angstigheid

Raad om angstigheid te oorwin


Onbeheerste angs is ‘n euwel wat baie mense van hulle lewenskwaliteit beroof. Daar is toenemend mense wat my a.g.v. hulle angstigheid kontak en om raad vra. Dit is my bede dat met die skryf van hierdie artikel ek diegene wat met angstigheid sukkel hoop kan gee. Ons almal beleef tye waartydens ons die een of ander vorm van angstigheid beleef. Ongelukkig is dit ook so dat daar mense is wat daagliks met angs sukkel, en wie se lewens daardeur vergal word en soms tot so ‘n mate dat die angstigheid hulle van hulle lewenskwaliteit ontneem.

Nie alle vrees is noodwendig sleg vir ‘n mens nie. ‘n Gesonde vrees vir byvoorbeeld hoogtes sal verhoed dat ‘n persoon onnodiglik kanse sal neem wat tot ernstige beserings en selfs die dood aanleiding kan gee. (roekeloosheid is ook ‘n sonde. 2Tim.3:4) ‘n Gesonde vrees vir werklike gevaarlike situasies het al baie ‘n persoon se lewe gered. Wanneer gesonde vrees buite die raamwerk waarvoor God dit daar geplaas het uitbeweeg, en in ‘n onbeheerste angstigheid omgeskakel word dan word dit egter ‘n probleem wat aandag moet geniet. Hierdie artikel handel dus oor die vorm van vrees wat as basis ons sonde natuur het. Dit is die Here se wil dat ons Hom in alles moet vertrou en dat ons nie onnodig angstig moet wees nie. Ons moet ook onthou dat nie alle vorme van angstigheid noodwendig ‘n geestelike oorsprong het nie. Daar kan ook onderliggende fisiologiese oorsake aanwesig wees wat tot angstigheid aanleiding kan gee. Om hierdie rede is dit belangrik om ‘n dokter te raadpleeg indien ‘n persoon gereeld met angstigheid sukkel. Hierdie artikel is dus vir gesonde mense bedoel, wat nie ‘n onderliggende siekte het wat angstigheid kan veroorsaak nie.

Vrees en alle vorme van ongeloof/kleingelowigheid het as basis ons ou sonde natuur. Dit is belangrik om hierdie feit te onthou omrede voortgesette angstigheid nie noodwendig beteken dat ‘n persoon ongered is nie. Mens ontvang die gawe van die ewige lewe (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) die oomblik wanneer ons die evangelie glo en die gawe van die ewige lewe kan nooit weer verbeur word nie. Net soos wat alle gelowiges nog steeds sonde na aanvanklike wedergeboorte pleeg, geld hierdie beginsel ook vir vreesagtigheid. Alle ware gelowiges bevind hulleself outomaties in fase twee van hulle verlossing, naamlik die heiligmaking fase, die oomblik wanneer hulle die evangelie geglo het (passiewe geloof), en dit is juis d.m.v. heiligmaking (voortgesette aktiewe geloof) waartydens die houvas wat sonde op die gelowige het toenemend verbreek word. Om hierdie rede is fase twee van ons verlossing, naamlik die heiligmaking fase, ‘n lewenslange proses wat deur voortgesette dade van geloof, in die krag van die Heilige Gees moet plaasvind en hierdie feit geld vir angstigheid ook. (Die leser word aangeraai om die artikels “Drie fases van Verlossing”, asook “Heiligmaking in drie fases” en die illustrasie “Die drie fases van verlossing” sorgvuldig te bestudeer. ‘n Persoon wat dood eenvoudig die evangelie geglo het is vir altyd God se kind en hy hoef nooit bang te wees dat God hom sal verwerp omrede hy met angstigheid sukkel nie. God verwerp nie Sy kinders soos wat baie dwaalleraars verkondig nie.
John 10:28 “En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.”
Maar omrede God ons juis so lief het, is dit Sy wil/begeerte vir ons dat ons nie angstig moet wees nie. God wil hê ons moet volkome op Hom vertrou en volkome in Hom rus. Ag liewe broeder of suster, moet asseblief nooit dink dat God jou nie liefhet omrede jy met angstigheid of met enige ander sonde sukkel nie. Hy het jou lief en wil jou graag help.

Anders gestel: Wedergeboorte vind slegs op grond van ons geloof in die evangelie plaas en ons werke het absoluut niks met die ontvangs daarvan te make nie. Daarenteen word dit van ons verwag om saam met, en in die krag van die Heilige Gees d.m.v. aktiewe geloof te werk om die houvas wat sonde na aanvanklike wedergeboorte op ons het te verbreek. Omrede sonde vanuit ons sonde natuur uitdrukking vind, is dit ‘n feit dat ons denke ‘n uiters belangrike rol in die proses van heiligmaking speel en daarom vermaan die Bybel ons om die lendene van ons verstand te omgord.
1Pet.1:13 “Daarom, omgord die lendene van julle (gelowiges/kinders van God se)verstand, wees nugter (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking)en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus.” (fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking, waartydens ons volkome van die teenwoordigheid van die sonde natuur bevry sal word.)
Die term “ omgord die lendene van julle verstand” is ‘n vorm van beeldspraak wat beteken dat ons gedissiplineerd in ons denke moet wees. In die Bybelse tyd het die mense lang klere gedra, en hulle sou hulle klere opbind om sodoende te verseker dat hulle klere nie met die uitvoering van hulle daaglikse taak sou inmeng nie. Net so verwag God van ons om in ons denke gedissiplineerd te wees, en ons moenie ons denke vrye teuels gee nie anders gaan ons in die moeilikheid trap.

Die apostel Paulus het hierdie feit op die volgende wyse gestel, naamlik:
2Kor.10:3 “Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; 4 want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, 5 terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,”
Dit is van uiterste belang om ons gedagte wêreld te beheer, en dit in lyn met die werklikheid soos wat ons dit in die skrifte vind, te bring. Wanneer daar angstige gedagtes in ons verstand opkom, moet ons dit onmiddellik met goeie gedagtes vervang en ons lewens volkome in God se hande te plaas. Ons moenie op die negatiewe gedagtes konsentreer nie anders gaan dit ‘n vastrap plek in ons verstand kry wat dan tot angstigheid aanleiding sal gee. Introspeksie in tye van angstigheid is nooit ‘n goeie idee nie. Ons moet nie op onsself, en hoe ons op daardie stadium fokus nie maar op Christus en dit wat Hy van ons in sy woord (die Bybel) openbaar. Konsentreer eerder op wyses waarop ons God en ons medemens kan dien. Dit is belangrik om op ander dinge as die angs te fokus. Wanneer ons byvoorbeeld op ander mense se probleme fokus, en maniere uitdink hoe ons hulle kan help dan sal ons opmerk dat ons eie angstigheid afneem. Ons fokus moet nie op onsself en hoe ons voel gefokus bly nie maar eerder op God en wat Hy van ons verwag. Daar is baie mense wat erger dinge as ons in hierdie lewe beleef en dit is op daardie mense wat ons ook moet fokus.

Vir baie mense gaan dit aanvanklik moeilik wees om volle beheer oor hulle gedagtes te kry, maar indien hulle op die krag van die Heilige Gees staatmaak en hierdie beginsels deel van hulle lewens maak sal hulle met tyd hulle angstigheid onder beheer kry. Dit bly egter iets wat ons in geloof moet toepas en indien ‘n persoon dit nie onmiddellik regkry nie moet hy nie moedeloos raak en opgee nie. Onthou, aanhouer wen. Ons moet leer om ons lewens volkome in God se hande te plaas, iets wat nie altyd maklik is om te doen nie. ‘n Geloof wat volkome op God vertrou sal vrees oorwin.

2Pet.3:18 “Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus. Aan Hom kom die heerlikheid toe, nou sowel as in die dag van die ewigheid. Amen.”
Dit is van uiterste belang dat ons in die leerstellings van God se genade en kennis aangaande Hom moet groei.
2Pet.1:5 “En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, (goeie gedrag/morele opregtheid) en by die deug die kennis, 6 en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, (volharding, wat beteken ons gee nie op nie)en by die lydsaamheid die godsvrug, 7 en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde. 8 Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie;”
Om in die genade toe te neem is egter ‘n groei proses en vorm deel van die heiligmakingsproses wat tyd duur. God verwag van ons om deursettingsvermoë te hê, en wanneer ons leer om ons gedagtes te beheer en dit in lyn met God se woord te bring sal ons angstigheid met tyd afneem. God sal nie iets van ons verwag waarvoor Hy nie ook die krag gegee het nie. Die bevel om selfbeheersing te beoefen geld veral vir ons gedagte wêreld. Ons moet leer om ons gedagtewêreld te beheer. As ‘n bonus kan ons verseker weet dat die Here Jesus Christus ons met genadeloon sal beloon indien ons in heiligmaking volhard.

God en Sy wil moet die sentrale punt in ons lewens wees. Indien God alles vir ons is, dan sal ons nie bang wees om enigiets anders te verloor nie en dit sluit ons lewens in. Meeste angsaanvalle is gegrond op ons drang vir selfbehoud, maar in werklikheid is ons lewens volkome van God afhanklik en dit is Hy wat besluit wanneer ons moet leef of sterf.
1Sam.2:6 “Die HERE maak dood en maak lewend; Hy laat neerdaal in die doderyk en laat daaruit opkom.”
Omrede ons sy kinders is kan ons met absolute sekerheid weet dat God net die beste vir ons wil hê en dat Hy ‘n plan met elkeen van ons het. Met hierdie wete hoef ons nie angstig te wees nie. Ons moet net op God vertrou. Die apostel Petrus is in hierdie opsig ‘n goeie voorbeeld vir ons. Sy drang vir selfbehoud het veroorsaak dat hy die Here verloën het (Luk.22:55-62) maar later het die Here hom vooruit gesê dat hy ‘n martelaarsdood sou sterf, en volgens tradisie het Petrus sy moordenaars gevra om onderstebo gekruisig te word omrede hy nie waardig is om soos Sy Heer gekruisig te word nie. Petrus het geleer om sy vrees in die krag van die Heilige Gees te oorwin. Net soos Petrus het Paulus ook die volgende waarheid geleer, naamlik:
Filip.1:21 “Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins. 22 Maar as ek in die vlees moet lewe, dan beteken dit vir my vrugbare arbeid; en wat ek sal kies, weet ek nie.”

Ons moet leer dat ons nie God oor ons eie lotgeval is nie, maar dat ons geskape wesens is wat maar eintlik min beheer oor dinge het. Ons drang tot selfbehoud en liefde vir self met met liefde en toewyding aan God vervang word. (Die leser word aangeraai om die artikel “Jouself liefhê?” te lees) Wanneer ons in hierdie rigting geestelik groei sal ons merk dat ons angstigheid afneem. God moet ons alles word, nie onsself en ons selfbestaan nie. Onthou, ons bestaan in en vir Hom, moet nooit hierdie feit vergeet nie.
Hand.17:28a “want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons,”
Rom.11:36 Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”
Ons moet nie aan hierdie lewe vasklou asof daar niks beters is nie. Die beste lê vir ons voor.

Ons weet immers dat ons tyd hier op aarde net tydelik is en ons moet dit so aanvaar.
1Joh.2:17 “En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.
2Kor.4:18 omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.”
Indien ons hierdie feit nie wil aanvaar nie, dan gaan dit tot angstigheid aanleiding gee, juis omrede ons in beheer van ons eie lotgeval wil bly en nie werklik die feit besef dat God se weg die beste vir ons is nie. Laat God toe om God te wees. Of ons nou daarvan hou of nie, God bepaal die lot van ons lewe, en ons lewe is in Sy hande en daar is niks wat ons daaraan kan maak nie. Aanvaar hierdie feit en rus daarin, jy sal nie spyt wees nie. Die wete dat ons lewens in God se hande is beteken dat ons vry is om elke dag ten volle vir God te leef. Ons kan immers nooit van Hom geskei kan word nie en hierdie feit behoort ons berusting gee.

Ter Afsluiting: Angstigheid is nie God se wil vir ons lewens nie. Angs is ‘n verskriklike ding wat nie ligtelik opgeneem moet word nie. Daar is baie mense wat met angstigheid sukkel en dit versuur onnodiglik hulle lewens. Om angs te oorwin vereis dat ons moet reg dink en ons gedagtes moet beheer. (om ons gedagtes te beheer is niks anders as ‘n vorm van selfbeheersing nie. Dit is boonop een van die vrugte van die Gees. Gal.5:22) Dit is nie altyd maklik nie en dit neem tyd. Negatiewe denke programmeer ons brein om negatief en angstig te reageer. Ons is verantwoordelik vir wat ons dink, en deur om die regte denkpatrone te handhaaf sal ons, ons brein programmeer om reg te dink wat daartoe aanleiding sal gee dat ons angstigheid sal afneem. Hierdie is niks anders as ‘n vorm van selfbeheersing wat ons deur geloof en in die krag van die Heilige Gees moet beoefen nie. Die leser woord aangeraai om die artikel “Jesus se oplossing vir vrees en bekommernis” te lees. Onthou, al val ons van tyd tot tyd moet ons altyd onthou dat ons nooit uit God se hande kan val nie. Net so kan angstigheid of ‘n angsaanval nie ‘n persoon uit God se hande ruk nie. Maak nie saak hoe jy voel nie, jy is nog steeds in God se hande en Hy is volkome in beheer. Gee jou lewe aan God oor en rus in Hom.

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.