur die Here Jesus Christus veroordeel sal word. Ongelukkig maak hierdie mense, net soos die moderne Jodedom van vandag, hulleself nog steeds aan hierdie dwaalleerstelling skuldig, naamlik:
“Broeders, die verlange van my hart en die gebed wat ek tot God vir Israel doen, is tot hulle redding. Want ek getuig van hulle dat hulle ‘n ywer vir God het, maar sonder kennis. Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie. Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo.” (Rom.10:1-4)
‘n Groot gedeelte van die belydende Christendom maak hulleself aan hierdie mistasting skuldig al sal hulle dit nie wil erken nie.
‘n Persoon moet slegs die evangelie glo om wedergebore te raak en na wedergeboorte moet hy d.m.v. die lewenslange proses van heiligmaking van sy sondes bekeer en goeie werke doen soos wat die Heilige Gees aan hom openbaar.
Ef.2:8 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; (fase een van ons verlossing naamlik wedergeboorte, wat op ‘n gegewe punt in tyd plaasvind) 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. 10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus (alle ware gelowiges wat op ‘n spesifieke punt in tyd oor reddende geloof beskik het) tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.(fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap wat ‘n lewenslange proses is.)Ons moet daarteen waak om nie die vereistes vir wedergeboorte (verlossing vase een) met die vereistes om heiligmaking (verlossing fase twee) te verwar nie. Boonop moet ons daarteen waak om die menslike werke deel van die omskrywing van geloof te maak.
Ter afsluiting: Wettiesheid word aangespreek deur om jou posisionele identiteit in die Here Jesus Christus te verstaan, en in geloof te aanvaar dat jy nou vir die wet gesterf het. (fase een van jou verlossing, naamlik wedergeboorte) Omrede jy van die wet verlos is, is jy ook nou van alle pogings om in eie krag voor God geregverdig verklaar te word vrygestel en dit sluit jou ewige sekuriteit in Christus in. Jy is boonop ook van enige poging, om in jou eie krag, heiligmaking, asook ware spiritualiteit te bewerkstellig vrygestel, omrede jy deur die geloof in Christus is, en die Heilige Gees sal in en deur jou werk om jou toenemend in die beeld van Christus te verander, en soos wat die Heilige Gees jou lei so behoort jy Hom te eer en gehoorsaam. (Romeine 7) (fase twee, naamlik heiligmaking) Die hele leerstelling van werkheiligheid is in stryd met God se genade, asook die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis.
Die ware Christelike lewe is deur God ontwerp om uit ‘n daaglikse, persoonlike, vertikale gemeenskap met God te bestaan. Hierdie verhouding moet op die gelowige se identifikasie met die Here Jesus Christus gebaseer wees, en behoort hoofsaaklik deur die Here Jesus Christus se liefde vir die gelowige gemotiveer te wees. (fase een van verlossing, naamlik wedergeboorte) In genade verskaf die Here ook dan die krag aan die gelowige om sodanige verhouding met God te handhaaf en geniet. Hierdie gemeenskap-verhouding ontwikkel soos wat die gelowige in geloof op God en Sy woord reageer en Hom gehoorsaam dien. Soos wat die gelowige ywerig na die Here soek, met die doel om Hom getrou as dissipel te volg, ontwikkel die gelowige geestelik om toenemend gelykvormig aan die Here Jesus Christus se beeld te word. (fase twee, naamlik heiligmaking) Toenemende gelykvormigheid aan Christus se beeld sal daartoe aanleiding gee dat die gelowige in liefde vrugbare diens aan ander sal lewer met die doel om God sodoende te verheerlik. (Waarvoor die Here die gelowige ryklik by die Regterstoel Oordeel van Christus sal beloon)
Onthou mense se siele is op de spel. Die grootste stryd word nie met menslike wapens gevoer nie, maar met woorde, en daarom moet ons die Evangelie van God se genade korrek verkondig en dit met al ons vermoeë teen aanvalle daarteen verdedig.
2Tim.2:15 “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.”
2Tim.41 “Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: 2 verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; 3 want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, 4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. 5 Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.”
Seën groete!