Christus oor beledigende taal

Christus se waarskuwing teen Kwaad Wees

Vraag: Haai Vic, ek het iewers in Mattheus, ek dink dit is in Matt. 5, gelees waar Jesus Christus praat van idiote. Van wie praat Hy? Ek het so geskrik toe ek dit lees want ‘n ou is geneig om dit te sê as jy kwaad is. Laat weet my asb.

Antwoord: Jy mag nie ‘n ander mens wat in God se beeld geskape is beledig nie. Maar soos jy korrek opmerk het is die rede gewoonlik dat ‘n persoon vir iemand kwaad is. Dit is dan ook die onderwerp wat die Here in Matt.5:21 – 26 aanspreek. Maar kom ons bespreek eers gou die agtergrond en konteks.

Hierdie waarskuwing wat die Here hier uitspreek vorm deel van die Bergpredikasie, en handel oor die toestande binne die beloofde Messiaanse Koninkryk wat die Here in die Ou Testament aan die Jode belowe het. Die Koning van daardie Koninkryk, in die persoon van die Here Jesus Christus, is nou op die toneel. Dit is ook belangrik om te besef dat God se Universele Koninkryk oor ‘n hemelse, sowel as ‘n aardse gedeelte bestaan. Mens kan dit met twee provinsies van God se Universele Koninkryk vergelyk. (Die leser word aangeraai om die reeks artikels “Die Duiwel se aktiwiteite sover dit gelowige aanbetref.” te lees waar meer inligting aangaande hierdie onderwerp gegee word.)

Die Konteks en agtergrond: Voor die skepping van die hemele en aarde het God in Sy ewige raadsplan besluit om ‘n Koninkryk vir Homself op te rig. Hierdie Universele Koninkryk van God sou dan as die Koninkryk van die Hemele bekendstaan wat uit die hemele, asook die aarde sou bestaan. Maar vir God om in Sy universele koninkryk as alleen Heerser te regeer, moes Hy eerstens oor onderdane beskik waaroor Hy kon regeer. Anders sou Sy koninkryk nie werklik as ‘n koninkryk omskryf kon word nie. Vir die doel van hierdie studie gaan ons hoofsaaklik twee afdelings of gedeeltes bespreek, naamlik die van die eerste hemel en die van die aarde.

Die eerste groep onderdane wat God geskape het was die engele, wie God hoofsaaklik geskep het om in die provinsie van die eerste hemel van God se universele koninkryk te woon en Hom in afhanklikheid en gehoorsaamheid te dien. Die engele was slegs geestelike wesens en derhalwe het hulle nie oor liggame van vlees en bloed beskik nie. So het God dan die eerste groep onderdane van Sy universele koninkryk geskape, wat Hom in Sy universele koninkryk getrou moes dien.

Die tweede groep wesens wat God geskape het, was die mens wat oor die aardse gedeelte van God se Universele Koninkryk moes regeer.
Gén 1:27 “En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.”
Omrede die mens tydens die sondeval teen God gerebelleer het, het die mens sy gesag om namens God op aarde te regeer aan Satan oorgedra, en daarom staan die duiwel as die God van hierdie wêreld bekend. (2Kor.4:4) Die res van die Bybel handel oor hoe God d.m.v. die tweede Adam, naamlik die Here Jesus Christus, in fases Satan verslaan en die aarde weer uit Satan se beheer sal neem, wanneer Christus met Sy wederkoms Sy Messiaanse Vrederyk op aarde vestig. (Die leser word aangeraai om die artikel “Christus se sistematiese oorwinning oor Satan” te lees) Die tweede Adam, naamlik die Here Jesus Christus (die God-Mens) sal dan die aarde namens God regeer en op die wyse wat Hy oorspronklik van die eerste Adam verwag het. Dit was hierdie aardse deel van God se Universele Koninkryk wat die Here Jesus Christus met Sy eerste koms aan die Jode aangebied het. Hulle het Hom egter verwerp, en om hierdie rede is die Messiaanse Koninkryk uitgestel en sal deur Christus met Sy wederkoms opgerig word, wanneer Israel na afloop van die Groot Verdrukking, in hulle nood Hom as hulle Messias sal aanvaar en om verlossing aanroep.

Tydens die Bergpredikasie het die Here spesifiek die geestelike beginsels wat binne die aardse, of te wel die Messiaanse Koninkryk op aarde vereis word, aan die Jode verduidelik. Die Jode moes dus die geestelike beginsels agter die Wet van Moses verstaan en begryp. Onthou die Messiaanse Koninkryk was aan die Joodse volk belowe. Dit is in hierdie konteks waarin die Here se stellings soos in die Bergpredikasie gevind, wat Matt.5:21-26 insluit, bestudeer moet word. Dus, was die bergpredikasie aan Jode, wie hulleself onder die Wet van Moses bevind het, gerig. (onthou Jesus was toe nog nie verwerp en gekruisig gewees nie) Ons het hier dus met die Dispensasie van die Wet te doen, nie met die Dispensasie van Genade/Kerk nie. (Die leser word aangeraai om die illustrasies genaamd “die Sewe Dispensasies” asook “Bybelse Verbonde” te bestudeer.) Om die Messiaanse Koninkryk binne te gaan, moes die Jode oor ‘n geregtigheid beskik wat oorvloediger as die van die Fariseërs was, naamlik:
Matt.5:20 “Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie.
Onthou, ons moet altyd ‘n stelling binne die konteks waarin dit gemaak is bestudeer, anders gaan ons ernstige foute begaan. Dit geld ook wanneer die konsep van die koninkryk bespreek word. Die konteks waarin ‘n gegewe stelling oor die Koninkryk gemaak is, sal aan ons ‘n aanduiding gee van watter gedeelte van die Universele Koninkryk van die Hemele daar gepraat word. Met hierdie agtergrond kennis kan ons nou Matt.5:21-26, wat deel van die Bergpredikasie vorm, bestudeer.

Matt.5:21 “Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie doodslaan nie, maar elkeen wat doodslaan, moet verantwoording doen voor die gereg.22 Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur.
Opmerking: Die Skrifgeleerdes en Fariseërs was onder die indruk, dat indien ‘n persoon nie tot die fisiese daad van moord oorgegaan het nie, daardie persoon homself nog binne die perke van die wet sou bevind en dus die Wet nie oortree het nie. (Hulle het dus nie die dieper geestelike waarheid agter die wet/gebot verstaan nie) Hulle was wel korrek in hulle stelling, dat indien ‘n persoon die lewe van ‘n onskuldige persoon neem, daardie persoon voor die regbank, wat die doodstraf vir moord voorgeskryf het, moet verantwoording doen. Die reg het egter slegs die fisiese daad van moord veroordeel.

Wanneer ‘n persoon moord pleeg, dan toon daardie persoon dat hy nie die nodige (of geen) waarde in ‘n menslike lewe, wie in God se beeld geskape is, koppel nie. Genesis 9:6 dien as bewys van hierdie feit, naamlik:
Gen. 9:6 “Hy wat die bloed van ‘n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak.”
Met bogenoemde gebot, wat voor die Wet van Moses aan die mensdom gerig is, het God van die mens (wat die instansie van menslike regering insluit) verwag om hoë waarde aan die individuele lewe van ‘n mens te heg. Om hierdie rede moes ‘n persoon wat onregmatig die lewe van ‘n ander geneem het, gedood word. Alle regerings wat nie die doodstraf vir moordenaars oplê nie tree in stryd met hierdie opdrag van God op en sal aan Hom daarvoor verantwoording moet doen. (dit sluit aborsies in, wat niks anders as moord is nie.)

Maar die Here gaan verder, en veroordeel ‘n persoon wat sonder ‘n geldige rede vir sy broer kwaad is en spreek dus die innerlike gesindheid agter die daad aan. Sodanige innerlike gesindheid kan maklik tot die daad van moord oorgaan, en dien ook as indikasie dat so ‘n persoon nie sy medemens se lewe as waardevol ag nie. ‘n Gesindheid wat eerstens in die hart van die mens begin, nog voordat dit enigsins in die pleeg van moord uitdrukking kan vind. Die probleem lê dus in die persoon se hart. (Let egter op die stelling “sonder geldige rede” Mens kan onder sekere omstandighede wel vir ‘n ander mens kwaad wees. Daar moet egter ‘n geldige rede vir daardie gesindheid wees.) Om hierdie rede het Apostel Johannes die volgende stelling gemaak, naamlik:
1Joh.3:15 “Elkeen wat sy broeder haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie.”
Wanneer ‘n persoon beledigende taal teenoor ‘n ander mens gebruik, dien sodanige uitlating as indikasie dien dat die skuldige persoon nie die nodige waarde aan sy slagoffer se lewe (wie is God se beeld geskape is) heg nie. Om hierdie rede verdien so ‘n persoon om met die helse vuur gestraf te word. (net soos wat enige ander sonde die helse vuur verdien)

Mat.5:23 “As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, 24 laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe. 25 Wees gou goedgesind teenoor jou teëparty so lank as jy nog saam met hom op die pad is, sodat die teëparty jou nie miskien oorgee aan die regter en die regter jou oorgee aan die geregsdienaar en jy in die gevangenis gewerp word nie. 26 Voorwaar Ek sê vir jou, jy sal daar sekerlik nie uitkom voordat jy die laaste oortjie betaal het nie.”
Opmerking: Die Here gaan boonop verder, en verklaar dat indien ‘n persoon die gees van hierdie opdrag van Hom wil gehoorsaam, daardie persoon met konflikoplossing besig moet wees. Instede daarvan om konflik voort te sit, behoort die persoon eerder met die oplossing daarvan betrokke te wees. Om vrede te bewerkstellig is belangriker as om offers na die tempel te bring, en is ‘n integrale deel van ware godsdiens. Onthou die Here praat met Jode wat onder die wet was en wat nog dier offers na die tempel moes bring. Dit help nie ‘n persoon beweer dat hy die Here getrou aanbid, maar hy handhaaf nie gesonde verhoudings met sy medemens nie. Indien daar onregmatige konflik tussen twee broeders bestaan, sal enige vorm van aanbidding nie by God aanvaarbaar wees, solank as wat daardie konflik nie opgelos is nie. Weiering om versoening te doen kan erge gevolge meebring, en dit geld veral vir die skuldige party. Indien ‘n persoon weet dat hy teen sy broeder gesondig het, dan is dit van uiterste belang om sake met hom reg te maak.

Dit is ook vanuit Christus se stelling, soos hierbo weergegee, duidelik dat dit die skuldige persoon se plig is om om vergifnis te vra en sake reg te stel. Die Here stel dit boonop duidelik dat dit die skuldige broeder is wat weier om versoening te bewerkstellig wat in “die gevangenis gewerp sal word.” Ons moet nie die term “gevangenis” hier met die hel verwar nie. ‘n Persoon kan nie in die hel versoening vir sy sonde doen en dan wanneer dit voltooi is weer uit die hel losgelaat word nie. Om die term “gevangenis” met die hel te verwar is juis so mistasting. (en word gereeld deur gelowiges begaan) Die term “gevangenis” is nie die hel nie, maar eerder temporele tugtiging wat in hierdie lewe deur ons hemelse Vader uitgedeel kan word, en wat gestaak kan word sodra Sy gebot eerbiedig word. (hierdie feit sal later in hierdie artikel duidelik word) Wanneer die skuldige broeder om vergifnis vra, dan is dit die benadeelde broeder se plig om hom te vergewe net soos wat die Here ons almal vergewe het. (Matt.6:14-15)

Die groot vraag: Ons almal het onsself al aan die sonde, om ‘n ander persoon as ‘n dwaas te omskryf, skuldig gemaak. Beteken dit nou dat ‘n gelowige wat hierdie spesifieke sonde gepleeg het hel toe sal gaan? Indien mens egter mooi na die konteks waarin hierdie stelling voorkom kyk, dan word dit duidelik dat die Here van die Fariseërs praat wat glo dat hulle deur die wet en wetnakoming hulle eie verlossing kan bewerkstellig. ‘n Ware gelowige is egter ‘n persoon wat die Evangelie verstaan, en geglo het, en weet dus dat ons nie deur wetnakoming gered word nie, maar slegs deur geloof in die Evangelie alleenlik. Wanneer ‘n persoon die Evangelie op ‘n punt in tyd geglo het, dan het daardie persoon die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid ontvang en kan nooit verlore gaan nie. Dit beteken egter nie dat so ‘n persoon nie deur God sy Vader, vir sy voortgesette sonde, getugtig sal word nie. Die gelowige bly egter nog steeds God se kind al pleeg hy sonde. Die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid is dus meer as voldoende om al ons sondes te dek en dien dus as waarborg dat ons nooit verlore sal kan gaan nie.

Ter afsluiting: Ons het nie die reg om ander mense, wie in God se beeld geskape is, te beledig nie. Ons mag wel sy sondes aan hom uitwys, maar op geen omstandighede gee dit aan ons die reg om ‘n ander te beledig nie. Net soos enige ander sonde verdien diesulke optrede die helse vuur, maar soos alreeds genoem, is die stelling aan mense gerig wat onder die indruk was dat hulle deur wetnakoming hulle eie verlossing kon bewerkstellig. Die Skrifte stel dit duidelik dat geen persoon deur wetnakoming verlos sal kan word nie, naamlik:
Rom.3:19 “Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees; 20 aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde. 21 Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, 22 die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie; 23 want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, 24 en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. 25 Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God 26 om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is. 27 Waar is dan die roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Van die werke? Nee, maar deur die wet van die geloof. 28 Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.”

Alhoewel dit ‘n sonde bly om ‘n ander persoon te beledig, het ons as gelowiges alreeds, a.g.v. ons geloof in Christus se voltooide werk aan die kruis, en Sy opstanding vanuit die dood, vergifnis vir al ons sondes (verlede, hede en toekomstige sondes) ontvang en kan nooit hel toe gaan nie. Dit bly egter ‘n sonde om so iets te doen, en dit kan daartoe aanleiding gee dat ons Hemelse Vader ons vir daardie sonde in hierdie lewe kan tugtig, en dit kan boonop aanleiding gee dat ons genadeloon by die Regterstoel Oordeel van Christus kan verbeur. Dit dien ook as aanduiding dat ons hart-gesindheid teenoor ons mede mens verkeerd is.

Daar is egter nog ‘n verdere implikasie aangaande jou vraag. Indien ‘n persoon glo dat nadat hy die evangelie op ‘n gegewe punt in tyd geglo het, hy die ewige lewe a.g.v. die een of ander sonde kan verbeur, en hel toe kan gaan, dan kan dit moontlik as indikasie dien dat daardie persoon nie werklik geglo het dat die Here Jesus Christus vir al sy sondes aan die kruis versoening gedoen het nie. (Wat ‘n fatale sonde is en so ‘n persoon is nie in werklikheid gered nie) Indien Christus deur Sy kruisdood nie vir eens en vir altyd vir al die gelowige se sondes versoening gedoen het nie, dan het Hy nie vir een sonde versoening gedoen nie. Indien ‘n persoon glo dat hy deur sy eie goeie werke homself kan red, of deur sy goeie werke homself gered moet hou, dan glo so ‘n persoon in ‘n werke evangelie wat ‘n ander evangelie is as wat Paulus verkondig het. Dit gebeur gereeld dat ware gelowiges (soos jy) hulle ook in hierdie vorm van ongeloof skuldig kan maak, en daarom is dit belangrik om van daardie sonde van ongeloof te bekeer.

So ‘n persoon bly egter God se kind, omrede hy die ware Evangelie op ‘n gegewe punt in tyd geglo het, maar indien hy nie van sy sonde van werkheiligheid bekeer nie, sal hy nie geestelik kan groei nie, wat weer nadelige gevolge vir so ‘n gelowige mag inhou. Hy kan egter nie verlore gaan nie. In hierdie geval is Gal.3:1-7, naamlik:
Gal.3:1 “o, Onverstandige Galasiërs, (wie gelowiges is) wie het julle betower om die waarheid (van die evangelie) nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig 2 Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees (en dus die ewige lewe) ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof? (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) 3 Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, (fase een, wedergeboorte) eindig julle nou met die vlees? (fase twee, naamlik heiligmaking deur om van die wet gebruik te wil maak om heiligmaking te bewerkstellig.)4 Het julle verniet so baie (a.g.v julle geloof in die ware evangelie) gely? As dit maar verniet was! 5 Hy (God) wat julle dan die Gees verleen en kragte onder julle werk, doen Hy dit uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof? 6 Net soos Abraham in God geglo het, en dit is hom tot geregtigheid gereken. 7 Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham.” Die leser word aangeraai om die artikel “Drie Fases van verlossing” ,asook te “Heiligmaking op grond van genade deur geloof ” te lees.)

Jy moet jouself nie so gou onrustig maak nie, en jy moet besef dat wedergeboorte sowel as heiligmaking slegs op grond van God se genade deur geloof bewerkstellig kan word. Wanneer die Heilige Gees jou van ‘n sonde bewus maak, dan moet jy daai sonde bely en op Sy krag staatmaak om jou in staat te stel om nie weer die sonde te pleeg nie. Onthou, geloofsekerheid is ‘n integrale deel wan reddende geloof, en daarom moet jy in jou gemoed oortuig wees dat die Here wel vir al jou sondes aan die kruis versoening gedoen het, en hierdie feit waarborg jou dat jy nooit hel toe sal kan gaan nie. Indien jy deur die een of ander sonde oorval word (wat ongeloof na aanvanklike wedergeboorte insluit, en waaraan ons almal onsself gereeld skuldig maak.) en dink dat jy a.g.v. daardie sonde hel toe kan gaan, dan pleeg jy die sonde van ongeloof en moet onmiddellik ook van hierdie sonde bekeer. Dan sal die Heilige Gees weer in en deur jou ware heiligmaking kan bewerkstellig. Sodoende sal jy verseker dat die Heilige Gees (nie jy nie) die vrugte van die Gees in jou te voorskyn kan bring. Indien jy die ware Evangelie geglo het, dan is en bly jy God se kind, al het jy dalk gesondig. Onthou, as gelowige is jy met die Heilige Gees verseël tot en met fase drie van jou verlossing, naamlik die verheerliking, wanneer jy met jou sondelose, onsterflike verheerlikte liggaam oorklee is, naamlik:
Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,
Ef 4:30 En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.”
(Jy is vir eens en altyd alreeds verseël en hierdie feit waarborg dat jy nooit verlore sal kan gaan nie.)

Wanneer jy enige sonde pleeg dan bedroef jy die Heilige Gees. Hierdie stelling geld ook vir die feit dat jy, as wedergebore gelowige, glo dat jy hel toe sal gaan indien jy deur die een of ander sonde oorval word. Dit beteken dat jy nie God se belofte, dat jy volkome in Christus vergewe is, en dat jy nou die ewige lewe as huidige besitting besit, glo nie.
Joh.5:24 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het (nou as huidige besitting) die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.” (verlede taalvorm, iets wat alreeds afgehandel is)
Boonop maak jy jouself daaraan skuldig, dat jy nie werklik glo dat die Heilige Gees jou tot en met die dag van jou verlossing (fase drie) verseël het nie. (Ef.1:13; 4:30) In so ‘n geval maak jy van God ‘n leuenaar wat ‘n baie ernstige sonde is. As kind van God sal jy nooit verlore kan gaan nie. Jy het Sy woord daarvoor. Ek hoop my antwoord stel jou weer gerus, sodat jy weer vreugdevolle gemeenskap met jou hemelse Vader kan geniet. Hy is jou Vader en sal jou nooit verwerp nie. Onthou, sonde is nooit wenslik nie, maar ons almal struikel soms, en dan verwag God van ons om daardie sonde aan Hom te bely, en deur geloof in Sy instaatstellende krag op Hom te vertrou om ons van die sonde te weerhou.

Seën Groete!

Vic

Deel met ander asb.