Lewe

Daar is dinge wat belangriker as die lewe self is

In die gejaagdheid van die lewe besef ons nie altyd dat daar dinge is wat belangriker as die lewe self is nie. Almal van ons het ‘n inherente begeerte om selfbehoud. In baie gevalle is hierdie drang so sterk dat mens soms vergeet dat daar dinge is wat belangriker as die lewe self is. Vir Paulus was sy roeping belangriker as die lewe self en daarom het hy die volgende stelling gemaak, naamlik:
Hand.20:22 “En kyk, ek gaan nou gebind deur die Gees na Jerusalem; en watter dinge my daar sal oorkom, weet ek nie, 23 behalwe dat die Heilige Gees in elke stad kragtig getuig en sê dat boeie en verdrukkinge my wag. 24 Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God. 25 En nou weet ek dat julle almal onder wie ek rondgegaan en die koninkryk van God verkondig het, my aangesig nie meer sal sien nie.”

Deur so ‘n verklaring te maak verklaar Paulus dat hy nie sy lewe as kosbaar ag sover as wat dit homself aanbetref nie. Sodoende demonstreer hy ‘n gesindheid van selfopoffering waardeur hy sy toewyding om die missie wat God hom opgelê het te voltooi. God se opdrag het dus sy lewensdoel geword. Hy het die uitvoering van sy missie as van groter belang as sy persoonlike en materiële sekuriteit bestempel en hy het nie geskroom om sy persoonlike gemak prys te gee nie. Dit is dus duidelik dat Paulus die beginsel wat die Here Jesus Christus tydens Sy eerste koms verkondig het ernstig (en letterlik) opgeneem het, naamlik:
Joh.12:25 “Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe. 26 As iemand My dien, laat hom My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees; en as iemand My dien, sal die Vader hom eer.”

Die woord “liefde” in bostaande teksgedeelte verwys hier na oormatige gehegtheid van ‘n persoon t.o.v. sy eie aardse bestaan, eiebelang en wêreldse prioriteite. So ‘n gesindheid demonstreer dat die persoon sy eie gemak, begeertes en ambisies, asook die tydelike genot wat hierdie wêreld hom kan bied, as van groter belang as gehoorsaamheid aan God beskou. Baie gelowiges fokus meer op die tydelike en sigbare dinge in hierdie lewe, en demonstreer sodoende dat hulle die oortreffende ewige gewig van heerlikheid van die hiernamaals as van minder waarde ag as die sigbare tydelike dinge van hierdie lewe. So ‘n persoon gee maklik ewige waardes vir tydelike genot prys.
2Kor.4:17 “Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; 18 omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.

Indien ‘n persoon in hierdie opsig sy eie lewe “liefhet” dan maak hy sy eie lewe/belange die sentrale fokuspunt en hoofoogmerk in sy lewe. Al sal so ‘n persoon dit nie maklik erken nie, demonstreer hy egter die feit dat hy in effek sy eie tydelike sekuriteit en selfbehoud as van groter waarde as sy verhouding met God beskou. Dit kom alles op lojaliteit neer. Is so ‘n persoon werklikheid aan God lojaal of is hy in werklikheid aan homself lojaal? Demas, wie op ‘n stadium Paulus se getroue medewerker was, het later die dinge van hierdie wêreld liefgekry en hom verlaat. Hy het dus sy eie lewe in hierdie wêreld liefgekry en sodoende die ewige waarde daarvan prysgegee. Hy sal dus genadeloon wat van baie groter belang as enigiets in hierdie lewe is prysgegee en in hierdie opsig het hy werklike waarde van sy lewe in hierdie wêreld verloor. Wat ‘n tragedie.

Die stelling “maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld” in hierdie konteks gaan nie oor vyandigheid of afkeer van ‘n persoon se lewe nie, maar is ‘n vergelykende uitdrukking wat dikwels in die Skrif gebruik word om prioritisering te illustreer. In Lukas 14:26 maak die Here Jesus Christus ‘n soortgelyke stelling, naamlik:
Luk.14:26 “As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie.”
Die Here Jesus Christus gebruik die woord “haat” in hierdie konteks as ‘n vergelykende term en Hy bedoel geensins dat ‘n gelowige sy familie moet haat nie. Wat Hy bedoel is dat ‘n persoon nie sy familie liewer moet hê as wat hy God het nie. So ook beteken dit dat ‘n persoon wat sy eie lewe in hierdie wêreld “haat” dit as sekondêr tot die nastrewing van God se wil en ewige waardes beskou. Vir ‘n persoon om binne hierdie konteks sy lewe te “haat” beteken dat hy eerder bereid is om sy gehegtheid/verkleefdheid aan sy aardse ambisies, belange en gemak prys te gee indien dit enigsins getrouheid aan God en Sy wil mag verhinder. Ware dissipelskap vereis dat ‘n persoon homself moet verloën, en gehoorsaamheid aan God die belangrikste prioriteit in sy lewe moet maak, al beteken dit dat hy persoonlike gewin en/of sy lewe moet prysgee. Die gawe van die ewige lewe word kosteloos deur geloof by God ontvang. Daarenteen gaan ware dissipelskap ons baie kos, in sekere gevalle selfs ons fisiese lewens.

God se wil was Paulus se hoof prioriteit in die lewe, en hy is deur sy begeerte om God se wil te volbring voortgedryf en daarom kon hy die volgende stelling maak, naamlik:
Filip.3:8 “Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry
Hand.20:26 Daarom betuig ek aan julle op hierdie dag dat ek rein is van die bloed van almal. 27 Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie.”
Hoeveel van ons sal ooit met alle eerlikheid so ‘n stelling kan maak? Paulus se lewe, na aanvanklike wedergeboorte, was ‘n lewe van opoffering en in hierdie opsig is hy ‘n baie mooi voorbeeld vir ons. Paulus het gelewe soos ‘n man wat weet dat hy op ‘n missie vir God uitgestuur is, en hierdie feit het aan hom ‘n persoonlike sin van voorbestemming gegee wat hy ook met sy hele wese nagestreef het.

Paulus se lewensdoel was om die evangelie van God se genade te verkondig, en hy het enige vervalsings daarvan openlik teengestaan. Die evangelie wat Paulus verkondig het verklaar dat die ewige lewe ‘n genadegawe van God aan die mens is, wat deur geloof alleenlik in Christus alleenlik in ontvangs geneem moet word. By implikasie beteken dit dat geen werke soos die waterdoop, om Christus in die mond te bely, ensovoorts as ‘n verdere stap by die evangelie vir die ontvangs van die ewige lewe bygevoeg kan word nie. Die term “evangelie” beteken “goeie nuus” en die kern van hierdie evangelie wat Paulus verkondig het was:
1Kor.15:3 “Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook (by die Here Jesus Christus) ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; 4 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;”
Die gawe van die ewige lewe is volkome op dit wat God vir ons gedoen het gebaseer en nooit op wat ons vir Hom kan doen nie. Die grondslag van ons verlossing is dit wat God deur die dood van Sy Seun (aan die kruis), Sy begrafnis en opstanding vanuit die dood vir ons bewerkstellig het. Om die ewige lewe te ontvang moet ons hierdie feit in geloof aanvaar en niks anders nie. Die ware evangelie sluit enige vorm van verdienstelikheid of menslike werke uit en dit is die enigste grondslag waardeur ‘n mens gered kan word.
Gal.2:16 “terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.”
Rom.4:4 Maar aan hom wat werk, word die loon nie na guns toegereken nie, maar na verdienste; 5 aan hom egter wat nie werk nie, maar glo (nie glo en bely of glo en enige iets anders nie, slegs glo) in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.”
Geloof in die evangelie is die enigste vereiste om die genadegawe van die ewige lewe in ontvangs te neem.

Ons moet daarna streef om die evangelie korrek te verkondig, en ons moet teen die versoeking waak om nie enige iets anders behalwe geloof as addisionele stappe daarby te voeg nie. Dit sal vereis dat ons onsself daaraan toewy om die skrifte korrek te verklaar wetende dat die boodskap van redding deur geloof alleen in Christus alleen God se genade manifesteer en Hom verheerlik. ‘n Persoon word gered deur om dood eenvoudig die evangelie te glo. Geloof in die evangelie bepaal vir eens en altyd waar ‘n persoon die ewigheid gaan deurbring, naamlik in God se teenwoordigheid. Die genadegawe van die ewige lewe is ‘n kostelose gawe, en dit is nie ‘n beloning vir goeie werke of selfs dissipelskap waar ons God moet bely nie. Wanneer ‘n persoon na aanvanklike wedergeboorte God se opdragte aan hom gehoorsaam, dan wandel daardie gelowige saam met God as Sy dissipel wat baie opofferings sal vereis en waarvoor God hom met genadeloon sal beloon. Ons moenie geloof in die evangelie (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) wat die wortel is, met goeie werke (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap) wat die vrugte is verwar nie. God verwag dat alle gelowiges vrug moet dra, maar vrugte dra (wat opofferings vereis) kan nooit aan ons die ewige lewe skenk nie. Slegs geloof in die evangelie kan dit doen. Nie geloof in die evangelie plus bely nie. Nie geloof in die evangelie plus enigiets anders nie. Slegs geloof in die evangelie sal ons die gawe van die ewige lewe waarborg. (die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Moet Christus bely word om wedergebore te word?”, asook die artikel “Die Onderskeid tussen ‘n gelowige en ‘n Dissipel” te lees.) Dit is ‘n tragedie dat daar nog pastore is wat verkondig dat ‘n persoon die Here openlik moet bely alvorens daardie persoon die ewige lewe kan ontvang. Ek het onlangs weer met ‘n vriend (wie ‘n toegewyde Christen is) van my gepraat wat ‘n slagoffer van hierdie leerstelling is. Ons moet altyd onthou, dat die leerstelling van God se genade die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis beklemtoon en dit beklemtoon ook die feit dat die mens niks het om oor te roem nie.
Rom.3:27 “Waar is dan die roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Van die werke? Nee, maar deur die wet van die geloof.
1Kor.1:31”Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem.”

Ter afsluiting: Paulus se arbeid in die Here dien as voorbeeld van volgehoue toegewydheid aan die Here. In ‘n poging om ander na die Here Jesus Christus te lei het hy baie opofferings gemaak en vervolging deurstaan. In hierdie opsig was hy werklik ‘n dissipel van Christus, deurdat hy sy lewe daaraan toegewy het om God se wil op aarde te verrig. Ons sal wys wees indien ons sy vermanning ernstig opneem, naamlik:
1Kor.11:1 “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is.”
God het aan elke persoon ‘n sending op hierdie aarde gegee, en ons moet met ons hele wese daarna streef om dit te volbring sodat ons net soos Paulus die volgende stelling kan maak:
2Tim.4:7 “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.”

Moenie moedeloos raak en moed opgee nie. Vervul jou doel op aarde sodat jy jou genadeloon kan ontvang.
2Joh.1:8 “Wees op julle hoede, dat ons (gelowiges. Fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte is dus afgehandel) nie (genadeloon) verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar ‘n volle loon ontvang.”
En onthou die Here Jesus Christus se belofte:
Openb.22:12 “En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.
Onthou altyd dat die plesier en rykdom van hierdie wêreld net tydelik is en dat genadeloon vir ewig sal bestaan. Dink mooi oor hierdie feit na. Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.