Kategorie se argiewe: Christelike leefwyse

Rassehaat en die Christen

Vraag: Wat sê die Bybel oor rassehaat en kan ons verwag dat dit sal toeneem soos wat Jesus se wederkoms nader kom? Het die Bybel enigsins hieroor iets te sê?

Antwoord: Voordat ons hierdie onderwerp bespreek is dit van uiterste belang dat die Bybel as maatstaf vir ons antwoord gebruik word en nie ons menslike tradisies en vooropgestelde idees nie. Rassehaat is ook ‘n baie sensitiewe onderwerp wat met uiterste omsigtigheid benader moet word. Dit gaan ons egter niks baat as ons nie die onderwerp eerlik en openlik benader nie. Ook gaan dit niks help as ons, ons koppe onder die sand insteek en voorgee asof hierdie probleem nie bestaan nie. ‘n Eerlike blik na ons samelewing sal duidelik bewys dat rassehaat deel van ons alledaagse lewens is, en selfs ook aan die toeneem is. Die feit van die saak is dat rassehaat nie net in ons eie land bestaan nie, maar dat dit regoor die wêreld bestaan en selfs aan die toeneem is. Wat ons as gelowiges moet vasstel is of die Bybel iets oor hierdie aangeleentheid te sê het en watse optrede God van ons as Sy kinders verwag. Lees meer Rassehaat en die Christen

Volg die Heilige Gees en nie mense nie

Voel jou Christenskap meer soos ‘n werk en minder soos ‘n verhouding met God. Indien dit die geval is, is hierdie artikel vir jou. As gelowiges moet ons daarteen waak om ander mense se werk en persoonlikhede te vorm soos wat ons dink hulle moet wees en nie soos wat God hulle geskape het nie. Hierdie tegniek is ook een van Satan se gewildste metodes om mense, wat God op die regte manier dien, van stryk te bring en hulle onvrugbaar te maak. Ons moet daarteen waak om nie in hierdie strik te val, en so teen die Here te werk, inplaas daarvan om Hom getrou te volg nie. Ek praat nie hier van gelowiges wat in sonde leef of valse leerstellings verkondig nie. Ek praat hier oor mense se persoonlike verhouding met die Here en die vrugte wat hulle behoort te dra, asook die werke wat uit ‘n verhouding van geloof in Jesus Christus behoort te manifesteer.
Rom 14:4 “Wie is jy wat die huiskneg van ‘n ander oordeel? Hy staan of val met betrekking tot sy eie heer; maar hy sal staande bly, want God is magtig om hom staande te hou.
Rom 14:10 Maar jy, waarom oordeel jy jou broeder? Of jy ook, waarom verag jy jou broeder? Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word.”
God het ‘n doel met elkeen van ons se lewens, en Hy het ons vir daardie doel geskep met die verskillende gawes en geaardhede wat daarmee gepaard gaan. Lees meer Volg die Heilige Gees en nie mense nie

Ouers as voorbeeld aan Kinders

Die Ouer as Voorbeeld of Struikelblok: ‘n Ernstige Waarskuwing

Die Here het ‘n baie ernstige waarskuwing in die Bybel gegee aan diegene wat veroorsaak dat ‘n kind wat in Hom glo, struikel.
Matt.18:5 “En elkeen wat een van sulke kindertjies in my Naam ontvang, ontvang My; 18:6 maar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ‘n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see. 18:7 Wee die wêreld weens die struikelblokke! Want dit is noodsaaklik dat daar struikelblokke kom, maar wee die mens deur wie die struikelblok kom.”

Wat sien ons kinders daagliks in ons optrede as ouers? Wat is die voorbeeld wat ons aan hulle stel? ‘n Ouer se optrede beteken baie meer as net leë woorde. ‘n Kind sal nie ‘n pa wat gereeld in ‘n kroeg kuier ernstig opneem wanneer hy daardie selfde kind teen die gevare van drankmisbruik waarsku nie. Kinders kyk op na hul ouers as rolmodelle en volg na wat hulle waarneem. Indien ‘n ouer drankmisbruik as normaal vertoon, sal die kind dit dikwels as sodanig aanvaar.

Lees meer Ouers as voorbeeld aan Kinders

Wanneer ons Sterf

Die Gelowige en die Dood: ‘n Oorgang van Lig tot Lig

Hierdie is nie juis een van die mees aangenaamste onderwerpe om oor te skryf nie, maar die feit bly staan dat ons almal die een of ander tyd gaan sterf (indien ons gelukkig is, sal ons deel van die groep gelowiges wees wat die dood d.m.v. die wegraping sal vryspring). Vir baie mense is die gedagte van die dood iets vreesliks, maar vir die gelowige hoef dit nie die geval te wees nie.

Onthou dat die Bybel nooit die dood as uitwissing van bestaan omskryf nie, maar wel as skeiding. Indien iemand sterf, dan sterf net sy fisiese liggaam, maar sy gees en siel bly bewustelik voortbestaan. Die verhaal van Lasarus en die ryk man demonstreer hierdie waarheid baie mooi (Luk 16:19–31).

Lees meer Wanneer ons Sterf

Genade vir die wat Struikel: Ons Posisie vs. Ons Wandel

Ps. 86:5 “Want U, o Here, is goed en vergewensgesind en groot van goedertierenheid vir almal wat U aanroep. 86:15 Maar U, Here, is ‘n barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou.”
Hoe dankbaar is ek nie wanneer ek gestruikel het, om teksgedeeltes soos hierbo te lees en daaroor na te dink nie. Dit is dikwels so maklik om te struikel; as dit nie vir God se genade was nie, weet ek nie waar ek vandag sou gewees het nie.

Om te verstaan hoe God met ons struikelings handel, moet ons eers die onderskeid verstaan tussen ons Posisionele Heiligmaking en ons Praktiese Heiligmaking:

  • Posisionele Heiligmaking (Regverdigmaking): Dit is jou status voor God. Die oomblik toe jy geglo het, het God jou “heilig” verklaar op grond van Christus se toegerekende geregtigheid op grond van Sy voltooide werk (1Ko 6:11). Hierdie status is onveranderlik en verseker jou redding van die straf van die sonde.

  • Praktiese Heiligmaking (Dissipelskap): Dit is jou daaglikse wandel en groei in heiligheid. Dit kan wissel na gelang van jou gehoorsaamheid. Dit gaan oor jou redding van die mag van die sonde in jou alledaagse lewe (1Pe 1:15).

Lees meer Genade vir die wat Struikel: Ons Posisie vs. Ons Wandel

Die Gelowige en Lyding

Teenspoed, tragedie en lyding is realiteite wat ons almal op een of ander tydstip beleef. As mense wil ons dikwels verstaan waarom juis ons getref word, maar die eenvoudige waarheid is dat ons in ‘n gevalle wêreld woon. Die Here het ons nêrens belowe dat ons lyding sal vryspring wanneer ons Hom as Verlosser aanneem nie. Tog bied die Woord van God waardevolle leidrade wat ons help om lyding te verstaan en te hanteer — hetsy in ons eie lewens of wanneer ons ‘n broeder in nood bystaan. Mense wat verkondig dat gelowiges slegs voorspoed sal ervaar, verkondig leuens wat dikwels tot gevolg het dat mense permanent van die Here af wegdraai wanneer dinge skeefloop. Hier volg ‘n paar redes waarom lyding in die lewe van ‘n gelowige toegelaat word.

Lees meer Die Gelowige en Lyding

Alles Werk Ten Goede vir die wat in Jesus glo!

Romeine 8:28 “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”
Ons wat weet dat ons die Here liefhet, hoef nooit terneergedruk of bang te wees nie. Dit maak nie saak hoe hopeloos ons saak mag lyk, of hoe donker ons lewe op hierdie oomblik mag voorkom nie. Ons kan verseker weet dat die Here alle omstandighede en gebeure gebruik om dit tot ons voordeel te laat saamwerk. Al beteken dit dat ons vir ’n kort tydjie lyding moet deurstaan, moet ons op God vertrou en weet dat Hy net die beste vir ons wil hê. Ons moet besef dat God nie net binne die kort tydsbestek van hierdie wêreld werk nie, maar met die ewigheid in gedagte. Hy bestuur alles volgens ’n plan en ons moet ons daarin berus. Hy sal ons nooit verlaat of in die steek laat nie.

Romeine 8:18 “Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.”
As gelowiges word ons nie van lyding gevrywaar nie, maar ons het die versekering dat die Here met ons is en dat Hy ons die genade sal skenk om ons deur alle beproewinge te dra. Boonop het ons ’n hoop wat verder strek as hierdie tydelike wêreld. Ons sal saam met Jesus verheerlik word wanneer Hy aarde toe kom om as Koning te regeer. Dan sal ons saam met Hom verskyn om in Sy heerlikheid te deel.
Romeine 8:17 “en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.”

 

Lees meer Alles Werk Ten Goede vir die wat in Jesus glo!

Juk jou Ore? Wat sê die Bybel werklik?

Wil ons werklik hoor wat die Here aan ons wil sê, of wil ons net hoor wat ons sondige natuur begeer? As daar ooit ‘n tyd was om Paulus se waarskuwing aan Timoteus ernstig op te neem, is dit nou, in hierdie dae waarin ons leef.
2Ti 4:3 “want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, 4:4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.”

Is dit nie wat tans in die grootste gedeelte van die belydende Christendom gebeur nie? Praat van leerstellings en mense kyk jou skeef aan. Ek het gehoor hoe ‘n gewilde televisieprediker verkondig dat doktrines die kerk verdeel. Dink net by jouself: as ‘n prediker nie leerstellings verkondig nie, wat verkondig hy dan? Waarom het ons dan nog die Bybel? Moet die Bybel nie ons leerstellings bepaal nie? As die Bybel nie die laaste woord in die bepaling van doktrines is nie, kan enigiets as die waarheid verkondig word. Dit sal chaos tot gevolg hê – en is dit nie miskien wat ons vandag in die belydende Christendom waarneem nie?

Lees meer Juk jou Ore? Wat sê die Bybel werklik?

Skinder: Die Verwoestende Krag van die Skindertong

Die wysheid van Salomo waarsku ons in Spreuke 20:19: “Wie met kwaadsprekery omgaan, maak ‘n geheim openbaar; laat jou dus nie in met een wat sy lippe laat oopstaan nie.”
Dit is aangrypend om te dink aan die seerkry en trane wat ‘n skindertong al veroorsaak het. Ongelukkig is dit dikwels nie net ongelowiges nie, maar juis gelowiges — mense wat veronderstel is om Jesus se ambassadeurs op aarde te wees — wat hulle hieraan skuldig maak. Hoeveel keer het ons nie al in ‘n Bybelstudiegroep gesit waar ‘n persoon sleggesê word terwyl hy nie teenwoordig is om homself te verdedig nie?

Ons verskoon dikwels ons gedrag deur te beweer dat ons die persoon bespreek omdat ons “omgee” of wil “help”. Die eenvoudige waarheid is egter dikwels dat ons nie werklik omgee nie, maar dat ons ‘n sondige genot daarin vind om ander te kritiseer terwyl ons ons eie foute ignoreer. As ons werklik vir iemand omgee, sal ons nie daardie persoon met ander bespreek nie, maar direk na hom of haar gaan om die saak in liefde te hanteer. Sou dit nie baie voordeliger vir die persoon wees nie?

Lees meer Skinder: Die Verwoestende Krag van die Skindertong

Word met die Gees Vervul

Eféziërs 5:18: “Moenie dronk word van wyn nie—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.”
Uit bostaande teksgedeelte is dit baie duidelik dat die apostel Paulus ons vermaan om met die Heilige Gees vervul te word. Hy praat nie hier van die ontvangs van die Gees by wedergeboorte nie, maar van die dag-tot-dag vervulling met die Heilige Gees ná wedergeboorte.
1 Korintiërs 12:13: “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.”
Dit is belangrik om die onderskeid te merk. Anders as met wedergeboorte, waar die Heilige Gees outomaties in ons kom inwoon omdat ons die Evangelie verstaan en geglo het, word die opdrag om met die Gees vervul te word aan ons gegee—en hiervoor is ons samewerking nodig. ’n Persoon ontvang die Heilige Gees net een keer wanneer hy die Evangelie op ’n spesifieke tydstip glo.

Die vraag wat egter ontstaan, is: Wat moet ons doen om met die Gees vervul te word? Om die antwoord te kry, moet ons na die Bybel gaan en nie na buite-Bybelse praktyke of tradisies nie (waarvan daar ongelukkig baie voorbeelde in die belydende Christendom is). Die Bybel is God se Woord; ons moet ons leerstellings slegs vanuit die Skrif bekom en nie uit menslike opinies, tradisies of vleeslike manifestasies wat met die Bybel in botsing is nie.

Hier volg ’n paar Bybelse riglyne oor hoe ons deur die Gees vervul kan word, want dit is God se wil vir al Sy kinders. Onthou: om met die Heilige Gees gedoop te word, is ’n eenmalige gebeurtenis by wedergeboorte; om met die Gees vervul te word, is ’n voortdurende proses waar ons toelaat dat die Heilige Gees ons beheer.

Lees meer Word met die Gees Vervul