Kategorie se argiewe: Christelike leefwyse

Die Ewige Sekuriteit van die Gelowige vs die Volharding van die Heiliges


Daar bestaan groot verwarring onder gelowiges tussen die leerstelling van die Die Ewige Sekuriteit van die Gelowige (ook bekend as die Bewaring van die Heiliges) en die leerstelling van die Volharding van die Heiliges. Die twee leerstellings is nie dieselfde nie en is ook nie met mekaar versoenbaar nie. Met die skryf van hierdie artikel sal daar gepoog word om enige verdere misverstande t.o.v. hierdie verskillende teologiese leerstellings uit die weg te ruim.

Calvinisme (gereformeerde teologie) En Hulle Leerstelling van Volharding

Calvinisme (gereformeerde teologie) leer dat, aangesien die mens totaal verdorwe is, slegs die onvoorwaardelik uitverkorenes Christus se versoening en onweerstaanbare genade ontvang. Die verlostes, sowel as die uitverkorenes het dus geen sê in die saak nie en hulle wilsbesluite (wil) speel geen rol in die keuse van hulle verlossing nie. Volgens Calvinisme beskik die mens nie oor ‘n vrye wil om die evangelie te glo of te verwerp nie. In kort beteken dit dat God in Sy raadsbesluit kies om slegs sekere mense te red en die res los Hy om verlore te gaan. God gee dus slegs aan diegene wat Hy uitverkies het om te verlos die geloof om te glo en by implikasie weerhou Hy dit van diegene wat Hy nie tot verlossing uitverkies het nie. Die geloof wat die uitverkorenes ontvang, verseker ook dat hulle tot die einde van hulle lewens toe sal volhard. Eenvoudig gestel, hierdie siening leer dat ‘n ware Christen in geloof en goeie werke sal voortgaan tot die dood – en indien nie, was hulle nooit werklik gered nie. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Wil God almal verlos”, asook “Die Proponente van werkheiligheid se herdefiniëring van geloof” vir ‘n meer in diepte studie aangaande hierdie onderwerpe te lees.

Lees meer Die Ewige Sekuriteit van die Gelowige vs die Volharding van die Heiliges

Daar is dinge wat belangriker as die lewe self is

In die gejaagdheid van die lewe besef ons nie altyd dat daar dinge is wat belangriker as die lewe self is nie. Almal van ons het ‘n inherente begeerte om selfbehoud. In baie gevalle is hierdie drang so sterk dat mens soms vergeet dat daar dinge is wat belangriker as die lewe self is. Vir Paulus was sy roeping belangriker as die lewe self en daarom het hy die volgende stelling gemaak, naamlik:
Hand.20:22 “En kyk, ek gaan nou gebind deur die Gees na Jerusalem; en watter dinge my daar sal oorkom, weet ek nie, 23 behalwe dat die Heilige Gees in elke stad kragtig getuig en sê dat boeie en verdrukkinge my wag. 24 Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God. 25 En nou weet ek dat julle almal onder wie ek rondgegaan en die koninkryk van God verkondig het, my aangesig nie meer sal sien nie.”

Lees meer Daar is dinge wat belangriker as die lewe self is

1Joh.5:16 Die sonde wat tot die dood lei

Vraag: Hi Vic. Kan jy my asb sê watter sonde verwys Johannes na wat tot die dood lei.
1Joh. 5:16 “As iemand sy broer ‘n sonde sien doen wat nie tot die dood lei nie, moet hy bid, en God sal aan hom, ja, aan hulle wat sonde doen wat nie tot die dood lei nie, die lewe gee. Daar is ‘n sonde wat tot die dood lei – ek sê nie dat hy daaroor moet bid nie.”

Antwoord: Uitstekende vraag. Baie mense neem verkeerdelik aan dat die stelling “sonde wat tot die dood lei “die tweede dood of ewige verderf beteken.” Hulle vergeet egter een van die kardinale reëls vir korrekte skrifuitleg, naamlik konteks, konteks en weereens konteks. Ek sal die leser van hierdie artikel ten sterkste aanraai om eers die artikel “Sewe verskillende vorms van dood in die Bybel” sorgvuldig deur te lees.” Johannes praat hier met mense wat alreeds wedergebore is en broeders in die geloof is. Hierdie mense besit dus die gawe van die ewige lewe as ewige besitting en kan nie verlore gaan nie.
Joh 5:24 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe(as huidige besitting) en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.
Joh 10:28 En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie,sal hulle uit my hand ruk nie. 10:29 My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.”

Lees meer 1Joh.5:16 Die sonde wat tot die dood lei

Heb.6:6 “en afvallig geword het om dié weer tot bekering te vernuwe”

Vraag: Hi Vic

Verwys die Hebreërs skrywer na gelowiges wat sondes gepleeg het en afvallig geraak het, of ‘n ander geloof beoefen. M.a.w daar is geen vergifnis.

Hebreërs 6:4-6 AFR20 “Dit is immers onmoontlik om hulle wat eenmaal verlig is, wat die hemelse gawe gesmaak, en deel gekry het aan die Heilige Gees, en wat die goeie woord van God gesmaak het, en ook die kragte van die komende bedeling, en tog afvallig geword het, weer opnuut tot bekering te bring; aangesien hulle wat hulleself betref, die Seun van God opnuut kruisig en openlik tot skande maak.“

Groete

Antwoord: Dis ‘n baie goeie vraag wat jy opbring. Die skrywer van Hebreërs spreek met Messiaanse Jode, en dus Christene wat uit die Joodse geloof kom. Hulle was onder druk van hulle volksgenote om na die Jodedom met sy toe nog bestaande tempeldiens terug te keer. Die sondes wat hier van gepraat word moet in daardie konteks verstaan word.

Heb.6:6 is nog ‘n verdere teksgedeelte wat soms aangehaal word as bewys dat ‘n gelowige die gawe van die ewige lewe kan verbeur. Ek gaan net gou weer die teksgedeelte waarna jy verwys hier aanhaal en dan kan ons dit binne die korrekte konteks bespreek.
Heb.6:4 “Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, 5 en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, 6 en afvallig geword het — om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak. 7 Want die grond wat die reën indrink wat dikwels daarop val, en nuttige plante voortbring ter wille van hulle vir wie dit ook bewerk word, het deel aan die seën van God. 8 Maar as dit dorings en distels oplewer, deug dit nie en is naby die vervloeking — die einde daarvan is verbranding.”

Lees meer Heb.6:6 “en afvallig geword het om dié weer tot bekering te vernuwe”

Heb.10:26 en die opsetlike sonde


Vraag: Hallo Vic. Dankie vir die inligting. Kan u die volgende ook behandel. Heb.10:26. Hoe verskil dit van die sondes waarmee ons sukkel? Groete

Antwoord: Baie goeie vraag en dit is een van die teksgedeeltes wat mense wat glo dat ‘n gelowige die gawe van die ewige lewe kan verbeur (moderne Armenianisme) aanhaal om hierdie dwaalleer te regverdig. Ek gaan eers die teksgedeelte aanhaal en dit dan binne die korrekte konteks bespreek.
Heb.10:26 “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, 27 maar ‘n verskriklike verwagting van oordeel en ‘n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer. 28 As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; 29 hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het? 30 Want ons ken Hom wat gesê het: My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here; en weer: Die Here sal sy volk oordeel. 31 Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God. 31 Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God. 32 Maar onthou die vorige dae waarin julle, toe julle verlig geword het, ‘n groot lydensworsteling deurstaan het, 33 gedeeltelik omdat julle deur smaad en verdrukkinge ‘n skouspel geword het, gedeeltelik omdat julle deelgenote geword het van die wat in so ‘n toestand verkeer het. 34 Want julle het ook saam met my gevoel in my boeie, en julle het die berowing van julle goed met blydskap aanvaar, omdat julle geweet het dat julle in julself ‘n beter en blywende besitting in die hemele het. 35 Werp dan julle vrymoedigheid, wat ‘n groot beloning het, nie weg nie. 36 Want julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry. 37 Want nog ‘n klein tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie versuim nie. 38 Maar die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie. 39 Maar by ons is daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe.”

Wanneer dit by die uitleg van die skrifte kom is dit van uiterste belang om eers die korrekte konteks te bepaal. Alle teksgedeeltes in die Bybel is binne die raamwerk van ‘n spesifieke konteks gemaak en dit geld ook vir die brief aan die Hebreërs. Hierdie is een van die kardinale reëls vir korrekte Bybel uitleg.

Lees meer Heb.10:26 en die opsetlike sonde

Sewe Skrif gebaseerde motiewe om goeie werke te verrig

God verwag van alle gelowiges om mekaar lief te hê en goeie werke te verrig.
Joh.15:17 “Dit gebied Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê.”
Die skrifte beveel ons ook om goed te doen en dat ons nie moet moeg word om goed te doen nie.
Gal.6:9 “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie. 10 Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.”
Goeie werke is nie opsioneel nie en word van ons verag.
Ef.2:10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.
Maar soos wat ons in die artikels “Die Sondenatuur, ‘n skriftuurlike perspektief”, asook “Die sonde van lieg vir die Heilige Gees” gemerk het, word goeie werke wat met verkeerde motiewe gedoen word in baie gevalle sondige dade wat deur God verwerp word. Boonop het ons gemerk dat goeie dade wat as grondslag die gelowige se sondenatuur het geen ewigheidswaarde besit en ook geen genadeloon sal verdien nie. Maar wat behoort ons te motiveer om as Christene die Here te dien en in gehoorsaamheid te wandel? Met die skryf van hierdie artikel sal ek sewe motiverings redes hier weergee wat by God aanvaarbaar is en waarvoor Hy die gelowige sal beloon.

Lees meer Sewe Skrif gebaseerde motiewe om goeie werke te verrig

Die Sondenatuur, ‘n skriftuurlike perspektief

Baie gelowiges begryp nie mooi die konsep van die mens se sondenatuur nie, en die feit dat die sondenatuur ook in baie gevalle die motiverende agent agter die doen van “goeie werke” is. God sal nie goeie werke waarvan die ou sonde natuur die bron van is met genadeloon beloon nie. Dit sal eerder tydens die Regterstoel Oordeel van Christus as hout, hooi en stoppels verbrand word. (1Kor.3:10-15) Slegs goeie werke wat op grond van God se genade, deur geloof, in en deur die krag van die Heilige Gees verrig is sal genadeloon verdien. Soos wat ons in die artikel “Die sonde van lieg vir die Heilige Gees” gemerk het, is nie alle werke wat as “goeie werke” voorkom noodwendig by God aanvaarbaar nie. Inteendeel, baie van hierdie “goeie werke” het in werklikheid die sondenatuur van die mens as bron, wat beteken dat God daardie goeie werk sal verwerp.

Die sondenatuur verwys na die gevalle aard (ook bekend as die Adamiese aard) van die mens wat Adam tydens die sondeval bekom het, en wat hy deur voortplanting aan al sy nasate oorgedra het. (die Here Jesus Christus is die enigste uitsondering omrede Josef nie Sy vader was nie) Ons almal word dus met ‘n sondenatuur gebore en hierdie sondenatuur sal in ons teenwoordig wees solank as wat ons nog in hierdie gevalle liggame teenwoordig is. Eers na afloop van fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking (eerste opstanding), sal ons ontslae van die sondenatuur wees. Terme soos die “oue mens” (Ef.4:22), “die sonde” (Rom.7:7) en “die vlees” (Rom.8:3-4; Gal.5:16) word in die skrifte aangewend om die konsep van die mens se sondenatuur te beskryf. Die sondenatuur is dus ‘n integrale deel van elke mens op aarde. (met slegs een uitsondering, naamlik die Here Jesus Christus.)

Lees meer Die Sondenatuur, ‘n skriftuurlike perspektief

Die sonde van lieg vir die Heilige Gees

Vraag: Kan jy asseblief vir my verduidelik hoekom God Ananias en Saffira gedood het toe hulle van die geld vir die verkoop van hulle eiendom vir hulleself teruggehou het. Die teksgedeelte waarna ek verwys is Hand.5:1-10. In watter opsig het hulle vir die Heilige Gees gelieg?

Antwoord: Ek glo daar is baie mense wat met dieselfde vraag worstel. Wanneer ons die skrifte bestudeer is dit belangrik om altyd die konteks waarin die spesifieke teksgedeelte in voorkom te bepaal. Die gebeure wat in Hand.5:1-10 plaasgevind het, het vroeg tydens die Kerk Dispensasie plaasgevind en het dus direkte toepassing op die kerk.

Lees meer Die sonde van lieg vir die Heilige Gees

Die geloofsrus-oefening om vrees en bekommernis te oorwin

Enige persoon wat al werklik gelewe het sal weet dat die lewe nie altyd maklik is nie, en indien daardie persoon lank genoeg lewe sal hy die een of ander tyd erge teëspoed, terugslae, rampe en hartseer beleef. Die graad van teëspoed wissel van persoon tot persoon, maar elke persoon sal op die een of ander tyd teëspoed belewe. Ongelukkig word hierdie onderwerp nie altyd genoeg deur predikers aangeraak nie, juis omrede dit so ‘n onaangename onderwerp is. Rampe, teëspoed, terugslae en hartseer, is deel van die gevalle wêreld waarin ons lewe, en dit sal so voortgaan tot en met ons dood of die wegraping. Hoeveel van ons het nie al die stelling gehoor dat ‘n persoon net na die Here moet kom en dan sal al sy probleme iets van die verlede wees nie? ‘n Prediker of evangelis wat so ‘n stelling maak verkondig nie slegs leuens nie, maar hy maak ook in die proses van die Here Jesus Christus ‘n leuenaar. Die Here Jesus Christus het ons vooraf gewaarsku dat ons in hierdie lewe teëspoed sal ervaar, naamlik:
1Joh.16:33 “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”
Ons hoef net rond te kyk om te sien hoeveel lyding en hartseer daar in die wêreld is.

God se voorsienigheidsbeheer (voorsienigheid) sluit ook as element God se voorsienige (of te wel logistieke) genade in. God se logistieke genade sluit alles wat die gelowige in hierdie wêreld nodig het om te oorleef in, soos byvoorbeeld suurstof, kos en klere ensovoorts . Sover dit die gelowige aangaan, is die grondslag van God se logistieke genade die ontvangs van die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid. ‘n persoon ontvang die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid die oomblik wanneer hy dood eenvoudig die evangelie glo en op geen ander wyse nie. Enige menslike werke is dus volkome uitgesluit. Indien mens die Here Jesus Christus se stelling wat Hy in Mattheus 6:24-34 gemaak het, en waarvan ek slegs Mattheus 6:31-34 hier gaan aanhaal, bestudeer dan word hierdie feit duidelik, naamlik:
Matt.6:31 “Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? 32 Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. 33 Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. 34 Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.”
Al wil ons dit weet of nie, elkeen van ons sal tribulasie in hierdie lewe ervaar, en daarom verwys die Here na hierdie feit as “elke dag het genoeg van sy eie kwaad.”

Lees meer Die geloofsrus-oefening om vrees en bekommernis te oorwin

Die gesindheidsonde van Vrees en bekommernis

Bekommernis is ‘n gesindheidsonde en kan as ‘n vorm van selfkastyding bestempel word. Bekommernis is ‘n gesindheidsonde in die sin dat die oorsprong daarvan in ons verstand, naamlik die nie-stoflike faset van die mens, of te wel die hart, te vinde is. In hierdie opsig is bekommernis die oorsaak van vrees in ‘n persoon se hart wat daartoe aanleiding kan gee dat ‘n persoon oor byna enigiets in die lewe angstig kan voel. In hierdie opsig kan ongeoorloofde vrees/bekommernis as ‘n vorm van selfkastyding bestempel word. Die gesindheidsonde van bekommernis, wanneer nie volgens skriftuurlike beginsels aangespreek word nie, het verontrustende gedagtes tot gevolg wat weer tot ‘n onstuimige gemoedstoestand aanleiding sal gee. Die gevolg hiervan is dat die persoon ‘n toestand van rusteloosheid en selfs agitasie sal ervaar wat weer ongemak, ‘n voorgevoel van doem, pynlike onsekerheid en selfs geestelike versteuring kan veroorsaak. Enige persoon wie se hart deur bekommernis gevul is verwag altyd net die slegste uitkomste, ervaar ‘n gevoel van gevaar, rampspoed of selfs die dood. In kort hulle ervaar ‘n soort van hel op aarde.

Lees meer Die gesindheidsonde van Vrees en bekommernis