Omrede die Sewendedag Adventiste Kerk nie ‘n skriftuurlike onderskeid tussen die Kerk en Israel tref nie maak hulle die fout deur om fasette wat slegs vir die Dispensasie van die Wet gegeld het met die fasette wat slegs vir die Dispensasie van die Kerk/Genade geld te vermeng. Daarbenewens maak hulle nie van gesonde beginsels van eksegese gebruik om hulle leerstelling oor eindtydse gebeure (eskatologie) te bepaal nie, en verdraai sodoende die Bybelse leerstelling van eindtydse gebeure wat die leerstelling van Israel as God se verbondsvolk insluit. So ontneem hulle, hulle lidmate van een van die duidelikste tekens dat ons die einde van die Kerk Dispensasie vinnig nader en maak dit vir hulle moeilik om die gebeure wat ons nou rondom Israel (en die wêreld) waarneem korrek te interpreteer. Die hervestiging van Israel in hulle land, waar hulle die verskriklike oordele van die Verdrukking afwag, en waarna hulle weer as volk met God versoen sal word, word sodoende heeltemal deur die Sewendedag Adventiste geïgnoreer. Omrede Sewendedag Adventiste verkeerdelik die kerk met die volk Israel vereenselwig gee dit daartoe aanleiding dat hulle die Wet van Moses, wat sabbatsonderhouding insluit, met die Wet van Christus verwar en kyk sodoende die feit die Here Jesus Christus ons Sabbatsrus is heeltemal mis. Die Sewendedag Adventiste se hele leerstelling van Saterdag sabbatsonderhouding is dus op totaal verkeerde aanname gebaseer omrede hulle verkondig dat die kerk ‘n voortsetting van Israel is. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Het die Kerk die volk Israel as God se Verbondsvolk vervang?” sorgvuldig deur te lees, waar daar vanuit die skrifte bewys word dat die Kerk nie Israel is nie, maar eerder ‘n hele nuwe entiteit is wat op pinksterdag ontstaan het. Die leser word ook aangeraai om die artikel “ Die Sabbatdag Kontroversie” te lees waarin ook baie belangrike inligting te vinde is en wat nie noodwendig in hierdie artikel herhaal sal word nie.
Kom ons gaan haal eers punt 19 van “Wat Sewendedag Adventiste glo” aan en bespreek hulle leerstelling van sabbatsonderhouding, naamlik:
“Die Sabbat: Die weldadige Skepper het, na die ses dae van die Skepping, op die sewende dag gerus en die Sabbat vir alle mense ingestel as ‘n aandenking aan die Skepping. Die vierde gebod van die onveranderlike wet van God vereis dat die sewendedag-Sabbat as rusdag gehou moet word, vir aanbidding en bediening ooreenkomstig die leer en gebruik van Jesus, die Here van die Sabbat. Die Sabbat is ‘n dag van heuglike gemeenskap met God en met mekaar. Dit is ‘n simbool van ons verlossing in Christus, ‘n teken van heiliging, ‘n teken van ons trou, en ‘n voorsmaak van ons ewige toekoms in die koninkryk van God. Die Sabbat is God se ewigdurende teken van Sy ewige verbond tussen Hom en Sy kinders. ‘n Vreugdevolle nakoming van hierdie heilige tyd van sononder tot sononder, is ‘n viering van God se skeppende en verlossende dade.” Op bladsy 144 van hulle boekie “Family Bible Studies” hou hulle die vierde gebot, naamlik die verpligting dat die volk Israel die Saterdag Sabbat moet onderhou verkeerdelik aan die Kerk voor.
Ex.31:16 “En die kinders van Israel moet die sabbat onderhou deur die sabbat te vier in hulle geslagte as ‘n ewige verbond. 17 Tussen My en die kinders van Israel is dit vir ewig ‘n teken; want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Hy gerus en Hom verkwik.”
Indien ons egter bostaande teksgedeelte kontekstueel korrek verstaan, dan word dit duidelik dat God nie met die nie-Joodse nasies of die kerk hierdie verbond aangegaan het nie, maar slegs met die volk van Israel. Let op die stelling “Tussen My en die kinders van Israel is dit vir ewig ‘n teken;” Ons moet egter onthou dat die kerk uit slegs wedergebore persone vanuit alle nasies bestaan, en daarenteen is Israel ‘n heeltemal ander entiteit, wat uit geredde sowel as ongeredde Israeliete bestaan en wat met God se reoepng van Abraham tot stand gekom het. Omrede hulle die twee verskillende groepe met mekaar vermeng gee dit tot ernstige leerstellige foute aanleiding. Soos wat ons in die vorige artikel gemerk het kan die Griekse woord wat as “ewig” vertaal is soms ‘n dispensasie of beperkte tyd aandui. Volgens Strong’s (Heb. 5769) beteken die woord “olam” wat ook in Exodus 31:16-17 gebruik word: perpetual, eternal, a long time. Die Griekse weergawe hiervan is “aioon” (Gr. 165) en dit beteken eternal, for ever, an age, a messianic period (present or future).
Die Sewendedag Adventiste se stelling “Die vierde gebod van die onveranderlike wet van God vereis dat die sewendedag-Sabbat as rusdag gehou moet word,” is doelbewus misleidend en weerspreek die Bybel. Onthou, die Wet van Moses wat die Tien Gebooie insluit was deel van die verbond wat God slegs met die volk Israel aangegaan het. Die Bybel stel dit egter duidelik dat die Ou Verbond tot ‘n einde sou kom en met ‘n Nuwe Verbond vervang sou word, naamlik:
Hebr.8:6 “Maar nou het Hy (die Here Jesus Christus volgens die priesterlike orde van Melgisédek) ‘n voortrefliker bediening verkry vir sover Hy ook Middelaar is van ‘n beter verbond wat op beter beloftes wettelik gegrond is. 7 Want as daardie eerste een onberispelik was, sou daar nie plek vir ‘n tweede gesoek word nie. 8 Want Hy berispe hulle (Irsael)en sê: Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond tot stand sal bring, 9 nie volgens die verbond wat Ek met hulle vaders gemaak het op die dag toe Ek hulle aan die hand geneem het om hulle uit Egipteland uit te lei nie; want hulle het nie gebly by my verbond nie, en Ek het hulle veronagsaam, spreek die Here. 10 Want dit is die verbond wat Ek ná dié dae sal sluit met die huis van Israel, spreek die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees. 11 En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer en sê: Ken die Here nie; want almal sal My ken, klein en groot onder hulle. 12 Want Ek sal barmhartig wees oor hulle ongeregtighede en aan hulle sondes en hulle oortredinge nooit meer dink nie. 13 As Hy sê ‘n nuwe verbond, het Hy die eerste oud gemaak; en wat oud word en verouder, is naby die verdwyning.”
Die Here Jesus Christus se kruisdood het die grondslag vir die Nuwe Verbond gelê, en wanneer die volk Israel met Christus se wederkoms Hom as hulle Messias aanvaar dan sal bostaande profesie volkome in vervulling gaan.
Die skrywer van die Brief aan die Hebreërs het dit duidelik gestel dat die Levitiese priestersamp, wat deel van die Wet van Moses was, nie volkomenheid voor God kon bewerkstellig nie.
Hebr.7:11 “As daar dan volkomenheid deur die Levitiese priesterskap was — want met die oog daarop het die volk (Israel)die wet ( van Moses)ontvang — waarom was dit nog nodig dat ‘n ander priester moes opstaan volgens die orde van Melgisédek en dat hy dit nie volgens die orde van Aäron genoem word nie? 12 Want met verandering van die priesterskap kom daar noodsaaklik ook verandering van wet;
Die Sewendedag Adventiste vergeet dat ons nie onder die Wet van Moses verkeer nie en dat die Wet van Moses deur die Wet van Christus vervang is. Die Wet van Moses wat uit 613 wette bestaan, en wat die tien gebooie insluit, is deur die Wet van Christus en wat ook as die Wet van die Liefde bekendstaan vervang. In die predikasie in die bovertrek, net voor Sy kruisiging, het die Here Jesus Christus aan Sy dissipels, wie die grondslag van die kerk sou vorm, ‘n nuwe gebod gegee wat beteken dat die nuwe gebod die Ou Testamentiese weergawe daarvan sou vervang, naamlik:
Joh.13:34 “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.”
Let op die stelling “ ‘n Nuwe gebod gee Ek julle”. Die Ou Testamentiese Wet se dae was dus getel, en het met die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis tot ‘n einde gekom. Die geestelike vereistes van die Wet van Christus is baie hoër as die vereistes wat onder die Wet van Moses gegeld het, en daarom ontvang alle gelowiges met die glo van die evangelie die Heilige Gees wat aan hulle die krag gee om die andersins onmoontlike hoë standaarde van die Wet van Christus uit te leef. Ons moet egter onthou dat dit nie die nakoming van enige wet is wat ons red nie maar geloof in die evangelie alleenlik.
Boonop is nege van die tien gebooie, behalwe sabbatsonderhouding, in die Wet van Christus opgeneem en in die briewe wat direk aan die kerk gerig is herhaal. Dit is op grond van die feit dat die Wet van Moses finaal tot ‘n einde gekom het, dat die apostel Paulus die volgende opdrag onder inspirasie van die Heilige Gees aan die kerk gemaak het, naamlik:
Kol.2:16 “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie, 17 wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.”
Die Here Jesus Christus is die gelowige se Sabbatsrus omrede hy alreeds ons verlossing aan die kruis bewerkstellig het. Al wat God van ons verwag is om die evangelie te glo, en om op te hou werk in ‘n poging om ons eie verlossing te bewerkstellig. (wat niks anders as ‘n vorm van ongeloof in die voltooide werk van Christus aan die kruis is nie.) Die Here Jesus Christus het d.m.v. Sy voltooide werk aan die kruis volkome, en vir ewig vir al die sondes van die mensdom versoening gedoen toe Hy op ʼn spesifieke punt in tyd, meer as tweeduisend jaar gelede, vir ons sondes aan die kruis gesterwe het. Die Here het die regterlike vereistes van die wet vervul en verwag nou van ons om in Hom te rus.
Rom.3:20 “aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.
Rom3:28 Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.”
Die Here Jesus Christus is ons Sabbatsrus die oomblik wanneer ons die evangelie glo. Hy het ons deur Sy bloed van alle sonde en ongeregtigheid gereinig, iets wat die wet of Saterdag sabbatsonderhouding nooit sou kon doen nie. In die lig van hierdie feit is dit duidelik waarom Paulus die volgende stelling gemaak het, naamlik:
Rom. 10:4 Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo.”Gal.2:16 terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.”
Dit is ‘n ernstige mistasting om te dink dat ons deur die nakoming van enige wet (wat altyd menslike werke insluit) ons geregtigheid voor God kan bewerkstellig. Ware gelowiges staan op grond van God se genade, deur geloof in die Christus se persoon (wat Sy voltooide werk aan die kruis insluit) en slegs op grond van Sy toegerekende geregtigheid geregverdig voor God en op geen ander wyse nie. Die mens sal nooit deur wetsnakoming of goeie werke van enige aard sy verlossing kan bewerkstellig of dit kan behou nie. Enige poging van die mens se kant af om sy verlossing deur enige wetsnakoming of werke te bewerkstellig is ‘n verwerping van God se genade. ‘n Persoon wat dus sy geloof in die Here Jesus Christus alleenlik plaas (nie in die Saterdag Sabbatdag nie of enige ander wet nie) gaan sy sabbatsrus binne.
Hebr.4:10 “want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne. 11 Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie.”
En daarom word ons gemaan om vas te staan in die vryheid waarmee Christus ons vrygekoop het, en onsself nie weer onder die juk van die wet te plaas nie.
Gal. 5:1 “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.”
As mense dit wél doen, verval hulle van die genade.
Gal. 5:4 “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval. 5 Want óns verwag deur die Gees uit die geloof die geregtigheid waarop ons hoop.”
Wanneer wet en genade vermeng word, word die algenoegsaamheid van Christus se genadewerk betwyfel en met iets anders aangevul wat op niks anders as die die verwerping van Sy genade neerkom nie. In kort, daardie persoon glo in ‘n ander evangelie.
Omrede die Sewendedag Adventiste se stellings doelbewus dubbelsinnig is verklaar hulle aan die een kant dat daar wel ware Christene in kerke is wat op Sondae aanbid, maar dat sodanige Christene nie in die volle lig van die vierde gebod wandel nie. ’n Tyd van toetsing sal glo aanbreek wanneer ’n wet uitgevaardig sal word om Sondagaanbidding af te dwing – dan sal die finale skeiding kom en dan sal diegene wat Saterdag sabbatsonderhouding beoefen deur die antichristelike Sondagaanbidders vervolg word. (Questions on Doctrine, bl. 183)
Maar onder punt 23 van “wat Sewendedag Adventiste glo” maak hulle die volgende stelling, naamlik: “Die ondersoekende oordeel openbaar aan die hemelse wesens wie van die dooies in Christus slaap en daarom in Hom waardig geag word om aan die eerste opstanding deel te hê. Dit maak ook bekend wie onder die lewendes in Christus bly, die gebooie van God en die getuienis van Jesus hou en daarom in Hom gereed is om in Sy ewige koninkryk opgeneem te word. Hierdie oordeel bewys die regverdigheid van God om diegene te red wat in Jesus glo. Dit verklaar dat diegene wat getrou aan God gebly het, die koninkryk sal ontvang. Die voltooiing van hierdie bediening van Christus sal die einde van die genadetyd vir die mensdom voor die Wederkoms aandui.”
Let op die stelling “Dit maak ook bekend wie onder die lewendes in Christus bly, die gebooie (wat die Saterdag sabbatsonderhouding insluit) van God en die getuienis van Jesus hou en daarom in Hom gereed is om in Sy ewige koninkryk opgeneem te word. Hierdie oordeel bewys die regverdigheid van God om diegene te red wat in Jesus glo. Dit verklaar dat diegene wat getrou aan God gebly het, die koninkryk sal ontvang.” In die leerstelling van die Ondersoekende Oordeel (‘n leerstelling wat slegs die Sewendedag Aventiste verkondig word ) maak hulle volgende stelling, naamlik: “Jesus Christ is now in heaven investigating the works of all would-be believers to determine the genuiness of their faith/worthiness of heaven. This is the SDA’s doctrine of Christ’s investigatave judgement. (Baptismal wow #8)
Maar volgens hulle eie verklaring is slegs ‘n persoon wat die Wet onderhou (en dit sluit die vierde gebod, naamlik Saterdag sabbatsonderhouding in) gereed om in Christus se koninkryk opgeneem te word.
Hulle koppel sonder enige kontekstuele regverdiging Sondagaanbidding en die merk van die dier met mekaar en beweer dat diegene wat in die die merk van die dier (Sondagaanbidding) neem verlore sal gaan. In hulle 2008-publikasie, Family Bible Studies, bl. 299, haal die SDA eers Openbaring 14:9-10 aan wat soos volg lees:
Openb.14:9 “En ‘n derde engel het hulle gevolg en met ‘n groot stem gesê: As iemand die dier en sy beeld aanbid en ‘n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang, 10 sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam.”
Direk daarna maak hulle die volgende stelling, naamlik: “Hoe kan ons van die Here verwag om te swyg oor so ‘n belangrike saak soos die verandering van die enigste wet wat sy teken en seël as Skepper en Redder van die wêreld aan ons gee? God se oordele sal egter nie oor die mensdom kom voordat hulle duidelik gewaarsku is nie.” Die Merk van die dier het kontekstueel absoluut niks met Sondagaanbidding te make nie. Die persoon wat tydens die Verdrukking die merk van die dier sal neem bely daardeur sy geloof in die Antichris (en by implikasie die duiwel) as god. Sodra ‘n persoon die merk van die dier neem dan sal die Heilige Gees nie meer daardie persoon na die Here Jesus Christus toe trek nie en sodoende sal die ongelowige persoon verlore gaan. Die merk van die dier is glad nie ter sprake tydens die Dispensasie van die Kerk waarin ons nou lewe nie. Lees gerus die artikel “Covid-19 entstof nie die merk van die dier nie” waarin algemene feite rakende die merk van die dier aangespreek word.
Sondagaanbidding of Saterdagaanbidding bepaal geensins of ‘n persoon ‘n ware Christen is of nie. Wat bepaal of ‘n persoon ‘n ware gelowige is, is die feit dat daardie persoon sy geloof in die Here Jesus Christus geplaas het en niks of niemand anders nie.
Joh.3:18 “Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.”
Om hierdie rede kon Paulus die volgende stelling maak:
Rom.14:5 “Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees. 6 Hy wat die dag waarneem, neem dit waar tot eer van die Here; en hy wat die dag nie waarneem nie, neem dit nie waar nie tot eer van die Here; en wie eet, eet tot eer van die Here, want hy dank God; en wie nie eet nie, eet nie tot eer van die Here, en hy dank God.”
Let asseblief op die Sewendedag Adventiste se stelling soos hierbo aangehaal, naamlik:
“Hoe kan ons van die Here verwag om te swyg oor so ‘n belangrike saak soos die verandering van die enigste wet wat sy teken en seël as Skepper en Redder van die wêreld aan ons gee?” Anders as wat die Sewendedag Adventiste in bogenoemde stelling beweer is die Saterdag-sabbat nie die seël van God nie. Kom ons gaan kyk wat die skrifte in werklikheid verklaar, naamlik:
Ef.1:13: “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie (waarvan die Saterdag-Sabbat niks te make het nie) van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,
2Kor.1:21 “Maar Hy wat ons saam met julle bevestig in Christus en ons gesalf het, is God, 22 wat ons ook verseël het en die Gees as onderpand in ons harte gegee het.”
Is die Saterdag-Sabbat ons geregtigheid of bekom ons die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid tydens die glo van die evangelie? Dit is duidelik die glo van die evangelie, want die Here Jesus Christus is ons geregtigheid, en ons sabbatsrus is alleenlik in Hom te vinde en nie in die wet (wat die Saterdag Sabbat insluit) nie.
Rom.10:4 “Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo.”
1Kor.1:30 “Maar deur Hom (God) is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.”
In my beskeie opinie begaan die Sewendedag Adventiste presies dieselfde fout as wat die Fariseërs van ouds gemaak het, omrede hulle norm vir reddende geloof nie die aanvaarding of verwerping van die gekruisigde, en opgestane Here Jesus maak nie, maar eerder die aanvaarding of verwerping van die Ou Testamentiese Wet wat Saterdag sabbatsonderhouding insluit. In hierdie opsig stamp hulle hulleself teen die Rots van aanstoot.
Rom. 10:2 Want ek getuig van hulle dat hulle ‘n ywer vir God het, maar sonder kennis. 3 Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie. 4 Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo.”
Rom.9:32 “Waarom? Omdat dit nie uit die geloof was nie, maar net asof dit uit die werke van die wet was; want hulle het hul gestamp teen die steen van aanstoot.”
Onthou, reddende geloof het alleenlik die Here Jesus Christus, (wat Sy Persoon en voltooide werk aan die kruis insluit) as voorwerp en niks anders nie. Soos wat ons in die vorige artikels gemerk het, moet die Sewendedag Adventiste die ware betekenis van die term “geloof” heeltemal herdefinieer anders sou hulle geen grondslag vir hulle dwaalleerstelling hê nie. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Die Proponente van Werkheiligheid se herdefiniëring van geloof” te lees.
Die Sewendedag Adventiste handhaaf ‘n godsdiensstelsel wat op menslike werke gebaseer is en wat ‘n persoon onder die wet van Moses plaas.
Rom.3:28. “Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.”
Paulus, wie as ‘n Jood gebore was, en wie ‘n Fariseër was, sou nooit die volgende stelling kon maak indien hy nog steeds onder die wet van Moses was nie, naamlik:
1Kor.9:20 “Vir die Jode het ek soos ‘n Jood geword om die Jode te win; vir die wat onder die wet is, soos een wat onder die wet ( van Moses wat die Saterdag Sabbat insluit) is, om die wat onder die wet is, te win. 21 Vir die wat sonder die wet is, soos een sonder wet — al is ek nie sonder die wet van God nie, maar onder die wet van Christus — om die wat sonder die wet is, te win;”
Dink baie mooi oor bogenoemde stelling na.
Ter afsluiting: Die Here Jesus Christus is die ware gelowige se rus/sabbatdag. Valse godsdiensstelsels hou aan die mens ‘n lys voor van dinge wat hy moet nakom om by God aanvaarbaar/versoen te wees. Die ware Christelike geloof is ‘n verhouding met God wat d.m.v. die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis en ons eenvoudige geloof in hierdie feit bewerkstellig word. Die oomblik wanneer ‘n persoon die ware evangelie glo verander sy eindbestemming vir altyd. Die duiwel weet hierdie feit en daarom bied hy aan die mensdom ‘n groot verskeidenheid van werke evangelies aan en hierdie stelling geld ook vir ‘n groot deel van die belydende Christendom. ‘n Persoon mag dalk naby aan verlossing wees, maar om naby aan verlossing te wees beteken nie dat daardie persoon gered is nie. Satan was nog altyd die meester van verlyding, en dit is my oortuiging dat hy ook die bron agter Ellen G White se sogenaamde openbarings is. En omrede Ellen White se leerstellings so ‘n sterk inslag in die leerstellings van die Sewedaagse Adventiste Kerk gevind het sluit dit ook ‘n groot deel hulle leerstellings in. Hierdie reeks artikels moenie as ‘n aanval op die Sewendedag Adventiste Kerk se lidmate beskou word nie, maar die doel vir die skryf daarvan is om die dwaalleer wat die Sewendedag Adventiste Kerk verkondig bloot te lê. Onthou, mense se siele is op die spel. Dit is my bede dat hierdie reeks artikels aan die leser genoeg inligting verskaf om sodoende ‘n ingeligte besluit omtrent die Sewendedag Adventiste Kerk te kan maak.
Seën groete.
Vic