Die gemeente in Laodicéa

Die Brief aan die Gemeente in Laodicéa: Open.3:14 – 22

‘n Vers-vir-vers kommentaar van die Brief aan die Gemeente in Laodicéa: Openbaring 3:14 – 22

Agtergrond Konteks:

Laodicéa, sowat sestig kilometer suidoos van Filadelfia, was ‘n groot en welvarende stad in Klein-Asië en was een van die sewe gemeentes waaraan die Here briewe gerig het. Die stad was ‘n trekpleister vir welgestelde afgetredenes en het om hierdie rede ‘n prominente banksentrum geword. Die stad se materiële rykdom is verder deur ‘n mediese sentrum wat in oogsalf gespesialiseer het, asook ‘n florerende wolbedryf, wat vir sy glansende swart kledingstukke beroemd was, aangevul. Omrede die gemeente van Laodicéa in die midde van hierdie welgestelde stad gewoon het, het die gelowiges daar ook ryk en welvarend geword. Ongelukkig het hierdie gelowiges toegelaat dat hul rykdom hul effektiwiteit vir Christus (dissipelskap) negatief benadeel, en hulle het hierdie stand van sake nie eers agtergekom nie. Hul uiterlike welvaart het veroorsaak dat hulle geen benul van hul innerlike geestelike armoede gehad het nie. Daarom rig die Regter van die kerke ‘n skerp vermaning aan hierdie gemeente, met die doel om hulle tot bekering te lei, tesame met ‘n uitnodiging om weereens die deur vir intieme gemeenskap met Hom oop te maak.

Openb.3:14 “En skryf aan die engel van die gemeente van die Laodicense: Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God: 15 Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! 16 Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. 17 Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie. 18 Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien. 19 Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou. 20 Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My. 21 Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het. 22 Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”

Openb.3:14 “En skryf aan die engel van die gemeente van die Laodicense: Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God:

Kommentaar: Die Laodiceërs het ‘n valse beeld van hul geestelike toestand voorgehou met hul “Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie”-aansprake. Sodoende het hulle valse getuienis aangaande hulle eie geestelike toestand gelewer. Daarom tree “die Getroue en Waaragtige Getuie” na vore met ‘n presiese en onpartydige beoordeling, naamlik: “en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.” As “die Begin van die skepping van God” (die Eerste Oorsaak van God se skepping, naamlik Die Oorspronklike Oorsaak sonder ‘n Voorafgaande Oorsaak of te wel Die Onveroorsaakte Oorsaak), herinner Christus die gemeente in Laodicéa daaraan dat ongeag hul materiële rykdom alles in die skepping van Hom as God afkomstig is (vergelyk Johannes 1:3; Kolossense 1:16). Hy kon dus aan hulle die noodsaaklike geestelike rykdom voorsien wat hulle in hul huidige geestelike armoede so broodnodig gehad het.


Openb.3:15 Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud (die term “koud” kan nie kontekstueel hier as iets negatiefs beskou word nie, omrede enige vorm van geestelike koudheid nooit deur God as wenslik beskou word nie) of warm! 16 Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.

Kommentaar: Hierdie boodskap is dus aan ‘n groep gelowiges gerig wat die Here as “louwarm” beskryf, hulle was nie warm of koud nie. Jesus se beskrywing van hierdie gemeente as “nie koud of warm nie” moet in die historiese konteks van Laodicéa (in Klein-Asië) se plaaslike waterstelsel verstaan word. Die water van nabygeleë Kolosse was heerlik koud en verfrissend, terwyl die water van die warmwaterbronne by Hierapolis lekker warm en geneeskragtig was. Om hierdie rede het baie mense Hierapolis se warmwaterbronne om gesondheidsredes besoek. Daarteenoor het die varswater, wat per akwaduk vanaf Kolosse na Laodicéa afgevoer was, louwarm geword teen die tyd dat dit die stad bereik het. In hierdie konteks het die Here dus geen woord van lof vir hierdie gemeente gehad nie. Hulle werke (wat hulle wel verrig het) was hoegenaamd nie soos verfrissende koue water wat lafenis bring nie, en ook nie soos warm water wat streel en stimuleer nie. Daar was geen koel water vir die geestelik dors mense om hulle heen nie, en ook was hulle nie geestelik vurig genoeg om mekaar tot werklike dissipelskap (insluitende goeie werke met die regte motief verrig) aan te spoor nie. Hierdie gemeente het dus hulle eiesoortige Christelike karakter prysgegee en het net soos die heidense kultuur rondom hulle gelyk.

Die gemeente in Laodicéa het dus ‘n gevaarlike vorm van selfbedrog gepleeg. Die Here Jesus Christus se beoordeling van die hierdie gemeente handel oor hul nutteloosheid vir God. Om “lou” te wees dui daarop dat hierdie gemeente as geheel in ‘n langdurige toestand van vleeslikheid (wat die sonde van materialisme insluit) vasgevang is en sodoende is hulle van ware (intieme) gemeenskap met God afgesny. Hul spiritualiteit was oppervlakkig en niks meer as ‘n vorm van lippediens nie. Hulle het boonop geen werklike verbintenis met God en Sy woord gehandhaaf nie (al het hulle so gedink). In hul selfgenoegsaamheid en geestelike selfvoldaanheid het hulle egter versuim om in Christus te bly wat daartoe aanleiding gegee het dat die gelowiges in Laodicéa ‘n gebrek aan geestelike krag gehad het.
Joh.15:4 “Bly in My, soos Ek in julle. (gelowiges) Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle (gelowiges)ook nie as julle in My nie bly nie. 5 Ek is die wynstok, julle (gelowiges)die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle (gelowiges)niks doen nie.”

In werklikheid was hierdie kerk soos lou water, heeltemal onbruikbaar en onsmaaklik. Daarom het die Here vir hulle gesê Hy sal hulle “uit Sy mond spoeg” – wat beteken dat Hy gemeenskap (nie die kind-Vader verhouding wat nooit ongedaan gemaak kan word nie) met hulle verbreek. (Indien hulle nie van hierdie sonde van hulle bekeer nie kon dit tot verdere tugtiging aanleiding gee. Die feit dat die Here hierdie gemeente uit Sy mond spoeg beteken geensins dat Hy hulle sal verwerp en tot die ewige poel van vuur sal verdoem nie. Die moontlikheid het wel bestaan dat hulle genadeloon sou verbeur, en dat hulle “werke” by die Regterstoel Oordeel van Christus verbrand sou word, maar hulleself sal gered word soos deur vuur heen.
1Kor.3:11 “Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. 12 En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels — 13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen. 16 Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?


Openb.3:17 “Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.”

Kommentaar: Die gemeente in Laodicéa se selfpersepsie was op niks anders as hul uiterlike rykdom en materiële welvaart gebaseer nie. Hulle het in so ‘n gemaklike finansiële posisie verkeer dat hulle heeltemal onbewus van hul ware innerlike toestand was. Vanuit God se perspektief was hulle geestelike toestand egter “ellendig, jammerlik, arm, blind en naak” Omrede hul siening van hulleself so fundamenteel gebrekkig was, het die Here hulle dringende raad gegee oor wat hulle moes doen om uit hierdie rampspoedige geestelike toestand te ontsnap. Hulle sou egter bereid moes wees om die nodige geestelike prys daarvoor te betaal.

Hulle probleem lê in ‘n diepgewortelde gebrek aan ware gemeenskap met God en ‘n oordrewe vertroue op hul eie vermoëns. Hulle het die fout gemaak om hul materiële welvaart met geestelike rykdom te verwar, wat daartoe aanleiding gegee het dat hulle arrogant geraak het en hulleself oortuig het dat hulle geestelik ryk was. Dit beklemtoon die gevaar wanneer ‘n mens, veral ten tye van materiële voorspoed, begin wegbeweeg van afhanklikheid van God en eerder op hulle eie wysheid, vermoëns en rykdom begin steun. Arrogante selfvoldaanheid word hierdeur as ‘n besonder skadelike sonde uitgelig. Wanneer gelowiges lank in vleeslikheid leef, en die gemeenskap met God verwaarloos, dan begin hulle soos die wêreld dink en leef, deurdat hulle die denkpatrone en waardestelsels van die samelewing om hulle begin aanneem. Ware geestelike insig kom nie vanuit ons eie redenasies, persoonlike belewenisse of mistieke ervarings uit nie, maar spruit direk vanuit God se geopenbaarde Woord, naamlik die Bybel uit. Die skrifte, binne die korrekte dispensasionele kontekstuele verband verklaar, is dus die hoogste gesag wat ons denke en logika moet rig.
Spr.3:5 “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.”

Om hierdie rede is dit van uiterste belang om enige prediker wat dwaalleer verkondig te vermy. Die begrip van redding deur werke, of ‘n “werke-evangelie,” is ‘n leerstelling wat strydig met die kernboodskap van die Christelike geloof is. Dit verwys na enige leer wat menslike werke, prestasies, goeie dade, of nakoming van wette as die deurslaggewende element vir ‘n persoon se redding beskou. Predikers wat hierdie siening propageer, mislei hul gehore deur die fokus van Christus (wat Sy voltooide werke aan die kruis insluit) se genade afhaal en dit na die mens se eie werke/prestasies verskuif.


Openb.3:
18 Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien.

Kommentaar: Hulle moes ophou om op hul aardse rykdom staat te maak en “goud wat deur vuur gelouter is, koop.” Dit beteken hulle moes deur geloof in God leef, nie in hulle eie vermoëns of rykdom nie. Bogenoemde stelling sluit aan by wat Petrus in 1Pet.1:6-7 gesê het, en veral indien mens in ag neem dat materiale rykdom ook ‘n vorm van beproewing kan wees.
1Pet.1:6 “Daarin verheug julle jul, al word julle nou — as dit nodig is — ‘n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, 7 sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus;”
Wat God welbehaaglike werke betref, was die gemeente in Laodicéa “naak”. Hierdeur het hulle skande oor hulleself gebring en die Naam van die Here Jesus Christus oneer aangedoen. Daarom moes hulle “wit klere koop” (vgl. Openbaring 19:8). Dit simboliseer die doen van goeie werke en diens aan God. Dit is egter deurslaggewend dat hierdie werke met die regte motiewe verrig word – nie uit selfsug of eiewaan nie, maar op ‘n wyse wat God werklik behaag en Hom verheerlik, en nie hulleself nie.
1Kor.10:31 Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.”
Om dit alles te bewerkstellig moes hulle werklike Bybelstudie doen en hulle moet God se Gees vra om hulle te help om dit te verstaan. Indien hulle dit met ‘n opregte gesindheid doen, dan sou God hul geestelike blindheid verwyder en hulle help om werklik te sien.


Openb.3:19 Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou.

Kommentaar: Die Here Jesus Christus se berisping van die gemeente in Laodicéa spruit direk uit Sy liefde vir hulle. As die Laodicense egter nie ag slaan op Sy teregwysing nie, sou Sy liefde Hom ook beweeg om hulle te tugtig. Die Griekse term wat hier vir “tugtig” gebruik word, is “paideuō”, wat letterlik “kinderoefening” beteken. Dít bevestig die feit dat die Here hier met gelowiges praat wat reeds die gawe van die ewige lewe deur geloof by God ontvang het – Hy praat dus met Sy kinders, en nie met ongelowiges nie. Hebreërs 12:5-8 bevestig hierdie feit:
Heb.12:5 “En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; 6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. 7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? 8 Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie.”


Openb.3:20 “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.”

Kommentaar: Die stelling wat die Here Jesus Christus in bogenoemde teksgedeelte gemaak het is al baie in die verlede verkeerd geïnterpreteer. Baie predikers beweer foutiewelik dat die stelling as ‘n uitnodiging aan ongeredde (en dus ongelowige) mense gerig is om hulle harte vir die Here oop te maak sodat Hy kan hulle verlos. Volgens hierdie interpretasie handel Openb.3:20 oor fase een van ‘n persoon se verlossing, naamlik wedergeboorte. Met nadere ondersoek t.o.v. die taal wat die Here hier gebruik het, asook die konteks waarin hierdie stelling gemaak is, word dit duidelik dat hierdie stelling in werklikheid aan gelowiges (dus mense wat alreeds die evangelie geglo het en alreeds wedergebore is) gerig is. Dit maak dit duidelik dat Jesus nie probeer om ‘n ongelowige se hart vir die ewige lewe binne te gaan nie; Hy is eerder buite die daaglikse prioriteite van Sy eie volgelinge, en verlang na hernieude nabyheid en intimiteit met hulle .

Die konteks gaan dus oor Christus se gemeenskap (Engels: fellowship) met gelowiges na aanvanklike wedergeboorte. Dit handel dus oor fase twee van verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap waartydens God gemeenskap met gelowiges wil geniet. (die leser word aangeraai om die artikels “Drie Fases van Verlossing” en die artikel “Heiligmaking in Drie Fases” sorgvuldig deur te lees.) Indien enigeen van hierdie teruggevalle gelowiges die deur vir Hom sou oopmaak, beloof Christus dat hulle weer noue gemeenskap met Hom sal geniet. Openbaring 3:20 fokus eerder op deurlopende gemeenskap, gesimboliseer deur die intieme beeld van “maaltyd hou” of saam eet. Dít is ‘n ryk kulturele metafoor vir intimiteit, vriendskap en ‘n lewe wat gedeel word. (Johannes 13:23-25).

Openb.3:21 Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.

Kommentaar: Bostaande stelling is ‘n bevestiging dat alle gelowiges in Christus oorwinnaars is.
1Joh.5:5 “Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?”
Onthou, die ewige lewe is ‘n geskenk wat deur die glo van die evangelie in ontvangs geneem word.
Rom.6:23 Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.
Rom.3:28 Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.


Christus verwag van die terugvalle gelowiges in Laodicéa om in lig van hierdie feit soos mense op te tree wat alreeds koningskinders is. Hulle moet dus in hulle alledaagse lewens soos koningskinders optree juis omrede hulle dit alreeds is. Die Here bevestig weereens hier die feit dat ‘n gelowige nooit verlore sal kan gaan nie en is dus ‘n aanmoediging tot voortgesette heiligmaking/dissipelskap. Dit beteken geensins dat hulle nie genadeloon kan verbeur of deur God getugtig kan word nie indien hulle nie tot bekering kom nie. Hulle sal egter nooit verlore kan gaan nie omrede die genadegawes en roeping van God onherroeplik is.
Romans 11:29 “Want die genadegawes en die roeping van God is onberoulik.
Ons moenie wedergeboorte (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) met heiligmaking/dissipelskap (fase twee van ons verlossing) verwar nie. Goeie werke kan ons nie verlos of gered hou nie. Net die God kan dit doen. (Lees gerus weer die artikel “Verliese en Gevolge van Sonde in die Gelowige se Lewe“, asook die artiekl “Die onderskeid tussen ‘n Dissipel en ‘n Gelowige“)


Openb.3:22 Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”

Kommentaar. Geen kommentaar nodig nie. Christus se vermaning is vanselfsprekend.
Ef.4:30 “En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.
In essensie is dit ‘n ernstige vermaning aan elke gelowige om Christus as dissipels na te volg. Wees waaksaam en luister met ‘n oop hart na wat God deur Sy Gees vandag vir jou en vir Sy kerk sê. Dit vra vir onderskeidingsvermoë en die bereidwilligheid om die Gees se leiding te volg, selfs al is dit ongemaklik of uitdagend.


Ter afsluiting: Dit is noodsaaklik om te verstaan dat Jesus die gemeente in Laodicéa nooit dreig dat hulle die gawe van die ewige lewe kan verbeur nie. God dissiplineer sy kinders in liefde, en verdoem hulle geensins nie. Hulle het per slot van rekening sy kinders geword die oomblik toe hulle die evangelie verstaan en geglo het. Die genadegawe van die ewige lewe hang nie van ons prestasies of diepte van intimiteit met God af nie, maar slegs van die feit dat ons die evangelie op ‘n spesifieke punt in tyd geglo het. Om intieme gemeenskap met Hom te geniet, geestelik vrugbaar te wees en hemelse genadeloon te versamel, vereis egter ware toegewydheid. Dit strook perfek met die Leerstelling van God se Vrye Genade: redding is ‘n onverdiende geskenk, terwyl dissipelskap en genadeloon ‘n dieper verbintenis met Hom en opofferings van ons kant af vereis.

Jesus se “klop” is ‘n volhardende en geduldige uitnodiging vir ‘n dieper verhouding met Hom. Die Griekse woord vir “klop” is in die teenwoordige tyd, wat deurlopende aksie aandui. Die Here Jesus Christus se uitnodiging verys ‘n vrywillige reaksie van ons kant af. Ons moet self “die deur oopmaak.” Dit impliseer ‘n bewuste besluit en ‘n gewilligheid om Hom in te laat, om Hom toe te laat om ‘n meer sentrale rol in ons lewens te speel.

Seën Groete!

Vic

Deel met ander asb.