Kategorie se argiewe: Christelike leefwyse

God se Voorsienigheidsbeheer

Wat behels God se voorsienigheidsbeheer? God beheer die vloei van die loop van geskiedenis waarin al Sy skepsele, insluitend die mensdom leef, en hierdie vloei van die geskiedenis word deur God voortgedryf deur die omstandighede wat Hy beheer. Elke ding wat met ons gebeur vorm deel van God se raadsplan. Niks gebeur met toeval nie. Boonop werk God alles volgens die raad van Sy wil, en daar is niks wat enige van Sy skepsele daaraan kan doen nie, naamlik:
Dan.4:35 En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel (wat die gevalle sowel as die heilige engele insluit) en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê: Wat doen U nie?
Daarbenewens is God altyd goed en daarom laat Hy alles ten goede vir die gelowige meewerk:Rom.8:28 “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”
God se voorsienigheidsbeheer kan soosvolg omskryf word: In Sy voorsienigheid en wil, en as Skepper van alles, onderhou God deur Sy soewereiniteit alles in die hemele en aarde. In Sy alwetendheid, alomteenwoordigheid en almag, bestuur Hy alles om die vloei van die verloop van die geskiedenis volgens Sy voorafbepaalde raadsplan te rig. Al hierdie dinge verrig Hy tot voordeel van alle gelowiges en met die doel om Homself te verheerlik. God se voorsienigheid vorm deel van Sy wese en raadsplan.

God is heilig en al Sy planne is heilig. Hy tree altyd in geregtigheid op en hierdie feit geld ook vir Sy voorsienigheidsbeheer. God het die mense met die vermoë geskape (vrye wil) om in stryd met Sy toelaatbare wil te kan optree. As sulks het goddeloosheid God se skepping binnegedring, maar die bose optredes van God se skepsele kan nie Sy heilige wil en ewige raadsplan verydel nie. Inteendeel, omrede God alwetend is, weet Hy ten alle tye alles insluitend hoe enige van Sy skepsele sal dink en optree, en dit sluit alle moontlike keuses (verlede, hede en toekomstige keuses/gedagtes) wat gemaak kan word in. Onthou, God bestaan buite tyd en Hy neem die verlede hede en toekoms as ‘n ewige teenswoordigheid waar. God se voorkennis vorm dus ‘n subkategorie van Sy alwetendheid, en Hy het al hierdie moontlike keuses (en gedagtes) wat Sy skepsele kon maak in Sy Ewige Raadsplan ingewerk. Hierdie is maar net een van die redes waarom boosheid nooit God se raadsplan kan verydel nie en waarom ons nooit Sy voorsienigheid (voorsienigheidsbeheer) in betwyfeling moet trek nie. Wanneer ons so iets doen dan beledig ons Hom en pleeg ‘n verskriklike sonde.

Lees meer God se Voorsienigheidsbeheer

Die gelowige het onbeperkte toegang tot God se Troon van Genade


Alle gelowiges, sonder uitsondering, worstel nog steeds na wedergeboorte met hulle ou sonde natuur, asook hulle geneigdheid om sonde te pleeg. Al te bewus van hulle verlede tekortkominge, voel dit vir baie gelowiges dat daar ‘n skeidsmuur tussen hulle en God bestaan, wat daartoe aanleiding gee dat hulle heeltemal onwaardig voel om God met vrymoedigheid te nader. Alle gelowiges ondervind die een of ander tyd hierdie gevoel, en baie voel selfs dat hulle heeltemal van God vervreemd geraak het. Die dwaalleerstellings van Heerskappy Verlossing en werkheiligheid, wat niks anders as wettisisme is nie, het grotendeels tot hierdie stand van sake bygedra. Indien die skrifte binne die regte dispensasionele konteks korrek vertolk word, word dit duidelik dat die teenoorgestelde egter die waarheid is. Die skrifte verklaar onomwonde, dat a.g.v. die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis, alle gelowiges sonder uitsondering, en met al hulle imperfeksies ter eniger tyd vrye toegang tot hulle hemelse Vader het. Die probleem is nie dat God Sy rug op ons draai wanneer ons struikel nie, maar eerder dat ons gewoonlik dan die rug op Hom draai, en net soos Adam en Eva van Hom wegvlug in ‘n poging om ons skaamte/onwaardigheid weg te steek. Hierdie gevoel van onwaardigheid word dan ‘n skeidsmuur wat veroorsaak dat ons vervreemd van God voel.

Lees meer Die gelowige het onbeperkte toegang tot God se Troon van Genade

Hoe om vrede in ‘n onseker wêreld te vind


Indien ons na die nuus kyk om sekerheid/vrede in die lewe te bekom dan maak ons ‘n ernstige fout. Die skrifte voorspel nie ‘n wêreld wat toenemend beter raak nie, maar eerder ‘n wêreld wat toenemend erger sal raak en wat eers tydens die Here Jesus Christus se wederkoms weer beter sal raak. (Die leser word aangeraai om die reeks artikels genaamd “Die Dispensasies” sorgvuldig te bestudeer. Indien ons eerlik is dan sal ons moet erken dat internasionale spanning besig is om vinnig toe te neem. Ons land se ekonomiese vooruitsigte lyk ook nie baie belowend nie. Baie mense is bekommerd oor hulle gesondheid juis omrede ons almal daarvan bewus is dat siekte enigeen van ons op enige tydstip kan oorval. Baie mense (soos byvoorbeeld myself) is van chroniese medikasie afhanklik waarsonder hulle nie kan klaarkom nie. Indien God verkies om nie hierdie mense op ‘n bonatuurlike wyse te genees nie, het hulle geen ander keuse as om op chroniese medikasie te bly tot en met die wegraping of dood hulle daarvan verlos nie. Indien die wegraping nie in ons lewe plaasvind nie is dit ‘n gegewe feit dat ons almal tot sterwe sal kom, ‘n feit waarmee elkeen van ons moet saamleef. Maar selfs in tye soos hierdie kan alle gelowiges vrede in alle omstandighede vind.

Lees meer Hoe om vrede in ‘n onseker wêreld te vind

Humanisme vs Heiligmaking vanuit ‘n skriftuurlike oogpunt


Humanisme is ‘n filosofiese sisteem wat glo dat die mensdom, sonder enige inset van God, die probleme wat ons in die lewe/wêreld ondervind kan oplos. Sekulêre humanisme is dus ‘n strewe om deur suiwer menslike krag persoonlike perfeksionisme te bewerkstellig en verwerp en ignoreer so God en Sy soewereine beheer oor die verloop van die mensdom se geskiedenis.

Die humanis verwerp die konsep van Bybelse geloof as ‘n dwase sprong in die onbekende in, en in hierdie opsig reken hulle dat die onbekende alles is wat buite die raamwerk van menslike redenasie en empirisme val. Hulle verwerp die feit dat Bybelse geloof op historiese feite gebaseer is, en daarom word suiwer menslike deliberasies en rasionalisering die grondslag van hulle mensgesentreerde sisteem van wysheid. Vir die humanis is daar geen werklike wysheid buite die beperkte menslike raamwerk van sy eie insig nie, en in hierdie opsig trek hulle moedswillig ‘n mantel van blindheid oor hulle verstand juis omrede hulle God (wie alleenlik alwetend en alomteenwoordig is en wat die Skepper van alle dinge is) en Sy woord verwerp.

Lees meer Humanisme vs Heiligmaking vanuit ‘n skriftuurlike oogpunt

Verheerlik God of dra die gevolge

God verwag van alle mense om Hom in alles wat hulle dink, doen of sê te verheerlik.
1Kor.6:20 “Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam (die stoflike faset van die mens) en in julle gees (nie onstoflike faset van die mens) wat aan God behoort.
1Kor.10:31 Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.”

Meeste van ons probleme word veroorsaak wanneer ons nie hierdie vermaning ernstig genoeg opneem nie. Die satan se strewe is daarop gemik om te verhoed dat die gelowige hierdie opdrag nakom want hy weet dat hy nie ‘n houvas op ‘n gelowige kan kry wat God in alles wil verheerlik nie.

Lees meer Verheerlik God of dra die gevolge

Raad om angstigheid te oorwin


Onbeheerste angs is ‘n euwel wat baie mense van hulle lewenskwaliteit beroof. Daar is toenemend mense wat my a.g.v. hulle angstigheid kontak en om raad vra. Dit is my bede dat met die skryf van hierdie artikel ek diegene wat met angstigheid sukkel hoop kan gee. Ons almal beleef tye waartydens ons die een of ander vorm van angstigheid beleef. Ongelukkig is dit ook so dat daar mense is wat daagliks met angs sukkel, en wie se lewens daardeur vergal word en soms tot so ‘n mate dat die angstigheid hulle van hulle lewenskwaliteit ontneem.

Lees meer Raad om angstigheid te oorwin

Die soewereiniteit van God

Daar bestaan slegs een selfbestaande Skepper-God, (Gen.1:1)en omrede daar slegs een ware God is, sou dit ‘n ernstige mistasting wees om Sy soewereiniteit te bevraagteken.
Ps.115:1 “Nie aan ons, o HERE, nie aan ons nie, maar aan u Naam gee eer, om u goedertierenheid, om u trou ontwil. 2 Waarom sou die heidene sê: Waar is dan hulle God?3 terwyl onse God tog in die hemel is; Hy doen alles wat Hom behaag.”
Dan.4:1 Nie aan ons, o HERE, nie aan ons nie, maar aan u Naam gee eer, om u goedertierenheid, om u trou ontwil. 2 Waarom sou die heidene sê: Waar is dan hulle God? 3 terwyl onse God tog in die hemel is; Hy doen alles wat Hom behaag.”
In Sy soewereiniteit beklee God absolute gesag oor die hele leërskare van die hemel (heilige en gevalle engele), sowel as al die bewoners van die aarde. Hy onderhou alle dinge met Sy almag, en bepaal die doel waarvoor alles bestem is. Hy regeer as Koning in die mees absolute sin van die woord, en alle dinge is van Hom afhanklik, en aan Hom diensbaar en Hy het ‘n spesifieke doel met alles. (dit sluit elke individuele persoon in)

Lees meer Die soewereiniteit van God

Sewendedag Adventiste Kerk, ‘n Skriftuurlike perspektief. Deel 2

Soos ons in die vorige artikel waargeneem het, beskou die Sewendedag Adventiste Ellen G White se profetiese uitlatings as gesaghebbend omrede hulle haar as ‘n boodskapper van God bestempel. Hulle sal hierdie feit nie openlik erken nie, maar dit is ‘n feit dat hulle die Bybel deur die verwysingsraamwerk van Ellen G White filtreer, en dan die skrifte buite konteks aanhaal en verdraai om by haar verwysingsraamwerk in te pas. Sewendedag Adventisme is ‘n valse godsdiensstelsel wat menslike werke die bepalende faktor in ‘n persoon se verlossing maak, en in hierdie opsig verkondig hulle ‘n ander evangelie (valse evangelie/werke evangelie) waarteen Paulus ons so sterk in Galasiërs gewaarsku het. Al mag die normale lidmaat van die Sewendedag Adventiste Kerk nie noodwendig daarvan kennis dra nie, versteek die leierskap van die Adventiste kerk hulle valse (en selfs godslasterlike) godsdiensstelsel agter Christelike terme weg. Met die skryf van hierdie artikel sal hierdie feit duidelik gedemonstreer word. Om hierdie rede is dit belangrik dat ons na hulle leerstelling van die ondersoekende oordeel gaan kyk en met die skrifte vergelyk.

Lees meer Sewendedag Adventiste Kerk, ‘n Skriftuurlike perspektief. Deel 2

Stemreg, ʼn Verantwoordelikheid voor God

Ons woon in ʼn wêreld waarin ʼn felle geestelike stryd plaasvind. Deelnemers aan hierdie geestelike stryd sluit Engele (Heilige Engele en gevalle engele) en mense (gelowiges en ongelowiges) in. Hierdie stryd vind in die geestelike – en fisiese sfeer van die skepping plaas, sluit bymekaar aan en is met mekaar ineengestrengel. Indien ons nie hierdie feit in gedagte hou nie sal ons nie werklik verstaan wat in die wêreld om ons aangaan nie. Indien ons insig in hierdie opsig gebrekkig is sal ons ook nie die rol wat ons in hierdie stryd speel mooi verstaan nie. Daar is onsigbare magte wat poog om die mens se optrede in die fisiese realiteit te beïnvloed en indien ons nie hierdie feit onthou nie sal ons in ‘n verdraaide realiteit leef wat nie God se Wil vir ons is nie. God verwag dat ons in die ware realiteit leef en die Skrifte gee vir ons insigte aangaande die werklike realiteit wat ons nie daar sonder sou begryp nie. Indien ons in die Lig van God se Woord lewe sal dit verseker dat ons die regte besluite sal neem wat Hom sal verheerlik en verhoed dat Hy ons moet tugtig.

Lees meer Stemreg, ʼn Verantwoordelikheid voor God

Geloof, vergifnis en die vlieg in die salf

Opsigself is die aarde nie ʼn bose plek nie. Ja, daar vind baie bose dinge op aarde plaas, maar dit moet onthou word dat die wêreld nie minder of meer goddeloos is as die mense wat daarop woon nie. Goddeloosheid is menslike gesindhede en die bose optredes wat uit daardie gesindhede voortvloei en is niks anders as om aan die satan se waardesisteem te konformeer nie. Ons almal het ʼn vlieg in die salf. Met vlieg in die salf bedoel ek persone wat sake onnodiglik, en sonder oorsaak vir ons by die huis of werksplek moeilik maak. Dit kan medegelowiges, asook ongelowiges wees. In baie gevalle is ons nie in ʼn posisie om werklik enige iets aan so ʼn situasie te doen nie. Neem as voorbeeld ʼn persoon, of persone wat ander beskinder in stede daarvan om hulle werk te doen. Ek weet byvoorbeeld waar ʼn skinderbek direk daartoe aanleiding gegee het dat ʼn dame haar eie lewe geneem het. Baie het al a.g.v. teistering of skinder hul lewens geneem. Ander het weer die reg in hulle eie hande geneem en wat in baie gevalle selfs tot moord aanleiding gegee het. Getroue gelowiges ondervind soms nog meer druk juis omrede hulle getrou aan die Here wil bly en nie met hierdie soort dinge betrokke wil wees nie. Ons almal gaan, of het al in die verlede mense by die werk ontmoet wat ons beskinder of doodeenvoudig nie hulle pligte wil nakom soos wat hulle moet nie. Onredelike, en onbeskofte base of toesighouers is ʼn algemene verskynsel. ʼn Skriftuurlike perspektief, ons geloof, en die bereidwilligheid om vergifnis te skenk kan ons help om bo ons omstandighede uit te styg en God te behaag. Boonop sal dit verhoed dat ʼn persoon se emosionele toestand die oorhand oor hom kry en iets doen waaroor hy later spyt sal wees.

Lees meer Geloof, vergifnis en die vlieg in die salf