In die vorige artikels waarin ons die Dispensasies van God se raadsplan bespreek het, het ons gemerk dat die Dispensasie van Onskuld aangebreek het met die skepping van die mens en het met die sondeval tot ‘n einde gekom. (Gen.1:3-3:24). Die Dispensasie van Menslike Gewete het met die Sondeval begin en het met die wêreldwye vloed tot ‘n einde gekom. (Gen.4:1-8:14) Daarna het die Dispensasie van Menslike Owerheid, met die wêreldwye vloed aangebreek en met die roeping van Abraham vanuit die nasies tot ‘n einde gekom. (Gen.8:15-11:32) Die dispensasie wat ons in hierdie reeks van twee artikels gaan bespreek, is die Dispensasie van Belofte, wat aangebreek het toe God Abraham vanuit die nasies geroep het. (wat uit die verstrooide mensdom rondom die gebeure by toring van Babel, en God se meegaande oordeel, naamlik die verwarring van tale, en die meegaande verspreiding van mensdom, wat tot stamme, volke en nasies aanleiding gegee het.) Die Dispensasie van belofte word deur die Dispensasie van die Wet vervang toe God die Wet van Moses aan die volk Israel gegee het. (Gen.12-Ex.18) Die leser word ten sterkste aangeraai om die illustrasies “Die Sewe Dispensasies”, asook “God se verbonde met die Volk Israel” asseblief te bestudeer.)
Die roeping van Abraham as stamvader van die volk Israel:
Na aanleiding van God se oordeel by die toring van Babel, en die meegaande verwarring van tale, het die verskillende taalgroepe uitmekaar gedryf en stamme, volke en nasies gevorm. Anders as met die vorige drie dispensasies, waartydens God met die mensdom as geheel gewerk het, gaan ons nou ‘n merkbare verandering waarneem. Vir die eerste keer in die wêreld se geskiedenis gaan God op ‘n spesifieke wyse, met ‘n spesifieke man, wie Hy uit die nasies uitgekies en geroep het werk. Ook sou God op ‘n uitsonderlike wyse met ‘n spesifieke volk, naamlik Israel, wie spesifiek uit Abram en Sarai se huwelik sou voortkom werk. Isak en Jakob, wie die vaders van die twaalf stamme van Israel was, en waaruit Israel as nasie ontstaan het sou ook dan as deel van die nasie se stamvaders geëer word. God sou ook spesifiek en op ‘n uitsonderlike wyse met die volk Israel as volk werk, iets wat Hy tot op daardie stadium nog nooit gedoen het nie.
God roep Abram om sy land, familie en huis te verlaat om na ‘n land te gaan wat hy nie ken nie:
Gen.12:1 “En die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. 2 En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees. 3 En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word. 4 Toe het Abram weggetrek soos die HERE hom gesê het, en Lot het saam met hom getrek. En Abram was vyf en sewentig jaar oud by sy vertrek uit Haran. 5 En Abram het Sarai, sy vrou, en Lot, sy broerskind, geneem en al hulle besittings wat hulle bymekaargemaak en die slawe wat hulle in Haran verwerf het, en hulle het uitgetrek om na die land Kanaän te gaan en in die land Kanaän gekom.”
Opmerking: Abram moes dus sy land, familie, asook sy vader se huis verlaat en na ‘n spesifieke landstreek toe trek wat God aan hom sou toon. Nie in enige van die vorige dispensasies het God enigsins met ‘n ander persoon of volk op hierdie wyse gehandel nie.
Abram se familie se geskiedenis van afgodediens:
Jos.24:2 “Toe sê Josua aan die hele volk: So sê die HERE, die God van Israel: Oorkant die Eufraat het julle vaders van oudsher gewoon — Tera, die vader van Abraham en die vader van Nahor, en hulle het ander gode gedien.”
Opmerking: Ons kan met sekerheid aanneem dat Abram voor sy roeping nie die ware God aanbid het nie. Abram was dus ‘n afgodedienaar en hierdie feit demonstreer duidelik tot watse mate die mensdom alreeds op daardie stadium van die ware God afvallig geraak het. Veral indien mens onthou dat almal wat die wêreldwye vloed oorleef het gelowiges was. (Noag en sy familie, agt mense in geheel.) Dit is vanuit hierdie haglike geestelike toestand van die wêreld waaruit God Abram (die afgodedienaar) geroep het.
God gee onvoorwaardelike beloftes aan Abram:
Gen.12:2 “En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees.3 En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.”
Opmerking: Indien Abram sy land, volk en familie verlaat, dan sou God al die bogenoemde beloftes vir hom vervul en dan is daar ook geen verdere vereistes om aan te voldoen nie. Dus vereis God slegs een daad van geloof vanaf Abram se kant af, waarna God Homself onvoorwaardelik verbind om al Sy beloftes aan Abram te vervul. Dit beteken ook dan, dat Abram se gebrek aan geloof, na sy een aanvanklike daad van geloof, geensins God se beloftes aan hom ongedaan sou maak nie. God se beloftes aan Abram is dus onvoorwaardelik. God se onvoorwaardelike beloftes sluit die volgende waarborge in, naamlik:
1. God sal Abram ‘n groot nasie maak:
Hierdie belofte is gemaak toe Sarai nog onvrugbaar was en Abram geen nasate gehad het nie. Die Skrifte stel dit duidelik dat Sarai onvrugbaar was, naamlik: Gen.11:30 “En Sarai was onvrugbaar, sy het geen kind gehad nie.” Die belofte dat Israel ‘n groot volk sal word sal tydens die Duisendjarige Vrederyk van Christus volkome in vervulling gaan.
2. Abram, asook die nasie wat uit hom sal voortkom, sal grootliks deur God geseën word:
God het Abram se naam tydens sy eie lewe groot gemaak, en boonop beskou vier van die grootste gelowe in die wêreld Abraham as ‘n groot geloofsheld, naamlik, Judaïsme, Room Katolieke geloof, Islam en laastens die ware Christendom. Tydens Christus se Duisendjarige Vrederyk, naamlik die sewende dispensasie op aarde sal Abram ‘n posisie van aansien geniet. So ook sal Israel weer die hoof van die nasies wees en vir die hele wêreld ‘n seën wees.
3. God sal boonop Abraham beskerm, en diegene wat hom vervloek sal deur God vervloek word en diegene wat Abram seën sal weer deur God geseën word:
Dit beteken ook dat Israel as volk nooit uitgewis sal word, soos wat baie Islamitiese lande beweer hulle gaan doen nie. Boonop sou Anti-semiete, soos byvoorbeeld Hitler, nooit in hulle poging kon slaag om al die Jode op aarde uit te wis nie. Ook die Antichris sal teen die einde van die Groot Verdrukking, in sy poging om Israel uit te wis misluk, wanneer die Here self van die Hemel met Sy wederkoms aarde toe sal kom en hulle verlos. Met die Here Jesus Christus se wederkoms sal Israel weer tot die hoof van alle nasies verhoog word, en sal Hy die wêreld vir duisend jaar vanuit Jerusalem regeer. Die kerk (wie nie Israel is nie) sal dan as Christus se bruid die wêreld saam met Hom regeer. Onthou God deel die wêreld in drie groepe in, naamlik die volk Israel, die nasies en die Kerk. Jes.61:9 “En hulle (Israel se) nageslag sal bekend word onder die nasies en hulle nakomelinge onder die volke; almal wat hulle sien, sal hulle daarvoor aansien dat hulle ‘n geslag is wat die HERE geseën het. Jer.31:7 Want so sê die HERE: Jubel oor Jakob van vreugde, en juig oor die hoof van die nasies; laat dit hoor, sing lof en sê: o HERE, verlos u volk, die oorblyfsel van Israel!”
Ook hierdie belofte sal met die Here Jesus Christus se wederkoms in volle vervulling gaan, en daarom is die moderne staat van Israel nodig, want vir hierdie Ou Testamentiese profesie om in vervulling te gaan moet Israel minstens gedeeltelik in haar land wees. Die moderne staat van Israel het alreeds in 1948 haar afhanklikheid gekry, en dit is my beskeie opinie, dat die wegraping, wat die Kerk Dispensasie tot ‘n einde bring, nie meer ver kan wees nie. En wanneer die wegraping plaasgevind het, sal God weer hoofsaaklik met Israel as volk werk, en sal die Ou Testamentiese profesie aangaande Israel in vervulling begin gaan.
4. In Abraham sal al die nasies van die aarde geseënd wees:
Dit is deur die bloedlyn van Abraham waaruit die wêreld se Verlosser, naamlik die Here Jesus Christus gebore is. Om hierdie rede maak die skrywer van die Evangelie van Mattheus seker dat hy die stamboom van Christus weergee en hierdie feit bevestig, naamlik:
Matt.1:1 “Die geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham:” Dit moet egter altyd onthou word dat God se beloftes van Sy tydsberekening afhanklik is en daarom is dit raadsaam om op Hom te wag. Wanneer God iets beloof het kan ons met absolute sekerheid weet dat dit op die regte tyd in vervulling sal gaan. Dit geld ook vir beloftes wat direk aan ons gemaak is. Ons moet net geduldig wag en op Hom vertrou. Ons is geneig om te dink dat God nie Sy beloftes aan ons sal nakom indien sake begin sleg lyk nie. Soms beleef ons hierdie dinge omrede God ons wil leer en Hy begeer dat ons geestelik groei.
Jak.1:2 “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, 3 omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. 4 Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.”
5. God gee aan Abram die belofte van ‘n spesifieke landgebied, naamlik Kanaan:
Gen.12:4 “Toe het Abram weggetrek soos die HERE hom gesê het, en Lot het saam met hom getrek. En Abram was vyf en sewentig jaar oud by sy vertrek uit Haran. 5 En Abram het Sarai, sy vrou, en Lot, sy broerskind, geneem en al hulle besittings wat hulle bymekaargemaak en die slawe wat hulle in Haran verwerf het, en hulle het uitgetrek om na die land Kanaän te gaan en in die land Kanaän gekom. 6 En Abram het deur die land getrek na die plek Sigem, tot by die terpentynboom More. Die Kanaäniete was toe in die land. 7 Daarop verskyn die HERE aan Abram en sê: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee. Toe bou hy daar ‘n altaar vir die HERE wat aan hom verskyn het.” Dit is opmerklik dat God seker maak dat Abram verstaan wat die spesifieke grondgebied is wat God aan sy nageslag as ewige besitting sou gee. En nee, dit is nie Suid Afrika, soos wat baie mense verkeerdelik beweer nie, maar dit is egter die landstreek in die Midde Ooste soos wat ons kortliks sal sien. Gen.13: 14 “En die HERE sê vir Abram nadat Lot van hom geskei het: Slaan tog jou oë op en kyk van die plek waar jy staan, na die noorde en suide, na die ooste en weste; 15 want die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en aan jou nageslag tot in ewigheid. 16 En Ek sal jou nageslag maak soos die stof van die aarde, sodat as iemand die stof van die aarde kan tel, jou nageslag ook getel kan word. 17 Maak jou klaar, trek die land deur in sy lengte en sy breedte, want Ek sal dit aan jou gee.” (Abram het definitief nie deur Suid Afrika getrek nie.)Die aarde behoort aan God en wanneer Hy ‘n spesifieke landstreek aan ‘n spesifieke nasie gee, dan sal dit binne die raamwerk van God se tydsberekening so plaasvind. Nadat Abram God se bevel uitgevoer het, en na Kanaan vertrek het, het God Sy verbond met Abram bekragtig, en die verbond is dus onvoorwaardelik, omrede Abram alreeds God se bevel uitgevoer het, naamlik:
Gen.15:17 “En ná sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar ‘n rokende oond en vurige fakkel tussen dié stukke vleis deur. 18 Op dié dag het die HERE met Abram ‘n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier:”
Hierdie belofte aangaande ‘n spesifieke landgebied is onvoorwaardelik aan Abram en sy nasate, en spesifiek aan Abraham en Sarai se kinders gemaak (Isak, Jakob en die twaalf stamvaders, en bly vir ewig van krag.) Hierdie landstreek dek ‘n spesifieke landgebied en is baie groter as die gebied wat Israel huidiglik beheer. Dit is ook ‘n feit dat ‘n persoon eiendom kan besit en dit nog nie heeltemal beset nie. ‘n Persoon kan byvoorbeeld grond besit, maar dit aan ‘n ander persoon uithuur. Dit is ‘n historiese feit dat Israel nog nooit die hele grondgebied wat aan hulle belowe is beset het nie. Dit sal egter na afloop van Christus se wederkoms, en die aanbreek van die Duisendjarige Vrederyk van Christus volkome in vervulling gaan.
6. n Verdere belofte van ‘n besonderse verhouding is aan Abram gemaak, naamlik “ Ek sal hulle God wees”:
Gen.17:7 “En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ‘n ewige verbond, om vir jou ‘n God te wees en vir jou nageslag ná jou. 8 En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap gee, die hele land Kanaän, as ‘n ewige besitting; en Ek sal vir hulle ‘n God wees.” Hierdie belofte is ook aan Isak gemaak. (Gen.6:25) Daarbenewens het God ook dieselfde belofte aan Jakob gemaak. (Gen.28:10-15) Wanneer God ‘n belofte maak dan kan ons verseker wees dat daardie belofte in vervulling sal gaan. God eer Sy woord en daarom is dit so belangrik om die profetiese gedeelte is die Bybel ook te leer en dit nie af te skeep nie.
2Pet.1:19 “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte;
1Thess.5:20 Verag die profesieë nie.” Profesie soos wat dit in die Bybel opgeteken staan, nie die sogenaamde buite Bybelse profesie van die moderne selfaangestelde profete nie.
Die mens se verantwoordelikheid. (Glo God se beloftes en lewe in die lig daarvan):
Opmerking: Wanneer God aan ons ‘n belofte maak dan moet ons daardie belofte glo en in die lig van daardie beloftes leef. Indien ons dit nie glo nie verklaar ons dat God ‘n leuenaar en onbetroubaar is.
1. Abraham was op daardie stadium nog kinderloos maar God se belofte aan hom was dat sy kinders soos die sterre van die hemel in getal sal wees:
Gen.15:1 “Ná hierdie dinge het die woord van die HERE tot Abram gekom in ‘n gesig en gesê: Vrees nie, Abram, Ek is vir jou ‘n skild en jou loon is baie groot. 2 Toe vra Abram: Here HERE, wat sal U my gee, aangesien ek sonder kinders heengaan en die erfgenaam van my huis die Damaskéner Eliëser is? 3 Verder het Abram gesê: Aan my het U geen nageslag gegee nie; so sal dan die bediende van my huis my erfgenaam wees. 4 Toe kom die woord van die HERE tot hom en sê: Hierdie een sal jou erfgenaam nie wees nie, maar die een wat uit jou liggaam sal voortkom, hy sal jou erfgenaam wees. 5 Daarop lei Hy hom uit na buite met die woorde: Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel. En Hy sê vir hom: So sal jou nageslag wees.”
Abraham het God se belofte aan hom geglo wat die feit van sy geloof in God se beloftes demonstreer, naamlik:
Gen.15:6 “En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.”
2. Dit was belangrik dat Abraham in die land Kanaän moes bly om die seëninge van die verbond te geniet:
Gehoorsaamheid t.o.v. hierdie opdrag was belangrik, omrede dit in die land van Kanaän was waar die seëninge bekom sou word.
Gen.26:1 “En daar was hongersnood in die land, buiten die eerste hongersnood wat in die dae van Abraham gewees het. Daarom het Isak getrek na Abiméleg, die koning van die Filistyne, na Gerar. 2 En die HERE het aan hom verskyn en gesê: Moenie aftrek na Egipte nie; woon in die land wat Ek jou sal aanwys. 3 Vertoef as vreemdeling in hierdie land, en Ek sal met jou wees en jou seën; want aan jou en jou nageslag sal Ek al hierdie lande gee: Ek sal die eed bevestig wat Ek vir jou vader Abraham gesweer het. 4 En Ek sal jou nageslag vermeerder soos die sterre van die hemel en aan jou nageslag al hierdie lande gee, en in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word; 5 omdat Abraham na my stem geluister en my ordening, my gebooie, my insettinge en my wette onderhou het.”
God wou hê dat Israel in die land Kanaan moes bly, sodat hulle ‘n afgesonderde volk aan Hom kon wees, en Hy wou verhoed dat hulle na Egipte gaan en daar weer deur afgodediens verly sou word. Onthou, in die Ou Testament is Israel as volk nie beveel om na ander lande te gaan en God daar te gaan verkondig nie. Die mense van daardie lande, soos byvoorbeeld die koningin van Skeba, moes na Israel kom indien sy die detail van geloof in God wou leer. Daarenteen word die Kerk in die Nuwe Testamente aangesê om uit te gaan en die evangelie na die hele mensdom te neem. Dit is egter belangrik om te onthou dat indien Abraham, Isak en Jakob die seëninge van God se onvoorwaardelike verbond wou geniet dat hulle in die land van Kanaan moes vertoef. God se verbond met die stamvaders van Israel was onvoorwaardelik, maar indien hulle die seëninge van daardie verbond wou geniet moes hulle in die land van Kanaan bly. Die verbond was onvoorwaardelik hulle sin en sou nooit verbeur kon word nie. Die seëninge wat daarmee gepaardgaan was van hulle gehoorsaamheid afhanklik en God kon selfs hulle tydelik uit die land uitsit a.g.v. hulle goddelose optrede. Hierdie feit sal toenemend duideliker word soos wat ons met hierdie reeks artikels voortgaan.
Ter Afsluiting: Ek gaan hierdie artikel hier afsluit omrede daar nog te veel belangrike inligting is wat aangaande die Dispensasie van Belofte weergegee moet word. Hierdie artikel is alreeds lank genoeg en ek sal kortliks die tweede deel daarvan op die webtuiste plaas. Onthou, die hele Bybel is vir ons geskryf, maar die hele Bybel is nie direk aan ons gerig nie. Ons lewe nie byvoorbeeld in die Dispensasie van Belofte nie maar daar is baie lesse wat ons uit die lewens van die gelowiges wat tydens daardie dispensasie geleef het kan leer. Ons kan byvoorbeeld nie die beloftes aangaande die landstreek van Israel op onsself wil toepas nie, maar ons kan die beginsel dat God getrou aan Sy woord bly op ons self toepas omrede God altyd getrou bly. Ook moet ons uit die foute wat die Ou Testamentiese gelowiges gemaak het leer en om nie dieselfde foute te begaan nie en sodoende sal ons deur ons geloof die Here behaag.
1Kor.10:11 “Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.
Die leser word versoek om die hele hoofstuk 10 van 1 Korinthiërs te lees wat hierdie punt baie mooi illustreer.
Seën groete! Volgende keer sal ons deel twee afhandel.