Die Bo-vertrek Rede (ook bekend as die Bo-vertreksrede of Afskeidsrede) verwys na ‘n gedeelte van Jesus Christus se onderrig wat opgeteken is in die Evangelie volgens Johannes, hoofstukke 13 tot 17. Hierdie afskeidsboodskap staan bekend as die Bo-vertrek Redes omdat dit gelewer is in die boonste kamer waar Jesus en sy apostels vergader het. Teen die tyd van die lering was net elf dissipels teenwoordig, aangesien Judas – wat ‘n ongelowige was – reeds weg is om Hom te gaan verraai. Hierdie afskeidsrede is uitsonderlik, want Jesus het dit net vir sy gelowige volgelinge — die elf dissipels wat oorgebly het — gegee, en nie vir die publiek of vir diegene wat nie geglo het nie. Die belangrikheid van die Bo-vertrek Redes is daarin geleë dat dit die kern of grondslag vorm vir die leerstellings wat vir die Dispensasie van die Kerk (of Kerk-tydperk) sou geld, wat op die punt was om aan te breek. Die doel was dat Jesus sy dissipels sou toerus vir die belangrike rol wat hulle tydens die aanvang van die Kerk Dispensasie sou vervul, ‘n bedeling wat amptelik met Pinkster sou begin. Die Bo-vertrek Redes bring waarhede aan die lig wat nog nooit voorheen bekend gemaak is nie. Die fokus val spesifiek op die dissipels se veranderde posisie, besittinge, voorregte en verantwoordelikhede binne die Kerk Dispensasie. Gevolglik het die Here Jesus Christus Sy dissipels toegerus vir hul fundamentele rol as leiers (apostels) in die Kerk wat amptelik op Pinksterdag sou begin. Die Bo-vertrek Redes moet onderskei word van die Christus se rede op die Olyfberg (soos opgeteken in Mattheus 24 en 25); daardie lering is op die Olyfberg gegee en het oor Israel se toekomstige herstel gehandel.
‘n Noukeurige bestudering van die woorde van die Here Jesus Christus tydens die gesprek met Sy dissipels in die bovertrek toon duidelik dat die fundamentele leringe wat Hy by hierdie geleentheid geopenbaar het, later in die sendbriewe in meer besonderhede uitgebou is.
Sulke voorbeelde sluit in:
- die gelowige se eenheid met Christus (Joh. 14:20; Gal. 2:20; Rom. 6:1–14),
- die permanente inwoning van die Heilige Gees in die gelowige (Joh. 14:16; Ef. 4:30),
- die Christelike eenheid onder gelowiges (Joh. 17:20–23; Ef. 2:11–22),
- die noodsaaklikheid vir die gelowige om in gemeenskap met Christus te bly (Joh. 13:10; 15:1–17; 1 Joh. 1:5–7, 9),
- die in-Christus-bly as ‘n voorvereiste vir vrug dra (Joh. 15:1–7; Filip. 4:13),
- die uitverkiesing van die gelowige met die doel om vrug te dra (Joh. 15:16; Ef. 1:4),
- Christus as die uitsonderlike/volmaakte voorbeeld van opofferende lewe en diens (Joh. 13:1–20; Filip. 2:5–11),
- Die noodsaaklikheid van Goddelike tugtiging in die gelowige se lewe (Joh. 15:2; Heb. 12:5–11),
- Satan as die god van hierdie bedeling (Joh. 12:31; 14:30; 16:11; 2 Kor. 4:4; Ef. 2:2),
- Satan se nederlaag by die Kruis (Joh. 12:31; 16:11; Kol. 2:15; Heb. 2:14),
- die gelowige se weerstand teen die wêreld (Joh. 15:18–19; Jak. 4:4; 1 Joh. 2:15–17),
- die Heilige Gees as die inspireerder van die hele Skrif (Joh. 14:26; 16:13; 2 Tim. 3:16; 2 Pet. 1:20–21),
- die Heilige Gees se rol om die hele Skrif vir gelowiges te verhelder en verstaanbaar te maak. (Joh. 14:26; 16:13; 1 Kor. 2:14; 1 Joh. 2:20, 27),
- Christus se voorsiening van vrede te midde van beproewing (Joh. 14:27; Filip. 4:7),
- die noodsaaklikheid van die Gees se oortuigingswerk as ‘n voorvereiste vir redding (Joh. 16:7–11; 1 Kor. 2:14; 2 Kor. 4:4),
- die feit dat tribulasie deel uitmaak van die normale verloop van sake in hierdie huidige bedeling. (Joh. 16:33; Jak. 1:2–4),
- deur Christus is die gelowige die uiteindelike oorwinnaar. (Joh. 16:33; 1 Joh. 4:4; 5:4–5),
- Christus se huidige sitting aan die regterhand van die Vader. (Joh. 14:12–14; 17:5; Heb. 8:1; 10:12–13),
- die krag van gebed (Joh. 14:12–14; Ef. 6:18–20; Jak. 5:16),
- die onfeilbaarheid van die Skrif (Joh. 17:17; 2 Tim. 3:16),
- die wegraping (Joh.14:1-4; 1Thess.4:16-17;1Kor.15:51-52; Filip.3:20-21; Tit.2:13-14)
- en die onthulling van die eskatologie/eindtydgebeure (Joh. 16:13; 2 Thess. 2:1–12).”
Die leser word ten sterkste aangeraai om die bostaande teksgedeeltes self in sy of haar Bybel na te lees. Aangesien die Bo-vertrek Rede waarhede vir die kerktyd in kernvorm openbaar, behoort dit ons geensins te verbaas dat Christus in hierdie rede ook sou bekend maak hoe God die aardse program van die kerk sal beëindig. Christus bied juis hierdie lering aan deur ‘n aanvanklike en bondige verwysing na die wegraping in Johannes 14:1–4 wat soos volg lees:
Joh.14:1 “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. 2 In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. 3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. 4 En waar Ek heengaan, weet julle en die weg ken julle.”
Met Sy hemelvaart het die Here Jesus Christus fisies en liggaamlik na Sy Vader se huis opgevaar. Hierdie gedeelte beklemtoon nie net Christus se belofte om terug te kom en Sy broeders te versamel nie, maar dit dui ook op ‘n persoonlike hereniging met Hom in die hemel. By hierdie geleentheid sit Hy nie Sy voete op aarde neer nie, maar gelowiges word met Hom in die lug verenig. Daarna neem Hy hulle na Sy Vader se woning, waar Hy reeds plek vir hulle voorberei het. 1 Thessalonicense 4:16-17 bevestig hierdie feit en dien in wese as ‘n parallelle herhaling van dit wat die Here Jesus Christus in die Bo-vertrek Rede openbaar gemaak het, naamlik:
1Thess.4:16 Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het (slegs gelowiges wat tydens die Kerkbedeling wedergebore word, word in die Bybel as “in Christus” omskryf.), sal eerste opstaan. 17 Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.
Bostaande teksgedeelte is een van die duidelikste uiteensettings van die Voorverdrukking-Wegraping, aangesien dit die opstanding van Kerk Dispensasie gelowiges en hul ontmoeting met Christus in die lug duidelik uiteensit.
Paulus het verder op die Here Jesus Christus se openbaring rakende die Voorverdrukking-Wegraping uitgebrei. Hy het ook verduidelik hoe die oorlewende gelowiges van die Kerkbedeling tydens die Voorverdrukking-Wegraping verander sal word en met hul verheerlikte liggame beklee sal word.
1Kor.15:51-52 “Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap(sterwe) nie, maar ons sal almal verander word, 52 in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons (gelowiges wat tydens die Voorverdrukking-Wegraping nog lewe) sal verander word.”
Bogenoemde teksgedeelte openbaar die verandering (of: verheerliking) van gelowiges by die Voorverdrukking-Wegraping, en beklemtoon die onmiddellike aard van hierdie gebeurtenis.
Onthou, die hele Bybel is deur God vir ons op skrif laat stel, maar dit is nie alles direk aan ons gerig nie. ‘n Voorbeeld hiervan is die feit dat dit in die Bybel staan dat God Noag beveel het om ‘n ark te bou. In hierdie konteks is die Skrif wel vir ons op skrif gestel, maar nie direk aan ons gerig nie. ‘n Gelowige wat nou uitgaan en ‘n ark begin bou sal van sy sinne beroof wees. Net so word ons nêrens in die briewe wat direk aan die kerk gerig is aangemoedig om ons vir die koms van die Verdrukking of die verskyning van die Antichris voor te berei nie. Gelowiges wat tydens die Kerkbedeling leef, word aangesê om na die koms (fase een van die wederkoms, naamlik die Voorverdrukking-Wegraping) van die Here Jesus Christus uit te sien, want hulle weet dat Hy gegaan het om vir hulle plek in die hemel voor te berei en dat Hy sal terugkom om hulle na Hom te neem.
Filip.3:20 “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, 21 wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp.”
Hierdie vers beklemtoon die hoop op liggaamlike transformasie en verheerliking tydens die Voorverdrukking-Wegraping.
Titus 2:13-14 sluit by hierdie gedagte aan, naamlik:Tit.2:13 “terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus, 14 wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.”
Hierdie teksgedeelte verbind die Voorverdrukking-Wegraping met die afwagting van Christus se wederkoms en beklemtoon die hoop en genade wat gelowiges besit.
Indien die Bybel op ‘n konsekwente letterlik-grammaties-historiese wyse verklaar word, dan word dit duidelik waarom die ware kerk nie deur die Verdrukking kan gaan nie. Die Kerk kan nie deur die Verdrukking gaan nie, omdat die Skrif duidelik stel dat die Kerk nie bestem is vir God se toorn wat op aarde uitgestort sal word tydens die Verdrukking nie.
1Thess.5:9 “Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus”
Die Voorverdrukking-Wegraping is ‘n afsonderlike gebeurtenis wat voor die Verdrukking sal plaasvind, en sodoende word verseker dat gelowiges nie onderhewig is aan die goddelike toorn wat gedurende die Verdrukking uitgestort sal word nie. Volgens teksgedeeltes soos byvoorbeeld Daniël 9:24-27 word die Verdrukking beskou as ‘n sewejarige periode van erge lyding en goddelike straf, wat veral op Israel en die wêreld se ongelowiges gemik is.
Die Nuwe Testament stel die Voorverdrukking-Wegraping voor as ‘n imminente gebeurtenis (dit wil sê: onmiddellik-staande), wat daarop dui dat dit enige tyd sonder voorafgaande tekens kan plaasvind (1 Thessalonicense 5:9). Daarenteen is daar baie tekens wat die Wederkoms van Christus aarde toe voorafgaan, en dit word breedvoerig in die Skrif uiteengesit, veral in gedeeltes soos Matt.24, Mark.13, Luk.21 en Openb.6–19. Die Voorverdrukking-Wegraping (Grieks: harpazō) word dus deur drie skriftuurlike aspekte onderskryf, naamlik skriftuurlike beloftes van verlossing (1Thess.5:9), die imminente aard (Tit.2:13) van die Voorverdrukking-Wegraping, en die onderskeie rolle van Israel en die Kerk in God se Raadsplan. Hierdie gevolgtrekking stem ooreen met die konsekwente letterlik-grammaties-historiese uitleg van die Bybel, wat die onderskeid tussen Israel en die Kerk handhaaf en die genade en sekuriteit van gelowiges in Christus beklemtoon.
Ter afsluiting: Dit is van kardinale belang om die Voorverdrukking-Wegraping en die Wederkoms van Christus na die aarde as afsonderlike fases van Sy wederkoms te beskou en die verskille daartussen te verstaan. Die Voorverdrukking-Wegraping behels dat Christus vir Sy Kerk in die lug kom (1Thess. 4:17), terwyl die Wederkoms behels dat Hy saam met Sy heiliges terugkeer om Sy koninkryk op aarde te vestig (Sag.14:4;Matt. 24:30; Judas 14;Openb.19:11-16.) Die Voorverdrukking-Wegraping is imminent en vind voor die Verdrukking plaas (Titus 2:13), daarenteen is die Wederkoms aarde toe ‘n sigbare gebeurtenis wat eers na die vervulling van spesifieke voorafgaande profetiese tekens plaasvind (Matt. 24:4-28). Met die skryf van hierdie artikel is dit bo enige twyfel bewys dat die Here Jesus Christus, asook Paulus die Voorverdrukking-Wegraping verkondig het. Iemand wat dus beweer dat die leerstelling van die Voorverdrukking-Wegraping nie in die Bybel voorkom nie, maak ‘n bespotting van die lering van die Here Jesus Christus en Paulus aangaande hierdie onderwerp en trek terselfdertyd al die ander leerstellings wat die Here tydens die Bo-vertrek Rede geopenbaar het in twyfel.
Seën groete!
Vic
Lees gerus hierdie reeks artikels in volgorde. Dit sal jou help om ‘n Bybelse raamwerk vir die geskiedenis van die skepping te verstaan.
Die Dispensasies ‘n Skriftuurlike perspektief
Dispensasie van Onskuld
Die Dispensasie van Menslike Gewete
Die Dispensasie van Menslike Owerheid
Die Dispensasie van Belofte. Deel Een
Die dispensasie van belofte. Deel 2
Die Dispensasie van die Wet. Deel 1
Die Dispensasie van die Wet. Deel 2
Die Dispensasie van die Kerk. Deel een
Die Dispensasie van die Kerk. Deel 2
Belangrike feite aangaande die kerk. Deel 1
Belangrike feite aangaande die kerk. Deel 2
Die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde. Deel 1
Die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde. Deel 2
Die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde. Deel 3
Die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde. Deel 4
Die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde. Deel 5
Die Dispensasie van die Koninkryk
Die Ewigheid
Die volgende twee artikels kan ook as profetiese aanhangsels gelees word.
Dit is God wat Israel in hulle eie land hervestig.
Israel en die oorlog van Gog en Magog Esegiël 38–39
Die Wegraping. Deel 1
Die Wegraping. Deel 2
Die Wegraping. Deel 3