gewete

Die Dispensasie van Menslike Gewete

Met hierdie artikel gaan ons die Dispensasie van Menslike Gewete van nader bestudeer. Die Dispensasie van Onskuld is die eerste dispensasie van sewe dispensasies wat ons in die Skrifte vind. Die ander dispensasies is soos volg: Die Dispensasie van Gewete; (waaroor hierdie studie handel) wat deur die Dispensasie van Menslike Owerheid gevolg word. Dan kry ons die Dispensasie van Belofte; Die Dispensasie van die Wet; Die Dispensasie van Genade/Kerk; en laastens die Dispensasie van die Koninkryk. Indien die leser nog nie die die vorige twee artikels, naamlik die “Inleiding tot die dispensasies”, asook “Die Dispensasie van Onskuld” gelees het nie word hy sterk aangeraai om dit te doen. Die Dispensasie van Onskuld het tot ‘n einde gekom toe die mens teen God gerebelleer het en vir die beswil van die mens deur God uit die tuin van Eden gesit is. Die mens se stand of posisie voor God het met die sondeval vanaf ‘n posisie van onskuld tot ‘n posisie van skuldig verander.

Die mens se posisie verander van onskuld tot ‘n posisie van skuldig voor God:

  • Die oë van albei het oop gegaan, en hulle het toe geweet dat hulle naak was:
    Gen.3:7a “Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is;”
    Gen.3:22 “Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie!
    Opsomming: Nadat die mens teen God gerebelleer het, het hy in een opsig soos God geword deurdat hy nou die onderskeid tussen goed en kwaad geken het. Toe die mens van die verbode vrug geëet het, het hulle oë wel oopgegaan, maar hulle het nie soos God geword wat slegs kennis van goed en kwaad ken nie, maar hulle het dit beleef en sonde het deel van hulle bestaan geword. Met die ontvang van die sonde natuur het die mens besef dat hy naak is.
  • As heersende beginsel het God die mens met ‘n gewete geskape, sodat hy die gevolge van sy verkeerde keuses kon verstaan:
    Gen.3:9 “Toe roep die HERE God na die mens en sê vir hom: Waar is jy? 10 En hy antwoord: Ek het u geruis gehoor in die tuin en gevrees, want ek is naak; daarom het ek my verberg.”
    Opsomming:Toe Adam teen God gerebelleer het, en sy oë gevolglik oopgegaan het, het hy ‘n skuldige gewete gekry en besef dat sy optrede verkeerd was. Voor die sondeval het die mens nog nooit enigsins negatiewe gevolge van enige keuse beleef nie. Maar noudat hy die Here se bevel verontagsaam het, het hy ‘n skuldige gewete bekom. Om skuldig te voel wanneer ons sonde pleeg is nie noodwendig ‘n slegste ding nie. Dit is wel ‘n slegte ding wanneer ons kan sonde pleeg sonder om ‘n skuldige gewete te kry, want dit dien as indikasie dat ons gewete besig is om toegeskroei te word. ‘n Persoon wat homself in hierdie posisie bevind, verkeer in groot geestelike gevaar, want dit word dan toenemend moeiliker om daardie persoon van sy skuld voor God te oortuig en gevolglik besef daardie persoon nie dat hy verlossing in Christus benodig nie. Onthou, die mens se gewete self nie is die slegte ding nie, maar die sonde wat tot ‘n skuldige gewete aanleiding gee is ‘n slegte ding.
  • Die mens se gewete kan toegeskroei of verhard raak:
    1Tim.4:2 “deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete,”
    Opsomming:‘n Persoon se gewete kan dus toegeskroei, of stomp raak, wat beteken dat hy sonder ‘n slegste gewete sonde kan pleeg. So ‘n persoon sal ons byvoorbeeld as gevoelloos of sonder gewete bestempel. Wanneer ‘n persoon sy gewete herhaaldelik onderdruk kan dit daartoe aanleiding gee dat ‘n persoon se gewete toegeskroei raak. Die Bybel verklaar dat daar mense in die laaste tye (teen die einde van die Kerk Dispensasie waarin ons nou leef) toenemend van die geloof afvallig sal word en leerstellings van duiwels sal aanhang. Dit is mense wie se gewetens toegeskroei is. Dit verduidelik ook hoekom byvoorbeeld booswigte of moordenaars dit kan regkry om met hulle wrede dade voort te gaan. Nog ‘n voorbeeld is byvoorbeeld reeksmoordenaars. Baie van hulle, begin wanneer hulle jonk is, aan hulle sondige begeertes toe te gee om ander wesens seer te maak (wat deel van hulle sondige natuur is) en geleidelik word hulle gewetens verhard. Marteling van ander lewende wesens verskaf dan aan hulle verharde gewetes ‘n verdraaide gevoel van bevrediging. Wanneer hierdie persoon sy skuldige gewete lank genoeg onderdruk, raak sy gewete toegeskroei en gaan hy ongedeerd na erger dade oor om sy bose begeertes (wat in baie gevalle seksueel van aard is) te bevredig. Hierdie beginsel geld egter vir enige sonde. Alhoewel die menslike gewete, of te wel morele verantwoordelikheid, die heersende beginsel tydens die Dispensasie van Menslike Gewete is, bly dit egter waar dat ‘n mens se gewete nie met die afsluit van die Dispensasie van Menslike Gewete ophou funksioneer nie. God het die mens met ‘n gewete geskape en hierdie gewete sal dus deur al die daaropvolgende dispensasies in werking bly. Hierdie is ‘n voorbeeld van ‘n heersende beginsel wat transdispensasioneel van aard is, net soos wat God se morele beginsels transdispensasioneel van aard is. Net omrede die Wet van Moses met die kruisiging van Christus tot ‘n einde gekom het, beteken nie dat Sy morele standaarde tot ‘n einde gekom het nie. God se morele standaarde geld vir alle dispensasies, en dit sluit al die dispensasies voor die Dispensasie van die Wet in. Alle mense word met ‘n gewete gebore, en daardie gewete kan deur Christelike onderrig ontwikkel word om sensitief vir sonde te wees, of dit kan toegelaat word om deur voortgesette wêreldsgesindheid/vleeslikheid verhard te word. In werklikheid het alle mense voor wedergeboorte ‘n slegte gewete t.o.v. God omrede hulle in sonde gebore is en kan deur die glo van die evangelie hulle posisie voor God verander.
  • Die Skrifte verklaar dat self diegene wat nie die Wet van Moses ontvang het nie, wat Jood en nie-Jood insluit, voor God verantwoordbaar is a.g.v. die feit dat hulle tussen reg en verkeerd kan onderskei:
    Rom.2:14 “Want wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself ‘n wet, al het hulle geen wet nie; 15 omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig,”
    Rom.2:19 omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. 20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;”
    Opsomming: Daar is dus getuienis buite die mens, naamlik die skepping wat getuig dat daar ‘n God is wat wel alles geskape het. Dus staan alle mense voor God as skuldig, want niemand van hulle het daardie wet wat hulle ontvang het volkome nagekom nie. Die Jode wat die Wet van Moses ontvang het, het die wet herhaaldelik oortree en is voor God skuldig. So ook is die heidene, wat nie die Wet van Moses ontvang het nie, voor God skuldig, omrede God die beginsels van wet in hulle harte geskryf het. Alle heidene, al het hulle nog nooit van die Bybel gehoor nie, weet instinktief dat dit verkeerd is om sy broer te vermoor. Boonop het God die mens met ‘n gewete geskape en dit is hierdie gewete wat van binne die persoon se hart hom oortuig dat hy reg of verkeerd opgetree het. Alhoewel die gewete ‘n mens tot ‘n sekere mate van sonde oortuig, begaan daardie persoon ‘n ernstige mistasting indien hy op sy eie hart vertrou. Die Skrifte beklemtoon hierdie feit baie duidelik. Baie mense verklaar dat ‘n persoon net sy hart moet glo, en dit navolg, maar die Skrifte verwerp egter hierdie raad, naamlik:
    Spr.28:26 “Wie op sy eie hart vertrou, hy is ‘n dwaas; maar hy wat in wysheid wandel, word gered.”
    Jer. 17:9 “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?”
    Die mens se gewete is dus nie in ‘n absolute sin betroubaar nie, en daarom moet dit met God se woord (korrekte leerstellings) gevul word. Om hierdie rede is dit van uiterste belang om ons gewetens binne die korrekte konteks met die Skrifte te vergelyk alvorens ‘n mens ‘n besluit neem. Dit is waarom dit so belangrik is dat kinders van kleins af aan korrekte Bybelse leerstellings blootgestel word.
  • Die inperking deur die Heilige Gees van goddeloosheid in die wêreld:Gen.6:3 “Toe sê die HERE: My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie, omdat hy ook vlees is; maar sy dae sal wees honderd en twintig jaar.”
    Terwyl Noag, tydens die Dispensasie van Menslike Gewete, met die bou van die ark besig was, het God goddeloosheid tot ‘n sekere mate beperk sodat hy die ark kon klaar bou. Indien die Heilige Gees nie die goddeloosheid van die mensdom tot ‘n sekere mate ingeperk het nie, sou Satan die goddelose mensdom gebruik het om deur geweld die bou van die ark te verhoed, omrede hy geweet het dat die wêreld ryp vir God se oordeel was. Noag het honderd en twintig jaar geneem om die ark te voltooi en daarna het God se oordeel d.m.v. die vloed oor die aarde gekom. Indien die Heilige Gees nie die mens se goddeloosheid ingeperk het nie sou die menslike goddeloosheid voor die vloed baie erger gewees het as wat dit alreeds was. En dit was alreeds erg genoeg, tot so ‘n mate dat God die wêreld deur ‘n vloed moes oordeel. Boonop sou die duiwel sy Antichris, voor die tyd wat God daarvoor bepaal het, op die toneel kon bring indien die Heilige Gees hom nie in sy pogings verhinder het nie. Daar kom egter ‘n tyd wat deur God bepaal is, wanneer die Heilige Gees nie meer goddeloosheid sal inperk nie en dan sal die Antichris op die wêreld toneel verskyn.
    2Thess.2:7 “Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, (die Heilige Gees)uit die weg geruim is; 8 en dan sal die ongeregtige (die Antichris)geopenbaar word, hy (die Antichris)wat die Here (Jesus Christus)met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms (na afloop van die Groot Verdrukking) tot niet sal maak, 9 hy (die Antichris)wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen.”
    Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Die Heilige Gees se inperking van sonde” te lees.
  • Die gevalle mensdomkon God slegs in geloof wat deur ‘n bloed offergawe vergesel is nader en op geen ander wyse nie: Gen.3:21 “En die HERE God het vir die mens en sy vrou rokke van vel gemaak en hulle dit aangetrek.”
    Heb.11:4 Deur die geloof het Abel ‘n beter offer aan God gebring as Kain, waardeur hy getuienis ontvang het dat hy regverdig was, omdat God oor sy gawes getuienis gegee het; en deur dieselfde geloof spreek hy nog nadat hy dood is.”
    Opsomming: Na afloop van die sondeval, en daarmee meegaande einde van die Dispensasie van Onskuld, moes die mens volgens sy gewete lewe, en God het dit duidelik gemaak dat die gevalle mens God slegs deur geloof, wat deur ‘n vooraf opgeofferde bloedoffer vergesel is kan nader. Abel het hierdie feit duidelik vanaf sy vader Adam geleer en het dus God met die korrekte offergawe in geloof genader, waarop hy geregverdig verklaar is.

B. Die mens se verantwoordelikheid, ten tye van die Dispensasie van Menslike Gewete, was om deur ‘n rein gewete God gehoorsaam te wees d.m.v. die lig wat ‘n persoon tot op daardie stadium ontvang het:

  • Die mens het dus oor ‘n vrye wil beskik waardeur hy kon kies om goed of kwaad te doen:
    Gen.4:1 “En die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword en Kain gebaar en gesê: Ek het ‘n man verkry met die hulp van die HERE. 2 Daarna het sy ook sy broer Abel gebaar. En Abel het ‘n skaapherder geword, en Kain ‘n landbouer. 3 En ná verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die HERE ‘n offer gebring. 4 En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet. En die HERE het Abel en sy offer genadig aangesien, 5 maar Kain en sy offer nie aangesien nie. Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang.”
    Opsomming: Die mens moes dus d.m.v. sy gewete besluit om te doen wat reg of verkeerd is. Alhoewel Abel gekies het om God op God se terme, wat ‘n bloedoffer ingesluit het, te nader het Kain (soos alle valse gelowe, wat ‘n baie groot gedeelte van die belydende Christendom insluit) gereken dat hy God op sy eie terme en werke God kan nader. Die Skrifte beskryf hierdie valse profete as mense wat die weg van Kain gevolg het, naamlik:
    Jud.1:11”Wee hulle, want hulle het die weg van Kain (God op grond van hulle eie terme te wil nader)bewandel en om loon hulleself in die verleiding van Bíleam (winsbejag) gestort en in die verset van Korag (rebellie) omgekom.” (vir ‘n mooi voorbeeld van hierdie vorm van goddeloosheid word die leser aangeraai om die artikel “Die Salwing” te lees.) Abel het egter God, op God se terme, met ‘n bloedoffer genader waarop God sy offer aanvaar het. Kain se reaksie op die verwerping van sy offergawe, en daaropvolgende optrede, demonstreer die feit dat die mens oor ‘n vrye wil beskik en dat hy volgens sy gewete, en die lig wat hy tot op daardie punt in tyd ontvang het, ‘n besluit moes neem oor watter weg hy gaan volg. In Kain se geval kies hy die weg van goddeloosheid en word die wêreld se eerste moordenaar soos wat Gen.4:6-8, naamlik:
    Gen.4:6 “En die HERE sê vir Kain: Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang? 7 Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie — die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers. 8 En Kain het met sy broer Abel gepraat; en toe hulle in die veld was, het Kain teen sy broer Abel opgestaan en hom doodgeslaan.”

C. Die mens het die toets wat God aan hom tydens die Dispensasie van Menslike Gewete voorgehou het misluk, net soos wat dit in al die hieropvolgende dispensasies die geval sou wees:

  • Ten spyte van die menslike gewete neem die mens se boosheid toe: Gen.6:5 “Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was,” Gen.6:11 “Maar die aarde was verdorwe voor die aangesig van God, en die aarde was vol geweld. 12 Toe sien God die aarde aan, en — dit was verdorwe, want alle vlees het sy wandel op die aarde verderwe.”
    Opsomming: Die bose versinsels van die menslike hart gee daartoe aanleiding dat die wêreld verdorwe en vol geweld raak. Sonde kom vanuit die mens se hart. (sondige natuur) Met verloop van tyd het sake op aarde so versleg dat dit God genoop het om die aarde te oordeel en sodoende goddeloosheid in te perk. Dit is opvallend dat, soos wat ons die einde van die Kerk Dispensasie en komende Groot Verdrukking nader, die wêreld ook toenemend goddeloos word en wat ‘n toename in geweld insluit. Hierdie is een van die redes waarom alle gelowiges moet bid dat die Here die Kerk Dispensasie d.m.v. die wegraping tot ‘n einde moet bring. Net soos in die Dispensasie van Menslike gewete die geval was, gaan die mensdom toenemend gewetenloos optree. Die mensdom as geheel het sy morele kompas verloor, en ons lewe nou in ‘n tydperk waar sleg (sonde) goed genoem en goed sleg genoem word. Wee die goddelose mensdom. God gaan dit nie veel langer meer toelaat nie!

D. Die Dispensasie van Menslike Gewete eindig ook in God se oordeel:

  • God se oordeel die wêreld d.m.v. die vloed:
    Gen.6:14 “Maak vir jou ‘n ark van goferhout. Met afdelings moet jy die ark maak en dit binne en buite met pik bestryk. 15 Só moet jy dit maak: drie honderd el die lengte van die ark, vyftig el sy breedte en dertig el sy hoogte. 16 ‘n Opening moet jy aan die ark maak; en op die maat van ‘n el moet jy dit aan die bokant afwerk en die deur van die ark aan die sykant insit. Jy moet dit met ‘n onderste, tweede en derde verdieping maak.”Gen.7:11 “In die ses honderdste jaar van die lewe van Noag, in die tweede maand, op die sewentiende dag van die maand, op dieselfde dag, is al die fonteine van die groot watervloed oopgebreek, en die sluise van die hemel is geopen; 12 en die stortreën was op die aarde veertig dae en veertig nagte lank.
    Gen.7:23 So is dan al die lewende wesens verdelg wat op die aarde was, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; hulle is verdelg van die aarde af. En net Noag het oorgebly en wat by hom in die ark was. 24 En die waters het die oorhand behou oor die aarde honderd en vyftig dae lank.”

    Opsomming: Alhoewel God geduldig is sal Hy egter nie sonde ongestraf laat bly nie, en hierdie feit het ook vir die mense wat tydens die Dispensasie van Menslike Gewete geleef het gegeld. Daar was slegs een deur in die ark ingebou, en dit dien as ‘n tipe vir Christus wat die enigste weg na verlossing en die Vader is, naamlik:
    Joh.10:9 “Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind.
    Joh14:6 Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”
    Vir diegene wat meer oor die ark wil uitvind kan gerus die webtuiste “Answers in Genesis” besoek. Hulle het ‘n lewensgrootte model van die oorspronklike ark gemaak en het die dimensies soos wat dit in die Skrifte gevind is gebruik. Dit dien huidiglik as ‘n museum in Amerika.
  • Deur God se genade het Hy Noag en sy familie d.m.v. die ark bewaar:
    Gen.6:8 “Maar Noag het genade gevind in die oë van die HERE.”
    Noag het deur geloof die ark binnegegaan net voordat God se oordeel d.m.v. die vloed die wêreld getref het, naamlik:
    Heb.11:7 “Deur die geloof het Noag, toe hy ‘n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en ‘n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die geloof is.”
  • God het die reënboog as verbondsteken gegee dat Hy nooit weer die wêreld d.m.v. ‘n vloed sal vernietig nie:
    Gen.9:11 “En Ek rig my verbond met julle op, dat alle vlees nie meer deur die waters van die vloed uitgeroei sal word nie, en dat daar geen vloed meer sal wees om die aarde te verwoes nie. 12 En God het gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek sluit tussen My en julle en al die lewende wesens wat by julle is, vir ewige geslagte: 13 my boog gee Ek in die wolke; dit sal ‘n teken wees van die verbond tussen My en die aarde. 14 As Ek dan wolke oor die aarde bring en hierdie boog verskyn in die wolke, 15 dan sal Ek dink aan my verbond wat daar bestaan tussen My en julle en al die lewende wesens, in alle vlees. En die waters sal nie meer ‘n vloed word om alle vlees te verdelg nie. 16 As die boog dan in die wolke staan, sal Ek dit aansien om gedagtig te wees aan die ewige verbond tussen God en al die lewende wesens in alle vlees wat op die aarde is.”
    In die toekoms gaan God egter die wêreld deur vuur verband, naamlik:
    2Pet.3:10 “Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand. 11 Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? — 12 julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt. 13 Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.”

Ter Afsluiting: Soos wat ons in die vorige artikels gesien het, het die mens teen God gerebelleer deurdat hy die perke wat God vir die mens se beswil daar gestel het te oorskry en van die boom van die kennis van goed en kwaad geëet. (Gen.2:16-17) Nadat die mens gesondig het (Gen.3:6-7) het God vir die eerste keer die belofte gegee dat die mens verlos sal word. (3:15) en as ‘n versteekte seëning het die Here God die mens uit die tuin van Eden gesit om te verhoed dat hy van die vrugte van die boom van die lewe eet en vir altyd in sy sondige/gevalle toestand voort sal moet bly leef. (3:22-24) A.g.v. die mens se rebellie teen God, het hy van ‘n toestand waar hy slegs teoretiese kennis van goed en kwaad beskik het, tot ‘n posisie waar hy goed en kwaad sou beleef oorgegaan. Goed en kwaad sou dus deel van sy ervaring wees en hy sou nou ook dus ‘n sonde natuur bekom. (3:5-7, 22) Die mens moes die gebied van morele ervaring deur die regte weg binnegegaan het, maar in ‘n poging om soos God te wil wees, het hy gekies om die gebied van morele ervaring deur die verkeerde weg binne te gaan, naamlik rebellie/sonde. Nadat die mens teen God se opdrag gerebelleer het, het hy wel in een opsig soos God geword, deurdat hy die verskil tussen goed en kwaad geken het, maar anders as God, het die mens nie soos God slegs kennis van goed en kwaad geken nie, maar omrede hy deur die verkeerde (sondige/rebelse) weg hierdie kennis bekom het, sou sonde deel van sy natuur word en hierdie sondige natuur sou hy toe aan al sy nasate oordra. Die mens het dus nou ‘n sonde natuur bekom en was dus moreel aan God verantwoordbaar vir die hieropvolgende keuses wat hy sou maak. Die mens is toe deur God onder die bestuur van sy gewete (morele verantwoordelikheid) geplaas waardeur hy voor God aanspreeklik sou wees om goed te doen en homself van kwaad te weerhou. Boonop kon die nou gevalle mensdom, slegs God d.m.v. ‘n bloedoffer nader, wat op ‘n praktiese wyse na die komende Verlosser van die mens, naamlik die Here Jesus Christus, en Sy voltooide werk aan die kruis vir die mensdom, sou verwys. Indien die mens God d.m.v. ‘n bloedoffer sou nader, dan sou daardie mens goed doen, deurdat Hy God op Sy terme sou nader omrede daar geen ander weg is om tot God te nader nie. Die mens het ook dan die toets wat God aan hom tydens die Dispensasie van Menslike Gewete voorgehou het gedruip, (net soos wat dit in al die hieropvolgende dispensasies die geval sou wees.) Ons moet egter onthou dat alhoewel, as die spesifieke toets, hierdie tyd-era met die sondvloed geëindig het, het die mens voortgegaan t.o.v. sy morele verantwoordelikheid soos wat God verdere openbarings inligting aangaande Homself, en Sy wil, in die daaropvolgende bedelings bygevoeg het. (Progressie van openbaring, bv. Handelinge 24:14-16; Rom.2:15; 2Kor.4:2)

Die tweede dispensasie, naamlik die Dispensasie van Menslike Gewete (morele verantwoordelikheid) kom met die mens se mislukking en God se oordeel d.m.v. die vloed tot ‘n einde. In die volgende artikel sal ons die Dispensasie van Menslike Owerheid bestudeer.

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.